|
|
||||
| chronologie
|
Het ons die waagmoed om Afrikaners te wees? Openingstoespraak
by die vierde vergadering van die Konfederale Afrikanerforum Dan
Roodt Onlangs
by hierdie Forum het Ockie van Schalkwyk voorgelees uit N.P. van Wyk
Louw, sekerlik die grootste digter wat Afrikaans en miskien die hele
Afrikakontinent nog ooit opgelewer het. Omdat hy egter in sy
moerdertaal en nie in Engels, Frans of Portugees geskryf het nie,
word hy nie as sodanig deur die wêreld erken nie. Benewens
digter, was hy ook denker en filosoof. In ‘n styl wat vir elkeen
toeganklik was, en dikwels oor die radio of in tydskrifrubrieke, het
hy sy gedagtes gedeel met sy mense. ‘n Mens sou sy styl van
filosofie kon vergelyk met dié van Wittgenstein of Pascal. Hy het
die vermoë gehad om komplekse gedagtes in eenvoudige taal uit te
druk en as’t ware padlangs te gesels terwyl hy eintlik besig is om
kwessies waardeur hy self ure en miskien dae lank moes geworstel het,
te berde bring. Van
Wyk Louw is vandag vir ons fassinerend omdat hy in ‘n tyd geleef
het toe die Afrikaner en die Afrikaanse kultuur in ‘n opwaartse
fase was. Dit was ‘n tyd van groei en opbloei, van optimisme
en hoop vir die toekoms, toe mense selfs opgewonde daaroor was om
Afrikaner te wees. Ons leef in presies die teenoorgestelde tydvak,
wat ons as een van afgang en ondergang, pessimisme en vrees vir die
toekoms sou kon tipeer. Eerder as wat Afrikanerwees mense vandag
opgewonde maak, stel dit hulle in die verleentheid; hulle is skaam
daaroor. Die
merkwaardige van Louw se skeppende verbeelding, ook as denker, is
dat hy in sy tyd wat ons toenemend begin sien as die goue dekades
van Afrikaans - ‘n tyd toe die taal een gebied na die ander
verower het en op ‘n stadium selfs een van die voorste
wetenskapstale ter wêreld geword het – hom kon voorstel dat daar
weer ‘n epog sou aanbreek waar Afrikaans sowel as die Afrikaner
die onderspit kon delf. Nou
onlangs het iemand weer my aandag gevestig op ‘n optstel wat Louw
in Oktober 1938 geskryf het, onder die titel “Die ewige trek”.
Dit moes in die tyd van die tweede simboliese ossewatrek gewees het,
en Louw het hier profeties ingesien dat hierdie oomblik wat eintlik
die hoogtepunt was in die Afrikaanse oplewing tydens die twintigste
eeu, eintlik in ‘n mate op die kans berus het. Trouens, hy noem
die opkoms van die Afrikaner ‘n “waagspel”: “Die
hele wording van ‘n klein volk is ‘n waagspel. Tussen die groot
magte moet hy opkom soos ‘n plantjie tussen die pote van die
grootvee opkom. Elke oomblik kan hy vertrap word. Bewaar hom, as hy
meen dat sy “reg” alleen hom sal beskerm in ‘n wêreld van
magsbewegings. Gedeeltelik is dit die balans van die grootmagte wat
hom ‘n gevaarlike veiligheid gee; maar meer nog is dit sy eie wil
tot volk-wees, sy wil om hom tot die uiterste teen ‘n aanval te
verset dat dit ‘n groter land nie die moeite sal loon om hom te
verower nie. En
onder die klein nasies is die Afrikaanse volk nog weer enig in sy
gewaagdheid: teenoor hom staan aan die een kant die tweehonderd
miljoen swartes van Afrika en aan die ander kant die Engelse
miljoene. Ons sou nie geglo het dat ‘n volk sy identiteit in dié
omstandighede kn gehandhaaf het as ons dit nie voor ons oë sien
gebeur het nie. Gewoonlik
dink ons nie aan daardie gewaagdheid van ‘n volk se bestaan nie,
maar op sekere groot keerpunte word dit as verwarring en twyfel,
indien nog nie in sy helder betekenis, aan duisende bewys. Mense en
