chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Geweldsmisdaad, swart op wit (die kort antwoord aan Koos Kombuis)

Dan Roodt

Koos Kombuis stel my erg teleur. Noudat daar ‘n paar vonke spat, wil hy omdraai en hardloop, terug in die arms van Moeder Politieke Korrektheid in. Ons moet nou die Afrika-renaissance laat werk deur ons deeltjie by te dra; al wat hy nog hoef te doen, is om soos die grondwetters (Hermann Giliomee se term) nogmaals vir ons te vertel watter goeie grondwet ons het.

Omtrent elke tweede rubriek in Rapport, Beeld, Die Burger et al prys die grondwet aan. Elke keer as nog ‘n afskuwelike misdaad gepleeg word, of as BMW aankondig dat hulle dalk hulle fabriek sal moet sluit want die elektriese kabels word aldag gesteel sodat alles tot stilstand kom, dan moet ons nog ‘n roerende loflied aan die grondwet aanhoor.

Indien Koos Kombuis werklik belang gestel het in wat ek te sê het, sou ek dalk ‘n meer breedvoerige antwoord kon skryf. Ek sou miskien ‘n paar boeke van my rak afgehaal het en internetsoektogte gedoen het om vers en kapittel te bewys dat elkeen van die stellings in my gewraakte rubriek verdedigbaar is. Nietemin gee ek hom, sommer so uit my kop uit, die kort antwoord, sonder enige voetnote maar met een of twee skakels na koerantartikels waarna ek verwys, binne 9 000 woorde. Anders as in Rapport, waar mens binne die dwangbuis van 800 woorde moet werk om een of twee dinge gesê te kry, beskik ek hier oor die luukse van nuanse. Miskien lei dit tot beter begrip tussen ons.

Ek het nogal gedink ek en Kombuis is aan dieselfde kant, veral ná ek ene Desmond Painter van Rhodes se twakkerige beskuldiging van “rassisme” jeens hom in verlede Sondag se Rapport gelees het. Volgens Desmond Painter is dit taboe om te verwys na die ras of etniese afkoms van misdadigers; kla liewer “manlikheid” aan. Mans, veral wit mans, meer presies middeljarige wit mans is die groot probleem in die samelewing. Ons koerante wemel dan ook van kritiek teen die MWM’s, ‘n mens sou sweer hulle is besig om ‘n volksmoord te pleeg. O ja, hulle het mos ‘n volksmoord gepleeg. Hulle noem dit apartheid.

Sover ek weet, het die apartheidstaat ongeveer 900 mense gedood oor ‘n tydperk van veertig jaar. Sommige van hulle was ouens met AK’s in hulle kattebakke, of bomme in hulle garage, revolusionêre wat soos Nelson Mandela trots kon sê, “tussen gewapende opstand, sabotasie en stedelike terreur, het ek sabotasie gekies.” Of so iets. Miskien is my aanhaling nie woordeliks korrek nie, maar die Heilige Nelson het dit gesê tydens die Rivoniaverhoor.

Soos ek in my gewraakte rubriek geskryf het, is daar sedert 1994 oor die 200 000 mense in Suid-Afrika vermoor. Tans word 30 000 mense per jaar gedood, terwyl daar in Amerika met sy veel groter bevolking van 290 miljoen mense, slegs 16 000 vermoor word. En mense kla die VSA is ‘n onhoudbaar gewelddadige land.

Die vraag wat my nou al geruime tyd besig hou, en ek moet beken dat ek geen eenvoudige antwoord daarvoor het nie, is: hoe het ons gevorder van Apartheidsland tot Moordenaarsland? Dit klink amper soos Moordenaarskaroo wat nog altyd vir my ‘n pikante naam was, maar ek is bevrees die Nuwe Suid-Afrika se nuwe naam val allermins goed op die oor. Daar moet baie mense op aarde wees wat wonder hoe dit voel om in dié plek te woon wat inweeg as die wêreld se swaargewigmisdaadkampioen.

Soos ek in my rubriek aangetoon het, woon ons in ‘n sadistiese land. Vir enigeen wat iets van sadisme en die Markies de Sade weet, behels dit om vrye teuels te gee aan jou drifte, hetsy wellus, hetsy moordlus. Enigeen van ons kan nou in die straat uitgaan, die naaste dogtertjie of selfs baba uitkies, doen wat ons wil doen, en die kanse dat jy gevang sal word, is 10% en die kanse dat jy gevonnis sal word ‘n heelwat laer 6%.

Teenoor apartheid met sy buitensporige arsenaal wette, het ons nou ons absolute vryheid teruggekry, die vryheid van Hobbes se natuurstaat wat hy beskryf het as ‘n toestand van “continual fear, and danger of violent death; and the life of man, solitary, poor, nasty, brutish, and short.”

Daar word goedsmoeds op fietsryers in Johannesburg se strate geskiet. Daar is die Rawstorne-geval, plaasmoorde, die tienduisende mense wie se stories nooit eens die koerante haal nie, maar wat, soos ek dit in my rubriek gestel het, “oorval, aangehou, geterroriseer en uitgemoor word.”

Waarvan praat ons hier? Ten minste het die libertyne in die Markies de Sade se kasteel in die 120 dae van Sodom, die verskriklike boek wat hy in die Bastille geskryf het ná Koning Lodewyk XVI hom laat opsluit het vir sy oortredings van die sensuurwette, hul misdade en vergrype fiksioneel gepleeg, met ‘n sekere styl, in goeie Frans. Ons eie sadiste doen dit byna asof hulle iewers vergeet het dat daar nog iets soos wette en norme bestaan. Kortom, hulle skep hul eie norme.

Is dit werklik verkeerd om iemand te verkrag in Suid-Afrika? ‘n Jaar of twee gelede was daar ‘n opname in Soweto waarin bevind is dat 50% van jong swartes gedink het “gedwonge seks” is nie verkeerd nie. Soos die Markies de Sade gesê het, is “moraliteit net foutiewe aardrykskunde”; wat vir een groep mense op aarde verkeerd is, is vir ‘n ander groep aanvaarbaar. As genoeg mense glo dat ‘n sekere soort gedrag aanvaarbaar is, word dit die nuwe norm. Wie kan sê dat moord vandag in Suid-Afrika nie aanvaarbaar geword het nie?

Koos Kombuis het in sy eie Rapportrubriek wat hy lyk my nou gerepudieer het, homself redelik versigtig uitgelaat oor hierdie probleem. Waarom het ek die rubriek geskryf wat hy meen “virtuele selfmoord” was? Waarskynlik omdat ek, soos hy of die meeste mense van Westerse afkoms in hierdie land, siek en sat is vir misdaad. Sonder dat ons dit kan verhelp, druis dit eenvoudig in teen elke beginsel van hierdie brose stelletjie waardes wat ons ons “beskawing” noem. Daar is geen Griekse filosoof waarvan ek weet wat ‘n regverdiging vir moord of verkragting geskryf het nie. Die Markies de Sade, ‘n Franse edelman uit die agtiende eeu, was die enigste wat daardie beginsel verdedig het, op ‘n manier wat uiteindelik speels was. In die werklike lewe was hy blykbaar ‘n saggeaarde man met goeie maniere wat wel hier en daar die moraliteit van sy tyd oortree het, maar niks soos wat ons tans in Suid-Afrika ervaar nie.

Miskien wou ek ten minste ‘n paar Afrikaanse lesers uit hul toestand van bedwelming skok. In Suid-Afrika deesdae is daar sekerlik min dinge wat ons nog kán skok. Alles is eintlik toelaatbaar. Ons is die wêreldhoofstad van omtrent elke afwyking of wandaad waaraan jy kan dink: kinderpornografie, dwelms, noem maar op. Ons is werklik “vry”. Rousseau het gesê die mens is vry gebore, maar oral is hy in kettings geslaan. Oral, behalwe in die Nuwe Suid-Afrika waar die luste kan botvier.

