chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Die "glo" van globaal

deur Dan Roodt

Referaat gelewer by die departementele colloquium, Dept. van Filosofie, RAU, Johannesburg op 15 Maart 2000.

Die woord "globaal" soos aangewend in die substantief "globalisering" het ‘n sekere eietydse betekenis verkry. Daarmee word die verval van die negentiende-eeuse nasiestaat of volkstaat ter wille van ‘n ekonomies- en tegnologies-gedrewe proses van vryehandel in dienste en goedere, maar ook die vryvloei van kapitaal, aangedui.

Globalisering staan in ‘n sekere verhouding tot postmodernisme. Binne Lyotard se formulerings kan die globaliseringsproses insgelyks as "postmodern" getipeer word. Hy noem byvoorbeeld dat die "reprise de la prospérité capitaliste, d’une part, et l’essor déroutant des techniques, de l’autre" ‘n impak gehad het wat bydra tot die delegitimering van kennis. Ook is hierdie delegitimering terug te voer na die negentiende eeu en die groot verhale van bevryding. Die globalisering wat ons vandag ervaar het egter sterk te make met hierdie kombinasie van "kapitalistiese voorspoed" en die "verwarrende opbloei van tegnologieë" waarna hy verwys in sy kensketsing van die postmodernisme.

Die siening van Fukuyama wat in The end of history praat van die oorwinning van die liberaal-demokratiese model en gepaardgaande kwyn van die staat, help ons om ‘n verdere greep op die verskynsel te kry, hoewel sy analise in ‘n groot mate afgelei is van Kojève se "Introduction à la lecture de Hegel". Fukuyama is van mening dat Nietzsche se grootste vrees sou wees dat die "American way of life" dominant sou word. De Toqueville, aan die ander kant, was oortuig dat dit uiteindelik sou gebeur as ‘n historiese onvermydelikheid en dat die liberale demokrasie die einde van die geskiedenis sou inlui. Kojève het die sin van menslike geskiedenis gedefinieer in terme van ‘n tweeledige stryd om erkenning (thymos) en om die natuur te beheers. Indien die mens beide erkenning van sy menslikheid én materiële welvaart sou bereik, sou dit die einde van die geskiedenis beteken, asook van die mens, streng gesproke. Fukuyama haal vir Kojève aan waar hy sê,

"La disparition de l’Homme à la fin de l’Histoire n’est donc pas une catastrophe cosmique: le Monde naturel reste ce qu’il est de toute éternité. Et ce n’est donc pas non plus une catastrophe biologique: l’Homme reste en vie en tant qu’animal qui est en accord avec la Nature ou l’Etre donné. Ce qui disparaît, c’est l’Homme proprement dit, c’est-à-dire l’action négatrice du donné et l’Erreur, ou en général le Sujet opposé à l’Objet. En fait, la fin du Temps humain ou de l’Histoire, c’est-à-dire l’anéantissement définitif de l’Homme proprement dit ou de l’individu libre et historique, signifie tout simplement la cessation de l’Action au sens fort du terme. Ce qui veut dire pratiquement: la disparition des guerres et des révolutions sanglantes."

[Die verdwyning van die Mens aan die einde van die Geskiedenis is dus nie ‘n kosmiese katastrofe nie: die natuurlike Wêreld bly dit wat dit nog altyd was. En dit is ook nie ‘n biologiese katastrofe nie: die Mens bly lewend as dier wat in harmonie met die Natuur of die gegewe Syn verkeer. Dit wat verdwyn is die Mens streng gesproke, dit wil sê, die ontkennende werking van die gegewe en die Dwaling, of oor die algemeen die Subjek teenoor die Objek. Trouens, die einde van menslike Tyd of van die Geskiedenis, dit wil sê die definitiewe vernietiging van die Mens streng gesproke of van die vrye en historiese individu, beteken doodeenvoudig die beëindiging van die Daad in die streng sin van die woord. Wat in praktiese terme bedui: die verdwyning van bloedige oorloë en revolusies.]

Beide Lyotard en Fukuyama - ná Kojève - sien dus in hierdie nuwe toestand die resultaat van ‘n opbloei van die kapitalisme en die einde van bloedige oorloë. Dié toestand kan as postmodern of as die einde van die geskiedenis of dan as globalisering getipeer word. Kojève se siening is veral interessant in die lig van die verdwyning van die mens, streng gesproke, die mens synde ‘n "vrye en historiese individu" wat aan die einde van menslike tyd of van die geskiedenis plaasvind. Hierdie gedagte behels dus die taamlike kontra-intuïtiewe idee dat vrede en voorspoed ook ‘n vermindering in vryheid meebring. Die mens word gereduseer tot ‘n biologiese wese of dier wat in harmonie leef met die natuur of met die gegewe syn. Hierdie gedagte dat die geskiedenis as konflik van idees en denkrigtings eintlik verby was, het vir enkele jare oorheers.

Die eerste onlangse manifestasie van ‘n hervatting van geskiedenis in terme van Kojève of Hegel se definisie was die reaksie op globalisering van die anargistiese betogers by Seattle wat in die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en die vorming van groot ekonomiese sones of handelsblokke die bedreiging van ‘n oorkoepelende supranasionale staat gesien het waarin individue en minderheidsgroepe weinig of geen inspraak gaan hê nie. Hierdie betogers het dan die simbole van globalisering soos persele van Nike of McDonald aangeval en verniel. Tot en met Seattle is globalisering allerweë as ‘n positiewe ontwikkeling gesien wat deur die afskaffing en vermindering van handelstariewe groter mededinging in die markte vir goedere en dienste meebring en sodoende laer pryse aan verbruikers "deurgee" soos dit genoem word. Die klassieke ekonomiese argument is dat groter spesialisasie in die produksieproses wêreldwyd lei tot skaalekonomieë wat dan pryse verlaag en mense se lewenstandaard verhoog. In ‘n mate steek daar waarheid in, of eerder, in sommige lande, meesal in die ontwikkelde wêreld, word globalisering so ervaar. Enige kritiek op globalisering word dan as ‘n pleidooi vir proteksionisme afgemaak. Hierdie ekonomiese argument vir die voortreflikhede van globalisering berus egter op sekere aannames wat eenvoudig nie opgaan nie:

1) Die aanname is dat markte "rasioneel" is. Slegs ekonome glo hieraan, en enigeen wat bekend is met die werkinge van markte weet dat sogenaamde "irrasionele" faktore soos mense se begeerte, nasionale prestige, asook die bekende "vrees en gierigheid" waarvan handelaars praat ‘n baie groot rol speel.

2) Die handel in dienste en goedere word nie beïnvloed deur die finansiële markte in valuta, rentekoerse, effekte, aandele en hul afgeleides nie. Globalisering impliseer immers dat transnasionale transaksies plaasvind, waarvan elkeen ten minste ‘n enkele valutakomponent het, om nie te praat van die konstante arbitrage in finansiering nie, wat verdere handel in valuta en rentekoersinstrumente meebring. Daar word bereken dat slegs een uit tien transaksies op die valutamark oor ‘n reële onderliggende invoer- of uitvoertransaksie beskik; die res is grotendeels spekulasie. Die veel groter aktiwiteit van spekulasie waar ‘n reeks ander faktore behalwe ‘n meganistiese aankoop van valuta ter sprake is, kan dus die gewone handel in dienste en goedere radikaal beïnvloed.

3) Markte wys kapitaal "doeltreffend" toe aan maatskappye en sektore waar ‘n opbrengs behaal kan word. In baie gevalle word kapitaal toegewys op grond van modes en gerugte wat agterna blyk geen opbrengs te getoon het nie. Tans is die sektor in die VSA wat die meeste kapitaal ontvang die tegnologiesektor, maar ontleders bereken dat 90% van onlangs-gestigte maatskappye in dié sektor nie oor tien jaar sal bestaan nie.

Die ekonomiese model is in ‘n groot mate gegrond op dit wat in die filosofie as "naïewe realisme" bekend staan. Die pogings van Gary Becker om op ‘n "postmoderne" wyse die ekonomiese analise na nie-ekonomiese fenomene uit te brei, hoewel vindingryk, toon eerder die gebrekkigheid van die ekonomiese manier van dink aan. Om alles te reduseer tot behoeftes, skep ‘n fiktiewe verbruiker wat slegs sy iewat vulgêre smaak in die mark vir verbruikersgoedere laat gedy. Die ekonomiese model stuit op die produksie van "oorbodige" goedere soos letterkunde en filosofie, asook nie-populêre musiek wat ontkom aan die verbruikersmark.

