|
|
|||||||
| chronologie
|
Afrika en Afrikaners in 2050 Johann
Wingard ‘n
Rede gelewer tydens die sewende vergadering van die Konfederale
Afrikanerforum. In
hierdie oorsig gaan ek nie probeer om ‘n antwoord op Afrikaners se
staatkundige dilemma te verskaf of om ‘n blinknuwe
oorlewingstrategie voor te stel nie. Ek gaan ook geen kommentaar oor die impak van VIGS lewer nie,
behalwe om nou reeds te noem dat VIGS, nes emigrasie, beslis daartoe sal bydra dat Afrikaners se getalle gaan
afneem. Ja, Afrikaners kry ook VIGS. Wat ek wel gaan
doen is om die fisiese omgewing asook die geopolitieke kragte waarin
Afrikaners hulself binne die volgende 50 jaar gaan bevind te probeer
ontleed en om Afrikaners se oorlewingsvermoë daarbinne te
beoordeel. My
tydjie is gans te kort om die hele toekomsomgewing te verken en ek
gaan slegs by enkele fasette daarvan stilstaan. Die fokus gaan
dus op die fisiese omgewing val; die politieke omgewing sal ek vir
meer bekwame sprekers oorlaat om te ontleed. Die wêreld beleef tans ‘n ekonomiese omwenteling wat deur vryhandel of sogenaamde globalisering aangedryf word. Globalisering, wat vryhandel sonder ekonomiese of politieke grense impliseer, maak die sterke egter sterker en die swakke nog swakker, ‘n feit wat maklik misgekyk kan word. Die groot moondhede se dominansie van die finansiële markte is slegs een vorm van globalisasie. Neem nou die VSA se finansiële stelsel waardeur hy sy handel finansier. Om dit in ‘n oorvereenvoudigde vorm te stel: Sou Suid-Afrika, byvoorbeeld $10 miljoen se elektroniese toerusting of wapentuig van die VSA wou koop, moet hy R67 miljoen se ystererts, wol of ander uitvoere se verkope vir VSA-Dollars verruil om daarvoor te betaal. Sou die VSA egter goud of chroomerts van die Republiek wou koop, druk hy teoreties net die dollars daarvoor, want handel met die VSA geskied in Dollar. Die VSA hoef niks in ruil daarvoor te produseer nie, aangesien slegs die VSA daardie Dollars kan druk. Vandag word Dollars selfs elektronies geskep om die inkkoste en papier te bespaar. Die Amerikaners het selfs die sogenaamde Petrodollar uitgebring waarmee hulle hul olievoorrade van Arabiese lande koop en olielande sit met groot bedrae daarvan in Amerikaanse banke. Dan is daar die mark self. Hoewel nie oppermagtig nie, is die mark ook nie totaal magteloos nie. Die mark wys reeds sy afkeer aan die VSA Dollar. Die koerant Gulf News berig dat meer as 4,7 miljard Dollar gedurende die afgelope twee maande reeds deur die Emirate en die Saudi’s na banke in die EU oorgeplaas is vanwaar die geld in eiendomme en aandele belê is. Die koerant berig ook dat Arabiese likiede bates in VSA banke een triljoen VSA Dollar oorskry. Binne die VSA-Islam geskil kan daardie geld baie maklik onttrek en in goud of eiendom omgesit word, iets wat katastrofies vir Amerikaanse banke sal wees, hoewel dit goud se monetêre posissie weer kan verstewig. Marktendense toon aan dat die dag nie meer ver is dat die Dollar heeltemal sal intuimel nie. Daarna sal die ganse geopolitieke landskap verander. ‘n Ingeplofde Dollar sal vir Amerika veel meer skadelik wees as wat die aanval op die Twin Towers was. Hoewel die VSA die 9/11 insident oorleef het sal ‘n verswakte dollar veel moeiliker wees om te oorleef.2 Amerika sal dan nie meer sy invoere met papier kan finansier nie en sal Amerikaners, net soos derde wêreldlande, ‘n sterk verlaging in lewensstandaard ervaar en onder ‘n enorme skuldlas gebuk gaan. Die VSA het dus een van twee opsies, naamlik om ‘n derde wêreldoorlog te ontketen en deur geweld sy posissie te verstewig, of om die daling van die dollar te probeer bestuur. Kenners glo dat laasgenoemde weens die Irakse ervaring, hul waarskynlikste opsie sal wees. Morgan
Stanley, een van die grootste finansiële instellings op aarde, se
Andrew Xie sê, en ek haal aan: 3 “American
policy makers should understand that, if the US dollar collapses,
the US would likely cease to be the superpower. At the moment, in my
view, Americans can enjoy their living standard and still spare so
much for defence because of low labor costs in East Asia. If this
were no longer the case, Americans would have to do everything
themselves and might not be able to put together the war machine
that they possess today.” Hoe
beïnvloed dit ons situasie? ‘n Ingeplofte VSA, asook ‘n
groeiende Sjina wat sy oë op Afrika het, sal die geopolitiek van
die vasteland oor 50 jaar wesenlik verander. Maar meer oor
Sjina later. Tydens
die afgelope 150 jaar het wêreldmarkte ongeëwenaarde groei ervaar.