Ons is reeds immuun daarteeen om geskok te word. So twee of drie jaar gelede toe babaverkragtings vir die eerste keer die hoofopskrifte gehaal het, was selfs die meer blasé liefhebbers van dekadente Franse letterkunde onder ons nog skokbaar. Wat my nogal verbaas, is die reaksie van mense op my rubriek. Die meeste neem my nie kwalik omdat ek dit gesê het nie, maar omdat ek nie – soos Kombuis – meer subtiel was nie. Soos een dit stel, “nou moet ons jou rubriek in Rapport ontbeer.” Dieselfde briefskrywer, ‘n geneesheer by name Paul Eloff, skryf elders op hierdie webruimte in 'n brief:

“Sekerlik weet ek dat talle van my mede-Afrikaners hierdie reaksie van my afskuwelik sal vind. Die feite is deesdae taboe. Meestal is ek dit met jou roerend eens. Daardie voorspelling van jou (so 'n maand of ses, sewe gelede?) oor waarheen ons op pad is met die beleid wat stelselmatig na verdere onderdrukking lei, was presies soos ek en my vrou, Nine ( 'n baie skerp waarnemer) die verloop van sake vrees wat aan die gebeur is. Ook het ek striemende kommentaar in Rapport op daardie boek van André P. Brink waardeer. Vir sy skunnige verhale het ek nie ooghare nie.Ek sê meestal is ek dit met jou eens. Nie altyd nie, o.a. oor die herinstelling van die doodstraf wil ek reageer op jou stelling ‘Om die doodstraf terug te bring, gaan enkele verdere lewens neem, maar waarskynlik geen lewe red nie.’ Watter orakel het hierdie ‘waarskynlikheid’ bekend gemaak? Want geen feitelike gegewens dui hierop nie. Ek sê feitelike gegewens, nie opinies nie. Maar dis mos nou gladnie waar nie! Dit sal honderde lewens red, en die lewens wat dit sal neem is dié van boewe wat met doodsveragting hulleself en hulle slagoffers aan gewelddadige dood blootstel.

As chirurg van beroep het ek as voltydse geneesheer in Tembisa-hospitaal, en voorheen in Baragwanath en Pietersburg, stellig meer van die resultate van misdaadgeweld beleef as meeste ander mense. Ons ongevalleafdelings is loshande die wêreld se kampioene in die behandeling van steekwonde in die nek en hart! Die statistieke bewys dit. M.b.t. kindermisbruik (abuse): Persoonlik het ek al drie kinders (waarvan twee babas) wat deur verkragters verskeur was, moes repareer, en al hierdie kinders en verkragters was swart.

Sulke dinge kom uiteraard onder blankes voor. Maar wie in SA kan sê dat hy van 'n geval weet? Watter item onder apartheidsonderdrukkinge kan mens blameer vir die verkragting van 'n baba deur haar suster se man, en meer sulke aaklighede? Daardie selfde bliksem sal dit weer doen sodra die drang hom pak, want lewensgevaar is daar mos nie by nie! Nee, wat, met daardie ongesubstansieerde stelling van jou het ek geen vrede nie.

In die Vryheidsfront se nuusblad was daar sowat twee en 'n half jaar gelede 'n uiteensetting van die aantal moorde in gebiede waar die doodstraf nog nie afgeskaf is nie, en dié waar die doodstraf afgeskaf is en dié waar die doodstraf teruggebring is.

Bring vir my gedeë statistiek oor die gebrek aan resultaat van die doodstraf, en dan sal ons beter kan oordeel. Maar so gewoonweg oortuig my persoonlike ervaring my dat die gebrek aan doodstraf 'n baie, baie sterk losbandigheid teenoor die lewe van ander persone bewerkstellig. Menigeen het al ervaar hoe 'n moordenaar wat gevang is, smeek dat sy arresteerders, wat nie polisie is nie, tog sy lewe moet spaar. Wat die meeste misdadigers geniet, is die adrenalienstoot wat met die hartkloppings tydens die rowery gepaard gaan.

Wat jy gesê het oor die werklikheid van die jong swartes, was weens die waarheid daarvan sodanig dat jy nooit kon verwag het dat sulke Schlaffschwanzen soos die redaksie van Rapport dit sou plaas nie. En dit geld vir Beeld ook. Die waarheid tel nie, sedert die tyd van die Oudtestamentiese profete al.”

In hierdie brief wat aan my gerig is n.a.v. my rubriek is hierdie man, ‘n ongevalleschirurg met eerstehandse ervaring van, soos hy dit stel, “die resultate van misdaadgeweld” dit roerend met my eens, maar hy kritiseer my vanweë my skeptiese houding teenoor die doodstraf in Suid-Afrika. Per se is ek nie gekant teen die doodstraf nie; ek dink net dat dit onder die huidige omstandighede kwalik ‘n effek gaan hê, want die hele strafregstelsel sukkel om die misdadigers te vang en te vonnis.

Maar kom ons los die doodstraf. Dit gaan oor wat mense nog skok in Suid-Afrika. ‘n Veearts het my al vertel dat hulle ook soms diere moet “repareer” wat onder mense deurgeloop het. Soos die gebruik is, verswyg ek die ras of etnisiteit van die mense. Lees egter gerus daardie groot Suid-Afrikaanse roman deur die vermaarde skrywer Ezekiel Mphahlele, Down Second Avenue. Iewers daarin is daar sprake van bokke. Dit staan bekend as bestialiteit; die Markies de Sade het ‘n klomp sulke tonele in sy boeke.

Te midde van dit alles – die wel en wee van die mees dekadente, gewelddadige samelewing op aarde, indien mens dit nog ‘n samelewing kan noem – is joernaliste en allerlei kritikasters besig om die politiek korrekte suiwerheidsleer aan ons op te dring. Jy mag moor, maar jy mag die woord “kaffer” gebruik nie. Moord is net misdaad, maar politiek inkorrekte taalgebruik is ‘n misdaad teen die mensdom. In gister se Star skryf Max du Preez weer oor die gevaar van rassistiese grappe. Fietsryers word helder oordag geskiet op straat, maar hy is bekommerd oor rassistiese grappe. Bravo, Max! Jy sal hemel toe gaan, saam met die res van die misdaadslagoffers in Suid-Afrika.

Waar laat dit die res van ons, die gewone mense in die land wat daagliks met die vrees moet saamleef om hul voete by die deur uit te sit? My eie vrou het al twee keer by die plaaslike winkelsentrum ‘n skietery moes trotseer; die eerste keer moes sy tussen die motors wegkruip met ons agtienmaande-oue babaseun in haar arms terwyl die koeëls om haar fluit.

Ek is bevrees dat ons met ‘n ernstige probleem sit. Iewers in 1989 het Sir Laurens van der Post blykbaar vir ‘n Afrikaanse koerantredakteur gevra, toe hy sien waarheen die land op pad is, “but what is De Klerk doing? What is his idea?” Ek dink die feit van die saak is dat De Klerk, Roelf Meyer, Leon Wessels en wie ook al hierdie maatskappy ontwerp het, nie ‘n benul gehad het van wat hulle doen nie. Hulle het na “raad van oorsee” geluister.

Ek wil nie hier enige politieke punte aanteken nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Maar die feit is dat elke blanke persoon in die land, en veral die Afrikaners, hierdie kranksinnige stelsel oor hulleself gebring het, en daarby moet ek myself insluit. Mea culpa. Ek het “ja” gestem in die referendum in 1992.

