chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

'n Nuwe Romantiek

  Izak de Villiers

Sluitingsreferaat by die sitting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te Potchefstroom, Junie 2004

Die ou Franse Ensiklopediste van die 18de eeu het groot debatte gevoer oor die wese van 'n demokrasie en die sogenaamde sosiale kontrak. Maar die Atheners het baie eeue tevore dié soort debatte gevoer én die senatore van Rome. Die debat oor die wese van 'n demokrasie en sy moontlike ontwikkeling en dosyne mutasies dwarsoor die aarde sal ook nie in ons dag of selfs ons eeu ophou nie. Daar is in die VSA byvoorbeeld duidelik 'n stryd tussen die regbank en die Kongres aan die ontwikkel. In Brittanje ook, met die Europese Regbank wat oor hul skouer loer.

By ons gaan dit oor veel meer:

In die tyd van apartheid is gedurig gevra: kan 'n veel kleiner wit minderheid sigself gedurig bestendig en moreel verdedig in beheer van alle regering? Die vraag kan nou weer andersom gevra word: kan 'n swart meerderheid, omdat hy by verre die getalsoorwig het, die kloof oorbrug om werklik eenheid in verskeidenheid te handhaaf en uit te bou met inagneming en beskerming van kulturele identiteite? Is dit moontlik om op die voetspoor van Hegel die ideaal as teenkant van die realiteit te beskou en so by 'n werkbare sintese uit te kom?

Dit sal die tyd moet leer, gedagtig dat politieke ordes, soos enige mode, ook 'n rakleeftyd het. Demokrasie het talle gebreke en sal nog seker deur vele transformasies gaan, maar een van sy groot stutte is dat dit suksesvol veral deur die VSA verromantiseer word, en ek sê dit met groot respek. Demokrasie word byvoorbeeld met 'n waas van byna heilige idealisme omhul as summum bonum van alle regering wat die toets van die tyd deurstaan én die toekoms kan vorm "to a better world".

Gegee die praktiese omstandighede waarin 'n Suid-Afrikaanse demokrasie hom bevind, sal elke geslag Afrikaner 'n wilsbesluit moet neem of en hoe hy as kultuurgroep of volk wil voortbestaan wel wetende dat daar geen manier is waarop hy ooit weer demokraties 'n groot sê oor die breë landsbestuur gaan hê nie, gegee dat die getalsverhoudings min of meer hul patroon behou. Selfs al sluit hulle by groot swart en/of Engelse bewegings aan as individue sal Afrikaans en alles waarvoor dit staan ( want dit gaan om veel meer as taal), gedemp bly.

Maar daar is 'n groter probleem as uitgesluit wees van besluitneming: die Afrikaners sal hulleself emosioneel en kultureel weer moet vind, hulle ware hart, hul eie gesonde kern, en soos die Bybelse Verlore Seun "tot homself of haarself kom". Ons hoef nie bevelhebbers van 'n land te wees nie, maar ons hoef ook nie emosionele en professionele varkwagters van 'n bedeling te word nie.

Om lid van 'n volk te wees, is grootliks emosioneel. Dit begin soos Rupert Brooke oor die kuns gesê het, met die gevoel van iets soos 'n knop in die keel. Dis iets van : maar dis my eie mense dié en dis mý oorlewerings dié. 'n Joodse psigiater wat in New York op sterwe gelê het, het sy sterwensgevoelens op band uitgespreek en merkwaardig in sy laaste dae hamer hy daarop dat hy opnuut mistiek bewus geword van sy Joodsheid al was hy volbloed Amerikaans en al het hy feitlik nooit in die sinagoge gekom of die Joodse feesdae gevier nie. Sterwend sê hy: ek vind nou ek is eerstens Jood en tweedens Amerikaner, in dié wete het ek nie geleef nie maar wil ek sterf. (Norman Garbo: To love again, W.H. Allen, Londen)