Die totale wêreldproduksie van die jaar 1900 is in 2000 binne slegs
twee werksweke gedoen en teen 2025 sal dit in drie werksdae gedoen
kan word agv verbeterde kennis, outomatisasie, en kommunikasie.
Teen 2050 sal dit waarskynlik slegs een dag se produksievermoë in
beslag neem.4
Vandag oortref ons jaarlikse uitset van kennis die ganse wêreld se
kumulatiewe produksie tot 2010. Waarheen neem dit ons alles?
Ons
moet daarmee rekening hou dat die res van Afrika nooit ‘n
nywerheidsrevolusie ondergaan het nie, en dus nooit die verskillende
ondersteunende vakrigtings en dissiplines van ‘n nywerheidsland
ontwikkel het nie. Afrika se relatiewe mededingende posissie
sal dus verder verswak en sal waarskynlik meer en meer van
buitelandse steun afhanklik word, tot die punt bereik word waar die
vasteland inderwaarheid ekonomies gekoloniseer sal wees. Die
geskiedenis gaan homself dus herhaal, maar waarskynlik in ‘n meer
genuanseerde vorm en met nuwe rolspelers soos Rusland en Sjina as
koloniale moondhede. Die
wêreld betree reeds die era van uitputting.5
Sy natuurlike hulpbronne word stelselmatig uitgeput. In
Afrika, asook in ander wêrelddele, staan honderde toegegroeide mynskagte en vervalle fabrieke. Dieselfde gebeur met
die meeste lande se olie - en ander natuurlike hulpbronne asook
uraanreserwes. Kragstasies se leeftyd kom aan hul einde. Hoewel hulle vir ‘n ekonomiese leeftyd van 35 jaar ontwerp
was, sal die land se groot kragstasies, wat tydens die
apartheidsjare opgerig was, teen 2050 reeds byna 75 jaar oud wees.
Teen daardie tyd sal die meeste kragstasies se steenkool teen
aansienlike koste oor lang afstande vanaf ander myne aangery moet
word en kragkoste gaan die hoogte inskiet. (Die vraag kan dus met
reg gevra word of vandag se energiebeplanners weet waaroor dit gaan
wannneer hulle ons elektriese reserwekrag, die laaste oorblywende
erfporsie van die apartheidsbloeitydperk, spotgoedkoop oor ‘n lang
termyn aan aluminiumsmelters van transnasionale maatskappye
verkoop). Soos
ek reeds gesê het, gaan ons ‘n tydperk van uitputting tegemoet.
Regoor die aardbol sal honderde kernkragsentrales eersdaags aan die
einde van hul ekonomiese lewens kom, maar sal vir ‘n verdere
honderd jaar nog radioaktief bly en dus ‘n ekonomiese las wees.
Honderde verlate olie en gasplatforms gaan in die internasionale
seewaters bly staan en sal ‘n gevaar vir seevaarders inhou.
