chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Chomsky en die Afrikaanse pers, of propaganda, Afrikaners en die ANC

Buks van Rensburg

Noam Chomsky is ‘n wêreldberoemde taalkundige en politieke aktivis. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy kritiese analise van die Westerse media en vir sy aksies en intellektuele steun vir linksgesinde bewegings in die Derde Wêreld. Hy was ‘n ewe prominente figuur in die anti-Vietnam beweging in die 1960’s en nog altyd ‘n groot ondersteuner van die kommunistiese regering in Kuba. Sy sterk ondersteuning van die Palestynse Bevrydingsbeweging asook sy aktiewe bevordering van linksgesinde organisasies in Latyns-Amerika het ook al sterk reaksie ontlok. Chomsky was skerp gekant teen die Amerikaanse oorlog in Irak, en het verlede jaar ‘n boek die lig laat sien waarin hy die oorlog as die bestendiging van Amerikaanse globale oorheersing voorhou.[Hegemony or Survival: America’s Quest for Global Dominance. Metropolitan Books 2003].

Deesdae is hy en sy medewerker Edward S. Herman, aktief betrokke by die linksgesinde e- tydskrif “Z-magazine” en ondersteun hulle ander linkse projekte (onder andere die webwerf “Third World Traveler”). Chomsky is ook ‘n professor aan Harvard Universiteit, en dit is maklik om sy energie, intellek en insig te onderskat. Hy het baie vyande, veral in die regse kringe in die VSA, en dit spoel soms oor na die res van die Westerse Wêreld en Israel, wat hom skepties bejeën. Soos meeste linksgesindes is hy ook skerp teen globalisasie gekant, maar hy ondersteun hy internationalisation soos bepleit deur wêreldkommunisme.

Afrikaners, wat om een of ander duistere rede in sommige Westerse kwessies skerp kant kies (byvoorbeeld oor aborsie of oor die oorlog in Irak), het ook dikwels ‘n mening vir of teen Chomsky. Die mening is dikwels oningelig, en is gebaseer op Chomsky se prominensie in een of ander politieke kwessie. Gedurende die Koue Oorlog was Afrikaners nou betrokke by die Weste, en Chomsky se politieke bedrywighede was dus relevant in Suid Afrika. Die Vietnam Oorlog was in ‘n sekere sin soos die grensoorlog, beide was warm dele van die Koue Oorlog. In diè sin was Afrikaners se bydrae tot die Koue Oorlog ‘n defensiewe oorlog om te verhoed dat strategiese grondstowwe onder kommunistiese beheer kom. Chomsky se argumente teen die Vietnam oorlog het daarom ingedruis teen ons eie persepsies, en hy was as deel van ‘n skynbare kommunistiese komplot beskou wat hulself daaraan gewy het om die Weste en Suid Afrika te ondermyn. Sodanige persepsies is geskep deur Westerse politici en nuusmedia, en vorm deel van ‘n propoganda model (die ander komponente van die model sluit die plaaslike pers en politici in) wat Afrikaners se persepsies gevorm het om ‘n sekere gedragskode (naamlik optrede in die grensoorlog) te verseker. 

Chomsky en Herman het die idee van ‘n propaganda model ontwikkel. Die model is gebaseer op George Orwell se werk, en is ‘n belangrike metode om propaganda in die massamedia te analiseer en te herken. Chomsky merk byvoorbeeld die volgende op:

“Orwell pointed out that in a very free society (he was talking about England), there are all sorts of ways to keep unpopular ideas from being expressed. One factor is that the press is owned by wealthy men who have every reason not to have certain ideas expressed. He identified education as another factor. When you go to Oxford or Cambridge, you learn that there are certain things it “wouldn’t do to say”. If you don’t learn that, [then] you’re not in the system.” [The Common Good: Chomsky Interviewed by David Barsamian. Odanian Press 1997, page 133.]

