|
|
||||
| chronologie
|
'n Wêreld aan die brand Buks
van Rensburg (of vier pogings tot 'n resensie van die boek "World on Fire" [1] deur Amy Chua [2]) Eerste Poging: Op 'n dag in Oktober, 1837, ry oom Piet Retief en sy 69 manskappe na Umgundgundlovu om Dingaan se vee, wat deur Sekonyela gesteel is, aan hom terug te besorg. Die doel van die besoek was om 'n ooreenkoms met Dingaan te teken, vir vrede en vir vreedsame naasbestaan tussen Voortrekkers en Zoeloes, en vir grond tussen die Tugela en die Umzimvubu. Om die vee terug te neem was 'n guns, en 'n gebaar van welwillendheid. Onderhandelinge met Dingaan was suksesvol, en Piet Retief het 'n ooreenkoms geteken. Die Impi's het in hulle luiperdvelle vir die Voortrekkers gedans, en die Voortrekkers het goedgunstiglik hul roers buite Umgundgundlovu gelos. Dingaan het onverwags "Babani aba thakathi" beveel. Oom Piet Retief en sy manskappe is gevang, na die heuwel kwaMatiwane gesleep en een na die ander met knopkieries doodgeslaan, Piet Retief laaste, na hy moes toekyk hoe sy vriende en manskappe vermoor word. By Bloukrans en Weenen is hulle vroue doodgemaak, en hulle kinders se skedels is teen die wawiele verbrysel. Piet Retief se lewer en hart is uitgesny en na Dingaan geneem. Vir Afrikaners is daar nie genade nie. Tweede Poging: In 1993 sê Nelson Mandela [3]: "Let this, however, be clear: there is no place in a democracy for any community or section of a community to impose its will at the expense of the fundamental rights of any other citizen." In dieselfde asem sê hy toe verder: "Ek wil weereens sekere groepe in die Afrikanergemeenskap aanspreek: .... U het die volste reg tot u eie taal, godsdiens en kultuur. Hierdie regte sal u nie ontneem word nie." Waarheid is 'n vloeibare konsep. Dit is ongetwyfeld so dat Nelson Mandela dié woorde bedoel het toe hy dit gesê het. En dié woorde was waar en is deur sommige as 'n ooreenkoms gesien. Afrikaners wat nie Orwell [4] of Machiavelli [5] lees nie, kan dié woorde nie reg beoordeel nie. Soos iemand eenmaal êrens gesê het: "Die Boere is dom". Wat vandag waar is, is môre miskien nog waar. Oormôre is dit dalk nog waar, en later is dit te betwyfel, om uiteindelik net woorde te word wat nie eintlik meer van toepassing is nie. Dit word nie juis vals nie. Dit word net, na 'n ruk, ontoepaslik, of net nie meer relevant nie. Nog later is die woorde nog daar, en ons is nie seker wat die bedoeling was nie. Die konteks het nou onseker geword. Uiteindelik word dit soos Squealer êrens in Animal Farm [4] vra: "Are you certain that this is not something you have dreamt, ... ?". Maar toe Mandela die woorde geuiter het, het Afrikaners hom geglo. FW de Klerk en Roelf Meyer het onderhandel, en die ANC het voorgestel dat daar net een amptelike taal in Suid-Afrika sou wees. Nelson Mandela se versekering het nie beteken dat daar Afrikaanse skole en Afrikaans in die regering sou wees nie. Daar is baie gepraat, en uiteindelik het ons gaan stem, om soos Nelson Mandela dit gesê het, "...[to] build a society free of violence ... grounded in friendship ... and common humanity - a society founded on tolerance ... let us join hands and march into the future". En Afrikaners het geglo dat dié woorde waar is, en waar sal wees, en dat daar onder die Afrikaanse son in die ANC-Suid-Afrika 'n plek vir Afrikaners en Afrikaans sal wees. Tussen die Tugela en die Umzimvubu. Oom FW de Klerk moet net teken. Dan sal die Comrades vir Afrikaners toyi-toyi dat die stofwolke staan. En Boere sal kan boer en studeer en besigheid bedryf. In Afrikaans. Daar sal Afrikaanse skole wees, en Afrikaanse universiteite, en Afrikaanse besighede, en Afrikaanse vorms en Afrikaans sal in die regering gehoor word. En die ANC sal Afrikaanse instellings respekteer. Afrikanerseuns sal ophou sterf in die grensoorlog. Afrikaners sal veilig wees in dié mooi land wat ook aan hulle sal behoort, en die boere sal veilig boer op hulle plase. Teken net, daar is 'n medalje op die spel. Afrikaners sal behou wat hulle het, en nog meer verkry. Daar sal steeds Afrikaanse skole wees waaraan so lank gebou is, vanaf