|
|
|||||||
| chronologie
|
'n Gesprek met Kaptein Duiwel Heinrich Matthee Hy het sporadies gevloek tussen die jenewer deur terwyl ek hom met vrae bestook. Bruce MacKenzie ('n skuilnaam) was 'n figuur in die destydse veldtog om sanksies teen Rhodesië te ontduik. Hy het allerhande verbintenisse met SA en het wyd gelees en gereis. Ek het hom gevra wat mens kan doen ná die onlangse verkiesing in Suid-Afrika, 24 jaar nadat Rhodesië Zimbabwe geword het onder Robert Mugabe. V: Wat beteken die tweederdemeerderheid vir die ANC in die huidige verkiesing? Waar laat dit die etnies bewuste Afrikaners wat hul eie vryheid nastreef? A: Suid-Afrika onder die ANC is nou 'n politieke tronk vir etniese Afrikaners. Daar is geen kans dat julle in die volgende dekade of wat deur die parlement jul vryheid sal bekom nie. 'n Kwarteeu na die val van die kommunisme het julle nou 'n weergawe van die Demokratiese Volksrepubliek. Soos die nie-Russiese volke in die Sowjet-Unie. V: Wat kan mens doen ? A: Die tronk gaan uiteindelik verbrokkel, maar kom ons begin by die basiese. Jy moet besluit wat jy met jou een kort lewe gaan doen. Hoever sal jy gaan en wat sal jy opoffer. Tree dan daarvolgens op. Ek praat nie van geweld nie, dis teenproduktief. Ek praat van doelgerigte aksie om julle mag en geld en kundigheid op te bou. Moenie begin wat jy nie kan eindig nie, maar as jy besluit om iets te doen, moenie ophou voordat dit klaar is nie. Ek dink dis Richard Nixon wat gesê het "it is only over when you quit", en Henry Ford, "Think you can. Think you can't. Either way you are right." V: Geld dit ook vir 'n politieke tronk? A: Ek het in die koue kultuurstad Leipzig die beeldjie gesien van Feliks Dzerzhinsky. Die stigter van die CHEKA-geheime polisie, wat self jare in die Tsaar se tronke was. "Moenie in jou hart ooit die tronkgesag aanvaar nie, vrees niemand nie en vertrou niemand nie." Só het hy oor die tronklewe gepraat, en hy het iets daarvan geweet. Tsaristiese tronke was nie bekend vir hul beskaafdheid nie. Viktor Frankl het die Duitse kampe oorleef deur betekenis in sy lewe te skep. Soos julle eie Stormjaers in die kampe en tronke tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die geesteswapens waarmee mense in sulke uiterste omstandighede oorleef, is waarmee jy jouself vorentoe kan staal. V: Albert Schweitzer het genoem 'n Westerling moet in Afrika boeke lees om te oorleef. A : Vryheid begin in die hart en die verstand, lank voordat die lyf vry is. Dan bou jy dit op met klein dade van verset en selfbetuiging. "If you don't use it, you lose it." Dit geld ook vir veggees. Elke handeling waarmee julle jul eie kragte opbou, elke handeling is so 'n klein daad van verset en selfbetuiging. Moenie dit rig teen Mbeki nie, julle is te swak om nou sy wil te buig. Gebruik die energie en gaan bloot voort om julle persoonlikheid te bou, selfstandigheid van gees en ingesteldheid. Die gees soek natuurlik stimulasie, soos boeke. En sonder 'n fisieke fondament gaan jy nie die lang stryd volhou nie. Jy is wat jy eet. Eet gesond, leef soos 'n atleet, en as jy wil oordadig lekker eet, doen dit dan net een of twee dae in die week. Sleep uit daardie oefenapparaat, gaan stap vinnig deur jou mooi streek of klim op die langpad. V: Hoe moet mens die oorheersers benader? A: Die ANC is in wese 'n vreemde besettingsmag oor etniese Afrikaners, Xhosa-beheer. Die geskiedenis van ander besette volke, die Pole, die Nederlanders, die Franse, wys dat meeste mense se verset teen 'n oormag slinks eerder as heldhaftig