Eerder as wat globalisering gerig is op die vrystelling van ‘n verskeidenheid smake, kulture en tale, word dit met eenselwigheid en monokultuur geassosieer. Soos ‘n waarnemer dit onlangs in die New York Times gestel het, in reaksie op die oorname van Time-Warner deur AOL:

"But there is another, subtler risk in the potential synergy this kind of merger represents. The residual gravity of such an enormous corporation - its ethos, its habits - will take a toll on creativity, in content or business operations, all the way down the line. Call it an efficiency tax, the edge that vanishes when everyhting is tailored for the pipeline, so to speak. No matter how you spin it, this merger, like other, similar mergers in the past few years, represents a move toward uniformity and away from diversity, toward the globalization of a consumerist, mass culture that is best purveyed by globalized mass corporations." (Verlyn Klinkenborg, soos aangehaal in die New York Times, 15 Januarie 2000)

Die paradoks van globalisering is dus die volgende: groeiende kommunikasie en die afwesigheid van tariefgrense is veronderstel om ‘n wyer aanbod aan die verbruiker te bewerkstellig, dog die teenoorgestelde is eerder waar, omdat die "globale onderneming" met sy "globale produk" die spel - hetsy ekonomies, hetsy kultureel - domineer. Globale ondernemings, in weerwil van die aansien en kreatiewe aanskyn van die Geschäftsführers wat deur die media aan ons voorgehou word, is nie meer of minder burokraties as die staat nie. Hulle is dikwels ook sterk outokraties en daar is bloot ‘n graadsverskil tussen ‘n nasionale weermag se bevelstruktuur en dié van ‘n globale onderneming soos Citibank of McDonald.

Daar is ‘n ekologiese teorie aangaande die habitat van olifante wat ons as analogie kan gebruik vir die soort samesmeltings om al hoe groter en groter globale ondernemings te skep. Die olifant het geen natuurlike vyande nie en ‘n trop olifante heers dus natuurlikerwys oor hul habitat. As plantetende diere bedreig hulle nie direk enige ander fauna nie, maar namate hulle dominansie sterker word begin hulle wel die biodiversiteit van hul omgewing beïnvloed. Die trop olifante word groter en groter totdat hulle die plantegroei in hul omgewing dermate uitroei dat daar naderhand niks oorbly nie - nie vir hulself nie en ook nie vir die ander kleiner spesies wat daarvan afhanklik is nie. Die uiteinde is ‘n omgewingskatastrofe wat daarop uitloop dat ‘n groot aantal individue van alle spesies omkom. Die olifanttrop self word drasties uitgedun vanweë ‘n gebrek aan voedsel en slegs tien tot twintig persent van sy lede oorleef die ekologiese implosie. In die natuur veroorsaak olifante dus siklusse van ongeveer honderd-en-vyftig jaar waartydens hul getalle geleidelik aangroei, dan skeilik insink en die proses weer van vooraf begin.

Dit ly geen twyfel dat globalisering as ‘n proses van konsolidasie van ekonomiese eenhede by wyse van samesmeltings allerlei funeste gevolge het vir diversiteit nie. Kort na die uitvinding van die motorvoertuig was daar ongeveer ‘n duisend motorvervaardigers in die wêreld. Sedertdien het die aantal vervaardigers bly krimp en binne die volgende tien jaar gaan daar waarskynlik vyf of minder oorbly. Dieselfde geld vir baie ander produkte. Op die gebied van programmatuur is die wêreld se grootste maatskappy in dié sektor, Microsoft, onlangs in die Verenigde State gedagvaar omdat hy oor ‘n monopolie sou beskik.

Ons mag sentimenteel voel oor die verdwyning van sekere produkte. Dit is egter op die gebied van taal en kultuur dat globalisering die grootste impak het. Daar word bereken dat die wêreld oor tussen vyf- en sesduisend tale beskik. Ongeveer die helfte hiervan word op een of ander manier bedreig. Tot onlangs was Mandaryns die taal wat deur die meeste mense op aarde begryp is. Die probleem vir Mandaryns was egter dat dit meesal deur moedertaalsprekers in een wêrelddeel gepraat is en alhoewel dit tot die wêreld se oudste kultuur behoort, het Engels dit in die onlangse tyd verbygesteek. Daar word bereken dat tussen 1,6 en 1,7 miljard mense op aarde tans reeds Engels verstaan met 400 miljoen moedertaalsprekers teenoor die raps meer as ‘n miljard sprekers van Mandaryns. Die aandeel van Amerika in die globale Bruto Nasionale Produk het oor die afgelope vyftien jaar vanaf iets soos 23% tot 30% gestyg en die aandeel van die 400 miljoen Engelssprekendes aan die globale BNP het opgegaan tot 40%.

Ook in ons eie land is daar mense wat beweer dat Suid-Afrikaners hul eie tale moet neerlê en die taal van die eertydse Britse Ryk, en nou die taal van globalisering, Engels, moet aangryp. Wat sal gebeur indien almal op aarde net een taal praat? Ons weet dat al die boeke en inligting wat in die 6000 tale oor milennia opgegaar is, in ‘n groot mate ontoeganklik sal wees. Dit mag egter wees dat daardie kultuur en inligting as minder belangrik beskou word teenoor dit wat beskikbaar is in die globale kultuur.

As ‘n mens effens terugtree vanaf die geesdrif waarmee globalisering aangebied word, kom daar allerlei vrae op, soos byvoorbeeld die fundamentele vraag: waarom globaliseer? Wat dryf globalisering aan? Hierdie is vir my die radikale vraag wat niemand sover ek weet nog aangespreek het nie, en dit is waar die filosofie vir ons miskien ‘n antwoord mag verskaf. Voordat ek egter daarby kom, wil ek ‘n sekere paradoks noem wat onlangs in die Amerikaanse media na vore gekom het. Die persoon wat die waardes van die Amerikaanse maatskappy tans die beste simboliseer en wat aanmekaar op die voorblaaie van tydskrifte verskyn is die entrepreneur Bill Gates. Toevallig is hy, gemeet aan die waarde van sy aandeelhouding in Microsoft, ook die rykste man op aarde. Tog het die tydskrif Time, wat deur die romansier Robert Coover in sy satiriese werk, The Public Burning, "the poet laureate of America" genoem is, nie vir Gates nie, maar vir Albert Einstein aangewys as die mens van die eeu. Einstein was ‘n Duitse Jood en verpersoonlik die oudmodiese intellektuele en kulturele waardes waarvoor voorstanders van globalisering net veragting koester. Selfs die globale tydskrif Time kan dus nie heeltemal die waarde van besinnende denke verwerp nie.

Ek gebruik hier met opset die term van Heidegger "besinnliches Denken" ten opsigte van Einstein, iets waarmee Heidegger self beswaarlik sou saamgaan, want vir hom het ‘n sekere vorm van wetenskaplike denke, veral dié rondom die atoom en atoomenergie, juis neergekom op dit wat hy wou afwys, naamlik berekende denke of "rechnendes Denken". In die tydperk van globalisering egter, dink ek dat Heidegger se onderskeid ‘n verskuiwing ondergaan het. Enigiets wat maar hoegenaamd simpatiek staan teenoor intellektuele en kulturele diversiteit kan ons gerus "besinnende denke" noem, ook wetenskaplike denke, en die "berekende denke" van vandag is alles wat mnr. Gates voorstel, die eliminering van die ander produk, die ander taal, die ander kultuur, die ander manier van dink ter wille van die eenselwige, die mono: monopolie, monolinguïsme, monokultuur. Ook in Suid-Afrika is daar voorstanders van ‘n monokultuur in belang van nasionale eenheid. (Hierdie kwessies het ek bespreek in my stuk getitel "Die krisis van Suid-Afrikanerskap".)

