|
|
||||
| chronologie
|
Soos die Sand van die See Buks
van Rensburg In 'n artikel wat ongeveer twee jaar gelede gepubliseer is, ondersoek Daniel Pipes die vraag "How many American Muslims?" [1]. Daniel Pipes is bekend in Noord Amerika vir sy kontroversiële verdediging van die staat Israel, en dit is betekenisvol dat hy die demografie van Moslems in die Verenigde State as belangrik beskou. Mnr. Pipes verwys dan na twee studies wat die getal Moslems so om en by twee miljoen plaas. Maar die belangrike punt, volgens Mnr. Pipes, is dat Moslem organisasies beweer dat daar sowat agt miljoen Moslems in die Verenigde State is. In sy opstel skryf Mnr. Pipes glad nie oor 11 September 2001 nie, en sy doel is nie om die aantal Moslems met die gebeure in New York en Washington te koppel nie. Nee, in sy eie woorde stel hy dit so: "[the inflated number] offers enhanced access and clout [in American political institutions]". Terwyl Mnr. Pipes dit nie eksplisiet stel nie, is die implikasies van sy argument duidelik: Getalle maak saak, en maak sommer baie saak. Jode in Noord Amerika (en elders) is deesdae doodbenoud oor die toekoms van Israel as 'n Joodse staat. Eerstens het migrasie patrone sedert 1980 sodanig verander dat Moslems beduidende persentasies van die bevolkings van Westerse lande begin vorm. Die groter getalle Moslems begin die buitelandse beleid van die Westerse moonthede beïnvloed, veral met betrekking tot die Israelse kwessie. Tweedens is daar die demografiese verandering in Israel. In dié opsig is die bevolkingsprojeksies, om die minste te sê, merkwaardig. Die huidige bevolkingsaanwas in Israel en nabye omgewing sal die Palestynse bevolking in Israel, in die Westelike Oewer van die Jordaan, en in Gaza, laat groei van 4.2 miljoen in 2001, tot omtrent 9 miljoen in 2025 en tot 'n geprojekteerde 15 miljoen in 2050 [2]. Die Joodse bevolking sal groei van ongeveer 6 miljoen to miskien 7 of 8 miljoen. Boonop sal die Palestynse bevolking in 2025 'n jong dinamiese profiel besit, terwyl die Joodse profiel 'n ouere bevolking met minder kinders en meer bejaardes sal wees. Met ander woorde, hoe langer 'n vreedsame oplossing in die Israelse kwessie verhoed word, hoe waarskynliker word dit dat die Palestyne oor die Joodse Israel sal seëvier. Beide Yitzhak Rabin en Ehud Barak het besef dat dié demografiese feite in die lang termyn die belangrikste van politieke faktore is, en daarom het hulle so hard probeer om 'n Palestynse staat te vestig om sodoende die Palestynse kwessie op te los. In wese is die proposisie om 'n tuisland vir Palestyne te stig en daardeur die sekuriteit van Israel as 'n Joodse staat te vestig. Demografiese veranderinge, veral in Moslem bevolkings, is ook besig om ander lande te verander. Daar is deesdae tekens dat sommige Westerse lande probeer om die immigrasie van Moslems te verminder. Die Pim Fortuin-verskynsel (en sy moord) in Nederland is 'n voorbeeld hiervan. In Frankryk is sowat 10% van die bevolking na raming Moslem (vergelyk dit met die hoeveelheid Afrikaners in Suid Afrika). Dié land het onlangs wetgewing aanvaar wat onder andere die hijab en burka in sekere plekke (onder andere in skole) verbied (beide die hijab en die burka is hoofbedekkings wat baie Moslemvroue dra - die burka bedek ook die gesig). Dié is 'n drakoniese maatreël en ek voel persoonlik dat dit ten sterkste afgekeur behoort te word. Terwyl Christelike kruise ook onder andere deur die wetgewing verbied word, is dit tog duidelik dat die maatreël teen Moslem kultuur in Frankryk gemik is. Dit is moeilik vir my om 'n gevoel van schadenfreude te onderdruk omdat die Franse, wat so sediglik aan Afrikaners oor rasisme en onverdraagsaamheid in die 1970s and 80s gepreek het, nou hulle eie onverdraagsaamheid ten toon moet stel. In 'n verdere gevolg van die gebeure in die