chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Het ons die waagmoed om Afrikaners te wees?

Openingstoespraak by die vierde vergadering van die Konfederale Afrikanerforum

Dan Roodt

Onlangs by hierdie Forum het Ockie van Schalkwyk voorgelees uit N.P. van Wyk Louw, sekerlik die grootste digter wat Afrikaans en miskien die hele Afrikakontinent nog ooit opgelewer het. Omdat hy egter in sy moerdertaal en nie in Engels, Frans of Portugees geskryf het nie, word hy nie as sodanig deur die wêreld erken nie.

Benewens digter, was hy ook denker en filosoof. In ‘n styl wat vir elkeen toeganklik was, en dikwels oor die radio of in tydskrifrubrieke, het hy sy gedagtes gedeel met sy mense. ‘n Mens sou sy styl van filosofie kon vergelyk met dié van Wittgenstein of Pascal. Hy het die vermoë gehad om komplekse gedagtes in eenvoudige taal uit te druk en as’t ware padlangs te gesels terwyl hy eintlik besig is om kwessies waardeur hy self ure en miskien dae lank moes geworstel het, te berde bring.

Van Wyk Louw is vandag vir ons fassinerend omdat hy in ‘n tyd geleef het toe die Afrikaner en die Afrikaanse kultuur in ‘n opwaartse fase was. Dit was ‘n  tyd van groei en opbloei, van optimisme en hoop vir die toekoms, toe mense selfs opgewonde daaroor was om Afrikaner te wees. Ons leef in presies die teenoorgestelde tydvak, wat ons as een van afgang en ondergang, pessimisme en vrees vir die toekoms sou kon tipeer. Eerder as wat Afrikanerwees mense vandag opgewonde maak, stel dit hulle in die verleentheid; hulle is skaam daaroor.

Die merkwaardige van Louw se skeppende verbeelding, ook as denker, is dat hy in sy tyd wat ons toenemend begin sien as die goue dekades van Afrikaans - ‘n tyd toe die taal een gebied na die ander verower het en op ‘n stadium selfs een van die voorste wetenskapstale ter wêreld geword het – hom kon voorstel dat daar weer ‘n epog sou aanbreek waar Afrikaans sowel as die Afrikaner die onderspit kon delf.

Nou onlangs het iemand weer my aandag gevestig op ‘n optstel wat Louw in Oktober 1938 geskryf het, onder die titel “Die ewige trek”. Dit moes in die tyd van die tweede simboliese ossewatrek gewees het, en Louw het hier profeties ingesien dat hierdie oomblik wat eintlik die hoogtepunt was in die Afrikaanse oplewing tydens die twintigste eeu, eintlik in ‘n mate op die kans berus het. Trouens, hy noem die opkoms van die Afrikaner ‘n “waagspel”:

“Die hele wording van ‘n klein volk is ‘n waagspel. Tussen die groot magte moet hy opkom soos ‘n plantjie tussen die pote van die grootvee opkom. Elke oomblik kan hy vertrap word. Bewaar hom, as hy meen dat sy “reg” alleen hom sal beskerm in ‘n wêreld van magsbewegings. Gedeeltelik is dit die balans van die grootmagte wat hom ‘n gevaarlike veiligheid gee; maar meer nog is dit sy eie wil tot volk-wees, sy wil om hom tot die uiterste teen ‘n aanval te verset dat dit ‘n groter land nie die moeite sal loon om hom te verower nie.

En onder die klein nasies is die Afrikaanse volk nog weer enig in sy gewaagdheid: teenoor hom staan aan die een kant die tweehonderd miljoen swartes van Afrika en aan die ander kant die Engelse miljoene. Ons sou nie geglo het dat ‘n volk sy identiteit in dié omstandighede kn gehandhaaf het as ons dit nie voor ons oë sien gebeur het nie.

