|
|
||||
| chronologie
|
Is die Afrikaner 'n volk of 'n minderheidsgroep? Sydney Gregan Daar bestaan vandag 'n tendens onder sekere Afrikaners om die Afrikaner as 'n minderheidsgroep eerder as 'n volk te beskou. Trouens, daar is selfs diegene wat die Afrikaner as 'n volk sien, dog steeds praat van die aanspraak van die regte van minderhede wat die Afrikaner as volk sou hê. Soos hierin aangetoon sal word, is dit uiters belangrik of die Afrikaner homself as minderheid, of as volk beskou. Hierdie beskouing sal uiteindelik die Afrikaner se lot in hierdie land bepaal. Die aansprake van die Afrikaner op sekere regte sal eweneens bepaal word wanneer die status van die Afrikaner vasgestel word. Is die Afrikaner 'n minderheid, of is dit 'n inheemse groep of 'n volk? Die woord "volk" het sy ekwivalent in die Internasionale Reg as "people" wat in terme van die Internasionale konvensie oor ekonomiese, sosiale en kulturele regte geregtig is op selfbeskikking soos gestel in die eerste artikel: 1. All peoples have the right of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development. Die woord "nation" beklee 'n nog belangriker posisie (vergelyk byvoorbeeld "American nation"), maar word dikwels as sinoniem met die bevolking van die land beskou, terwyl dit aanvanklik eerder aanduidend was van die homogeniteit van die bevolking van 'n staat, eerder as die bevolking as geheel. Volk wat nasie geword het (soos byvoorbeeld "Palestinian nation"), verhef jou inderdaad tot internasionale rolspeler, met of sonder 'n staat. Politieke terrein Die woord "minderheid" is, gesien uit 'n politieke oogpunt, problematies. Dit is gevaarlik vir 'n volk om homself as 'n minderheid te sien. Die rede daarvoor is dat volke hulleself baie meer regte toeeïn as wat die geval is met minderhede. Volke se aansprake strek dus verder en sluit dikwels aansprake op 'n grondgebied in. Sulke regte is dan ook meestal veranker in 'n historiese basis. Sou 'n volk hom egter as 'n minderheid beskou, beteken dit noodwendig dat hy erken dat hy 'n mindere aanspraak het as die "meerderheid" en dat hy sy ondergeskikte posisie aanvaar in 'n staat en homself nie wil gelykstel of wil meeding met die regering van die dag (die meerderheid) of met ander volke nie. Hy wil slegs sekere mindere regte hê. Dit impliseer verder dat daar nie aanspraak op byvoorbeeld grondgebied en staatskap sal wees nie. Selfs inheemse groepe het veel meer aansprake op regte binne 'n staat as gewone minderhede. Die Afrikanervolk het tot baie onlangs toe boonop die politieke mag in hierdie land gehad. Daarom is daar skerp meningsverskil in politieke geledere oor die vraag of die Afrikanervolk hom enigsins as 'n minderheid moet beskou. 'n Minderheid kan nouliks aanspraak maak op grondgebied binne 'n bepaalde staat - want dan matig hy hom immers regte aan wat nie normaalweg deur minderhede opgeeïs word nie, maar eerder deur 'n groep of volk wat wil wedywer met die "moedertstaat" om staatskap; ook in die vorm van sesessie (afskeiding). Net die toekoms sal leer wat die Afrikaner van sy status en gevolglik sy "regte" sal maak in hierdie nuwe bedeling. Sekere regte, bekend as minderheidsregte, word hom minstens op papier gegun. Minderheidsregte is, vanuit die hoek van die Internasionale Reg gesien, 'n netelige kwessie. Nie alleen die Verenigde Nasies nie, maar ook die state op die wêreldtoneel, is huiwerig om hierdie regte te erken en uit te brei. Reg op selfbeskikking Die reg op selfbeskikking van volkere is wel stewig gevestig in die Internasionale Reg. Dit is ook 'n begrip wat oor die loop van baie jare groot byval by Afrikaners gevind het. Generaal Hertzog was die eerste Afrikaner wat spesifiek na die begrip verwys het. Die Verenigde Nasies is tans nie in staat, alternatiewelik nie begerig, en selfs onwillig, om in elke individuele geval van 'n beweerde skending van die reg op selfbeskikking op te tree nie. Daar word steeds (in sommige gevalle) geskuil agter die soewereiniteit van state as die rede vir nie-optrede. In Kosowo (in Joegoeslawië) egter, is 'n presedent geskep wat waarskynlik die deur geopen het om in die toekoms wel teen state op te tree en selfs die territoriale integriteit van state te skend indien tot die redding van minderhede gekom wil word. In Afrika word gereeld kennis geneem van onreëlmatighede in verkiesings. Ook die skending van menseregte is deurentyd in Afrika aan die orde van die dag. Die Verenigde Nasies