die dae van die Boere-republieke. Afrikaanse universiteite, asook Afrikaanse dorpe en stede, wat na Afrikanerhelde en elemente uit die Afrikanergeskiedenis vernoem is, sal bly voortbestaan. En Afrikaners sal steeds in hul skole hul moeilike geskiedenis en kultuur aan hul kinders mag oordra. Oom Bey sê dan self so, en hy is 'n predikant. En Nelson Mandela sê hy is 'n profeet [6] en 'n held, net soos Oom Braam Fisher en Tannie Bettie du Toit. Derde Poging: "Daar is ongelukkig 'n groeiende persepsie onder die meerderheid van die mense van Suid-Afrika - wat onder apartheid gely het - dat kritiek van Afrikanerkant in verband met regstellende aksie uitsluitlik daarop gemik is om soveel moontlik van die Afrikaner se onregverdige bevoorregte posisie van die verlede te behou." [7] Die gebruik van die woord "onregverdig" deur Nelson Mandela in dié aanhaling is opmerklik, en word toegepas in groepsverband in die sin dat "Afrikaners" 'n "onregverdige bevoorregte posisie" beklee, en dat dit nie individue is wat onregverdige bevoorregte posisies beklee nie. Baie Afrikaners het nou persoonlike ervaring van regstellende aksie [8]. Nelson Mandela het verder gesê [9]: "Niemand vra vir die verguising van Afrikaners nie; niemand verlang dat Afrikaners hulself kollektief in die openbaar moet verneder nie. Wat niemand egter kan ontken nie is dat Apartheid 'n verskriklike onreg teenoor hierdie land en sy inwoners gepleeg het; en dat Afrikaners 'n sentrale en wesenlike rol daarin gespeel het." In Nelson Mandela se baie skrywes en toesprake word Afrikaners voortdurend as 'n groep uitgesonder. Meestal het hy hulle heuning om die mond gesmeer. Dié aanhalings hierbo is egter 'n illustrasie van die slim manier wat hy gebruik het om Afrikaners as 'n groep in die beskuldigingsbank te plaas. Daar is ook 'n beheptheid in Nelson Mandela se toesprake te bespeur met die etnisiteit van Afrikaners. As Nelson Mandela met 'n Beyers Naude of 'n Carl Niehaus praat, dan verwys hy na hulle etniese Afrikanerskap [6]. Meestal rig hy ook woorde aan Afrikaners om hulle gerus te stel, en hy het veral versekeringe oor die Afrikaanse taal gegee (byvoorbeeld, "..., binne 'n sisteem van meer as twintig universiteite, om tot 'n vergelyk te kom dat daar ten minste een universiteit is wat dit as hooftaak het om om te sien na die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese medium" [9]; let op die "ten minste een"). Die merkwaardigste ontwikkeling in post-1994 Suid-Afrika is die doeltreffende wyse waarop die ANC beslag gelê het op Afrikaanse instellings en die Afrikaanse kultuurerfenis (in enige ander deel van die moderne wêreld sou dit skandalig wees). Dit was een aspek van die ANC se plan met Afrikaners; in Nelson Mandela se 1996 toespraak aan die universiteit van Stellenbosch sê hy byvoorbeeld dat "Afrikaanse instellings ... en mense moet ... nie eenkant en apart staan nie, maar ineen gevleg deel wees van die nuwe wat ons skep". Die gebruik van die woord "apart" in die sin is briljant. Met ander woorde, toekomstige Suid-Afrika kan nie Afrikaanse en veral nie Afrikanerinstellings behou nie. Kader Asmal het sedertdien baie vordering gemaak om Afrikaansmediumuniversiteite en -skole te ondermyn, en dit is nou duidelik dat daar in die toekomstige Suid-Afrika geen ruimte vir Afrikaanse universiteite en skole sal wees nie, Nelson Mandela se versekeringe ten spyt. Dit is dus ongetwyfeld só dat Afrikaners deur die ANC as 'n uitsonderlike groep gesien word. Pallo Jordan verwys na Afrikaner-etnisiteit en ekonomiese prestasie as "The National Question" en dat Afrikaners 'n "[economic] dominant minority" is [10]. In Suid-Afrika is die ANC se posisie dat Afrikaners 'n "dominante groep" is, en hulle het derhalwe nie die reg tot selfbeskikking (in enige sin van die woord) nie [10]. Met betrekking tot Afrikaanse universiteite, sê die ANC in 1996 [11]: "Universities have to face the reality that South-Africa is a multilingual society. Because of this reality the ANC is of the view that Afrikaans universities, in particular, have to progressively become multilingual institutions." Dit