chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Afrika en Afrikaners in 2050

Johann Wingard

‘n Rede gelewer tydens die sewende vergadering van die Konfederale Afrikanerforum.

In hierdie oorsig gaan ek nie probeer om ‘n antwoord op Afrikaners se staatkundige dilemma te verskaf of om ‘n blinknuwe oorlewingstrategie voor te stel nie.  Ek gaan ook geen kommentaar oor die impak van VIGS lewer nie, behalwe om nou reeds te noem dat VIGS, nes emigrasie,  beslis daartoe sal bydra dat Afrikaners se getalle gaan afneem.  Ja, Afrikaners kry ook VIGS.  Wat ek wel gaan doen is om die fisiese omgewing asook die geopolitieke kragte waarin Afrikaners hulself binne die volgende 50 jaar gaan bevind te probeer ontleed en om Afrikaners se oorlewingsvermoë daarbinne te beoordeel. 

My tydjie is gans te kort om die hele toekomsomgewing te verken en ek gaan slegs by enkele fasette daarvan stilstaan.  Die fokus gaan dus op die fisiese omgewing val; die politieke omgewing sal ek vir meer bekwame sprekers oorlaat om te ontleed.

Die wêreld beleef tans ‘n ekonomiese omwenteling wat deur vryhandel of sogenaamde globalisering aangedryf word.  Globalisering, wat vryhandel sonder ekonomiese of politieke grense impliseer, maak die sterke egter sterker en die swakke nog swakker, ‘n feit wat maklik misgekyk kan word. 

Die groot moondhede se dominansie van die finansiële markte is slegs een vorm van globalisasie.  Neem nou die VSA se finansiële stelsel waardeur hy sy handel finansier.  Om dit in ‘n oorvereenvoudigde vorm te stel:  Sou Suid-Afrika, byvoorbeeld $10 miljoen se elektroniese toerusting of wapentuig van die VSA wou koop, moet hy R67 miljoen se ystererts, wol of ander uitvoere se verkope vir VSA-Dollars verruil om daarvoor te betaal.  Sou die VSA egter goud of chroomerts van die Republiek wou koop, druk hy teoreties net die dollars daarvoor, want handel met die VSA geskied in  Dollar.  Die VSA hoef niks in ruil daarvoor te produseer nie, aangesien slegs die VSA daardie Dollars kan druk.  Vandag word Dollars selfs elektronies geskep om die inkkoste en papier te bespaar.  Die Amerikaners het selfs die sogenaamde Petrodollar uitgebring waarmee hulle hul olievoorrade van Arabiese lande koop en olielande sit met groot bedrae daarvan in Amerikaanse banke.

Dan is daar die mark self. Hoewel nie oppermagtig nie, is die mark ook nie totaal magteloos nie.  Die mark wys reeds sy afkeer aan die VSA Dollar. Die koerant Gulf News berig dat meer as 4,7 miljard Dollar gedurende die afgelope twee maande reeds deur die Emirate en die Saudi’s na banke in die EU oorgeplaas is vanwaar die geld in eiendomme en aandele belê is.  Die koerant berig ook dat Arabiese likiede bates in VSA banke een triljoen VSA Dollar oorskry.  Binne die VSA-Islam geskil kan daardie geld baie maklik onttrek en in goud of eiendom omgesit word, iets wat katastrofies vir Amerikaanse banke sal wees, hoewel dit goud se monetêre posissie weer kan verstewig.  Marktendense toon aan dat die dag nie meer ver is dat die Dollar heeltemal sal intuimel nie.  Daarna sal die ganse geopolitieke landskap verander. ‘n Ingeplofde Dollar sal vir Amerika veel meer skadelik wees as wat die aanval op die Twin Towers was.  Hoewel die VSA die 9/11 insident oorleef het sal ‘n verswakte dollar veel moeiliker wees om te oorleef.2  Amerika sal dan nie meer sy invoere met papier kan finansier nie en sal Amerikaners, net soos derde wêreldlande, ‘n sterk verlaging in lewensstandaard ervaar en onder ‘n enorme skuldlas gebuk gaan.  Die VSA het dus een van twee opsies, naamlik om ‘n derde wêreldoorlog te ontketen en deur geweld sy posissie te verstewig, of om die daling van die dollar te probeer bestuur.  Kenners glo dat laasgenoemde weens die Irakse ervaring, hul waarskynlikste opsie sal wees.