was egter huiwerig om in Afrika op te tree, waarskynlik ook vanweë die druk in die Verenigde Nasies van Afrikalande en hulle Kommunistiese bondgenote, wat optrede verhoed het. Dikwels wil dit voorkom dat indien 'n (minderheids-) groep nie na vore tree om sy (onderdrukkende) situasie internasionaal bekend te maak nie, die internasionale gemeenskap die situasie bloot sien as 'n skending van indiwiduele regte, en nie as 'n skending van die regte van 'n (minderheids-) groep nie. Daarby is die Afrikaner maar te bewus van die feit dat die internasionale reg (soos geskep deur die Verenigde Nasies) die Afrikaner uiters vyandiggesind was. Daar is selfs sover gegaan om die beleid wat selfbeskikking ten doel gehad het, naamlik apartheid, as misdadig te beskou! Die Afrikaner sal gevolglik nie enige steun kan verwag uit die buiteland om sy regte in hierdie land af te dwing nie. Definisie van minderheid 'n Minderheidsgroep kan gedefinieer word as 'n groep waarvan die getalle minder is as die res van die bevolking van die staat, wat in 'n ondergeskikte posisie verkeer, en wie se lede - alhoewel burgers van daardie staat - etniese, religieuse en taaleienskappe het wat verskil van die res van die bevolking. Hierdie groep moet ook solidariteit met mekaar betoon wat gerig is op die behoud en bevordering van hulle eie kultuur, tradisies, taal en godsdiens. Die Saami's van Letland is 'n minderheid wat gesteld is op hulle kollektiewe regte. Ook die Afrikaner voldoen aan die definisie van minderhede. As groep wat in 'n getalle-minderheid is, en indien geskiedkundige faktore buite rekening gelaat word, het die Afrikaner verskeie regte wat aan minderhede toekom. In hierdie verband kan aan al die regte wat deur die handves (Hoofstuk 2) in die Grondwet geskep is, gedink word. Maar hierdie regte word beskou as die regte wat aan indiwidue toekom en daar word nie aan groepe gedink nie. Kollektiewe regte impliseer dat die Afrikaner homself moet organiseer, kultureel en/of polities, om op meerdere regte aanspraak te maak soos wat die Franssprekendes in Québec gedoen het. In hierdie verband is artikels 18 (vryheid van assosiasie) en 31 (kulturele regte) van belang. Dit is te bevraagteken of die Afrikaner, gegewe sy geskiedkundige agtergrond, ooit oor dieselfde kam as die Saami's geskeer kan (of wil) word. Ons kan ons nooit oor dieselfde boeg gooi as die Duitse of Portugese minderhede in Suid-Afrika nie. Dit maak 'n bespotting van die werklikheid van ons bestaan en van die waarheid van ons geskiedenis. Wat wil ons wees? Die vraag is ook: Sal ons daarmee tevrede wees om minderheidsregte te hê? Wil ons as volk (of dan as nasionale minderheid) maar net die reg hê om ons taal te praat, ons eie verenigings te bedryf en êrens staanplek in 'n raad te hê? Sal dit ons reg en aanspraak op selfbeskikking bevredig? En kan dit nie gesê word dat ons hierdie regte in elk geval (op papier minstens) reeds het nie? Die voortdurende herbeklemtoning van ons volk se aansprake en regte is belangrik. Maar indien ons onsself as 'n minderheid beskou wat op mindere regte wil aanspraak maak, sal dit myns insiens min belangstelling gaande maak in Afrikanergeledere, wat nog te sê in die buiteland. Indien "vry en regverdige" verkiesings gehou word in 'n staat, wat dit ook al beteken, is die buiteland huiwerig om enigsins op te tree indien geluide oor skendings van minderhede se regte gemaak word. As misdaad en onderdrukking wat die omvang van 'n volksmoord aanneem nie eers die gewenste uitwerking het om die wêreld se aandag op die Afrikaner te vestig en simpatie vir die Afrikaner se saak wek nie, waarom sou die miskenning van taalregte dit doen? Om laasgemelde en ander redes moet die Afrikaner homself slegs as 'n tydelike getalleminderheid in hierdie land beskou en sy aansprake op meerdere regte deurgaans nie uit die oë verloor nie. Anders kan ons ewe goed (en beter!) op minderheidsregte aanspraak maak in Australië of in Engeland - waar daardie meerderheid in elk geval meer ontvanklik sal wees daarvoor. Historiese eise Dit gaan egter om meer as net 'n beskouing. Dit gaan oor 'n historiese reg wat die Afrikaner het op ten minste 'n deel van die grondgebied van hierdie land. Die Afrikaner het hierdie land in besit geneem en verkry deur al die internasionaal-erkende beginsels van die volkereg. Soos dr Verwoerd dit gestel het, het die "Witman 'n ontwyfelbare belang in en reg op hierdie land en is dit volgens