|
|
||
| chronologie
|
Moedertaal en die lyflike Deur Dan Roodt (Filosofiekafee, 25 Februarie 2000) Die kwessie van moedertaal het huidiglik ‘n sekere aktualiteit verkry, veral in die lig daarvan dat vele van ons landgenote besig is met ‘n aflegging van hul moedertaal. In ‘n sekere sin kan ons ‘n verdere misdaad voeg by die vele wat ons maatskappy teister, naamlik moedertaalmoord. Dit is daarom geleë om bietjie ondersoek in te stel na ons verhouding tot die moedertaal, ten minste soos die digters en die filosowe dit vir ons voorstel. My verkenning begin nie by die moeder nie, maar by die vader, want as manlike spreker kan ek my nie op moederskap beroep nie, ten spyte van wetenskapfiksie en feminisme. Ek wil dus met u deel ‘n sekere ervaring van vaderskap, toe my seun Tristan - vernoem na die tragiese held uit die Keltiese legende wat later verwerk is in Middeleeuse romans, en natuurlik in die opera van Wagner – so 18 maande oud was. Hy het regop in sy bed gestaan en aan die koppenent vasgehou. Omdat dit slapenstyd was, was die kamer reeds in skemer gehul. Maar die blinding voor die venster was oopgetrek, en daarbuite, in die Ooste, was ‘n groot glimmende maan besig om op te styg. Ek het langs hom gesit en hy het sy handjie daarna uitgestrek asof hy daaraan wou vat en dit nader aan hom wou trek, of wou aanraak, en so vir die eerste keer in sy lewe, huiwerend, gesê: MA- MAAN. Ek het eensklaps besef dat daar ook ‘n moeder in die maan was. Geen man nie, dus. In daardie oomblik terwyl die maanlig silwerig op sy gesiggie skyn, met sy oë verwonderd soos net dié van ‘n peuter kan wees, was ook ek verwonderd. Verwonderd oor die woord wat hy so skielik kon prewel, maar ook oor die proses van taaloordrag, om vanaf die eerste oomblik van ‘n mens se lewe gehul te wees in ‘n moedertaal. Gekoester, geborge: al daardie woorde wat terugneig na die baarmoeder, na ‘n prenatale wêreld waar ons as’t ware deel was van die moeder, kan ons van toepassing maak op die moedertaal. Iemand wat wel so na sy moedertaal kyk, is Roland Barthes. In sy literêr-filosofiese outobiografie skryf hy so oor sy eie verhouding tot Frans: "Die moedertaal Waarom so min aptyt en so min aanleg vir vreemde tale? Het Engels geleer aan die hoërskool (vervelig: koningin Mab, David Copperfield, She stoops to conquer). Het meer plesier gehad aan Italiaans, waarvan ‘n Milanese oud-pastoor hom die grondbegrippe geleer het. Maar van hierdie idiome het hy nooit meer as vaagweg toeristiese gebruik gehad nie: hy het nooit ingang by ‘n taal gevind nie: weinig aptyt vir buitelandse letterkundes, konstante pessimisme met betrekking tot vertaling, verskriktheid teenoor die vrae van vertalers, omdat hulle so dikwels voorkom asof hulle die eintlike sin van ‘n woord nie ken nie: die konnotasie. Hierdie hele onvermoë is die keersy van ‘n liefde: dié vir die moedertaal (die taal van vroue). Dis nie ‘n nasionale liefde nie: enersyds glo hy nie aan die voortreflikheid van enige taal bo ‘n ander nie en is hy dikwels pynlik bewus van die tekortkominge van Frans; andersyds, voel hy homself nooit veilig in sy eie taal nie; daar is vele geleenthede waar hy die dreigende verdeling daarvan herken; soms, as hy Franse in die straat hoor praat, is hy verbyster dat hy hulle verstaan, dat hy ‘n stuk van sy lyf met hulle deel. Want sonder enige twyfel is die Franse taal vir hom niks minder as die naelstringtaal nie. (En terselfdertyd, aptyt vir die baie vreemde tale, soos Japannees, waarvan die struktuur vir hom verteenwoordig – beeld en (remontrance=demonstrasie) – die organisasie van ‘n ander subjek.") Wat heel interessant is in hierdie passasie, afgesien van die radikale siening van sy eie taal as "die naelstringtaal", is die amperse wêreldvreemdheid waarmee hy ander tale en ander letterkundes bejeën: hy het geen plesier daaraan nie, en as leser, as miskien die grootste literêre kritikus van die twintigste eeu, het hy geen erg daaraan nie; hy voel nie dat dit hoegenaamd vir hom belangrik is om daarvan kennis te neem nie. Hy word op ‘n afstand gefassineer deur Japannees, juis omdat dit so "baie vreemd" is, omdat dit ‘n "ander subjek" voorstel. Sy verknogtheid aan sy eie taal is geensins gegrond op die voortreflikheid daarvan nie – hy sou waarskynlik kon sê, "daar is baie beter tale in die wêreld as Frans" – dog desnieteenstaande is dit vir hom die enigste taal wat werklik saakmaak. Dit is in die eerste plaas ‘n liefdesverhouding: omdat hy verlief is op Frans, kan hy geen ander taal liefhê, ingang daarby vind nie. Verder sien hy die deel van ‘n taal met lede van sy taalgemeenskap as gelyk aan die "deel van ‘n stuk van sy lyf" met hulle. Die taal as lyf is natuurlik ‘n bekende tema in die Lacaniaanse psigoanalise. (Verwysing) Dit