Morgan Stanley, een van die grootste finansiële instellings op aarde, se Andrew Xie sê, en ek haal aan: 3

“American policy makers should understand that, if the US dollar collapses, the US would likely cease to be the superpower. At the moment, in my view, Americans can enjoy their living standard and still spare so much for defence because of low labor costs in East Asia. If this were no longer the case, Americans would have to do everything themselves and might not be able to put together the war machine that they possess today.”

Hoe beïnvloed dit ons situasie?  ‘n Ingeplofte VSA, asook ‘n groeiende Sjina wat sy oë op Afrika het, sal die geopolitiek van die vasteland oor 50 jaar wesenlik verander.  Maar meer oor Sjina later.

Tydens die afgelope 150 jaar het wêreldmarkte ongeëwenaarde groei ervaar.  Die totale wêreldproduksie van die jaar 1900 is in 2000 binne slegs twee werksweke gedoen en teen 2025 sal dit in drie werksdae gedoen kan word agv verbeterde kennis, outomatisasie, en kommunikasie.  Teen 2050 sal dit waarskynlik slegs een dag se produksievermoë in beslag neem.4 Vandag oortref ons jaarlikse uitset van kennis die ganse wêreld se kumulatiewe produksie tot 2010.  Waarheen neem dit ons alles? 

Ons moet daarmee rekening hou dat die res van Afrika nooit ‘n nywerheidsrevolusie ondergaan het nie, en dus nooit die verskillende ondersteunende vakrigtings en dissiplines van ‘n nywerheidsland ontwikkel het nie.  Afrika se relatiewe mededingende posissie sal dus verder verswak en sal waarskynlik meer en meer van buitelandse steun afhanklik word, tot die punt bereik word waar die vasteland inderwaarheid ekonomies gekoloniseer sal wees.  Die geskiedenis gaan homself dus herhaal, maar waarskynlik in ‘n meer genuanseerde vorm en met nuwe rolspelers soos Rusland en Sjina as koloniale moondhede.

Die wêreld betree reeds die era van uitputting.5  Sy natuurlike hulpbronne  word stelselmatig uitgeput.  In Afrika, asook in ander wêrelddele, staan honderde toegegroeide  mynskagte en vervalle fabrieke.  Dieselfde gebeur met die meeste lande se olie - en ander natuurlike hulpbronne asook uraanreserwes.  Kragstasies se leeftyd kom aan hul einde.  Hoewel hulle vir ‘n ekonomiese leeftyd van 35 jaar ontwerp was, sal die land se groot kragstasies, wat tydens die apartheidsjare opgerig was, teen 2050 reeds byna 75 jaar oud wees.  Teen daardie tyd sal die meeste kragstasies se steenkool teen aansienlike koste oor lang afstande vanaf ander myne aangery moet word en kragkoste gaan die hoogte inskiet. (Die vraag kan dus met reg gevra word of vandag se energiebeplanners weet waaroor dit gaan wannneer hulle ons elektriese reserwekrag, die laaste oorblywende erfporsie van die apartheidsbloeitydperk, spotgoedkoop oor ‘n lang termyn aan aluminiumsmelters van transnasionale maatskappye verkoop). 

Soos ek reeds gesê het, gaan ons ‘n tydperk van uitputting tegemoet.  Regoor die aardbol sal honderde kernkragsentrales eersdaags aan die einde van hul ekonomiese lewens kom, maar sal vir ‘n verdere honderd jaar nog radioaktief bly en dus ‘n ekonomiese las wees.  Honderde verlate olie en gasplatforms gaan in die internasionale seewaters bly staan en sal ‘n gevaar vir seevaarders inhou.  Om hulle te verwyder sal te duur wees, en wie gaan boonop daarvoor betaal?  Ek noem hierdie kwessies om aan te toon dat die toekoms nie slegs ‘n voortsetting van vandag is nie.  Alle gebeure het ‘n begin en ook ‘n einde.

