chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Die skadustaat in Afrika suid van die Sahara, en die politieke rol van wanorde

Heinrich Matthee

Daar is minstens drie Afrikas, oorvleuelend en heterogeen: Arabiese Berber-ruimtes in die noorde, en Westerse en Negroïede ruimtes in Afrika suid van die Sahara.

Uit Afrika suid van die Sahara kom nie altyd iets nuuts nie. Die politieke dinamika herinner aan dele van Europa eeue gelede en Sentraal-Asië vandag.

Afrika suid van die Sahara is ook politiek divers. Dit dek die hele spektrum van tans relatief stabiele Botswana tot die korps van krygshere in Somalië.

Prominente Afrika-kenners kom egter tot die gevolgtrekking dat 'n hele paar soortgelyke prosesse politiek in die streek oorheers. Ek bespreek hierdie politieke dinamika en koppel hulle dan aan grond en plaasaanvalle in SA. As mens egter hierdie dinamika verstaan, het jy ook 'n greep op baie kwessies in die politiek van Afrika suid van die Sahara.

Magsopbou uit tradisionalismes en Afrika-moderniteit

Tradisionalismes vorm een dinamiese politieke register. Dit beteken egter nie dat politiek in die streek eintlik maar net 'n terugkeer na die pre-koloniale tyd is nie. Daar is juis 'n opmerklike vindingrykheid onder politieke akteurs in die opbou van mag, rykdom en status.

Politieke akteurs sluit sommige tradisionele strukture en prosesse in, maar sluit sommige uit of herinterpreteer hulle. By een geleentheid gebruik akteurs 'n tradisionele raamwerk om mag te bou of teenstanders aan te val, by 'n ander die woordeskat van moderniteit en demokrasie.

Vir baie Westerlinge lyk dit teenstrydig. Dikwels is dit vir die akteurs self egter doeltreffende politiek in 'n onstabiele omgewing met diverse kragte. Charles Taylor van Liberië is sodoende 'n getroue Metodis en ook deel van die tradisionele Poro-orde wat gekoppel word aan rituele kannibalisme. Hy is 'n persoonlike heerser van Taylorland volgens eeue-oue tradisies, maar benut daarvoor ook die woordeskat, ekonomiese geleenthede en privaatkrygerfirmas van globalisering.

Maagpolitiek

Die term "politiek van die maag" slaan op persoonlike selfverryking deur openbare ampte. Dit dui egter ook op ander belangrike politieke dimensies van rykdom: mededingendheid, aansien, die skep van vertroue onder die bevolking en as 'n teken van steun deur onsigbare kragte.

Kompeterende faksies se verryking maak dit nog belangriker vir die leier van die regerende netwerk om homself te verryk. Met sy rykdom kan hy dan meer steun koop en sy gesag oor ander netwerke betuig.

'n Man met mag wat rykdom kan opbou en herverdeel geniet ook hoë aansien. Pres. Houphoüet-Boigny van die Ivoorkus sal byvoorbeeld een van sy opponente probeer diskrediteer deur te sê: "Hy besit niks nie, nie eens 'n fiets nie."

Een van Moi se kabinetsministers, Oloitipitit, stel dit soos volg: "Ek is 'n Maasai, ek het geld. Ek verkoop nie hoenders nie… Ek het ses groot motors, twee groot huise, twaalf vrouens en sewe-en-sestig kinders." Oor sy teenstanders noem hy: " Hierdie mense is nie klein mans nie, hulle is mans met groot mae soos Oloitipitit."

Meeste mense in lande soos Liberië en Kameroen lei die oorsprong van alle mag terug na die onsigbare wêreld van God en die geeste. Mag en rykdom is ook potensieel 'n teken dat mens een is met die magte van die kosmos. Dit legitimeer dus magshebbers.

Prof. Peter Geschiere skets in The Modernity of Witchcraft hoe mense toegang soek tot kragte uit die onsigbare sfeer om mag en rykdom te verkry. Toegang tot die onsigbare kragte word egter ook gesoek om die magtiges te druk om hul rykdom te herverdeel en ander sosiale verpligtinge na te kom.

