Chomsky en die Afrikaanse pers, of propaganda, Afrikaners en die ANC
Buks van Rensburg
Noam Chomsky is ‘n wêreldberoemde
taalkundige en politieke aktivis. Hy het veral bekendheid verwerf
vir sy kritiese analise van die Westerse media en vir sy aksies en
intellektuele steun vir linksgesinde bewegings in die Derde Wêreld.
Hy was ‘n ewe prominente figuur in die anti-Vietnam beweging in
die 1960’s en nog altyd ‘n groot ondersteuner van die
kommunistiese regering in Kuba. Sy sterk ondersteuning van die
Palestynse Bevrydingsbeweging asook sy aktiewe bevordering van
linksgesinde organisasies in Latyns-Amerika het ook al sterk
reaksie ontlok. Chomsky was skerp gekant teen die Amerikaanse
oorlog in Irak, en het verlede jaar ‘n boek die lig laat sien
waarin hy die oorlog as die bestendiging van Amerikaanse globale
oorheersing voorhou.[Hegemony or Survival: America’s Quest for
Global Dominance. Metropolitan Books 2003].
Deesdae
is hy en sy medewerker Edward S. Herman, aktief betrokke by die
linksgesinde e- tydskrif “Z-magazine” en ondersteun hulle
ander linkse projekte (onder andere die webwerf “Third World
Traveler”). Chomsky is ook ‘n professor aan Harvard
Universiteit, en dit is maklik om sy energie, intellek en insig te
onderskat. Hy het baie vyande, veral in die regse kringe in die
VSA, en dit spoel soms oor na die res van die Westerse Wêreld en
Israel, wat hom skepties bejeën. Soos meeste linksgesindes is hy
ook skerp teen globalisasie gekant, maar hy ondersteun hy
internationalisation soos bepleit deur wêreldkommunisme.
Afrikaners, wat om een of ander duistere rede in sommige Westerse
kwessies skerp kant kies (byvoorbeeld oor aborsie of oor die
oorlog in Irak), het ook dikwels ‘n mening vir of teen Chomsky.
Die mening is dikwels oningelig, en is gebaseer op Chomsky se
prominensie in een of ander politieke kwessie. Gedurende die Koue
Oorlog was Afrikaners nou betrokke by die Weste, en Chomsky se
politieke bedrywighede was dus relevant in Suid Afrika. Die
Vietnam Oorlog was in ‘n sekere sin soos die grensoorlog, beide
was warm dele van die Koue Oorlog. In diè sin was Afrikaners se
bydrae tot die Koue Oorlog ‘n defensiewe oorlog om te verhoed
dat strategiese grondstowwe onder kommunistiese beheer kom.
Chomsky se argumente teen die Vietnam oorlog het daarom ingedruis
teen ons eie persepsies, en hy was as deel van ‘n skynbare
kommunistiese komplot beskou wat hulself daaraan gewy het om die
Weste en Suid Afrika te ondermyn. Sodanige persepsies is geskep
deur Westerse politici en nuusmedia, en vorm deel van ‘n
propoganda model (die ander komponente van die model sluit die
plaaslike pers en politici in) wat Afrikaners se persepsies gevorm
het om ‘n sekere gedragskode (naamlik optrede in die
grensoorlog) te verseker.
Chomsky en Herman het die idee van ‘n propaganda model
ontwikkel. Die model is gebaseer op George Orwell se werk, en is
‘n belangrike metode om propaganda in die massamedia te
analiseer en te herken. Chomsky merk byvoorbeeld die volgende op:
“Orwell pointed out that in a very free society (he was talking
about England), there are all sorts of ways to keep unpopular
ideas from being expressed. One factor is that the press is owned
by wealthy men who have every reason not to have certain ideas
expressed. He identified education as another factor. When you go
to Oxford or Cambridge, you learn that there are certain things it
“wouldn’t do to say”. If you don’t learn that, [then]
you’re not in the system.” [The Common Good: Chomsky
Interviewed by David Barsamian. Odanian Press 1997, page 133.]