Die gevolgtrekking deur Orwell is verder ontwikkel deur Chomsky en hy het met die samewerking van sy medereisiger Edward S. Herman, ‘n belangrike boek (Manufacturing Consent [Pantheon Books, 1988]) die lig laat sien. In dié boek beskryf hulle vyf filters van nuus en opinie in Westerse media, wat meewerk dat net aanvaarbare uitgangspunte deur die media voortgebring word. Dié vyf filters filtreer alle nuus en pas nuusgebeure aan om die “Common Good” te bevorder of om dit in ooreenstemming met “aanvaarde standaarde” te bring. Die Common Good is aanvaarde politieke sieninge, uitgangspunte en gedragskodes wat die regerende en sosiale elite ondersteun ten einde hulle eie agenda te bevorder. Die agenda mag meer ambisieus ook wees, maar is meestal net gediend daarmee om die huidige status quo te beskerm en om die elite se belange en posisie te bestendig.

Chomsky en Herman se Propaganda Model is ‘n filter of maatstaf waarteen alle nuus, vermaak en opinie gemeet word om die heersersklasse se agenda te bevorder. Die massamedia se oëskynlike funksie is om ‘n bevolking in te lig, op te voed, om sosiale waardes te bevorder, om gedragkodes te bevestig en om te vermaak. Omdat die die massamedia aan die Rich Elite of behoort wat normaalweg diegene wat na aan die heersersklas beweeg, is dit noodsaaklik dat enige afwyking van aanvaarde gedragkodes onderdruk word. Dit verg van die massamedia die sistematiese verspreiding van propaganda, spesifieke nuus en bepaalde opinie. Die filtrering van nuus en opinie (en vermaak!) is dus die manier waarop dit bereik word.

Die vyf filters is soos volg:

(1) Die eienaarskap van massamedia in die hande van die Rich Elite gekonsentreer. In die geval van Afrikaners is omtrent alle nuusmedia gekonsentreer in die hande van Naspers. Die eienaars en redakteurs van die Afrikaanse massamedia het ‘n gevestigde belang in politieke stabiliteit ten einde hulle eie dominante plekke te verseker. Daarom sal hulle nuus en opinie filtreer om die heersende politieke orde te beskerm. Onder die ou bedeling het hulle die Nasionale party slaafs gesteun. In die nuwe bedeling ondersteun hulle die ANC. ‘n Verdere manisfestasie van die filter is die onlangse brief van 110 elite Afrikaners aan Pres. Mbeki. Dié groep, wat prominente figure in die Afrikaanse Pers insluit, het ‘n gevestigde belang in die status quo en werk na beide kante om die huidige ewewig te behou.

(2) Advertensie is ‘n groot deel van die inkomste van die massamedia. Daar word dikwels gesê dat invloed gelyk is aan die gewig van ‘n mens se beursie. Besigheid investeer baie heelwat in advertensie en hierdie geld vloei natuurlik deur die massamedia se sakke tot in die rekeninge van werknemers en eienaars. Om ‘n adverteerder dus te vervreem kan erge gevolge inhou. In daardie sin sal die massamedia nuus wat enigsens die verhouding kan versteur, liewer filtreer. Chomsky beskryf die filter soos volg “What keeps the media functioning is not an audience, but its advertizers”.

(3) Massamedia vertrou op die regering, besighede en deskundiges vir nuus en opinie. 'n Netwerk van eendersdenkendes word daarom sorgvuldig deur die media opgebou en vertroetel. Die proses verg geduld, en die verlies van ‘n nuusbron kan dikwels ‘n groot terugslag wees. Nuusbronne in die regering en maatskappye is in elk geval altyd bekeerlinge van die huidige Common Good, maar die media deel die vooroordeel soos die eerste twee filters aantoon. Politieke leiers beloon die media vir Good Behaviour, en die media beloon politieke leiers wat die Common Good aanhang. Good Behaviour is naamlik propaganda om die heersersklas se posisie te verstewig en hul agenda te bevorder. In Suid Afrika kan dit gesien word in die slaafse ondersteuning van die ANC in die media en onkritiese benadering van die Afrikaanse media tot ANC-beleid wat Afrikaners (die lesers van Afrikaanse media) erg nadelig beïnvloed. Dit sluit regstellende aksie, plaasmoorde, Afrikanisering van Afrikaanse instellinge soos skole en universiteite en die afskaling van Afrikaans in die publieke en privaatsektore, en so voorts, in.