As 'n sterk gees, of 'n leier, by wyse van spreke mense opgeëet het en in sy maag het, het hy hulle ook in sy mag. Mens kry dus voorheen die hardnekkige gerugte, of dalk is dit net 'n metafoor, oor keiser Bokassa, en in Swaziland en die ou tuislande oor sekere magsfigure, dat hulle betrokke sou wees by die rituele eet van teenstanders.

Rykdom verminder ook die kans op magsmisbruik, meen Nzamdi Akiwe, die eerste president van Nigerië. Die spreekwoord in Kameroen hieroor lui: "'n krokodil wat reeds geëet het, is vol."

Selfs arm groepe in die bevolking aanvaar soms oënskynlik die weelderige leefstyl van hulle regeerders. Dit is die geval solank die leiers gesien word as die beliggaming en statusdraers van die groep.

Die skadustaat

Persoonlike netwerke en informele dinamika kom voor in alle politieke stelsels. In die streek oorheers dit egter die formele burokratiese strukture en norme in so 'n mate dat Prof. William Reno praat van die skadustate van Afrika.

Die meeste state in Afrika suid van die Sahara is 'n kombinasie van sulke patrimonialisme en burokratiese waardes en strukture, sogenaamde neopatrimonialisme genoem. Mag en ampte word eerstens gebruik om persoonlike belange en dié van die netwerk te bevorder, nie die algemene belang nie. "Die elites het die staat opgeëet," som 'n spreekwoord in Ghana die situasie op.

Die regerende netwerke het meestal nie die vermoë om die hele grondgebied te beheer en die hele bevolking te beskerm nie, en soms ook nie die wil nie. Hulle sorg vir hulle kliënte en netwerke, en die res moet maar op hul eie klaarkom.

Gebiede sluit ook dikwels 'n diverse bevolking in waarin verskillende groepe dink die regering verteenwoordig nie hulle belange nie. Regerende netwerke in die streek word dus dikwels uitgedaag deur ander gewapende netwerke. Angola, Soedan, die Kongo, Uganda, Rwanda, Ivoorkus - die lys is eenvoudig nooit leeg nie.

Oorgrenssones van gesag bestaan in verskeie lande. Daar kan vorentoe rondom die pole van Islam of tradisionele religie, handel, tale soos Hausa of etnisiteit nuwe sones van ekonomiese en politieke mag vorm. Suid-Afrika sal nie noodwendig hiervan gevrywaar wees nie.

Formele, informele en internasionale roetes na rykdom en mag

Beheer van die staat bly in die streek die hoofroete na verryking. Inkomste word verkry deur allerhande vorms van belasting. Daar is sedert 1994 dan ook 'n Renaissance van die belastingstelsel in SA. Boere byvoorbeeld word getref deur nuwe heffings, waterbelasting, grondbelasting, kapitaalwinsbelasting.

Privatisering of konfiskering van bates, en veral internasionale hulp, is ander min of meer formele maniere van fondsinsameling. Soos die staat partydig optree en die burokrasie se dienslewering agteruitgaan, verminder groepe se bereidheid om te betaal egter, ook die staat se vermoë om belasting in te samel.

Die informele sektor probeer die roofdierstaat ontvlug, en is dikwels groter as die formele een; 'n skadu-ekonomie in die skadu-staat. Soms kry die hoofnetwerk dan deur geweld of onderhandeling ook toegang tot daardie sektor.

Dit is belangrik om daarop te let dat insameling en selfverryking op onwettige maniere wyd geduld word deur kliëntnetwerke, mits die winste deels herverdeel word. Anti-korrupsieretoriek wil nie maagpolitiek beëindig nie, maar gewoonlik buitelandse beelde bou en selektief teenstanders neutraliseer.

