chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

MT Steyn: Die grootste van die Bittereinders

Sydney Gregan

Marthinus Theunis Steyn is op 2 Oktober 1857 op die plaas Rietfontein net buite Winburg in die Vrystaat gebore. Hy was een van elf kinders waarvan agt oorleef het. Op die ouderdom van 5 maande moes hy saam met sy moeder skuiling soek in 'n vrouelaer aan die Vetrivier tydens die Eerste Sotho-Oorlog. Hy word op 'n plaas groot en ontvang sy eerste opvoeding op 'n plaasskooltjie waarna hy sy latere opleiding aan die Bloemfonteinse kweekskool (later bekend as Grey Kollege) ondergaan. Hy voltooi sy hoërskoolopleiding aan die gimnasium in Deventer in Nederland en studeer sedert 1880 by die Inner Temple in Londen, Engeland, in die regte. By sy terugkeer na Suid-Afrika praktiseer hy as advokaat. Hy behaal onder andere bekendheid deurdat hy die Vrystaatse perdedief Jakobus Swarts met sukses verdedig, vir laasgenoemde om sy skouspelagtige loopbaan voort te sit.

Hy begin ook aktief in die politiek belangstel en is aanvanklik 'n groot ondersteuner van President Brand. Op 10 Maart 1887 is hy met Tibbie Fraser getroud. Hulle huwelik sou gekenmerk word deur liefde en trou, asook 'n besondere geloof. Hulle bid vir mekaar en vir hulle land. Sy bid vir hom, selfs elke dag na sy dood.

Hy word strafregter en in 1892 eerste strafregter in die Oranje Vrystaat. In 1895 stel hy hom beskikbaar as president in die presidentsverkiesing van die Oranje Vrystaat en word hy met 'n oorweldigende meerderheid verkies op die ouderdom van 38 jaar. Onder sy presidentskap is 'n doelbewus Suid-Afrikaanse en Afrikaanse beleid nagestreef en het hy algou die gewildste president geword wat die Vrystaat opgelewer het. Wanneer die Transvaalse Republiek hom aanpor tot oorlog, lê hy geduld aan die dag, 'n daad wat aanvanklik as vertwyfeling gesien is. Hy toon in hierdie tyd 'n insig wat eers later sou blyk. Tydens wat die laaste sitting van die Vrystaatse Volksraad sou wees in 1899, stel hy dat "ná dae van nadenke en nagte van gebed hy alles gedoen het wat hy kon om die vrede en die eer te handhaaf, maar dat hy liewer die onafhanklikheid van die Oranje Vrystaat met eer verloor as om dit te behou met oneer of ontrou." Só tree die Vrystaat as gevolg van sy leiding tot die Engelse Oorlog toe.

Pas nadat die oorlog uitgebreek het, het twee burgers hom genader en wou hulle by hom weet of, indien hulle sou sneuwel, die onafhanklikheid nie sonder meer prysgegee sou word nie. Steyn het hulle beloof dat hy nie sy hand op papier sal sit waardeur die onafhanklikheid vernietig sou word nie. Albei die persone het pas daarna by Magersfontein die lewe gelaat, maar Steyn sou sy belofte hou.

Algou moes Steyn, hy wat tot op die laaste gepoog het om oorlog te vermy, beleef hoe daar moedeloosheid en verslaendheid in Transvaal was en moet hy hulle skerp aanspreek en beskou hy hulle as lafaards. Die Transvaalse Staatsprokureur van daardie tyd, Jan Smuts, het gestel dat Steyn se optrede twee verdere jare van oorlog beteken het sowel as die vernietiging van beide republieke, verlies aan lewe en goed wat dit, wat reeds verlore was, in die vergetelheid laat verdwyn het.

Smuts het darem bygevoeg dat dit egter beteken het dat elkeen wat hierdie stryd oorleef het en elke kind wat gebore sou word in Suid-Afrika 'n groter selfrespek en selftrots sou hê voor die nasies van die wêreld. Steyn het in hierdie tyd gesê dat daar gesorg moet word dat die nageslag van hulle sal praat as helde en patriotte en nie as lafaards wat hulle erfdeel sonder worsteling aan die vyand oorgegee het nie. Op 14 Julie 1900, met die aanbreek van die guerillafase, toe hy afskeid neem van sy vrou, bemoedig sy hom met die woorde dat sy en die kinders wel klaar sal kom en daar nie aan hulle gedink moet word nie. Sy het verklaar dat hulle met haar en hom kan maak wat hulle wil, maar dat hy tot die bitter einde moet volhou. Op 'n vraag van 'n Britse bevelvoerder aan haar wanneer die oorlog sal ophou het sy aan hom gesê dat sy verwag en hoop dat dit sal ophou wanneer die laaste koeël geskiet is.