Ons verdien wat ons nou kry. Hier op my boekerak staan die grootste gedeelte van oorlede Otto Krause se versameling politieke boeke oor Suid-Afrika. Dit wat ons nou ervaar, is oor en oor gedebatteer in ellelange artikels en boeke vir seker omtrent ‘n eeu lank. Iewers in 1992 het ons al ons voorouers se ervaring, kennis en insig oorboord gegooi en die Europese teorie van die “universele mens” aangeneem. Die universele mens sou vir ons wetstoepassing bring, die standaarde hoog hou in ons skole en universiteite, ons vryheid en ons regte waarborg, asook les bes, die howe en polisiestasies bedryf.

Vir so ‘n paar jaar het ons gedink hierdie skim, die universele mens, leef en woon tussen ons. Toe kom ons met ‘n skok agter dat dit ‘n illusie was, en rondom ons is dieselfde mense met wie ons al in aanraking is vir die afgelope meer as twee eeue, van die eerste ontmoetings weerskante van die Visrivier. Ons voorouers het baie name vir hulle uitgedink waarvan die meeste vandag as “haatspraak” gereken word, om Tim du Plessis se gevleuelde woord te gebruik. Behalwe dat dit vir hulle geensins om iets soos “haatspraak” gegaan het nie. Dit was bloot name, soos die woord Bantoe wat “mens” beteken.

Ons het sekere dinge met hulle in gemeen gehad, maar ander nie. Of dit kultureel of biologies bepaal is, is nie werklik van belang nie. Al wat ek eintlik gedoen het, was om in my rubriek heen te wys na ‘n groot debat wat al dekades lank in Amerika woed rondom die rassekwessie. Een van die tragiese aspekte van ons aanvaarding van die universele mensteorie en die sentralistiese stelsel wat dit noodsaak, is dat dit ons verdoem tot die begrip “ras”. Dit werk só:

Die swart stamme en volke van hierdie kontinent was nog altyd verdeel (daar word iets soos 2500 tale in Afrika gepraat), ook in Suid-Afrika. Die enigste manier waarop daar swart eenheid kon ontstaan, was op grond van rassenasionalisme. Soos enige ander nasionalisme, het dit ‘n teenpool nodig, in hierdie geval die blankes, meer spesifiek die Afrikaners. Met ander woorde, die liberale model van die universele mens binne ‘n eenheidstaat wat oor geen kleur, etnisiteit of spesifieke groepsgedrag beskik nie, lei reguit tot rassepolarisering. Maak enige swart koerant oop, en dit staar jou in die gesig. Tydens my bywoning van die twee rassismekonferensies, veral dié in Sandton, is ek telkens in besprekings aangeval oor my ras. Ek is een van die boses, die wittes. Hierdie regering, onder wie daar dikwels nie geld vir brandstof is by polisiestasies nie, het honderde miljoene rande bestee aan ‘n veldtog om die land en die wêreld daarvan te oortuig dat die grootste enkele probleem wat ons bedreig, rassisme is. 

Daarom is daar vandag ‘n rassedebat in Suid-Afrika, iets wat onvermydelik is. Self vind ek dit ewe afgryslik as enigiemand anders, gegewe die bedenklike praktyke wat in die verlede al uit rasseteorieë gevloei het. Maar dit is op ons afgedwing deur die universele mensteorie, deur die “raad van oorsee”, maar ook deur die ongekende gedweep met rassisme waarvan die Afrikaanse koerante ook, helaas, vol is. Ons het nie gevorder sedert apartheid nie. Wat ook al die gebreke van apartheid - en daar is baie - het dit ten minste gefokus op etniese verskille wat taal, kultuur, gebruike, ens., insluit. Die meeste apartheidsteoretici het dit vermy om in rasseterme te dink. Vandag dink ons, of ons dit nou wil erken of nie, net in rasseterme, baie soortgelyk aan die Amerikaners.

Daarom is ons ook daartoe verdoem om al die foute van die Amerikaners te herhaal, waaronder regstellende aksie maar een is. Gedwonge integrasie, “bussing”, heropvoeding teen rassisme, al die metodes wat by hulle nie gewerk het nie en eenvoudig die rassepolarisasie in daardie land opgejaag het, word nou hier by ons met oorgawe toegepas.

Die rassekwessie in Amerika is ‘n hele bedryf. Van die mense op die PRAAG-poslys het my kwalik geneem oor die vier laaste paragrawe in my stuk, waarvan die verwysing na Hernnstein en Murray se Bell Curve een was, asook die paragraaf wat Kombuis self siteer. Om ‘n rubriek te skryf, is vir my spekulasie, ‘n poging om mense te prikkel tot nadenke.

Onder die ekstreme omstandighede van die huidige Suid-Afrika, kan mens seker nie verkwalik word as jy jou verbeelding vrye teuels gee nie. Ek wil nie ernstig sê dat elke jong swart man moet begin pille drink nie, maar ek dink die probleem is baie groter as wat ons dink. Mense wat ‘n saak uitmaak vir beter polisiëring en meer tronke weet nie waarvan hulle praat nie. Weereens is sulke individue onkundig oor die Amerikaanse ervaring met dieselfde probleem.

‘n Mens kan spekuleer oor die oorsaak van swart geweld en misdaad, en ek is selfs bereid om toe te gee dat apartheid daaragter sit - hoe absurd so ‘n stelling ook al vir my lyk - maar ons kan die verskynsel van ‘n hoë voorkoms van geweldsmisdaad onder jong swart mans nie ontken nie, al wil ons ook. Die manier waarop Amerika sy probleem met swart jeugdiges opgelos het, deur hulle eenvoudig op ‘n groot skaal op te sluit, lyk vir my nog bedenkliker as medikasie.

Daar is minder swartmense in Amerika as in Suid-Afrika - om en by dertig miljoen siele, waaronder natuurlik mans, vroue en kinders. Meer as ‘n miljoen swartes bevind hulself egter in die tronk. Dink ‘n bietjie daaraan: uit ‘n totale manlike bevolking van 15 miljoen swart mans in die VSA (waarskynlik minder want daar is altyd twee persent minder mans as vroue) is meer as ‘n miljoen in die gevangenis! Trek die kinders onder 16 van daardie syfer af, asook die ouer mans, en dan besef jy dat seker een uit elke agt of tien jong swart mans in die VSA gevangenisstraf uitdien. In sommige deelstate is tot ‘n kwart van hulle in aanhouding.

Ons eie tronke bars uit hul nate uit. Hulle praat daarvan om ‘n groot klomp minder gevaarlike gevangenes vry te laat. En daar is maar 190 000 mense in ons gevangenisse! (Waarvan die bestuur geweldig agteruitgegaan het as gevolg van regstellende aksie by die Departement van Korrektiewe Dienste.) Indien ons so gelukkig is dat daardie 90% moordenaars en verkragters wat tans nie eens in hegtenis geneem word nie, wel gevang, verhoor en gevonnis word – alles dinge wat ‘n hele omwenteling veronderstel – sal die resultaat sekerlik wees dat ons eie tronkbevolking vinnig sal styg tot Amerikaanse vlakke. In totaal is daar twee miljoen gevangenes in die VSA. Die Verenigde Nasies het reeds vir Amerika verdoem weens sy beweerde rassisme om meer as een miljoen swart mans in gevangenisse aan te hou.

Hoe op aarde gaan dit ooit gebeur dat die ANC-regering bereid sou wees om ‘n aansienlike persentasie van sy eie kiesers eenvoudig op te sluit, al het hulle ook misdade gepleeg? Dit is nou te sê, as ons dit kan bekostig, want om een miljoen gevangenes aan te hou, gaan reusebedrae geld verg. Myns insiens beskik hierdie land, anders as Amerika, nie oor die finansiële middele om alle geweldsmisdadigers aan te keer, te vervolg, en uiteindelik vir baie jare aan te hou nie. Dan praat ons nie eens van die bestuursvernuf wat dit gaan verg om so 'n kolossale gevangenisstelsel aan die gang te hou nie. Van die 500 blanke adjunk-direkteure wat tot 1994 in die Departement van Korrektiewe Dienste werksaam was, is slegs 4 oor en verlede jaar was die departement besig om van hulle ook ontslae te raak. Met ander woorde, onder toestande van ekstreme regstellende aksie en etniese suiwering in die gevangenisdiens self, is daar mense wat dink dit gaan moontlik wees om ons gevangenisbevolking drasties te vergroot ten einde die tienduisende jong swart mans daarbuite wat tans 'n gevaar vir die samelewing verteenwoordig en hierdie misdade pleeg, vir lang tye aan te hou.

