chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Jaap Marais se spook

Dan Roodt

Aan komplimente ontbreek dit my deesdae nie. As Izak de Villiers by die Akademie se jaarvergadering op Potchefstroom nie sê dat ek die Hertzogprys vir Moltrein verdien nie, beskryf iemand met die volkseie naam Ossewania op LitNet my as "'n regse met 'n brein".

Die teenoorgestelde hiervan is seker 'n "linkse sonder 'n brein". Hieraan het ons natuurlik in Suid-Afrika 'n taamlike oorvloed, in die vorm van SASCO, die ANC-jeugbeweging, Christie van der Westhuizen (eks-Beeld, nou ThisDay), Gerrit Brand, Jeremy Cronin et al, wat elkeen nog op een of ander manier sosialisme, Afro-sosialisme, ware gelykheid tussen klasse en rasse, bepleit.

Soos ek Vrydagaand 30 Julie 2004 by die Filosofiekafee gesê het, het ek op een stadium in my lewe gedink ek is links, maar dit nou gelukkig ontgroei want ek sien dat die linkse beweging van die Franse Revolusie af, verby Marx, Engels, Lenin en die Russiese Revolusie, eintlik nou 360 grade gevorder het en besig is om terug te keer na die vroeë Christendom en morele fanatisme. Die boek wat dit vir my die beste geïllustreer het, was Hardt en Negri se Empire waar hulle reg aan die einde beweer dat "die ware kommunisme dié van Sint Fransiskus van Assisi" is, wat gegrond is op medelye met die armes.

Diegene wat iets weet van die vroeë Christendom, voordat dié leer bevrug is met Plato deur Sint Augustinus en later met Aristoteles deur Thomas Aquinas, was dit 'n fanatiese sekte wat beelde en ander kunswerke afgebreek het en vyandig gestaan het teenoor die Romeinse Ryk, asook enige vorm van sekulêre regering, min of meer soos Islam vandag. Geen wonder hulle is dikwels deur die keisers, soos veral natuurlik Nero, vir die leeus gevoer nie.

Al wat oorgebly het van linkse denke, is dus die pre-rasionele wêreld vóór die Middeleeue, Renaissance en die Verligting. Dit is geen toeval dat mense ook daarna verwys as die "primitiewe Christene" nie, want hulle was primitief in hul uitkyk, optrede en geloof. Net soos vele linkses vandag wat geheel en al die intellektuele tradisie van negentiende-eeuse sosialisme vaarwel gesê het en hulself slegs herken in morele suiwerheid, onderdanigheid, medelye, liefdadigheid en vrygewigheid teenoor die universele mens.

Selfs Karl Marx sou vandag as 'n regse gereken word, want benewens sy taamlik vergesogte idees oor wêreldrevolusie en die onafwendbaarheid van kommunisme, was hy tog iemand wat iewers nog politiek en strategies gedink het, anders as vandag se linkses wat 'n soort Heilsleërideologie aanhang.

Al verskil ek in sekere opsigte van hulle, voel ek my daarom tuis in die geselskap van gereformeerde Christene, nasionaliste, republikeine, konserwatiewes en ander wat geredelik as "regs" gereken sou word. Ten minste is hierdie mense nog, elkeen op sy eie manier, in kontak met die werklikheid en het hulle nie die afgelope tweeduisend jaar van beskawing van hulle afgewerp om te droom van 'n terugkeer na primitiewe samesyn nie. Iewers sê Nietzsche ook dat kommunisme die mees primitiewe ideologie verteenwoordig, juis omdat dit die terugkeer na 'n pre-moderne vorm van maatskaplike organisasie voorstaan. Hier by ons bepleit die Afrika-renaissance natuurlik by uitstek die "terugkeer na die oorsprong" van die ongeskonde Afrika wat vasgevang was iewers in die laat steentydperk en vroeë ystertydperk. Toe was die wêreld 'n beter plek, voordat dit bederf is deur wetenskap, filosofie en ander vorme van "regse" denke wat hoofsaaklik deur gehate blanke mans geproduseer is en sedertdien die mensdom "verslaaf" of "bederf" het.