Verenigde State op 11 September 2001 word die rasseprofiel van 'n individu (veral Palestyne en Arabiere) nou skaamteloos in die Weste gebruik om persone te merk as moontlike sekuriteitrisikos. Dié metode is in die verlede ten sterkste afgekeur in Westerse lande. In die algemeen ondervind Moslems, en veral jong Moslem mans, nou dat hulle byvoorbeeld baie deur immigrasie en doeane amptenare van Westerse lande dopgehou en ondervra word as hulle durf internasionaal reis. Daar is deesdae 'n onverdraagsaamheid jeens Moslems in die Weste, en nie net in Frankryk nie, en dit word nie eers ontken nie. Dit is ook duidelike dat Moslems, die Weste en Israel na die Midde Ooste op verskeie manier kyk. Moslems sien Westerse militêre avonture in Irak en Afghanistan as 'n manisfestasie van 'n moderne kruistog. Die tradisionele steun vir Israel vanuit Westerse hoofstede word deur baie Moslems gesien as neokolonialisme en rassisme. Olie, die Westerse idee dat Israel die Christelike Heilige Land is, en die voortbestaan van 'n Joodse staat vir Jode wat konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, maak die Midde Ooste 'n komplekse omgewing vir Westerlinge, en dit is nie duidelike hoe alles opgelos sal word nie. Isreal beskou alles deur 'n bril gekleurd met selfoorlewing. As Westerse politici Moslems voorheen as onbelangrik of oninteressant beskou het, dan het Osama bin Laden dit alles op 11 September 2001 verander. Geskiedkundiges sal Osama bin Laden se beplanning van 11 Septermber 2001 as 'n merkwaardige en historiese prestasie beskou (nie noodwendig in 'n positiewe lig nie). Die gevolge van die daad is legio, en Israel, Irak, Iran, Afghanistan, Pakistan, en die Arabiese en Moslem wêreld het nou die volle aandag van Westerlinge, en dit gaan nie vinnig verander nie. Vinnige groei van bevolkings in die lande en die verspreiding van Moslems in veral Europa gaan die belangrikheid van die lande in veral die Wester nog verder vermeerder. Demografie is die swaartekrag van geskiedenis, het David Foot [3] op 'n slag geskryf. Meer nog, het hy gesê, twee derdes van geskiedenis word veroorsaak deur demografiese tendensies; die laaste derde is die gevolg van tegniese en kulturele verwikkelinge. Die studie van ekologie ondersteun David Foot se beskouing. Sedert Charles Darwin besef bioloë dat oorlewing, voortplanting en vermenigvuldiging die mees belangrike eienskap van enige spesie is. Die wêreld lyk vandag soos hy lyk omdat die teenswoordige spesies se voorsate suksesvol vermenigvuldig het. Spesies wat nie genoeg nasate gelewer het nie, het uitgesterf, en kan dalk nou net in 'n museum bestaan, of net glad nie meer wees nie. Dit is 'n onsimpatieke proses, die waardelikheid of aantreklikheid van 'n gegewe spesie speel geen rol nie - al wat saakmaak is suksesvolle oorlewing en vermenigvuldiging, en somtyds is selfs dit nie voldoende nie. Geluk speel ook 'n rol, soos die dinosourusse 65 miljoen jaar gelede uitgevind het. Hulle was goed aangepas en suksesvol, maar as 'n komeet op jou val, dan is geluk nie aan jou kant nie. Ómdat elke individuele dier en plant eindelik sterf, is die doel van voortplanting die vervanging van ouers deur kinders. As 'n spesie minder kinders as ouers het, dan sterf dit eksponensieel vinnig uit, as daar meer kinders as ouers is, dan vermenigvuldig die spesie, ook eksponensieel. Balans tussen die hoeveelheid kinders en ouers is onwaarskynlik. Omdat bevolkings gewoonlik deur die omgewing beperk word is die normale stand van sake dat 'n bevolking méér kinders as ouers produseer. Die natuur snoei dan die kinders tot hulle demografie gelyk is aan die van die vorige geslag. Charles Darwin het dié proses "Survival of the fittest" genoem - siek of swak kinders verdwyn uit die populasie met 'n groter statistiese waarskynlikheid. Gesien oor 'n