Watter groot kragte gaan die geopolitiek teen die jaar 2050 bepaal?  Amerika sal nie meer as die morele waghond van die aardbol kan optree nie.  Teen daardie tyd sal Rusland reeds ekonomies herstel en Sjina volledig ontwaak het.  Hierdie twee lande se mense is hardwerkend en het die beste van die westerse ekonomiese en tegnologiese stelsels oorgeneem, maar sonder die dekadente finansiële geldstelsels waarvan hulle self ook voorheen die prooi was.   En die Islam?  Wat gaan sy invloed wees?

Deur verskeie besoeke aan Rusland ken ek die kaliber van die Russe goed.  Hulle was in staat om eers Napoleon en toe weer Hitler in te sluk en uit te spoeg.  Rusland het ‘n Dostojefski en Tolstoy en Rachmaninov en Solsjenetsin opgelewer; voorwaar ‘n volk van buitengewone dimensies.  Vir langer as ‘n 1000 jaar was hulle deel van die Christendom en van Bisantyne.  Hoewel die post-Marxistiese Rusland deur hul groteske privatiseringsprogram ‘n nuwe Mafia geskep het en die kleinsakesektor nog heeltemal onderontwikkel is, is hy stelselmatig besig om ekonomies te herstel. Rusland se aardkors bevat letterlik alles; daar is gas, olie, ystererts, diamante, goud, chroom, ens. Voor 1914 was Rusland die wêreld se grootste uitvoerder van koring.  Anders as Japan, wat niks in die grond het nie, het Rusland alles in die grond.  Dit is dus logies om Rusland as ‘n toekomstige reus te beskou wanneer ander lande se bronne uitgeput is en die VSA-supermoondheid nie meer bestaan nie.  Boonop is Rusland geopolities baie strategies geleë teenaan Japan, Sjina, sentraal Asië en ander Moeslemlande.  Aan die Weste lê hy digby die Europese Unie.  Rusland beslaan een sesde van die wêreld se landoppervlakte.  Om weer supermoondheid-status te bereik, hoef Rusland slegs te volhard met sy huidige politieke ontwikkeling en om sy demokrasie te verdiep.  Die Russe worstel met die probleme van etnisiteit binne hul federasie en probeer om daadwerkilke oplossings daarvoor deur ‘n beleid van kulturele  en staatkundige outonomie toe te pas. Hul probleem met Tsjetsnië moet egter in terme van die groter Islamse kwessie asook Tsjetsnië te inmenging in Kaspiese olie-uitvoere gesoek word. 

Ons moet Rusland nie langer as ‘n vyand beskou nie.  Die anti-kommunistiese propaganda wat alle Russe voorheen gedemoniseer het, kan nou vir ‘n meer realistiese Afrikaner-Russiese verhouding plek maak.    Onthou, honderde Russiese vrywilligers het tydens die Anglo-Boere-oorlog aan Boerekant geveg.  Tydens die Volkstaatraad se sittings was die buitelandse ambassades genooi om ons in hierdie Ou Raadsaal te kom besoek.  Slegs die Russiese afvaardiging het enige begrip of simpatie vir die Raad se werk getoon en het selfs na die vergadering agtergebly om ons bevindings oor etniese outonomie in diepte te bespreek.