alle sedelike beginsels syne". Hierdie land is deur geldige (ruil-)ooreenkomste in besit geneem, geokkupeer en geannekseer. Hierdie land is van niemand gesteel nie en wat merkwaardig is, is dat alhoewel anneksasie (deur verowering) 'n geldige wyse was waarop Afrikaners hierdie land kon verkry, is daar, anders as wat die geval met baie ander state in die wêreld was, slegs in uitsonderlike omstandighede, naamlik wanneer Swart volke die aggressor was, in reaksie op sodanige aggressie, tot anneksasie deur verowering oorgegaan. Dit is eweneens bewys van die Afrikaner se bedoeling om in vrede met (en naas) ander volke hier saam te leef. Die Blankes, met die Afrikaner aan die voorpunt, het hulle soewereiniteit oor hierdie land gevestig. Die volk het deur middel van sy grond hier nasie geword. Daarom, die aanspraak op sy grondgebied is die grootste aanspraak wat ons as volk kan hê en dit is boonop die wortels wat ons hier sal hou. Indien daardie reg in die sand verdwyn, sal die rasioneel vir aanspraak vir enige regte, ook minderheidsregte algaande minder word, juis omdat die omgewing dan nie meer die aantrekking het wat dit gehad het uit 'n historiese oogpunt nie. As hierdie land nie ons land is nie, wie se land is dit dan? Wie, behalwe die Afrikaner was bereid om te veg vir hierdie land toe dit van ons afgeneem wou word? En as dit nie ons land is nie, het ons as volk dan nooit 'n land gehad nie? Waarvoor het ons dan geveg anders as om ons land te behou? Ons moet nie na die strooihalms van minderheidsregte gryp net omdat mense, wat geen erg het aan die Afrikaner se bestaan, ons anders wil wysmaak nie. Indien ons met minder tevrede wil wees, moet ons nie verbaas wees as ons nog minder het om uiteindelik aan ons volk te wys nie! Toe aan die Franse in Québec gevra is hoekom hulle 'n eie staat wil hê om hulle taal te beskerm, was hulle antwoord, dat hulle nie 'n minderheid in Kanada wil wees nie, maar 'n meerderheid in Québec! Ons moet nooit afstand doen van die historiese reg wat ons verwerf het nie. Die aanslag op ons geskiedenis as sou dit ons tot oneer strek, is 'n poging om ons historiese eise te laat vaar en ons volksgeheue uit te wis. Dit sal nie alleen die band met ons verlede breek nie, maar 'n streep trek deur ons bestaansrede in hierdie land. Dit sal ook tot gevolg hê dat die legimiteit van ons reg verlore sal gaan en die illegimiteit van die huidige regering, ipso facto sal ophou. Juis omdat ons 'n volk is wat wettig hier aan bewind was en die huidige regering as onwettig beskou, maak ons aanspraak op hierdie land as ons land. Wil en vermoë Uiteindelik hang die aanspraak van die Afrikaner op regte, hetsy dit as volk of minderheid is, af van die wil en die vermoë van die Afrikaner om wel aanspraak te maak op daardie regte. Soos NP van Wyk Louw opgemerk het is ons toekoms nie veilig op onbreekbare tafels geskrywe nie, maar moet dit daagliks deur die wil van tallose enkelinge (die volk) herskryf word. Die Afrikaner voldoen aan elke definisie wat die Internasionale Reg mag bied vir 'n inheemse groep en 'n minderheid. Ons was (en is) meer as dit - ons was 'n nasie wat aanspraak kon maak op selfbeskikking. Ons volk se grondgebied was trouens ook erken as staat, wat die volle verwesenliking van selfbeskikking beteken het. Om nou van die Afrikaner te verwag om homself as 'n minderheid te beskou, is te dik vir 'n daalder. NP van Wyk Louw het gesê: [M]ens moet baie naïef wees as jy vandag nog meen dat die eenvoudige beroep op die reg 'n groot menslike krisis of die krisis van 'n volk (of minderheid) kan oplos. Eintlik is die keuse van 'n besondere regsbeginsel in 'n besondere situasie eerder 'n soort "rasionalisasie" van 'n keuse wat reeds op ander gronde gedoen is. Ons rasionalisasie vir ons bestaan lê daarin dat ons nie 'n minderheid is nie, maar 'n grootheid - 'n volk wat aanspraak maak op die volle verwesenliking van sy reg op selfbeskikking as volk om weer hierdie land te regeer en as nasie erken te word. Ons het hierdie land in pag ontvang as erfgoed wat aan ons kinders behoort. Ons het daarom net die vruggebruik daarvan. Ons voorouers het hierdie land aan die verwoesting ontworstel, dog ons het toegelaat dat dit deur bedrog en verraad van ons gesteel is. Nou het ons die eervolle plig om ons erfgoed weer in besit te neem. As minderheid sal ons skaars die wil hê daarvoor; as volk sal ons die moed en die trou aan die dag lê om dit te verwesenlik. |