lang termyn is dit opvallend dat enkele individue nie eintlik saak maak nie; daar moet net genoegsaam kinders wees om almal wat sterf (of emigreer) te vervang. Dié Darwinniese beginsel kan opgesom word as "Vermenigvuldig, óf sterf uit". Sosiobiologie het dié idee tot tale en kulture uitgebrei. Afrikaans is vandag 'n taal omdat Afrikanervoorsate suksesvol oorlewe het en genoegsaam voortgeplant het óm Afrikaners te vermenigvuldig. David Foot se twee derdes - een derde reël is natuurlik 'n vereenvoudiging van geskiedenis. Tegniese en kulturele verwikkelinge (wat in die een derde deel val) beïnvloed ook demografie. 'n Moderne voorbeeld is die geboortebeperkingspil, wat waarskynlik op die lang termyn merkwaardige geskiedkundige gevolge gaan veroorsaak. Daar is ook baie kommentaar dat VIGS demografiese gevolge sou hê, maar dit sal myns insiens net marginaal wees as dit met die effekte en langtermyn gevolge van dit geboortebeperkingspil vergelyk word. Dit is 'n ongeluk (of 'n geluk) van die natuur dat menslike vrugbaarheid, met ons huidige tegniese ontwikkeling, maklik beheer kan word. Westerse families in Europa wat eens 4 tot 6 kinders per familie tot so onlangs as die 1940s gelewer het, produseer nou 1 of 2 kinders per familie. Die demografiese gevolge op Europese lande is merkwaardig. Europeërs, wat eens genoegsaam vermeerder het om Noord- en Suid Amerika, en Australasië, te koloniseer, en dan ook nog die verlies van miljoene in twee wêreldoorloë kon absorbeer, is nou in demografiese vryval. 'n Verdere voorbeeld is die situasie in Israel wat ek hierbo bespreek het. Dit is ironies dat Israeliese Jode wat die konsentrasie kampe in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, nou deur die geboortebeperkingspil ondermyn word. In die verband merk Mark Steyn op dat die Bybelse opdrag om "vrugbaar te wees" 'n hoogs rasionele opdrag is as jy wil bly voortbestaan in jou huidige vorm [5]. Om dit te ignoreer beteken om uit te sterf of so te verander dat jy onherkenbaar word. Die profiel van Moslems teenoor Jode in Noord Amerika is een van 'n jong vinnig groeiende gemeenskap teenoor 'n ouer gemeenskap met klein families en min kinders, nieteenstaande Daniel Pipes se argumente. Daniel Pipes is uiters bewus van die lang termyn implikasies vir Jode en vir Israel. Dit is dáárom dat Mnr. Pipes artikels oor Moslem demografie in Noord Amerika skryf. 'n Verdere voorbeeld van demografiese analiese vanuit 'n politieke oogpunt is die boek deur Pat Buchanan [2] wat grotendeels op demografiese projeksies berus. Robert Kaplan skryf in sy teneerdrukkende boek [4] heelwat oor die gevolge van demografiese veranderinge (veral oorbevolking en die gevolge op die natuur) en die konflikte wat dit veroorsaak. Dan Roodt het ook op 'n keer na Europese demografie en sy gevolge gekyk [6]. Maar 'n mens moet toegee - David Foot is grotendeels korrek. Mannekrag (in hoeveelheid) is 'n natuurbron in enige gemeenskap. 'n Relatiewe vermindering in die produksie van mannekrag (ten opsigte van die demografie van jou vyande of opponente) kan ernstige gevolge meebring. Die demografie van 'n bevolking word deesdae deur vier eienskappe bepaal: Verandering in Demografie = Geboortes - Sterftes + Immigrasie - Emigrasie. By verre die belangrikste faktor is geboortes. Sterftes word bepaal deur geboortes (op die lang termyn sterf almal). Emigrasie is gewoonlik die verlies van families voor of gedurende hulle vrugbare jare, en dit kan ook belangrike verandering veroorsaak. Vir 'n meer volledige verduideliking, sien die voetnota onder [9]. Mense is normaalweg onbewus van demografiese veranderinge in hulle gemeenskappe (ernstige epidemies uitgesluit). In die eerste plek word mense oud in hulle ouderdomsgroep (met wie hulle assosieer), en is sodanig onbewus van veranderinge in die volgende