groepe en partye meen dat hulle baie duidelik weet wat hulle vir die
volk wil hê en waarheen hulle strewe gaan; maar die groot beweging
self wat uit al hierdie stoot en druk en trek ontstaan, gaan ver
bokant hulle voort. Die volk loop soos ‘n slaapwandelaar wat langs
gevaarlike kranse en skeure gaan, en op elke draai kan hy afstort en
vernietig word. Maar hy weet nie van die gevare nie, en dit is
alleen wanneer die spoor agterna gesien word, dat mens gewaar hoe hy
tussen die afgronde deurgevleg het.” As
mens dit klaar gelees het, is hierdie eenvoudige beeld van die
Afrikanerdom as slaapwandelaar een wat mens lank bybly. Tewens die
hele stuk oor die Afrikaner se ewige trek gaan daaroor dat sy gang
deur die geskiedenis amper onbewustelik en blindelings geskied, iets
waarvan mens net die spore agterná kan raaksien. Tydens die oomblik
self weet ons nie eens of ons iewers heen op pad is nie. Vir al wat
ons weet kan ons binnekort oor die afgrond stort. ‘n Mens sou
hierdie siening van Louw in psigoanalitiese terme kon ontleed, in
aansluiting by die denke van Freud en veral Jung wat gepraat het van
die “kollektiewe onderbewuste”. Die gang van ‘n volk deur die
geskiedenis is dus by uitstek nie rasioneel en bewustelik nie, maar
eerder irrasioneel, onbewustelik en arbitrêr, ‘n uitvloeisel van
die kans. Telkens
kom die geskiedenis en die voortbestaan van dit wat hy “’n klein
volk” noem op ‘n mespunt te staan. Dit kan dié kant toe of
daardie kant toe gaan. As ons lesers van Nietzsche is, kan ons
hierdie oomblike van voortbestaan, aldan nie, afgang aldan nie, sien
as die fameuse “werp van die dobbelsteen”. Omdat ons in Afrika
woon, en ook omdat een van ons ander digters, Dirk Opperman, dié
tema opgeneem het, kan ons dit insgelyks beskryf as die “gooi van
die dolosse”. Tot onlangs was die Afrikaner gelukkig genoeg dat
hierdie waagspel nog altyd in sy guns verloop het. Interessant
is nou dat Louw drie kritieke oomblikke – die woord wat hy gebruik
is “keerpunte” – in ons geskiedenis uitlig: “die Groot Trek,
die Tweede Vryheidsoorlog, en, teen die begin van die twintigste eeu,
die keuse om Afrikaans in die plek van Nederlands as skryf- en
kultuurtaal te aanvaar.” En
weereens lyk die uitkoms van elkeen van hierdie gebeurtenisse wat in
in mindere of meerdere mate ‘n sukses was, vir ons terugskouend
‘n gegewe, dog Louw beklemtoon dat dit ook anders kon uitgeloop
het. Hoewel die Afrikaners of die Boere die oorlog teen Engeland
verloor het, het die blote feit dat hulle bereid was om te veg hul
voortbestaan as volk verseker. Indien hulle van meet af aan die
handdoek ingegooi het, sou hulle eenvoudig verdwyn het. Soos Louw
dit stel, “Vandag kan ons dit insien: as ons nie geveg het nie,
sou die Afrikaanse volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte
gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek
buig as dit nuttig is om nederig te wees? Maar uit die trots van die
driejarige stryd teen ‘n wêreldmag is die nuwe Afrikaanse
nasionalisme gebore wat nie langer te kere was nie.” Dit
alles klink vir ons baie bekend, maar die werklike insig wat Louw
aan ons bied, is dat daar in elkeen van hierdie gevalle, by elkeen
van hierdie drie keerpunte, ook ‘n baie goeie argument bestaan het
om die teernoorgestelde weg in te slaan, d.w.s. om nie te trek nie,
om nie te veg nie, om eerder aan te hou met Nederlands en nie
Afrikaans te probeer ontwikkel nie. Historici sou selfs kon sê dat
hierdie teenoorgestelde keuse onder die omstandighede na die