is 'n slim manier om te sê dat Afrikaans as voertaal uitgefasseer moet word; let op dat Engelse universiteite nie veeltalig hoef te word nie. In 1996 skryf Blade Nzimande dat "the demand ... that we should constitutionally entrench the existence of exclusively white Afrikaners schools is a crude attempt to return to Verwoerdian apartheid" (en dit is 'n misdaad teen die mensdom) [12]. Met ander woorde, Afrikaanse skole verteenwoordig 'n misdaad teen die mensdom. Die opmerking pas ook in met die idee dat Afrikaners deur die ANC as 'n uitsonderlike groep in Suid-Afrika gesien word. Dat Franse skole, en Katolieke skole, en Vlaamse skole, onder andere, in die konstitusies van Westerse demokrasieë opgeneem is, bewys dat Afrikaanstalige skole met Westerse demokrasie ooreenstem. Die bewering dat die bestaan van 'n Afrikaansmediumskool of -universiteit op een of ander manier teenstrydig met demokrasie is, is loutere onsin. In die besonder vind ons die argument "... [to say] that traditionally Afrikaans institutions must retain Afrikaans as the sole medium ... is tantamount to using Afrikaans to exclude the majority of South Africans from the country's institutions of education." Hoe Afrikaanse universiteite se bestaan ander Suid-Afrikaners "exclude ... from the country's institutions of education", waarvan verreweg die meeste nie Afrikaansmedium is nie, maak die argument ietwat ongewoon. Maar soos ek reeds opgemerk het, dit gaan hier oor die uitfassering van Afrikaanse universiteite en skole. Afrikaners verteenwoordig dus 'n uitsonderlike groep in die ANC se Suid-Afrika. Hulle is "of the dominant group" wat nie selfbeskikking mag kry nie, of Afrikaans is 'n "barrier-language" as dit kom by die behoud van Afrikaanse instellings, of hulle is in Pallo Jordan se woorde "the National Question", of was onaanvaarbaar verteenwoordig in die staatsdiens, of het te veel grond, en dies meer. In Amy Chua se boek word Afrikaners (en in die besonder, wit Suid-Afrikaners) beskryf as 'n market dominant minority. Daar is ander groepe wat ook so geklassifiseer word, onder andere Indiërs in Oos-Afrika, Toetsies in Rwanda, Sjinese in Indonesië en in die Filippyne, Jode in Rusland en in die Midde-Ooste, en Europeërs in sekere dele van Suid-Amerika. Die ervaringe van die groepe is merkwaardig eenders, as die uiteenlopende besonderhede en kulture in ag geneem word. Vierde Poging: Die sub-titel van Amy Chua se boek is "How exporting free market democracy breeds ethnic hatred and global instability". Dit som haar kernidee in een reël op. Dié idee is knaend bekend aan my. Ek het dit onrustig in 1994 aangevoel, en dit spook vandag nog by my. Demokrasie in Suid-Afrika, en veral die partikuliere manisfestasie van demokrasie as 'n eenheidstaat wat etnisiteit in die Suid-Afrikaanse konteks verontagsaam, verseker Afrikaners glad nie van 'n toekoms nie. Inteendeel, dit stel Afrikaners moontlik bloot aan vervolging, onderdrukking en onteiening. Amy Chua se argumente verduidelik waarom dit so is, en sy kom naby aan 'n algemene teoretiese verduideliking waarom etniese wantroue en onrus in so baie dele van die wêreld met verdemokratisering gepaard gaan. Haar sogenaamde market dominant minorities vaar veral sleg in nuwe demokratiese lande. Die idee van 'n market dominant minority (wat ek nou bloot "dominante minderhede" sal noem), behoort aan Afrikaners bekend te wees. Dingaan het na die Voortrekkers as Aba thakathi of towenaars verwys omdat hulle 'n minderheid was wat die Zoeloes tegnies ver vooruit was en daarom 'n dominante minderheid genoem kon word. Ek kan dit aan myself voorgestel dat Piet Retief dit in sy laaste oomblikke moes verstaan het. Die moord op hom en sy makkers is gepleeg ómdat hulle (skynbaar) soveel meer in aardse besittings (gewere, Westerse weefkuns, waens met osse) gehad het as die tipiese Zoeloe. Daarom was hulle towenaars, en moes hulle boet. Dat Retief (soos De Klerk) in vrede kom onderhandel het, was net van sekondêre belang. De Klerk se uitreiking na die ANC vir 'n skikking het nie die lewens van plaasboere gespaar nie, en mens kan