Die gevolgtrekking deur Orwell is verder ontwikkel deur Chomsky en
hy het met die samewerking van sy medereisiger Edward S. Herman,
‘n belangrike boek (Manufacturing Consent [Pantheon Books,
1988]) die lig laat sien. In dié boek beskryf hulle vyf filters
van nuus en opinie in Westerse media, wat meewerk dat net
aanvaarbare uitgangspunte deur die media voortgebring word. Dié
vyf filters filtreer alle nuus en pas nuusgebeure aan om die
“Common Good” te bevorder of om dit in ooreenstemming met
“aanvaarde standaarde” te bring. Die Common Good is aanvaarde
politieke sieninge, uitgangspunte en gedragskodes wat die
regerende en sosiale elite ondersteun ten einde hulle eie agenda
te bevorder. Die agenda mag meer ambisieus ook wees, maar is
meestal net gediend daarmee om die huidige status quo te beskerm
en om die elite se belange en posisie te bestendig.
Chomsky en Herman se Propaganda Model is ‘n filter of maatstaf
waarteen alle nuus, vermaak en opinie gemeet word om die
heersersklasse se agenda te bevorder. Die massamedia se oëskynlike
funksie is om ‘n bevolking in te lig, op te voed, om sosiale
waardes te bevorder, om gedragkodes te bevestig en om te vermaak.
Omdat die die massamedia aan die Rich Elite of behoort wat
normaalweg diegene wat na aan die heersersklas beweeg, is dit
noodsaaklik dat enige afwyking van aanvaarde gedragkodes onderdruk
word. Dit verg van die massamedia die sistematiese verspreiding
van propaganda, spesifieke nuus en bepaalde opinie. Die filtrering
van nuus en opinie (en vermaak!) is dus die manier waarop dit
bereik word.
Die vyf filters is soos volg:
(1) Die eienaarskap van massamedia in die hande van die Rich Elite
gekonsentreer. In die geval van Afrikaners is omtrent alle
nuusmedia gekonsentreer in die hande van Naspers. Die eienaars en
redakteurs van die Afrikaanse massamedia het ‘n gevestigde
belang in politieke stabiliteit ten einde hulle eie dominante
plekke te verseker. Daarom sal hulle nuus en opinie filtreer om
die heersende politieke orde te beskerm. Onder die ou bedeling het
hulle die Nasionale party slaafs gesteun. In die nuwe bedeling
ondersteun hulle die ANC. ‘n Verdere manisfestasie van die
filter is die onlangse brief van 110 elite Afrikaners aan Pres.
Mbeki. Dié groep, wat prominente figure in die Afrikaanse Pers
insluit, het ‘n gevestigde belang in die status quo en werk na
beide kante om die huidige ewewig te behou.
(2) Advertensie is ‘n groot deel van die inkomste van die
massamedia. Daar word dikwels gesê dat invloed gelyk is aan die
gewig van ‘n mens se beursie. Besigheid investeer baie heelwat
in advertensie en hierdie geld vloei natuurlik deur die massamedia
se sakke tot in die rekeninge van werknemers en eienaars. Om ‘n
adverteerder dus te vervreem kan erge gevolge inhou. In daardie
sin sal die massamedia nuus wat enigsens die verhouding kan
versteur, liewer filtreer. Chomsky beskryf die filter soos volg
“What keeps the media functioning is not an audience, but its
advertizers”.
(3) Massamedia vertrou op die regering, besighede en deskundiges
vir nuus en opinie. 'n Netwerk van eendersdenkendes word daarom
sorgvuldig deur die media opgebou en vertroetel. Die proses verg
geduld, en die verlies van ‘n nuusbron kan dikwels ‘n groot
terugslag wees. Nuusbronne in die regering en maatskappye is in
elk geval altyd bekeerlinge van die huidige Common Good, maar die
media deel die vooroordeel soos die eerste twee filters aantoon.
Politieke leiers beloon die media vir Good Behaviour, en die media
beloon politieke leiers wat die Common Good aanhang. Good
Behaviour is naamlik propaganda om die heersersklas se posisie te
verstewig en hul agenda te bevorder. In Suid Afrika kan dit gesien
word in die slaafse ondersteuning van die ANC in die media en
onkritiese benadering van die Afrikaanse media tot ANC-beleid wat
Afrikaners (die lesers van Afrikaanse media) erg nadelig beïnvloed.