Koos Kombuis beskuldig my van “neo-Hitleriaanse denke”. Miskien weet hy meer van Hitler af as ek, want ek het nog nie Mein Kampf gelees nie. Maar sover ek weet het Hitler geen swart misdaadprobleem gehad in die dertigerjare nie; Joodse rampokkers het kwalik die Duitsers op elke straathoek aangehou en beroof, of Duitse vrouens en babas verkrag. Daarom dink ek nie sy analogie is ter sake nie.

Ek dink juis dat ons ons verbeelding moet laat gaan oor ‘n nie-Hitleriaanse oplossing vir die probleem. Maar eers moet ons dit beter verstaan, en dit help nie ons laat ons inperk deur politiek korrekte denke soos die universele mens-teorie nie. Ons moet die probleem in die oë kyk. Daar sal navorsing gedoen moet word, sosiologiese, kulturele, sielkundige, kriminologiese en, les bes, selfs biologiese en fisiologiese navorsing as dit moet. Ongelukkig kan hierdie land nie eens sy Landbounavorsingsraad of Onderstepoort aan die gang hou nie, wat nog te sê navorsing begin oor die misdaadgeneigdheid van ‘n aansienlike aantal jong swart mans. Natuurlik is dit nie almal nie, maar gestel een uit elke tien jong swart mans is ‘n potensiële geweldsmisdadiger, dan beteken dit nog dat daar ver oor ‘n miljoen van hulle is. My vrou het eenkeer vir my gesê hulle is die ideale guerillamag, sonder enige waarneembare organisasie, versmelt met die plaaslike bevolking, maar gereed om te eniger tyd by ‘n vekeerslig, in jou inrypad of waar ook al op jou toe te slaan. Al wat hulle nodig het, is een of ander vorm van wapentuig, dit kan ‘n mes of selfs ‘n klip wees, en die wil om dood te maak of te beseer. Voeg daarby ‘n vae of nie so vae rassebewussyn wat aangeblaas word deur die media in Suid-Afrika met hul konstante geteem oor die boosheid van alle wittes, meer spesifiek die Afrikaners, en die resep is daar. Von Clausewitz het gepraat van oorlog as “politiek met ander middele”, maar hy het nie van misdaad geweet nie.

Die bendes misdadigers wat oor Suid-Afrika se grondgebied swerf is niks minder as die ANC se Einsatzgruppen nie – hul dade is ewe afskuwekkend – en hulle voer ‘n skrikbewind teen ons. Iemand het verduidelik dat vir elke gesteelde item wat vervang moet word, die staat weer BTW inoes. Misdaad stimuleer ‘n hele klomp bedrywe, soos die motorbedryf, die hospitale, die privaatveiligheidsfirmas. Dit skep werk vir misdadigers én diegene wat die land probeer beveilig. Die regering maak geld daaruit. Watter belang het hy daarby om dit te beëindig, gegewe die feit dat dit jong swart mans is wat dit pleeg, een en almal behorende tot sy kiesafdeling? Ek dink ons moet aanvaar dat ons Judaeo-Christelike pleidooie oor die heiligheid van lewe op dowe ore val.

Die bewering wat ek gemaak het oor die hoër testosteroon van jong swart mans was nie sommer uit die lug gegryp nie. ‘n Klomp hoogstaande kankernavorsing in die VSA het getoon dat daar wel ‘n beduidende verskil in testosteroonvlakke tussen blanke en swart mans bestaan. Of die verband tussen hormoonvlakke en aggressiewe gedrag so regstreeks is, is waarskynlik meer omstrede. In die situasie waarin ons verkeer, behoort enige verantwoordelike regering egter geen steen onaangeroer te laat nie en alle moontlike verklarings vir hierdie gedrag te ondersoek.

Anders as Koos Kombuis, is ek bevrees goeie bedoelings en praatjies van “saamwerk” gaan nie hierdie geweldige krisis oplos nie. Al word elke blanke en Afrikaner ‘n Sint Fransiskus van Assissi, is daar geen rede om te dink dat daar minder swart misdadigers gaan wees nie. Amerika is die rykste land ter wêreld, en tot onlangs was hul werkloosheidsyfer iets soos 3%, en steeds pleeg ‘n groot aantal jong swart mans misdaad. Dis ‘n feit soos ‘n koei.

My opmerking oor ‘n moontlike hersegregasie van Suid-Afrika was polemies van aard en nie so ernstig bedoel nie. Die punt wat ek egter wou maak, is dat hierdie regering of selfs die buitewêreld nie van ons kan verwag om elke dag van die week ons lewens op die spel te plaas ter wille van hulle universele mensteorie en die ideaal van multikulturele samesyn nie. Trouens, die afskuwelike mure, afgekampte strate in voorstede, elektriese en lemmetjiesdrade wat ons omgewing ontsier, verteenwoordig reeds ‘n de facto-segregasie, dit wat mense heel tereg ‘n “geprivatiseerde apartheid” noem. Elke gebou wat opgaan, elke woonbuurt wat deesdae uitgelê word, weerspieël die nare werklikheid van intense onveiligheid en ‘n behoefte aan afsondering en beveiliging. Daar is selfs boere wat tans gragte rondom hulle plase grawe in ‘n poging om veediefstal te bekamp omdat die diewe eenvoudig die grensdrade knip. Ons hele leefwyse is besig om terug te gly na die Middeleeue, na die tyd voor die opkoms van die moderne staat wat darem onder normale omstandighede die veiligheid van sy burgers kon verseker.

Die hoofrede waarom soveel van ons beste mense die land verlaat, is misdaad en geweld. Hulle kan sekerlik ewe seer van apartheidsnostalgie beskuldig word, want hulle verlang na ‘n samelewing met eurosentriese standaarde van veiligheid en wetstoepassing.

Soos elke donker wolk het misdaad ook sy silwer randjie. Dit het ons bevry van dit wat jy baie toepaslik “liberale kitsch” noem. Dit het ons teruggebring na die werklikheid van ‘n lewe in Afrika, ‘n kontinent wat nog altyd gekenmerk is deur ‘n groot mate van wanorde, soos ‘n ander ontnugterde liberaal, R.W. Johnson, nou die dag in die Business Day geskryf het. Hansie Pienaar, een van die mees politiek korrekte Afrikaners wat ek ken, skryf onlangs in The Star oor die vervalle Kongolese stad, Bukavu:

“Everywhere there are signs, some faded but others still remarkably clear, referring to the old Zaire. Decades-old posters and old-fashioned marketing, such as stacks of boxes advertising East Africa, have remained unchanged during years of war.

Bukavans seem unconcerned by this. A frequent refrain is that independence has been too early for the Congo, and that ‘the white man’ has to return - not to colonise this time, but to help.”

