|
|
|||||||
| chronologie
|
Afrikanerapatie: 'n sisteembenadering Gerhard Bothma Al die kultuurorganisasies, volksbewegings, individue ens. wat vir die Afrikanersaak wil baklei het iets in gemeen: nie een van hulle slaag werklik daarin om die Afrikaner te inspireer tot groter deelname nie. Baie organisasies met die edelste doelstellings kry niks uitgerig nie omdat ons mense eenvoudig nie betrokke wil raak nie. Die Afrikaner se apatie ten opsigte van die gemeenskaplike belang le hierdie organisasies heeltemal lam. Die Afrikaner het hom teruggetrek agter veiligheidshekke en hoe mure. Elkeen poog maar net om sy eie klein wereldjie vir homself gemaklik in te rig en die minder aangename werklikhede van die Nuwe Suid-Afrika so lank as moontlik van sy deur weg te hou. Ons het na binne gekeer en materialisties en individualities geword terwyl ons geen belang meer het by wat in die breër gemeenskap gebeur nie. Hierdie dinge is nie onbekend aan ons nie. Almal kan dit raaksien. Maar kan ons dit behoorlik verklaar? Die hoofstroom media verwys smalend na die Afrikaner se apatie en kondig dan aan dat nasionalisme dood is. Hulle het geen begeerte om die saak verder te probeer ontleed of verklaar nie. Die van ons wat nog ons volkskap as waardevol ag sit met die hande in die hare en het eweneens nie antwoorde nie. Meeste van ons aanvaar dat dit net 'n kwessie is van die regte leier wat op die regte tyd moet opstaan, of die regte organisasie wat met die regte visie na vore moet kom, of dat dinge in die land eers heeltemal moet inmekaarval voordat die volk weer sal ontwaak. Die probleem is egter veel meer fundamenteel en daarom gaan die oplossing ook fundamenteel nuwe denke verg. Hoeveel leiers het al oor die afgelope klompie jare opgestaan sonder dat die volk gevolg het? Hoeveel organisasies is gestig en het weer onverrigter sake ontbind of eenvoudig weggekwyn? Hoeveel moet nog opstaan en verdwyn voordat ons besef dat ons na ander antwoorde moet begin soek? Die oorsaak vir die Afrikaner se groeiende apatie en onbetrokkenheid is myns insiens te wyte aan die feit dat die bande wat ons as volk moet bind oor 'n lang tyd stelselmatig afgebreek is. Die verlies aan samebindende kragte het 'n proses aan die gang gesit wat uiteindelik 'n bose kringloop geword het. Die bose kringloop van apatie Anthony Smith skryf in sy boek, The ethnic origins of nations, soos volg oor die belangrikheid van mites, simbole en herinnering in 'n volk se lewe: "Ethnic symbols provide satisfying forms, and ethnic myths are conveyed in apt genres, for communication and mobilization. As they emerge from the collective experiences of successive generations the myths coalesce and are edited into chronicles, epics and ballads, which combine cognitive maps of the community's history and situation with poetic metaphors of its sense of dignity and identity. The fused and elaborated myths provide an overall framework of meaning for the ethnic community, a mythomoteur which makes sense of its experiences and defines its essence. Without a mythomoteur a group cannot define itself to itself or to others, and cannot inspire or guide collective action." Nou kan mens dadelik sien dat die ANC se propagandamasjien, veral die WVK heksejag, staatsbeheerde media en die dinge wat in skool geskiedenishandboeke opgeteken word ens. hierdie "mythomoteur" van die Afrikaner groot skade aangedoen het. Ons mites, simbole, herineringe - al die dinge wat ons bestaan hier aan die suidpunt van Afrika, ons en ons voorgeslagte se stryd en opofferings - betekenis