chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Paul Kruger: Afrikaner sonder weerga

Sydney Gregan

In hierdie tye kan veel inspirasie geput word uit die lewe en voorbeeld van Paul Kruger. Wanneer oor sy lewe nagelees word, is jy met agting vervul en teenoor die Here God dankbaar vir wat hierdie formidabele man, ondanks al sy tekortkominge, vir die Afrikanervolk gedoen het. Hy was 'n reus in elke opsig. Wat my altyd opval as ek na 'n foto van Paul Kruger kyk, is daardie indrukwekkende unieke gesig wat getuig van onvergelyklike forsheid en 'n koele selfvertroue uitstraal.

Paul Kruger is op 10 Oktober 1825 te Bulhoek in die Kaap gebore. Hy ontvang geen formele skoolonderrig nie, maar wel ongereelde onderrig van 'n swerwende onderwyser, 'n sekere Tielman Roos. As seun van die veld het hy so taai geword soos die landskap waarin hy opgegroei het en lees hy gedurende sy leeftyd slegs een boek, naamlik die Bybel, en drink hy slegs een drankie, naamlik melk. Hy was maar tien jaar oud toe hy aan die Slag van Vegkop deelneem en het hierdie gebeurtenis hom so aan die hart gegryp dat hy dit tot op sy oudag nog helder voor die gees kon roep. Gedurende 1838 beleef hy ook die verskriklike gebeure in Natal en keer saam met Hendrik Potgieter terug na die Transvaal. Sy eerste leeu skiet hy op die ouderdom van 14 jaar. Sy gereelde kontak met die wilde diere van die veld het hom 'n onverskrokkenheid en 'n selfversekerheid aangeleer wat hom later sou kenmerk. Hy lê belydenis van geloof af in 1842 voor eerwaarde Daniël Lindley en toe hy maar 16 jaar oud was, word die plaas Waterkloof naby Rustenburg aan hom toegeken. Dit sou syne bly vir die res van sy lewe. As jong man was hy 'n kranige atleet en was daar niemand wat vir Paul Kruger kon weghardloop nie. In 1845 het hy in 'n onderonsie met 'n renoster 'n tweede skoot moes afvuur wat die voorlaaier laat bars het en het sy linkerduim in die slag gebly. Hy moes trouens 'n deel daarvan self met sy mes wegsny! Jare later sou hy in Portugal ook 'n tand wat hom las gegee het, gewoon met 'n knipmes uitsny... Sy eerste vrou is met die geboorte van haar kind in Januarie 1846 oorlede en trou hy later met Gezina du Plessis wat 'n niggie van sy eerste vrou was. Gedurende hulle getroude lewe het hulle sestien kinders gehad.

In 1854 het hy die liggaam van sy gestorwe vriend Piet Potgieter in 'n heldhaftige poging weggedra uit 'n grot waar dit duidelik sou wees dat die swart aanvallers hierdie liggaam sou vermink. 'n Mens lees ook van Kruger wat in ongeveer 1857 'n keerpunt in sy innerlike lewe deurgemaak het wat 'n bepaalde blywende invloed op sy persoonlikheid gehad het. Daar vind 'n godsdiensverdieping plaas en sou hy vir die res van sy lewe besondere nadruk plaas op die handhawing van wet en orde en die ontlening daarvan in die godsdiens. Aan hom is die veeleisende taak opgelê om verskillende kommando's te lei teen die oproerige swart stamme. Dikwels het hy vir dae lank in die saal van 'n perd gesit sonder enige rus en was hierdie 'n ondankbare werk waarvoor hy ook baie gekritiseer is. Hier maak 'n mens dan ook kennis met die laksheid van die Afrikaner, ook in daardie jare; en dit te midde van 'n sterk leier soos Paul Kruger. Al hierdie kommando-aktiwiteite het ook tot gevolg gehad dat sy persoonlike sake daaronder gely het en was dit vir hom 'n voortdurende kwelling en 'n bron van kommer.