(4) Dissiplinering van die massamedia. As ‘n prominente mediaorgaan teen die Common Good sou protesteer is daar verskeie sanksies wat geneem kan word. Ten eerste kan ‘n regering, met hulle geweldige ekonomiese en sosiale invloed, die wêreld moeilik maak vir 'n koerant of radiodstasie. Ten tweede kan die orgaan geld verloor van adverteerders, of lesers verloor wat reeds die huidige propaganda oor die Common Good aanvaar het. Mediaorgane gebruik ook diversions om hulle lesers te beinvloed. ‘n Voorbeeld is die onthoofding van Nicholas Berg in Irak. Deur dit as ‘n belangrike aangeleentheid vir Afrikaners voor te hou, is daar minder klem op plaasmoorde en dies meer, wat sekerlik van baie groter belang as die moord op ‘n onbekende Amerikaner behoort te wees. Sport word ook dikwels vir dié doel aangewend.

(5) Die laaste filter is anti-kommunisme. Dié filter demonstreer Chomsky se persoonlike vooroordele, maar dit kan maklik aangepas word. ‘n Mens kan dit uitbrei tot ‘n filter wat die volgende in of uitsluit: anti-kommunisme, anti-rassisme, pro-aborsie, pro- multikultureel, pro-globalisasie en so meer. Die lys van anti- en pro- hang dan af van die heersende politieke wyshede en die Common Good. In die ou Suid-Afrika was die filter heeltemal anders as nou, maar dit het wel bestaan. In die ANC se Suid Afrika sluit die filter al die anti- en pro-‘s hierbo in, behalwe natuurlik anti-kommunisme, synde dat kommunisme ten minste in Suid Afrika gerehabiliteer is.

Die massamedia is derhalwe ‘n propagandamasjien, en onder ‘n etniese groepie soos Afrikaners, is dit baie effektief. Die elite, skrywers en beleidmakers verstaan die kultuursimbole van so ‘n etniese groep, en kan dit baie effektief propogandisties aanwend om sekere gedrag te verseker. 

Massamedia Moguls glo ook dat hulle ‘n besondere historiese rol het om te speel. Chomsky sê dit soos volg op ‘n televisie program:

“At the New York Times history is created.”

Hy beweer verder dat:

“history is shaped” at the New York Times, and the editors of that newspaper believes themselves to carry an extraordinary burden – their decisions and writings shape wat we perceive as truth and reality.”

Daar rus dus op die skouers van Ton Vosloo en Tim du Plessis onder meer, ‘n swaar self-opgelegde las. Hulle besluit wat geskiedenis is en sal wees. Hulle stel die agenda vir Afrikaners, en filtreer nuus en opinie voor dit aan massas aangebied word. Soos Boetman ook in sy brief aan Willem de Klerk skryf, is hierdie belangrike mense wat hulle in binnekamers toesluit om belangrik oor belangrike dinge na te dink: Afrikaners, misdaad, Suid Afrika, Afrikaans, plaasmoorde, en die toekoms. Hulle is die Masters of the Afrikaners, om ‘n beeld van Tom Wolfe te leen. Hulle besluit wat en wie gepubliseer sal word. Maar hulle is ook in ‘n sin slagoffers in die orde – soos Chomsky in ‘n televisie program opgemerk het “There are penalties for breaking the rules...”.

David Barsamian, die outeur van The Common Good, skryf dat die linksgesinde tydskrif The Nation se redakteur, Victor Navasky, ongemaklik is met Chomsky se mening oor die Midde-Ooste. Chomsky merk toe op dat:

“[Victor] explained [to people] that [Chomsky is absent from The Nation’s pages] because he kept on sending him huge articles that were way too long. In fact, the only article I’d ever submitted to The Nation was about two pages long.”

