chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

'n Verkiesingsmanifes vir 'n Afrikaner-Renaissance

Anton Barnard

Na aanleiding van die pas afgelope verkiesing het dit aan die Afrikaner duidelik geword dat die huidige politieke bestel hom niks kan bied nie. Afrikaners het óf oorgeloop na die DA in die vae hoop dat die DA iets aan sy heil kan doen, alle getuienis tot die teendeel ten spyt, óf bloot weggebly. 'n Klein persentasie van hulle het weliswaar vir die VF+ en NA gestem, maar as minder as tien persent van die kern-kieserskorps van daardie partye (wat alreeds 'n minderheid in die groot prentjie is), vir hulle stem, loop hulle duidelik nie oor van geesdrif vir die betrokke partye nie.

Die Afrikaner is op hierdie stadium 'n verslane nasie. Politiek, geestelik en kultureel het ons Jannie Jammergatte geword; 'n groep patetiese wesentjies wat maar net te bly is dat die grote ANC ons nie almal die see in jaag nie. Die media wys ons daagliks daarop dat ons ons moet verootmoedig voor die nuwe heersers van die land, en die diskriminasie teen ons met dankbaarheid in ontvangs moet neem. Elke uitlating wat vra vir dit wat die Afrikaner toekom, hoe sagkens ook al gestel, word met voorspelbare uitjouery begroet: "Rassis!"

Gelukkig bemerk ek tog die De Medici's onder ons, wat moeg is daarvoor om 'n verslane nasie van kruipers te wees, wat besef dat niemand behalwe die Afrikaner na sy belange gaan omsien nie. Gaan ons vir ewig, soos die lyfeienes van die Middeleeue, die ANC se diensknegte bly, of gaan daar rondom Pretoria 'n Afrikaner-Florence ontstaan, waar die nuwe nasie gaan opstaan en sy regmatige plek opeis?

Die volgende stuk is 'n mengsel tussen 'n fantasie en 'n verkiesingsmanifes vir 'n denkbeeldige party wat wel weer opgewondenheid in Afrikanergeledere sal skep. Dit spruit uit briewewisseling op PRAAG se gesprekforum, en gesprekke tussen my en Dan Roodt, alhoewel ek moet beklemtoon dat Dan nie noodwendig met alles hieronder gaan saamstem nie, en dat baie van die konsepte en gedagtes my persoonlike menings verteenwoordig. Kom ons noem die denkbeeldige party die Afrikanerparty, en bekommer ons later oor 'n beter naam.

Manifes

Die Afrikaner as deel van Afrika Die Afrikanerparty is 'n party wat hom beywer vir die belange van die Afrikaner. Die Afrikaner het, uit historiese oorwegings en die internasionale reg, net soveel van 'n aanspraak op verblyfreg en selfbeskikking as wat enige ander nasie in Afrika het. As gevolg van regstellende aksie, die miskenning van sy taal in skole, misdaad en ander faktore, voel die Afrikaner hom egter nie meer welkom op hierdie kontinent nie, en een van die gevolge hiervan is dat Afrikaners en ander blankes op 'n groot skaal emigreer, of hom onttrek van die gemeenskap. Emigrasie is 'n verlies, beide vir die Afrikaner, asook die res van Afrika, omdat sy bydrae tot staatskoffers, kundigheid en werkskeppingsvernuf, sodoende vir die kontinent verlore gaan.

Die Afrikanerparty as bevrydingsbeweging Die KODESA-onderhandelinge en die huidige demokratiese bestel het, uit die Afrikaner se perspektief, klaaglik misluk, en tans is die Afrikaner op alle gebiede effektief stemloos, onderdruk en magteloos. Aangesien dit duidelik is dat die Afrikaner hom nie kan beroep op die huidige demokratiese proses in Suid-Afrika nie, as gevolg van 'n oormag lede van ander volke waarmee hy die grondgebied bekend as Suid-Afrika moet deel, asook toestroming van ander uit die res van Afrika, sal die Afrikanerparty nie net kan staatmaak op die stembus om sy doelwitte te bereik nie.