Paul Kruger het 'n sentrale rol gespeel in die daarstelling van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en lees 'n mens van die feit dat Paul Kruger melding gemaak het van sommige "heerlike Gesange" maar ook van ander met 'n "verkeerde suurdeeg". In 1864 lei hy met sukses die staatsleër teen die sogenaamde volksleër in die geveg by die Krokodilrivier wat as 'n sogenaamde burgeroorlog bekend gestaan het, maar welke een van die onsmaaklikste episodes was in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek.

Kruger moes toesien hoedat elke keer as burgers opgeroep is op kommando, daar slegs enkeles opdaag en was dit ook die geval in 1867 toe hy opgeroep is en die kommando gelei het te Kranskop by die Nylrivier naby Nylstroom toe slegs vierhonderd van die tweeduisend burgers wat opgeroep is, opgedaag het. Van hierdie vierhonderd was daar boonop heelparty wat eenvoudig weggeloop het en nie langer kans gesien het vir die stryd wat voorgelê het nie!

Kruger was op die ouderdom van 46 jaar nie geskik geag as leier van die republiek nie, maar is daar 'n keuse uitgeoefen ten gunste van Burgers, predikant van Hanover in die Kaapkolonie. Kruger was 'n fel teenstander van Burgers maar het wel, toe Burgers as president ingesweer is, vir hom gesê dat alhoewel hy verkeerde godsdienstige opvattings huldig, hy deur die meerderheid verkies is en Kruger as 'n goeie republikein, hom aan die uitspraak van die volk onderwerp in die hoop dat hy later sal kan insien dat Burgers gelowiger is as wat hy gedink het, in welke geval hy hom van harte sou gelukwens! Op hierdie stadium van sy lewe het Kruger dan ook besluit om sy toegewyde oorgawe aan sy werk vaarwel te roep en sy volle aandag aan sy persoonlike belange te wy.

Die res van die verhaal van Burgers se bewind is bekend en sou Paul Kruger eers na die anneksasie in 1877 weer op die voorgrond tree toe hy aangewys is om as deel van die deputasie die saak van die Republiek in Engeland te gaan stel. Kruger het dan ook verklaar dat die land as't ware in die hande van die Engelse geval het deur verraad, maar ook as gevolg van inwendige verrotting. Kruger was egter van mening dat hierdie anneksasie onwettig was aangesien die meerderheid van die bevolking nie daartoe toegestem het nie; daarom was die owerheid volgens hom onwettig. As gevolg van Kruger se onvermoeide ywer is daar dan ook memories opgestel waarin die oorgrote meerderheid van die burgers aangedui het dat hulle teen die anneksasie was. Die deputasie in Engeland het dan ook gestel dat die Republiek teen die sin van die inwoners geannekseer is, maar is hulle meegedeel dat dit onmoontlik was om die anneksasie te herroep.

Alhoewel baie stemme opgegaan het vir 'n gewapende opstand het Kruger tot kalmte gemaan en was hy oortuig daarvan dat daar nie genoeg vasberadenheid was om met 'n gewapende botsing voort te gaan nie. Hierdie verset sou egter groei totdat daar by Paardekraal tussen agt- en tienduisend mense byeen was. Nieteenstaande uitnodigings aan ander predikante het slegs dominee van Warmelo van die Hervormde Kerk sy opwagting by Paardekraal gemaak en het dit vir die volk gelyk asof die kerk sy aangesig van die volksaak afgewend het. Op 13 Desember 1880 het Paul Kruger dan ook die bekende woorde geuiter, naamlik: "In die stem van die volk het ek die stem van God gehoor, die Koning van die volke." Hierdie woorde sou later in sy loopbaan talle kere soos 'n refrein weerklink.

Ook in Kruger se tyd was daar onbekwame leiers. Thomas Burgers was een. Piet Joubert en MW Pretorius het ook nie aan die verwagtinge voldoen nie. Kruger het uitgetroon bo hierdie persone. 'n Ander faktor wat in hierdie tyd (1877-1881) die saak van die Boere belemmer het, was verraaiers wat die Britte in kennis gestel het van al die Boere se bewegings. Swak leierskap en verraad loop ongelukkig, soos al die goeie dinge, soos 'n goue draad deur ons ganse geskiedenis.