slaan op die vroeë ervaring van woorde – Lacan of Freud sou dit die oraal-genitale fase noem?? – toe woorde vir ons byna soos liggame was, soms hemelse liggame soos in die geval van my seun. Woorde kan ons seermaak of ontstig of troos of verbly; ons sê in Afrikaans dat dit ons "raak". As iets nie saak maak nie, meen ons dat dit ons nie "traak" nie, naamlik dat dit ons nie "raak" nie. Hierdie skynbaar fisieke krag van taal, die taal as lyf wat ons bestaan deel soos enige ander lyf, die lyf van die moeder of die minnaar/minnares, en selfs die lywe van ons taalgenote wat ons op straat mag teëkom en wat ons, mirakelagtig à la Barthes, verstaan, is dit wat die lyflike van die moedertaal uitmaak. Taal is opsigself ‘n fisika. Is daar mense sonder ‘n moedertaal? Dit sou tragies wees, en per definisie sou dit ons wees laat. Iemand wat wel, oënskynlik, so ‘n weeskind is, is ‘n ander Franse denker, Jacques Derrida. Vir hom stel Frans geen naelstringtaal voor nie, maar ‘n eentaligheid, dit wat hy verdoemend die "eentaligheid van die ander" noem in sy gelyknamige werk, "Le monolinguïsme de l’autre". In ons situasie spreek hierdie frase tot ons, "die eentaligheid van die ander". Eentaligheid impliseer binne dié verband kolonialisme, die geslotenheid van taal wat koloniaal afgedwing word in die skool, in geykte taalrituele. Tydens die aanvang van sy betoog, stel Derrida dit só: "Maar bowenal en (surcroit), hier is die dubbelsnykantigheid van die skerp lem wat ek vir jou gee byna sonder om ‘n woord te sê, ek ly en ek neem genoeë aan dit wat ek vir jou sê in ons sogenaamde gemeenskaplike taal: <<Ja, ek het net een taal, en dit is nie myne nie.>> Hierdie vesrkriklike woorde, verskriklik ook vir ons, is kursief gedruk om dit verder te benadruk: Ja, ek het net een taal, en dit is nie myne nie. Derrida bestee ter wille van die fatsoen ‘n paar bladsye daaraan om die paradoksale en onlogiese van hierdie frase – "‘n logiese teenstrydigheid wat versterk word deur ‘n pragmatiese of performatiewe teenstrydigheid," noem hy dit – aan te dui, maar ons verstaan presies wat hy bedoel. In Parys onlangs, toe ‘n groep van ons hom gaan ontmoet het, was sy eerste woorde, "ek is ook ‘n Afrikaan." As gebore Algeryn van Joodse afkoms, staan hy insgelyks tussen wêrelde, gevange in ‘n tussengebied tussen kulture. Elders in die teks beskryf hy homself as "franko-magrebyn" (franco-maghrébin), as Franssprekende afkomstig van die Magreb. Dog eerder as wat hy hierin ‘n sekere rykdom sien, ‘n veelheid of gevierde multikulturalisme, beskou hy dit as ‘n identiteitsgebrek. "Om Franko-Magrebyn te wees, om "soos ek" te wees, is nie, veral nie, ‘n (surcroit) oordaad of ‘n rykdom aan identiteite, attribute of name nie. Veel eerder verraai dit, bowenal, ‘n identiteitsgebrek." Weer eens word die term identiteitsgebrek gekursiveer, om dit te beklemtoon. Die Franse woorde wat gebruik word is, "trouble d’identité", wat op ‘n steurnis, ‘n identiteitsversteurdheid dui. Trouens, die subtitel van die boek self is "ou la prothèse de l’origine" sodat die hele titel vertaal kan word met "Die eentaligheid van die ander – of die protese vir die oorsprong." Die teks self is dan die protese, die kunslyf of kruk wat hierdie gebrek moet stut. Die sopas gesiteerde gedeelte gaan nog verder deur ons te maan dat ons nie hierdie "identiteitsgebrek" ligtelik moet opneem nie. "Erken ten opsigte van hierdie term, "identiteitsgebrek" (trouble de l’identité), die erns daarvan, sonder om die psigopatologiese of sosiopatologiese konnotasies daarvan uit te sluit." (bl. 33) Derrida se identiteitsgebrek is onder meer verwant aan sy verlies van sy Franse burgerskap tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe die metropolitaanse regering, blykbaar sonder enige druk van die Duitse besetters in Frankryk self, ‘n dekreet afgekondig het wat Algerynse Jode van hul burgerskap ontneem het. Enkele jare later het hulle dit weer terugontvang, maar hierdie kortstondige verlies aan burgerskap versterk by hom die gedagte dat hy nooit die Franse taal behoorlik sy eie sal maak nie. Dog ‘n verdere kwessie, wat vir ons meer ter sake is, is eweneens die verband tussen sy gevoel van ‘n identiteitsgebrek en die moedertaal. Hy is van mening dat die woord "ek", die konstituerende of daarstellende uitspraak wat aan ons ‘n outobiografie gee sodra ons sê, "ek onthou", verskillend ervaar word, afhangend van ‘n mens se taal. "Vanuit alle gesigspunte, wat nie net grammatikaal, logies, filosofies is nie, weet ons te goed dat die ek van die sogenaamde outobiografiese anamnese, die ek wat van die ek wat onthou, verskillend voortgebring word en homself verskillend aanbied afhangend van die taal." (bl. 55) Dit blyk dat Derrida