makliker, meer redelike uitweg, selfs die strategie met ‘n groter
kans om te slaag, gelyk het. Indien
N.P. van Wyk Louw vandag gelewe het, ly dit by my geen twyfel dat hy
die huidige tydvak as ‘n vierde keerpunt in die
Afrikanergeskiedenis sou geïdentifiseer het nie. Weereens verkeer
die voortbestaan van die Afrikaner op ‘n mespunt, weereens is ons
in die dobbelsaal waar die swart-en-wit steentjie gerol gaan word op
die groen vilt van die dobbeltafel, nogeens hurk ons om die kampvuur
waar die dolosse uit die sakkie gaan tuimel om ons toekoms te bepaal. Hierdie
keer is die keuse nie soseer om te trek nie, hoewel vele Afrikaners
natuurlik wegtrek na ander lande toe, nòg is dit ‘n eenvoudige
alternatief om die wapen op te neem of nie. Miskien is die taalkeuse
vandag soortgelyk aan die verlede, want hoewel Afrikaans volledig
ontwikkel is, is daar weereens mense, waaronder baie Afrikaners, wat
vandag opstaan om te beweer dat dit nie die moeite werd is om aan te
hou met die groot werk en inspanning van ‘n eie taal nie, dat ons
uiteindelik ná twee eeue tog maar moet besgee en Engels as ons taal
moet aanvaar. Baie Afrikaners, veral uit die meer gegoede stand het
reeds so ‘n besluit geneem en verengels doelbewus hul kinders. Maar
die groot dilemma wat vandag aan ons opgedring word, is of die
Afrikanerdom as sodanig moet bly voortbestaan, met al die
implikasies van langdurige stryd om erkenning wat dit impliseer en
of ons nie maar liewer moet deel word van die Suid-Afrikaanse nasie-in-wording
wat die makliker alternatief sou wees nie. In
hierdie opsig het niks in ons geskiedenis einlik verander nie. Die
twee vyande wat deur Louw geïdentifiseer is, en kom ons noem hulle
liewer nie vyande nie want ons woon saam in dieselfde land, eerder
die twee mededingers van die Afrikaner, het dieselfde gebly: dit is
die Engelse en die swartmense van Afrika. Die Engelse kon ons op die duur nie onderkry nie, maar vanweë hul ongekende getallegroei het die swakker mededinger uit die verlede vandag ons vernaamste teenstander geword. Die swart nasionalisme of Afrika-nasionalisme het hom beslis ten doel gestel om nie net vir altyd oor Afrikaners te heers nie, maar om ook die hele gedagte van ‘n aparte volk by daardie naam wat voorheen in die land sou bestaan het, te laat verdwyn. In sommige opsigte sluit die swart denke van vandag sterk aan by die Engelse denke van weleer, en is die twee dikwels met mekaar verstrengel. Andersyds
is dit egter ‘n heel nuwe situasie wat hom aan ons opdring, en is
dit oënskynlik neteliger as enige van die drie vorige keerpunte in
die Afrikanergeskiedenis. Daar is sekerlik vandag baie Afrikaners
wat reeds die handdoek ingegooi het in die geloof dat die oormag
eenvoudig net te groot is en dat ons ons moet berus in wat die
huidige bewind ook al aan ons voorskryf, of dit nou Engelse klasse
aan ons universiteite is of, soos nou pas aangekondig is,
toestemming van die staat om op ‘n gegewe plek as dokter te mag
praktiseer in navolging van die Kubaanse model. Vandag
tel sekerlik onder die moeilikste tye nog ooit om ‘n Afrikaner te
wees. Party dae voel dit asof dit nie iets is wat mens hardop in die
openbaar mag sê nie, sonder om dadelik te kwalifiseer, “én ek is
nog ‘n beter Suid-Afrikaner ook”. Die waagspel en die waagstuk
daarvan is waarskynlik groter as vantevore. Maar die uiteindelike vraag is, soos met die meeste dinge in die lewe, is: het ons vandag nog die waagmoed om met die Afrikanerprojek aan te gaan? |