Ek wil nou die vraag vra, kennelik ‘n vreemde vraag, vir sommige selfs ‘n kranksinnige vraag: waarom globaliseer? Oftewel, wat is die glo van globaal? My hipotese is dat daar onderliggend aan die oënskynlik sekulêre, ekonomistiese aandrang op globalisering eintlik ‘n vorm van godsdienstige denke aan die werk is, ‘n geloof of ‘n glo. Enigiemand wat al videomateriaal van ‘n Amerikaanse Hoofuitvoerende Beampte gesien het wat sy werknemers aanvuur tot groter hoogtes word ongemaklik herinner aan die ooreenkoms met ‘n sekteleier wat sy volgelinge toespreek. Ook die kultusstatus wat sulke ondernemers of maatskappyhoofde beklee is nie ver verwyder van die posisie van hoofde van letterlike kultusse nie. Benewens dit, moet ‘n mens onthou dat globalisering gedryf word vanuit die Verenigde State, ‘n land waarin kultusse van allerlei aard gedy, waar mense ook veel meer kerk toe gaan as in ander ontwikkelde lande, soos byvoorbeeld dié van Wes-Europa. Daar is ook ‘n gewilde teorie onder kerkgangers dat God die gelowiges bevoordeel en dat die gee van geld aan een of ander baptiste-beweging wat self al die moderne "kommunikasietegnieke" aanwend om sy volgelinge op te sweep, as ‘n belegging beskou kan word sodat die gewer dit dubbel en dwars terug te behoort ontvang by wyse van winste op die aandelebeurs of in sy eie onderneming.

‘n Ander simptoom van dit waarna ek verwys, word goed geïllustreer deur ‘n onlangse artikel in die tydskrif Fortune - ‘n blad wat al om die ander week mnr. Bill Gates op die voorblad het - waarin ‘n nuwe sindroom uitgewys word waar werknemers by veral hoë-tegnologieondernemings só opgeneem word deur hul werk dat hul hele identiteit daarvan afhang. Die Fortune-joernalis beskryf dit as volg:

"Welcome to the new company town.

It’s not a town, literally speaking, but a corporate office park or campus. Yet this new workplace is not just a place to work. It’s a place to live. It’s where you can eat, nap, swim, shop, pray, kickbox, drink beer, run your errands, start a romance, get your dental work done, wield plastic lightsabers, and sculpt nude models. It’s where you can bring your whole self - mind, body, and spirit - to work each day. Which is a good thing, because you’ll be here, if not from cradle to grave like the old company towns, then certainly from dawn to dusk.

The proliferation of such fancy workplace amenities is, we’re told, a function of the tight labour market and the war for top talent. But it’s also part of another war: the war for time. Americans are working longer, harder, and faster, creating a ‘time famine’ that has been documented in such bestsellers as Juliet Schor’s The Overworked American, Arlie Hochschild’s The Time Bind, and the 751 time-management titles listed on Amazon.com (including Eating on the Run and Please Hold: 102 Things to Do While You Wait on the Phone). Recognizing that work is becoming home for many people, ‘companies are taking the best aspects of home and incorporating them into work,’ observes Helen Mederer, a sociologist at the University of Rhode Island." (Fortune, vol. 141, no. 1, 10 Jan. 2000.)

Dis is duidelik dat "werk" binne die sogenaamde "nuwe maatskappy" meer behels as bloot werk. Ma’s se kinders word na gekyk in kleuterskole met kameras waarmee die moeder dan die kind af en toe kan sien met behulp van ‘n internetverbinding. ‘n Vroulike werknemer van ‘n sekere onderneming het vergaderings bygewoon waar daar oor luidsprekers geskree word, "We are family"; huwelike tussen werknemers van die maatskappy word aangemoedig en selfs korporatief voltrek en gevier. Sy het getrek na ‘n huis binne loopafstand van haar werk, die huis self versier met die maatskappy-embleem en selfs haar kinders aangetrek in klere met dieselfde embleem daarop. Toe ‘n klomp mense afgedank is en sy ook ander se werk moes behartig, het sy begin siek word en moes daarna terapie ontvang om van haar korporatiewe identiteit ontslae te raak (Fortune, ibid., bl. 48). Daar bestaan nou ondersteuningsgroepe vir sulke mense wat geen belangstelling buite hul werk het of gehad het nie.

Dit is duidelik dat die geglobaliseerde samelewing met sy hoëtegnologiese gejaag na groter produktiwiteit en oorname van dit wat Levinas die "interioriteit" van die werknemer sou noem, besig is om terug te neig na ‘n kloosteragtige bestaan waar mense hul lewens wy aan ‘n orde of onderneming waarbuite daar geen ander sinmakende of singewende aktiwiteit is nie. Dit wat ons kultuur noem, om van besinnende denke nie eens te praat nie, is nie deel van hierdie wêreld nie.

My tese is dat dit wat Nietzsche raakgesien het, naamlik dat die dood van God geen einde aan aanbidding en kloosterlike gedragsvorme sou bring nie, tans meer en meer na vore kom in die sogenaamde globale ekonomie. Ten spyte van die tegniese en daarom dinglike proteses waarmee ons ons omring, is daar ‘n toenemende gewydheid wat hom op verskeie maniere manifesteer as deel van ‘n nuwe en opwellende, noem dit maar sekulêre of gesekulariseerde, geestelikheid. Heidegger gee in sy opstel "Nietzsches Wort >>Gott ist tot<<" ‘n uitstekende uiteensetting van laasgenoemde se denke rondom hierdie probleem.

Heidegger stel dit só:

"In dem Wort >>Gott ist tot<< steht der Name Gott, wesentlich gedacht, für die übersinnliche Welt der Ideale, die das über dem irdischen Leben bestehende Ziel für dieses Leben enthalten und es dergestalt von oben und so in gewisser Weise von aussen her bestimmen. Wenn nun aber der unverfälschte, kirchlich bestimmte Gottesglaube dahinschwindet, wenn insbesondere die Lehre des Glaubens, die Theologie, in ihrer Rolle, als die massgebende Erklärung des Seienden im Ganzen zu dienen, eingeschränkt un abgedrängt wird, dann zerbricht damit noch keineswegs das Grundgefüge, demgemäss eine ins Übersinnliche ausgreifende Zielsetzung das sinnlich irdische Leben beherrscht.

An die Stelle der geschwundenen Autorität Gottes und des Lehramtes der Kirche tritt die Autorität des Gewissens, drängt sich die Autorität der Vernunft. Gegen diese erhebt sich der soziale Instinkt. Die Wetlflucht ins Übersinnliche wird ersetzt durch den historischen Fortschritt. Das jenseitige Ziel einer ewigen Seligkeit wandelt sich um in das irdische Glück der Meisten. Die Pflege des Kultus der Religion wird abgelöst durch die Begeisterung für das Schaffen einer Kultur oder für die Ausbreitung der Zivilisation. Das Schöpferische, vormals das Eigene des biblischen Gottes, wird zur Auszeichnung des menslichen Tuns. Dessen Schaffen geht zuletzt in das Geschäft über."

Ons is almal bekend met Nietzsche se gedagte dat die dood van God geensins ‘n einde bring aan die oorheersing van dit wat Heidegger hier "das Übersinnliche" (die bosintuiglike) noem nie. Kom ons kyk nou hoe enkele van die bogaande idees op die globaliseringsproblematiek toegepas kan word:

1) In die plek (Stelle) van die goddelike outoriteit of van die kerklike leer kom nou die outoriteit van die Gewete (Gewissen) en die outoriteit van die Rede. Ons is bewus van Max Weber se verduideliking van protestantse werkywer wat aan die grondslag van die ekonomiese sukses van Noord-Amerika en Noord-Europa sou lê. In die werkywer van die globale kloosterling is daar iets van die gewete wat pla; as daar nie gewerk word nie, moet die werknemer skuldig voel want dan verslap sy toewyding. Trouens, blykbaar is daar nou in sommige ondernemings programmatuur wat die werknemer indien hy langer as ‘n paar minute onaktief voor sy rekenaar raak, hom herinner dat hy besig is om niks te doen nie, byna soos ‘n elektroniese toesighouer. Die outoriteit van die Rede sou ons kon omskryf as daardie onbevraagtekenbare stel gegewens aangaande ekonomiese groei, tegniese en tegnologiese ontwikkeling en die akkumulasie van kennis volgens bepaalde redelike definisies. (Diegene wat bekend is met die wetenskapsleer sal verstaan waarop ek sinspeel met laasgenoemde frase, want natuurlik is kennis dikwels nie so redelik nie en behels dit kreatiewe spronge en absurditeite - vra maar vir Einstein.)