argumenteer oor wat vir die Afrikaners bloediger gaan wees- die huidige ooreenkoms, of 'n hipotetiese verwerping van die 1994-ooreenkoms met die ANC en 'n gevolglike laertrek. Die ANC verwys gereeld na wit Suid-Afrikaners, en in die besonder na Afrikaners, as 'n "oppressor group", "propertied classes" en die ANC "envisages the radical restructuring of key aspects of the economy as the means to destroy the material basis of the white racist power structure" [10]. Let op die gebruik van "destroy", "restructuring" en "white racist power"; frases wat gebruik word om Afrikaners te demoniseer. Hiervan is daar is 'n lang tradisie, nie net in die ANC nie, maar ook in die Westerse pers, en onder Engelse in Suid-Afrika. Nog voorbeelde sluit ook die koppeling van Afrikaanse skole met "Verwoerdian apartheid" [12] in, die verwysing na Afrikaans as 'n "barrier-language" [13], Thabo Mbeki se tipering van wit Suid-Afrikaners as 'n "foreign ruling class" [22], en die kreet "Kill a farmer, kill a Boer" (wat eers na 'n lang polemiek as haatspraak verklaar is). Pallo Jordan het na Afrikaners as "The National Question" verwys [10], en Thabo Mbeki praat op 'n keer met Robert Mugabe oor Zimbabwe en Suid-Afrika se "Common Problems" [15]. Dit sou ook naïef wees om die bydrae van die Waarheidskommissie tot die demonisering van die Afrikaner te onderskat - dit is 'n kwasi-regsdokument vol aantygings wat as waar voorgegee word, maar wat nooit behoorlik getoets is nie. In haar boek ondersoek Amy Chua die dinamiek tussen dominante minderhede en oorheersende meerderhede. Sy vertel dat 'n moord op 'n familielid in die Filippyne haar aangespoor het om die verwantskap te ondersoek. Die Sjinese bevolking is 'n dominante minderheid in die Filippyne. Hulle beheer 'n groot deel van die ekonomie [23], en sommige woon in ryk woonbuurtes en verskaf werk aan Filippynse bediendes. Amy Chua se tante is brutaal deur haar (etnies Filippynse) chauffeur vermoor; hy was 'n man wat haar lank geken het. Op haar doodsertifikaat het 'n Filippynse polisieman die skynbaar eerlike motief vir die moord aangeteken as "Revenge". Die moord op Amy Chua se tante is deel van 'n welbekende verskynsel in die Filippyne. Elke jaar word honderde Sjinese ontvoer, aangerand en vermoor deur etniese Filippyne . Die oortreders word omtrent nooit aangekeer nie, en die polisie is, soos sy dit stel, "notoriously unmotivated in these cases". Haar ander familielede in die Filippyne is, hoewel onsteld, ook ongeïnteresseerd in die motief en stel skynbaar nie belang daarin dat die chauffeur gevang moet word nie (hy is nie aangekeer nie). Een van haar ooms sê: "That is the way things are here. This is the Philippines, not America". Klink dit dalk bekend? Daar is natuurlik ook ander gevalle waar etniese spanning 'n onderliggende oorsaak van geweld is. Amy Chua noem voorbeelde in haar boek. Onder dié tel die konsentrasiekampe in Serwië in die 1990s en die etnies geïnspireerde massamoorde wat Hoetoes op Toetsies in Rwanda in 1994 gepleeg het. Daar is die moorde op Sjinese in Jakarta in 1998, toe die Indonesiese gepeupel Sjinese besighede aangeval het, uitgebrand, en aaklige gruweldade teenoor die Sjinese gepleeg het. Daar is nog die voortdurende wreedhede in die Midde-Ooste, etniese haat teen Indiërs in Fiji [24] en teenoor Europeërs in baie dele van Suid-Amerika, en in Suider-Afrika is die ervaringe van wit boere in Zimbabwe en Suid-Afrika welbekend. Is die etniese geweld in Serwië, Indonesië, Rwanda en die Midde-Ooste dalk verwant aan die moorde op plaasboere? Waarom lyk die moord op 'n Sjinese dame in die Filippyne so baie na die moord op 'n plaasboer in Suid-Afrika? In 'n breëre konteks, is "revenge" die motivering wat Dingaan laat besluit het dat Piet Retief moes boet? Is daar dalk 'n verwantskap met die etniese geweld in die Midde-Ooste waar Jode relatief ryk, en Palestyne relatief arm is? Wat is die konneksie tussen die uiteenlopende voorbeelde? Volgens Amy Chua is dit die volgende: dat die slagoffers sonder uitsondering lede van 'n ekonomies suksesvolle minderheid was, en dat die oortreders in al