Prof. William Reno beskryf hoe heersers of rebelle wat 'n gebied beheer in Liberië en Sierra Leone besluit het dis voordeliger om selfs die staatsdiens in effek te laat vergaan. Hulle ontneem die burokrasie van toegang tot bronne en skakel direk met internasionale akteurs, bv. mynmaatskappye en veiligheidsfirmas soos Executive Outcomes.

So kry hulle geld, beskerming en logistieke- en kommunikasiestrukture, sonder die verpligting teenoor die res van die bevolking of selfs veeleisende kliëntnetwerke. Die staat se soewereiniteit is dan 'n nuttige fiksie om internasionale besigheid te verkry en interne uitdagers se status te oorskadu. In effek is die regeerder dan egter net een groot gewapende sakeman of krygsheer tussen andere.

Die politiek van spieëls

Die politiek van spieëls speel soms ook 'n rol hier. Om te voldoen aan die vereistes vir buitelandse hulp, sê en doen regerings oënskynlik soos wat verwag word. Hulle privatiseer en demokratiseer. Die privatisering verklein egter dikwels nie net die burokrasie nie, maar ook die magsbasis van moontlike uitdagers, en plaas staatsbates in die hande van die netwerke.

Demokratisering versterk maagpolitiek, want partye moet ondersteuning werf deur bronne te herverdeel. Nicolas van de Walle merk op dat demokratiese verkiesings sedert die 1990s ou patrone bloot versterk het: krimpende deelname van die bevolking aan die politiek, groot kabinette en buitengewone mag vir die president. Soos Prof. Ali Mazrui sê, demokrasie in Afrika is in die intensiewe sorgeenheid.

Baie Afrika-lande is bekend vir groot kabinette, onafhanklik van die grootte van begrotings of werklike beleidsvorming. Dit hou moontlike uitdagers onskadelik op die soustrein. 'n Kabinetsminister is 'n soort superverteenwoordiger wat in kontak bly met die res van die land deur sy ondergeskiktes. Hy bind ook sy ondersteunerskorps aan die heerser.

In Kenia het Daniel Arap Moi die verkiesings in 1992 en 1997 naelskraap gewen, danksy aangestigte geweld teen sy teenstanders se gemeenskappe en baie wanpraktyke. Die IMF en Wereldbank het geëis dat hy sy 27-man kabinet verklein na 15. Moi het sy ministeries verklein tot 15, maar al 27 ministers en 27 onderministers aangehou. In 2002 is hy uitgestem. Ná 24 jaar se bewind het hy opgemerk: "dis jammer dat ek my pos verlaat nadat ek soveel werkservaring opgedoen het."

Buitelandse hulpagentskappe kry dus met demokratisering en liberalisering oënskynlik wat hulle vra, en hulle retoriek word terug reflekteer, maar dit is eintlik die regerende netwerk wat bevoordeel word. Miskien is dit wat 'n staatsgoewerneur in Nigerie voorverlede jaar bedoel het toe hy himself op sy plakkate bekendgestel het as "the guru of bombastic achievement."

Politiek is 'n riskante besigheid

Politiek in ASS is meestal 'n winsgerigte besigheid, maar 'n riskante een. Faksies wat met mening kompeteer is oral te sien, want die prys is 'n kans om deur die staat persoonlike mag en rykdom op te bou. Die leier het baie moontlike uitdagers en uitdagernetwerke.

In 'n omgewing waar die institusionele wigte en teenwigte self gepak is met partydige netwerke, raak geweld dan dikwels die troefkaart om 'n stryd te beslis. Tussen 1956 en 2001 het 41 van 48 Afrika-state 'n staatsgreeppoging beleef en in 30 daarvan was daar minstens een suksesvolle een.

Van 180 leierskapsveranderinge tussen 1960 en 1999, het 101 (56%) buitegrondwetlik geskied, 'n staatsgreep of 'n ander manier. Onder die afgesette leiers, is tweederdes gedood, gevangenis toe of in ballingskap. Haïti is nie hierby ingereken nie.

