|
|
|||||||
| chronologie
|
Marlene van Niekerk se haatskrif Dan
Roodt
Blykbaar
behaal Triomf sukses oorsee, terwyl dit plaaslik in Afrikaans
geen triomf onder lesers geken het nie. Sedert 1996 is die boek nog
nie herdruk nie, dus kan mens nie praat van boekwinkels wat oorval
word met navrae daarvoor nie. Van Niekerk self beskryf die boek se
ontvangs as “aanvanklik gemeng in Suid-Afrika. Een resensent van Die
Burger het gesê hy is net bly hy hoef dit nie weer te lees nie,
en ’n medeskrywer het gesê – ook in Die Burger – dat
die boek die Noma-prys gewen het omdat dit kwansuis politiek korrek
sou wees. Behalwe in die Boland dus, was die ontvangs in die ander
lande oor die algemeen verrassend positief.” Ek
wil nou ’n bekentenis maak: anders as Die Burger se
resensent, kon ek nie verder as bladsy 130 met die boek kom toe ek
dit aanvanklik in 1995 of wanneer dit ook al was, gekoop het nie. Triomf
is sekerlik die mees oorskatte prul van ’n boek wat daar al ooit
in Afrikaans gepubliseer is. Dit is swak, herhalend, vol
stereotipes, ’n geniepsige soort kleinburgerlike snobisme, en
boonop geskryf in loslit-Afrikaans, daardie patois wat Kas Landman
in ’n heuglike brief in Beeld verder as “oopgulp- en
losmaag-Afrikaans” getipeer het. Vermoedelik is Triomf nie
in losmaag-Engels of –Frans vertaal nie; nee, oorsee weet mense
van beter. ’n Mens sou selfs kon sê dat Marlene van Niekerk
losmaag-Afrikaans aan ons bekend gestel het, en dit is verder
vervolmaak deur Jackie Nagtegaal en die res wat so gretig is om aan
ons te toon dat hulle Engelse woordjies ken dat selfs nie eens ’n
anti-diarreemiddel hulle daarvan kan weerhou om een flou
Amerikanisme na die ander voor ons uit te stal nie. Maar
die eintlike vraag is nou waarom Van Niekerk se stuk los prosa
waarvan driekwart weggeredigeer kon gewees het sonder enige verlies
aan inhoud, soveel indruk op “oorsee” maak? “Oorsee” weet
mos gewoonlik van beter, nie waar nie? Veral in Groot Brittanje of
deesdae die VSA van waar Suid-Afrika meer en meer sy kultuur en sy
ideologie invoer wanneer dit nie regstreeks van Harare kom nie? Volgens
die New York Times, waarvoor Rapport ook met ’n amen
neerval in koloniale eerbied, gaan Triomf oor “The
White-Trash Bin of History” (NYT, 7 Maart 2004). Indien ’n mens
vir ’n oomblik sou wonder wie of wat die “white-trash bin of
history” in Suid-Afrika verteenwoordig – is dit dalk ons Engelse
vriende met hul vreemde aksent as hulle “have a lekker weekend”
sê of die Portugese wat terugverlang na Angola en Mosambiek of dalk
’n paar ex-Rhodies wat hier en daar uitvaar teen die “munts”?
– word jy baie gou deur die resensent van die New York Times
gerusgestel as hy Triomf definieer as “a
riotous portrait of a burned-out family of hillbilly Afrikaners
struggling haphazardly to adapt to the new South Africa.” Ha!
Nou verstaan ons beter. Die Afrikaner-hillbilly, eie-ma-naaiende,
bloedskandelike, dom, nee, stomonnosel, vertraagde, dumb Dutchman,
rassistiese, armblanke-, wanaangepaste, bowenal afstootlike
Afrikaner. Ek
het mos voorheen verwys na Nadine Gordimer wat Afrikaanse vroue in The
Conservationist sien as kaktusplante wat net goed genoeg is om
deur soldate van die Franse Vreemde Legioen verkrag te word, om
“hulself te bevredig.” Miskien lees die horde verkragters wat
deesdae in Suid-Afrika werksaam is ook Nadine Gordimer? Wie weet?