geslag. Tweedens is dit 'n eienskap van menslike gemeenskappe dat elkeen vervangbaar is - die verlies van een noop 'n ander om sy plek in te neem. Derhalwe word individue nie vermis nie - die oorblywendes moet 'n weg vind en aangaan. Die bydrae van 'n vermiste individu is net hipoteties, maar kon dalk kritiek wees. Westerlinge is daarom normaalweg onbewus van die demografiese veranderinge wat besig is om in die volgende geslag plaas te vind. Terwyl demografie wyd bestudeer word om ekonomiese voorspellings te maak [3], word daar nie baie aandag gegee aan die politieke gevolge van demografiese veranderinge nie. David Foot het 'n hele boek geskryf oor Kanadese demografie, maar verwys nêrens na die politieke gevolge van 'n veranderende etniese en rasseprofiel in Kanada nie. Om dit te doen, in die moderne konteks, is ietwat gevaarlik, en mens kan maklik van rassisme beskuldig word as daar te nou aandag aan die veranderende rasseprofiel gegee word. Dit is omtrent die uitsondering dat 'n Daniel Pipes of 'n Pat Buchanan na verandering in etniese groepe as gevolg van demografiese veranderings kyk om die toekoms te probeer voorspel, en Daniel Pipes is die teiken van negatiewe reaksies selfs in die Amerikaanse Senaat [7]. Daar is in die Weste twee benaderinge tot demografiese veranderinge. Albei erken dat Westerse lande etnies baie gaan verander in die volgende geslag. Die eerste benadering is 'n linkgesinde of neo-liberale analise. Dié benadering het as uitgangpunt dat Westerse beskawing en kultuur almal en alles assimileer tot een taal en kultuur (ten spyte van die multikulturele omgewing). Dus, die veranderde etniese demografiese profiel in enige Westerse land sal die bevolking verryk en is derhalwe nie 'n probleem nie. Op die lang termyn sal almal assimileer in een kultuurgroep (of dit nou Frans of Duits of Engels is), en die land of gemeenskap sal bly voortbestaan sonder enige groot probleme of sonder om noemenswaardig te verander. Daar word ook deur aanhangers van dié uitgangspunt geargumenteer dat die bevolkingsgroei in die Derde Wêreld sal afneem soos wat hulle ryker word (net soos wat in die Weste gebeur het). Die neo-liberale benadering is veral sterk gevestig in Engelssprekende gemeenskappe, waar dit konfluent is met Britse en Engelse jingoisme (dit is definitief nog steeds lewendig en gesond). Daar is steeds 'n algemene geloof in die superioriteit van die Engelse taal en kultuur (deesdae is dít Rock en Pop musiek) en 'n gevolglike aanname onder Engelsprekendes dat almal hierin moet assimileer. Om daarteen te stry is dom en hardkoppig. Die neo-liberale benadering is ook die heersende politieke wysheid. Frankryk se afwyking met die maatreël wat hijabs en burkas verbied trek baie aandag omdat dit die benadering verwerp. Pim Fortuin het baie internasionale aandag getrek omdat sy boodskap die neo-liberale benadering tot immigrasie en demografie verdag gemaak het. 'n Amerikaanse senator, Tom Harkin (Demokartiese Party, Iowa), verwoord die neo-liberale benadering tot demografie en Westerse assimilasie soos volg: "From the deepest part of my body I strongly disagree with [Daniel] Pipes when he says that the very fact of enfranchisement, affluence and assimilation [of Muslims] will somehow threaten our values. The opposite is true. They [the Muslims] have taken on our American values and have become American Muslims, just like other minorities who have come to this country. They brought their religions. They brought their customs. But they have Americanized." [7] Die Britse kommentator Mark Steyn merk onlangs op dat demografie 'n spel van "last man standing" is: "the last people around in any numbers will determine [the future]" [5]. Steyn verwys hier na die bekende idoom "Demography is Destiny", wat so sterk deur ekologiese en biologiese feite