chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Koos Kombuis se Oedipale frustrasie

Dan Roodt

Koos Kombuis se woede-uitbarsting op Litnet vind ek nogal interessant. In die eerste instansie meen ek nie ek is die oorsaak daarvan nie. Ná alles kan hy tog nie soveel aanstoot neem oor enige van my menings nie. In sy eie woorde is my opinies "...belaglik, ...naïef, en ... beledigend vir die gemiddelde denkende persoon se intelligensie." Vergeleke met my is Pieter Mulder 'n intellektuele reus en Marthinus van Schalkwyk 'n tweede Winston Churchill.

Om te sê dat dit hier 'n geval is van "skiet die boodskapper" verklaar nog nie die ongekende felheid van sy uitbarsting nie, kompleet met 'n pleidooi dat ek as't ware in die tronk gegooi behoort te word. Terwyl FW de Klerk, Roelf Meyer, Robert McBride en die res skotvry daarvan afkom. Hy is so kwaad dat hy selfs Jean-Jacques Rousseau met Voltaire verwar. Dit was nie Rousseau wat gesê het, "ek verskil met wat jy sê, maar sal jou reg om dit te sê tot die dood toe verdedig" nie, maar Voltaire.

Uiteraard kan 'n mens 'n hele Freudiaanse analise van Koos Kombuis se belydenis doen. Die hele stuk spreek van 'n Oedipale frustrasie. Hy soek na 'n vader teen wie hy kan rebelleer, maar sien nie so iemand nie. Hy voel verwese in die letterlike sin waarin Pim Fortuyn dit gebruik in sy De verweesde samenleving, waar hy verwys na die sogenaamde "babyboomers" wat sou rebelleer teen hul vaders, maar geen weerstand van hulle sou verkry nie, waarna die hele samelewing as't ware "vaderloos" geword het omdat die seuns self nie meer weet wat dit behels om "vader te word" nie:

"De zonen van toen hebben collectief geweigerd vader te worden. Zij zijn slechts vader geworden in die procreatieve betekenis die dit begrip aankleeft. In filosofisch, sociologisch, cultureel en religieus opzicht hebben ze echter geweigerd de rol van de vader op zich te nemen. De samenleving is er een geworden van wezen, zonder leiding, zonder geborgenheid, zonder doel. De zonen van toen wacht de zware taak vader te worden, opdat de verweesde samenleving haar richting en dynamiek zal vinden." (De verweesde samenleving. Rotterdam: Karakter Uitgevers, 2002, bl. 18)

Koos Kombuis is so 'n "seun van toe". Nou is hy woedend, en nogal vir my. Maar ek is nie sy surrogaatvader nie. Eintlik het ek niks te make met die rede vir sy gevoel van aggressie nie. Iewers het iets in sy lewe verkeerd geloop, of miskien in sy land, daardie fiksie wat hy "Suid-Afrika" noem. Onder Afrikaners kan ons sekerlik praat van "die vaders wat lieg". Eers het die Nasionale Party en die Broederbond vir ons gelieg dat ons toekoms veilig is want ons het apartheid en tuislande en munisipale selfregering vir stedelike swartes, wat ons gaan vrywaar van 'n swart oorname iewers in die toekoms. Rondom die laat-tagtigerjare besluit dieselfde vaders, onder andere mense soos Willie Esterhuyse en Wimpie de Klerk waarteen Chris Louw sy Boetman-brief geskryf het, dat dit alles 'n groot fout was. Eintlik was die nagmerrie van swart meerderheidsregering waarteen ons jare lank gewaarsku is nie 'n nagmerrie nie, maar veel eerder 'n heerlike droom, een van daardie drome waar mens liggies rondsweef en jou by een of ander sjampanje-en-kaviaar-partytjie bevind. Skielik word die vorige probleem, dié van 'n moontlike swart oorname iewers in die toekoms, die oplossing. En siedaar! ons ontvang 'n nuwe stel slagspreuke. In die plek van "afsonderlike ontwikkeling" en "eiesoortige ruimtes" en "selfbeskikking vir alle volkere" kry ons toe die "multikulturele samelewing" en "word deel van die meerderheid" en "wees 'n Suid-Afrikaner" en dergelike meer.