’n Mens moenie die invloed van die letterkunde en veral ons
Nobelpryswenners onderskat nie. Maar
terug by Van Niekerk se rioolroman. En as ek sê rioolroman, dan is
dit sekerlik nie omdat ek per se ’n beswaar het teen die
skatologiese nie. Die Markies de Sade het bladsye vol geskryf oor
ontlasting en wat mens alles daarmee kan doen; dele daarvan is selfs
interessant. Die probleem met Marlene van Niekerk se rioolpyp, haar
toiletrol wat bietjie te lank geword het in hierdie tyd van
woordverwerkers en speltoetsers wat dit moontlik maak vir selfs die
armes van gees onder ons om hulself as romanskrywers aan te bied, is
dat dit alles ondergeskik staan aan ’n etnosentriese projek. Soos
Nadine Gordimer wie se versamelde werk ek om een of ander duistere
rede op my boekerak aanhou, en wie se boeke wemel van neerhalende en
karikaturale voorstellings van Afikaners, het Marlene van Niekerk
hier ’n geleentheid raakgesien om “’n nuttige dollar te
verdien.” Laasgenoemde frase behoort aan Van Wyk Louw, wat toeka
se tyd al die onderliggende motivering in die werk van Paton en
veral Gordimer raakgesien het. Frank Zappa het mos ’n satire oor
die Beatles gekomponeer onder die titel, “We’re only in it for
the money.” Dit
is verbasend hoe die universitêre estete en askete - maar miskien
lyk hulle net asketies omdat hulle aantrek soos die karakters in Triomf
- altyd die eerste is om hul skryfwerk “markgerig” te maak. En
vir Afrikanerhaat, Boerehaat, anti-Afrikaanse chauvinisme, is daar
mos ’n mark, selfs ’n internasionale mark. ’n Mens kan sê dit
is amper ’n multinasionale bedryf, van die BBC oor Geo Cronjé se
baard tot daardie pateet van ’n Christopher Hope wat iewers in
Londen krepeer en ons af en toe vergas op een van sy saai boekies
vol gepoogde beledigings aan die Afrikaner se adres, van Le Monde
en Libération tot in Nederland waar hulle mos al die
Afrikaanse boeke in die Keizersgracht gegooi het. Praat
van “die narcisme van klein verskille”! Wat het ons gedoen om so
gehaat te word? Die Duitsers het die Jode vergas, die Britte het ons
vrouens en kinders in konsentrasiekampe van honger en siekte laat
doodgaan, die Amerikaners het die Indiane uitgemoor en die Australiërs
die Aborigineë, terwyl Verwoerd binne ’n rekordtyd skole en
universiteite vir swartes met die blanke belastingbetaler se geld
opgerig het. Van die dae van apartheid tot nou het Afrikaners nog
net opgevoed, opgehef, gesond gemaak, georganiseer, gehelp, maar
desnieteenstaande word ons beskou as so boos dat ons nie meer tot
die menslike ras behoort nie. In my roman Moltrein wat
eersdaags verskyn, gaan ek hier en daar in op dié kwessie, en bied
enkele verklarings aan. Soos dat die res van die wêreld, veral die
Europeërs, skuldig voel oor hul eie rassisme, anti-Semitisme, hul
eie menseregtevergrype en meelopery met die Nazi’s tydens die
Duitse besetting in die veertigerjare, en dat hulle daarom behoefte
het aan wat genoem word, ’n “sondebok”. In vandag se wêreld
mag jy nie meer swartes haat nie, jy mag nie mezisto’s haat nie,
jy mag nie Jode of Moslems of Arabiere of selfs Chinese haat nie,
maar sover dit Afrikaners betref, is dit so te sê oop seisoen. Jy
kan selfs voor president Mbeki “kill a Boer, kill a farmer”
sing, en die hele ANC sal vir jou handeklap. Geen
Menseregtekommissie, geen internasionale tribunaal gaan hom kwel oor
haatspraak jeens Afrikaners nie. Vandaar dus Marlene van Niekerk se
verbete verguising van Afrikaners deur hulle voor te stel as
agterlike wesens, so te sê goed vir die gaskamer of die abattoir.