ondersteun word. Dit definieer ook die tweede en konserwatiewe benadering. Pat Buchanan, die bekende konserwatiewe Amerikaanse kommentator, val ook in die kamp. In sy boek "The Death of the West" [2] sit Buchanan sy argumente uiteen. Hy maak die stelling dat kultuur en demografie nou verband hou, en dat die demografiese ineenstorting van Europa en die verval van Westerse kultuur in sinergie plaasvind. (Naamlik dat kulturele verval demografiese ineenstorting bring, en dat demografiese ineenstorting Westerse kultuur vernietig, in 'n sirkel wat selfversterkend is). Hy argumenteer verder dat demografiese ineenstorting in Rusland daardie land beheer oor sy Moslem republieke (inkluis Tjetsnië) gaan kos, en dat Sjina Rusland uit Asië gaan dryf. Moslems (as 'n jong en vinnig groeiende komponent van Westerse bevolkings) sal verder hulle invloed in Wes Europa baie uitbrei. As Europa nou in 'n post-Christelike fase is, dan kan Mohammedanisme die grootste georganiseerde kerk word in lande soos Frankryk, Duitsland en die Lae Lande. Daniel Pipes verskil ook skerp met die neo-liberale interpretasie. In 'n onlangse rubriek gee hy 'n antwoord aan Senator Tom Harkin, wie ek hierbo aanhaal. Pipes verwys na die Franse Jode en hulle onlangse ervaringe (sedert die jaar 2000). Hy skryf byvoorbeeld dat "More than 20 synagogues and schools have been set on fire. Jewish children and Jewish teachers are routinely harrassed at school. Rabbis are beaten or spat on in the street.". Met ander woorde, die veranderde demografie in Frankryk is nie goed vir Jode nie, en as Frankryk tot onlangs 'n welkome plek vir Jode was, dan het die kultuur sodanig (demografies) verander om Jode onwelkom te laat voel [8]. Terwyl dit nou blyk dat die Verenigde State die eerste rondte in Afghanistan en Irak gewen het, is die geskil tussen die Weste en Islam nog glad nie verby nie. David Foot se twee derdes demografie moet nog sy invloed hier wys, en dit sal oor 'n geslag of twee duidelik word wat die geskiedkundige gevolge gaan wees. Demografie is baie geduldig, en verandering vind plaas oor tydperke gemeet in geslagte. Terwyl Islam demografies in Europa en Noord Amerika floreer, ondervind Indië en Sjina ongekende ekonomiese groei (saam met die ander Asiese tiere - naamlik Suidoos Asië en Indonesië). Daar word nou openlik gespekuleer dat Europa se (demografiese en dus ekonomiese) ondergang die geleentheid aan Suidoos Asië bied om internasionaal 'n leidende rol van Europa oor te neem. Ons gaan definitief meer in die toekoms hoor van Maleisië, Indonesië, Indië en Sjina. Die kompleksiteit en grote van 'n ekonomie is verbind aan die bevolkingsgrote wat die ekonomie onderskraag. Die Verenigde State van Amerika kon 'n man op die maan sit ómdat die Amerikaanse bevolking groot genoeg was om 'n komplekse ekonomie te vestig wat die produkte en kennis kon produseer vir so 'n onderneming. Met krimpende bevolkings, veranderende kulture en die groei in Asië is dit vanselfsprekend dat ons 'n baie veranderde wêreld oor 'n paar dekades gaan sien. Demografie het ook sy twee derdes rol in Suid Afrika gespeel. Ek het op 'n slag gelees dat in 1910 sowat 50% van Suid Afrika se bevolking nie swart was nie. Boonop het die Boere Oorlog ook a dramatiese invloed op Afrikaner demografie gehad. 