Op 'n manier neem ek Koos Kombuis glad nie kwalik vir sy uitbarsting nie, net so min as wat ek Chris Louw verkwalik het omdat hy gal gebraak het teen Willem de Klerk. Ek dink net hy is baie dommer as Chris Louw, want hy kies heeltemal die verkeerde teiken. Hy is ver buite die kol. Ek is nie sy vader nie, nóg letterlik, nóg figuurlik. Hy kon vir Vorster of PW verantwoordelik gehou het vir apartheid, maar vir die nuwe toestand van geweld, wanorde, misdaad en verval wat ons nou beleef, moet hy vir FW, Roelf en Willie Esterhuyse blameer. Op 'n manier het die Afrikanervaders hom twee keer belieg, een keer oor die utopie wat sou aanbreek as al die tuislande nou net mooi begin ontwikkel, en die tweede keer oor die hemel op aarde wat sou neerdaal met 'n swart regering binne die multikulturele samelewing. Beide blyk nou groot illusies te gewees het. Soos die kind wat uitvind dat Kersvader of die tandmuis nie bestaan nie, is Koos Kombuis nou boosaardig kwaad omdat hy om die bos gelei is. Dis sekerlik te verstane. Maar dis ook baie onvolwasse; iewers het hy vasgehaak by die vroeë puberteit. Koos Kombuis, die ewige seun.

Ek dink dit sou 'n fout wees om Koos Kombuis se smaadskrif - 'n argument sou mens dit nie kon noem nie - te interpreteer as 'n politieke stelling. Hy sê self dat hy nie gaan stem nie, want hy weet nie vir wie om te stem nie:

"Ek het ook nie geregistreer vir die komende verkiesing nie - nie omdat ek nie glo in die demokratiese proses nie, maar omdat ek eerlikwaar nie weet vir wie om te stem nie; vir my is 'n wegblystem, veral met die huidige stand van ons opposisie, ook 'n statement."

Hierop brei hy egter nie uit nie. Wat wil hy sê deur nie te gaan stem nie? Oor my eie standpunt is hy bloot van mening dat ek "kak praat". Waarom, sal altyd vir ons 'n duistere geheim bly. Dit mag 'n verdere rede vir Koos Kombuis se woedebui wees: hy weet nie meer wat aangaan nie. Trouens, sy hele reaksie jeens my, 'n onbetrokke buitestaander wat niks met sy probleem te make het nie, verteenwoordig 'n byna volmaakte illustrasie van Seligman se "aangeleerde hulpeloosheid". In daardie opsig tree Kombuis soos 'n tipiese eietydse Afrikaner op: hy is hulpeloos, vuisvoos, en al te veel kere "geskok" om enigsins te dink dat hy aan sy lot kan ontsnap. Alles rondom hom verteenwoordig 'n fait accompli waaraan niemand iets kan verander nie, want dit sal net tot groter geweld (lees: verdere pyn) lei. Interessantheidshalwe plaas ek hier 'n stuk wat op die internet te vinde is waarin 'n beskrywing van Seligman se eksperiment gegee word:

"A basic experiment illustrates the nature of the origin of helplessness: A "naive" dog (one that hasn't been specially treated or conditioned) is placed in a "shuttle-box" (a box with two compartments, separated by a barrier a dog can jump). Electric current is applied to the compartment with the dog, shocking it. The dog soon jumps across the barrier into the other compartment, escaping the shock. A second dog, secured in a hammock, is "conditioned" with electric shock . This dog can shut off the current by pressing its nose against a panel. It quickly learns to do this. When this dog is placed in the shuttle-box and current applied, it also soon jumps across the barrier, escaping the shock. A third dog is also conditioned in the hammock. But this dog has no way to escape the shock. When it is placed in the shuttle-box and the current applied, it lies down and whines, enduring the shock.

(Note that in the above paragraph, dog one is shocked in a shuttle-box, dogs two and three first in a hammock then in the shuttle-box. It may be necessary to read the previous paragraph several times so you understand the mechanics of the experiment.)

According to Seligman's theory, the third dog acquired "learned helplessness." In the hammock it learned that no action it could take would change the outcome of being shocked. It learned that the outcome was independent of its actions - and it generalized this "conclusion." The dog was affected in three important aspects: motivationally, cognitively, and emotionally. In the shuttle-box the third dog was not sufficiently motivated to persist in finding a way to escape the shock. The cognitive link between action and consequence (outcome) had been severed in the dog's brain as a result of the conditioning in the hammock. And the dog had become more prone to anxiety.

Many (if not most) humans have to some extent been conditioned like the third dog. We were all helpless babies... and human babies remain relatively helpless for a much longer time than the babies of most other mammals... Many of us experience a variety of situations where we are helpless to influence certain outcomes - exemplified by phrases like "nothing is as certain as death and taxes."

Learned helplessness tends to be a generalized phenomenon. When a dog or human "learns" that there is no connection between action and outcome in a particular domain, this is often generalized to other areas of life...

Helplessness, then, can be recognized by:

1) Lack of motivation, listlessness. 2) Cognitive breakdown between actions and outcomes - inability to link actions to the consequences they bring about - also manifests as blaming others or external factors for your situation, condition, and outcomes. 3) Negative emotions: boredom, anxiety, frustration, anger, hopelessness, depression (sometimes suicidal)."