Na die Slag van Dalmanutha het Generaal Louis Botha gemeen dat dit 'n skone geleentheid is om vrede te sluit maar weens Steyn se verset het daar niks van gekom nie. Wanneer Steyn hom in Oktober 1900 aansluit by Generaal De Wet ontstaan 'n nuwe gees van weerstand en verset. Die stryd het 'n skerpheid aangeneem wat gedurende die eerste maande van die oorlog nie aanwesig was nie. Gedurende die maande van rondswerf en vlug het Steyn se ampstermyn as president verstryk en het hy op 'n nuwe presidentsverkiesing aangedring waarna hy op 25 Januarie 2001 weer beëdig is met 'n nuwe mandaat van sy burgers en kon hy sy weerstand met hernude krag en oortuiging voorsit.

'n Engelse skrywer het later, toe die hele Vrystaatse regering behalwe die president gevange geneem is en Steyn ook al sy persoonlike besittings verloor het, gesê dat Steyn se voortsetting van die stryd net verklaar kon word weens sy intense haat vir die Britse invallers en sy vaste vertroue in die eventuele oorwinning van sy saak. Die handjievol bittereinders wat saam met die president uitgehou het, het al hoe kleiner geword, maar onder hulle was daar mense wie se lewens tot aan die einde met syne verweef sou bly en in baie gevalle ook met die verdere lotgevalle van Suid-Afrika. Een van hulle was Christiaan de Wet. 'n Ander was JBM Hertzog. Alhoewel De Wet ouer was as Steyn, het De Wet die respek wat 'n kind vir 'n vader het, vir Steyn gehad.

Telkens wanneer mense hom wou oorreed om die stryd te staak het Steyn hulle tot orde geroep. So het hy gestel dat dit beter is om 'n verwoesde land te hê as geen land nie. Bewus van die beproewings van vroue en kinders en die hoë sterftesyfer in kampe, meen hy dat daar nie aan die vroue en kinders gedink kan word nie, maar aan die stryd om onafhanklikheid. Hy het verklaar dat hierdie leiding maar van korte duur is in vergelyking met dit wat hulleself, hulle kinders en hulle kindskinders sal moet verduur as knegte van hulle vyand. Vir vele was Steyn 'n fanatikus wat teen alle gesonde verstand aan 'n onmoontlike beginsel bly vasklou het. Dié wat hom geken het, het geweet dat dit gepaard gegaan het met 'n toenemende trou, begeestering en liefde, en elkeen wat met hom te doen gehad het, het agting vir hom gehad en hom ten volle vertrou. In alle druk was hy stil en tevrede en het hy vir sy volk gely. Steyn is nooit moedeloos gesien nie en het op die toppunt van die hoogste moed geleef en was sy optimisme vir almal 'n geweldige inspirasie. Hy was die siel van die oorlog volgens Louis Botha en volgens die Ier Michael David, die mees formidabele van die vyande waarmee Engeland te doen gehad het. Hy het somtyds tussen 16 en 24 uur in die saal moes deurbring sonder kans om te eet of te slaap wat afmatting tot gevolg gehad het en uiteindelik het die ontberinge dan ook 'n siektetoestand wat later tot 'n algehele verlamming gelei het, tot gevolg gehad.

By die aanvanklike vredesamesprekings wys hy weer daarop dat die volk hulle selfrespek moet behou. Hy is teen oorgawe gekant. Hy bedank op 29 Mei 1902 as Staatspresident omdat hy van mening was dat hy as siek en bykans hulpelose mens, nie besluite namens sy volk kon neem nie. Hy moes toesien hoe vrede gesluit word. Toe hy daarvan hoor het hy die vredesluiters as vrotterds uitgeskel wat hulle volk vir 3 miljoen pond verkoop het. Jare later sou hy die vredesluitings steeds as 'n ondraaglike nagmerrie beskou wat hy nie kon afskud nie. Ná die vredesluiting en met gesondheid wat erg geknak is kon Steyn nie meer die rol vervul wat hy voor en tydens die oorlog vervul het nie. Hy het egter nooit 'n geleentheid laat verbygaan om sy volk moed in te praat nie. So sterf MT Steyn dan ook in die teenwoordigheid van sy volk terwyl hy 'n toespraak voor vroue in Bloemfontein hou. Hierdie groot Bittereinder word by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

By die naam van MT Steyn kan ons vandag ander name voeg. Soos adv Strijdom en dr Verwoerd. Maar vir ons vandag in ons omstandighede is MT Steyn dié verpersoonliking van Bittereinderskap en dié voorbeeld om in hierdie tye na te streef.