Op iets van hierdie voetspoor moet ons weer mistiek en realisties bewus word van ons Afrikaansheid en dit as kleinood begin waardeer en koester. Wat die meeste mense soek is 'n nuwe, moderne Afrikaner-Romantiek, 'n gevoels"ding" van behóórt. By Romantiek bedoel ek die kollektiewe gees is nie 'n vervagende, sterwende, uitrafelende ding nie, maar dis 'n groeiende, trotse saambindende werklikheid. Dit kom tot uiting in die vorming van kulturele bedrywighede van die mens en natuur, sy bevrydende én gasvrye leefstyl in harmonie met sy plek waar sy wortels is. In die Romantiek word ywerig in verlede en hede gesoek na elemente waarmee entoesiasme gekweek word in plaas van wanhoop. Probleme word gepak met die Rede én die Verbeelding. Die klem val in die geskiedenis op die werklik feite maar veral op die heroïese. Die waarheid word gesoek, die grootse én die skande, maar die skande word nie ten koste van die grootse beklemtoon nie. Die omgewing en omstandighede word aangegryp om 'n nuwe selfbewussyn en trots te ontwikkel, in die besef dat die wêreld groter is as stelsels, kultusse en abstraksies en gedagtig aan die woorde van TS Eliot "Time present and time past, are both perhaps time future" - dat die verlede, veral die goeie van die verlede eintlik nooit afgehandel word nie. In die Nuwe Romantiek konfronteer jy jou eie duiwels uit die verlede en jy probeer hulle so goed as moontlik hokslaan, maar dan soek jy jou engele soos die ou bewarende Engel wat voor die Israeliete uitgetrek het. Dié soektog begin in ons totale verlede, nie slegs die onlangse verlede van 'n lapsus nie en nie slegs die afdwalings nie. Jy vertrap nie jou eie helde en mites nie, jy bou hulle. (vgl Jacques Barzun: From dawn to decadence)

Daarom moet ons ons eie geskiedenis as groep weer in ere herstel, want dit lê op die oomblik effe in ruïnes. Die skole gaan dit nie vir die Afrikaner doen nie. Ons sal maniere moet uitwerk om dit self aan die jeug oor te dra. Ons moet keer dat ons taal nie straattaal word nie, want hoewel daar 'n soort Romantiek aan straattaal kleef, verdedig niemand 'n straattaal nie. Die historiese neiging is om 'n straattaal tot die straat uit te ban en dan die "oorheersende" sogenaamd ordentlike taal in die salonne en seminare te gebruik. Dit het in die 19de eeu in die Kaap met Afrikaans gebeur voor die Romantiek van werklikheid en eie gevoel van die Vryheidsoorloë mense aan die hart gegryp het. Ek mag verkeerd wees, maar by RAU luister ek soms na studente-gesprekke en Engels oorheers Afrikaans én die swart tale. Engels is die gemaklike, kulturele en taalimperialistiese uitweg, en ons aanvaar dit tot selfs die oormaat van anglisismes toe. Die Nuwe Romantiek vra ook dat 'n lyn êrens getrek word. Buitendien, en hier mag ons verskil, is ek nie oortuig dat die toekoms van Afrikaans gebind is aan die toekoms van swart tale nie. Elkeen moet self sy huis in orde kry. Kunsfeeste en vermaak is 'n middel, een van vele, maar 'n Nuwe Romantiek moet plek in ons huise en alledaagse lewens en omgewing kry. Dink aan van Wyk Louw:

O my land, o my land: jy is ek. Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat. Ek het jou lief soos ek my soms lief durf h^e. (Tristia, Elegiese verse XVII)

Dis die geweldige perke van 'n Romantiek van die strak realistiese en ewig-emosionele van jou plek én jou stam waaruit jy spruit en die aarde waaruit hierdie stam groei.

In die swart gemeenskap voer 'n verromantisering tans en merkwaardig oorhoofs, suksesvol hoogty. In 'n onlangse koerantplakkaat is byvoorbeeld gevra: "Was Chaka greater than Mandela ?" Luister na die advertensies: alles beklemtoon swart prestasies en persoonlikhede, en swart aspirasies sonder blik of bloos. Dit word meesal met styl gedoen. En dit werk. Hoekom moet Afrikaners swyg in die vrees dat dit dalk sal aanstoot gee?