'n Brief van die Transvaalse regering gedateer 7 Februarie 1881 het die situasie van daardie tyd baie goed opgesom. Dit maak melding van leuenagtige voorstellings wat Transvaal hulle soewereiniteit gekos het en van vier jaar van uitputtende geduld en vrugtelose onderhandelinge. Vir die Transvalers was daar nouliks 'n keuse te maak tussen twee veragtelike dade, naamlik die anneksasie van hulle Republiek en die behandeling van hulle rebelle. Die brief sluit af om te sê dat hulle hulle saak met vertroue ooplê vir die hele wêreld. Hetsy hulle oorwin of sterf, die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke en dan sal dit wees van die Zambesi tot aan Simonsbaai. Hierdie stuk is onderteken deur Kruger en kan as een van die gevoelvolste uitings van die gees van nasionalisme wat op daardie stadium onder die Afrikaanse volk vaardig was, beskou word.

Kruger het steeds geweld as opsie probeer vermy. Die gebeure daarna sou egter die Boere tot ander metodes dwing en die oorwinning by Majuba die smaad van Boerelafhartigheid uitwis, alhoewel dit die Britte met wraak besiel het. Dit het egter die Afrikaner se selfvertroue herstel. In die vredesonderhandelinge wat gevolg het, het Jorrisen en Kruger aangedring op 'n skriftelike ooreenkoms, alhoewel Joubert in sy naïwiteit hardop aangedring het dat die vereisde dokument onnodig was! Dit is tydens hierdie gebeure dat Kruger Engels gepraat het; een van weinige kere. Sy woorde aan die persoon wat die vergadering wou verlaat was: "Stop that man!". Dit is deur die toedoen van Kruger dat die Konvensie van Pretoria later daardie jaar op 3 Augustus 1881 te Pretoria onderteken is en wat Transvaal se beperkte soewereiniteit herstel het. Hierdie gebeure het Kruger al hoe wantrouiger teenoor die Britte gelaat en in die besonder wat hulle bedoelings met die Boere was.

Ná hierdie gebeure sou Kruger as leier nie meer sy gelyke in die Transvaal hê nie. Hy het dan ook dadelik stappe geneem met die hervorming van die onderwys op 'n Christelik-nasionale grondslag en het ds SJ du Toit vir hierdie doel betrek. Toe Kruger later daardie jaar by die Geloftefeesvieringe te Paardekraal die volk toegespreek het, het hy gesê dat die drukte oor die volk gebring is omdat die Bybel uit die skool geneem is. Aan die einde van 1883 verslaan Kruger vir Piet Joubert met 'n stemtotaal van 3431 teenoor 1171 en word hy ingesweer as president. In September 1883 het 'n deputasie weer na Brittanje vertrek en het Kruger onder andere 'n toespraak in die Paarl gehou op pad na Kaapstad. JS Marais, 'n lid van die Wetgewende Vergadering het Kruger geprys dat hy as helder hoof en met skerpsinnige brein die Vryheidsoorlog gelei het en die belangrikheid van sy politieke stryd beklemtoon. Volgens Marais was Kruger bekend en bemin deur die lengte en breedte van die land. Kruger het Marais bedank en gesê dat sy land bitter gely het onder die leuenpropoganda, maar dat die waarheid geseëvier het en dat niemand meer die leuens van die anneksasie glo nie. Kruger het gesê dat hy met verlange uitsien na die tyd dat alle state van Suid-Afrika sal besef dat die heil en voorspoed van die een ook die heil en voorspoed van die ander moet beteken. Almal moet dit leer en saamwerk in belang van die hele land. Kruger het dit ook tydens hierdie geleentheid beklemtoon dat al die state, en met spesifieke verwysing dan na Kaap en Natal, 'n gemeenskaplike naturellebeleid moet hê sodat dit die einde van al hierdie oorloë met die naturelle kan beteken. Kort daarna het Kruger opnuut gewag gemaak van die eenheidsideaal en selfs gepraat van 'n unie wat van die Kaapkolonie tot Delagoabaai en van Natal tot die Zambesi sou strek. Hy het melding gemaak daarvan dat een belang - die welsyn van Suid-Afrika - deur almal vooropgestel sal moet word. Daar is diegene wat beweer dat dr. Verwoerd iets anders voorgestaan het as wat Kruger voorgestaan het. Hierdie opmerking van Kruger is egter afdoende bewys dat hierdie praatjies bog is. Kruger en Verwoerd het dieselfde ideaal nagestreef, naamlik 'n verenigde Afrikanerdom in die ganse Suid-Afrika.