'n Hele geslag Afrikaners is in die konsentrasie kampe dood. Die sterftes was van kinders, voor hulle vrugbaarheidsjare, en die demografiese gevolge was dus erg. Daar word somtyds beweer dat daar vandag 'n miljoen vermiste Afrikaners is. In die vorige eeu was 'n groot gedeelte van die swart bevolking in Suid Afrika beperk tot hulle stamlande (waarheen hulle deur Shaka, Silikaats, die Engelse, en laastens die Boere, min of meer in dié orde, verdryf was). Dit is dus nie 'n verrassing dat die Unie in 1910 swartes sommer net geïgnoreer het nie - hulle was beskou as soortgelyk aan Amerikaanse of Australiese inboorlinge (swak demografie het dié twee groepe erg geknou in die vorige eeu). Anders as inboorlinge in Australië of in Noord Amerika, het swart Suid Afrikaners demografies in Suid Afrika gefloreer. Hulle is aangehelp deur Afrikaners met voeding, met opvoeding (duisende skole is gebou om swart Suid Afrikaners te onderrig), met werksgeleenthede aan die myne, op plase, in dorpe, en met mediese dienste en dies meer. Dit is natuurlik so dat apartheid swartes ook erg benadeel het, maar segregasie was ook toegepas (met erge demografiese gevolge) teenoor inboorlinge in Australië en Noord Amerika. Dáár is skole nie gebou nie, en was daar nie werksgeleenthede beskikbaar nie. Dus het die ekonomiese omgewing ontbreek om die getalle Amerikaanse Indiane of Australiese Inboorlinge te laat vermenigvuldig. Dié feite is waarom ek die anti-Afrikaanse zeitgeist in die ANC onverstaanbaar vind; die ywer waarmee hulle Afrikaanse skole en universiteite vernietig is moreel onverklaarbaar. Kader Asmal se gevolgtrekking dat 'n instelling met Afrikaans as enigste voertaal op een of ander manier inkonsekwent met demokrasie is, is loutere onsin - hy is maar net besig om sy afkeur in Afrikaners wetlik en polities te implimenteer. Teen 1990 het Suid Afrika se demografie dramaties verander. Van die 50% in 1910 het die swart bevolking tot meer as 80% gegroei, en politieke verandering was onvermydelik. Afrikanerdemografie is ook erg geknou deur die geboortebeperkingspil na 1960. Net soos Daniel Pipes is die ANC deeglik bewus van die politieke belang van demografie. Hulle beskou Afrikaners eerder as 'n klein minderheidsgroep en nie as volk met 'n geskiedenis en kultuur nie. Die neo-liberale benadering tot demografie beteken dat Afrikaners geassimileer moet word in 'n wyer Engelsprekende Suid Afrikaanse gemeenskap, en die huidige oorheersers is druk besig met die projek. Op die koop toe werk baie Afrikaners druk saam. Dit is ook waarom sommige Afrikaners (ek inkluis) dink dat die huidige Suid Afrikaanse konstitusie Afrikaners misken. Klousules wat Afrikaner institusies en taal beskerm ontbreek. Verder het swak demografie Afrikaners onbenullig by die stembus gemaak en figure soos Kader Asmal kan Afrikaanse skole en universiteite onder druk plaas sonder om die politieke gevolge te vrees. Afrikaners is nie net ontman deur die aanklagtes teen hulle nie, maar is ook demografies irrelevant en word boonop ook deur Mnr. Mbeki as "colonials" en "settlers" beskou. Daar is vandag ten minste drie miljoen Zimbabweërs in Suid Afrika; dit is omtrent soveel as wat daar Afrikaners is. Hulle is ook nog jonger en groei vinniger in getalle, en sal waarskynlik in toekomstige verkiesings vir die ANC stem om dus enige Afrikaner stemme teen die ANC te kanselleer. Omdat Suid Afrika die enigste bron van Afrikaners is (Afrikaners is inheems), is dit immoreel vir die Suid Afrikaanse regering om maatreëls te neem wat Afrikaanse kultuur en institusies ondermyn. Afrikaners moet van die ANC regering eis dat hulle (eie) Afrikaanse skole en universiteite, ander kultuur instellings, kommunikasie dienste, en dies meer, ondersteun en ook beskerm teen oorname deur meerderheidsgroepe, en hulle moet dit doen op grond van 'n morele argument. Ek het nie juis baie hoop dat Mnr. Mbeki sal luister nie - die ANC beskou Afrikaners as uitheems, en voel dus geen morele nood om hulle kultuur en taal te beskerm nie. Die argument is dat Afrikaners soos immigrante geabsorbeer moet word, soos aangeneem en aanbevole in die neo-liberale beskouing van demografie. The Britse kommentator Mark Steyn [5] beweer dat die lae aantal geboortes in Europa die gevolg is van 'n post-Christelike beskawing, en dat as jy eers dié fase bereik het, dan is daar nie meer baie