Dus, die redakteur van ‘n koerant of tydskrif kan opinies na goeddunke onderdruk. In Chomsky se geval het The Nation sy mening oor die Midde-Ooste onderdruk, omdat hulle nie daarmee saamstem nie, en veral nie omdat dit nie strook met die Common Good in die VSA nie.

Bostaande is natuurlik definitief waar in Suid Afrika. Ek dink nie dat enige Afrikaanse koerant data wat rasse-statistiek aan misdaad of plaasmoorde koppel sal publiseer nie. Die sogenaamde Common Good vereis dat moorde op swart kinders deur wit boere ongewoon is, en in daardie geval word die ras van die oortreders beklemtoon in beriggewing. Die omgekeerde - naamlik moorde op plaasboere en hulle kinders deur swart booswigte is niks anders as normale misdaad nie - verdien nie kolomspasie en nadruk in enige koerant nie. Dit is die gevolg van Chomsky se filters, en dit verduidelik waarom geen Afrikaanse massamediaorgaan nog juis vreeslik tekere gegaan het oor plaasmoorde nie. Selfs die verslae oor plaasmoorde gaan deur Chomsky se filters om seker te maak dat hulle die huidige Common Good dien, en ek sou dink dat dit ten beste ‘n verwronge beeld van die ware aard en verduideliking van die moorde weergee.

Ook tragedies wat net Afrikaners behels gaan deur Chomsky se filters. Toe Vleis Visagie sy dogter per ongeluk doodgeskiet het, omdat hy geglo het sy is ‘n motordief, het dit weereens ‘n erg gefiltreerde reaksie van Tim du Plessis, een van die redakteurs van die Afrikaanse pers, ontlok. ‘n Verdere gefiltreerde reaksie is deur Gerrit Brand geskryf. Beide Brand en du Plessis is deel van die elite en hul onderskeie analises van die skietongeluk is standaardvoorbeelde van propoganda om die heersende Common Good te dien. 

Die elite se boodskap aan Visagie is dat hy nie moet durf om misdaad teenoor Afrikaners as verskoning vir sy daad te opper nie. Die filtrering in die geval is so erg dat du Plessis en Brand nie eers wil erken dat Afrikaners, en veral plaasboere by uitsondering, onder geweldadige misdaad lei nie, en veral nie dat die misdaad ongewoon is omdat Afrikaners die slagoffers van nie-Afrikaners is nie. Om dit te sê is “[to say] certain things it “wouldn’t do to say”” soos Chomsky dit stel. En as jy dit nie leer nie “[then] you’re not in the system”.

Die sogenaamde Common Good vereis verder dat geen publikasies wat krities is teen die onderdrukking van Afrikaans, die verengelsing van Afrikaanse skole en universiteite, aandag kry nie. Filtreer so ‘n artikel deur Chomsky se filters, en dit is duidelik dat dit òf adverteerders, òf die regering, òf die Afrikaanse media-eienaars, gaan versteur. Ek is verder doodseker dat verslae oor plaasmoorde, oor regstellende aksie en dies meer, ook deur Chomsky se filtreerder gestuur word, en wat ons uiteindelik lees is in die ware sin van die woord ‘n gewaste weergawe wat aangepas is om te strook met die huidige veronderstelde Common Good vir Afrikaners en Suid Afrika.

Omdat die mediaorgane op mekaar teer, is dit so dat die propaganda model soos beskryf deur Chomsky, die pers oor die hele wêreld besmet. Daar is sekere truths wat geen orgaan sal bevraagteken nie. So byvoorbeeld het die truth dat “Afrikaners are evil” die Westerse media so diep gepenetreer dat dit nou ‘n aksioma is selfs in die Afrikaanse media, en dit is skynbaar verantwoordelik vir die oorkompensasie van veral Afrikaanse kommentators soos Max du Preez.