Swart Suid-Afrikaners is hier by ons in ‘n ander fase as hul eweknieë in die Kongo. Hier wil hulle al wat Afrikanermonument of –naam is van die kaart sien verdwyn. Alles wat blankes tot stand gebring het, is boos en moet getransformeer, herbenoem of verdryf word, verkieslik ook die outeurs van daardie geboue, monumente en name. Daar is vandag baie wittes in Suid-Afrika - slagoffers wat swart misdaad oorleef het, of familie en kennisse van sulke mense - wat met wrewel vervul is. Die gees wat ek onder sulke mense bespeur, is helaas nie een van “etnogesentreerde opstand” nie. Veel eerder is dit ‘n ingeburgerde bangheid en angs, wat die vrees om selfs net openlik oor hul gevoelens te praat, insluit. Ek het al met twee vroue gesels wat in hul huise deur swart mans in die hoë risiko-ouderdomsgroep aangehou is en van hul motors, asook juweliersware beroof is, met hul lewens en dié van hul kinders gedreig is, en elkeen het benewens ander kommentaar die volgende gesê: “Ek haat hulle.” Natuurlik sou hulle nooit in die openbaar so ‘n emosie uitspreek nie. Myns insiens is dit normaal vir ‘n slagoffer van geweldsmisdaad om so ‘n emosie te voel. Tensy jou naam Lucy is in J.M. Coetzee se Disgrace.

Gepraat van Coetzee, ek is nie die eerste persoon wat hierdie probleem uitwys nie. Koos Kombuis se mederubriekskrywer in Rapport, Jakes Gerwel, het reeds gewys op die “rassistiese voorstelling” van jong swart mans in Disgrace. Blykbaar is daar geen goeie swartes in die hele roman nie, ‘n bietjie soos daar geen goeie wittes of Afrikaners in enigeen van Nasionale Pers se koerante is nie.

Een van die kommerwekkendste aspekte van die situasie, is juis die Lucy-sindroom. Die wittes aanvaar alles. Ons aanvaar regstellende aksie, ons aanvaar misdaad, ons aanvaar verengelsing, ons aanvaar pleknaamveranderings. Want sien, ons is mos die boses, die apartheidbesmettes, die oorlogsmisdadigers, geweldenaars en onderdrukkers. In weerwil daarvan dat blanke Suid-Afrikaners die rassegroep is wat hom die beste gedra, die wetsgehoorsaamste en die vredeliewendste, die mees pligsgetrou as dit kom by die betaling van ons betalings, elektrisiteit en aalmoese aan die hulpbehoewendes, stel die media – veral Beeld, Rapport en Die Burger – ons voor as fanatiese rassiste wat heropvoeding benodig. Verlede jaar tydens PRAAG se hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste omdat ‘n jong student, Wesley Barnard, let wel, met die dood gedreig is deur ‘n ander jong swart man omdat hy sy eksamen in Afrikaans wou aflê, het ek ook die interne statistieke oor ons gevangenisbevolking bekom. Op daardie stadium was daar ‘n minuskule 3 900 wittes in die gevangenis, teenoor 31 000 bruines en iets soos 160 000 swartes. Gaan maak ‘n paar somme, en u sal vind dat daar proporsioneel seker agt keer minder wittes in ons tronke is as swartes of bruines. En dan is die meeste van die jong swart mans wat eintlik daar behoort te wees, nie eens daar nie, want hulle boet nie vir hul dade nie!

Dit is tyd dat die hele klein anti-wit ideologie wat in hierdie land al dekades lank gedy onder die linkses en politiek korrektes, maar veral sedert 1994, in perspektief gesien word. Die hele stelsel is besig om mee te werk om van ons hulpelose slagoffers te maak. Al wat ons in die media sien, is huilende witmense by begrafnisse. Kort-kort begrawe ons nog ‘n paar dooies. As ons in ‘n oorlog betrokke was, sou ons darem die kiste in vlae kon drapeer en Die Stem kon speel. Maar dit mag ons nie eens doen nie. Die Stem is taboe, vlae is taboe, enigiets wat nie spreek van ‘n kruiperige instemming tot ons lot nie, is insgelyks verbode. Sodra enige Afrikaner- of ander wit man opstaan en ‘n paar woorde van protes spreek, word hy onmiddellik van ‘n kant af aangeval en verguis as ‘n regse, ‘n Nazi, ‘n génocidaire, ‘n volkstaater, ‘n rassis en ‘n uitvaagsel. Daar is ‘n hele versameling ontmande wit mans vanuit akademiese kringe, allerlei soorte feministe met of sonder ‘n sekere seksuele voorkeur, wat as’t ware rondsluip met ‘n outydse skeermeslem om te sorg dat die laaste oorblywende wit man figuurlik gesproke tot ‘n eunug gereduseer word.

Daar is privaatmaatskappye in Johannesburg wat opleiding aan hul personeel verskaf oor “hoe om ‘n kaping te oorleef.” Wees inskiklik. Moet geen skielike bewegings maak nie. Klim dadelik uit die motor uit en oorhandig die sleutels. Moenie jou aanvaller in die oë kyk of laat dink dat jy hom agterna sal herken nie, want dan maak hy jou dalk dood. Doen alles wat hy sê.

Oral is die boodskap dieselfde: wees onderdanig, aanvaar alles, en ag jouself gelukkig as jy bly leef. Want sien, binne die rasseproblematiek van die NSA beklee selfs die jong swart misdadiger die morele hoë grond. Die samelewing het begrip vir hom, maar nie vir sy slagoffer nie. Nou onlangs toe ‘n afgetrede generaal in Pretoria vermoor is, het sy seun oor dié se agtienjarige manlike swart moordenaar gesê, “Ek kry hom jammer.” Terwyl swartes in Suid-Afrika die blanke bevolking gedurig teister met die onreg van die verlede, apartheid, en dergelike meer, is selfs die slagoffers van swart misdaad bereid om te vergewe en vergeet, om die ander wang te draai, om die minste te wees in die Christelike sin. “Dis die Here se wil,” is die boodskap van elke predikant wat die slagoffer van nog ‘n plaasmoord ter aarde bestel. En gewoonlik stem die familie saam. Hulle koester geen wraakgedagtes nie. Dis soos ‘n ongeluk wat gebeur, force majeure, iets wat onverklaarbaar met ons gebeur.

Desnieteenstaande vertel die onafhanklike verslag van staatsadvokate wat nie vrygestel gaan word nie, en waarmee die minister van veiligheid en sekuriteit “ontevrede” is, ‘n ander verhaal. Terwyl roof oorwegend die motief vir plaasaanvalle is, is daar tog ‘n hele klomp gevalle waar swart rassehaat jeens wittes ‘n duidelike rol speel. Volgens die verslag wat so pas aan die media gelek is, is daar in 32 van 45 plaasaanvalle gedurende 1998 en 2001 “geen rasionele rede vir die slagoffers se dood nie.” Met ander woorde, die mense is vermoor bloot vir die lekker, of omdat hulle blankes was.

Syfers oor die presiese hoeveelheid swart-op-wit geweld in Suid-Afrika is nie bekend nie, maar ons kan vermoed dat dit hoog moet wees, te oordeel aan die mediaberigte en ook die anekdotiese getuienis rondom ons. Dit is besig om ‘n patroon aan te neem: toenemende swart wreedheid, bejaarde vrouens wat met strykysters gebrand word soos die berig in vandag se Beeld uit Nelspruit, summiere teregstellings soos in die Rawthorne-Drennen-geval. In ‘n sekere sin het swartmense in Suid-Afrika, soos James Bond, ‘n lisensie om dood te maak. Daar is geen doodstraf nie. Die tronke is vol, sodat lewenslange tronkstraf in die reël veel korter as ‘n leeftyd duur. Boonop word slegs 6% van alle moordenaars ooit gevonnis.