Dit sluit regstellende aksie, plaasmoorde, Afrikanisering van
Afrikaanse instellinge soos skole en universiteite en die
afskaling van Afrikaans in die publieke en privaatsektore, en so
voorts, in.
(4) Dissiplinering van die massamedia. As ‘n prominente
mediaorgaan teen die Common Good sou protesteer is daar verskeie
sanksies wat geneem kan word. Ten eerste kan ‘n regering, met
hulle geweldige ekonomiese en sosiale invloed, die wêreld moeilik
maak vir 'n koerant of radiodstasie. Ten tweede kan die orgaan
geld verloor van adverteerders, of lesers verloor wat reeds die
huidige propaganda oor die Common Good aanvaar het. Mediaorgane
gebruik ook diversions om hulle lesers te beinvloed. ‘n
Voorbeeld is die onthoofding van Nicholas Berg in Irak. Deur dit
as ‘n belangrike aangeleentheid vir Afrikaners voor te hou, is
daar minder klem op plaasmoorde en dies meer, wat sekerlik van
baie groter belang as die moord op ‘n onbekende Amerikaner
behoort te wees. Sport word ook dikwels vir dié doel aangewend.
(5) Die laaste filter is anti-kommunisme. Dié filter demonstreer
Chomsky se persoonlike vooroordele, maar dit kan maklik aangepas
word. ‘n Mens kan dit uitbrei tot ‘n filter wat die volgende
in of uitsluit: anti-kommunisme, anti-rassisme, pro-aborsie, pro-
multikultureel, pro-globalisasie en so meer. Die lys van anti- en
pro- hang dan af van die heersende politieke wyshede en die Common
Good. In die ou Suid-Afrika was die filter heeltemal anders as
nou, maar dit het wel bestaan. In die ANC se Suid Afrika sluit die
filter al die anti- en pro-‘s hierbo in, behalwe natuurlik
anti-kommunisme, synde dat kommunisme ten minste in Suid Afrika
gerehabiliteer is.
Die massamedia is derhalwe ‘n propagandamasjien, en onder ‘n
etniese groepie soos Afrikaners, is dit baie effektief. Die elite,
skrywers en beleidmakers verstaan die kultuursimbole van so ‘n
etniese groep, en kan dit baie effektief propogandisties aanwend
om sekere gedrag te verseker.
Massamedia Moguls glo ook dat hulle ‘n besondere historiese rol
het om te speel. Chomsky sê dit soos volg op ‘n televisie
program:
“At the New York Times history is created.”
Hy beweer verder dat:
“history is shaped” at the New York Times, and the editors of
that newspaper believes themselves to carry an extraordinary
burden – their decisions and writings shape wat we perceive as
truth and reality.”
Daar rus dus op die skouers van Ton Vosloo en Tim du Plessis onder
meer, ‘n swaar self-opgelegde las. Hulle besluit wat geskiedenis
is en sal wees. Hulle stel die agenda vir Afrikaners, en filtreer
nuus en opinie voor dit aan massas aangebied word. Soos Boetman
ook in sy brief aan Willem de Klerk skryf, is hierdie belangrike
mense wat hulle in binnekamers toesluit om belangrik oor
belangrike dinge na te dink: Afrikaners, misdaad, Suid Afrika,
Afrikaans, plaasmoorde, en die toekoms. Hulle is die Masters of
the Afrikaners, om ‘n beeld van Tom Wolfe te leen. Hulle besluit
wat en wie gepubliseer sal word. Maar hulle is ook in ‘n sin
slagoffers in die orde – soos Chomsky in ‘n televisie program
opgemerk het “There are penalties for breaking the rules...”.
David Barsamian, die outeur van The Common Good, skryf dat die
linksgesinde tydskrif The Nation se redakteur, Victor Navasky,
ongemaklik is met Chomsky se mening oor die Midde-Ooste. Chomsky
merk toe op dat:
“[Victor] explained [to people] that [Chomsky is absent from The
Nation’s pages] because he kept on sending him huge articles
that were way too long. In fact, the only article I’d ever
submitted to The Nation was about two pages long.”