As die regerende netwerk hulself bevoordeel en ander groepe uitsluit van die beperkte staatsbronne, styg die potensiaal vir konflik. Twintig van die state het al burgeroorlog beleef, en ná die politieke liberalisering vroeg in die 1990s bly die risiko vir konflik onveranderd.

SA herdenk vanjaar die ANC se magsoorname in April 1994, maar Afrika herdenk ook die volksmoord van honderdduisende Tutsi's in Rwanda vanaf April 1994. Die Kongo-oorlog sedert die laat 1990s het sowat agt state van Afrika direk betrek en 3 miljoen dooies veroorsaak. Politieke ordes vorm en hervorm deurentyd deur die lem van die panga en die loop van die geweer.

Gekoopte stabiliteit

Nogtans bly sommige state relatief stabiel, al is hulle vir baie inwoners nie juis voorbeelde van die goeie lewe nie. Leonardo Arriola voer aan dat die organisasie van die netwerk en die vlak van verspreiding sulke stabiliteit bepaal. 'n Heerser moet genoeg bronne gee aan kliënte om hulle onderdanigheid te behou, maar nie genoeg om hulle in uitdagers te verander nie. Hy moet egter beheer behou oor die verdeling van bronne, anders kan uitdagers met sulke bronne hul eie netwerke vorm.

'n Party laat 'n leier toe om toegang tot die netwerke te reguleer en kompetisie oor die bronne te manipuleer. As daar 'n uitdager in die burokrasie is, kan die heerser bv. 'n nuwe parallelle partyposisie skep en so alternatiewe makelaars vir verspreiding skep.

Die party kan verskillende elites aanmekaarbind en verskillende etniese groepe koöpteer deur bronne te versprei. Alledaagse interaksie en privaat sosiale verkeer speel 'n groot rol in wat Jean-Francois Bayart die "assimilasie van die elites" noem.

Die leier moet egter voortdurend die geldgom gee wat die netwerke bymekaarhou. Sy boodskap is dus basies dié van die eens regerende Zambiese UNIP-party in 'n verkiesing: "It pays to vote UNIP."

Die kwynende opposisie

Die taak van 'n verteenwoordiger is om toegang tot bronne te kry. In baie state kwyn die opposisie weens die sterk druk van ondersteuners op opposisieleiers om aan te sluit by die regerende party en te deel in die voordele.

Partye en wetgewende vergaderings versterk dus selfs outoritêre leiers se greep op mag. Hulle raak die metodes om die opposisie te koöpteer of 'n belang te gee in die bestaande stelsel. Deur koöptering verlaag die heerser die moeite en koste om sy wil af te dwing.

In Kenia byvoorbeeld, noudat Moi verslaan is, is die alliansie van etniese partye onder Mwai Kibaki aan die lostorring. Kibaki het dus die salarisse vir parlementslede verdubbel tot $6000 per maand, meer as die helfte ook belastingvry. Meeste Keniane leef op minder as $30 per maand. Soos die Kameroense spreekwoord egter lui: "Die mond wat eet praat nie."

Terselfdertyd, in Nigerië, die streekmag van Wes-Afrika en Kenia, die streekmag van Oos-Afrika, bly intimidasie en sluipmoorde op politieke opponente deel van die politiek.

Die politieke konteks van grondsug

Weens die politiek van die maag word bronne herverdeel, maar investering en produksie word dikwels verwaarloos en die rykdom bloot verbruik. Skaars bronne word dikwels verkwis op vierings en glansprojekte wat die grootman se status verhoog, ook inhuldigings.

Ná die partytjie volg die babelaas: 'n regering raak onder druk omdat hy ná die verkwisting te min bronne oorhet. Dan soek die regerende netwerke gretig na nuwe bronne, ook om hul opponente te bekamp.

In Afrika suid van die Sahara is rykdom polities, 'n bron van politieke aansien, van geld om steun mee te koop, 'n teken van ooreenstemming met die onsigbare magte van die kosmos. Plase verteenwoordig 'n vorm van rykdom. Die verkryging daarvan is in 'n neopatrimoniële stelsel per definisie polities.