Dan die Islam: Waarheen is die Islam op pad?  Twee faktore het die opkoms van die Islam in moderne tye sterker aangedryf.  Die een is olie en die ander die vestiging van die staat Israel; hierdie twee is bestanddele van ‘n plofbare politieke mengsel met ‘n onvoorspelbare uitkoms.  Soos voorheen genoem, sit die Islamietiese lande reeds met miljarde VSA dollars en daar is tans sprake van die oprigting van ‘n OPEC Internasionale Ontwikkelingsbank waarmee die Islam die ganse vasteland van Afrika as ‘n Islamabad kon inpalm, eerstens om die Islamgeloof uit te brei, maar ook om die impak van sy eie kwynende oliereserwes, groeiende bevolking en gebrek aan natuurlike hulpbronne die hoof te bied.  Sterk mededinging met Sjina kan gevolglik vanuit hierdie oord verwag word.

In Suid-Afrika strek die Moeslemgemeenskap se invloed reeds veel verder as wat hulle getalle ooit kan regverdig.  Dit sal dus nie verbaas as daardie gemeenskap stelselmatig gaan probeer om Afrikaners as die land se ekonomiese enjin te ontsetel nie.  Onder beskerming van ‘n goedgelowige ANC-leierskap, wat in belang van  party-solidariteit dikwels baie ruimte vir faksionele optredes binne sy eie geledere toelaat, mag politieke skuiwe vanaf die Moeslemgemeenskap dus spesifiek op Afrikaners gerig word om hulle verder te marginaliseer.  Baie van die kulturele druk en onsekerheid wat Afrikaners tans ervaar kom reeds vanuit daardie oord.

Dan is daar Sjina.  Napoleon het glo gesê6: “Sjina is tans aan die slaap. Laat haar slaap.  Want wanneer sy wakkerskrik, sal jy wens sy het nog geslaap.”  Teen die huidige groei in bruto nasionale produk (BNP) sal Sjina teen 2014, slegs tien jaar van nou af, die grootste nywerheidsland ter wêreld in terme van BNP wees.

Met sy een en ‘n kwart miljard mense is elke vierde mens op aarde ‘n Sjinees.  Soos die Russe, sal die Sjinese ook met ‘n redelike stabiele  politieke omgewing en ekonomiese vryheid die ekonomiese vermoëns van ander lande verbysteek.  Kyk wat met die Sjinese in Taiwan gebeur het!  Kyk wat in Hong Kong gebeur het!  Om nie eens van Singapoer te praat nie!  Hulle was die voorlopers wat die magtige Sjina se ontwaking ingelui het.  Die Sjinese is tawwer en smarter as die meeste ander rasse en hul invloed op die toekomstige politieke terrein van die wêreld, en spesifiek van Afrika, mag nie onderskat word nie.  Binnekort sal dit vir die eerste maal in die moderne geskiedenis wees dat die grootste moondheid ter wêreld geen verbintenis met die Joods-Christelike tradisies het nie.  Die Christelike beskawing se werklike toets lê dus vir hom voor; nie weens vervolging nie, maar weens sy verminderde status, ‘n status wat tot nou toe as vanselfsprekend aanvaar was en wat histories die grootste morele dryfveer van die westerse beskawing was.

Nader aan Afrika word die prentjie dowwer.  ‘n Beeld wat egter duidelik na vore tree is die kwessie van klimaatsverandering deur atmosferiese verwarming.  Daar bestaan reeds genoeg getuienis dat voedselproduksie reeds deur klimaatsversteurings negatief geraak word.  Tensy ‘n geïntegreerde en gekoördineerde landboustrategie vir Afrika opgestel en uitgevoer word, sal dit, tesame met die ongebreidelde bevolkingsaanwas,  grootskaalse hongersnood in Afrika tot gevolg hê.  Ek beraam dat daar minstens 100,000 kommersiële boere met ondersteunende agrinywerhede soos meulens, inmaakfabrieke en verpakkingsgeriewe teen 2050 in die beste landbougebiede van Sentraal en Oos Afrika gevestig moet wees om die grootste tragedie in die geskiedenis te voorkom.  So ‘n program behoort die kern van die NEPAD te vorm en verg ‘n ekonomies-politieke paradigmaverskuiwing, weg van die heersende Afrikaan-egoïstiese ideologie van huidige Afrika-regerings. 