moes gee en 'n doel daaraan moes heg word deur hierdie propagandamasjien van ons weggeneem. Maar meer as dit, die propaganda wil ook nuwe mites, simbole en herinnering op ons afdwing, 'n nuwe "mythomoteur" skep wat eintlik vir die Afrikaner wil se dat hy as volk geen bestaansreg het nie weens sy "ongeregtigheid" en dan veral die "ongeregtige" manier waarop hy volk geword het. En oor die belangrikheid van 'n gedeelde geskiedenis skryf Smith so: " A sense of common history unites successive generations, each with its set of experiences which are added to the common stock, and it also defines a population in terms of experienced temporal sequences, which convey to later generations the historicity of their own experiences. In other words, historical sequences provide forms for later experiences, channels and moulds for their interpretation... What matters then is not the authenticity of the historical record... but the poetic, didactic and integrative purposes which that record is felt to disclose. History in this sense must tell a story, it must please and satisfy as narrative... It must also educate. It's heroes and heroines whose deeds it unfolds must embody the virtues held precious by the community and conform to its stereotypes..." Geskiedenis moet onderrig. Geskiedenis moet verenig. Geskiedenis moet die struktuur verskaf waarin die huidige geslag sy ervarings interpreteer. Nou skep die propagandamasjien 'n geskiedenis wat ten doel het om die Afrikaner te leer dat hy in wese sleg is en eintlik nie verdien om te bestaan nie. Ons kry nie 'n geskiedenis wat die edele en kosbare en hoogste in ons volkskarakter na vore bring nie, maar die slegste, en ons word gedwing om met daardie stereotipes te assosieer. Verder skep die populere propaganda 'n geskiedenis wat die Afrikaner 'n struktuur verskaf waarbinne hy sy huidige ervarings moet interpreteer. Daardie struktuur se ons moet alles wat vandag met ons gebeur - plaasmoorde, regstellende aksie ens. interpreteer binne die struktuur van ons aaklige verlede. Ons verdien dus wat na ons kant toe kom want dit is die gevolg van ons apartheidsverlede. Die gevolg van die aanslag op die Afrikaner se volkskap, sy mites en geskiedenis, sy helde en bydra tot Suid-Afrika se glorieryke verlede is dat ons mense hul samehorigheidsgevoel en lotsgebondenheid verloor. Ons voel dat daar niks is wat ons meer aan mekaar bind nie, dat ons verlede boos was en dat Afrikaner nasionalisme verantwoordelik is vir alles wat verkeerd is in ons land en dat ons, ter wille van 'n voorspoedige Suid-Afrika, liefs ons volkskap moet aflê. Al die mites van ons gedeelde verlede, ons ontstaansgekiedenis wat aan ons bestaan vandag sin en rigting moet gee, is van ons weggeneem. Daarom het ons ook 'n gedeelde volkstrewe verloor. Daar is dus geen aansporing om saam te werk nie want daar bestaan geen gemeenskaplike doelwit wat ons as groep kan motiveer nie. Die gevolg hiervan is dat ons uit die samelewing onttrek om as blote enkelinge agter ons hoe mure 'n tipe bestaan te probeer voortsit. Hierdie onttrekking beteken dat ons ook ons rug gedraai het op ons sosiale verantwoordelikhede en slegs maar omsien na ons eie private belange. Vir leiers en organisasies is dit natuurlik ook onmoontlik om ons mense weer te inspireer tot gemeenskaplike deelname in die afwesigheid van gemeenskaplike doelwitte. Dit kom dus daarop neer dat ons onttrekking uit die samelewing ons gedeelde verlede, ons mites en geskiedenis verder verswak. Binne die huidige sisteem bevind die Afrikaner homself in 'n