Tydens die samesprekings in Engeland het Robinson Kruger tot leuenaar wou maak en het Kruger hom byna te lyf gegaan en moes Robinson Kruger om verskoning vra vir die leuen wat hy verkondig het oor Kruger. Alhoewel nie volkome suksesvol nie, het hierdie deputasie se samesprekings tot gevolg gehad dat die Konvensie van Londen op 27 Februarie 1884 onderteken is en is die naam, die Zuid- Afrikaanse Republiek, weer formeel deur Brittanje erken.

In die res van Europa is Kruger en die res van die deputasie soos helde ontvang. So byvoorbeeld het elke skoolkind in Nederland geweet wie Paul Kruger is en het professor WM Gunning in 'n welsprekende rede verklaar dat 'n deel van die glans van die Transvaalse geskiedenis op die ou moederland afgestraal het. Interressant is dat dr. Abraham Kuyper tydens hierdie besoek van die deputasie aan Nederland taamlik swartgallig oor die toekoms van die Nederlandse volk gepraat het en gemeen het dat sy volk geen groot roeping meer het nie.

In hierdie tydperk sou Kruger die bekwame dr. WJ Leyds as Staatsprokureur aanstel. Leyds was Engels, Frans, Duits en Nederlands magtig en het 'n voortreflike regskennis gehad. Hy was egter nooit populêr nie. Tydens sy besoek aan Spanje het Kruger ook 'n stiergeveg bygewoon en dit afstootlik gevind. Wat hom egter verbaas het, was die gedrag van die vrouens wat in ekstase geraak het oor wat vir hom barbaarse wreedheid was! SJ du Toit het 'n geniale aanleg en sprankelende persoonlikheid gehad wat sy omgewing geïnspireer het en hy het baie gedoen vir die onderwys in die Transvaal. Hy het egter 'n oordrewe opinie van homself gehad en algaande het daar 'n spanning tussen Leyds en Du Toit ontwikkel.

Dit koms van goud sou vir Suid-Afrika beide 'n seën en 'n vloek wees. Die vloek was daarin geleë dat al wat fortuinsoeker en bedrieër was, sy weg na Johannesburg gevind het. In hierdie proses sou die geldmagte dan ook poog om die Republiek te vernietig.

In Desember 1886 het Kruger weer die rede by die Paardekraal- Geloftefees gehou. Hy het gesê dat alhoewel hy geen teologiese opleiding geniet het nie, en hy nie skaam was om sy onkunde te bely nie, hy in die uitwendige sowel as die inwendige kerk van die Here die genade en die Gees van die Here leer ken het. Uit die binneste van sy siel het hy lus gehad om die Here te dien soos hy hom aan die menslike geslag geopenbaar het en om daarin te kan wandel en handel. Daarvoor moes die Drie-enige God as enigste gids aangeneem word. Die rede wat Kruger by hierdie geleentheid gelewer het, het van 'n toelogiese kennis en insig gespreek wat vandag by die meerderheid van ons predikante afwesig is. Hy het voortgegaan deur te sê dat nes Israel sy volk ook uitverkore is tot 'n roeping. Die Gelofte moes vir die nageslag lewendig gehou word soos God ook aan Moses beveel het. Hy het mense opgeroep om te waak teen die stroom van vreemdelinge in hulle land en dat hulle nie van die regte spoor weggevoer word nie, maar die weg van die Here moet soek.