op ‘n manier verbied is om ‘n moedertaal aan te leer, ‘n taal wat verwant sou wees aan sy geboorteland. Elders in die teks gaan hy ook in op die geboorte, die verkryging van ‘n nasionaliteit en ‘n identiteit deur geboorte. Die ek waaroor hy beskik is dus ‘n ander ek as wat hy sou gehad het indien hy ‘n inheemse taal sou kon aanleer. Hy stel dit as volg: "Dit wat ek sê, hy wat dit sê, hierdie ek waarvan ek praat met ‘n enkele woord, is iemand, dit onthou ek min of meer, waarvoor die toegang tot enige nie-Franse taal van Algerië (dialektiese of literêre Ararbies, Berbêrs?, ens.) verbode was. Maar hierdie selfde ek is ook iemand waarvoor toegang tot Frans, op ‘n sekere manier, insgelyks verbode was. Op ‘n ander manier, sekerlik, maar eweneens verbode. Deur ‘n verbod wat skielik die toegang tot identifikasies verbied wat ‘n vreedsame outobiografie toelaat, die "mémoires" in die klassieke sin. In watter taal moet ‘n mens mémoires of herinneringe skryf as daar geen gemagtigde moedertaal was nie? Hoe moet ‘n mens ‘n "ek onthou" sê wat iets werd is wanneer ‘n mens beide sy taal en sy ek moet uitdink, hulle tegelykertyd moet uitdink, anderkant die ontplooiing van amnesie wat deur die dubbele verbod ontketen is?" (bll. 56-57) En natuurlik hang hierdie verbod - dit word in die gedeelte wat hierdie aanhaling voorafgaan, aangebied – saam met ‘n sekere homogensiering in die naam van ekonomiese vooruitgang. Op ‘n manier erken Derrida dat elke taal in wese kolonialisties is, want om "‘n taal te bemeester, behels die mag om te benoem, om die benaminge af te dwing en te legitimiseer." Vir ‘n taal om soewerein te wees, moet dit dus kan standaardiseer, en aan elke taal is daar iets van ‘n "koloniale struktuur". Diegene wat in Suid-Afrika die standaardisering van ‘n taal soos Afrikaans of enige ander taal ongedaan wil maak of wil kritiseer as "kolonialisme" of "appropriasie" het ‘n punt, maar dit is uiteindelik hareklowery, want benoeming self impliseer die uitoefening van ‘n sekere mag van die "koloniale" tipe. Dog die "eentaligheid van die ander" behels ‘n soort superkolonialisme wat veel verder gaan as blote standaardisering, blote inagname van ekonomiese doeltreffendheid of tegniese kommunikasie. Dit begin by hierdie proses van standaardisering, maar neig na ‘n soort waansin van alles te reduseer tot Een, tot mono, dit wat Derrida die "hegemonie van die homogene" noem. Daar vind ‘n ontworteling plaas en ‘n mens eindig by dit wat hy defineer met sy ontroerende uitspraak van vroeër, "Ja, ek het net een taal, en dit is nie myne nie." Afgesien van die verbod op die moedertaal behels kolonialisme natuurlik ook die verskuiwing van die kulturele sentrum na die metropool toe, dit wat Derrida die "Stad-Hoofstad-Moeder-Vaderland" noem, ‘n soort kammaland oorkant die water vanwaar alle standaarde en modelle aangesweef kom, soos fantome of spoke. In ‘n voetnoot siteer Derrida die woorde van Hannah Arendt, wat ná die Groot Brandoffer van Duitse Jode kon sê: "Was bleibt? Es bleibt der Muttersprache." Ná die katastrofe bly die moedertaal ons enigste vertroosting. Derrida kan dit egter self nie sê nie, want selfs sy moeder het nie ‘n taal gepraat wat "ten volle ‘n moedertaal" (pleinement une langue maternelle) was nie. Daarom is dit vir ander om te praat van moedertaal; self kan hy dit nie oor sy hart kry om te sê, "my moedertaal" nie. Dit alles laat hom met ‘n gevoel van hartseer wat hy net met die Engelse woord "grief" kan uitdruk. Dit is egter die hartseer van iemand wat iets verloor het wat hy nooit gehad het nie. Ons weet uit die filosofie van Nietzsche, waarna ek aanstons wil kyk, dat die oorheersing van die gees in die Westerse denke die lyf onderdruk. Ook die utilitêre rede of die koloniale rede met sy neiging tot homogenisering maak deel uit van hierdie kultus van die gees bó die lyf. Ons hoef maar te luister hoe ons kinders die woord "maan" tastend uitspreek om die moedertaal aan eie lyf te ervaar. Vir die verdere doeleindes van my huidige rede, wil ek die geestelike rede verder aankla en die lyflikheid van moedertaal illustreer met behulp van die Afrikaanse poësie, meer in die besonder die gedigte van Breyten Breytenbach aan sy moeder. In 1964 skryf hy in die ysterkoei moet sweet die volgende: wat die hart van vol is loop die mond van oor vir ounooi