Kombuis waarsku ons daarteen om te dink dat ons enigiets aan ons situasie kan doen, terwyl die voor die hand liggende ding natuurlik is om eenvoudig, soos die eerste en tweede honde in Seligman se eksperiment, nee dankie te sê vir die skokke in die kas ((lees: die nuwe Suid-Afrika) waarin ons geplaas is. Hierdie skip, met sy misdaad, wanorde, verval van gesondheid- en onderwysstandaarde, is besig om te sink, en ons moet daarvan afkom. Dis só eenvoudig. Spring na vryheid in die ander kas, wat ons die Afrikanerkas kan noem, verkieslik dan 'n eie gebied rondom Pretoria wat ons kan beveilig teen moord en doodslag, en waar ons steeds ons taal, kultuur en standaarde kan handhaaf.

Maar vir Kombuis en baie ander Afrikaners, wat deur die Broeders en die herhaalde mislukkings van die onlangse Afrikanerpolitici tot aangeleerde hulpeloosheid oorreed is, is so iets te pynlik om aan te dink. Dis beter om die huidige pyn (moorde, misdaad, taaldiskriminasie, regstellende aksie, gate in die paaie, noem maar op) te verduur as om te probeer uitspring.

Maar wat het ons om te verloor? Ek dink nie 'n uitspringaksie sal tot geweld lei nie, inteendeel. Die swart nasionaliste in die huidige regering, wat die ongelooflike meevaller van Afrika se rykste staat van FW en Roelf op 'n skinkbord ontvang het, sal slegs bedreig voel indien ons "Suid-Afrika" by hulle wil afvat. Dis juis wat ons nie wil doen nie. Ons wil net wegkom uit Suid-Afrika, sonder om na Australië te emigreer. Ons soek 'n klein stukkie grond, 'n stad of 2,5% van die landoppervlak waar ons nie hoef mee te doen aan die Suid-Afrikaanse leefwyse nie en dit veral nie hoef te ondergaan nie. Dinge soos misdaad, verengelsing, munisipale telefone wat nie beantwoord word nie, hospitale waarheen kinders gaan vir behandeling en MIV-positief uitkom, rassekwotas in rugby en aan universiteite, ens.

Miskien sal die ANC en die res van "Suid-Afrika" nog dankbaarder wees om van ons ontslae te wees as ons van hulle. Die Engelse sal nie meer gepla word deur "dumb Dutchmen" wat hulle geselskap bederf nie, en daar sal nie meer "rassiste" wees wat die lewens van swartmense hel op aarde maak nie. Dis waarom ek daarna verwys as 'n "wen-wen-situasie". Hulle behou die land en sy rykdom, en ons verkry ons vryheid, tesame met veiligheid, kulturele outonomie en alles wat daarmee saamgaan. Waarom is dit nie in 1994 beding nie? Maar ons het sulke hopelose leiers gehad en selfs die regse politici het voor die ANC so met mekaar baklei toe hulle 'n volkstaat wou bekom, dat die hele ding deur die mat geval het.

Tien jaar gelede was die lewe in "die wêreld se jongste swart republiek" soos Mbeki onlangs in Port-au-Prince, Haïti, na ons land, ekskuus, hulle land verwys het, nog 'n teoretiese probleem. Selfs Zimbabwe het nog goed gelyk. Net Mosambiek en Angola was in hul kanon in, maar iemand wat nog gedink het dat Suid-Afrika dalk aan die bekende Afrikapatroon gaan ontkom, kon nog die voordeel van die twyfel gegee word. Nelson Mandela het sy bes gedoen om redelik te lyk, anders as Mbeki. Tien jaar later is ons egter heelwat wyser oor swart republieke, hetsy die wêreld se jongste (hulle noem dit voorlopig nog "Suid-Afrika"), hetsy die oudste (Haïti). Binnekort gaan Jean-Bertrand Aristide welkom wees in Suid-Afrika, terwyl ons lankal weet dat Afrikaners nie meer hier welkom is nie. Tydens sy Oliver Tambo-lesing twee jaar gelede het pres. Mbeki dit uitgespel, toe hy ons "die setlaars wat versuim het om te vertrek" genoem het.

Nou ja, ek stem saam met hom: al wat die setlaars soek, is 'n geleentheid om te vertrek! Ons sal steeds in die omgewing wees, maar sal niemand pla nie. Ons sal trouens die omgewing veel minder besoedel as die nie-setlaars met hul rokerige nedersettings en plakkerskampe wat menslike afval in die riviere laat beland. Suid-Afrika sonder Afrikaans sal 'n veel beter plek vir almal wees, en ek kan al klaar die juigkrete in Engelse geledere hoor . Dennis Beckett sal nog 'n boek skryf om sy dankbaarheid te betuig dat ons die logiese ding gedoen het, en dat ons opgehou het met die "extraordinariness of shoving Afrikaans down black throats" soos hy 'n week of wat gelede nog in die Citizen skryf. Terwyl hy wat Dennis is saam met sy swart vriende Engels in ons keelgate en ander openinge inforseer oral waar hulle kan.