Om hulle te verwyder sal te duur wees, en wie gaan boonop daarvoor
betaal? Ek noem hierdie kwessies om aan te toon dat die
toekoms nie slegs ‘n voortsetting van vandag is nie. Alle
gebeure het ‘n begin en ook ‘n einde. Watter
groot kragte gaan die geopolitiek teen die jaar 2050 bepaal?
Amerika sal nie meer as die morele waghond van die aardbol kan
optree nie. Teen daardie tyd sal Rusland reeds ekonomies herstel en Sjina
volledig ontwaak het. Hierdie twee lande se mense is
hardwerkend en het die beste van die westerse ekonomiese en
tegnologiese stelsels oorgeneem, maar sonder die dekadente finansiële
geldstelsels waarvan hulle self ook voorheen die prooi was.
En die Islam? Wat gaan sy invloed wees? Deur verskeie
besoeke aan Rusland ken ek die kaliber van die Russe goed.
Hulle was in staat om eers Napoleon en toe weer Hitler in te sluk en
uit te spoeg. Rusland het ‘n Dostojefski en Tolstoy en
Rachmaninov en Solsjenetsin opgelewer; voorwaar ‘n volk van
buitengewone dimensies. Vir langer as ‘n 1000 jaar was hulle
deel van die Christendom en van Bisantyne. Hoewel die
post-Marxistiese Rusland deur hul groteske privatiseringsprogram
‘n nuwe Mafia geskep het en die kleinsakesektor nog heeltemal
onderontwikkel is, is hy stelselmatig besig om ekonomies te herstel.
Rusland se aardkors bevat letterlik alles; daar is gas, olie,
ystererts, diamante, goud, chroom, ens. Voor 1914 was Rusland die wêreld
se grootste uitvoerder van koring. Anders as Japan, wat niks
in die grond het nie, het Rusland alles in die grond. Dit is
dus logies om Rusland as ‘n toekomstige reus te beskou wanneer
ander lande se bronne uitgeput is en die VSA-supermoondheid nie meer
bestaan nie. Boonop is Rusland geopolities baie strategies
geleë teenaan Japan, Sjina, sentraal Asië en ander Moeslemlande.
Aan die Weste lê hy digby die Europese Unie. Rusland beslaan een sesde van die wêreld se landoppervlakte.
Om weer supermoondheid-status te bereik, hoef Rusland slegs te
volhard met sy huidige politieke ontwikkeling en om sy demokrasie te
verdiep. Die Russe worstel met die probleme van etnisiteit
binne hul federasie en probeer om daadwerkilke oplossings daarvoor
deur ‘n beleid van kulturele en staatkundige outonomie toe
te pas. Hul probleem met Tsjetsnië moet egter in terme van die
groter Islamse kwessie asook Tsjetsnië te inmenging in Kaspiese
olie-uitvoere gesoek word. Ons moet Rusland
nie langer as ‘n vyand beskou nie. Die anti-kommunistiese propaganda wat alle Russe voorheen
gedemoniseer het, kan nou vir ‘n meer realistiese
Afrikaner-Russiese verhouding plek maak. Onthou,
honderde Russiese vrywilligers het tydens die Anglo-Boere-oorlog aan
Boerekant geveg. Tydens die Volkstaatraad se sittings was die
buitelandse ambassades genooi om ons in hierdie Ou Raadsaal te kom
besoek. Slegs die Russiese afvaardiging het enige begrip of
simpatie vir die Raad se werk getoon en het selfs na die vergadering
agtergebly om ons bevindings oor etniese outonomie in diepte te
bespreek. Dan
die Islam: Waarheen is die Islam op pad? Twee faktore het die
opkoms van die Islam in moderne tye sterker aangedryf. Die een
is olie en die ander die vestiging van die staat Israel; hierdie
twee is bestanddele van ‘n plofbare politieke mengsel met ‘n
onvoorspelbare uitkoms. Soos voorheen genoem, sit die
Islamietiese lande reeds met miljarde VSA dollars en daar is tans
sprake van die oprigting van ‘n OPEC Internasionale
Ontwikkelingsbank waarmee die Islam die ganse vasteland van Afrika
as ‘n Islamabad kon inpalm, eerstens om die Islamgeloof uit te
brei, maar ook om die impak van sy eie kwynende oliereserwes,
groeiende bevolking en gebrek aan natuurlike hulpbronne die hoof te
bied. Sterk mededinging met Sjina kan gevolglik vanuit hierdie
oord verwag word. In
Suid-Afrika strek die Moeslemgemeenskap se invloed reeds veel verder
as wat hulle getalle ooit kan regverdig. Dit sal dus nie
verbaas as daardie gemeenskap stelselmatig gaan probeer om
Afrikaners as die land se ekonomiese enjin te ontsetel nie.