Maar ek stel meer belang in die dinamiek van swart-wit-interaksie. Tans staan ek in die beskuldigdebank, nie die jong swart moordenaars waaroor dit gaan nie. Ek het gewaag om daarvan melding te maak, sulke gedrag as abnormaal te sien, iets wat desnoods behandel behoort te word of drastiese optrede verg. ‘n Mens kan daaroor kla en mor, bid dat dit moet verander, “saamwerk” met die regering om dit te probeer oplos, maar jy mag dit nie kritiseer nie. Dan is dit haatspraak en rassisme, neo-Hitleriaans. Elke Afrikaner en blanke moet dit aanvaar en daarby berus. ‘n Wysneusige Franse besoeker aan die land het eenkeer ewe uit die hoogte aan my vrou gesê, “Dit is maar ‘n oorgangstadium. Julle kom nou net uit apartheid uit.” Maar hy vlieg weer terug na ‘n veilige samelewing toe, ‘n plek waar ‘n enkele moord in die moltreinstelsel vir ‘n week lank voorbladnuus was. Terloops, hoewel Frankryk ‘n groter bevolking as Suid-Afrika het, beskik dié land slegs oor een kwart van ons gevangenes.

Hier is ‘n hele sindroom wat ontleding verg. Iewers op ‘n Amerikaanse webwerf van David Horowitz, insgelyks ‘n ontnugterde liberaal wat deesdae voltyds die politieke korrektheid beveg, was daar ‘n artikel oor vier grusame moorde in Wichita, Kansas op 14 Desember 2000. Die slagoffers was vier jong wittes, asook ‘n vyfde vrou wat die aanval oorleef het in weerwil van ‘n kopskoot. Die moordenaars was twee jong swart mans, Jonathan en Reginald Carr. Terwyl wit moordenaars van swartes, soos hier by ons in die gevalle van De Wet Kritzinger en Barend Strydom, geweldig media-aandag verkry, en sulke geïsoleerde gevalle aangebied word as tekenend van die sluimerende rassehaat van alle wittes, geskied die teenoorgestelde omtrent nooit nie. In Suid-Afrika weet ons nie eens wie hierdie jong swart moordenaars is nie. Ten eerste word hul ras nie deur die koerante vermeld nie. Daar word byna nooit foto’s van hulle gepubliseer nie, anders as in die geval van De Wet Kritzinger. Ons lees net, “’n man word ondervra in verband met die voorval” of, “daar word na drie mans in hul twintigerjare gesoek.” Eers as die name in die koerant gepubliseer word, kan ons sien dat dit hier gaan nie om die blanke of Afrikanerman wat daagliks in die media aan ons voorgehou word as die wortel van alle kwaad nie, maar om ‘n jong swart man.

Die onderhawige geval wat ek op David Horowitz se webwerf raakgeloop het, gee nog ‘n verdere aanduiding van wat ek sou noem ‘n proses van geheimhouding rondom swart geweld, soortgelyk aan ons eie weerhouding van misdaadstatistieke en Nqakula se pogings om die veslag oor plaasaanvalle te smoor. Die regter in die Wichita-geval, Rebecca Pilshaw, het die getuies, asook die persone binne die hof, verbied om enigiets buite die hof te sê, want soos sy dit gestel het, “hoe minder oor hierdie dinge gesê word, hoe beter.” Hierna het die verhoor so te sê in camera plaasgevind, en die pers het die gebeure verswyg, anders as in byvoorbeeld die Rodney King-aanrandinggeval deur blanke polisiemanne waar dit wêreldnuus was en tot die onluste in Los Angeles Suid-sentraal gely het. Net soos wat regstellende aksie uit Amerika hierheen ingevoer is, het al die Amerikaanse gewoontes van geheimhouding oor swart geweld ook hierheen deurgesypel. Blote feite skep stereotipes en blaas rassisme aan. Tim du Plessis van Rapport sou waarskynlik sê dat om verslag te doen oor die optrede van sekere jong swart mans haatspraak verteenwoordig. Die werklikheid van intense geweld, dikwels met ‘n seksuele element, word as neutraal gesien; om daarna te verwys is haatspraak.

Dog die feite in die saak van Reginald en Jonathan Carr kon nie heeltemal diggehou word nie. Ons het genoeg afskuwekkende moorde van ons eie, sonder om nog van die Amerikaners s’n by te sleep, daarom sal ek my lesers ‘n breedvoerige relaas spaar. Dit kom daarop neer dat die Carr-broers, Afro-Amerikaners, laataand by ‘n huis ingebars het waar drie jong blanke mans met hul twee vroulike gaste teenwoordig was. Hierna het drie ure van hel gevolg waartydens beide swart mans die blanke vroue herhaaldelik verkrag het, maar ook aldrie blanke mans gedwing het om seks op hul gaste te beoefen. Onder andere is een van die vroue gesodomiseer, en is die mans herhaaldelik aangerand. Uiteindelik het die Carr-brothers hul slagoffers nakend in ‘n temperatuur onder vriespunt na buite gemarsjeer en al vyf geskiet waarna hulle oor die lyke gery het met ‘n voertuig. Die oorlewende het gemaak asof sy dood is met ‘n koeël in haar skedel.

Die skrywer van die artikel op Horowitz se webwerf haal die oorlewende vrou aan waar sy sê dat sy op ‘n stadium die een moordenaar se pistool binne haar bereik gesien het terwyl een van die Carr-broers besig was om sy broek af te trek om haar te verkrag, maar “sy het nie geweet hoe ‘n pistool werk nie.” Maar bo en behalwe dit, is daar nog ‘n faktor hier ter sprake. Onbewustelik is alle blankes, sowel in die VSA as in Suid-Afrika, gekondisioneer om swart geweld te aanvaar as byna onvermydelik, as die hand van God, iets waarteen mens jou nie moet verset nie, maar wat jy moet aanvaar en ondergaan. Dit mag een rede wees waarom die drie jong blanke mans in die Wichita-geval niks gedoen het om hulself te verset nie, waarom al vyf blanke jongmense gedwee kaal in die sneeu uitgeloop het om tereggestel te word deur hul swart aanvallers al het hulle geweet hulle staar ‘n gewisse dood in die gesig. Op een stadium is daar heen en weer gery na ‘n outobank toe om geld te gaan trek, en aldrie die blanke mans was in die huis teenwoordig terwyl een van die aanvallers besig was om ‘n vrou te verkrag. Soos een kommantator dit gestel het,

“By Heather Muller [een van die vermoorde vroue] se begrafnis, het Eerwaarde Matthew McGinness gesê, ‘Ons moet soos Christus wees, wat sy vyande vergewe het.’ Hy het die gemeente vertel dat Heather se moeder dieselfde gevoel het, en aan hom gesê het, “Heather sou wou hê dat ons vir haar moordenaars moet bid, en Heather het waarskynlik vir hulle gebid ten tye van haar dood.’

In watter mate verklaar hierdie draai-die-ander-wang-mentaliteit waarom vyf wittes misluk het om terug te veg teenoor twee aanvallers? Drie van die wittes was jong mans, wat sekerlik in staat was om ernstig weerstand te bied, en daar moes verskeie geleenthede daarvoor gewees het. Terwyl die enkele man besig was om ‘n vrou te verkrag, hoe moeilik kon dit gewees het om hom te oorval?

By ‘n sekere punt moes dit duidelik geword het dat die Carrs van plan was om al die getuies dood te maak. Hulle kon niks anders in gedagte gehad het toe hulle die groep uitgemarsjeer het in die sneeu nie, en probeer het om al vyf in die bak van hul motor in te dwing nie. Daar was geen verdere geld wat uit die OTM-masjiene verkry kon word nie. Al wat oorgebly het, was om seker te maak dat niemand teen hulle kon getuienis lewer nie.

Waarom, dus, het vyf jong blankes – mans of vroue – gedienstig in die sneeu gaan kniel om een vir een doodgeskiet te word? Is hulle gees heeltemal gebreek deur ure se vernedering? Was hulle so styf van die koue dat hulle beswaarlik kon beweeg? Of is hulle eenvoudig verwring deur die anti-wit Zeitgeist van skuld wat impliseer dat wittes alles verdien wat hulle kry? ‘n Mens wil nie sleg dink van die oorledenes nie, maar hierdie drie mans het min blyke van enige manlikheid getoon.”