Een van die uitstaande voorbeelde van "'n regse met 'n brein" was natuurlik Hendrik Verwoerd. Maar kom ons vergeet vir 'n oomblik van ideologie en moraliteit en al die ander kwessies wat "primitiewe linkses" daagliks aan ons opdring, en werp eenvoudig 'n strategiese blik op die Afrikaner se posisie en hoe dit sedert 1966 versleg het. Mense kan vir George W. Bush as 'n Hitler beskryf en Michael Moore kan nog tien films oor hom maak, maar feit is dat hy nog steeds Amerika regeer, 'n land wat allerweë as 'n "hipermoondheid" beskryf word en in terme van militêre en ekonomiese mag enigiets oortref wat die wêreld nog ooit gesien het. Iewers het 'n paar Amerikaanse leiers dus iets reg gedoen. Tensy jy natuurlik 'n primitiewe linkse is wat wil beweer dat die gemiddelde inwoner van Mosambiek wat geneig is om op enige vorm van voedsel wat hy teëkom af te storm asof hy nie weer 'n kans gaan kry om te eet nie,  as beter daaraan toe beskou as die gemiddelde Amerikaner.

Sedert ek 'n weeklikse rubriek in Die Afrikaner skryf, gebeur dit soms dat iemand by die HNP-kantoor in Hatfield, Pretoria, vir my 'n traktaatjie of publikasie van Jaap Marais in die hand stop. Synde 'n literêre omnivoor, verwelkom ek enige semi-interessante leesstof. Hier en daar kom Jaap Marais my effens dogmaties en oudmodies voor, maar dikwels kry ek dieselfde gevoel as wat Ossewania oor my kry, naamlik dat ek hom "kopknikkend indien nie instemmend lees nie". Stel dit só, 'n veertien-jaaroue boekie deur Jaap Marais soos Afrikanernasionalisme en die nuwe Suid-Afrika, gee jou baie meer perspektief op ons situasie as enigeen van die primitief-linkse rubriekskrywers in Beeld of Rapport wat net so min van die politiek of die geskiedenis verstaan as jou strykbediende.

Vergeet nou vir 'n oomblik van die ideologiese debatskompetisie, apartheid, links/regs, demokrasie, wie nou eintlik die beste argument het of moreel geregverdig is. Ossewania op LitNet praat van "realpolitik" en as ons daaronder die strategiese posisie van die Afrikaner verstaan, dan hoef ons nou maar net die feite in die oë te kyk. Vergelyk nou ons situasie in 1966, kort voor Verwoerd se dood, met die huidige.

1966

Die Afrikaner beheer Suid-Afrika en Suidwes-Afrika (die teenswoordige Namibië), 'n stuk grondgebied wat min of meer so groot is soos die hele Wes-Europa. Daar is volle indiensneming in Suid-Afrika, d.w.s. werkloosheid naby aan nul vir alle inwoners. Die ekonomie groei teen 8-10% per jaar. Inflasie is 2% en die prima-uitleenkoers 3%. Die Nasionale Party het so pas die opposisie tydens die verkiesing vermorsel. Die buite-parlementêre opposisie wat hom op gewelddadige revolusie met die steun van die Sowjet-Unie beroep, by name die ANC en SAKP, se leiers is so pas tydens die Rivoniaverhoor tot lang tronkstrawwe gevonnis. Die ekonomiese voorspoed stel die SA regering in staat om met 'n militêre magsopbou te begin wat die potensiaal het om van die land 'n supermoondheid te maak, in die liga van Frankryk of Engeland.

Kyk weer na die kaart in 1966. Daar is vyandige Afrikastate ten noorde van die land wat moontlik met die Afrikaner se vyande sou saamwerk om hom uit die saal te lig. Maar tussen hulle en ons is daar 'n reeks bufferstate wat die land simpatiek gesind is: Angola, Botswana, Rhodesië en Mosambiek.