U ken almal hierdie gedig en ek sal nie hier op alles ingaan nie, maar bloot sekere aspekte uitlig wat vir ons ter sake is. In die eerste instansie natuurlik die opdrag, "vir ounooi", ‘n gemeensame uitdrukking waarmee die moeder aangedui word, maar wat ook ‘n sekere bejaardheid suggereer. Dit is dus ‘n gedig in die moedertaal vir die moeder. Die lyflikheid - ‘n mens sou selfs kon praat van die vleeslikheid van die moeder word beklemtoon - asook sy lyflike en vleeslike verbintenis aan haar ("dié vleis/wat in die holte/tussen u heupe gestamp het/soos die dood"). Wat ‘n mens verder opval, is dat hy die moeder met ‘n sekere respek nader; hy wil nie vir haar ‘n "bitter vers skryf nie", "alhoewel dit die mode is/om stikkend verby die moederspeen/in mond te skel". Ek wil vir ‘n oomblik stilstaan by die opvatting dat dit mode is om vir die moeder bitter verse te skryf. Dit is mode om bitter taal te skryf vir die moeder, maar hy verset hom daarteen. Op ‘n manier bring dit ‘n problematiek na die gedig wat ons goed ken, dié van ontydgenootlikheid, Nietzsche se Unzeitgemässigkeit. ‘n Mens kan sê dat die moedertaal hom dwing om onmodieuse, ontydgenootlike gedigte te skryf. Binne ‘n sekere verband sou mens kon praat van die ontydgenootlike van die moedertaal self. En dan die laaste strofe waar hy sy liefde vir die moeder bely: o ek het u lief o bespotte vyeboom van die vrot vrug Op die oog af is hier nie veel om lief te hê nie, die moeder-as-vyeboom word bespot, en die seun-as-vrug is ‘n vrot vrug, maar nogtans en ten spyte van dit alles, teen die gang van sake in, teen die historiese gang van sake in as ons die ontydgenootlike in gedagte hou, het hy haar lief. Eenvoudig lief. Die ooreenkoms met Roland Barthes se liefde vir die moedertaal, ten spyte van haar gebreke, is frappant. Wat anders is ‘n vers wat aan die moeder opgedra is as ‘n vers aan die moedertaal? Soos altyd by Breytenbach se poësie moet ons daarvan bewus wees dat die gedig ook handel om die ding self, die onderhawige woordskepping in Afrikaans. Die lywe van die moeder en die moedertaal raak verwisselbaar: albei is bespot, albei dra vrot vrugte, maar hy het albei lief. In ‘n sekere sin is die gedig ‘n "vrot vrug" van die bespotte moeder/taal. Elders in Le plaisir du texte praat Roland Barthes van die teks as lyf, verwysende na Arabiese geleerdes wat die teks as ‘n "sekere liggaam" (un certain corps) beskryf. Hy onderskei tussen die "fenoteks", dit wil sê, die liggaam wat deur kritici en kommentators beskryf word, en wat verwant is aan die wetenskap, die studievoorwerp van anatomiste en fisioloë. Hierteenoor, beweer hy, beskik ons eweneens oor "’n lekkerkrylyf (corps de jouissance) wat enkel uit erotiese verhoudings bestaan, sonder verband met die eerste tipe [liggaam]... Het die teks ‘n menslike vorm, is dit ‘n figuur, ‘n anagram van die lyf? Ja, maar van ons erotiese lyf." Hierdie siening van die tekstuele lyf is natuurlik terug te voer na die betekenis van die Latynse woord corpus wat opsigself afkomstig is van die woord creo, creare, wat om te skep of voort te bring beteken, asook die Sanskriet, kar, met dieselfde betekenis. Die term "corpus" in Latyn is van toepassing op enige entiteit of voorwerp wat saamgestel is uit dinge wat met die sinne onderskeibaar is, soos die lyf self, maar ook enige ander stof. Die erotiese aspek van die teks waarna Barthes verwys, is nie bloot ‘n modieuse metafoor - hier is ons terug by die mode waarvan Breytenbach ook in sy gedig praat - vir die leesproses nie, maar ‘n konsipiëring van tekstualiteit as ‘n liggaam of korpus van sensasies en sinnelike gewaarwordinge, ‘n web van sensualiteit. Dit is dan die teks-as-lyf wat in Barthes se beroemde formulerings tot stand gekom het, en wat opsigself afgelei is van ‘n sekere psigoanalitiese opvatting van taal. Hieronder verwys ek verder na die klassieke Freudiaanse siening van die lyf wat baie mooi die verwantskap tussen sintuiglikheid en lyflikheid aandui. Die lyf van die teks, en by uitbreiding dié van die taal self, het by uitstek te make met die rykdom of die oordaad van gewaarwordinge en gevoelens wat deur die woorde en hul konnotasies, die "kleur" in ‘n akoestiese sin, ontketen word. In die tweede moedergedig van Breytenbach waarna ek wil verwys, kry ons ‘n nog beter illustrasie van tekstuele lyflikheid as in die eerste. Hierdie gedig is in die gevangenis geskryf en is in 1976, dus 12 jaar later, gepubliseer as gedig nommer 32 met die parentetiese afgekorte opdrag (vir Oun). 32 (vir Oun)