Onder beskerming van ‘n goedgelowige ANC-leierskap, wat in belang
van party-solidariteit dikwels baie ruimte vir faksionele
optredes binne sy eie geledere toelaat, mag politieke skuiwe vanaf
die Moeslemgemeenskap dus spesifiek op Afrikaners gerig word om
hulle verder te marginaliseer. Baie van die kulturele druk en
onsekerheid wat Afrikaners tans ervaar kom reeds vanuit daardie
oord. Dan
is daar Sjina. Napoleon het glo gesê6:
“Sjina is tans aan die slaap. Laat haar slaap. Want wanneer
sy wakkerskrik, sal jy wens sy het nog geslaap.” Teen die
huidige groei in bruto nasionale produk (BNP) sal Sjina teen 2014,
slegs tien jaar van nou af, die grootste nywerheidsland ter wêreld
in terme van BNP wees. Met
sy een en ‘n kwart miljard mense is elke vierde mens op aarde ‘n
Sjinees. Soos die Russe, sal die Sjinese ook met ‘n redelike
stabiele politieke omgewing en ekonomiese vryheid die
ekonomiese vermoëns van ander lande verbysteek. Kyk wat met
die Sjinese in Taiwan gebeur het! Kyk wat in Hong Kong gebeur
het! Om nie eens van Singapoer te praat nie! Hulle was
die voorlopers wat die magtige Sjina se ontwaking ingelui het. Die Sjinese is tawwer en smarter as die meeste ander rasse en
hul invloed op die toekomstige politieke terrein van die wêreld, en
spesifiek van Afrika, mag nie onderskat word nie. Binnekort
sal dit vir die eerste maal in die moderne geskiedenis wees dat die
grootste moondheid ter wêreld geen verbintenis met die
Joods-Christelike tradisies het nie. Die Christelike beskawing
se werklike toets lê dus vir hom voor; nie weens vervolging nie,
maar weens sy verminderde status, ‘n status wat tot nou toe as
vanselfsprekend aanvaar was en wat histories die grootste morele
dryfveer van die westerse beskawing was. Nader
aan Afrika word die prentjie dowwer. ‘n Beeld wat egter duidelik na vore tree is die kwessie van
klimaatsverandering deur atmosferiese verwarming. Daar bestaan reeds genoeg getuienis dat voedselproduksie
reeds deur klimaatsversteurings negatief geraak word. Tensy ‘n geïntegreerde en gekoördineerde landboustrategie
vir Afrika opgestel en uitgevoer word, sal dit, tesame met die
ongebreidelde bevolkingsaanwas, grootskaalse hongersnood in
Afrika tot gevolg hê. Ek beraam dat daar minstens 100,000
kommersiële boere met ondersteunende agrinywerhede soos meulens,
inmaakfabrieke en verpakkingsgeriewe teen 2050 in die beste
landbougebiede van Sentraal en Oos Afrika gevestig moet wees om die
grootste tragedie in die geskiedenis te voorkom. So ‘n program behoort die kern van die NEPAD te vorm en
verg ‘n ekonomies-politieke paradigmaverskuiwing, weg van die
heersende Afrikaan-egoïstiese ideologie van huidige
Afrika-regerings. Gelukkig
besef lande, soos Zambië en Mosambiek hierdie waarheid. Hulle is
reeds deur hul eie mislukte ekonomiese stelsels gelouter. Baie
Zim-boere word vandag in daardie lande hervestig. Die Sjinese
is tans besig om as beleggers, kosbare landbougrond vir Sjinese
landboubelange in te palm. Hierdie is dus ‘n ontsaglike
geleentheid vir Suid-Afrikaanse kundigheid om self ook globaal te
begin dink en te handel en om die voedselskure van Afrika vir
wederkerige gewin te ontsluit. Die