van 'n toekoms oor nie. Afrikaners (ek inkluis) is baie gewoond aan die idee dat Protestante Europa die wêreld oorheers (met Amerika, Australië, Kanada en Nieu-Seeland ingetel). Vir die hele 350 jaar van Afrikaner geskiedenis was dit die geval, en ons het dikwels deurgeloop onder Europese geskille en kolonialisme wat oorgewaai het Suid Afrika toe. Die Protestante Christelike gelowe is vandag dekadent en het in sekere opsig die "post-Christelike fase" bereik waar die fondasies van die geloof (maagdelike geboorte, die huwelik, die goddelikheid van Christus, die Bybelse opdrag om "vrugbaar te wees", en so voorts) irrelevant geword het. Dan Roodt skryf op 'n slag dat Afrikaners van die Weste bevry moet word [6]. Met die afname in Westerse invloed (as gevolg van demografie) in die volgende geslag kan hy Afrikaners nie beter raad gee nie. As Westerse oorloë, kulturele veranderinge, musiek en dies meer, Afrikaners histories baie beïnvloed het, kan 'n mens verwag dat daar minder invloed in die toekoms gaan wees. Die demografiese oorheersing van Islam en die Ooste in die volgende geslag gaan die hele politieke en ekonomiese omgewing verander, ook vir Afrikaners. Bibliografie en Voetnotas: [1] Daniel Pipes, 29 October 2001. "How many American Muslims?" In WorldNetDaily, http://www.worldnetdaily.com. Daniel Pipes is die direkteur van die "Middle East Forum", gebaseer in Philidelphia. [2] Patrick Buchanan, 2002. "The Death of the West". Thomas Dunne Books. [3] David Foot, 2000. Boom, Bust and Echo 2000. MacFarlane, Walter and Ross (Toronto). [4] Robert Kaplan, 2000. "The Coming Anarchy". Vintage Books. [5] Mark Steyn, 2003. "Europe's Problem is that it is Barren". Daily Telegraph, 23 December 2003. [6] Dan Roodt, 2003. "Ons moet onsself van die Weste bevry". Opstel op die PRAAG webbladsy, http://www.praag.co.za. [7] Statement of Senator Tom Harkin on 23 Julie 2003. Mid-East Realities webbladsy, http://www.middleeast.org./forum/fb-public/1/1130.shtml. [8] Daniel Pipes, 5 Januarie 2004. "A French lesson for Tom Harkin." In WorldNetDaily, http://www.worldnetdaily.com. [9] Die integraal van die vergelyking (sê maar vanaf 1652 vir Afrikaners) is die totale bevolking. Die terme in die vergelyking is almal proporsioneel met die bevolkingsgrote. Wiskundig beteken dit dat die bevolking eksponensieel groei of afneem. By verre die mees belangrike term is die geboortes, normaalweg uitgedruk as die aantal kinders wat die gemiddelde vrou oor 'n leeftyd kry. Die getal is afhanklik aan faktore soos sterftes, immigrasie en emigrasie, maar is meestal naby aan 2.1 in 'n stabiele bevolking wat nóg groei, nóg krimp. As dit meer as 2.1 is, dan groei die bevolking eksponensieel, en as dit minder is, dan verminder die bevolking eksponensieel. Daar is 'n taamlike skerp transisie rondom 2.1; meer en jy vermenigvuldig, minder en jy sterf uit. Daar is min (indien enige) voorbeelde van etniese groepe wat 'n dalende geboortesyfer omgekeer het om weer demografies robuust te word. Byna elke etniese groep wat in antieke tye bestaan het is nie meer met ons nie (Spartane, Trojane, ensovoorts; uitsonderinge is byvoorbeeld die Egiptenare en die Jode). Wat normaalweg gebeur is dat 'n subpopulasiegroep in 'n etniese groep wat verminder steeds eksponentieel groei, en dié neem in getalle die hele etniese groep oor in net 'n paar geslagte. Byvoorbeeld, onder Afrikaanssprekendes kan ons verwag dat gekleurde Afrikaanses (as hulle Afrikaans bly en nie verengels nie) oor 'n paar geslagte die dominante groep in getalle kan wees. Of miskien domineer Oraniërs die Afrikanergemeenskap in drie of vier geslagte, as hulle steeds genoeg kinders kry om eksponensieel te groei. Sulke veranderinge vind plaas oor tydvakke gemeet in geslagte, en individue is dus sodanig onbewus dat daar enige iets verander.
|