2) Die siel en ewige saligheid gaan oor in die aardse geluk van die meeste. Dit klink na die definisie van globalisering par excellence. "Die aardse geluk van die meeste" sou die verbruikersmaatskappy self kon opsom. Iewers sê Nietzsche dat die Grieke blykbaar nie baie gelukkig was nie; hulle was ‘n tragiese volk. Die eietydse mens stel egter nie belang in tragedie nie; hy of sy soek na geluk as verbruiker.

3) Die religieuse kultus word afgelos deur die begeestering vir die skep van ‘n eie kultuur of die uitbreiding van die beskawing. Miskien sou dié gedagte van toepassing gewees het op die maatskappy van die twintigste eeu, maar nóg Nietzsche nóg Heidegger sou kon voorsien dat mense in die een-en-twintigste eeu hul eie kultuur van hulle sou wou afwerp in ‘n daad van dekulturering of kulturele selfmoord ter wille van die aanbidding van dinge, van handelsmerke, van die markte self, veral natuurlik die finansiële en aandelemarkte, ‘n aspek waarop ek hieronder ingaan. Die globale mens is dus geen neo-christelike nie, maar neo-baäls: hy glo in Baäl. Hier wil ek net die aanmerking maak dat ek geensins die woord Baäl in ‘n presiese sin gebruik as verwysing na die nabye-oosterse vrugbaarheidsgod wat veral onder die Kanaäniete aanbid is nie. Ek gebruik dit hier in die negatiewe sin wat dit veral in die Ou Testament in I Konings: 18 verkry het as ‘n "vreemde god" wat van buite afgedwing word, en wat ook die betekenis in Afrikaans is, as ‘n mens die WAT vergelyk, "Benaming van enigeen van ‘n aantal afgode onder outydse Semitiese stamme, veral die songod van die Feniciërs" wat dan verder in die uitdrukking voorkom, "voor Baäl die knie buig, die wêreld dien, ‘n vreemde leer aanhang - ook bv. op politieke gebied in S.A." Dit sou interessant wees om te spekuleer wat ‘n kniebuiging voor Baäl binne ons huidige politieke konteks beteken, hetsy tee met die President, hetsy die begeerte om te emigreer en so jouself in die globale op te los, maar dit is nie vir die oomblik vir ons ter sake nie. In ‘n sekere sin is die kubernetika en dan die verengelsingsproses wat daarmee saamhang vir my die vreemde god wat as’t ware op ons afgedwing word. In ‘n sekere sin aanbid ons geensins kultuur soos Heidegger saam met Nietzsche sou gedink het nie, maar juis anti-kultuur, die dinge, die elektroniese of handelsmerkgode waarmee ons ons soos Baäls omring.

4) Wat die verdere beginsel betref, aangaande die skepping, vertaal ek graag die woorde wat Heidegger hierbo gebruik: "Die skeppende, wat voorheen eie aan die bybelse God was, word die onderskeiding van die menslike doen.. Hierdie skepping gaan onlangs in die sakeonderneming oor." Verbasend genoeg het Heidegger dit kon opmerk nog voor Dresdner met Deutsche saamgesmelt het of Daimler-Benz met Chrysler. Weer eens hoef ons die begrip skepping maar net te vertaal in globale Amerikaans om onder die indruk daarvan te kom: being creative is waaroor dit gaan. Waarvoor skep ‘n mens? Ten einde op die beurs te gaan noteer, waarna jou skepping in waarde vermenigvuldig op ‘n manier wat geen Feniciese vrugbaarheidsgod dit nog ooit kon laat gebeur nie. Die tydskrif Fortune het eweneens redelik onlangs ‘n artikel gewy aan "billionaires under forty" wat een en almal internetbedrywe geskep en genoteer het. Hieronder wil ek die NASDAQ-teorie van die hiernamaals skets, in aansluiting by Nietzsche en met ‘n bietjie hulp van Deleuze en Guattarí.

Die nosie van "outoriteit" wat Heidegger gebruik is insgelyks baie ter sake, want anders as wat by die Marxistiese ontleding van die negentiende-eeuse kapitalisme die geval was, is "waarde" soos ons dit vandag ken nie terug te voer na die meerwaarde wat van die werker se arbeid afgeskep word nie, maar berus dit op iets soos "outoriteit" in die letterlike sin, naamlik as die gesag of mag van die outeur. Bill Gates buit nie werkers uit nie, of as hy hulle uitbuit is hulle dolgelukkig daaroor, maar soos ons al agtergekom het uit die dreigemente wat ‘n mens lees as jy Microsoft Windows op jou rekenaar installeer, beskik hy oor die kopiereg op dit wat sy programmeerders vir hom skryf. In die inligtingstydperk is outeurskap dit waarom alles gaan. In ‘n sekere sin is die skepper van ‘n onderneming ook ‘n outeur wat ‘n idee patenteer of inkorporeer in die Amerikaanse sin van ‘n onderneming oprig en registreer. As eertydse student in die literêre teorie is ek bekend met die hele problematiek van outeurskap en herinner ek my die gevleuelde woorde van Roland Barthes, naamlik die "dood van die outeur", behalwe dat sy dood nooit vanuit die letterkunde na die sakewêreld uitgebrei is nie. Die misterie van die huidige kultus van die sake-outeur is dat selfs die mees oorspronklike en verreikende wetenskaplike teorieë en uitvindings, soos byvoorbeeld dié van Einstein, geensins vergesel gaan van outeurskap nie. Niemand het kopiereg op die spesiale of algemene relatiwiteitsteorie nie, en elke Jan Rap en sy maat kan hierdie "progammatuur" na willekeur aanwend. Dieselfde geld wiskundige vergelykings, wat soms vergesel gaan van die eerste persoon wat dit geformuleer het soos byvoorbeeld Gauss of Fermat of Galois, maar geen wiskundige verdien tantième of kan sy idee teen ‘n marge aan miljoene mense gaan smous of op die aandelebeurs noteer nie. (Hier kan ek byvoeg dat daar sopas kommentaar uitgegaan het van Amerikaanse en Britse politici wat biotegnologiese navorsing wyer beskikbaar gestel wil sien en nie kopiereg op menslike geenkartering wil toelaat nie, wat gisteraand ‘n daling van 200 punte in die NASDAQ samegestelde indeks veroorsaak het - my koppeling van kopiereg of outeursreg aan waarde is dus gisteraand as’t ware empiries bewys.)

Michel Foucault het die punt gemaak dat outeurskap in die Weste net belangrik geword het toe skrywers "oortredende tekste" begin skryf het wat opruiend, godslasterlik of pornografies was. Dit was dus nodig om beheer uit te oefen oor boeke en geskrifte en die produsente daarvan verantwoordelik te hou indien hulle geskrifte ‘n ongewenste effek sou hê. Die "eienaarskap" van tekste was dus ‘n neweproduk van sensuur en oortredings wat saam met die diskursiewe veranderinge van die Verligting gekom het. In ‘n sekere sin sou ons daarom kon sê dat die outeur gebore is toe die dood van God aangekondig is deur Voltaire, Mirabeau, die Markies de Sade en ander Verligte figure. In ‘n hoogs ironiese beweging het outeurskap nou teruggekeer juis as skepping in die persoon van die sake-outeur of outoriteit. In Deleuziaanse terme sou mens dit as ‘n reterritorialisering kon beskryf. Voor ek egter daarna kyk, moet ons net kortliks Nietzsche se begrip "nihilisme" betrek.

"Nihilisme" soos Nietzsche dit gebruik, dui op die verwording van hoër waardes of, soos hy dit stel, "Dass die obersten Werte sich entwerten", letterlik "dat die hoogste waardes waardeloos raak" (aangehaal deur H., bl. 222). Die situasie waar die bosintuiglike wêreld oorheers - soos byvoorbeeld by die platonisme en die Christendom - is volgens hom dus nihilisme. Dog, soos Heidegger in sy lesing van Nietzsche ook aandui, gaan dit nie bloot om ‘n "verval van waardes" nie:

"...für Nietzsche ist der Nihilismus keineswegs nur eine Verfallserscheinung, sondern der Nihilismus ist als Grundvorgang der abendländischen Geschichte zugleich und vor allem die Gesetzlichkeit dieser Geschichte... Nietzsche denkt den Nihilismus als die >>innere Logik<< der abendländischen Geschichte." (H., bl. 223)

Daar is dus ‘n innerlike logika of wet wat die geskiedenis van die Weste in die rigting van ‘n nihilisme dwing. Dit gaan om die ontkenning van die hoogste waardes. Volgens Heidegger is die term soos Nietzsche dit gebruik egter meerduidig, op die minste tweeduidig. Daar is ‘n klassieke nihilisme of "vollendeten Nihilismus" wat ons waarskynlik met die omkeer van waardes, die oorheersing van die bosintuiglike en die geloof in God kan assosieer. Die tweede vorm van nihilisme kom egter na voorskyn as God reeds dood is, en sy plek verlaat het, maar daar bly steeds ‘n leë plek oor waar God eens gestaan het. (vgl. H. 225) Volgens Heidegger "[fordert die] leere Stelle sogar dazu auf, sie neu zu besetzen un den daraus entschwundenen Gott durch anderes zu ertsetzen. Neue Ideale werden aufgerichtet..." As ander ideale die leë plek bestyg, leef ons midde-in dit wat Nietzsche "unvollständige Nihilismus" noem en dit verskerp die probleem (ibid.).