bose kringloop waarin die verswakking van 'n gedeelde visie lei tot onttrekking uit die samelewing wat lei tot die nastreef van eie belange wat 'n gedeelde visie verder verswak wat weer lei tot verdere onttrekking ens. En wanneer mense hulself in so 'n sisteem bevind waaruit hulle nie kan kom nie of waaraan hulle voel hulle niks kan verander nie is apatie die gevolg. Die tragiese is dat mense dikwels nie bewus is van die sisteem waarvan hulle deel is nie en daarom voel hulle hulpeloos in hul omstandighede. Ons word grootgemaak in 'n tradisie waarin sisteemdenke nie aangemoedig word nie. Ons word geleer dat meeste dinge 'n eenvoudige oorsaak-en-gevolg verklaring het. Maar die wereld, en veral die sosiale wereld, is baie meer verwikkeld en kan nie sommer met liniere verklarings verstaan word nie. Dikwels het die gevolg weer 'n invloed op die oorsaak en staan hulle in 'n sirkulere verhouding. Is daar 'n oplossing? As die Afrikaner hierdie bose kringloop waarin hy homself bevind kan raaksien dan kan hy begin om dit om te keer. As ons weer 'n sterk sin vir ons gedeelde verlede kan ontwikkel kan dit aanleinding gee tot 'n sterk samehorigheidsgevoel, 'n lotsgebondenheid. Met so 'n basis kan die Afrikaner weer hande vat en kan ons begin om 'n gedeelde visie te ontwikkel. En uit so 'n gedeelde visie word mense weer aangespoor tot groter gemeenskaplike deelname wat die dood in die pot is vir apatie. Gemeenskapsbetrokkenheid versterk op sy beurt weer die gevoel van lotsgebondenheid.
groter gemeenskaps-betrokkenheid groter gemeenskaps- betrokkenheid ontwikkeling van gedeelde visie gedeelde verlede (mites, helde, ens.)
Terwyl ons steeds in hierdie bose kringloop is gaan nuwe leiers en organisasies niks kan uitrig nie. Ons fokus behoort te wees om eers die bose kringloop om te keer in 'n gesonde kringloop. Om dit te doen moet daar weer volksmites geskep word, volkshelde sal moet herleef, alles wat edel en kosbaar en goed aan die Afrikaner is moet weer aan ons kinders voorgehou word. Deur stories en dramas en gedigte en musiek en volksfeeste en volksbyeenkomste sal ons weer ons identiteit moet opeis. Dit is daar waar ons bymekaarkom om ons volkwees te vier waar ons met mekaar gaan begin gesels oor ons toekomsdrome en waaruit daar weer 'n gedeelde visie kan ontstaan. Ons sal die nuwe mythomoteur wat die ANC op ons wil afdwing moet beveg met die feite van die geskiedenis en saam daarmee sal ons moet werk om 'n nuwe mythomoteur te skep wat ons mense weer 'n gevoel van hul gedeelde verlede kan gee wat tot aansporing lei vir die skep van 'n gedeelde toekomsvisie. Ons het nie nou nog leiers nodig wat hul persoonlike visies aan onderdane probeer verkoop nie maar leiers wat ons volksmites kan laat herleef, wat die skep van 'n gedeelde visie kan fasiliteer. Ons het nie nuwe organisasies nodig nie maar kommunikasiekanale wat 'n oop gesprek onder ons mense kan laat begin vloei. En wanneer 'n gedeelde visie eers begin vorm aanneem gaan dit ons mense van hul apatie bevry en hulle aanspoor om weer betrokke te raak by die gemeenskaplike belang en die toekoms van hul kinders. Eers dan sal leiers en organisasies kan opstaan wat ons mense agter hulle kan monster. Kom ons begin ons toekomsdrome met mekaar deel. Kom ons gee ons kinders 'n mythomoteur wat hulle trots kan maak op hul Afrikanerskap, wat hulle kan inspireer om sonder skuldgevoelens en minderwaardigheid ook hul plek in hierdie land op te eis en saam te bou aan 'n toekomsvisie vir hulle en hulle kinders. Kom ons gee mekaar weer hoop. 26 Mei 2004 |
|||
|
|