Die media is dikwels nog nouer in Chomsky se propaganda model verwikkel. As daar ‘n identifiseerbare vyand is, sal mediaorgane aktief soek na gebeure of data om die vyand in die verleentheid te bring. Die Goeie Kant sal herhaaldelik deur die media bevorder word ten koste van die ander kant. Kommunisme was destyds só 'n groot Vyand en die Westerse pers het gedurig oor moorde, gepleeg deur Kommuniste, geskryf. Dit is dan ook waarom die vyfde filter anti-Communism is. Ná die val van Kommunisme het anti-rassime die nuwe filter geword. Die gevolg was dat wit Suid Afrika dikwels in die mees negatiewe terme beskryf is in die Westerse media, terwyl die Goeie Kant (in dié geval die ANC) bewonder en bevorder is. Die diëfikasie van Nelson Mandela in die Weste is ‘n direkte gevolg van die uitgangspunt dat die ANC, ten spyte van die bomme en moorde, die Goeie Kant is. Geen mediaorgaan sal durf om ‘n opstel krities teen Mandela te publiseer nie. Soos Chomsky dit stel – you fall in with the program, or you get sidelined. Om krities teenoor Mandela te wees, is ‘n risiko vir enige kommentator wat ernstig opgeneem wil word.

Die vyfde filter is vir my die mees interessante. Terwyl Orwell se opmerkinge verwantskap toon met omtrent al die filters, hou dit veral verband met die vyfde filter. Die anti-Kommunistiese vorm van die vyfde filter het wit Suid Afrika baie gebaat in die 1950’s en 60’s. Terseldertyd het die Amerikaanse Civil Rights beweging ‘n hele nuwe simboliek geskep. Die simboliek het ontwikkel tot die heersende Westerse simboliek van anti-rassisme en die multikulturele samelewing. In Suid-Afrika en die Weste het die simboliek baie gedoen om Suid Afrika in ‘n ander lig te stel en ANC intellektuele soos Joe Slovo het dit gebruik om wit Suid Afrika te ondermyn. Die struggle in Suid Afrika het ‘n American Civil Rights simboliek verkry, en die res is geskiedenis. Multikulturalisme en anti-rassisme is nou ‘n volwaardige vyfde filter in Chomsky se propaganda model.

Chomsky het ook heelwat ander kontroversiële insigte. Hy skryf byvoorbeeld dat:

“In my view, corporations are illegitimate institutions of tyrannical power, with intellectual roots not unlike those of fascism and Bolshevism.” [The Common Good: Chomsky Interviewed by David Barsamian. Odanian Press 1997, page 63.]

Hy oordryf heeltemal in dié opsig. Hy beweer verder dat korporasies vandag meer invloedryk is as enige tyd in die verlede. Miskien het hy nog nie van die V.O.C. gehoor nie. Die moderne korporasie is onderhewig aan baie regulasies. Dit sluit onder meer regulasies rondom belasting, werkersregte, salarisskale, vakbondunie wetgewing, regstellende aksie en die wetgewing wat rassediversiteit in die werkplek bevorder. En dit is nog voor ek enige iets kan byvoeg oor die wetlike vereistes wat die veiligheid, die omgewing en handelstransaksies beheer. Die term “beperk” agter die naam van ‘n korporasie beteken net dit: Beperk. 

Dan is daar Chomsky se aktiwiteite as ‘n ondersteuner van talle linksgesinde en sosialistiese groepe in die Derde Wêreld. Ondersteuning van die Kommunistiese regering in Kuba is een van sy gunsteling aktiwiteite, asook die studie van massamoorde wat dikwels in die pers geïgnoreer word. Dit sluit massamoorde in Indonesië (Oos-Timor) in – ‘n klassieke geval waar die moordenaars nooit aangekeer is nie en waar die Weste ander pad gekyk het. Chomsky se kontroversiële benadering tot die Midde-Ooste het hom die teiken van menige aanvalle gemaak. Dit kan nie maklik wees nie, omdat hy self Joods is.

Ten spyte van die feit dat ek persoonlik skerp van hom verskil ten opsigte van sommige van sy politieke aktiwiteite, het Chomsky ‘n korrekte en waardevolle benadering tot die pers in “demokratiese” lande ontwikkel. Dit sal vir nog lank toegepas word om die media en hulle motiewe te ontleed.

6 Junie 2004

 

Boontoe