Vele skrywers, onder meer Lyotard en Manfred Frank het al gewys op die manier waarop ‘n geesdrif, of entoesiasmos, wat voortkom uit die Griekse en heidense belewenis van panteïsme steeds by ons voortduur. In voortsetting hierop kan ek my idee van die baäls van Globaal koppel aan die proliferasie van handelsmerke wat beide as die "nuwe ideale" van die "onvoltooide nihilisme" à la Nietzsche gesien kan word en as die verbrokkelde reste van die godheid. Ek het al dikwels gedink, met verwysing na die kitsch argitektuur van Johannesburg, dat winkelsentrums soos Sandton City of Cresta ons katedrale is, en dat hulle die baäls van ons tyd huisves. Die geheimnisvolle betekenisse en assosiasies van handelsmerke wat die globale era kenmerk soos geen ander nie, kom neer op ‘n panteïsme van verhandelbare dinge, asof die entoesiasmos uitgestort is in hierdie supermarkgode waarvan ons almal droom om huisgode te maak.

Globaal beteken ook om sekere handelsmerke te vestig as universele betekenisse, en wat is ‘n godheid anders as ‘n universele en transendentale betekenis? Dog die verbruiksvoorwerp is steeds sintuiglik vatbaar, ‘n mens kan die Coca-cola drink en dit as’t ware sintuiglik en lyflik ervaar. As dit egter by die abstraksies van die finansiële markte kom, is dit duidelik dat die konsep van bosintuiglike nog glad nie dood is nie. Vir Nietzsche was waarde gelyk aan ‘n gesigspunt, ‘n manier van kyk na dinge. Huidiglik is waarde egter grotendeels ‘n monetêre probleem. Dit is nie te sê dat dit eenvoudig is nie. Trouens, ek vind die begrip waarde, en die skep van waarde tydens die sogenaamde "value-added" of toegevoegde waarde ewe moeilik om te begryp as die teorie van inflasie binne die "Big Bang". Hoe kan iets so groot soos ‘n speld se kop binne iets minder as ‘n nanosekonde uitsit na ‘n tennisbal, en daarna tot ‘n sonnestelsel, ‘n sterrestelsel, die hele bekende en onbekende heelal? Die feit dat dit wiskundig moontlik is, stel my geensins gerus nie. Ons het ‘n soortgelyke probleem met inflasie binne die globale kapitalisme. Hier praat ek nie van inflasie in die tradisionele ekonomiese sin van "prysstygings met betrekking tot goedere en dienste nie", maar van waarde-inflasie, en dan veral soos gemanifesteer op die aandelebeurse, spesifiek die NASDAQ-beurs waar die meeste tegnologie-aandele verhandel word. In Sondag se Sake-Rapport lees ek die volgende sin, verwysende na die NASDAQ, "In hierdie stadium ignoreer die mark die korttermynwaardasiemodelle en konsentreer op die toekoms."

Min of meer terselfdertyd as wat die idee van ‘n globale ekonomie en globalisering tot stand gekom het, het die kuberruimte ontwikkel, asook die mark in finansiële afgeleides. Dit het die moontlikheid geskep vir sogenaamde verskansingsfondse om eenvoudig die waardes van die wêreld se finansiële bates tienvoudig of twintigvoudig te laat toeneem by wyse van die sogenaamde hefboom-effek wat afgeleides soos termyne, ruiltransaksies en opsies bied. Finansiële afgeleides gebruik basies negentiende-eeuse wiskunde om die toekomstige kontantvloei te verdiskonteer. Tegnologie en tegnologie-aandele verteenwoordig vandag die bron van ‘n toekomstige kontantvloei, die sogenaamde "toekomstige waarde". Met behulp van ‘n eenvoudige rentekoersformule kan enige toekomstige waarde" omgereken word in ‘n "huidige waarde", al is dit hoe ver in die toekoms in. Op ‘n sekere manier kan ‘n mens dus vandag die hiernamaals verdiskonteer, en dit is presies wat op die NASDAQ gebeur. Die verdienste van maatskappy X in die jaar 3000 n.C. kan voorspel word na gelang van sy groeikoers, en dan kan daardie toekomstige verdienste na vandag toe verdiskonteer word om vandag se aandeelprys hoër aan te pas. Selfs hierdie teorie het egter gesneuwel as dit by die absurd hoë waardasies van byvoorbeeld internetaandele kom. Die frase "momentum-belegging" word gebruik om aan te toon dat beleggers eenvoudig die momentum van die waarde-inflasie volg eerder as wat hulle poog om enige redelike waarde aan ‘n aandeel toe te ken.

Die effek van die handelsmerk, wat die waarde van ‘n produk kan verhoog, is nog meer van toepassing op die aandelemark waar sekere handelsmerkaandele geweldige hoë pryse behaal. Die sogenaamde "nifty fifty"-verskynsel uit die laat-sestigerjare waar die bekendste handelsmerke styg terwyl die res agterbly, het ook in die onlangse tyd weer na vore gekom, en dan veral in die tegnologiesektor. Dit is wat ek inflasie noem, hierdie proses van uitswel sonder enige grondliggende rede behalwe miskien ‘n sekere oorblywende religieuse energie wat oorgaan in ‘n blinde geloof in die toekoms, ‘n beter toekoms. Die "innerlike logika" van die Weste waarna Nietzsche verwys, is beslis hier ter sake.

Dit is nie eenvoudig kapitalisme, soos wat ekonome sou wou beweer, nie. Dit gaan om ‘n uitswelproses wat opsigself te herlei is na dit wat Deleuze en Guattarí "deterritorialisering" noem. In ‘n sekere sin, en dit het ek reeds voorheen gesuggereer, behels globalisering ‘n verlies aan plaaslike identiteit. Dit spreek vanself, want indien alle spelers hul hou by ‘n plaaslike ekonomiese en kulturele spel, sal die proses nooit van die grond af kom nie. Dog die geskiedenis van die Weste en selfs van alle maatskappye toon ‘n proses van dekodering of deterritorialisering soos wat die mens sy verband met die grond en met sy bekende omgewing verloor in ‘n dollerwordende proses van vloeiinge wat eenvoudig momentum kry en verder en verder buite verband losraak in ‘n identiteitlose masjinale spel wat Deleuze en Guattarí in hul beroemde teks, die Anti-Oedipus (L’anti-Oedipe) "begeerteproduksie" noem. Soos die moedswillige Franse skrywer, Philippe Sollers al dikwels opgemerk het, gaan godsdiens eintlik maar net oor seks, wat vir ons ‘n manier is om die kloutjie by die oor te bring.