Dog daar was een vlieg in die salf: die Wêreldhofsaak teen Suid-Afrika oor Suidwes. Liberië van alle lande het dit teen ons aanhangig gemaak op grond daarvan dat die apartheidsbeleid teen die menseregte van die swart inwoners van Suidwes ingedruis het. Indien Suid-Afrika dit sou verloor, sou sy verplig wees om dié land af te staan, wat die cordon sanitaire rondom ons in gevaar kon stel en dalk 'n vyandige groep soos dié van SWAPO, gerugsteun deur die Oosbloklande, aan bewind kon stel. Twee jaar lank werk die Afrikanertjies dag en nag soos besetenes aan dié hofsaak. Dit word beskou as lewensbelangrik, amper net so belangrik soos 'n Springbokrugbywedstryd vandag. Almal verwag dat hulle gaan verloor... maar, die ongelooflike gebeur: hulle wen! Hoera! Die Afrikaner se toekoms is verseker. Oor 300 jaar was hy nog nooit so sterk soos in 1966 nie. Rekordgetalle Afrikaanse boeke word gedruk en uitgegee, daar is 'n Sestigerbeweging, daar word operas opgevoer, mense is gelukkig en tevrede. Trouens, die giftigste opposisiekoerant teen die regering, die Rand Daily Mail, skryf in 'n hoofartikel dat Suid-Afrika onder Verwoerd ly aan "'n satheid aan voorspoed" (a surfeit of prosperity).

In die vyftigerjare het G.A. Watermeyer 'n gedig gepubliseer met die titel, "Die republiek van 'n duisend jaar". Onder Verwoerd moes vele mense daaraan geglo het. Ná meer as twee eeue van stryd het die Afrikaner uiteindelik geseëvier in dié land waarvoor C.J. Langenhoven sy Stem geskryf het: "Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika."

Kom ons jukstaponeer nou, soos hulle sê, 1966 met 2004, 'n skamele veertig jaar later.

2004 

Die Afrikaner beheer geen grondgebied meer nie, behalwe miskien Orania. Maar selfs Orania bestaan net danksy die grasie van die ANC-regering, want hy sukkel selfs om eie munisipale status te bekom. Plek-plek bestaan daar nog 'n kleinerige plattelandse munisipaliteit of 'n ommuurde woonbuurt in die voostede wat deur Afrikaners beheer word, maar dit is al. Sy politieke en militêre mag van veertig jaar gelede is so te sê geheel en al verwoes. Ook op ekonomiese gebied het hy geweldig agteruitgegaan en al die semi-staatsinstellings wat hy beheer het, is aan die nuwe maghebbers oorhandig. Sonder om 'n skoot te skiet, by wyse van spreke. So pas is daar 'n sogenaamde "grondhervormingsprogram" aangekondig wat Afrikanerboere van hul plase, die laaste vesting van Afrikaneraanspraak op die land, gaan afstoot. Binne tien jaar moet 50% van alle plase aan swartes behoort. Afhangend van watter 50%, gaan dit die einde van 'n groot deel van die tradisionele Boerekultuur beteken en die Afrikaner nog verder ontmagtig as wat hy reeds is. Soos Kader Asmal gesê het, "daar bestaan nie meer so iets soos 'n Afrikaanse universiteit nie". Rassewetgewing bepaal dat maatskappye, om van die staatsdiens nie eens te praat nie, nie blankes in diens mag neem nie, sodat honderdduisende jong afgestudeerde Afrikaners so te sê in ballingskap in Londen sit. Soos alle gasarbeiders verrig hulle take waarvoor inheemse Britte nie kans sien nie: konstruksiewerk, skottelgoedwas in restaurante, veiligheidswagte en uitsmyters by nagklubs.

Daar bestaan meningsverskil hieroor, maar niemand sou kategories kon ontken dat Afrikaners vandag stelselmatig van hul instellings, hul taal, identiteit, ekonomiese posisie en bates vervreem word nie. 'n Mens sou baie ver in die geskiedenis moes teruggaan, selfs verder as 1902, om hulle in 'n ewe swak en onsekere posisie te vind, want ten minste het die Boere nog in 1902 kaart en transport vir hul plase behou en was daar nie regstellende aksie nie. Sekerlik was hulle veel armer as nou, maar daar was nog hoop dat hulle eendag weer sou kon opstaan, soos hulle immers gedoen het.

Byna daagliks of ten minste weekliks word daar in Afrikaanse koerante twee dinge met groot beslistheid beweer: ten eerste, dat die Afrikaner "nooit weer Suid-Afrika sal regeer nie" en, ten tweede - wat veel erger is omdat dit hom 'n reg ontsê wat in die Universele Verklaring van Menseregte beliggaam is - dat hy "nooit weer homself sal regeer nie".