Vaarwel, Dennis, vaarwel, Thabo! Die adieu sal wedersyds aangenaam wees.

Koos Kombuis mag saam met die Oegandese dr. Catherine Hoppers van die RGN stem dat "Afrika nie regtig arm is nie; dis net statistieke wat deur witmense uitgedink is," maar ek kan hom verseker dat daar min of meer konsensus in die res van die wêreld bestaan dat Afrika nie eintlik veel laer kan daal as wat dit reeds gedaal het nie. MIV-Vigs, hongersnood, burgeroorloë in die Kongo, state wat opgehou het om te bestaan, Zimbabwiese grondhervorming, slegs 27% van leerlinge op die kontinent wat laerskool voltooi, 'n totale gebrek aan gesondheidsdienste, dit alles het nou al by die meeste deskundiges geregistreer.

Miskien is ons almal "belaglik, ...naïef, en ... 'n belediging vir die gemiddelde denkende persoon se intelligensie," maar in die onlangse verlede het sowel die liberale Amerikaanse reisskrywer, Paul Theroux, as die Afrikahoof van die mees invloedryke Franse koerant, Le Monde, Stephen Smith, dieselfde bevind in hul onderskeie boekpublikasies. Theroux skryf oor Afrika:

"Africa is materially more decrepit than it was when I first knew it [forty years ago] - hungrier, poorer, less educated, more pessimistic, more corrupt, and you can't tell the politicians from the witch-doctors. Africans, less esteemed than ever, seemed to me the most lied-to people on earth - manipulated by their governments, burned by foreign experts, befooled by charities, and cheated at every turn. To be an African leader was to be a thief, but evangelists stole people's innocence and self-serving aid agencies gave them false hope, which seemed worse. In reply, Africans dragged their feet or tried to emigrate, they begged, the pleaded, they demanded money and gifts with a weird sense of entitlement..." (Dark star safari - overland from Cairo to Cape Town, bl. 1)

Stephen Smith is van mening dat ons moet aanvaar dat Afrika 'n "agterstand" het, omdat dit "'n kontinent is wat nóg die wiel nóg die wa uitgevind het, wat nooit trekdiere gebruik het nie en steeds in gebreke bly om landbou-besproeiing toe te pas, selfs in riviergebiede".

Ook in Suid-Afrika is die skrif aan die muur. Hier by ons word presies dieselfde beleid toegepas as elders in Afrika: die plase, universiteite, maatskappye, aandeleportefeuljes en staatsinstellings wat deur die blankes oor 350 jaar opgebou is, moet nou geplunder word in die naam van "grondhervorming", "regstellende aksie", "swart bemagtiging" en dergelike meer, alles geregverdig deur vae verwysings na "kolonialisme en apartheid". Net soos die res van Afrika hul toestand blameer op "kolonialisme", dig swart (en dikwels Engelse) Suid-Afrika swart armoede toe aan die bose dade van die Afrikaners in die verlede. Natuurlik word daar nooit ingegaan op die besonderhede nie, en die statistieke oor tuislandbesteding en uitgawes op swart gesondheid en opvoeding het so te sê al verlore gegaan, maar hierdie mite word nog elke dag in Suid-Afrika verkondig. Tien jaar ná die einde van apartheid is daar steeds net 2000 swart matriekleerlinge wat jaarliks wiskunde slaag (al ontvang hulle 5% ekstra omdat hulle kastig nie die vraestel in hul moedertaal skryf nie, in weerwil van die feit dat vele al Engels by die huis praat), maar dis alles apartheid se skuld.

Suid-Afrika is 'n veel ryker land as ander in Afrika, en dit gaan 'n paar jaar langer neem om sy rykdom te plunder, maar ek is bevrees die uitkoms gaan presies dieselfde lyk. Die vet karkas van Johannesburg met sy aandelebeurs, hoofkantore van maatskappye, ens., gaan die swart élite van Suid-Afrika 'n ruk lank besig hou, daarom is dit nóú die tyd vir Afrikaners om onder hul beheer uit te kom. Ons kan nog steeds 'n deel van die infrastruktuur rondom Pretoria red, en 'n stukkie aarde vrywaar teen Afrikanitis, maar dan sal ons gou moet speel.