Rasse- en etniese haat gaan altyd met humor gepaard. Dit wat Engelse
of Amerikaanse lesers snaaks vind in Triomf is presies dit
wat sekere Nazi-filmmakers wat Jode as rotte of ape of verworde,
half-dierlike wesens voorgestel het, se lagspiere geprikkel het. In
Paul Theroux se Dark Star Safari verwys hy insgelyks na die
makabere humor van Rwanda se volksmoordenaars. As hulle mense se
hande afkap, staan dit bekend as “langmoue”; kry iemand sy arms
bokant die elmboë met ’n panga geamputeer, staan dit bekend as
“kortmoue”. Ek
is seker Marlene van Niekerk lag haarself ’n papie oor al die
plaasboere wat hul verdiende loon ontvang, wie se skedels verbrysel
word, vrouens wat verkrag en doodgemartel word, ’n sesmaande-oue
baba wat in plastiek en koerantpapier toegedraai word en aan die
brand gesteek word. Die jongste geval van die Lourens-egpaar wat by
Hekpoort vermoor is, het gepaardgegaan met sodomie, verrig met ’n
rooiwarm yster. Soos
die resensent van die New York Times skryf, is dit alles baie
komies, soveel Afrikanerkarakters wat oral op die platteland en
selfs in die stede op allerlei skreeusnaakse maniere aan hul einde
kom, die wit vullis wat finaal tot die asblik verdoem word. Al
kan Marlene van Niekerk nie skryf om haar lewe te red nie, moet ’n
mens haar dit toegee: sy het die Zeitgeist korrek gelees.
Soos ’n Nazi-skrywer wat in die dertigerjare raakgesien het dat
anti-Joodse geskrifte ná Hitler se Mein Kampf sekerlik goed
ontvang sou word, so het Van Niekerk ingesien dat karikaturale
voorstellings van armblanke en werkersklas-Afrikaners ná die
jammerlike neerlaag van die NP-Afrikaners by Kemptonpark so te sê
verseker sou wees van sukses, veral “oorsee”. Ná alles, wie sou
Roelf Meyer kon gebaar het, behalwe ’n Mol? Triomf
mag geskryf wees in loslit-, losmaag-Afrikaans, maar eintlik is dit
geen Afrikaanse boek nie. Soos Antjie Krog wat dolgraag in Engels
sou wou skryf, maar dit blykbaar nie so goed regkry nie, behoef
Marlene van Niekerk vertalers. Hier is eintlik besig om ’n
nuwe soort literatuur te ontstaan: skryfsters van plattelandse
afkoms wat intens verlang om hul stereotipes in Engels te verkoop,
maar nou daartoe gedoem is om in hul moedertaal te skryf weens hul
onvermoë om die Rooitaal te kan skryf. Dit lei dan daartoe dat ’n
mens jou op jou moedertaal moet wreek, of dat jy ’n opwelling van
Afrikaans negatief ervaar soos wat Hennie Aucamp in sy kortverhaal
“Die uitsettingsbevel” beskryf: “Ek
hoef nie verder te vertel nie. Net dit: hy sit dae en nagte lank aan
sy eie verse en vertaal. Uit Afrikaans in Engels. Ek het ’n paar
vertalings gelees; hoflike dinge gesê soos: ‘Netjies.
Woordvaardig.’ Maar letterkunde het dié vertalings nooit geword
nie. En
ná ons wyn gedrink het, het hy begin huil. ‘Ek het so mooi
gevorder met die vertalings toe die ou ding weer begin het, nes ’n
ongewenste swangerskap. Nuwe verse. In Afrikaans.’” (In Enkelvlug.
Kaapstad: Tafelberg, 1978, bl. 2.) Daar
moet seker geen groter meulsteun vir Marlene van Niekerk en haar
denkskool – hoewel van denke is daar nie sprake nie, dus eerder skryfskool
- wees as Afrikaans nie. Iewers het sy gesê dat Afrikaans verdien
om uit te sterf op grond van een of ander gewaande moralistiese
beginsel. Duits, Engels of Frans – die Franse het byna
sestigduisend Algeryne doodgemaak in die vyftigerjare en hul
gevangenes sistematies gemartel – ontkom hieraan, maar nie
Afrikaans nie. Onderliggend
aan Triomf is ’n vervreemding, nie vervreemding teenoor
Afrikaans of Afrikaners nie, maar teenoor die self. Dit is die
ongelukkige boek van ’n ongelukkige siel, van ’n ontheemde. Die
taal van Triomf is neuroties, vervreem, byna histeries. Op
politieke vlak herinner ek my dat die Engelse weergawe van Triomf
die kommentaar ontlok het dat die boek ’n soort allegorie vir
Afrikanerskap of Afrikaner-Nasionalisme sou wees. Die sentrale
gegewe van bloedskande word in dié verband gesien as tipies van