Soos in die vroeër gedig, kry ons die beklemtoning van die vleeslike en lyflike verbintenis aan die moeder, maar ook nou, letterlik, aan die moedertaal tydens die slotreëls, "ek dra jou bene jou kantelende bloed/en die klanke van jou keel –/ o moeder, seën my voor u gaan! "Die klanke van jou keel"; dit is sy definisie van die moedertaal. Wat hier verder opval is die enumerasie van woorde en name asof hy uit die gevangenis ‘n wêreld probeer optower deur dit in die taal te benoem: daar is name van familielede, van visse en skulpvis, van konstellasies, van blomme en ander plante. Dat hierdie woorde en name, afgesien van die konstellasies, ook ‘n spesifieke Suid-Afrikaanse landskap vergestalt, is gewis. Die verhouding tot die plek waarvan daar by Derrida ‘n leemte gevoel word, want hy het geen woorde wat eie is aan Algerië nie, is hier wel aanwesig. Die moedertaal, die klanke van haar keel, bewerkstellig dus die wonderbaarlike verbintenis met die ruimte, met die eie land, met die taalgenote wat ook deel uitmaak van die talige lyf soos Barthes dit wil hê. Hierdie oordaad van konnotasie lei tot die erotiese ervaring van taal soos dit hierbo deur Barthes omskryf word, die sogenaamde "jouissance" oftewel die lekker. Uit die gedigte van Breytenbach blyk maar alte duidelik die sterk identifikasie met die moedertaal. Hoe word hierdie identifikasie bewerkstellig? In baie opsigte word die relasie tot ‘n sekere taal deur die kans bepaal, die geluk van geboorte in ‘n sekere land, binne ‘n sekere taalgemeenskap. Dog in die geval van die tweetalige persoon, byvoorbeeld met Afrikaanse vader en Engelssprekende moeder, raak dit meer gekompliseerd, en is die Derrideaanse identeiteitsgebrek nooit ver nie. Nog steeds hou ek my by outobiografiese tekste en gaan kyk hoe byvoorbeeld die skrywer J.M. Coetzee sy identifikasie met Engels bewerkstellig. In Boyhood skets hy sy gevangenheid tussen Afrikaans en Engels, met ‘n Afrikaanse vader en Engelse moeder. Hy koester ‘n geweldige liefde vir die plaaslewe en droom daarvan om sy oom Son se seun te wees, selfs al sou dit beteken dat hy Afrikaans moet word en koshuis toe moes gaan: "If he had a choice between Son and his own father as a father, he would choose Son, even though that would mean he would be irrecoverably Afrikaans and would have to spend years in the purgatory of an Afrikaans boarding-school, as all farm-children do, before he would be allowed to come back to the farm." Elders in die teks spreek hy weer die vrees uit dat hy as gevolg van sy Afrikaanse van op aandrang van die Nasionale Partyregering in die Afrikaanse klas by sy skool geplaas mag word, iets wat by hom selfmoordgedagtes wakkermaak. In sy mees onlangse werk Disgrace wat ek reeds elders bespreek het, laat die verteller hom as volg uit oor Engels op ‘n manier wat sterk herinner aan die derrideanse ervaring van monolinguïsme, die ander taal wat nie gesetel is in die plaaslike nie: "…Doubtless Petrus has been through a lot, doubtless he has a story to tell. He would not mind hearing Petrus’s story one day. But preferably not reduced to English. More and more he is convinced that English is an unfit medium for the truth of South Africa. Stretches of English code whole sentences long have thickened, lost their articulations, their articulateness, their articulatedness. Like a dinosaur expiring and settling in the mud, the language has stiffened. Pressed into the mould of English, Petrus’s story would come out arthritic, bygone." Vir die Petrusfiguur is Engels die ander taal, die monotaal wat sy ervaring sou "reduseer" tot die homogene. Sonder om ‘n outoriële subjek agter die teks van Disgrace te wil vind, slaan hierdie woorde nietemin terug op die identiteitskrisis van die Coetzee-seun self soos geopenbaar in Boyhood. Waarom het Coetzee nooit die taal van sy vader, wie se naam hy dra, aangeneem nie? Dit wil voorkom asof vaders nie hoog deur skrywers aangeslaan word nie, in ‘n Oedipale verset waar die vroeë dood van ‘n vader soms verwelkom word. Die skrywer-filosoof Jean-Paul Sartre laat hom as volg uit oor sy vader in sy weergawe van sy seunsdae of kindertyd, Les mots: "Daar is geen goeie vader nie, dit is die reël; ons hou dit nie teen die mans nie maar teen die vaderlike verbintenis wat verrot is. Daar is niks beter as om kinders te maak nie; om hulle te hê, watter sonde! As my vader geleef het, sou hy uitgestrek op my gelê het en my platgedruk het. Soos die geluk wou hê is hy dood terwyl ek klein was; te midde van die Enées wat op hul rug die //// dra, gaan ek van een oewer na die volgende, alleen terwyl ek dié onsigbare verwekkers haat wat hul seuns hul hele lewe lank ry; ek het ‘n jong dooie agter my gelaat wat nie tyd gehad het om my pa te wees nie en wat vandag my seun sou kon gewees het. Is dit sleg of goed? Ek weet nie; maar ek onderskryf met graagte die oordeel van ‘n gesiene psigoanalis oor my: ek het geen superego nie." In ‘n sekere sin is die vaderlike verbintenis dus die wetlike, wat uiteindelik ook die wette en regulasies van die Vaderland insluit, die koloniale mag, asook die skoolmeesters met hul reëls wat die taal onpoëties, onlyflik, inperk. Die taal word veel eerder met die moeder geIdentifiseer: "moedertaal, taal van vroue", soos Barthes dit stel. Die seun in Coetzee se outobiografie verwelkom nie soseer die dood van sy vader nie, maar staan