Die anti-Oedipus is in baie opsigte ‘n komplekse teks, ‘n gepoogde versoening van Freud en Marx met sekere Nietzscheaanse tegnieke en daarom wil ek nou slegs die nodigste daaroor sê, vir geval ons van die spoor afdwaal. In die eerste plaas, is daar ‘n formulering van die aard van kapitaal wat sterk ooreenkom met dit wat ek "inflasie" noem en wat betrekking het op hedendaagse waardes van veral tegnologieaandele. Die begrip wat Deleuze en Guattarí gebruik, "liggaam-sonder-organe", is ontleen aan Antonin Artaud. Dit benoem iets van ‘n "anti-produksie". Onthou, binne die klassieke ekonomiese teorie van Smith, Ricardo en selfs Marx vind daar ‘n produksie plaas waardeur waarde geskep of toegevoeg word. Dit is egter slegs van toepassing op ‘n redelike primitiewe vorm van nywerheidsekonomie. Binne die globale ekonomie waar waardes binne ‘n omliggende relatiwiteit van valutakoerse, rentekoerse en hul afgeleides, wissel, alles te midde van die vryvloei van kapitaal, raak die hele prentjie baie deurmekaar. Indien rentekoerse vandag daal tot naby aan nul soos dit reeds onlangs in Japan die geval was, sou dit moontlik wees om die volgende 2000 jaar se maatskappyverdienste tot vandag toe te verdiskonteer teen min of meer 2000 maal hul jaarlikse inkomste, iets wat die wêreld se markkapitalisasie 2000 keer hoër as vandag sou maak. Miskien is dit reeds aan die gebeur. Solank ons glo in die toekoms is enigiets moontlik.

In Keulen in 1908 het die Duitse wiskundige Hermann Minkowski sy siening van tydruimte bekend gestel, wat uiteindelik sou lei tot die aanpassing van Einstein se spesiale relatiwiteitsteorie om ‘n algemene relatiwiteitsteorie daar te stel. Minkowski se beroemde inleidende woorde was:

"Die sienings van ruimte en tyd wat ek vir u gaan uitlê spruit uit die grond van eksperimentele fisika. Daarin is hul krag gesetel. Hulle is radikaal. Voortaan gaan die ruimte opsigself, asook tyd opsigself, daartoe gedoem wees om te vervaag tot yl skaduwees, en slegs ‘n soort samekoms van die twee gaan enige onafhanklike werklikheid hê."

Dit is waarskynlik nie toevallig dat meer en meer wetenskaplikes, waaronder wiskundiges en fisici hul deesdae na die finansiële markte wend om daar betrokke te raak by komplekse rentekoers- en risikoberekenings nie. Terwyl die sogenaamde "nuwe ekonomie" - sommige sou dit à la Baudrillard die virtuele ekonomie noem - hom besig hou met die ontwikkeling van programmatuur, netwerke en die internet, is dit in die finansiële markte waar die "waarde" wat met hierdie aktiwiteite geassosieer word, gerealiseer word. Die einddoel van die skep van ‘n maatskappy of onderneming is die notering en kapitale wins wat met so ‘n notering behaal mag word. Op ‘n manier staan die kuberruimte en die finansiële markte in simbiose, want terwyl eergenoemde nie sou kon ontwikkel sonder die kapitaal wat deur laasgenoemde gemobiliseer word nie, ontvang die markte ook ‘n geweldige toename in aktiwiteit via virtuele verhandeling en die skep van ‘n globale mark van individuele handelaars. Een betekenis van globalisering is beslis die integrasie van alle individue met ‘n rekenaar en internetverbinding binne ‘n kultuur van finansiële spekulasie wat oorheers word deur die Amerikaanse beurse en in die besonder die NASDAQ-indeks.

Om te begryp wat tans op die NASDAQ gebeur, het ons ‘n begrip van tydruimte nodig; vandaar my verwysing na Minkowski. Jacques Derrida het nie te lank gelede nie in ‘n ander konteks, in sy ontleding van die "spektrale" of "spookagtige" na Hamlet se bekende woorde verwys, "time is out of joint". In die finansiële markte vandag kan ons dieselfde sê: tyd is uit sy gewrig. Gebaseer op ‘n geloof in die toekoms, die sogenaamde "irrational exuberance" waarvan die Goewerneur van die Amerikaanse Federale Reserwe, mnr. Alan Greenspan, gepraat het, word die toekoms of dan "toekomstige verdienste" toenemend nader na ons toe gebring by wyse van ‘n kapitalisasie in die hede.

Daarom moet ons nou die volgende sê: globalisering behels nie net, in Deleuziaanse terme, ‘n geografiese deterritorialisering nie, maar ook ‘n tydruimtelike. Tydens geografiese deterritorialisering word verskillende streke op aarde dermate verbind met behulp van kommunikasietegnologie dat omtrent alle ekonomiese aktiwiteit transnasionaal of dan globaal word. Ondernemings arbitreer konstant tussen die koste van arbeid of kapitaal, asook fiskale en ander faktore, ten einde in verskillende jurisdiksies te vervaardig of te bemark. Op sy eenvoudigste gaan ‘n onderneming in die land met die laagste arbeids- en vaste kostes vervaardig en in die land met die rykste en mees handelsmerkbewuste verbruikers sy goedere bemark. Natuurlik is dit ‘n oorvereenvoudiging, want via die internet word virtuele produkte bemark wat globaal totstandkom en globaal bemark word. Hierdie geografiese globalisering wat die opheffing van landsgrense meebring, het egter ‘n eweknie in tydruimtelike globalisering waar Hamlet se spreuk relevant is. Die nasionale mens met sy nasionale of etniese kultuur wat vir melennia geanker was in ‘n sekere grondgebied, raak so opgewonde (of begeesterd in die sin van die "Begeisterung" waarvan Heidegger praat) oor sy nuutgevonde "globale identiteit" dat hy ook sy eenvoudige konsepsie van tydruimte oorboord gooi. Onderliggend aan die Westerse eskatologie is immers ‘n taamlik liniêre begrip van tydruimte. Tydens tydruimtelike globalisering raak die toekoms los uit sy gewrig en vloei dit na die hede. Dit skep dan die toestand wat Heidegger ná Nietzsche "das irdische Glück der Meisten" noem, oftewel die paradys op aarde.

Indien ons Heidegger se onderskeid tussen "berekende denke" en "besinnende denke" waarna hierbo verwys is, onthou, is dit sekerlik ‘n groot ironie dat "berekende denke" in die vorm van die wiskunde en die fisika nou besig is om vir ons ‘n werklikheid te skep wat meer en meer neig na die bosintuiglike. Nie net is die kuberruimte in ‘n sekere sin die hiernamaals van die eietydse mens nie, maar die wiskundige verdiskontering van toekomstige waarde na huidige waarde effektueer hierdie "naderbring" van die hiernamaals. Ons kan die "irrasionele geesdrif" waarvan Alan Greenspan praat, verduidelik met verwysing na die geesdrif of entoesiasme in die Weserse kultuur wat terug te voer is na die misteriegodsdienste van Antieke Griekeland; dit illustreer die kwasi-religieuse ywer van belegging in die tegnologiesektor. Maar ons het steeds ‘n ietwat logiese probleem: waar kom al hierdie waarde vandaan? Want die tydwaarde van geld raak net hoogs vermenigvuldigbaar as die risikovrye rentekoers na nul neig, en ons weet dat dit nie so dikwels die geval is nie.

Deleuze en Guattarí se verduideliking van die uitswelproses van kapitaal is hoogs vindingryk, selfs speels, en kan moontlik die logika verskaf in terme waarvan die eksponensiële groei van waarde tydens globalisering verstaan kan word. Dit is belangrik om te begryp dat hierdie "waarde" nêrens geproduseer word nie; die styging van die NASDAQ kan ook nie verduidelik word aan die hand van de toevloei van kapitaal of likiditeit op die beurs nie, want vir elke een miljard dollar wat beleggers in aandele stort, styg die kapitalisasie gewoonlik met twintig miljard of selfs meer. Daar is iets "wonderbaarliks" aan die sogenaamde toevoeging van waarde. Deleuze en Guattarí se tipering van die "wonderbaarlikheid" van kapitaal is terug te voer na Marx se bespreking van produksie waar dit wil voorkom asof produksie uit kapitaal spruit en nie vanuit die meerwaarde wat deur werkers geproduseer word nie. Maar natuurlik is dit ‘n klassieke en amper naïewe siening. Die grootskaalse "deterritorialisering" om nou die Deleuziaanse term te gebruik, skep die "liggaam-sonder-organe" wat eenvoudig uitswel:

"C’est de lui que Marx dit: il n’est pas le produit du travail, mais il apparaît comme son présupposé naturel ou divin. Il ne se contente pas en effet de s’opposer aux forces productives elles-mêmes. Il se rabat sur toute la production, constitue une surface où se distribue les forces et les agents de production, si bien qui’il s’approprie le surproduit et s’attribue l’ensemble et les parties du procès qui semblent maintenant émaner de lui comme d’une quasi-cause. Forces et agents deviennent sa puissance sous une forme miraculeuse, ils semble miraculés par lui. Bref le socius comme corps plein forme une surface où toute la production s’enregistre et semble émaner de la surface d’enregistrement. La société construit son propre délire en enregistrant le processus de production; mais ce n’est pas un délire de la conscience, ou plutôt la fausse conscience est vraie conscience d’un faux mouvement, vraie perception d’un mouvement objectif apparent, vraie perception du mouvement qui se produit sur la surface d’enregistrement. Le capital est bien le corps sans organes du capitaliste, ou plutôt de l’être capitaliste. Mais comme tel, il n’est pas seulement substance fluide et pétrifiée de l’argent, il va donner à la stérilité de l’argent la forme sous laquelle celui-ci produit de l’argent. Il produit la plus-value, comme le corps sans organes se reproduit lui-même, bourgeonne et s’étend jusqu’aux bornes de l’univers."