Ons moet ook herbeklemtoon dat die gereformeerde godsdiens se geloofsinslag van ons beste kwaliteite ontwikkel het, selfs al was van ons grootste leiers agnostici. Die gereformeerde kerke het in die ruimer verlede ruimskoots in die Romatiek, die tradisie van idealisme, geloof en hoop gestaan en het vandag ook 'n kultuurtaak en 'n geweldige rol te speel in die herbevestiging van ons Afrikaans-wees. Dit lyk soms asof dit nie nou vir dié kerke van belang is nie en dat hulle selfs daarvan wil wegstaan. Maar die Amerikaanse kerklike invloede wat tans hier heerlik baljaar gaan 'n tydelike verskynsel wees wat dalk vir die Afrikaner se geloofslewe die dood in die pot kan wees. Want hoewel ek groot simpatie het met Amerikaanse Piëtisme (dis immers van die begin af in hul vesel) en besef dat die Afrikaanse gereformeerde kerke vratte het, is dit aanbidding gegrond in ons eie diepste wese. As ek Christus aanroep, dink ek ook onwillekeurig aan Hom as 'n Afrikaner wat my as individu verstaan maar ook my afkoms en omgewing wat my help vorm het, soos Hy ander volke en individue se "gestalte" in hul hart aanneem wanneer húlle Hom aanroep. Kyk maar hoe verheerlik die Amerikaners God by hulle groot geleenthede terwyl hulle die Battle Hymn of the Republic - 'n gelaaide, romantiese politieke strydlied - aanhef.

Ons mag ook nie 'n ewige slagoffer van ons eie oorgevoelige vernietigende moraliteit word nie. Moraliteit wat jou voortdurend in die hoekie wil laat staan én deur ander gebruik word om jou in die hoekie te hou, behoort 'n kort rakleeftyd te hê. Daar is immers 'n droom te droom en 'n nuwe begin te maak. Enige skuldgedrewe aksie bly slegs dit: 'n skuldgedrewe aksie wat hoogstens geduld en vergewe word. 'n Nuwe Romantiek neem al die skuld in ag, maar verwerk dit in die resep van die realisties-positiewe oor die eie en die heroïese stamverband. Hierdie suurdeeg werk tot 'n nuwe Hegeliaanse sintese van die soeke na 'n nuwe grootsheid van gees wat deeglik in die praktyk en omgewing en natuur neerslag vind. Daarby reken ek dit sal fataal wees vir die gereformeerde kerke as hulle hulle totaal van hul "aardse" wortels, en dis die Afrikaanse kultuur, losmaak in 'n nuwe ekumeniese "vergeesteliking" wat op die ou end rigtinglose blare in die wind mag word.

'n Ander vraag: terwyl die Afrikaner sy politieke mag as groep feitlik verloor het en die ou Establishment ineengestort het: wie praat namens die Afrikaner? Miskien moet die Akademie daaraan begin dink om die probleem van leierskap op alle gebiede in die Afrikaanse gemeenskap deeglik te deurdink en met voorstelle te kom. Dit kan 'n sosiologiese, sielkundige, wetenskaplike studie wees. Maar leiers tree meesal vanself na vore, veral wanneer die druk op sy hoogste is. En daar is oral waar ek kom tekens, selfs 'n grootse onderlinge gevoel, dat Afrikaners ten minste reeds die noodsaak hiervan insien nadat die leiers van die afgelope tye volledig misluk het.

Ek gee geen definisie van Afrikaner nie. Dis tydmors en selfs dwaas, want van min volke bestaan daar kraakvrye definisies. Almal wat voel hulle is tuis in Afrikaanse geledere en dat hulle hulself nie eers in dié kring hoef te verduidelik nie, is Afrikaners. Soos in alle volke is daar diegene wat dit wil wees, én dié wat die half wil wees, én dié wat dit gladnie wil wees nie. Laasgenoemde is die Afrikaanse Boheem, en die Romantiek van die Boheem is om sy eie subkultuur te vorm, verkieslik los van sy wortels. Maar dié wat hulle by hierdie "Afrikaanse gevoel" kan "aansluit" ( soos die sterwende Jood in New York), en daarmee identifiseer, van watter afstamming hulle ook mag wees, moet emosioneel 'n tuiste gegun word. Want "Afrikaner" is meer as taal, dis 'n leefwyse en diepgevoelde emosionele ingesteldheid, 'n kaleidoskoop van middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte wat in sintese tot geweldige geesteshoogtes kan voer.