Miskien berus die meeste Afrikaners hierin; ek weet nie. Veral word hulle elke dag vanuit Rapport, Beeld, Die Burger, op die skoolbanke en in die lesingsale, op die kassie en vanaf die kansel vertel dat hulle hierin behóórt te berus, maar dit is nie die eintlike punt nie.

Die enigste ding wat ek probeer verstaan, is hoe dit gebeur het dat hierdie duiselingwekkende daling van oënskynlik onaantasbare soewereiniteit, mag en vooruitstrewendheid, wat ons ook al destyds van Verwoerd mog gedink het, na feitlik absolute ondergeskiktheid en magteloosheid plaasgevind het. Noem dit dan maar die "realpolitieke vraag": hoe het ons so vinnig en so ver geval? Vir enige politieke wetenskaplike moet dit insgelyks 'n fassinerende studieveld verteenwoordig, want afgesien van die Franse of Russiese Revolusies, asook 'n paar ander, is ek nie bewus van so 'n radikale ommeswaai in die lot van 'n groep of klas of volk soos dit wat Afrikaners oor die afgelope veertig jaar deurgemaak het nie.

Aan die uiterste regterkant van die politieke spektrum, wat vir my nou aansluit by die ekstreem-linkse pool daarvan, bestaan daar mense wat beweer dat dit God se wil was. Goddelike ingryping. Punt. Ons het Sondagsport en voorhuwelikse seks beoefen, en toe straf die Here ons soos 'n Israel van ouds deur ons land van ons af weg te neem. Nodeloos om te sê, en met alle respek aan diegene wat hieraan glo, aanvaar ek nie hierdie verklaring nie.

Die ander verklaring, en ek vermoed dit is die een waaraan die meeste Naspers-redakteurs en -joernaliste glo, is: dit móés gebeur of dit was onafwendbaar. Weereens stel hierdie analise my nie tevrede nie, want behalwe swaartekrag of die dood, is daar min dinge wat onafwendbaar en voorbeskik is. Amper vergeet ek: die linkses, meer spesifiek die Marxiste, glo in die historiese onafwendbaarheid van die kommunisme se koms, maar selfs dit is in 1989 verkeerd bewys. Tensy Tim du Plessis, Peet Kruger en Arrie Rossouw al drie ongerehabiliteerde Marxiste-Leniniste is (wat sekerlik heeltemal moontlik is want in die huidige Suid-Afrika is enigiets moontlik), is hierdie antwoord wat elke dag aan ons verkondig word, ook nie juis nie.

Ossewania praat nou van die "demografie-ontkenners", asof demografie die allesbepalende faktor in die politiek sou wees. Amerika oorheers die wêreld met 4% van sy bevolking, terwyl ons darem 6,5% van Suid-Afrika s'n verteenwoordig. Saam met die Engelse blankes is ons 10%. Een van die ANC - bid jou dit aan - se voorstelle vir vrede in Burundi was dat die Tutsi's wat iets soos 9% van die bevolking verteenwoordig, 40% van alle parlementêre setels moes kry! Waarom is 9% van die bevolking in Burundi gelykstaande aan 40% van die stemme, terwyl dit in Suid-Afrika nie die geval is nie? Indien internasionale mag deur demografie bepaal word, sou China en Indië mos die wêreld regeer het, en nie Amerika nie. Afrika sou Wes-Europa oorheers het, ens. Ek is bevrees dat Ossewania 'n magsontkenner is, soos die meeste Afrikaanse ekstreem-linkses en ver-regses wat die politiek sien as een of ander kabbala wat vanuit die hemel of vrouens se baarmoeders beheer word.

Het iemand al 'n wetenskaplike analise van die Afrikaner se afgang gemaak? Nie sover ek weet nie. Dit bring my by dit wat Ossewania so 'n bietjie Marxisties "Oom Jaap se spook noem". As sy bekend is met Marx en Engels se manifes, sal sy weet van "die spook van kommunisme wat by Europa goël". Terloops het Jacques Derrida, die Franse filosoof, so 'n paar jaar gelede 'n hele boek oor hierdie spook-kwessie geskryf, met verwysing na Hamlet en wat nog alles, getitel, Spectres de Marx. Maar laat ons nou nie te veel afdwaal nie, want al julle linkses ken julle rooi evangelie en daarom kan ek julle niks vertel wat julle nie reeds weet nie.