alle Afrikaners en kleiner volke in die algemeen. Die
sewentiende-eeuse Swede onder Koning Gustavus Adolphus toe daar maar
anderhalfmiljoen Swede was, het seker binne dieselfde kategorie
geval. Dog op daardie stadium het Swede die hele Noord-Europa
oorheers en ’n geweldige opbloei beleef. Ook
die Dene of die Litouers of die Luksemburgers of Lesotho of
Swaziland sou volgens hierdie logika “bloedskandelike lande of
volke” verteenwoordig. Op bl. 244 van Triomf word daar
gesinspeel dat verskaffing van behuising aan armoedige Afrikaners
insgelyks deelagtig was in een of ander bloedskande: “En
hy wat Treppie is, moet sy seëninge tel en sê dánkie vir
Gemeenskapsbou lat hulle vir hulle ’n betaalbare dak oor hulle
koppe gegee het, en hy hoef mos nie saam te steel nie, al woon hy ok
saam met die tollenaars in Triomf. Dan
sê Treppie altyd Pop kan al die feite reg hê, maar hy trek altyd
’n cock-eyed conclusion, ás hy die dag een getrek kry. Dit gaan
nie soseer oor sondes nie, sê hy. Dit gaan oor structures. Van
sub-ekonomiese structures kry jy subekonomies sondes. Dis hoe die
lem in die hef steek. En dan sê hy sy conclusion uit dit alles is
net een. Lat Triomf ’n plek is waar die staat se een hand sy ander
hand was en dan sê mense moenie kom vingers wys nie, hy doen dit in
sy eie jaart in. It’s all in the family. Gemeenskapsbou in die
ware sin van die woord. En
dis net hulle luck, of hulle lot, hang af hoe jy daarna kyk, lat
hulle Benades by hierie gemeenskap van Gemeenskapsbou ingereken
geraak het.” In
terme van hierdie logika wonder ’n mens watter grootskaalse
“subekonomiese sondes” het daar nie uitgebreek sedert die ANC
’n magdom subekonomiese behuising vir swartes begin bou het nie.
Miskien is dit waarom daar deesdae soveel kinderverkragting, moord
en doodslag plaasvind. Maar swartes beskik oor ’n groot en groeiende
bevolking, dus berus hul bevolkingsuitbreiding seker nie op
“inteling” nie, die ou jingoïstiese aanklag teen Afrikaners wat
Van Niekerk in Triomf probeer verwoord. Terwyl
Triomf as Afrengelse teks ná publikasie in 1994 lankal reeds
irrelevant geraak het, beleef dit tans ’n soort wederopstanding in
die buiteland waar Van Niekerk se stereotipes groot byval vind. Die
vergelyking Afrikaners = “white trash” soos in die New York
Times word as universeel geldig beskou. Die
rede waarom ons hoegenaamd nog kennis behoort te neem van Marlene
van Niekerk se onbeholpe, uitgerekte prul, is dat dit ons onderrig
in die werkinge van propaganda en stereotipering. Trouens, Triomf
sou ’n goeie grondteks verskaf vir een of ander volksmoord op
Afrikaners. Die haat wat die skryfster teenoor diegene koester wat
eens haar “eie mense” was, kom tot uiting in die maniese
stereotiperings van die werk, die kartonagtige karakters, hul
geradbraakte, sotlike dialoog wat op die duur as’t ware onthullend
raak oor die skryfster se eie gedagtewêreld. Om 450 bladsye vol
verbale uitskot te pleeg, impliseer tog iewers iets meer as blote
morbiede belangstelling, selfs dat die skryfster haarself tuisvoel
in die Triomf-diskoers. Hoe
werk stereotipes? Enersyds spreek dit van ’n bepaalde gebrek aan
verbeelding, die vermoë om ’n wêreld anders as bevolk met
kartonfigure met voorspelbare, holruggeryde menings voor te stel.
Van Wyk Louw het gesê dat daar nie meer uit die gevormde literatuur
literatuur te make is nie, en dit geld sekerlik stereotipes ook.
Maar ’n stereotipe is veral geleë in die geslotenheid van jou
taal. Triomf praat namens die heersende ideologie wat
anti-Afrikaans, chauvinisties, selfs rassisties is. Van Niekerk
beheers dit wat die Franse literêre teoretikus, Roland Barthes, die
“doksa” genoem het: “Die
Doksa… is die Openbare Mening, die meerderheidsgees, die
kleinburgerlike Konsensus, die Stem van die Natuurlike, die Geweld
van Vooroordeel. Ons sou doksologie (’n term van Leibniz)
kon noem elke manier van praat wat aanpas by die skyn, by opinie of
by die praktiese.” (Roland Barthes par Roland Barthes.