NEPAD kon ‘n ligpunt vir Afrika gewees het, maar die huidige
versuim van Afrika-regerings om Mugabe te repudiëer, skep ‘n ernstige
probleem. Oorsese beleggers het Mugabe se dreigement om alle
blanke eiendomme, plase of besighede te nasionaliseer regionaal
vertolk en is die hele suidelike subkontinent onder kwarantyn
geplaas. Die Brussel-gebaseerde International Crisis Group het
verlede jaar berig dat Suidelike Afrika reeds $36 miljard se
belegginge verloor het weens Mugabe se manewales. Ed Royce,
voorsitter van die VSA-Withuis se Subkomitee vir Afrika, het
gewaarsku dat dit nou uiters moeilik word om enige hulp of
beleggings aan die vasteland hoegenaamd eers te oorweeg.7
Soos die Zimbabwe geval, sal Afrika se politieke volwassenheid en
optredes die ekonomiese welstand van die vasteland bepaal en nie die
antikoloniale tirades van politici nie. Vir
Afrika het die terme ‘vryemark’ en ‘vryhandel’ altyd die
konnotasie gehad van vreemdelinge wat die vasteland binnekom, hul
roumateriale teen belaglike lae pryse opkoop en dan slegs
uitgewerkte mynskagte, vervalle geboue en werklose gemeenskappe
agterlaat. Afrika-regerings vertolk die vryemark dus dat hul
markte vir vreemdelinge oopgestel sal word, maar dat vreemde markte
meerendeels vir Afrika geslote sal bly. Globalisasie word dus
vertolk as ‘n vorm van neo-kolonialisme, met min voordele vir die
vasteland. Baie van ons sal daardie siening waarskynlik steun. Afrikaners se mening en insette om strategieë vir Afrika se mineraalontginning, kragopwekking, waterbestuur, landbou en agri-nywerhede te help uitwerk, moet dus na waarde geskat word, aangesien hulle self kinders van Afrika is wat Afrika ken en verstaan, en met die weste se werkswyses kan versoen. Dit is die enigste volksgroep van Afrika wat ‘n nywerheidsrevolusie deurgegaan en bestuur het. Regstellende aksie sal daardie feit nooit kan wegneem of verander nie en sal hoogstens as die politburo vernislagie op die ekonomie vertoon. Afrikaners sal egter meer Pan-Afrikanisties moet begin dink. Soos die bedoeling van NEPAD is, moet ons daarop aandring en selfs behulpsaam wees dat Afrika sy eie bronne moet beheer8 sodat die besit daarvan nooit aan vreemdelinge afgestaan sal word nie. Afrika moet sy natuurlike elektriese kragopwekkingsvermoë byvoorbeeld self ontwikkel en bestuur sodat transnasionale organisasies hulle nie sal voorspring om krag vir eie gewin te produseer nie, (soos die geval met die huidige vlaag Aluminiumsmelters is nie.) Binne hierdie toekomsbeeld kan Afrikaners, as kinders van Afrika, ‘n wesenlike ontwikkelingsrol speel. Hierdeur sal die plafon wat al laer bokant Afrikaners se koppe hang, heeltemal verwyder kan word. Regoor
die aardbol is die historiese strydkreet van minderheidsvolke:
“Verteenwoordiging voor samewerking”. Binne die stelsel van
nasionale parlementêre verteenwoordiging is Afrikaners ‘n
verdunde minderheidsgroepie, verdeeld binne al die verskillende
politieke partye soos ons vandag in hierdie saal kan sien, maar
sonder enige fokus op Afrikaners se unieke belange. Naas
burgers van Azanië, is ons ook Afrikaners met unieke belange en
probleme, maar sonder ‘n spreekbuis wat namens ons kan optree.