Sekerlik gaan dit vele mense onthuts as ek dié bewering maak, maar ek beskou Jaap Marais se Afrikanernasionalisme en die nuwe Suid-Afrika as een van die min politieke ontledings van die Afrikaner se agteruitgang sedert 1966 wat hoegenaamd op wetenskaplikheid kan aanspraak maak. Sekerlik verdedig hy 'n sekere standpunt, dié van onafgewaterde Verwoerdianisme, maar met sy uiteensetting van die reeks ongelooflike strategiese flaters wat die NP ná Verwoerd se dood gemaak het, kan mens nouliks verskil. En hierdie reeks blatante, amper kinderlike foute gaan, by wyse van spreke, nog lank "by ons spook". Telkens as 'n nuwe "handves" vir swart bemagtiging aangekondig word, as nog 'n Afrikaanse skool verengels, as nog 'n dokter of apteker emigreer a.g.v. Manto se wette, as jy langs die pad gekaap of verkrag of vermoor word, dan ervaar jy die spektrale energie van die verlede en die erbarmlike onbevoegdheid van ons vorige leiers.

Een van die redes waarom 'n faksie binne die HNP onlangs gepoog het om 'n hofinterdik teen die voortgesette publikasie van my rubriek in Die Afrikaner te verkry, is omdat hulle gevoel het dat "Oom Jaap dit nie sou toegelaat het nie." Met ander woorde Oom Jaap regeer nog die HNP vanuit die graf, en probeer waak teen diegene wat hy "skynregses" genoem het, 'n term wat genoemde faksie ook op my van toepassing gemaak het.

Dis miskien om myself te beskerm teen die eventuele weerwraak van Oom Jaap se spook dat ek nou hier met hom in dialoog wil tree, danksy Ossewania wat as't ware as spiritistiese medium opgetree het. Ek stel voor dat diegene wat in die grusame besonderhede van die Afrikaner se politieke ondergang belangstel, die HNP se kantoor bel by 012 342 3410 en die boekie van om en by 120 bladsye bestel teen die geringe prys van R25: Marais, Jaap. Afrikanernasionalisme en die nuwe Suid-Afrika. Pretoria: Strydpers, 1990. Onder andere bevat dit 'n TV-debat tussen Wimpie de Klerk, broer van FW de Klerk, en Jaap Marais wat intussen ingeskandeer en op die Praagwerf opgelaai is, ten einde die ooreenkoms tussen ons huidige debat en dié wat in 1985 gevoer is, te illustreer. Soos ek iewers voorheen al gemeld het, verander die geskiedenis teen 'n baie stadige tempo en is daar weinig politieke kwessies onder die son wat nuut is. Ten minste sedert Aristoteles vier regeringsvorme geïdentifiseer het, naamlik aristokrasie, outokrasie, demokrasie en oligargie. Dieselfde kwessies wat De Klerk en Marais in 1985 gedebatteer het, en wat ons voortbestaan en toekoms ten nouste raak, spook nog steeds by ons, in weerwil van die magsomwenteling in die land.

As wetenskaplike ontleding van die ou NP-regering se strategiese foute, verteenwoordig Jaap Marais se Afrikanernasionalisme en die nuwe Suid-Afrika iets van 'n lykrede of, meer presies, 'n sloping. Nou onlangs lees ek van Hadrianus se muur wat die suide van Engeland vir 'n honderd jaar teen noordelike invalle beskerm het terwyl Brittanje onder Romeinse beheer was, een van die beroemde mure in die geskiedenis. Net so moet "Verwoerd se muur" in die vorm van die vier bufferstate (Angola, Botswana, Rhodesië, Mosambiek) wat ons welvarende Westerse land van invalle en demografiese oorstroming uit die onstabiele lande noord van die Zambesi moes beskerm het, gereken word as een van die slimste dinge, geopolitiek gesproke, wat 'n Afrikanerleier nog reggekry het. Veral onder Vorster, die gholfspeler met 'n rooi neus, is Verwoerd se muur stuk vir stuk afgebreek. Lees Jaap Marais se hele boekie, maar die pilare van Afrikanermag wat geval het, was kortliks die volgende:

1. Die ondergang van Rhodesië en die Afrikaner se verraad teen Ian Smith, sekerlik een van ons getrouste bondgenote. Op 25 Maart 1974 belowe Jimmy Kruger, die destydse Minister van Justisie, hy van "laat my koud"-faam, nog hart en siel: "Ons sal die terroriste uitroei. Ons gaan Rhodesië skoonmaak." Een jaar later word dié beleid laat vaar en die SA Polisie onttrek uit daardie land. Maar selfs teen die einde van 1974, op 17 Desember, berig Die Vaderland op sy voorblad: "Die Eerste Minister van Suid-Afrika, mnr. John Vorster, het 'n plan opgestel waardeur 'n Swart meerderheidsregering binne vyf jaar in Rhodesië sal kom." In die lakonieke woorde van Jaap Marais: "Die berig is nooit ontken nie. Die traktaat wat mnr. Ian Smith dus nou onderteken het om Rhodesië onder Swart meerderheidsregering te stel, is uitgewerk in Suid-Afrika." Blykbaar is Smith selfs gedreig met ekonomiese en energie-sanksies indien hy nie sou toegee tot onderhandelings en 'n magsoorgawe aan Mugabe nie... Vandag sit ons in Zimbabwe met die resultaat van Vorster se beleid. 

2. Die val van Angola in 1975. Hierdie was een van die aburdste militêre avonture waarin enige land ter wêreld hom nog ooit begewe het. Soos die meeste mense weet, het ons Weermag op aandrang van die Amerikaners en met hul volle medewete Angola binnegeval toe dit duidelik was dat die MPLA ná die chaos van die Portugese onttrekking die oorhand sou kry, met militêre steun van die Sowjet-Unie, Oos-Duitsland en Kuba. Luanda was so te sê onder beheer van die SAW met die hele hawe gemyn deur ons Spesmagte sodat geen Oos-Europese voorradeskip dit sou kon binnevaar nie. Die logiese stap sou gewees het om eenvoudig 'n simpatieke swart leier soos Savimbi in Luanda aan te stel en 'n satellietstaat van dié land te maak. Sodoende kon dié "baksteen" in Verwoerd se muur behoue gebly het. Maar wat maak die Vorster-regering van destyds? In die eerste instansie word die SA publiek met leuens om die bos gelei en ontken die regering dat ons hoegenaamd in Angola betrokke is! Hierna kom die bevel dat die SAW 'n duisend kilometer ver moet terugtrek tot anderkant die Suidwesgrens. Maar nie voordat hulle elke myn in die hawe van Luanda verwyder het nie. Stel jou dit voor! Ons stel ons soldate se lewens in gevaar sodat ons "ordentlik" kan lyk vir die ou Sowjet-Unie of wie hulle ook al wou beïndruk. 

3. Ná Angola het die domino's een na die ander begin val. Jong seuns se lewens is op die grens opgeoffer sodat die politieke ploetery in Pretoria kon voortgaan. Die volgende was natuurlik Suidwes/Namibië wat op 'n skinkbord aan SWAPO oorhandig is, tesame met Walvisbaai, 'n wettige Suid-Afrikaanse besitting waaroor daar nog nooit enige internasionale dispuut was nie. Uiteraard was die Wêreldhofsaak in 1966 waaraan Verwoerd en sy span so hard gewerk het, lank vergete. 

4. En toe die groot prys: die vaderland waarvoor 27 000 vroue en kinders, asook 4 500 Boerekrygers in 1899-1902 hul lewens gelaat het. In weerwil van die gunstige omstandighede ná die val van die Berlynse muur in November 1989, verloor De Klerk heeltemal die inisiatief deur holderstebolder die ANC soos 'n magshonger wolf in die land los te laat. Pleks dat die openbare beeld van Mandela en die ANC afgetakel word, bou De Klerk hulle op en gebruik sommer die hele staatsapparaat om die maksimum moontlike publisiteit vir Mandela te reël tydens sy vrylating. Sodoende skep die Afrikaner, of dan sy sogenaamde leiers van destyds, die halfgod wat hulle by die stembus sou vernietig. Miskien kon daar kon nog iets by die onderhandelingstafel gered word, maar die sub-intelligente Roelf Meyer raak in September 1992 die kluts kwyt by Kemptonpark en pleeg 'n oorgawe aan Cyril Ramaphosa waarna die ANC vir alle praktiese doeleindes sy eie grondwet kon skryf. Tot kort voor die '94-verkiesing ly De Klerk aan die naïewe grootheidswaan dat hy die verkiesing gaan wen, daarom maak die res nie eintlik saak nie... 