[Dit is waaroor Marx sê: dit is nie die produk van arbeid nie, maar dit kom na vore as sy natuurlike of goddelike voorveronderstelling. Dit is nie tevrede om teenoor die produksiekragte te staan nie. Dit vou terug op die gehele produksie, konstitueer ‘n oppervlak vanwaar die produksiekragte en -agente versprei word, in so ‘n mate dat dit die oorproduksie toeëien en die ensemble van dele van die proses aan sigself toeskryf wat nou lyk asof dit daaruit voorkom soos vanuit ‘n kwasi-oorsaak. Kragte en agente word sy mag in ‘n wonderbaarlike vorm, hulle kom voor asof hulle deur hom gemirakuleur word. Kortom, die socius as volle of geswolle liggaam vorm die oppervlak waarop produksie geregistreer word, wat dit laat lyk asof produksie vanuit die registrasieoppervlak voortvloei. Die maatskappy konstrueer sy eie delirium deur die produksieproses te registreer of op te teken; dog dit is nie ‘n delirium van die bewussyn nie, of liewer die valse bewussyn is ‘n ware bewussyn van ‘n valse beweging; ware persepsie van ‘n oënskynlik objektiewe beweging, ware persepsie van ‘n beweging wat op die registrasieoppervlak geproduseer word. Kapitaal is wel die liggaam-sonder-organe van die kapitalis, of eerder van die kapitalistiese syn. Maar as sodanig is dit nie net die vloeibare en dooie substansie van geld nie; kapitaal gaan ook aan die steriliteit van geld die vorm gee waarmee dit geld produseer. Dit produseer meerwaarde, soos die liggaam-sonder-organe sigself reproduseer, bot en uitbrei tot aan die uiteindes van die heelal.]

Deleuze en Guattarí se denke neem die vloei as uitgangspunt, die vloei van begeerte tydens begeerteproduksie, maar ook die vloei van kapitaal en arbeid tydens dit wat hulle "maatskaplike produksie" noem. Ook met betrekking tot globalisering kom ons ‘n reeks vloeiinge teë op ‘n skaal soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie; daarom kom hul denke uit die vroeë sewentigerjare vandag vir ons só handig te pas. Die punt om te begryp is dat die proses van deterritorialisering, d.i. persoonlike en sosiale identiteite wat al hoe verder verwyder raak van die "grondgebied" waarin hulle geanker was, die vloeiinge vrystel. Uiteindelik laat die deterritorialisering of "dekodering" - ‘n sinoniem wat hulle soms daarvoor gebruik - wat al hoe verder gevoer word, ‘n anti-produktiewe liggaam-sonder-organe ontstaan waarop die proses geregistreer of opgeteken word. Die aktiewe prosesse en vloeiinge ontkom in sigself aan enige registrasie of optekening; en dit is slegs as hulle tydens ‘n anti-produktiewe oomblik geregistreer word dat hulle wel aan bod kom. Die liggaam-sonder-organe het dus in sy maatskaplike dimensie regstreeks te make met dit wat op die kapitaalmarkte gebeur (ek gebruik hier die term in sy internasionale sin, en nie die plaaslike waar dit as sinoniem vir effektemark aangewend word nie). Die "wonderbaarlike" dimensie van kapitaal wat eenvoudig uitbrei tot aan die uiteindes van die heelal is gekoppel aan hierdie anti-produktiewe element wat eenvoudig alle vloeiinge, van produksie, van kapitaal en in ons tyd van inligting, op homself konsentreer.

‘n Anekdote wat ‘n mens ter illustrasie van hierdie fenomeen kan byvoeg, is die opmerking van die legendariese Amerikaanse belegger, Warren Buffett, wat beweer het dat fondsbestuur 5% van die jaarlikse winste van die S & P 500-maatskappye opslurp, en as’t ware daarop parasiteer. Die hele finansiële dienstesektor kan waarskynlik as ‘n anti-produksie gesien word, want dit spreek vanself dat sirkulasie van fondse en van geld, kommissies, fooie, ens., opsigself niks produseer nie, maar slegs teer op ‘n produksieproses wat iewers, waarskynlik in China en elders, plaasvind. Tydens die tagtigerjare was daar groot kommer in die VSA oor die verval van die nywerheidsektor en die vervanging daarvan deur die dienstesektor. Tans bestaan 77% van die Amerikaanse ekonomie uit dienste en slegs ‘n baie klein gedeelte uit vervaardiging of "produksie" in die sin waarin Marx of sy tydgenote dit sou gebruik het. Kan die Amerikaanse ekonomie wat 30% van wêreld-BNP uitmaak, dus as ‘n groot liggaam-sonder-organe beskryf word?

In ‘n relatiwistiese wêreld van swewende geldeenhede en die vryvloei van kapitaal is selfs die berekening van BNP myns insiens problematies, want relatiewe BNP word bereken in terme van geldeenhede soos die dollar waarvan die waarde op die valutamark bepaal word. Die vraag is nou: indien die dollar met die helfte sou daal teen die Euro en die jen, sou Amerika se aandeel aan wêreld-BNP terugsak tot 15%? Feit is dat die VSA dit regkry om in weerwil van ‘n konstante handelstekort van ongeveer 3% van BNP die wêreld se kapitaalvloei na homself aan te trek soos geen ander land ter wêreld nie. Pleks daarvan dat globalisering dus lei tot ‘n eweredige verspreiding van kapitaal oor die hele wêreld, word dit in een land gekonsentreer.

Samehangend met Deleuze en Guattarí se begrip "deterritorialisering", is daar ‘n ander konsep wat "reterritorialisering" genoem word. Dit is ietwat moeilik om die verhouding van die twee tot mekaar te omskryf, want dit gaan geensins om ‘n antitese van die Hegeliaanse tipe nie. Eerder is beide deterritorialisering en reterritorialisering deel van dieselfde moment en dieselfde proses. Gedagtig aan Deleuze se ontledings van Nietszche, kan ‘n mens dalk sekere van sy opmerkings aangaande kragte en die kwaliteit van kragte daarby betrek. Trouens, sekere kritici, soos byvoorbeeld Descombes, het al gewys op die Nietzscheaanse aard van al Deleuze se konsepte. Iets soos begeerte kan dus gesien word as ‘n ietwat psigoanalitiese heromskrywing van Nietzsche se "wil-tot-mag". Reterritorialisering kan geïnterpreteer word as deel van dieselfde beweging as die deterritorialisering, maar dan as kwalitatief anders. Na my mening is daar iets argaïes, reaktief en reaksionêr aan reterritorialisering. Dit is ‘n byna oortollige proses waardeur teruggeneig word na ‘n vervloeë identiteit of samehang wat reeds vernietig is en uiteengeval het as gevolg van deterritorialisering. Terwyl deterritorialisering die nasiestaat of volkstaat ondermyn en afbreek en daarom lei tot globalisering, kom dit as’t ware weer by die agterdeur in by wyse van reterritorialisering.

In die geval van die Amerikaanse ekonomie en globalisering, sien ons dus nou dat die vryvloei van kapitaal neig tot die konsentrasie daarvan in die wêreld se grootste ekonomie en enigste supermoondheid. Ten spyte van wat die ekonome sê, is daar steeds ‘n element wat nie vreemd is aan Von Clausewitz se denke nie, naamlik dat militêre oorheersing opsigself ekonomiese oorheersing waarborg. Die funksie van die Amerikaanse weermag is egter nie meer om Amerikaanse grondgebied te beskerm nie, maar wel Amerikaanse outeursreg. Indien ‘n maatskappy soos Microsoft môre sy kopiereg op sy produkte sou verloor, sou die hele Amerikaanse ekonomie in duie stort saam met die NASDAQ, en dit sou lei tot ‘n tweede Groot Depressie. Intellektuele kapitaal, wat eie is aan die inligtingsrevolusie, is ook virtueel en daarom hoogs mobiel en kopieerbaar. Dit is interessant dat Microsoft dit blykbaar nie regkry om sy kopiereg in China afgedwing te kry nie. In terme van volume, is die Chinese ekonomie waarskynlik reeds groter as die Amerikaanse, maar in terme van waardasie natuurlik veel kleiner.