Ek is gebore onder die Engelse vlag maar in my huis is daar nooit aan getwyfel dat ons Afrikaners is nie. Ons het Afrikaans gedink, gepraat, geleef, gevoel, gebid, sonder definisies en sonder om onsself aan mekaar te verduidelik. (Dit het ongelukkig later onder die Nasionale Party verdwyn toe Afrikaner-wees in vele gevalle soms tot groot irritasie gelyk gestel is met ondersteuning van 'n Party) Ek het in my lewe die mode-denke en -politiek van die tye aanvaar en gesien hoe hulle verander. Dit leer 'n mens: Moet nooit met die tydgees trou nie, want as jy met die tydgees trou beland jy gou in 'n egskeiding.

In die skitterende nuwe biografie van MER, waarskynlik een van die groot eksponente van wat ek met Afrikaner-Romantiek bedoel, word sy deur Jaap Steyn aangehaal waar sy dit oor die tydsgees het, net né die Tweede Wêreld-oorlog en vernietigend sê: "Nee, dit moet ons glo maar weet dat al die nasies, wanneer hulle die mag het - die Engelse hier, die Duitsers in Holland, die Russe in Duitsland en die Amerikaners in Hirosjima - dan maak hulle 'n teorie of sisteem om dit te verklaar. En dit lyk my is glo maar die geval, maar dit is juis wat my so naar maak - dat dit so in almal sit…Wonder, as ons volk eendag met die swartes slaags raak, of dit by ons ook sal uitkom. Dan kan die OM (God) ons gerus maar versuip soos voorheen…" Dit was profeties. Maar gedurig lê sy die klem op die huishouding in eie huis en noem haar self "volksaankantmaker".

Waar is vandag se "volksaankantmakers"? Hulle is nie juis in die politiek nie. Ook nie juis in die kerk nie. Dalk kan die Akademie hieroor in sy werkgemeenskappe gesprekke aan die gang sit.

Die Financial Mail noem in 'n hoofartikel op 30 Ap[ril 2004 een van die positiewe uitvloesels van tien jaar van nuwe demokrasie: "The avoidance of civil war. Consequences have been the virtual disappearance of the National Party and the redeployment of Afrikaner political energies into cultural and language concerns." Dus, volgens die FM, is ons uitgestoot na 'n mindere plek waar ons eintlik maar ons eie relatief onbenullige en vervelige geveggies veg. Maar die FM maak 'n fout: kultuur en taal is die asem van 'n volledige mens, die ruggraat van 'n gemeenskap, die strewe van 'n groep, die roersele van die kollektiewe gees, die fondament waarop jy eers jouself vind voordat jy jou vir die stryd aangord vir jou bestaan. Jy moet aanvoel: Wat is die groot, mistieke IDEE van Afrikaner-wees.

Die Nuwe Afrikaner-Romantiek sluit in die uitwys van positiewe punte waarop gebou kan word. Afrikaans is 'n nismark, en 'n heel belangrike nismark. Dis meer: dis 'n teken van 'n eie identiteit in die krimpende wêreld van Alvin Tofler se Future Shock waarin mense al hoe meer gaan probeer wegvlug uit vervelige en versomberende eendersheid. Dis 'n tradisie met 'n soort soepelheid en aanvoeling ter oorlewing. Dis ook 'n gebondenheid aan die aarde en die vasteland waarin ons gevorm is. Ons is nie Engelse of setlaars met dubbele paspoorte nie. Ons is nie duiwels nie, en ons is ook nie aartsengele nie, maar ons is meermale eerbare, innoverende mense en nie sonder heroïese voorbeelde nie. Ons is ongelukkig nie groot saamwerkers behalwe in 'n krisis nie. Min volke is immers danig eensgesind. Ons moet ook nuwe dinge stig waarin Afrikaners se belange sonder skroom voorop gestel word, en dalk moet ons begin deur weer na mekaar uit te reik voordat ons die wye wêreld wil omarm.