Wat leer ons uit die voorbeeld van MT Steyn? Ons leer van 'n man wat ingelig was oor die wese van sy volk; wat goed onderlê was in die politiek; wat geduldig was as ander rondom hom gedreig het met oorlogspraatjies, maar wat, toe die uur van waarheid aangebreek het, nie teruggedeins het nie. Ons leer van 'n persoon wat nie afsydig staan teenoor sy volk nie en geveg het vir die eer van sy volk; van 'n persoon wat nie bereid is om in oneer vrede te handhaaf nie maar te veg vir die selfrespek van sy volk. Dit was 'n man wat die saak van sy volk aan God opgedra het; wat nie die vyand terwille was nie; wat bereid was om met die vyand te praat en te onderhandel oor net een saak - dat die reg van sy volk op sy land erken en herstel word. Hy was 'n man wat nie moed verloor het te midde van die ergste wat hyself en sy volk deurgemaak het nie en as leier uitgetroon het en sy volksgenote aangespreek het oor hulle laksheid; wat as leier die leiding neem. Sy eie optrede stel telkens die hoë voorbeeld om na te streef.

MT Steyn wys die vyand deurentyd op die laster wat hulle teen sy volk pleeg en die onreg wat sy volk aangedoen word; hy weier om te berus in die onreg en weier om te erken dat sy volk verslaan is. Hy weier om te erken dat sy volk nie meer 'n land van hulle eie het nie al swerf hulle al vlugtende in die veld rond. Hy roep volksgenote tot orde as hulle die stryd wil laat vaar en as ander kla oor vroue en kinders se ontbering, wys hy hulle op die groter saak van volk en vaderland. Vir hom is sy volk se reg op selfverdediging die heiligste reg van sy volk. Hy plaas sy gesondheid op die spel en trotseer 'n doodse siekte terwille van sy volk. Hy lê die hoogste moed en die hoogste trou aan die dag en het die onwrikbare geloof wat 'n volk van sy leiers verwag in tye van beproewing.

MT Steyn se lewe is aanduidend daarvan dat daar vir die Afrikaner-bittereinder geen eindstreep is nie; al word die geledere kleiner. Ons moet besef dat veel groter eise nog aan ons gestel sal word. Ons sal deur vername mense afgeraai word om die stryd voort te sit. Ons sal familie agterlaat op hierdie pad. Daar sal die Jan Smutse wees wat vertel van die ontbering wat ons keuse vir ons gesinne en ons volk sal inhou. Daar sal die Louis Botha's wees wat wil praat van vrede sluit. Daar sal diegene wees wat sê ons is idiote.

As ons dan vandag wonder oor die rol wat ons te speel het in die toekoms van ons volk, het ons die bykans bomenslike voorbeeld van MT Steyn. MT Steyn is die verpersoonliking van Afrikanerskap omdat hy onwrikbaar geglo het in die God-gewilde bestemming van sy volk in hierdie land. Hy glo dat daar na daardie bestemming graadsgewys beweeg sal word deur inspanning, opoffering en toewyding. Aan hierdie drie begrippe gee hy volkome inhoud. Dit was die kenmerk van onverdunde nasionalisme, van besielende Afrikanerskap.

En terwyl ons weet dat ons tekort skiet, laat ons weer krag en inspirasie put uit die voorbeeld van hulle wat ons vooruitgegaan het. Want die pad van Afrikanernasionalisme het gedurende die leeftyd van die enkeling geen eindstreep nie. Ons sien nie 'n kis voor ons nie, maar die wiegie van hulle aan wie ons 'n erfdeel moet nalaat.

Bittereinderskap is niks anders nie as die uitlewing van Afrikanernasionalisme. Elke leier en elke organisasie moet homself vandag afvra of hy die pad van Afrikanernasionalisme in sy onverdunde vorm, soos wat dit uitgeleef is deur MT Steyn, bewandel. En wanneer die golwe oor ons aanspoel en die eise van Afrikanerskap dalk vir ons te swaar word, moet ons weer krag put uit die voorbeeld van MT Steyn. En ons sal skaam word oor dit wat ons dink ons opgeoffer het op hierdie pad.

Gaan hang dan vandag nog 'n foto van MT Steyn teen u muur en vertel nog vanaand vir u kinders van hierdie republikein en volksheld. Maar meer nog: Laat MT Steyn vir elkeen van ons die inspirasie en die voorbeeld wees van hoe 'n Bittereinder in hierdie tyd moet leef.

Boontoe