Gewoonlik dink ons nie aan daardie gewaagdheid van ‘n volk se bestaan nie, maar op sekere groot keerpunte word dit as verwarring en twyfel, indien nog nie in sy helder betekenis, aan duisende bewys. Mense en groepe en partye meen dat hulle baie duidelik weet wat hulle vir die volk wil hê en waarheen hulle strewe gaan; maar die groot beweging self wat uit al hierdie stoot en druk en trek ontstaan, gaan ver bokant hulle voort. Die volk loop soos ‘n slaapwandelaar wat langs gevaarlike kranse en skeure gaan, en op elke draai kan hy afstort en vernietig word. Maar hy weet nie van die gevare nie, en dit is alleen wanneer die spoor agterna gesien word, dat mens gewaar hoe hy tussen die afgronde deurgevleg het.”

As mens dit klaar gelees het, is hierdie eenvoudige beeld van die Afrikanerdom as slaapwandelaar een wat mens lank bybly. Tewens die hele stuk oor die Afrikaner se ewige trek gaan daaroor dat sy gang deur die geskiedenis amper onbewustelik en blindelings geskied, iets waarvan mens net die spore agterná kan raaksien. Tydens die oomblik self weet ons nie eens of ons iewers heen op pad is nie. Vir al wat ons weet kan ons binnekort oor die afgrond stort. ‘n Mens sou hierdie siening van Louw in psigoanalitiese terme kon ontleed, in aansluiting by die denke van Freud en veral Jung wat gepraat het van die “kollektiewe onderbewuste”. Die gang van ‘n volk deur die geskiedenis is dus by uitstek nie rasioneel en bewustelik nie, maar eerder irrasioneel, onbewustelik en arbitrêr, ‘n uitvloeisel van die kans.

Telkens kom die geskiedenis en die voortbestaan van dit wat hy “’n klein volk” noem op ‘n mespunt te staan. Dit kan dié kant toe of daardie kant toe gaan. As ons lesers van Nietzsche is, kan ons hierdie oomblike van voortbestaan, aldan nie, afgang aldan nie, sien as die fameuse “werp van die dobbelsteen”. Omdat ons in Afrika woon, en ook omdat een van ons ander digters, Dirk Opperman, dié tema opgeneem het, kan ons dit insgelyks beskryf as die “gooi van die dolosse”. Tot onlangs was die Afrikaner gelukkig genoeg dat hierdie waagspel nog altyd in sy guns verloop het.

Interessant is nou dat Louw drie kritieke oomblikke – die woord wat hy gebruik is “keerpunte” – in ons geskiedenis uitlig: “die Groot Trek, die Tweede Vryheidsoorlog, en, teen die begin van die twintigste eeu, die keuse om Afrikaans in die plek van Nederlands as skryf- en kultuurtaal te aanvaar.”

En weereens lyk die uitkoms van elkeen van hierdie gebeurtenisse wat in in mindere of meerdere mate ‘n sukses was, vir ons terugskouend ‘n gegewe, dog Louw beklemtoon dat dit ook anders kon uitgeloop het. Hoewel die Afrikaners of die Boere die oorlog teen Engeland verloor het, het die blote feit dat hulle bereid was om te veg hul voortbestaan as volk verseker. Indien hulle van meet af aan die handdoek ingegooi het, sou hulle eenvoudig verdwyn het. Soos Louw dit stel, “Vandag kan ons dit insien: as ons nie geveg het nie, sou die Afrikaanse volksgevoel van slapheid en feitlik van skaamte gesterf het, want wie behoort dan graag tot ‘n volk wat sy nek buig as dit nuttig is om nederig te wees? Maar uit die trots van die driejarige stryd teen ‘n wêreldmag is die nuwe Afrikaanse nasionalisme gebore wat nie langer te kere was nie.”

Dit alles klink vir ons baie bekend, maar die werklike insig wat Louw aan ons bied, is dat daar in elkeen van hierdie gevalle, by elkeen van hierdie drie keerpunte, ook ‘n baie goeie argument bestaan het om die teernoorgestelde weg in te slaan, d.w.s. om nie te trek nie, om nie te veg nie, om eerder aan te hou met Nederlands en nie Afrikaans te probeer ontwikkel nie. Historici sou selfs kon sê dat hierdie teenoorgestelde keuse onder die omstandighede na die makliker, meer redelike uitweg, selfs die strategie met ‘n groter kans om te slaag, gelyk het.