Gelukkig besef lande, soos Zambië en Mosambiek hierdie waarheid. Hulle is reeds deur hul eie mislukte ekonomiese stelsels gelouter.  Baie Zim-boere word vandag in daardie lande hervestig.  Die Sjinese is tans besig om as beleggers, kosbare landbougrond vir Sjinese landboubelange in te palm.  Hierdie is dus ‘n ontsaglike geleentheid vir Suid-Afrikaanse kundigheid om self ook globaal te begin dink en te handel en om die voedselskure van Afrika vir wederkerige gewin te ontsluit.

Die NEPAD  kon ‘n ligpunt vir Afrika gewees het, maar die huidige versuim van  Afrika-regerings om Mugabe te repudiëer, skep ‘n ernstige probleem.  Oorsese beleggers het Mugabe se dreigement om alle blanke eiendomme, plase of besighede te nasionaliseer regionaal vertolk en is die hele suidelike subkontinent onder kwarantyn geplaas.  Die Brussel-gebaseerde International Crisis Group het verlede jaar berig dat Suidelike Afrika reeds $36 miljard se belegginge verloor het weens Mugabe se manewales.  Ed Royce, voorsitter van die VSA-Withuis se Subkomitee vir Afrika, het gewaarsku dat dit nou uiters moeilik word om enige hulp of beleggings aan die vasteland hoegenaamd eers te oorweeg.7 Soos die Zimbabwe geval, sal Afrika se politieke volwassenheid en optredes die ekonomiese welstand van die vasteland bepaal en nie die antikoloniale tirades van  politici nie. 

Vir Afrika het die terme ‘vryemark’ en ‘vryhandel’ altyd die konnotasie gehad van vreemdelinge wat die vasteland binnekom, hul roumateriale teen belaglike lae pryse opkoop en dan slegs uitgewerkte mynskagte, vervalle geboue en werklose gemeenskappe agterlaat.  Afrika-regerings vertolk die vryemark dus dat hul markte vir vreemdelinge oopgestel sal word, maar dat vreemde markte meerendeels vir Afrika geslote sal bly.  Globalisasie word dus vertolk as ‘n vorm van neo-kolonialisme, met min voordele vir die vasteland.  Baie van ons sal daardie siening waarskynlik steun. 

Afrikaners se mening en insette om strategieë vir Afrika se mineraalontginning, kragopwekking, waterbestuur, landbou en agri-nywerhede te help uitwerk, moet dus na waarde geskat word, aangesien hulle self kinders van Afrika is wat Afrika ken en verstaan, en met die weste se werkswyses kan versoen.  Dit is die enigste volksgroep van Afrika wat ‘n nywerheidsrevolusie deurgegaan en bestuur het.  Regstellende aksie sal daardie feit nooit kan wegneem of verander nie en sal hoogstens as die politburo vernislagie op die ekonomie vertoon.

Afrikaners sal egter meer Pan-Afrikanisties moet begin dink.  Soos die bedoeling van NEPAD is, moet ons daarop aandring en selfs behulpsaam wees dat Afrika sy eie bronne moet beheer8 sodat die besit daarvan nooit aan vreemdelinge afgestaan sal word nie.  Afrika moet sy natuurlike elektriese kragopwekkingsvermoë byvoorbeeld self ontwikkel en bestuur sodat transnasionale organisasies hulle nie sal voorspring om krag vir eie gewin te produseer nie, (soos die geval met die huidige vlaag  Aluminiumsmelters is nie.)  Binne hierdie toekomsbeeld kan Afrikaners, as kinders van Afrika, ‘n wesenlike ontwikkelingsrol speel. Hierdeur sal die plafon wat al laer bokant Afrikaners se koppe hang, heeltemal verwyder kan word.