Die werklike rede vir Afrika se mislukkings, of dit nou kultureel of ideologies bepaal is, en of dit nou in die gene van die mense setel, is eintlik irrelevant. Dit is interessant om daaroor te spekuleer, maar eintlik hoef dit ons nie te kwel nie, ewe min as wat dit ons hoef te kwel waarom 29% van alle Nobelpryse in wetenskap oor die afgelope vyftig jaar deur blanke mans van Joodse afkoms verower is. Feit is dat daar 'n patroon is, en dit kan ons darem raaksien. Tensy ons heeltemal blind is, of in 'n sielkundige toestand van ontkenning verkeer, soos Koos Kombuis en die res van sy boheemse Broeders. Die enigste verskil tussen Koos Kombuis en oud-Broederbonders soos Willie Esterhuyse of Willem de Klerk is dat hy Tassenberg drink en hulle Nederburg Baronne. Hulle idees is ewe verstok en wêreldvreemd; net soos die Britse geheime diens, MI6, vir Wimpie de Klerk gebreinspoel het op sy besoek aan Londen soos Alistair Sparks in sy boek vertel, het 'n paar soutie-intellektuele met lae IK's in Kaapstad arme ou Koos se harsings gespoel en hom oortuig dat die Afrika-renaissance net om die draai lê.

Koos Kombuis se heftige aandrang dat ek "onder huisarres geplaas" moet word, is ook ewe tipies van die Broederbonddenke waarmee hy as boheemse Broeder besig is. Sodra hy in 'n hoek gedryf word met 'n argument, wil hy liefs sy opponent laat opsluit, want hy is "'n gevaar vir die samelewing" en dergelike twak. As die politieke leiers van die ou Suid-Afrika oop kaarte met hul kiesers gespeel het en bowenal op die BBC-TV en elders openlik hul denke en stelsel verdedig het, het ons dalk tans met 'n meer logiese en aanvaarbare alternatief gesit. Maar net toe hulle gekritiseer begin raak, sluit hulle al wat dissident is op, verbied boeke en koerante, en bou 'n beskermende muur om hulleself waar idees hulle nie kan bykom nie. Soos Chris Louw dit ook baie goed in sy brief aan Willem de Klerk gestel het, het die ou spul toe by die onderhandelingstafel hul Moses teëgekom, met funeste gevolge vir ons almal:

"...Die manne van die daad het by die kinders oorgeneem. Die Slag van die Wêreldhandelsentrum was op hande. Die volk was doodgerus; hulle belange veilig.

Waar was die kloekmoedige strateeg Stoffel van der Merwe dan? 'n Bietjie moeg, 'n newelrigheid in die kop wat nie wou lig nie. Verskoon hom. En die groot generaal, Gerrit Viljoen, met sy vlymskerp intellek wat soos 'n mes deur kommunistiese kak sou sny? 'n Bietjie bewerig, 'n bietjie uitgeput; 'n bietjie naar op die maag. Jammer, maar hy het darem sy siekverlofvormpie voltooi.

Al julle grootse planne in 'n paar maande by die veelparty-onderhandelinge in Kemptonpark ontmasker... Waar was die bravade, die dreigemente, die opruiende toesprake, die beloftes? Ek was daar, dr. De Klerk. Dit was 'n patetiese gesig om te aanskou hoe julle argumente - julle waan - onder julle uitgeruk word." (Ope brief aan Willem de Klerk. Johannesburg: Praag, 2000, bll. 19-20.

Ek is bevrees die ou Afrikanertaktiek van "plaas hom onder sensuur" gaan nie hierdie keer werk nie, Koos. Jy is net so min verbind met die maghebbers as ek, anders as die destydse Wimpie en sy broer FW. Thabo Mbeki gaan kwalik op jou aandrang van my ontslae raak, want ek dink nie hy beskou Afrikaners meer as 'n politieke faktor in sy land nie. Ek kan jou verseker dat al die buitelandse institute, ambassades en intelligensiedienste ons ook nie meer sien as hoegenaamd 'n groep met enige mag of invloed nie. Ons het oorgegee, en aan getalle by die stembus skiet dit ons ver tekort. Wat ek dus hier skryf, is geheel en al skadeloos, die blote spekulasies van iemand wat, soos jy dit stel, "nie 'n goeie of interessante skrywer is nie." Terloops, dit klink asof jy reeds my roman wat later vandeesmaand sal verskyn, ongelees geresenseer het. Dis natuurlik 'n ou laai van die sensors. Diegene wat in die verlede my boeke verbied het, het hulle waarskynlik ook nie gelees nie.

Ek moet sê dat ek nie eintlik jou geskrewe oeuvre met onblusbare belangstelling volg nie. Jy is hoofsaaklik iemand wat vir ligte vermaak sorg, 'n bietjie satire of humor, en as jou onlangse boek nie so 'n dom titel soos "Afrikaans, my darling" gehad het nie, sou ek dit selfs uit nuuskierigheid gekoop het. Ek is bevrees die Engfrikaans waarin jy skryf kan net "cool" klink vir iemand wat "manlike probleme" iewers na aan die ouderdom van vyftig ervaar en hoop hy kan nog 'n jong bokkie beïndruk deur die gebruik van 'n Amerikaanse cliché of twee. Stilisties het dit baie in gemeen met die hemde en bandanas wat jy dra: alles by Mr. Price is ook nie altyd mooi nie.