Dus, die redakteur van ‘n koerant of tydskrif kan opinies na
goeddunke onderdruk. In Chomsky se geval het The Nation sy mening
oor die Midde-Ooste onderdruk, omdat hulle nie daarmee saamstem
nie, en veral nie omdat dit nie strook met die Common Good in die
VSA nie.
Bostaande is natuurlik definitief waar in Suid Afrika. Ek dink nie
dat enige Afrikaanse koerant data wat rasse-statistiek aan misdaad
of plaasmoorde koppel sal publiseer nie. Die sogenaamde Common
Good vereis dat moorde op swart kinders deur wit boere ongewoon
is, en in daardie geval word die ras van die oortreders beklemtoon
in beriggewing. Die omgekeerde - naamlik moorde op plaasboere en
hulle kinders deur swart booswigte is niks anders as normale
misdaad nie - verdien nie kolomspasie en nadruk in enige koerant
nie. Dit is die gevolg van Chomsky se filters, en dit verduidelik
waarom geen Afrikaanse massamediaorgaan nog juis vreeslik tekere
gegaan het oor plaasmoorde nie. Selfs die verslae oor plaasmoorde
gaan deur Chomsky se filters om seker te maak dat hulle die
huidige Common Good dien, en ek sou dink dat dit ten beste ‘n
verwronge beeld van die ware aard en verduideliking van die moorde
weergee.
Ook tragedies wat net Afrikaners behels gaan deur Chomsky se
filters. Toe Vleis Visagie sy dogter per ongeluk doodgeskiet het,
omdat hy geglo het sy is ‘n motordief, het dit weereens ‘n erg
gefiltreerde reaksie van Tim du Plessis, een van die redakteurs
van die Afrikaanse pers, ontlok. ‘n Verdere gefiltreerde reaksie
is deur Gerrit Brand geskryf. Beide Brand en du Plessis is deel
van die elite en hul onderskeie analises van die skietongeluk is
standaardvoorbeelde van propoganda om die heersende Common Good te
dien.
Die elite se boodskap aan Visagie is dat hy nie moet durf om
misdaad teenoor Afrikaners as verskoning vir sy daad te opper nie.
Die filtrering in die geval is so erg dat du Plessis en Brand nie
eers wil erken dat Afrikaners, en veral plaasboere by
uitsondering, onder geweldadige misdaad lei nie, en veral nie dat
die misdaad ongewoon is omdat Afrikaners die slagoffers van
nie-Afrikaners is nie. Om dit te sê is “[to say] certain things
it “wouldn’t do to say”” soos Chomsky dit stel. En as jy
dit nie leer nie “[then] you’re not in the system”.
Die sogenaamde Common Good vereis verder dat geen publikasies wat
krities is teen die onderdrukking van Afrikaans, die verengelsing
van Afrikaanse skole en universiteite, aandag kry nie. Filtreer so
‘n artikel deur Chomsky se filters, en dit is duidelik dat dit
òf adverteerders, òf die regering, òf die Afrikaanse
media-eienaars, gaan versteur. Ek is verder doodseker dat verslae
oor plaasmoorde, oor regstellende aksie en dies meer, ook deur
Chomsky se filtreerder gestuur word, en wat ons uiteindelik lees
is in die ware sin van die woord ‘n gewaste weergawe wat
aangepas is om te strook met die huidige veronderstelde Common
Good vir Afrikaners en Suid Afrika.
Omdat die mediaorgane op mekaar teer, is dit so dat die propaganda
model soos beskryf deur Chomsky, die pers oor die hele wêreld
besmet. Daar is sekere truths wat geen orgaan sal bevraagteken
nie. So byvoorbeeld het die truth dat “Afrikaners are evil”
die Westerse media so diep gepenetreer dat dit nou ‘n aksioma is
selfs in die Afrikaanse media, en dit is skynbaar verantwoordelik
vir die oorkompensasie van veral Afrikaanse kommentators soos Max
du Preez.