Die Afrikaner sal dus beide binne en buite die raamwerk van die formele demokrasie in die huidige Suid-Afrika moet optree. As daar nie binne die demokratiese bestel aan sy eise gehoor gegee word nie, sal hy op ander, vreedsame maniere druk op die owerheid moet plaas om wel daarop ag te slaan. As sulks is dit net soveel 'n vryheidsbeweging as 'n politieke party. Dit is egter nie 'n bevrydingsbeweging in die Afrika-sin van die woord, wat geweld en doellose oproer as aanvaarbaar beskou nie. Dit is wel waarskynlik so dat buite-politieke middele die primêre wapen in die bevrydingsbeweging se arsenaal sal wees.

Selfbeskikking Alhoewel die Afrikanerparty die legitimiteit van die huidige bewind in Suid-Afrika erken, erken hy nie die reg van ander volke om hom te domineer nie, en dring hy aan op die reg op selfbeskikking vir die Afrikanervolk, in 'n outonome gebied wat deur die Afrikaner beheer word. Bogenoemde eis is in pas met die reg van elke volk op selfbeskikking, soos o.a. deur die Verenigde Nasies erken.

Die outonome gebied en latere onafhanklike staat sal sonder geweld, op 'n onderhandelde manier tot stand kom. Aangesien die ANC tans aan bewind is in Suid-Afrika, sal die Afrikanerparty wel met die ANC of die regering van die dag onderhandel om sy doel te bereik, alhoewel hy nie die reg van die Xhosa-gedomineerde ANC erken om op die langtermyn oor die Afrikaner te heers nie.

Waar is die outonome gebied? Die outonome gebied sal vir eers die gedeeltes van die Oosrand en Pretoria insluit, waar blankes in 'n meerderheid is, maar sal later uitgebrei word na 'n volwaardige staat waar Afrikaners volledig politieke beheer uitoefen, onafhanklik van die res van Suid-Afrika. Die uiteindelike staat sal strek vanaf die Wesrand, deur Pretoria, die Oosrand, dele van Mpumalanga, met seetoegang in noordelike Natal. Bogenoemde grondgebied is 'n subgedeelte van die tradisionele Voortrekkerrepublieke, en is uit 'n historiese oogpunt verdedigbaar.

Wie kwalifiseer as "Afrikaners"? Daar is drie kriteria vir Afrikanerskap. Eerstens is dit mense wat die taal en kultuur van ander Afrikaners deel. Die tweede kriterium is mense wat nie tans deur die Suid-Afrikaanse grondwet of ANC as vooraf-benadeelde individue erken word nie, en as sulks nie kwalifiseer vir byvoorbeeld regstellende aksie of swart bemagtiging nie. Die derde kriterium is huidige of voormalige Suid-Afrikaanse burgerskap.

Sou 'n persoon Afrikaanssprekend wees, en aan die tweede en derde kriteria voldoen, sal hy outomaties verblyfreg en burgerskap in die Afrikanergebied verkry, ongeag van waar hy hom tans bevind. Ook diegene buite die voorgestelde oorgangsgebied, in ander provinsies en emigrante in die buiteland sou kwalifiseer. As Engelssprekendes of mense van ander taalgroepe wat aan die tweede en derde vereistes voldoen, hulle vereenselwig met die Afrikaner, en 'n taaltoets slaag, sou hulle ook verblyfreg kon verkry.

Wat beteken selfbeskikking prakties gesproke op die korttermyn? · 'n Semi-outonome gebied vir die Afrikaner in Pretoria en die Oosrand, waar Afrikaners tans in die meerderheid is.

· 'n Oorgangstydperk waartydens die grondlegging van 'n onafhanklike land in die bogenoemde outonome streek sal plaasvind. Aan die einde van die tydperk sal daar 'n referendum onder Afrikaners gehou word, wat die finale goedkeuring sal verleen aan die stigting van 'n onafhanklike staat.

· Die stigting van 'n Afrikaner-Oorgangsraad (AOR) wat die outonome gebied regeer met die minimum inmenging van die Suid-Afrikaanse regering, met verteenwoordigers wat demokraties deur die Afrikaner aangewys word.