'n Mens sou jou kon beskryf as 'n goedkoop skrywer, maar jy sal die term "cheap skrywer" verkies. En ek moet sê, dit klink nog meer "cheap" as sommer net goedkoop, dus is dit miskien funksioneel.

Te oordeel aan jou gebrekkige verwysingsraamwerk, is jy nie eintlik 'n groot leser nie. Omdat my eie bydraes dikwels langer as drie paragrawe is, laat jou konsentrasievermoë jou ook dikwels in die steek. Nêrens het ek byvoorbeeld 'n "gewapende opstand" bepleit nie, maar gepraat van "in die strate" wat tog binne die konteks een of ander vorm van openbare optog of betoging veronderstel soos wat duisende mense seker omtrent elke week in Suid-Afrika hou. Maar "demokrasie" beteken vir jou ook maar net die reg om jou by die heersende orde neer te lê. Waarom moet ons 'n stelsel wat maar tien jaar oud is, en wat vir ons geen enkele voordeel inhou nie, probeer verdedig? Ons word uitgebuit, daar word teen ons gediskrimineer op grond van ras en taal, ons word besteel, beroof, verkrag en vermoor, en ons is veronderstel om baie dankbaar te wees dat ek of jy persoonlik nog nie 'n slagoffer van die omringende geweld geword het nie. Hoef ek by te voeg dat hierdie geweld baie tipies van omtrent elke Afrikaland is, en selfs "swart republieke" buite Afrika soos Haïti, sodat ons ook in dié opsig reeds volledig verafrikaniseer is? Ook Stephen Smith van Le Monde gee my gelyk dat "Afrika die gewelddadigste van alle kontinente" is, en hoe gouer ons dus self beheer oor ons eie lewens verkry, hoe beter vir ons.

Jy trek te velde teen die moontlike gewelddadige gevolge van my eie baie redelike standpunte, maar het nog nooit enigiets te sê gehad oor plaasmoorde of oor die ANC-slagspreuk "Kill a Boer, kill a farmer" nie.

As apologeet vir die ANC-régime raak dit seker al hoe moeiliker om enige helde in ons huidige kabinet te vind. Daarom beperk jy jou tot Mandela en Tutu wat "vir ons rolmodelle is". Hoeveel onse in jou pond? Sover ek weet het Mandela goeie dinge oor Saddam Hoessein en Moeammar Khaddafi te sê gehad en het hy amper die onderhandelings tussen die ANC en NP laat skipbreuk ly omdat hy vir Robert McBride onmiddellik vrygelaat wou sien. Hy het die arme lafaard van 'n FW daaroor afgedreig, en 'n halfuur later het hy daartoe ingestem. Indien Koos Kombuis so vreeslik teen geweld gekant is, kan hy beswaarlik 'n rolmodel in Mandela hê, want dié was allermins 'n pasifis en het jare lank stedelike terreur in die naam van die "gewapende stryd" goedgekeur en selfs aktief bepleit. Tensy Koos Kombuis meen dat hy sy metodes wil naboots?

As dit by Tutu kom, kan ek nie dink aan 'n meer anti-Afrikaanse figuur as die Anglikaanse aartsbiskop nie. Met die WVK het hy sy bes probeer om ons finaal te kelder en die mees verregaande dinge oor Afrikaners en hul geskiedenis kwytgeraak. Die algemene indruk wat hy maak as hy met 'n donkerbril kliphard "And gawd said...!" in die mikrofoon bulder, is dié van 'n karikaturale swart predikant soos dié wat in Tom Wolfe se Bonfire of the vanities beskryf word. Net die Engelse kon hom 'n aartsbiskop gemaak het. Logika is ook nie Tutu se sterk punt nie, wat miskien die onderliggende rede vir jou bewondering is, want jyself toon 'n ewe gebrekkige aanleg vir dié eurosentriese denkwyse.

Oor die afgelope paar jaar het ek reeds uitvoerig gestalte gegee aan wat ek verstaan onder die begrip "Afrikaner". Dan is daar nog die hele Van Wyk Louw, seker 'n duisend bladsye of so van Versamelde Prosa 1 en 2 waarin daar veel gefilosofeer en geredeneer word oor dieselfde begrip. Dit is niks nuuts nie. Miskien was daar iewers in die verlede vir ons 'n belang daarin om 'n inklusiewe geografiese begrip van "Suid-Afrikanerskap" te propageer. Verwoerd het so gedink. Maar terugskouend het hy 'n groot fout gemaak: pleks dat Verwoerd die Engelse op hul baadjie gegee het terwyl hy nog kon, het hy gedwaal deur hulle te probeer kultiveer as "mede-Suid-Afrikaners", wat slegs die ressentiment van die Engelse élite jeens Afrikaners laat toeneem het volgens die Talleyrand-beginsel van, "hy aan wie jy 'n guns bewys, sal jou in die politiek eerste in die rug steek." Tans is die Engelse natuurlik besig om Afrikaans finaal uit te roei, met die hulp en ondersteuning van die ANC-regering. Anders as Verwoerd, neem hulle 'n kans waar as hy hom aanbied.