Omdat so ‘n straf in Kansas bestaan, is die Carr-broers ter dood veroordeel. Maar die punt wat hier gemaak word oor die blanke slagoffers se gedienstigheid teenoor swart misdaad is universeel geldig, ook in Suid-Afrika.

Die fietsrybroers hier by ons, Stuart en Lloyd Griffith, is van moord aangekla toe hulle uit selfverdediging op hul aanvallers geskiet het. Hoeveel blankes het nie al gesterf omdat hulle nie dieselfde durf waag het nie? Omdat hulle weet dat dieselfde taboe wat daarop rus om hoegenaamd na die ras van hul geweldenaars te verwys, hulle ook gaan tref indien hulle hoegenaamd die hand teen ‘n swarte lig. Eugene TerreBlanche is ‘n modelgevangene en het lankal gekwalifiseer vir parool. Al wat hy in die tronk doen, is blykbaar om sy Bybel te lees. Nietemin word hy nie op parool vrygelaat nie ná vele hofaansoeke. Afgesien van sy regse politiek, is hy boonop ‘n Afrikaner en ‘n blanke man. En hy het ‘n swart man aangerand. Indien die omgekeerde die geval was, indien hy links en swart was en ‘n blanke aangerand het, sou hy lankal vrygelaat gewees het. Meer as dit, hy sou ‘n studiebeurs of een of ander toekenning ontvang het, soos die messteker op Vryburg wat ‘n beurs van Nelson Mandela gekry het, ná hy ‘n wit mede-leerling gesteek het.

Toe die baba Angela Zwane in ‘n fratsongeluk deur ‘n kleinhoewe-eienaar doodgeskiet is, ná hy in die lug gevuur het, was Nelson Mandela vinnig op die toneel om hierdie “rassistiese” daad te verdoem. Die dader self moes vlug vir sy lewe en wegkruip terwyl die ondersoek aan die gang was. Het Nelson Mandela onlangs enigiets te sê gehad oor die moord op klein Kayla Drennen? Nee, dis nie belangrik genoeg vir Sy Hoogheid nie. Die baba is van die verkeerde ras, en so ook die moordenaars.

In my rubriek het ek verwys na die sadistiese land Suid-Afrika. In die Markies de Sade se boeke word die goeie mense soos Justine gestraf deur die natuur terwyl die losbandiges, die moordenaars en die verkragters, beloon word. Juliette word deur die noodlot op die hande gedra en haar vrome suster ondergaan die wreedste strawwe en foltering. Ons Afrikaners word voortdurend gestraf vir ‘n misdaad wat ons nie gepleeg het nie, terwyl jong swart mans wat geweldsmisdade beoefen meesal daarmee wegkom, of net ligte strawwe opgelê word.

Die maklikste ding vir ons om te doen, sou waarskynlik wees om doodeenvoudig te emigreer, soos baie van ons mense reeds doen. Anders as vir Engelssprekendes, impliseer dit egter vir Afrikaners die einde van hul taal en hul volkskap wat oor 350 opgebou is, met groot opoffering en ywer. Ons is ook verknog aan hierdie wêrelddeel en 70% van alle plase behoort aan Afrikaners. Dit maak ons ook verskriklik kwesbaar. Op 28 Augustus gaan ‘n groep mense weer 1 500 wit kruise oprig langs die N1-snelweg naby Pietersburg, ter herinnering aan die aantal plaasmoorde wat reeds plaasgevind het. Iemand beweer dat daar reeds 30 000 Afrikaners dood is in misdaad sedert 1994, meer as die vroue en kinders in die konsentrasiekampe honderd jaar gelede.

Indien ons nie wil emigreer nie, lyk dit na ‘n baie moeilike taak om hoegenaamd die misdaadsituasie te beïnvloed. Die Amerikaanse rubriekskryfster Anne Coulter wie se idees ek nie noodwendig navolg nie, maar wie se goetspa ek nogal bewonder, het een keer op TV iets gesê in die trant van, “as jy wonder oor jou veiligheid, kry ‘n pistool.” Die enigste konkrete ding wat ons kan doen teen misdaad, is om meer weerbaar te raak. Soos die fietsryers van Johannesburg wat deesdae rondry met messe en pistole. En te hoop óns word nie van moord aangekla as ons in selfverdediging skiet nie. Oor die kort termyn kan dit help as ons almal “harde teikens” word. Nog nooit in my lewe het ek ‘n vuurwapen besit nie, maar ek dink dit raak nodig vir elkeen van ons om met ten minste ‘n handwapen vertroud te raak sodat ons nie soos Heather Muller van Wichita eerder verkrag word as om die aanvaller se wapen op die geleë oomblik te gryp nie.

Oor die langer termyn kan ek nie sien hoe hierdie samelewing gaan bly bestaan nie. Die horde ANC-kaners van Naspers wat so lustig sing van “nasiebou” het nog nie eens daaraan gedink hoe ons ‘n gemeenskaplike samelewing in stand gaan hou nie, wat nog te sê iets absurds soos nasiebou. Eintlik is Suid-Afrika lank nie meer ons probleem nie. Ons het dit afgegee - of De Klerk het dit namens ons afgegee, met of sonder ons toestemming - en al wat oorbly is om ons eie heil uit te werk.

Soos ek dit sien, is daar ‘n onoorbrugbare dualisme van waardes in Suid-Afrika. Selfs Tim du Plessis van Rapport – en hy is ‘n ANC-kaner wat omtrent elkeen van sy idees uit ANC Today gaan vis  – erken hy wil “in sy hande huil” as hy Nqakula hoor sê dat misdaad net ‘n bietjie hoog is. Gedurende die 1994-verkiesing is daar iets soos ‘n duisend mense dood in geweldsinsidente. Iewers het Mbeki gesê dat dit nie te erg was nie. Die hele ANC het saamgestem dat die onlangse verkiesing in Zimbabwe “vry en regverdig” was. Charles Taylor van Liberië gaan nie vervolg word vir oorlogsmisdade nie, en Mbeki het sy misnoeë uitgespreek dat daar mense is wat selfs so iets voorstel. Die algemene boodskap is, helaas: ‘n lewe in Afrika is nie soveel werd soos op ander plekke nie. Om daardie en ander redes kan ek nie sien hoe misdaad en die red van menselewens ooit ‘n prioriteit vir hierdie regering gaan word nie.

Ons sit dus met twee standaarde in Suid-Afrika: ‘n eurosentriese en ‘n afrosentriese. Hoe kan ons albei in een stelsel akkomodeer?

Sover dit Koos Kombuis se opmerking betref dat hy “glo in ‘n Suid-Afrika waar ras onbelangrik is”, dink ek hy moet iewers by die patryspoort uitloer en kyk of sy motore nie dalk op ‘n ander planeet vasgehaak het nie, want in dié land is ras nou hoër op die prioriteitslys as ooit. Dit is ook nie ons wat dit daar geplaas het nie, maar die klomp rasideoloë van die ANC en sekere Engelse akademici wat weer gaan drink het by die Amerikaanse fontein. Ras is met ons, of ons daarvan hou of nie.

Verder noem Kombuis die Freedom Charter. Ek het lanklaas dié dokument onder oë gehad, maar daar is ‘n klousule wat lui, “die grond sal aan hulle behoort wat dit bewerk.” Dit is nie Afrikanerboer-vriendelik nie. Trouens, Mbeki het dit enkele weke gelede herhaal, met die implikasie dat etniese suiwering en “grondhervorming” op die platteland nog vir ons voorlê. Kyk mooi na die goed in pakkies by Woolworths; iewers moes iemand dit geplant, versorg en geoes het om tot daar te kom. Die Freedom Charter mag nog sorg vir ‘n voedseltekort in Suid-Afrika, dus sal ek nie my hoop daarop plaas nie.