Regoor die aardbol is die historiese strydkreet van minderheidsvolke: “Verteenwoordiging voor samewerking”. Binne die stelsel van nasionale parlementêre verteenwoordiging is Afrikaners ‘n verdunde minderheidsgroepie, verdeeld binne al die verskillende politieke partye soos ons vandag in hierdie saal kan sien, maar sonder enige fokus op Afrikaners se unieke belange.  Naas burgers van Azanië, is ons ook Afrikaners met unieke belange en probleme, maar sonder ‘n spreekbuis wat namens ons kan optree.  Soos wat dit in verskeie oorsese lande die geval is, is ‘n heel ander stelsel van verteenwoordiging dus kritiek belangrik om Afrikaners se skeppende vermoëns te benut en sy ekonomies-tegnologiese vermoëns vir die vasteland in te span.  Maar daarvoor sal ‘n legitieme verteenwoordigende Raad opgerig moet word wat namens Afrikaners ‘n langtermyn ekonomiese rol met die plaaslike sowel as met ander Afrika-regerings kan beding.  Daar bestaan tans geen sodanige instansie om dit te doen nie.  Vir sy oorlewing sal Afrikaners se klem moet verskuif vanaf ‘n polities-staatkundige ingesteldheid, dws vanaf magspolitiek, na ‘n ekonomies-kulturele aanslag met verskansde staatkundige magte.

Vir soverre dit moontlike staatkundige ontwikkelings aanbetref, bestaan daar etlike alternatiewe oorlewingstrategieë vir Afrikaners. Hierdie strategieë het dieselfde gemene deler, naamlik ‘n verkose buiteparlementêre struktuur wat Afrikanerbelange sal verteenwoordig.  Hoewel die vakbond Solidariteit vordering begin toon met hul onderhandelings oor regstellende aksie, sal slegs ‘n verkose raad alle diskriminasie teen Afrikaners kan stopsit.   Sodanige verteenwoordiging sal aan Afrikaners die kanale bied waardeur hul samewerking met Afrikalande institusioneel kan ontplooi.  Soos dergelike Rade in verskeie ander lande reeds doen, sal die Afrikanerraad mettertyd ‘n deel van die nasionale fiskus kan beheer, sy eie minister van onderwys en kultuursake kan hê en sy eie skole kan bedryf.  Verder sal kerngebiede, waar ‘n kritieke massa Afrikaners ‘n meerderheid vorm, sekere bepaalde outonome magte kan kry, sodat Afrikaners van oor die ganse aardbol ook ‘n kultuurheimat kan hê waar Afrikaans as amptelike taal deur Afrikaners gebesig word.  Tans klink dit vergesog, maar soos alle ander regerings in die geskiedenis, sal die huidige politieke bedeling ook weldra aan sy einde kom.

Die beleid van die huidige regering, naamlik versmelting van volksgroepe  met ander gemeenskappe deur geforseerde assimilasie, is nie slegs onwettig en strydig met internasionale reg nie, maar mag selfs voor 2020 op ‘n ernstige burgeroorlog uitloop en Suid-Afrika in ‘n veel erger ekonomiese moeras dompel as wat Zimbabwe vandag beleef.  Afrika se mense is gemeenskaps-georiënteerd, maar die grondwet, asook amptelike beleid, behandel landsburgers slegs as individue met regte.  Dis twee pole wat spanning tussen staat en gemeenskappe veroorsaak en wat die staat se legitimiteit by gemeenskappe stelselmatig aftakel.

Die konsekwensies van ‘n burgeroorlog sal veroorsaak dat die Afrika-vasteland  daaronder gaan lei en miljoene mense verder in hongersnood en ellende dompel.  Propaganda-veldtogte, disinformasie, verraad en teenintelligensie sal die tragedie vir ‘n rukkie kan uitstel maar sal dit nie kan verhoed nie en verskeie volksgroepe kan daarby betrek word.  Afrikaners is ook nie immuun teen so ‘n stryd nie, want die punt snel vinnig nader waar honderde duisende Afrikaners reeds sodanig verarm dat hulle niks meer sal oorhê om in ‘n geweldstryd te verloor nie.  Daardie punt is reeds deur ander volksgroepe bereik. Overte of koverte buitelandse inmenging, soos wat regoor die aardbol gebeur, en wat voor 1994 ook hier ervaar was, is glad nie uitgesluit nie.  Die regering se huidige beleid jeens etnisiteit sal dus ‘n drastiese koersverandering moet ondergaan om  ‘n verdere Afrika-tragedie te voorkom.