Vir Kruger was die onafhanklikheid en vryheid van sy volk kosbaar. Hy het dit gesien as die eersgeboortereg van die volk wat as 'n dierbare kleinood bewaar moet word. Hierdie standpunt van Kruger het hom bemind onder sy volk gemaak en verseker dat hy telkens as president herkies is. Kruger was ook van mening dat Afrikanerkinders nie langer in die buiteland moes studeer nie en het gepleit dat, al is daar slegs een professor, daar 'n instelling in Pretoria tot stand moes kom en is 20 000 pond vir die doel bewillig. Hy was van mening dat die eerste leraar 'n professor in die regte moes wees sodat toekomstige regsgeleerders self in die Transvaal opgelei kon word. Vir hom moes hierdie persoon 'n man van hoogste geleerdheid wees, maar ook 'n kind van God. 'n Regsgeleerde moes volgens hom ook in die geloof opgevoed gewees het. In hierdie doel kon Kruger nie slaag nie omdat daar nie veel hulp uit Nederland gekom het met die aanstelling van so 'n persoon nie.

Kruger wou ten alle koste 'n spoorverbinding met Delagoabaai hê ten einde die onafhanklikheid van die Republiek verder te versterk. In 'n gesprek met Rhodes oor die kwessie het Rhodes opgemerk dat Delagoabaai eenvoudig van die Portugese gevat moes word! Kruger se antwoord was dat 'n vloek op hom rus wat goed op so 'n manier verkry.

In die presidentsverkiesing van 1893 het Kruger, veral danksy die steun wat lidmate van die Gereformeerde en Hervormde Kerk vir hom gegee het, weer die paal gehaal, alhoewel Joubert die keer met 'n skamele 845 stemme verslaan is. In sy intreerede het Kruger vermeld dat 'n persoon wat onverskillig teenoor sy taal is, ook onverskillig teenoor sy voorouers en teenoor die Bybel is en naderhand ook teenoor sy godsdiens en sy volk.

Die teenstand wat vanuit die geledere van die geldmagte teen Kruger gemonster is, het algaande al hewiger geword. Na die politiek van die Transvaal is verwys as Krugerisme, 'n samevatting van alles wat boos is. Die plan om die republiek te vernietig het begin posvat en 'n propagandaveldtog is van stapel laat loop om Kruger as 'n ongewenste persoon te beskou. Verskeie onderduimse aktiwiteite is dan ook beplan en daar is groot gewag gemaak van die sogenaamde griewe van die buitelanders. Met die berugte mislukte Jameson-inval het Kruger nogeens bewys dat hy 'n staatsman van formaat was toe hy nie voor die geroep om wraak geswig het nie en die vier ter-dood- veroordeeldes begenadig het. Hierdie stap deur Kruger het sy populariteit die hoogte in laat skiet.

Kruger was ook 'n emosionele mens wat somtyds, wanneer sy gemoed vol geword het, gehuil het. Een so 'n geleentheid was tydens die ingebruikneming van die Gereformeede Kerk te Potchefstroom in 1897. Die geskil tussen Kruger en hoofregter Kotze is iets wat 'n afsonderlike artikel regverdig en nie binne die bestek van enkele sinne afgehandel kan word nie, juis vanweë die eensydigheid van artikels wat elders (en selfs onlangs) verskyn het en waarin ten onregte beweer word dat Kruger nie respek vir die onafhanklikheid van die regbank getoon het nie. Wat wel hier gekonstateer kan word, is dat Kotze, alhoewel in baie van sy sienings korrek, se optrede onvanpas was en hy homself 'n status aangematig het wat definitief nie te vereenselwig is met dié van 'n regter nie. Dit is deur talle ingesien, waaronder later ook regter Gregorowski, Kotze se opvolger, iemand wat hom aanvanklik by Kotze geskaar het.