Die tydsberekening van druk vir grondherverdeling sê dikwels meer oor 'n regering se behoefte aan politieke steun as die regstel van ongeregtigheid. In Zimbabwe was daar byvoorbeeld herhaaldelik grondbesettings sedert 1980. Die regering het dit gesteun, geduld, doelbewus aangeblaas of genadeloos onderduk volgens die politieke behoeftes van die dag.

Toe die politieke opposisie in Zimbabwe weens politieke wanbestuur van die ekonomie begin groei, het Mugabe in 2000 die steun van landelike kiesers en topministers probeer verseker. Nuwe druk is geplaas op wit boere om hulle plase te verlaat en sedert 2000 is daar meer as 4500 boere se plase gegryp.

In Kenia, die streekmag in Oos-Afrika, was Daniel Arap Moi in politieke nood in die 1992 en 1997-verkiesings. Hy het ook doelbewus aggressie teen grondbesitters onder sy politieke teenstanders laat gedy. Die huidige fokus op grondherverdeling in Namibië voor die komende verkiesing val insgelyks in hierdie kategorie.

Soos na die Mau-Mau-veldtog teen blanke boere in Kenia, het die "Green Bombers" en oorlogsveterane in Zimbabwe bloot die pad help oopmaak vir hul leiers om die boere se grond oor te neem. Relatief min armes sal enige voordeel daaruit trek.

Politieke verantwoordelikheid vir swak veiligheidsmagte

Maagpolitiek het 'n effek op die instellings wat wet en orde moet handhaaf en veiligheid verseker. Die vermorsing van skaars bronne beteken dat die veiligheidsmagte minder fondse kan kry. Dit beteken dat sekere netwerke en groepe se bevoordeling meer tel as meriete, wat die gehalte van leierskap, moreel, infrastruktuur en middele aftakel.

Volgens Transparency International verlede week is van 38 staatsinstellings in Kenia die polisie die korrupste, gevolg deur die weermag, met die regbank die twaalfde mees korrupte: Jy moet dikwels omkoopgeld betaal selfs om net 'n klagte te kan lê. Die spreekwoord daar is ook: "Waarom 'n prokureur huur as jy 'n regter kan koop?"

Die swakheid en korrupsie van veiligheidsmagte in Zimbabwe en Kenia is direk toe te skryf aan die gevolge van maagpolitiek. Dit beteken dat hulle veiligheidsmagte, soos elders in die streek, al hoe minder mag buite die stede kan projekteer.

Die staat kan dus al hoe minder sy plig vervul om mense op die platteland of elders te beveilig. Neopatrimoniële regerings is dus politiek verantwoordelik as geweldsmisdadigers 'n vryer hand het om te roof en te moor.

Vigs en jeugmisdaad

Vigs het honderdduisende wesies in Kenia veroorsaak. Martin Schönteich beklemtoon dat daar 'n risiko is dat hierdie weeskinders hulle tot misdaad of jeugbendes sal wend om in hulle behoeftes te voorsien. Vigs takel ook die effektiwiteit van veiligheidsmagte af.

In die streek is die meeste mans met infeksie tussen 20 en 30 jaar, en die meeste sterftes neig om in die groep tussen 30 en 40 jaar voor te kom. Daar is navorsing wat bewys dat die oorverteenwoordiging van jong mans tussen 20 en 30 in 'n groter bevolking lei tot 'n groter voorkoms van groepsaggressie.

Indien 'n regering onvoldoende aandag gee aan Vigsbestryding en dit bydra tot misdaad in die samelewing, onstaan daar dus 'n politieke aanspreeklikheid.