Soos wat dit in verskeie oorsese lande die geval is, is ‘n heel
ander stelsel van verteenwoordiging dus kritiek belangrik om
Afrikaners se skeppende vermoëns te benut en sy
ekonomies-tegnologiese vermoëns vir die vasteland in te span.
Maar daarvoor sal ‘n legitieme verteenwoordigende Raad opgerig
moet word wat namens Afrikaners ‘n langtermyn ekonomiese rol met
die plaaslike sowel as met ander Afrika-regerings kan beding.
Daar bestaan tans geen sodanige instansie om dit te doen nie.
Vir sy oorlewing sal Afrikaners se klem moet verskuif vanaf ‘n
polities-staatkundige ingesteldheid, dws vanaf magspolitiek, na ‘n
ekonomies-kulturele aanslag met verskansde staatkundige magte. Vir
soverre dit moontlike staatkundige ontwikkelings aanbetref, bestaan
daar etlike alternatiewe oorlewingstrategieë vir Afrikaners.
Hierdie strategieë het dieselfde gemene deler, naamlik ‘n verkose
buiteparlementêre struktuur wat Afrikanerbelange sal
verteenwoordig. Hoewel die vakbond Solidariteit vordering
begin toon met hul onderhandelings oor regstellende aksie, sal slegs
‘n verkose raad alle diskriminasie teen Afrikaners kan stopsit. Sodanige verteenwoordiging sal aan Afrikaners die
kanale bied waardeur hul samewerking met Afrikalande institusioneel
kan ontplooi. Soos dergelike Rade in verskeie ander lande
reeds doen, sal die Afrikanerraad mettertyd ‘n deel van die
nasionale fiskus kan beheer, sy eie minister van onderwys en
kultuursake kan hê en sy eie skole kan bedryf. Verder sal
kerngebiede, waar ‘n kritieke massa Afrikaners ‘n meerderheid
vorm, sekere bepaalde outonome magte kan kry, sodat Afrikaners van
oor die ganse aardbol ook ‘n kultuurheimat kan hê waar Afrikaans
as amptelike taal deur Afrikaners gebesig word. Tans klink dit
vergesog, maar soos alle ander regerings in die geskiedenis, sal die
huidige politieke bedeling ook weldra aan sy einde kom. Die
beleid van die huidige regering, naamlik versmelting van volksgroepe
met ander gemeenskappe deur geforseerde assimilasie, is nie slegs
onwettig en strydig met internasionale reg nie, maar mag selfs voor
2020 op ‘n ernstige burgeroorlog uitloop en Suid-Afrika in ‘n
veel erger ekonomiese moeras dompel as wat Zimbabwe vandag beleef.
Afrika se mense is gemeenskaps-georiënteerd, maar die grondwet,
asook amptelike beleid, behandel landsburgers slegs as individue met
regte. Dis twee pole wat spanning tussen staat en gemeenskappe
veroorsaak en wat die staat se legitimiteit by gemeenskappe
stelselmatig aftakel. Die
konsekwensies van ‘n burgeroorlog sal veroorsaak dat die
Afrika-vasteland daaronder gaan lei en miljoene mense verder
in hongersnood en ellende dompel. Propaganda-veldtogte,
disinformasie, verraad en teenintelligensie sal die tragedie vir
‘n rukkie kan uitstel maar sal dit nie kan verhoed nie en verskeie
volksgroepe kan daarby betrek word. Afrikaners is ook nie
immuun teen so ‘n stryd nie, want die punt snel vinnig nader waar
honderde duisende Afrikaners reeds sodanig verarm dat hulle niks
meer sal oorhê om in ‘n geweldstryd te verloor nie. Daardie
punt is reeds deur ander volksgroepe bereik. Overte of koverte
buitelandse inmenging, soos wat regoor die aardbol gebeur, en wat
voor 1994 ook hier ervaar was, is glad nie uitgesluit nie. Die
regering se huidige beleid jeens etnisiteit sal dus ‘n drastiese
koersverandering moet ondergaan om ‘n verdere
Afrika-tragedie te voorkom. Suid-Afrika
se toekoms is onherroeplik gekoppel aan dié van Afrika. Vroeër
was ons ekonomiese grense die land se politieke grense, maar sedert
1994 het dit ook verander. Desnieteenstaande die vordering van
die Afrika Unie-inisiatief gaan Afrika ‘n onseker tyd tegemoet;
met buitelandse inmenging van Sjina, Rusland en Moeslem-lande op die
horison. Moeslem-belange sal waarskynlik hul houvas op
plaaslike regeringsorgane verstewig en Afrikaners verder isoleer.