is. Miskien spruit die uitdrukking Boereverneuker uit die tye toe die Engelse julle oorheers het. Die Engelse sal as jy sy pa vermoor glimlag en jou nooi vir 'n koppie tee. Maar hy gaan die heeltyd dink en kyk hoe hy jou vir die volgende veertig jaar daaroor kan opf*k. "Service with a smile", dis wat julle die ANC moet gee as julle moet, en dink dan aan die veertig jaar. V: Wat van die ANC se magsinstrumente, die burokrasie en veiligheidsmagte? A : By baie van hulle is die keuse reeds tussen inmekaarstort en uitmekaarval. Gebruik die kragte wat nog daar is, die kundigheid en netwerke en geld. Moenie altyd die wiel herontdek nie. As jy in die staatsdiens is, suig dit uit en gebruik dit sodat jy eendag jou eie strukture kan begin oprig. Dit is immers jou mense se belastinggeld. Groot dele van die staatsdiens vou weens Vigs en luiheid, geldverkwisting en korrupsie, aanstellings van swak mense. Daar is kundige ANC-kaders en -ondersteuners, maar hulle is te min om die hele bouwerk in die lug te hou. As jy buite die staatsdiens is, lig geen vinger om hulle te help nie. Behalwe as jy so nuttige kontakte kan maak of kundigheid kan verkry of beter kan opereer. Julle bestel kan nie hou nie. Die vraag is bloot watter magsmiddele en visie Afrikaners gaan hê die dag as daar swak beheer is oor dele van julle land. Zimbabwe is relatief klein en landbou kan makliker sentraal beheer word. Julle in SA gaan moeiliker totaal oorheers word, mits julle alternatiewe kragbronne opbou. Julle moenie die koue haat onderskat wat daar wel onder die ANC-leiding teenoor enige vorm van Afrikanermag bestaan nie. Gaan luister na die binnebesprekings, nie die gesaniteerde koerantkommentare nie. V : Wat sê u van die VF+ en NA se vertonings? A : Mens moet nog sien hoeveel Afrikaners doelbewus nie gaan stem het nie, maar die etniese partye se steun is beperk. Daar kan baie redes voor wees. Die punt bly, selfs al kry hulle stemme, sonder gemobiliseerde mense en hulpbronne wat iets kan doen as die praathuis sluit, beteken 'n organisasie niks in hierdie soort stryd nie. Mens het twee keuses: jy kan eerstens soveel geld en menslike kapitaal moontlik bymekaarbring, en daarna die klem plaas op ideologiese doelwitte, of jy kan eerstens fokus op die ideologiese doelwit en hoop om daarmee geld en menslike kapitaal na jou toe aan te trek. Aangesien die Afrikaners nog nie heeltemal met hul rug teen die muur staan nie, is daar dalk tyd om die net wyer te gooi en voorlopig eersgenoemde benadering te volg. V : Is dit nie dalk wat die Solidariteit-vakbond doen nie ? A : Die benadering om te mobiliseer rondom meer algemene belange eerder as eng polities, bv. soos Solidariteit, is dalk meer realisties en winsgewend. Meeste mense stel minder belang in politiek as hulle eiebelang en sak. Afgesien van vakbonde moet mense ook dink rondom vakkundige verenigings. Daar is bv. die Vereniging vir Regsgeleerdes vir Afrikaans, wat dosyne regsgeleerdes saamsnoer. Dit begin 'n alternatiewe regsopvoedingstelsel bedryf, en kan uiteindelik ook 'n alternatiewe arbitrasiestelsel daarstel, los van ANC-beheer. Al begin so iets klein, dit polariseer 'n vakgebied en gee 'n basis vir etniese gemeenskapsleiers. Daarvandaan kan die etniese vakgroep groei soos omstandighede in sy bedryf versleg. Dikwels sal dit apolitieke sake wees wat so 'n vakgroep laat groei, soms politieke sake soos rondom dokters en aptekers. Lenin se probleem is natuurlik voortdurend daar, naamlik wat gebeur as 'n regering die politieke vakvereniging neutraliseer met