die gevalle lede van 'n ekonomies verarmde en regerende meerderheid was. In elkeen van die gevalle wat sy ondersoek, domineer die slagoffers die meerderheid ekonomies. Die minderhede is dikwels in besit van die beste ekonomiese bates, en dit wek nyd op in die regerende meerderheid wat dan etniese haat aanblaas deur die minderheid as die rede vir die meerderheid se armoede aan te gee [16]. In Suid-Afrika se geval is die "crown jewels" in Engelse besit (min of meer soos met die Sjinese in die Filippyne [23]), maar Afrikaners kry effektief die blaam vir die aanhoudende armoede onder die meerderheid Suid-Afrikaners en is derhalwe aan die ontvangkant van regstellende aksie (hoe Engelssprekendes so suksesvol was om Afrikaners as die groot uitbuiters in Suid Afrika te brandmerk is 'n hele ander storie waaroor ek nie hier wil kommentaar wil lewer nie [25]). In die moderne voorbeelde is dit 'n "indigenous" meerderheid wat klem lê op hulle inheemsheid en wat 'n ryker minderheid eers as uitheems bestempel. Politieke figure in die meerderheid buit die situasie uit en blaas etniese haat verder aan (op 'n slu manier om stemme in verkiesings te werf). Verkiesings word uiteindelike 'n rassesensus. Daar is ook die politiek gemotiveerde konfiskering van die minderheid se eiendom (en dit word geregverdig deur etniese persentasies te koppel aan aandele, grond, behuising, en dies meer). Dit word gevolg deur etnies gemotiveerde aanvalle op etniese minderhede en, uiteindelik , etnies geïnspireerde massamoord op die etniese minderheid. Die patroon is aan die werk in verskeie wêrelddele, in Indonesië, Sierra Leone, Venezuela, Rusland en die Midde-Ooste inkluis, en soos sy dit stel, op "whites in Southern Africa" (bladsy 97). Onderliggend aan Madame Chua se argument is globalisering, Westerse wyshede oor multikulturele demokrasie, en laastens, etnisiteit. Globalisering is ten eerste die vermeerdering (as gevolg van tegniese ontwikkeling) van handel en kommunikasie tussen verskillende nasies en lande. Ten tweede, en dié feit is miskien belangriker, behels dit ook die aggressiewe uitvoer van Westerse opvattinge oor ekonomie, ras, taal, kultuur, en veral politieke begrippe, na die Derde Wêreld. Sy skryf byvoorbeeld op bladsy 8 dat in die Weste dit algemeen aanvaar word dat: "Democracy is the fairest system of government, capitalism the best generator of wealth. [Westerners] Ignore that the current systems took generations to take hold in Europe, and requires a certain cultural maturity. "Multi-ethnic, pluralistic, free market democracy" is held up as the universal solution, especially in ethnically diverse and fractured societies." En dit lei ons tot die laaste faktor in Madame Chua se lys: Die rol van etnisiteit. Etnisiteit is 'n moeilike begrip [21], veral vir die Weste wat vir so lank 'n multikulturele toekoms nagejaag het. Dit is moeilik om te defineer, moeilik om mee te werk, soms van nul en gener belang, net om eindelik alles te troef. Daar bestaan deesdae onder Afrikaners 'n politiek korrekte geneigdheid om hul eie etnisiteit te bevraagteken. Wees verseker, nóg die ANC, nóg ander etniese groepe, bevraagteken Afrikaner-etnisiteit. 'n Mens ken dit as jy dit sien. En as jy aangekeer word omdat jy 'n Jood is, of doodgemaak word omdat jy 'n Sjinese dame in die Filippyne is, of aangeval word omdat jy 'n Boer is, of met pangas doodgekap word omdat jy 'n Toetsi is, sal geen ontkenning van jou etnisiteit jou red nie. Nie jou politiek nie, nie jou persoonlike siening oor etnisiteit nie, en nie die feit dat jy laas keer vir die ANC gestem het nie, en boonop nog middagete met president Mbeki gehad het nie. Etnisiteit kan alles troef. Dit is 'n basiese menslike eienskap. Geskiedenis behels grotendeels die beskrywing van etniese groepe, hul demografie, oorloë, en ervaringe. 