Die berekende onthouding van aksie of beskerming

Daar is minstens vyf politiek gekleurde maniere waarop politieke netwerke hulle hande op plase kon kry: · Aankope van grond gekombineer met politieke en ekonomiese druk op grondbesitters · Onteiening deur die regerende netwerk se wetgewing · Die berekende terughou van aksie of beskerming · Indirekte geweld · Direkte geweld

Drre. Patrick Chabal en Jean-Pascal Deloz skryf in Africa Works: Disorder as political instrument dat baie regerings nie in staat is om wanorde, misdaad en geweld hok te slaan nie. Hulle gebruik egter hierdie situasie as 'n politieke hulpbron. Hulle laat toe dat brutale geweldsmisdaad die politieke omgewing nuut orden tot hulle voordeel.

Tim du Plessis skryf op 8 Februarie 2004 in Rapport dat daar 'n moontlikheid is dat mnr. Thabo Mbeki doelbewus die sloerdery rondom grondverdeling in SA toelaat, sodat daar druk opbou oor die grondkwessie wat hy dan kan gebruik om sy doel te bereik. Dit sou een voorbeeld van berekende onthouding van aksie wees.

President Moi het in Kenia in 1992 en 1997 in Zimbabwe sedert 2000 in talle gevalle doelbewus nie ingegryp en grondbesitters beskerm teen gewelddadige aanvalle nie. Daar was dus 'n berekende onthouding van beskerming totdat die politieke demografie in die "Rift Valley" deur geweld en intimidasie in sy guns verander is.

Indirekte geweld deur politieke netwerke

Soos in Rwanda in 1994 en in Zimbabwe sedert 2000, is jeuggroepe en milisies ook in Kenia in die 1990s deur die regerende netwerk georganiseer en befonds. Sulke groepe het grondbesitters in die "Rift Valley" wat nie aan Moi se Kalenjin-groep behoort nie, aangeval. Sedert 1991 is 1500 mense so gedood en bykans 300 000 mense so van die grond verjaag.

In Kenia is die jeugbendes ook van buite die gebied ingebring. Vir misleiding is hulle geklee in tradisionele klere van die plaaslike mense en uitgereik met tradisionele wapens. Onder hulle was selfs Hutu's uit Rwanda, Ugandese en Somalis, en van die swerm huurmoordenaars wat in Nairobi se kroeë gekontak kan word.

Sulke bendes kon die regerings se vuilwerk vir hulle doen, terwyl die regering enige aanspreeklikheid kon ontken. Soms is plaaslike grootmanne eerder as die nasionale regering die dryfveer agter indirekte geweld.

Die skadustaat gooi reeds sy skadu oor ons in SA. Die berekende onthouding van aksie of beskerming deur die regerende netwerk, en indirekte onderdrukking, kan ook hier hul opwagting in die toekoms maak.

Het u 'n mening hieroor? Stuur vir ons u reaksie na inlig@praag.org vir plasing op ons brieweblad.

Hoofbronne

Arriola, Leonardo R. Coups and Clients in African States. http://comparativepolitics.stanford.edu/Papers2003-04/arriola-feb9.pdf

Bayart, Jean-Francois. The state in Africa: the politics of the belly (Longman: London, 1993).

Bayart, Jean-Francois, Stephen Ellis and Béatrice Hibou. The Criminalization of the State in Africa (James Currey: Oxford, 1999).

Bratton, William and Nicolas van de Walle. Democratic Experiments in Africa: regime transitions in comparative perspective (Cambridge University Press, 1997).

Chabal, Patrick and Jean-Pascal Deloz. Africa Works: Disorder as political instrument (James Currey: Oxford, 1997).

Ellis, Stephen. The Mask of Anarchy: The Destruction of Liberia and the Religious Dimension of an African Civil War (London: C. Hurst, 1999).

Geschiere, Peter. The Modernity of Witchcraft: Politics and the Occult in Postcolonial Africa (University Press of Virginia: Charlottesville, 1997).

Kempe, Ronald Hope and Bornwell C. Chikulo. Corruption and Development in Africa: lessons from country case-studies (Basingstoke: Macmillan, 1999).

Reno, William. Warlord Politics and African States (Boulder: Lynne Rienner, 1999)

Martin Schönteich. "Age and Aids: South Africa's crime time bomb?" African Security Review vol. 8 no. 4.

Boontoe