Dis tyd om nog eikebome te plant
Heinrich Matthee
Vir GRA-dag, 14 Augustus 2003
Prof. Chris Brink het aangekondig dat die Universiteit
van Stellenbosch oor tien jaar nie meer ‘n
universiteit met ‘n Afrikaner-hoofstroom mag wees nie.
Die uitwerking van so ‘n beleid op dit wat Afrikaners
opgebou het, gaan uiteindelik maar min verskil van
gedwonge etniese suiwering.
Om te besef wat nou eenkant gedruk word op Matieland,
hoef mens bloot ‘n kort toer te neem op die spore van
verskillende tydperke, nou soms halfpad toegewaai. Ons
is in baie opsigte anders as die geslagte Afrikaners
voor ons, en niemand is engeltjies nie. As mens egter
dink aan jou ouers en grootouers en kinders, dan weet
jy ook dat fyn skakeltjies die geslagte aan mekaar
verbind.
Die agtergrond waaruit ek vertel is van iemand wat
opgegroei het in die Eikestad langs die Eersterivier,
later klas gedraf het in regte by die Ou Hoofgebou, en
ook gewerk het as senior navorser by ‘n sentrum van
die Universiteit.
'N FASSINERENDE KULTUURTOER
Die Universiteit het meer as 130 jaar gelede gegroei
uit ‘n skool en later kolleges. Sy voorlopers het
vinnig verskillende boksrondtes beleef tussen
Engelsgesindes in die een hoek, en die Hollands- of
Afrikaansgesindes in die ander hoeke.
Tussen die woelinge deur het die boeregeneraals
Hertzog, Beyers en Smuts op Stellenbosch studeer.
Kaapse Rebelle van 1899-1902 en enkele 1914-Rebelle
het ook op die houtbanke gesit.
In 1911 het die “Hollands-Afrikaanse studente” met
ondersteuning van regoor die land onder die banier van
“Wij zullen handhaven” waarskynlik die eerste
Afrikaner-studententebeweging van stapel gestuur. Wie
weet watter Afrikaner-student wat vandag in sy jean en
T-hemp met sy cappucino sit by die straatkafee nie
dalk oormôre ‘n bydrae gaan maak vir ons mense nie?
Die universiteit en ons oom op sy plaas in Afrika het
deurentyd nou saamgewerk. Ook tydens die traumatiese
armoede en verstedeliking onder baie Afrikaners in die
1930s het die jong Matiedosent dr. Hendrik Verwoerd,
sy vrou Betsie en ander idealistiese opvoeders saam
oplossings vir hulle mense gesoek.
Toe Stellenbosch nog maar ‘n driemotordorp tussen die
blou berge was, was daar rondom die Simboliese
Ossewatrek van 1938 ‘n oplewing onder Afrikaners, ook
op Matieland. Hans van Rensburg van die
Ossewa-Brandwag was ‘n oud-Matie, nes sy latere
Nasionale Party-teenstander Hans Strijdom.
Daar was in die oorlog ook relletjies tussen
Engelsgesindes en van die studente, en die latere
volksliedjie “Bobbejaan, klim die berg” het uit
hierdie woelinge ontstaan. Die woorde van die liedjie
is in vandag se konteks natuurlik bedreigde satire.
WAT SOU OP MATIELAND WEES SONDER DIE AFRIKANERS?
Nuwe departemente en buros van die universiteit is
deurentyd gestig, almal met Afrikaans as ontwikkelende
wetenskapstaal. Langenhoven en Eitemal, Etienne van
Heerden en Dirk Opperman se spore loop ook vanaf
Matieland deur die harte van ons mense.
Wat ook al die meningsverskille deur dekades, dosente
het voortgegaan om jong Afrikaners te bemagtig, onder
andere om in die Engels-oorheerste sakewêreld
mededingend te wees. Biotegnologie, wat ons lewens en
konsepte nog ingrypend gaan raak, kry toenemend
aandag. Mens kan selfs ‘n postmoderne kers probeer
opsteek by die Instituut vir Toekomsstudies.
Nie net individue en gesinne nie, maar families het
gebou aan die universiteit. Daar was drie geslagte
Verwoerds en twee of drie geslagte van baie ander
families, onder meer die Schumanns en Cilliés.
Duitsers, Nederlanders, Vlaminge en ander het
natuurlik ook bydraes gelewer.
Hierdie is maar enkele verfstrepe op die doek. Hulle
wys hoe Afrikaners van regoor die hele land geslag na
geslag gebou het aan die Universiteit van
Stellenbosch. Met of sonder wysheid, gewoonlik met
beperkte kragte en middele, maar uiteindelik op vlakke
van internasionale mededingendheid. Wat sou daar
vandag op Matieland gewees het as die Afrikaners nie
daar was nie?
ONS MENSE HET OOK DIE REG OP 'N EIE UNIVERSITEIT
Daar kan geen oop gesprek wees sonder Afrikanerstemme
as Afrikanerstemme nie. Sonder ‘n eiesoortige basis en
die sinergie van ‘n groep se debatte en strewes is
daar uiteindelik ook min van waarde oor waarmee ander
persone of groepe in gesprek of wisselwerking kan
tree.
Daardie insig in ons globale wêreld word al eeue lank
gevolg deur universiteite so uiteenlopend soos
Heidelberg, Leiden, Oxford en die Sorbonne. Daar is ‘n
diverse studente- en dosentekorps, maar ‘n dinamiese
hoofstroom by hierdie universiteite. Dit is ook die
geval by topgehalte- Skotse universiteite binne die
groter Verenigde Koninkryk en Vlaamse universiteite
binne die groter België.
Die VN se Deklarasie oor die Regte van Persone wat
behoort aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en
Linguïstiese Minderhede dui duidelik aan: ‘n groep
soos die Afrikaners het die reg om sonder
diskriminasie of inmenging hulle kulturele
ontwikkeling na te streef, en hulle eie assosiasies te
vestig en te handhaaf. Het die meer as twee miljoen
Afrikaners dan nie die reg om die hoofstroom te vorm
in selfs maar een universiteit nie?
Die eikeboom op Stellenbosch het wyd vertak in die
leefwêrelde van geslagte Afrikaners. Nou word sy
hoofwortels afgekap. Die sosiopolitieke kragte en
tradisies wat in die komende eksperiment oorgeplant
word, word verteenwoordig deur Peter Marais en Rashied
Staggie, Riyadh Williams en die Griekwaraad, Alan
Boesak en Khoisan X.
DIE PAAIE VORENTOE
Ek glo baie van ons mense het werklik behoefte aan hul
eie instellings, ook om hulle eie simboliese
herskeppings te begelei. Diegene wat dit wil hê, sal
dit egter self moet begin skep.
Informele Afrikanersones en netwerke in die bestaande
universiteite bly een opsie, met korttermynvoordele
maar mediumtermynnadele. ‘n Privaatmaatskappy wat
fokus op kernvakgebiede, soos die Pretoria-Akademie,
is ‘n ander benadering met groter aksievryheid.
Wie weet, uiteindelik mag ‘n mikro-UNISA die beste
wees. So ‘n instelling sou gestig kon word in die
Weste deur Afrikaners, buite die bereik van die
denkpatrollies, by die kern van die kennisekonomie,
maar wentelend rondom sy Suid-Afrikaanse afdelings.
Waar ‘n wil is, sal wel een of ander weg verskyn:
By helder kuile van
geskiedenis en chromosoom,
moet ons weer eikebome plant
en nuut oor vryheid droom.
Boontoe