'n Persoonlike mening van een of ander Afrikaner dat etnisiteit nie saak maak nie, sal niks aan dié realiteit verander nie. Die Weste aanvaar die idee dat etnisiteit nie belangrik in die politieke ordening van gemeenskappe is nie. Die korrekte regeringsvorm is dus 'n multietniese, pluralistiese, vryemarkdemokrasie. In gevalle waar lande verdemokratiseer word, is dit dikwels die geval dat 'n "multi-ethnic, pluralistic, free market democracy" afgeforseer word op 'n etnies diverse kultuur waar dit uiteindelik etniese haat, geweld, en in sommige gevalle, massamoord tot gevolg het. Amy Chua bespreek etnonasionalisme in deel 3 van haar boek. Daar is natuurlik kritiek teenoor gobalisering (ook in die Weste), maar die belangrike punt is dat selfs dié kritiek die etniese dimensie van globalisering ignoreer. Dit mag dalk die geval wees dat demokrasie en vrye markte die beste oplossing op die lang duur sou wees om ekonomieë te hanteer - maar op die kort termyn kan dit etniese spanning en geweld veroorsaak [17]. Suid-Afrika is 'n geval van 'n land waarheen vrye markte en Westerse demokrasie uitgevoer is. Die huidige grondwet ignoreer die komplekse etniese samestelling van die bevolking, en soos Amy Chua opmerk, is wit Suid-Afrikaners, en in 'n mindere mate, ook Indiërs, minderhede wat die ekonomie en markte beheer. In Suid-Afrika is daar 'n gesplete benadering vanaf die ANC jeens Afrikaneretnisiteit. Dit word beklemtoon as ekonomiese faktore (byvoorbeeld landbou en inkomste) bespreek word, en word geïgnoreer as kultuur, taal en onderwys bespreek word. Afrikaneretnisiteit is, volgens die ANC, net nie belangrik genoeg om Afrikaanse skole en kolleges of universiteite te regverdig nie. Ekonomies word Afrikaners egter as uitheems gestigmatiseer. Dié beskouings is algemeen onder veral middelklas- swart Suid-Afrikaners, wat Robert Mugabe ook as 'n held beskou, soos opgemerk deur Adian Hartley [18] en Thabo Mbeki [22]. Is dit belangrik vir Afrikaners om dié boek te lees? Ek dink so. Die boek is nie simpatiek teenoor Afrikaners nie, en verwys na die onregverdige omstandighede wat meegebring is deur 'n ongelukkige verlede [26]. Die relasie tussen Engelssprekende wit Suid-Afrikaners en Afrikaners word ook kortliks behandel. Sy merk op dat die Londonse Guardian-koerant skryf dat "Zimbabwe's white landowners, being of British and Irish ancestry, gets a much better press than do Afrikaners. Those sandy-face Boers... never sat well with British liberals. But the white elite of Zimbabwe, 0.6% of the population owning 70% of the land, seems a jolly good bunch: nice foreheads, English names, English accents even" (bladsy 102). Die kern van die boek is die beskrywing van 'n basiese en skynbaar onvermydelike verskynsel wat diep in die sielkundige gedrag van die mens gesetel is. Dit manifesteer in verskeie kulture in verskillende dele van die wêreld, en die onderliggende patroon is, met die nodige nuanse, basies eenders. Dit verklaar ook onder andere die voortdurende anti-Amerikanisme van die huidige tydperk. Amerikaners is die "market-dominating" minderheid op aarde, en hulle gedrag (wat ekonomies, militêre, en kulturele dominansie insluit) maak hulle ongewild. Osama bin Laden teiken juis Amerikaners omdat Amerikaanse mag en inmenging in die Midde-Ooste veral Moslems uitdaag om dit teë te staan. Aan Afrikaners suggereer die boek die volgende vraag: Het De Klerk (soos Piet Retief) dalk 'n historiese proses aan die gang gesit in 1994, waarvan die uiteinde net pyn en ellende aan Afrikaners gaan bring, binne 'n historiese konteks wat onafhanklik staan van die versekerings wat deur sowel die ANC as De Klerk en kie gebied is? Ek sou Afrikaners, en in die Suid-Afrikaanse verband, ook ander etniese minderhede (Indiërs, Sjinese, Griekwas, ensovoorts; dit wil sê, almal wat nie suiwer Afrikaan is nie) aanraai om Amy Chua se boek te lees. Die boek kan ook aan ons ANC-oorheersers aanbeveel word; miskien sou dit hulle oortuig dat die etniese realiteit van Suid-Afrika 'n ander oplossing en benadering vereis as die huidige patroon van etniese oorheersing. Voetnotas en Bibliografie. [1] World on Fire by Amy Chua. ISBN 0-385-72186-2. Anchor Books, Random House, New York 2004. [2] Amy Chua is Professor aan die Regsfakulteit in Yale Universiteit in New Haven, Connecticut, VSA. [3] Address by Nelson R. Mandela to the plenary session of the multi-party