Want op die oomblik ly Afrikaners aan 'n major-depressie wat ook vele mutasies het en die redes ken u almal: werkloosheid, diaspora, omgekeerde diskriminasie, asook die donker streep in ons volkspsige. Maar uit 'n groot aanval van depressie kan weer nuwe lig gesoek en gevind word, MITS daar 'n wilsbesluit is: ONS WIL LEWE EN VOORTBESTAAN. Ons wil onsself weer bekyk, nie in ons geskiedenis wat deur ander aan ons opgedring word nie, maar ons geskiedenis soos ons dit weer in onsself en ons totale merkwaardige verlede herontdek.

Hoe ons dit gaan doen, moet ons stap vir stap beplan. Maar dan moet ons trots weer herstel word, en die afbrekery van onsself uit eie gelede moet gestaak word.

Jacques Barzun skryf in sy uitmuntende boek From dawn to decadence, 500 years of Western cultural life: "So true is it that great institutions are undone as much by its presumable guardians as by its enemies." Die Akademie is een van die werklik positiewe "guardians" en moet as wagter en huisaankantmaker optree met 'n aangryp van 'n Nuwe Afrikaanse Romantiek soos ek hierbo omskryf het. Daar is ander uiters bruikbare instansies ook, wat ook hul rol en motiewe sal moet ondersoek.

Oor die politiek net dit: Soos die Nasionale Party oor jare sy simpatie opgebruik het, sal die ANC ook syne opgebruik. Baie min politieke partye hou vir altyd aan in triomf. Dalk kan die Afrikaner in 'n toekomstige demokratiese ontwikkeling weer geleenthede vind van raadgee en koers aandui in 'n krisis vir die ganse land. Want krisisse is daar altyd, oral.

Die Nuwe Romatiek vra dat die Afrikaner- depressie behandel word met Totius se "salf van eie gom". Hierdie Afrikaner-depressie het twee pole én is skisofrenies. Eendag treur hulle en die ander dag sien hulle net geleenthede (ook om 4x4's te koop). Of een deel van die Afrikaner-lyf sê vir vir die ander vaarwel en vertrek na die buiteland of verengels. Of een sê hoop en die ander verwoesting. Weer kom instasies soos die Akademie as heelmeester en aankantmaker ter sprake.

Ons sal ook moet end kry om ons eie grootste vyand te wees, want depressie is immers oorlog teen jouself wat ons tans dikwels ervaar. Die Nuwe Romantiek het nie plek vir mense wat uit eie geledere alle probeerslae, hoe eenvoudige ook al, in vlamme afskiet nie. Of soos krewe in 'n emmer aftrek nie. Hoor elke stem. Anders verval ons in die teenoorgestelde van die Nuwe Romatiek: ons word en bly slagoffers van'n vernietigende angsrealisme. Miskien kan die Akademie die voortou neem in 'n werklike Plan, emosioneel, kultureel, wetenskaplik, ekonomies en polities, wat 'n heropbou en herwaardasie, 'n huisaankantmaak, aan die gang kan sit. Want uit so 'n aksie kan mense ten minste besluit om 'n wilsbesluit te neem om voort te bestaan, en 'n wilsbesluit is altyd die eerste sielkundige stap in die rigting van genesing: EK WIL LEWE!

Dis byvoorbeeld billik om vir die regering oor die toekoms te sê: Kyk ons wil nie regeer nie, maar ons vra besluitneming in ons eie kultuursake, wat veral opvoeding insluit. Ons sal ook talle instansies weer nuut moet begin of nuwes stig.

Ons houdings sal ook moet verander: ons praat Engels uit sogenaamd ordentlikheid as 'n Engelssprekende by die geselskap aansluit, maar die Engelse sal dit nie doen nie. Hulle Afrikaans is beperk tot "sjambok", "lekker", "jol" en "koeksister", wat hulle buitendien gereeld verkeerd spel. Afrikaners moet weer 'n tuiste in mekaar se geselskap soek en dinge saam pak soos in die dae van MER. 'n Nuwe Afrikanerromantiek vra hernude lojaliteit aan jou eie met inagneming van jou beperkinge maar beklemtoning van jou moontlikhede met inagneming van die sweet en offers van voorgeslagte. Daaruit kan ook politieke roetes gevind word, en daaruit kan die Afrikaner sy moontlikhede binne die heersende en verskuiwende demokrasie in Suid-Afrika bepaal.

Izak de Villiers is 'n skrywer en voormalige redakteur van Rapport.

Boontoe