insgelyks afsydig teenoor hom as synde ‘n buitestaander teenoor die familie, ‘n soort loseerder wat maar net daar is in die huis. "He has never worked out the position of his father in the household. In fact, it is not obvious to him by what right his father is there at all. In a normal household, he is prepared to accept, the father stand at the head: the house belaongs to him, the wife and children live under his sway. But in their own case, and in the households of his mother’s two sisters as well, it is the mother and children who make up the core, while the husband is no more than an appendage, a contributor to the economy as a paying lodger might be." Die afsydige houding teenoor die vader leen hom tot ‘n soortgelyke houding teenoor die vadertaal, Afrikaans. Die moeder vertel hom dat die Britse soldate gedurende die Anglo-Boereoorlog vriendelik en eerlik was, terwyl die Boere mense se goedere gekonfiskeer het, en hy identifiseer hom sterk met die Britte. By die skool word hy afgestoot deur die Afrikaanse seuns en hy ervaar hul taal as kru en ongekunsteld. Daar is iets vuils aan Afrikaans, wat verband hou met die seggingskrag van die vloekwoorde daarin. "Yet the language ot the Afrikaans boys is filthy beyond belief. They command a range of obscenity far beyond his, to do with fok and piel and poes, words from whose monosyllabic heaviness he retreats in dismay. How are they written? Until he can write them he has no way of taming them in his mind. Is fok spelled with a v, which would make it more venerable, or with an f, which would make it a truly wild word, primeval, without ancestry? The dictionary says nothing, the words are not there, none of them. Then there are gat and poephol and words like them, hurled back and forth in bouts of abuse whose force he does not understand..." Die feit dat die woorde nie in die woordeboek voorkom nie, dat hulle dus ontwyk aan daardie koloniale mag van die standaardiseerder en skoolmeester waarvan ons vroeër gepraat het, skep vir hom ‘n dilemma. Afrikaans is derhalwe ‘n wilde taal, ‘n mens sou selfs kon sê dit is ‘n duiwelse taal, omgewe van ‘n donker, anale mag. Nou is dit so dat Freud in sy opstel oor die duiwel aangetoon hoe hy as vader-plaasvervanger optree. Omdat die kind se gevoelens en emosies teenoor sy vader ambivalent is, enersyds liefderik en onderdanig, andersyds vyandig en opstandig, is dit maklik om beide God en die Duiwel in die vader te sien. Dit is hier gepas dat ons ook verwys na die klassieke Freudiaanse siening van die lyf en hoe dit verband hou met persepsie en die ego. Volgens Freud kan die menslike lyf, en veral die oppervlak daarvan, tegelykertyd "eksterne en interne persepsies voortbring. Dit word gesien net soos enige ander voorwerp, maar by aanraking onstaan twee soorte gewaarwordinge, waarvan een gelykstaande kan wees aan ‘n innerlike persepsie." Verder noem Freud dit dat "die ego in die eerste plaas en bowenal ‘n lyflike ego [is]; dit is nie bloot ‘n oppervlakteverskynsel nie, maar is opsigself die projeksie van ‘n oppervlak." Hierdie oënskynlik kriptiese opemrking word in ‘n voetnoot by die teks wat op ‘n latere stadium aangebring is, as volg verduidelik: "Dit is, die ego is uiteindelik afgelei van lyflike gewaarwordinge, veral van dié wat uitgaan van die oppervlak van die lyf. Dit kan daarom beskou word as ‘n verstandelike projeksie van die lyf se oppervlak, afgesien daarvan dat, soos ons gesien het, dit die bobou van die verstandelike apparaat verteenwoordig." As ons die ego beskou as samehangend met die persoon en sy identiteit, is die belang van die lyf in terme van hierdie klassieke Freudiaanse beskrywing heel duidelik. Waar taal as ‘n ander tipe van lyf insgelyks ter sprake kom, het dit allerlei implikasies vir die identifikasie wat gemaak gaan word. Die taal van die moeder of moedertaal het die grootste kans op beliggaming, om dit so te noem, ‘n beliggaming wat die spreker aan sy moeder, maar ook aan die groter lyf van sy taalgemeenskap verbind. Vandaar dan die afwys, dikwels, van die demoniese taal van die vader, veral by die tweetalige spreker. Ons kom nou by die eintlike onderwerp van bespreking vanaand, en dit is die lyflike as sodanig. Ons het gesien dat die taal ‘n soort lyf is, maar die vraag ontstaan nou: wat behels lyflikheid presies? Wat is die filosofiese opvatting van die lyf? Nou is dit so dat Nietzsche by uitstek die denker is wat ons, as’t ware, met die verdediging van die lyf assosieer. Binne sy denke moet die lyf bevry word van die oorheersing van die gees soos ons dit aantref in die Westerse idealisme of, om my van Heidegger se term te bedien, die Westerse metafisika. In ‘n aforisme uit Der Wille zur Macht, maak Nietzsche dit duidelik dat die "eenheid" - vroeër het ons gepraat van die eenheid van taal, van eentaligheid en monolinguïsme, wat ewe seer met eenheid te make het – veel verwikkelder is: "Alles, was als ‘Einheit’ ins Bewusstsein tritt, ist bereits ungeheuer kompliziert: wir haben immer nur einen Anschein von Einheit. Das Phänomen des Leibes ist das reichere, deutlichere, fassbarere Phänomen: methodisch voranzustellen, ohne etwas auszumachen über seine letzte Bedeutung." "Alles wat as eenheid in die bewussyn tree, is reeds geweldig kompleks: ons het altyd slegs die skyn van eenheid. Die fenomeen van die lyf is die rykere, duidelikere, tasbaarder fenomeen: om metodies voorop te stel, sonder om iets uit te maak oor sy uiteindelike betekenis." Die lyf word dus sterk met die komplekse verbind; in ons geval die meerduidigheid van taal, die onafgeslotenheid, die uiteindelike betekenis wat uitgestel word. Ons kan nie die betekenis van die lyf vasstel nie; dit ontkom aan die inperking en geslotenheid van elke vorm van eenheid, van mono. Die gesonde lyf word gesien as ‘n opregte stem. Zarathustra (bl. 34) sê, "Hört mir lieber, meine Brüder, auf die Stimme des gesunden Leibes: eine redlichere und reinere Stimme ist dies. Redlicher redet und reiner der gesunde Leib, der vollkommene und rechtwinklige: und er redet vom Sinn der Erde." [Luister liewer, my broers, na die stem van die gesonde lyf: ‘n opregte en suiwere stem is dit. Opregter en suiwerder praat die gesonde lyf, die volkome en reghoekige: en hy praat van die sin van die aarde." Zarathustra gaan dan verder om sy hele teorie van die lyf uiteen te sit, waarin ons raakpunte met die Freudiaanse kan sien, want ook Freud praat van die lyflike ego wat via pyngevoelens of sintuiglike gewaarwordinge totstandkom: "Oor die veragters van die lyf Ek wil my woord rig tot die veragters van die lyf. Nie om hulle anders te laat leer en onderrig nie, dog vaarwel te sê aan hulle eie lywe – en so stom te word. "Lyf is ek en siel" – so spreek die kinders. En waarom sal mens nie soos kinders praat nie. Maar die wakkeres, die wetendes, sê: lyf is ek geheel en al, en niks anders nie; en siel is net ‘n woord vir iets anders as lyf. Die lyf is ‘n groot rede, ‘n veelheid met een sintuig, ‘n oorlog en ‘n vrede, ‘n trop en ‘n herder. Werktuig van jou lyf is ook jou klein rede, my broer, dit wat jy "gees" noem, ‘n klein werktuig en speeldingetjie van jou groter rede. "Ek" sê jy en is trots op hierdie woord. Maar die grotere is – dit waaraan jy nie wil glo nie – jou lyf en sy groot rede: dit sê nie ek nie, maar doen ek. Wat die sintuig voel, wat die gees herken, dit het nooit ‘n doeleinde opsigself nie. Maar sin en gees mag jou oorreed dat hulle die doeleinde van alle dinge is: so ydel is hulle. Werktuie en speeldinge is sintuig en gees: agter hulle lê nog die self. Die self soek ook met die oë van die sinne, dit hoor ook met die ore van die gees. Altyd luister die self en soek: dit vergelyk, bedwing, verower, versteur. Dit heers en is ook die beheerder van die ego. Agter jou gedagtes en jou gevoelens, my broer, staan ‘n magtige heerser, ‘n onbekende wysgeer – hy heet self. In jou lyf woon hy, jou lyf is hy. Daar is meer rede in jou lyf, as in jou beste wysheid En wie weet dan waarom jou lyf presies jou beste wysheid nodig het? Die self lag oor sy ego en sy trotse spronge. "Wat is hierdie spronge en gedagtevlugte vir my? sê hy vir homself. ‘n Ompad na my oogmerk. Ek is die leiband van die ego en die inblaser van sy begrippe." Die self sê vir die ego: "hier, voel pyn!" En daar ly die ego en dink na, hoe dit nie meer kan ly nie – en daaroor sál dit dink. Die self sê vir die ego: "hier, voel lus!" Daar kry dit lekker en dink na, hoe dit nog lekker kan kry – en daaroor sál dit dink. Aan die veragters van die lyf wil ek iets sê. Dat hulle verag, dit maak hulle agting. Wat is dit, wat agting en veragting en waarde en wil skep? Die skeppende self skep vir homself die gees soos ‘n hand vir sy wil. Selfs in julle gekheid en veragting, julle veragters van die lyf, dien julle jul self. Ek sê vir julle: julle self wil sterf en keer sy rug op die lewe. Dit vermag nie meer wat dit die liefste voor is: om iets na buite te skep, nie. Daarvoor is dit die liefste, dit is sy hele ywer. Dog te laat word dit nou daarvoor: - so wil julle self ondergaan, julle veragters van die lyf. Ondergaan wil julle self, en daarom verword dit tot veragter van die lyf! Want julle is nie meer in staat om iets buite julle te skep nie. En daarom is julle kwaad vir die lewe en die aarde. ‘n Onbewuste nyd is in die skeelkyk van julle veragting. Ek gaan nie julle pad nie, julle veragters van die lyf! Dit is vir my geen brug na die bo-mens nie. Só spreek Zarathustra." Hierdie passasie wemel