‘n Oorbeklemtoning van die belangrikheid van Afrikaans, ‘n taal
wat deur Afrikaanspraters van oor die hele etniese spektrum gedeel
word en waardeur ‘n kunsmatige nuwe kultuurgroep van Afrikaanses
kwansuis gevorm moet word, is ‘n deursigtige poging om slegs die
kommersiële belange van die mediabase deur ideologiese manipulasie
terwille te wees. Vandag is die werklike probleem in
Suid-Afrika nie die marginalisering van die Afrikaanse taal nie.
Nee, die taal is slegs die ore van die seekoei. Dit is die
oorlewing van die Boerevolk self wat in gedrang is; daardie
kreatiewe inheemse groep mense wat jaarliks met die
Bloedriviergelofte op hul gewete moet saamleef. Ek
sluit af. Afrikaners sal hul buiteparlementêre strukture so
gou moontlik moet oprig en legitimiseer sodat hul belange op die
hele Afrikavasteland, daardeur bevorder en beskerm kan word. Vandag
is Afrikaners nie meer die heersers nie en kan hulle dus hul talente
en gawes aan die ontwikkeling van hul eie sake wy. Die plig om
ons swart medeburgers op te hef en te ontwikkel rus nou op die nuwe
Afrosaksiese heersers se skouers. Die honderde projekte van
die voormalige Bantoe ontwikkelings-korporasies, wat vroeër deur
Afrikaners geïnisiëer en bestuur was, is die bewys dat Afrikaners
die vermoë besit om hul plekke as suksesvolle entrepreneurs in
Afrika vol te staan. Die feit dat die meeste van daardie
projekte sedert 1994 weens transformasie tot niet gegaan het, en die
omliggende werkersgemeenskappe as armlastiges gelaat het,
onderstreep slegs die unieke vermoëns van Afrikaners waarsonder
Azanië duidelik onbestaanbaar is. Dit
is dus onsinnig om kosbare tyd en energie te verspeel deur aan te
hou om teen mekaar te stry en oor ideologiese onwerklikhede hare te
kloof. Kom ons rol die moue op, vat die graaf en begin spit.
Hoewel die toekomsomgewing nuwe uitdagings gaan bied, lê daar ‘n
blink toekoms vir ‘n volk voor wat oor die talente van die
moderne Boerevolk beskik. Sien die volk vir wat dit is: ‘n
trotse en moderne Boerevolk, nie ‘n agtergeblewe blanke gemeenskap
van tweedeklas burgers binne Azanië nie! 13 Maart 2004 2 "Empire and the Capitalists" Fernand Braudel Center, Binghamton University 3 “Decline of the Dollar” Robertson Morrow 4
“The world in 2050” toespraak gelewer by die 1996
Wanderer Forum in Washington, D.C.deur Frank Shakespear
voormalige VSA-ambassadeur by die Vatikaan. 5
Ibid Frank Shakespear 6Ibid Frank Shakespear 7
“Zimbabwe
election crucial to Africa's future” Rena Singer, USA TODAY 8 “Sustaining Africa's Future”, Paul Harris Power and Interest News Report
|
|||
|
|