toegewings wat sy griewe op die vakgebied alleen aanspreek. Sake is deesdae egter so verweef, die ANC-staat se fondse is beperk, en daar is baie belangegroepe binne die ANC wat die rewolusie aandryf. Ek glo dus 'n etniese vakgroep sal die kulturele en politieke strydpunte brandend hou. V: Sal die ANC nie daarteen stappe neem nie? A: Jy kan seker wees dat enigiets wat begin lyk na 'n bedreiging gemonitor en bekamp gaan word. Die geskiedenis van meeste bevrydingsbewegings is dat mense bogrondse organisasie bou, en weens onderdrukking uiteindelik ook ondergrondse netwerke van selle. Elke bevrydingsbeweging mik ook uiteindelik daarna om sy eie immuniteitstelsel, sy teeninligtinggroep, te verbeter en dié van sy vyand te infiltreer. Mens moet maar kyk wat nodig is of nodig raak. In 'n krisis gaan jou grootste vriende maar ook jou grootste vyande Afrikaners om jou wees. Die geskiedenis se stryde wys ons een ding: elke mens is potensieel 'n lafaard, dit is net die breekpunt wat verskil. Afguns of geld kan enigeen teen jou enige tyd laat draai. Die meeste Afrikaners skrik hulle wind weg as 'n polisieman hom bel en vra om met sy pajamas en tandeborsel polisiekantoor toe te kom. Dit gaan nie vergesog bly nie; onthou jy die foto's van die Zim-boere kaalvoet in kakiebroeke en kettings agterop die polisievragmotor? In Zimbabwe het mens al jare agtergekom dat die moraliteit onder mense verval. As 'n gemeenskap plek-plek begin ontbind, verval sosiale beheer en standaarde: jy kry meer mense wat jou vrou sal probeer afvat of jou geld, of jou sal verraai. Ek het eendag met 'n Duitse offisier gepraat: dit was ná hulle oorgawe vir jare net so onder die Amerikaanse besetting. Die roofdier onder mense kom uit in 'n besette land. V : Is daar positiewe punte? A: Onder 'n onderdrukkende stelsel onttrek baie mense uit die publieke sfeer, maar die lewe met vriende en familie raak warmer en gehegter. In Oos-Europa onder die Kommuniste was dit so. Baie Oos-Duitsers hunker eintlik vandag terug na daardie dae. Die DDR het een van die besbefondste en opgeleide veiligheidsdienste gehad, met tienduisende informante, tot die man wat op die vrou spioeneer of andersom. Hulle kon nog steeds nie keer dat die Oos-Duitsers hul juk begin afwerp nie. Mbeki sal nie kan keer as 'n sterk minderheid Afrikaners eenvoudig voortgaan en hulle inleef in hulle eie volkstaat nie. Net julle eie leiers kan dit keer, en dan moet julle hulle vervang met mense wat wel die ding kan doen. V: Word leiers gebore of gekweek? A: Die maklike antwoord is beide. Die Britse Empire se adel, die Pruisiese generale staf, die Franse mandaryneklas vandag is egter almal leiersgroepe wat doelgerig gekweek is. As Afrikaners ernstig is om vryheid te verkry, is dit nie genoeg om net tongvegters van formaat in die stryd in te stuur nie. Jy gaan skeppende en sterk persoonlikhede nodig kry. Meeste van daardie soort mense is nou buite die politiek. Dit is al 'n verskynsel onder Afrikaners die afgelope dekade of meer. Die uitdaging is om hulle betrokke te kry by gemeenskapsaksies. Daarom dink ek vakverenigings is belangrik. Mense het onmiddellike belang daarby, en hulle word makliker deur deelname en blootstelling en interaksie met helderdenkendes oortuig. Mens moet 'n hele leiersgroep oplei. As een dan val, sal daar nog een wees wat met die vaandel verder storm. Julle grootste hulp, die een wat meer gaan doen om julle mense te mobiliseer as julle almal saam, is pas vir nog vyf jaar verkies. Kom ons drink 'n dop daarop. 2 0 April 2004 |
|||
|
|