Die media is dikwels nog nouer in Chomsky se propaganda model
verwikkel. As daar ‘n identifiseerbare vyand is, sal mediaorgane
aktief soek na gebeure of data om die vyand in die verleentheid te
bring. Die Goeie Kant sal herhaaldelik deur die media bevorder
word ten koste van die ander kant. Kommunisme was destyds só 'n
groot Vyand en die Westerse pers het gedurig oor moorde, gepleeg
deur Kommuniste, geskryf. Dit is dan ook waarom die vyfde filter
anti-Communism is. Ná die val van Kommunisme het anti-rassime die
nuwe filter geword. Die gevolg was dat wit Suid Afrika dikwels in
die mees negatiewe terme beskryf is in die Westerse media, terwyl
die Goeie Kant (in dié geval die ANC) bewonder en bevorder is.
Die diëfikasie van Nelson Mandela in die Weste is ‘n direkte
gevolg van die uitgangspunt dat die ANC, ten spyte van die bomme
en moorde, die Goeie Kant is. Geen mediaorgaan sal durf om ‘n
opstel krities teen Mandela te publiseer nie. Soos Chomsky dit
stel – you fall in with the program, or you get sidelined. Om
krities teenoor Mandela te wees, is ‘n risiko vir enige
kommentator wat ernstig opgeneem wil word.
Die vyfde filter is vir my die mees interessante. Terwyl Orwell se
opmerkinge verwantskap toon met omtrent al die filters, hou dit
veral verband met die vyfde filter. Die anti-Kommunistiese vorm
van die vyfde filter het wit Suid Afrika baie gebaat in die
1950’s en 60’s. Terseldertyd het die Amerikaanse Civil Rights
beweging ‘n hele nuwe simboliek geskep. Die simboliek het
ontwikkel tot die heersende Westerse simboliek van anti-rassisme
en die multikulturele samelewing. In Suid-Afrika en die Weste het
die simboliek baie gedoen om Suid Afrika in ‘n ander lig te stel
en ANC intellektuele soos Joe Slovo het dit gebruik om wit Suid
Afrika te ondermyn. Die struggle in Suid Afrika het ‘n American
Civil Rights simboliek verkry, en die res is geskiedenis.
Multikulturalisme en anti-rassisme is nou ‘n volwaardige vyfde
filter in Chomsky se propaganda model.
Chomsky het ook heelwat ander kontroversiële insigte. Hy skryf
byvoorbeeld dat:
“In my view, corporations are illegitimate institutions of
tyrannical power, with intellectual roots not unlike those of
fascism and Bolshevism.” [The Common Good: Chomsky Interviewed
by David Barsamian. Odanian Press 1997, page 63.]
Hy oordryf heeltemal in dié opsig. Hy beweer verder dat
korporasies vandag meer invloedryk is as enige tyd in die verlede.
Miskien het hy nog nie van die V.O.C. gehoor nie. Die moderne
korporasie is onderhewig aan baie regulasies. Dit sluit onder meer
regulasies rondom belasting, werkersregte, salarisskale,
vakbondunie wetgewing, regstellende aksie en die wetgewing wat
rassediversiteit in die werkplek bevorder. En dit is nog voor ek
enige iets kan byvoeg oor die wetlike vereistes wat die
veiligheid, die omgewing en handelstransaksies beheer. Die term
“beperk” agter die naam van ‘n korporasie beteken net dit:
Beperk.
Dan is daar Chomsky se aktiwiteite as ‘n ondersteuner van talle
linksgesinde en sosialistiese groepe in die Derde Wêreld.
Ondersteuning van die Kommunistiese regering in Kuba is een van sy
gunsteling aktiwiteite, asook die studie van massamoorde wat
dikwels in die pers geïgnoreer word. Dit sluit massamoorde in
Indonesië (Oos-Timor) in – ‘n klassieke geval waar die
moordenaars nooit aangekeer is nie en waar die Weste ander pad
gekyk het. Chomsky se kontroversiële benadering tot die
Midde-Ooste het hom die teiken van menige aanvalle gemaak. Dit kan
nie maklik wees nie, omdat hy self Joods is.
Ten spyte van die feit dat ek persoonlik skerp van hom verskil ten
opsigte van sommige van sy politieke aktiwiteite, het Chomsky ‘n
korrekte en waardevolle benadering tot die pers in
“demokratiese” lande ontwikkel. Dit sal vir nog lank toegepas
word om die media en hulle motiewe te ontleed.
6 Junie 2004