In ‘n sekere sin was die anargiste van Seattle waarskynlik nie ver verkeerd nie, want globalisering, eerder as wat dit ‘n diversiteit van vloeiinge meebring wat as’t ware "risomaties" versprei, om nou nog ‘n Deleuze/Guattarí-term te gebruik, neig inderdaad na ‘n "groot volkstaat" wat mens ‘n "groter Amerika" sou kon noem. Die monokultuur wat ons met globalisering assosieer, is dus niks minder as die reterritorialisering, die hergroepering en homogenisering van die chaos van vloeiinge van kapitaal, kultuur, inligting, mense en goedere nie. In die plek van die outydse volkstaat kom daar handelsblokke soos die Europese Unie, NAFTA, of ASEAN, en ‘n supranasionalisme wat vanuit groter eenhede gevoer word. Myns insiens is dit interessant dat die vernaamste struikelblokke tussen Suid-Afrika en die EU tydens die handelsamesprekinge onlangs gegaan het oor terminologie, die gebruik van woorde soos "port", "sjerrie" en "grappa". In ‘n sekere sin gaan die supranasionale mag oor die monopolie op woorde, terme, programmatuurkodes, patente en handelsmerke waarin waarde opgesluit is. Produksie opsigself het eintlik geen waarde nie, want enigiemand kan dit doen. In ‘n sekere sin het produksie ewe primitief geword as jag-en-versameling of bestaansboerdery. Waardetoevoeging geskied via hierdie linguïstiese kodering en dit is die terrein waarop die stryd gevoer word. Die kuberruimte self word oorheers deur enkele groot name wat te midde van tienmiljoen tuisblaaie die stroom van koppelings moet kanaliseer. Dit is waarom Yahoo twee of drie keer soveel werd is as Boeing: in een handelsmerk is ‘n ontsettende waarde opgesluit, groter as enigiets wat duisende ingenieurs en werkers kan produseer. Yahoo of Amazon.com is die liggame-sonder-organe van die internet; nie net trek hulle die "hits" of trefslae van die internetgebruikers nie, maar ook die kapitaal van oor die hele aardbol aan. En wonderbaarlik laat hulle die toekoms, die hiernamaals in die hede kapitaliseer op ‘n manier wat selfs God dit hulle nie sou kon nadoen nie. Die kuberruimte as sodanig is natuurlik, veral as ‘n mens na die aktiwiteit van die NASDAQ-handelaars kyk, ‘n soort hiernamaals wat veel beter, veel idealer is as die sintuiglike wêreld waarin ons leef. Die mate waartoe ons as biologiese wesens ook besig is om gedeterritorialiseer te word deur die masjinale aktiwiteit van ons elektroniese troeteldiere is ‘n ope vraag.

Lyotard het in sy formulering van die postmodernisme gesê dat die tegnologieë wat postmodernisering dryf, wel talig van aard is. Maar hiermee het hy masjientale en programmatuurtale bedoel. In ‘n geglobaliseerde wêreld waar grondgebied iets argaïes geword het wat eintlik waardeloos is - ‘n mens hoef maar net te kyk hoe landbougrond in reële terme in baie lande, soos in Suid-Afrika en in Europa in waarde afgeneem het, om dit te besef - is natuurlike taal die enigste oorblywende lokus van menslike identiteit en diversiteit. Weer eens is die proses van deterritorialisering-reterritorialisering sterk aan die werk om een homogene wêreldtaal te skep, ‘n soort semantiese en kulturele liggaam-sonder-organe, wat toevallig ook die nasionale taal van die Verenigde State is. Kulturele diversiteit staan in die pad van die vryvloei van inligting en verhoed dus in ‘n mate die verdere groei en uitswel van die liggaam-sonder-organe waarop die inligtingstroom geterritorialiseer behoort te word. Die bestaan van nasionale voedselkulture kortwiek ook die verspreiding van sogenaamde geneties-veranderde voedselsoorte, met ander woorde kosse waarop een of ander genoteerde biotegnologiese maatskappy ‘n kopiereg besit. Weerstand hierteen, asook teen hormoonbehandelde diervleis, word reeds onder die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie as ongeoorloofde proteksionisme afgemaak.

In Suid-Afrika is daar diegene wat die bestaan van heterogene kultuurtradisies eweneens sien as hindernisse op die pad na vooruitgang, na "aardse geluk vir die meeste" soos Heidegger dit stel. Trouens, die noodsaaklikheid om te globaliseer word dikwels genoem as die amptelike neiging tot eentaligheid bevraagteken word. Deterritorialisering is egter iets wat eerder onwillekeurig as willekeurig gebeur, en daarom kan ‘n mens net glimlag oor hierdie poging om op te gaan in ‘n groter wêreld daarbuite. Veel eerder gaan dit hier om ‘n vorm reterritorialisering waar ‘n sekere kleinlike en verarmde Engelse etnisiteit en wat territoriaal beperk is tot die Noordelike Voorstede van Johannesburg, Constantia en ander dele van Kaapstad, asook gebiede in Natal, aan ons gebied word as "globale identiteit". Hierdie klein nasionalisme wat veronderstel is om die Suid-Afrikaanse volkstaat te midde van globale deterritorialisering te bewaar, kan nie anders as om te faal nie.

In ‘n meer humoristiese oomblik beweer Deleuze en Guattarí dat die kapitalisme, omdat dit in wese skisofrenies is, synde gedurig besig om te dekodeer, uit te rafel en die samehang te vernietig, skisofrene produseer soos Timotei-sjampoe of Renault-motors, "met die verskil dat mens hulle nie kan verkoop nie." ‘n Verdere vraag wat hulle stel is, "Waarom word hierdie malles opgesluit, pleks daarvan om hulle as helde voor te stel, die voltrekking van [die neigings van die maatskappy] self?"

Hierdie opmerking oor skisofrene is vandag waarskynlik ewe seer van toepassing op die nie-globale mens, die nie-Amerikaner wat steeds sy eie kookkuns wil beoefen en sy eie taal wil praat. Hy is ‘n malmens, iemand wat stroomop is. Maar dit sou verkeerd wees om hom as konserwatief en aan die kant van nasionalistiese reterritorialisering te sien. Veel eerder is hy die vyand van reterritorialisering, en inkarneer hy die nomadiese waardes van diegene wat Deleuze by ‘n ander geleentheid as "die regte Nietzscheane" beskryf het. Sy of hy is die een wat in globalisering die geleentheid sien om die volkstaat, selfs die globale of supranasionale volkstaat te laat verbrokkel en ‘n nuwe partikuliere energie vry te stel. Die skisorewolusionêr tree op in die naam van sy eie begeerte, sy eie libido; soos dit gestel word, staan hy die "die mees uitgerbreide gebruik van masjiene deur die grootste aantal mense voor, die vermenigvuldiging van klein masjientjies en die aanpassing van die groot masjiene vir klein eenhede, die eksklusiewe verkoop van masjinale elemente wat deur die gebruiker-produsente self aanmekaar gesit moet word, asook die vernietiging van kennisspesialisering en van professionele monopolie."

As ons hierdie gedagte moet stroop van die masjinale taal wat hier gebruik word, en dit op ons situasie van toepassing maak, dan sou dit inderdaad beteken dat ons globalisering in Nietzscheaanse terme moet beja en verder behoort te voer as wat tans gedoen word. Ons behoort die kuberruimte en die vrygestelde vloei van inligting en kapitaal aan te wend in belang van die klein eenheid, téén die globale, téén die liggaam-sonder-organe, en sodoende ‘n bevrydende en libidinale minderheidspolitiek te voer. Dit is dan die ongeloof in Baäl.

7. Deleuze/Guattarí, op. Cit., bl. 292.

8. Op. Cit., bl. 479.

Boontoe