Parys: Le Seuil, 1975, bl. 51.) In
terme van ’n wêreldwye doksa, is alle Afrikaners agterlik. Die
verligte Afrikaner sou verkieslik verengels om aan hierdie
agterlikheid te ontkom, maar vir diegene soos Marlene van Niekerk
wat dit nog nie mooi reggekry het nie, is daar ’n tweede
alternatief: om jou afsku in Afrikaners so te verwoord dat dit ten
minste in vertaling duidelik kan wees dat jy die doksa jou eie
gemaak het, dat jy “soos almal dink”, dat jy die heersende
etniese ideologie jou eie gemaak het. Vandaar
dus die New York Times se ingenomenheid met Triomf.
Marlene van Niekerk beeld die doksiese (of toksiese) voorstelling
van die Afrikaner as laerklas- moroniese maniak uit. Enige drang om
te bly voortbestaan of selfs net sy eie taal te aanhou praat sonder
grootskeepse invoeging van Engelse en Amerikaanse clichés dui op
geestelike versteurdheid en afwyking. Deur
haar egter volkome met die doksa, met die stereotipe, met “dit wat
almal glo” te vereenselwig, het Marlene van Niekerk gedaal tot die
vlak van blote propagandis. Indien sy in Nazi-Duitsland of in
Stalinistiese Rusland gewoon het, sou sy sekerlik anti-Semitiese
werke voortgebring het of regverdigings vir grootskaalse moorde op
“die vyande van die Russiese volk”. Ná
1989 is dit moeilik om links-regs-kategoriserings te maak. Dit is
moeilik om te sê of Marlene van Niekerk en haar oordrewe,
karikaturale geskrif wat pretendeer om ’n roman te wees,
“links” of “regs” sou wees. Ek kan my voorstel dat Van
Niekerk dink dat Afrikanerhaat ’n linkse ideologie sou wees, al
het die Britse Tories dit ’n eeu gelede uitgedink. Enigeen wat
’n Triomf kan skryf, kan egter nie baie slim wees nie, dus
is dit merendeels ’n geval van “sy weet nie wat sy doen nie,”
’n bietjie soos Lambert in die boek self. Dit
ly egter geen twyfel dat Marlene van Niekerk op ’n sekere vlak
’n fascis in die ergste sin van die woord is nie. Triomf
verteenwoordig ’n literêre pleidooi vir ’n “finale
oplossing” teenoor die Afrikaner, vir plaasmoorde en ander vorme
van ekstreme geweld teen blanke Afrikaners. Soos Barthes dit hierbo
stel, is ’n ander naam vir die doksa “die geweld van
vooroordeel.” Dat sy self uit ’n Afrikaanse agtergrond kom, en
boonop – bid jou dit aan! – aanhou om ’n pos in die Afrikaanse
departement van Stellenbosch te beklee, is oënskynlik ’n
paradoks, maar ons weet uit die geskiedenis dat Afrikaners, soos
ander volke, nog altyd afskuwelike meelopers gebaar het, die
National Scout, hensopper of quisling wat vir ’n sjieling ’n dag
hul eie mense sal verraai en sal ondergrawe. Wat
Triomf so ’n aanstootlike boek maak, is nie soseer die
platvloerse taal en gebrek aan enige estetiese aanvoeling nie, maar
die wete dat dit eintlik om ’n politieke en etniese projek gaan
wat ten doel het om Afrikanerhaat aan te blaas in ’n tyd waar
Afrikaners besonder weerloos staan teenoor allerlei soorte aanvalle
en diskriminasie. Dit wat Günter Grass oor anti-Semitisme skryf in
sy onlangse roman Kreeftegang, kan net so op Boerehaat
toegepas word: “Saam
met die aktualisering van die skip se ondergang kom die so lank
weggeduikte slagkreet ‘Laat Juda vrek!’ na die digitale
oppervlak van die huidige werklikheid: opborrelende haat, haatkolke.
My God! Hoeveel dinge het opgedam, vermeerder daagliks, smag na
dade.” (Kreeftegang, bl. 144) Triomf
het na bo gedryf in die kolkende rioolsloot van Afrikanerhaat. Van
Niekerk tree op as ’n soort mbongi vir Peter Mokaba en die
“kill a Boer, kill a farmer”-beweging. Dat Marlene van Niekerk
se anti-Afrikaanse haatskrif ook na dade smag, kan geen twyfel ly
nie. |
|||
|
|