negotiations process. World Trade Centre, Kempton Park, 17 November 1993. [4] George Orwell. Animal Farm. Penguin Books 1951. [5] Nicolo Machiavelli. The Prince. Gepubliseerd in 1515. Machiavelli is die eerste Renaissance-politieke filosoof. In "The Prince" verduidelik hy hoe 'n Prins moet optree om suksesvol te regeer. In die openbaar moet 'n Prins altyd genadiglik, eerlik, menslik, opreg en godsdienstig wees. In privaat moet 'n Prins die waarheid manipuleer tot sy eie voordeel en om sy doelwitte te bereik. Ons ANC regeerders verstaan Machiavelli goed. Meyer en De Klerk was, soos die Engelse sê, "Out of depth". Nelson Mandela is 'n Machiavelliese Prins. Machiavelli het ook opgemerk het dat 'n man sal vergeet dat 'n Prins sy Pa doodgemaak het vóór hy sal vergeet dat die Prins hom uit sy erfenis bedrieg het. [6] Speech by President Nelson Mandela at the celebration of Beyers Naude's 80th birthday. Cape Town, 23 May 1995. [7] Toespraak deur Nelson Mandela tydens 'n besoek aan die Ruiterwag Saamtrek vir jong Afrikaner-leiers. Hartebeesjeugterrein, 13 Januarie 1996. [8] 'n Baie goed opgeleide skoolvriend (hy het vyfde geplaas in die CA eksamens in die Verenigde State), en nou woonagtig in Kanada, het persoonlike ondervinding met regstellende aksie, ANC-styl. Hy het in die staatsdiens gewerk. Met die ANC oorname word 'n vergadering gereel - en die eerste woorde van die nuwe regeerders aan die klomp staatsamptenare is "There are too many white men around this table". [9] Address by President Nelson Mandela on the Occasion of his acceptance of an honorary doctorate of the University of Stellenbosch. 25 October 1996. [10] Z. Pallo Jordan. The National Question in Post-'94 South Africa. Discussion paper in preparation for the 50th National Conference of the ANC, 1997. [11] Misrepresentation on Education Position. ANC Information and Publicity position paper, 28 January 1996. [12] Education Claus in the New Constitution. ANC policy document, released by Blade Nzimande, ANC Education spokesperson, 26 April 1996. [13] Funding in Universities and Technikons. ANC policy document, issued by the Department of Information and Publicity, 23 January 1996. [14] 'n Mens kan nie help om die parallel tussen moorde op plaasboere en moorde op Filippynse Sjinese op te merk nie. Die moorde is in albei gevalle etnies gemotiveerd en die familielede van die vermoorde het skynbaar dieselfde maniere om met die aaklige werklikheid te versoen. [15] ] "President Mugabe can assist us to confront the problems we have in South Africa so that we can assist you to solve the problems that face Zimbabwe". Sien ook byvoorbeeld http://news.bbc.co.uk/2/hi/africa/3329523.stm (19 Dec. 2003). [16] Dit is ook die geval in ander lande. In Venezuela is dit olie, in Bolivië is dit silwer, in Burma is dit robyne, in die Filippyne is dit groot besigheid, in Afrika is die landbougrond, in Suid-Afrika is dit goud en diamante. Verkiesings word etniese sensusse, en politikusse werf stemme deur die etniese minderheid te demoniseer. Inheemsheid word deur etniesiteit gedefineer. [17] In die Suid-Afrikaanse konteks is Zimbabwe 'n voorbeeld van die soort etniese geweld. Landbougrond is die belangrikste bate in daardie geval. Soos een Zimbabweër aangehaal is: "The land belongs to us. The foreigners should not own land here. There is no black Zimbabwean who owns land in England. Why should any European own land here?" [18]. Robert Mugabe sê onder andere "Strike fear in the heart of the white man, our real enemy" [15]. Robert Mugabe het wye ondersteuning, ook in Suid-Afrika en onder hooggeplaaste ANC lede [19] en onder ander Afrikaleiers [20]. Ek twyfel dat Tsvangirai ooit gekonfiskeerde landbougrond aan wit Zimbabweërs sal teruggee. [18] Adian Harley. Mugabe is their darling. In The Spectator, 25 October 2003. [19] Thabo Mbeki. ANC Today 3 no. 18 (11 August 2000). Mnr. Mbeki word onder andere aangehaal as sou hy gesê het dat "In our situation, because of colonialism of a certain type, the victory of the national liberation struggle did not result in the departure of the foreign ruling