Kombuis se verklaring dat ek nou van die toneel gaan verdwyn oor een polemiese stelling in ‘n rubriek, het my lekker laat lag. Ek eis heelwat meer vryheid van spraak op as dit. Ann Coulter het op ‘n stadium gesê dat haar enigste beswaar teen Timothy McVeigh is dat hy nie sy vragmotor buite die kantore van die New York Times gaan parkeer het nie, waarteen daar heftig beswaar gemaak is. Sy skryf egter nog steeds rubrieke en boeke. In die ou dae het ek my nie aan sensuur gesteur nie, en ek gaan ook nie nou nie. In ‘n land waar 30 000 moorde per jaar plaasvind, kan enkele woorde of frases seker maar min skade aanrig. Tot onlangs het die Menseregtekommissie gedink dat “Kill a Boer, kill a farmer” vryheid van spraak verteenwoordig het. Ene Nigel Pierce van Cape Talk Radio het ‘n teorie oor die IK van Afrikaners en hul rugbyspelers. Ek daag hom uit om enige IK-toets by een van die Afrikaanse skole te gaan uitvoer, en ‘n gemiddeld uit te werk. Terwyl hy die moeite doen, kan hy dieselfde gaan uitvoer vir ‘n paar ander etniese en rassegroepe in dié land, en sy resultate vergelyk. As Nigel Pierce aanmerkings oor die intelligensie van Afrikaners kan maak en kan bly uitsaai, kan ek nie insien waarom ek myself skielik die swye moet oplê nie.

Die grote Naspersgroep verloor baie geld op hul internetbesigheid, maar het nog nie agtergekom dat die wêreld verander het nie. Dis nie meer die lekker ou dae toe hulle mense kon maak en afbreek soos hulle wou, Schalk Pienaar-styl nie. In weerwil van hul monopolie op Afrikaanse koerante, het hulle geen beheer oor die internet nie. Indien Tim du Plessis die redelike ding gedoen het en my gevra het om enkele paragrawe in my rubriek te verander, sou ek dit moontlik gedoen het. Maar die feit dat hy kragdadig opgetree het, het my geen ander keuse gelaat as om met die hele sak patats vorendag te kom nie. Eintlik verveel die rassedebat my al lankal – ek het The Bell Curve in 1994 gelees toe dit uitgekom het en al vergeet wat daarin staan - maar blykbaar gaan dit nie langer uitbly nie. Daarvoor sorg die ANC se Einsatzgruppen wat telkens nog gruweldade pleeg, te goed.

Verder het ek, anders as Peter Mokaba van die ANC, nog nooit moord op enige individu of etniese groep bepleit nie. Theuns Eloff en sy trawante by Potch het selfs agterna die rooi tapyt uitgerol vir mnr. Mokaba. Dit sal seker nooit met my gebeur nie, want ek is pro-Afrikaans en vredeliewend. Dus geheel en al nie materiaal om na enige universiteit of selfs die ATKV uitgenooi te word as spreker nie. Indien ek nou al ‘n paar wit polisiemanne doodgemaak het, opleiding by die Oos-Duitse Stasi ondergaan het, en op ‘n stadium huisbediendes oor Radio Freedom vanuit Dar-es-Salaam aangemoedig het om hul blanke werknemers te vergiftig of met skerpgemaakte tuinvurke te gaan vermoor, sou ek sekerlik nou al by een van die histories Afrikaanse universiteite ‘n eredoktorsgraad in die regte ontvang het vir my groot bydrae tot vrede en demokrasie in Suid-Afrika. (Op die internet kan mens nou nog luister na sekere van Radio Freedom se uitsendings.)

Wel raak ‘n mens moeg om altyd oor en oor die ooglopende te moet verduidelik. Ek wil ook nie enige groot politieke rol vir myself opeis nie, want 1) as daar geen moontlikheid van ‘n regeringsverandering in ‘n land is nie, is politiek ‘n futiele oefening en 2) die hoeveelheid openbare steun wat ek onder die Afrikaners geniet is waarskynlik naby aan nul. As ek ooit teen Marthinus van Schalkwyk in ‘n Afrikanerverkiesing te staan moet kom, sal hy loshande wen.

Ek sien my rol dus eerder as ‘n soort kantlynkommentator wie se plig dit is om my mede-Afrikaners so af en toe aan die werklikheid te herinner. Was dit Montesqieu of Mallarmé wat gesê het ‘n skrywer moet die slegte gewete van sy tyd wees? Andersins dink ek mens kan baie mooi romans skryf oor die ondergang wat ons tans beleef. Wat hier aan’t gebeur is, is ten minste ewe dramaties as die val van die Westerse Romeinse Ryk. Ons toon al die lewensmoegheid en gelatenheid van die Romeine wat hulself verlaag voor die aanvallende Wes-Gote onder Alarik. Eers betaal hulle om nie verwoes en geplunder te word nie, en agterna word hulle in elk geval verwoes en geplunder. Daar is ‘n legende dat sommige van die Romeinse vrouens nie verkrag is in die redelike nuwe Christelike kerke van daardie tyd nie omdat die Gote erg bygelowig was. Dit is iets om op die proef te stel, om in kerke te gaan wegkruip.

Anders as wat ek in my rubriek geskryf het, dink ek nie daar is eens ‘n kans vir ‘n Afrikaneropstand nie, nie teen misdaad nie, en nie teen die dreigende grondhervorming nie. Hier en daar sal ‘n boer hom miskien op sy plaas verset, maar hy sal eenvoudig doodgemaak word en die stedelinge sal maak asof hulle dit nie raaksien nie.

‘n Franse skrywer wat ‘n baie interessante roman oor die komende ondergang van Frankryk en die Westerse beskawing geskryf het, Jean Raspail, het op ‘n keer besoek ontvang van sy Amerikaanse uitgewer. Op die vraag, “Dink jy Frankryk of die Weste beskik oor ‘n toekoms?” het hy ewe lakonies geantwoord, “Je n’en sais rien.” Ek het nie die vaagste benul nie. As iemand my vra of ek eerlikwaar dink die Afrikanerdom of Suid-Afrika het ‘n toekoms, moet ek in weerwil van my soms energieke maar futiele pogings om die gang van die geskiedenis te beïnvloed, dieselfde antwoord gee. Ek het geen benul nie.

Al wat ek weet is dat nog baie mense, van alle rasse soos dit heet, maar veral ook blanke Afrikaners, doodgemaak gaan word deur jong swart mans in dié land. Ander toekomsvoorspellings sal ek liewer nie waag nie.

Ns. Pas het ek hierdie klaar geskryf, of ek ontvang die volgende epos uit Nylstroom:

Gisteraand (21 Augustus 2003) omstreeks 10 voor 9 (20:50) het (jong) swartes toegesak op 'n winkel in Nylstroom en vir José de Sousa ('n blanke Portugees) in sy kop geskiet. Hy is feitlik op slag dood. Twee ander blankes is gewond, een ernstig.

Die swartes is deur flinke (blanke) polisie-optrede gevang. Maar nou ja, ná 5 of 15 jaar is hulle weer vry. So wat skrik hulle af? Niks. Vra vir my as prokureur hoe lag hulle as hulle tot 15 jaar gevonnis word. Iemand sê aan my José het gesê hulle kan alles vat wat hulle wou hê - hulle het hom nogtans koelbloedig vermoor!

Daar is 'n oorlog wat woed teen die blanke in hierdie land waarvan Rapport u nie wil vertel nie. Laat ons dit dan maar vir mekaar vertel.

En o ja terloops. Ek het min Afrikaners geken wat kon werk soos José. Hy was saggeaard, vriendelik, hardwerkend en 'n lojale vriend. Maar dit het hom oplaas niks gebaat in hierdie misdadige land nie.

Boontoe