In die jare wat sou volg, sou die werklike oogmerk van Brittanje met die republiek duidelik na vore tree. So het Milner dan ook verklaar dat hy vasberade is om die heerskappy van die Afrikanerdom te breek en is die griewe van die uitlanders uitgebuit vir daardie doel. Die atmosfeer is boonop vergiftig deur 'n stelselmatige kampanje van leuens, uittarting en beledigings. Alhoewel die verblyfkwalifikasie vir die stemreg van 14 jaar tot 9 jaar verminder sou word, het die uitlanders steeds op 5 jaar aangedring. Kruger het deur dit alles gesien en verklaar dat dit die onafhanklikheid is wat hierdeur geskend sou word, maar was te midde van alles nog steeds bereid om die verblyfkwalifikasie tot 7 jaar af te bring. Kruger het ná die onderhandelinge in Mei 1899, waartydens geen ooreenkoms met Milner bereik kon word nie, die hele nag deur gehuil en gebid. Hy het dan ook besef dat die enigste alternatief oorlog sou wees en het gemeen dat geen regering met enige selfrespek hom by so 'n brutale uitdaging sonder teenweer kon neerlê nie. Op 'n vraag van Abraham Fischer aan Milner waarmee hy tevrede sou wees, het hy geantwoord dat wat Kruger ook toegee, hy nie daarmee tevrede sal wees nie, hy sal altyd meer vra. Sommige wil beweer dat twee jaar, die verskil tussen die aanspraak van die buitelanders en die toegewing van Kruger, die verskil tussen oorlog en vrede was. Dit word besweer deur Milner se mededeling aan Fischer.

Kruger het by pres M.T. Steyn gepleit dat daar geen verdere uitstel van die Vrystaatse besluit oor toetrede tot die geledere van Transvaal moet wees nie, aangesien hy ingesien het dat Brittanje hulle elke dag meer en meer gereed gemaak het vir oorlog. Hy het verdere uitstel as 'n misdadige stap gesien. Op 2 Oktober 1899 het Kruger in die Volksraad gesê dat hy hom volkome in God se hande plaas ten aansien van die naderende oorlog. Kruger se ouderdom het hom weerhou van aktiewe deelname aan die oorlog, maar hy het 'n verbasende praktiese kennis en insig geopenbaar gedurende die Anglo-Boereoorlog. Hy kon lafhartigheid nie verdra nie. By een geleentheid het 'n vlugtende kommandant Kruger wou groet maar is hy deur Kruger toegesnou dat Kruger nie aan die hand van 'n lafaard vat nie. Op 'n stadium het Kruger selfs voorgestel dat die voorste vlugtelinge met perde en al doodgeskiet moes word. Met die dood van Piet Joubert het Kruger opgemerk dat hy iemand verloor het wat langs hom gestaan het sedert hulle albei jongelinge was en dat hy hom as 'n troue generaal en 'n ware Christen beskou het.

Kruger se gesondheid sou algaande agteruitgaan en hy is met die skip, die Gelderland, na Europa. Na die oorlog en op 14 Maart 1904 sou Steyn en Kruger mekaar die laaste keer sien. In Mei 1904 sou die bekende boodskap van Kruger die lig sien waarin die volk aangemaan is om, wanneer hulle die toekoms skep, nie die verlede uit die oog te verloor nie en waarin hy hulle opgeroep het om weer in eenheid en eendrag die stryd voort te sit. Op 14 Julie 1904 is Kruger oorlede. Tydens sy begrafnis in Pretoria in Desember 1904 was daar bykans 20 000 mense teenwoordig.

Te midde van alles wat oor Paul Kruger gesê kan word, bly die feit staan dat daar waarskynlik nie 'n Afrikaner was wat meer gedoen het vir die selfrespek van sy volk en die aansien van sy land in die wêreld as hy nie. In die heldegalery van die Afrikanerdom troon 'n man uit wat die wêreld verstom het met sy durf en sy eie mense geïnspireer het met sy moed. Dit was Paul Kruger.

Vertel vir u kinders van hierdie reus. En wees dankbaar vir wat hy vir u volk gedoen het. Want daar was maar een soos hy.

Boontoe