class". [20] http://www.newzimbabwe.com/pages/kaunda.1213.html [21] Ek is doodseker dat Piet Retief en Dingaan verstaan het dat hulle tot twee verskillende etniese groepe behoort het, daarom dat Retief 'n ooreenkoms wou teken vir 'n gebiedskonsessie. Etniesiteit is moeilik om te defineer, maar Amy Chua merk op dat dit wel 'n realiteit is. Somtyds val dit saam met ras of met taal. Somtyds het twee etniese groepe dieselfde taal en ras, byvoorbeeld Skotte en Engelse (maar probeer om vir 'n Skot te vertel dat hy Engels is). Somtyds word dit beweer dat etniesiteit net 'n sosiale konstruk is wat nie selfstandig bestaan nie. Maar dan is daar baie goed wat miskien sosiale konstrukte is en wel bestaan, soos byvoorbeeld Die Bybel. Ja, dit is 'n boek, maar watter een? Is dit 'n geordende kolleksie van woorde? Maar waar kom die woorde vandaan? Was daar 'n Bybel voor daar mense was? Miskien is enige boek met woorde georden soos die Bybel net 'n representasie van 'n Ideale Bybel wat selfstandig bestaan, en waarvoor ons nie 'n definiese kan gee nie, en dit bestaan wel omdat ons sê dat dit bestaan. Ensovoorts. Met betrekking tot die realiteit van etniesiteit merk Amy Chua op: "Try telling black and white Zimbabweans that they are only imagining their ethnic differences - that "ethnicity is a social construct" - and they will agree on one thing: that you're not being helpful". [22] Second National Institute for Economic Policy (NIEP) Oliver Tambo Lecture delivered by the President of the Republic of South Africa, Thabo Mbeki. Johannesburg, 11 August 2000. Die toespraak gee 'n insig in die ANC se beskouing van Afrikaners as uitheems. Dit maak nie saak dat Afrikaners nou al 14 of 15 geslagte in Afrika is nie, of dat hulle bitter oorloë geveg het nie, of dat hulle voorsate begrawe lê oor die hele land nie. Wat saak maak is ras en etniesiteit, en daarvolgens is Afrikaners uitheems. Mbeki praat van 300 jaar van koloniale oorheersing (maar Afrikaners het aan die Kaap vir 150 jaar geleef voor daar kontak met Xhosas gemaak is). [23] Op bladsy 4 skryf Amy Chua dat "millions of Filipinos work for the Chinese; almost no Chinese work for Filipinos. The Chinese dominate industry and commerce at every level of society. Global markets intensify this dominance: When foreign investors do business in the Philippines, they deal almost exclusively with Chinese. Apart from a handful of corrupt politicians and a few aristocratic Spanish mestizo families, all of the Philippines bilionaires are of Chinese descent. By contrast, all menial jobs ... are filled by Filipinos. All peasants are Filipinos. All domestic servants and squatters are Filipinos." Sy skryf verder dat "[for a chinese to] marrying a Filipino ... is shameful", dat "my relatives live literally walled off from the Filipino masses, in a posh, all-Chinese residential enclave, on streets named Harvard, Yale, Stanford, and Princeton ... the entry points are guarded by armed private security forces". [24] Fiji se nasionalistiese leier, George Speight, sê van die ekonomies dominante Indiërs dat "they smell differently"(Chua, bl. 20) as etniese Fijiane. [25] Milton J. Esman. Ethnic politics and economic power. Comparitive Politics 19, p395-418 (1987) [26] Op bladsy 97 skryf sy: "... generation ago, their forebears turned the black majority around them into a mass pool of uneducated ... cheap labour ... in a police state". Die grootste gedeelte van die "cheap labour" was vir die Engelse myne, wat rykdom landuit geneem het om London ryk te maak. Afrikaners het baie minder rykdom geproduseer, wat nie landuit geneem is nie. Die grootste deel van die rykdom in Suid-Afrika bly in Engelse hande, en hulle buit globalisasie uit om om hulleself verder te verryk, soos Sjinese in die Filippyne. Die ANC regering reageer deur Afrikaners onder regstellende aksie te laat deurloop. Nietemin merk Amy Chua ook op dat "Hopes are on South Africa" om die voorspelbare toekoms te ontwyk. Maar sy haal 'n hoë ANC amptenaar aan, wat in 1997 aan 'n verkeersman gesê het: "When Mandela dies, we will kill you whites like flies". |