Indien N.P. van Wyk Louw vandag gelewe het, ly dit by my geen twyfel dat hy die huidige tydvak as ‘n vierde keerpunt in die Afrikanergeskiedenis sou geïdentifiseer het nie. Weereens verkeer die voortbestaan van die Afrikaner op ‘n mespunt, weereens is ons in die dobbelsaal waar die swart-en-wit steentjie gerol gaan word op die groen vilt van die dobbeltafel, nogeens hurk ons om die kampvuur waar die dolosse uit die sakkie gaan tuimel om ons toekoms te bepaal.

Hierdie keer is die keuse nie soseer om te trek nie, hoewel vele Afrikaners natuurlik wegtrek na ander lande toe, nòg is dit ‘n eenvoudige alternatief om die wapen op te neem of nie. Miskien is die taalkeuse vandag soortgelyk aan die verlede, want hoewel Afrikaans volledig ontwikkel is, is daar weereens mense, waaronder baie Afrikaners, wat vandag opstaan om te beweer dat dit nie die moeite werd is om aan te hou met die groot werk en inspanning van ‘n eie taal nie, dat ons uiteindelik ná twee eeue tog maar moet besgee en Engels as ons taal moet aanvaar. Baie Afrikaners, veral uit die meer gegoede stand het reeds so ‘n besluit geneem en verengels doelbewus hul kinders.

Maar die groot dilemma wat vandag aan ons opgedring word, is of die Afrikanerdom as sodanig moet bly voortbestaan, met al die implikasies van langdurige stryd om erkenning wat dit impliseer en of ons nie maar liewer moet deel word van die Suid-Afrikaanse nasie-in-wording wat die makliker alternatief sou wees nie.

In hierdie opsig het niks in ons geskiedenis einlik verander nie. Die twee vyande wat deur Louw geïdentifiseer is, en kom ons noem hulle liewer nie vyande nie want ons woon saam in dieselfde land, eerder die twee mededingers van die Afrikaner, het dieselfde gebly: dit is die Engelse en die swartmense van Afrika.

Die Engelse kon ons op die duur nie onderkry nie, maar vanweë hul ongekende getallegroei het die swakker mededinger uit die verlede vandag ons vernaamste teenstander geword. Die swart nasionalisme of Afrika-nasionalisme het hom beslis ten doel gestel om nie net vir altyd oor Afrikaners te heers nie, maar om ook die hele gedagte van ‘n aparte volk by daardie naam wat voorheen in die land sou bestaan het, te laat verdwyn. In sommige opsigte sluit die swart denke van vandag sterk aan by die Engelse denke van weleer, en is die twee dikwels met mekaar verstrengel.

 

Andersyds is dit egter ‘n heel nuwe situasie wat hom aan ons opdring, en is dit oënskynlik neteliger as enige van die drie vorige keerpunte in die Afrikanergeskiedenis. Daar is sekerlik vandag baie Afrikaners wat reeds die handdoek ingegooi het in die geloof dat die oormag eenvoudig net te groot is en dat ons ons moet berus in wat die huidige bewind ook al aan ons voorskryf, of dit nou Engelse klasse aan ons universiteite is of, soos nou pas aangekondig is, toestemming van die staat om op ‘n gegewe plek as dokter te mag praktiseer in navolging van die Kubaanse model.

Vandag tel sekerlik onder die moeilikste tye nog ooit om ‘n Afrikaner te wees. Party dae voel dit asof dit nie iets is wat mens hardop in die openbaar mag sê nie, sonder om dadelik te kwalifiseer, “én ek is nog ‘n beter Suid-Afrikaner ook”. Die waagspel en die waagstuk daarvan is waarskynlik groter as vantevore.

Maar die uiteindelike vraag is, soos met die meeste dinge in die lewe, is: het ons vandag nog die waagmoed om met die Afrikanerprojek aan te gaan?

 

 

Boontoe