Die houding van die meeste Engelse is dat hulle deesdae bepaal wat die definisie van 'n "Suid-Afrikaner" sal wees, en dit is veral iemand wat nie Afrikaans praat nie. Maar ek dink Koos Kombuis se lekkergelofie dat enigiemand anders in die land hom as 'n Suid-Afrikaner sien, loop hom te pletter teen Thabo Mbeki se eie denke en uitsprake. As die magtigste man in die land en in Afrika, weeg ons president se woord sekerlik swaarder as dié van 'n Kombuis. Sy tweenasiestoespraak het dit tog duidelik gemaak dat "witmense" (lees: veral Afrikaners) tot een nasie behoort en die swartes tot 'n ander. Op sy beste verteenwoordig die "Suid-Afrikaners" 'n skisofreniese volk, want hul president hou vol dat hulle uit meer as een nasie bestaan. Meer onlangs natuurlik het dieselfde Heer Thabo, juis na aanleiding van Zimbabwe, sy "kith and kin"-stuk op ANC Today geskryf, waarin hy weereens bevestig het dat blankes in Suid-Afrika die "familie" van Europeërs is, en daarom nie ware Afrikane - of Suid-Afrikaners - nie.

Maar wat nog erger is, is dat ons grondwet beslis voorsiening maak vir meer as een kategorie van burgerskap, wat weereens rasbepaal is. Indien 'n mens die Herder-definisie van volkskap in die Duitse sin as 'n gemeenskap van dieselfde kultuur, taal en afkoms verwerp, soos vele Franse filosowe al gedoen het, word die nasie gedefinieer as 'n universele versameling van gelyke individue binne een, onverdeelde staat en een regstelsel. Ons grondwet en veral natuurlik ons regstelsel met sy hele arsenaal van rassewetgewing op alle gebiede, differensieer insgelyks op grond van ras. Die feit dat Afrikaans nie gelyke status teenoor Engels geniet nie, is 'n verdere aanduiding dat die Franse begrip van "la nation universelle" wat veronderstel is om etniese en streeksverskille te oorkom, ook nie hier geld nie.

Dit bring my weer terug na my stelling waarteen jy so onredelik en sonder enige gronde beswaar maak:

Die begrip "Afrikaner" is veel sterker as dié van "Suid- Afrikaner". Trouens, daar bestaan nie so iets soos 'n Suid- Afrikaner nie, behalwe in die sin van 'n redelik arbitrêre burgerskap en stel grense wat deur 'n koloniale oorlog tydens 1899-1902 tot stand gekom het. Daar is niks samehangends of samebindends omtrent "Suid-Afrika" nie.

Ek is bevrees jou president, Thabo Mbeki, se slagspreuk wat ook in 'n boektitel gebruik is, Africa, define yourself, is veel eerder van toepassing op Koos Kombuis as "Suid-Afrikaner", wat dit ook al mag beteken. Definieer jouself. Wie en wat is 'n Suid-Afrikaner? Hoe klink die taal "Suid-Afrikaans"? Is dit Engels met grammatika-foute? Of dalk Xhosa? Maar blykbaar bestaan daar nog mededingende dialekte van Xhosa ook.

Indien 'n Zimbabwiër oor 'n paar klippe in die Limpopo loop en vir hom 'n vervalsde Suid-Afrikaanse ID-boekie op die naaste straathoek koop, is hy ook 'n Suid-Afrikaner? Teoreties kwalifiseer hy vir regstellende aksie, voorkeur vir beurse, en is hy meer "inheems" as enige Afrikaner wie se voorouers al 350 jaar in die land is. Ná amper vier eeue het ons nog nie "genaturaliseer" as Suid-Afrikaners nie, terwyl enige ander "Afrikaan" sommer dadelik naturaliseer, met of sonder onwettige dokumentasie. Afrikaanse universiteite word verplig om Afrikanerstudente uit te sluit ten gunste van buitelandse studente uit ander Afrikalande. Is hulle nie dalk meer "Suid-Afrikaans" as ek of jy nie?

Dit is alles vrae waarop Koos Kombuis sal moet begin antwoord. Hy mag dalk onder die indruk verkeer dat hy 'n "Suid-Afrikaner" is, maar ek verseker hom daar bestaan meningsverskil daaroor. Weereens was ons Engelse vriende heel eerste om die Afrikaanse letterkunde uit die "Suid-Afrikaanse letterkunde" te definieer, soos ek reeds drie jaar gelede op LitNet opgemerk het in my "Die sloping van 'n hegemonie: 'n kritiek op literêre anglosentrisme". Dit wat ons in Afrikaans skryf, is dus nie "Suid-Afrikaans" nie. Miskien moet ons eers mev. Ball se blatjang daarop smeer, maar tot dusver word dit nie as sodanig erken aan ons Engelse universiteite nie. En omdat daar binnekort net Engelse universiteite in Suid-Afrika gaan wees, spreek dit vanself dat hierdie siening sy huidige hegemonie nog verder gaan verstewig.