natuurlik van verwysings na die bekende temas van Nietzsche se filosofie: die aanklag van die lewe in die naam van die dood en die hiernamaals soos gepleeg deur idealiste en metafisici, die skeppende en produktiewe neiging van die vrydenker wat streef daarna om bo-mens te word, die beaming of beja-ing van die lewe. Meer spesifiek egter kry ons hier die geweldige sterk afwys van die gees, die hoofelement van die Duitse idealisme, wat natuurlik terug te voer is na Plato. Elders het Nietzsche die Christendom beskryf as "platonisme vir die gepeupel", waarmee hy ‘n sekere vereenvoudigde idealisme of metafisika wou aandui wat dan via die kerk gepredik word. In die grootse, retoriese taal van Zarathustra is daar iets van die prediker, maar hy preek vir ‘n nuwe filosofie, nie van die gees nie, maar van die lyf soos dit baie duidelik in dié gedeelte gestel word. Die gees is bloot ‘n kleiner rede, ‘n instrument en ‘n speelding vir die self en die lyf. Op ‘n manier is die self en die lyf onskeibaar van mekaar. Eerder as wat die ego dus die heerser oor die verstand en die lyf is, is die lyflike self die beherende entiteit. Dit wat die lyf die graagste doen en die "liefste" is om te doen, is om iets na buite te skep. Daar is dus ‘n soort diepgewortelde skeppingsdrang waarvan die lyf omgewe is. Die lyflike veragters, daarenteen, het ‘n doodsbegeerte want hierdie skeppende ywer van die lyf is op hulle verlore.
Nietzsche sien ook ‘n verband tussen veragting en agting, wat ons nie net as woordspel moet interpreteer nie. Die anti-lyflike tradisie waarteen hy fulmineer is beide die teïstiese met sy agting vir die godheid en die humanisme met sy agting vir die mens of die mensheid. Agting volg vanuit die negatiewe moment van veragting, en binne hierdie logika verval ook agting sodra die veragting agtergelaat word, die nydige en skeelogige kyk na die lyf. Ons het nou ‘n hele pad saam met ‘n digter en skrywer of twee, asook die filosowe, geloop, en só die verband tussen moedertaal en lyflikheid uitgewys. Ons identifikasie met taal geskied via die moeder; in die woorde van Breyten Breytenbach dra ons haar klanke in ons keel. Die taal, asook die moedertaal is ‘n soort lyf wat ons ook verbind aan die groter lyf van ons taalgemeenskap. Volgens Nietzsche en sy segsman Zarathustra is die lyf ‘n veel grote rede of Vernunft as die gees of die verstand self. Die veragters van die lyf is diegene wat die lewe op aarde haat en eerder hul lywe wil doodwens. Hieruit kan ons nog ‘n paar afleidings maak, wat ek nou ten slotte wil doen by wyse van ‘n exergue. Exergue Die lyflike en die wyflike, germanistiese verafrikaansing van das Leibliche en das Weibliche, is waar enige rede oor die moedertaal moet begin. Die taal is ‘n vrou; sy is vroulik, weiblich, want sy kom van die moeder. Nie net dra ons die klanke van haar keel nie, ons ís die klanke van haar keel. Sy woon in ons lywe en sy is deel van ons. Die self is op sy beurt deel van die lyf, en die ego is bloot die handperd van die lyfself of lyflike self. O lyf, jy dwing my om na buite te skep, om my te eksterioriseer in die wêreld in. My lyf slaan soos sweepslae op die land; my woorde hang soos wolkstrepe in die lug. Ek kan hierdie wêreld en my lyf nie haat of verag nie. Eerder verag ek die lyfveragters of beter, ek bejammer hulle, want hulle hou daarvan om bejammer te word, soos slawe, soos slaafse denkers, soos die slawe van hul klein geeste. Teenoor die lykrede van die voorstanders van mono, van die een, van eenselwigheid, hou ek my lyfrede van plesier, van genot, erotiese genieting en die oordaad van taal. My taal is oorbodig, juis daarom verskaf dit my genoeë en kry ek lekker daarvan. Was bleibt? Es bleibt der Muttersprache. Je dirai volontiers ma langue maternelle. Die moedertaal as grootste taal, as moederaardetaal, is dit wat opswel en uitstulp in my soos ‘n reusetong wat vanself praat en die mens, die klein godjie, nie nodig het nie. Ek had genoeg van sedes en sedelesse, die veragtende redes van diegene sonder rede, die redelose predikante of polisie van die lyf. Ek sien hulle, en ná die borgesiaanse taksinomie, lyk hulle van veraf soos vlieë. As lyfveragters spesialiseer hulle in die afvang van vlieë. Ek keer my rug daarop en draai na my wyflike wederhelf waaruit woorde en name spoel soos branders of betekenisse oplaai soos die beweging van sterre deur die heelal. Geen ander taal of lyf het ek nie. Maar my lyf is nie een nie; ons is baie, ontelbaar baie soos sandkorrels in die woestyn wat afgestig het van enkele khoisan woorde. Ek ken geen vadertaal of vaderland nie; nogtans is ek nie wees nie. Ek woon in my lyf soos ‘n kind in sy huis, geborge en veilig en tot alles in staat. U kan dit aflees uit my lyftaal. |