Suid-Afrika se toekoms is onherroeplik gekoppel aan dié van Afrika.  Vroeër was ons ekonomiese grense die land se politieke grense, maar sedert 1994 het dit ook verander.  Desnieteenstaande die vordering van die Afrika Unie-inisiatief gaan Afrika ‘n onseker tyd tegemoet; met buitelandse inmenging van Sjina, Rusland en Moeslem-lande op die horison.  Moeslem-belange sal waarskynlik hul houvas op plaaslike regeringsorgane verstewig en Afrikaners verder isoleer. ‘n Oorbeklemtoning van die belangrikheid van Afrikaans, ‘n taal wat deur Afrikaanspraters van oor die hele etniese spektrum gedeel word en waardeur ‘n kunsmatige nuwe kultuurgroep van Afrikaanses kwansuis gevorm moet word, is ‘n deursigtige poging om slegs die kommersiële belange van die mediabase deur ideologiese manipulasie terwille te wees.  Vandag is die werklike probleem in Suid-Afrika nie die marginalisering van die Afrikaanse taal nie.  Nee, die taal is slegs die ore van die seekoei.  Dit is die oorlewing van die Boerevolk self wat in gedrang is; daardie kreatiewe inheemse groep mense wat jaarliks met die Bloedriviergelofte  op hul gewete moet saamleef.

Ek sluit af.  Afrikaners sal hul buiteparlementêre strukture so gou moontlik moet oprig en legitimiseer sodat hul belange op die hele Afrikavasteland, daardeur bevorder en beskerm kan word. Vandag is Afrikaners nie meer die heersers nie en kan hulle dus hul talente en gawes aan die ontwikkeling van hul eie sake wy.  Die plig om ons swart medeburgers op te hef en te ontwikkel rus nou op die nuwe Afrosaksiese heersers se skouers.  Die honderde projekte van die voormalige Bantoe ontwikkelings-korporasies, wat vroeër deur Afrikaners geïnisiëer en bestuur was, is die bewys dat Afrikaners die vermoë besit om hul plekke as suksesvolle entrepreneurs in Afrika vol te staan.  Die feit dat die meeste van daardie projekte sedert 1994 weens transformasie tot niet gegaan het, en die omliggende werkersgemeenskappe as armlastiges gelaat het, onderstreep slegs die unieke vermoëns van Afrikaners waarsonder Azanië duidelik onbestaanbaar is. 

Dit is dus onsinnig om kosbare tyd en energie te verspeel deur aan te hou om teen mekaar te stry en oor ideologiese onwerklikhede hare te kloof. Kom ons rol die moue op, vat die graaf en begin spit.  Hoewel die toekomsomgewing nuwe uitdagings gaan bied, lê daar ‘n blink toekoms vir ‘n volk voor wat oor die talente van die  moderne Boerevolk beskik.  Sien die volk vir wat dit is: ‘n trotse en moderne Boerevolk, nie ‘n agtergeblewe blanke gemeenskap van tweedeklas burgers binne Azanië nie!

13 Maart 2004


2 "Empire and the Capitalists" Fernand Braudel Center, Binghamton University

3 “Decline of the Dollar” Robertson Morrow

4 “The world in 2050”  toespraak gelewer by die 1996  Wanderer Forum in Washington, D.C.deur Frank Shakespear voormalige VSA-ambassadeur by die Vatikaan.

5 Ibid Frank Shakespear

6Ibid Frank Shakespear

7 “Zimbabwe election crucial to Africa's future”  Rena Singer,  USA TODAY

8 “Sustaining Africa's Future”, Paul Harris Power and Interest News Report

Boontoe