Dis 'n ope vraag of Koos Kombuis by enige gangbare definisie 'n "Suid-Afrikaner" is, al probeer hy baie hard. Soos die cliché lui, is hy eenvoudig "te wit en te Afrikaans". As sy enigste identiteit berus op die krieketspan, stel ek voor hy kry vir hom, soos Stephen Koseff van Investec, 'n Engelse sokkerspan. As ondersteuner van Tottenham Hotspur mag hy dalk 'n selfs meer bevredigende identiteitservaring hê as met betrekking tot die "Suid-Afrikaanse" krieketspan. O ja, Stephen Koseff se antwoord op patriotisme en tuisvoel is, "I go where the business goes." Maar hy is natuurlik Joods, dus hoef hy seker nie 'n spesifieke verbintenis tot 'n Suid-Afrikaanse identiteit te hê nie. Hy voel reeds tuis tussen sy eie mense.

As dit kom by Koos Kombuis se paranoïa oor "mure", dan raak die hele argument absurd. Impliseer die identifikasie met enige kulturele of nasionale identiteit dat 'n mens "jou laat omsingel deur 'n muur"? Is 'n Spanjaard of 'n Griek of 'n Fransman of 'n Deen wat homself binne 'n sekere volksverband sien, besig om homself binne 'n muur toe te messel? Weereens berus hierdie denke op Engels-Suid-Afrikaanse clichés oor "the Afrikaner laager" en dergelike twak wat bloot op chauvinisme en etniese antipatie gegrond is, asof die Engels-koloniale ghetto in Suid-Afrika met sy stiksienige eentaligheid en eenvoudige blindheid vir wat in hierdie land aangaan nie 'n groter vorm van "afgrensing teenoor die ander" verteenwoordig as enige bevrydende bevestiging van Afrikanerskap nie. Kombuis gaan voort deur te sê,

"Ek weier om deel te wees van die definisie van Afrikaner soos uitgedink iewers in 'n rookgevulde yuppie-koffiekroeg met 'n Franse naam. Hoe lief ek ook al is vir Afrikaanse mense en hulle taal, Suid-Afrikanerskap sal altyd vir my belangriker wees as Afrikanerskap."

Waarom sal "Suid-Afrikanerskap", wat dit ook al mag beteken, altyd vir hom belangriker wees? Omdat dit is wat die ANC van hom verlang? Omdat Max du Preez of Antjie Krog in hul gevorderde stadium van intellektuele gangreen hom sal ekskommunikeer uit die "Bond van Oud-Afrikaners"?

'n Mens kan jouself nie van een oomblik tot die volgende definieer om in te pas by die heersende ideologie of partybeleid, en sodoende die werk en opofferings van jou voorouers en die geboortereg van jou kinders eenvoudig met 'n pennehaal uitkanselleer nie. Die feit dat Afrikaners vir twintig of dertig jaar oor besonder swak leiers beskik het, maak hulle nie per se "bose mense" of "uitgedien" nie. Die Afrikanerdom het die Britse Ryk oorleef en ons sal nog die ANC-empaaier, andersins bekend as "Suid-Afrika", ook oorleef.

Intussen sien ek besonder uit na Koos Kombuis se resensie van my roman waarin hy sy kategoriese uitspraak gestand sal doen, dit wil sê,

"Sal iemand asseblief aan Dan Roodt probeer verduidelik dat hy nié 'n goeie of interessante skrywer is nie, dat hy nooit een sal wees nie, en dat hy hom voortaan liefs moet bepaal by die uitgee van boeke van ander mense wat wel kan skryf?"

Ek kan sien dat die huidige debat vanuit die politieke kombuis na die literêre opwasplek gaan verskuif, en gaan dit nie groot pret wees nie. Daar was 'n Koos in Staal Burger ook, maar hy het mos altyd vir Willem, Willém, Willém, aangespreek op sy lakonieke manier voordat hy die skurke - met geweld - takel. In watter geveg het jy jouself nie nou begewe nie, vriend Kóós? Gestel nou ons moet betrokke raak in een of ander diep literêr-teoretiese geskil oor Lamartine se siening van ennui, soos bemiddel deur 'n sekere Duitse Marxistiese filosoof in 'n kolossale werk waarvan jy die naam nie sal ken nie, in watter onbekende waters sal jy jou nie dan bevind nie, up the creek without a cricket bat?

 

Boontoe