· Die AOR sal die reg hê om die meerderheid van alle belasting wat deur Afrikaners betaal word, uitsluitlik vir die belange van die Afrikaner binne die gebied aan te wend. Dit sluit in: infrastruktuur soos paaie, opvoeding, sosiale vangnette en ander dienste wat normaalweg deur die owerheid verskaf word.

· Vir 'n oorgangstydperk sal daar, as 'n gebaar van welwillendheid, 'n minderheid van die belasting wat deur Afrikaners betaal word, aan die Suid-Afrikaanse regering oorbetaal word, maar dit sal gestaak word wanneer die onafhanklike nasie finaal tot stand kom.

· Die totstandkoming en bestuur van 'n eie polisie, grens- en weermag wat wet en orde in die Afrikanergebied sal afdwing.

· Onderrig in Afrikaans by alle staatsbeheerde opvoedkundige instansies, maar met erkenning van die reg van privaat opvoedkundige instansies om hulle eie taalbeleid daar te stel.

· Radio- en TV-uitsaailisensies sal aan Afrikaanse uitsaaiers toegestaan word.

· Die AOR sal die reg hê om verblyfreg toe te staan en te weier, en om onwettige immigrante, plakkers en ander wat nie wettig in die gebied is nie, te verwyder.

· Die skrapping van alle diskriminerende rassewetgewing wat tans op die Suid-Afrikaanse wetboek is binne die gebied, insluitende dié op arbeidsgebied en rassevereistes vir die eienaarskap van ondernemings binne die gebied.

Op die langtermyn Na 'n geskikte oorgangstydperk, sal die onafhanklike Afrikaanse Republiek tot stand kom. Ons visie vir die AR is die volgende:

· 'n Moderne, Westerse regeringvorm

· 'n Grondwet wat enige vorm van diskriminasie op rassegronde streng verbied, en dit byvoorbeeld onwettig maak om enige persoon 'n plek in 'n sportspan op rassekwotas te moet gee.

· Die afwenteling van gesag na plaaslike gemeenskappe, om hulle in staat te stel om soveel as moontlik besluite op plaaslike vlak te doen, in teenstelling met die gesentraliseerde beheer wat tans in Suid-Afrika heers.

· Staatsbeskerming van die Afrikaanse taal, kultuur en geloof. Sodanige beskerming sal so ver as moontlik deur insentiewe bereik word, byvoorbeeld deur belastingvoordele te bied aan instansies wat byvoorbeeld uitsluitlik in Afrikaans uitsaai.

· 'n Besigheidsvriendelike, vryemark-gerigte ekonomiese beleid wat entrepreneurskap aanmoedig, met so min as moontlik staatsinmenging.

· Goeie handels- en politieke betrekkinge met Suid-Afrika en die res van Afrika.

· Humanitêre en professionele hulp aan Afrikalande wat die nuwe land goedgesind is.

· 'n Westers-georiënteerde buitelandse beleid, gefokus op lande wat 'n gemeenskaplike waardestelsel met die nuwe land deel.

· Geen diplomatieke bande met terroris- en mislukte state soos Zimbabwe en Kuba nie. Organisasies wat terrorisme voorstaan, byvoorbeeld Hamas, sal nie in die nuwe land welkom wees nie.

· 'n Sterk, professionele polisie- en weermag om binnelandse en buitelandse bedreigings die hoof te bied.

· Streng visum-, verblyf- en burgerskapvereistes. Persone van ander nasies wat hulle binne die Afrikanergebied bevind, sal moet aansoek doen vir burgerskap van die nuwe land, in lyn met immigrasiepraktyke wat byvoorbeeld in die Europese Unie heers. Geen persoon, insluitende dié wat wel kwalifiseer vir burgerskap, sal teen hulle sin van hulle Suid-Afrikaanse burgerskap ontneem word nie. Om burgerskap van die nuwe republiek te aanvaar, sal 'n totaal vrywillige keuse wees.

· Die afskaffing van visumvereistes vir burgers van die huidige EU-lande, Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die VSA, ten einde uitgewekenes aan te moedig om terug te keer. 20 April 2004

Boontoe