5. Nadat Angola, Rhodesië en Suidwes alles prysgegee is, sou die NP-regering nog een laaste keer 'n potensiële bondgenoot in die rug steek. Indien die Afrikaners en die Zoeloes sou saamspan, kon hulle 'n teenwig vorm teen die ANC en sodoende federalisme beding wat ten minste sommige Afrikaanse instellings kon red en sekere gebiede onder Afrikanerbeheer kon stel. Maar getrou aan hul styl van verraderlike oorgawe, besluit die Broederbond en die NP om ook vir Buthelezi, net soos Ian Smith voor hom, in die rug te steek en blykbaar was daar selfs sprake dat Inkatha gedreig is met 'n gesamentlike militêre inval in Natal deur sowel die ou SAW as die ANC se Umkhonto we Sizwe. As jy van die NP is, werk jy saam met jou vyand om jou vriend te vernietig, net soos die reste van die ou Broederbond-establishment vandag hul mede-Afrikaners as 'n groter bedreiging as Robert Mugabe of Thabo Mbeki sien. 

Hierbo het ek kortliks die strategiese proses geskets waardeur die Afrikaner homself stelselmatig aan die ANC verslaaf het deur eenvoudig oor enkele dekades een strategiese flater na die ander te begaan, sommige onder buitelandse druk, ander sommer heeltemal pasella, sodat hy vandag in 'n fase van terminale agteruitgang verkeer. Nie alles kom uit Jaap Marais se boekie nie, maar die logika wat hy raakgesien het, is presies dit wat gelei het tot die huidige situasie van feitlik totale oorheersing deur die Xhosa-Indiër-koalisie of wat mens ook al die mag wil noem wat tans die land en 'n toenemende gedeelte van sy bates bestuur. Trouens, danksy "handvesse" en dergelike, asook sy beheer oor die staat, Telkom, Eskom, Transnet, ens., gaan die ANC binne tien jaar meer as die helfte van die landsekonomie regstreeks in sy besit hê om te maak daarmee net wat hy wil. Die heel ergste voorspellings van 'n politieke oorname met ekonomiese nasionalisering, sal dus binne twintig jaar van 1994 af bewaarheid wees.

Is dit sleg? Is dit goed? Is dit regs? Is dit links? Vanuit 'n realpolitieke oogpunt het sulke vrae nie eintlik antwoorde nie. In elk geval is dit iets wat elkeen vir homself sal moet beantwoord. Maar dat daar oor die afgelope veertig jaar 'n duidelike afwaartse tendens by die politieke vermoëns van die Afrikanerleierskap te bespeur is, is gewis.

En dan bowenal: die huidige politieke situasie is nie van Bo gestuur nie, maar is mensgemaak. 'n Mens kan die hele spel agterna ontleed en herkonstrueer op grond van die beskikbare inligting, byna soos 'n skaakspel waarvoor mens die notasie besit. Ons is stap vir stap skaakmat gestel deur ons eie sogenaamde leiers. Dit was allermins onafwendbaar of vooraf beskik. Indien daar anders opgetree is, met ander strategiese skuiwe, sou die Kaap, by wyse van spreke, steeds Hollands gewees het. In 'n neutedop het Mandela vanuit sy tronksel - uiteraard met die hulp van sekere buitelandse moondhede, waaronder ons ou vyand Groot Brittanje - die hele land verower, 'n ongehoorde prestasie. Deur Afrikaner-swakheid is Suid-Afrika prysgegee en word dit elke dag nog steeds verder en verder oorhandig.

Die vraag wat ek my afvra, is: gaan ons aanhou retireer tot in Australië of tot by assimilasie en ons eie verdwyning, of gaan ons probeer kyk waar is die swak punte in die Xhosa-Indiërmag se wapenrusting? Oor min dinge kan daar sekerheid wees, behalwe dat die Afrikaner se voortbestaan vandag meer as ooit in die weegskaal verkeer.

Danksy dertig jaar (1966-1994) van die onnoselste regering wat enige volk seker nog ooit beskore was!

1 Augustus 2004

Boontoe