|
|
||||
| chronologie
|
'n Nuwe benadering tot Afrikanerskap Henry du Plessis Dr Izak de Villiers se sluitingsreferaat by die sitting van die SuidAfrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te Potchefstroom, Junie 2004 verwys na: “Wat die meeste mense soek, is 'n nuwe, moderne AfrikanerRomantiek, 'n gevoels' ding' van behóórt.” Die opspraakwekkende uitsprake het dalk selfs verbreding van visie nodig. Beskou dus hierdie artikel as verdere uitbreiding daarop, eerder as 'n opponerende standpunt. Is daar werklik so 'n behoefte aan romantiek, of is dit bloot 'n soeke na ons eie identiteit? Die gevolg van die mengelmoes politieke gebeure waaraan ons onsself vrywillig uitgelewer het om uitverkoop te word? Dalk die gevolg van aanmekaar “Jammer” sê totdat ons geesvoos naderhand nie meer weet waarvoor om nog “Jammer” te sê nie? Daar is selfs in Julie 2004 verwys na oom Paul Kruger se woorde. Selfs daarvoor moet ons nou “Jammer” sê; dit nou volgens die insig van die SAKP/ANC se minister van arbeid. Enersyds is ons moeg om “Jammer” te sê, en andersyds is die betekenis van die begrip nou al vir ons so afgewater. Mens sê dit mos net as jy dit regtig bedoel! Hoe kan ek om verskoning maak vir die 'sondes van my vaders', mense wie ek nie eens geken het nie, toe ek nog nie eens 'n gedagte van bestaan gewees het nie? Dit sal mos dweep wees om aanmekaar verskoning te vra vir iets wat jy nie gedoen het nie. Dit is 'jammer' dat sekere gebeure in ons geskiedenis plaasgevind het, maar dit beteken darem waaragtig nie dat ék vir 'n iedere en elk van die besluite van die verlede moet rekenskap gee nie. Kom ons maak liewer seker dat ons, met die insig van vandag en na die beste van ons oordeel en wete, nie verdere onnodige blapse maak nie. Selfbejammering en aftakeling van alles wat ek is en waaruit ek kom, gaan regtig niemand beter laat voel, nog 'n werksgeleentheid skep, of skielik van krummels brood maak nie! In die heksejag na al die 'verkeerde van ons verlede' het ons as Afrikaners aan 'n nuwe siekte begin ly: 'n selfgesentreerde vervolgingswaan en oorbeskerming van die eie, sodat ons uiteindelik glo dat ons eie klein inklussiwiteit beperk is om net die eie ek te beskerm. Sommiges van ons glo dat almal wat anders dink oor die detail (al is die hoofstroom van denke in die regte regting en vir die sáák reg), wil ons insluk en oordonder. Ons glo naderhand soveel aan ons eie mishopie, dat ons geen ander haan wil toelaat om daarop te kom kraai nie. In die proses sluit ons ons eie mense (en dus ons eie denke) uit. Dit laat mens verstom waarom die Afrikaners nie kan hande vat en saam vir die sáák baklei nie. Of romantiek as sulks die antwoord is, betwyfel ek sterk. Die Afrikaner kon nog nooit saamstem nie; nie eens binne kerklike kringe of in kultuurorganisatoriese verband nie. Hoe langer ons gaan aanhou om nuwe organisasies te stig vir die behoud van die Afrikaner, hoe meer gaan ons die verdeling stimuleer en hoe langer gaan ons neem om Afrikanereenheid te bewerkstellig. En hoe langer ons gaan neem, hoe meer skaad ons dít waarvoor ons eintlik almal veg. Ons honger en dors na 'n oorkoepelende sambreel wat die Afrikaner kan saamvoeg binne die verskeidenheid, en oor die verskeidenheid, van al ons organisasies, kerke, soorte musiek, leesstof en oortuigings. Hetsy dit 'n leier, 'n organisasie, 'n beweging of 'n bedreiging is. Miskien is dit eers wanneer die Afrikaner werklik weer bedreig word, wat ons sal ophou splinters uit mekaar se oë haal, versplinter en van binne eie geledere afbreek wat ons vadere (en dikwels onsself) opgebou het. Ons doen meestal meer skade aan ons eie saak van Afrikanerskap deur ons hardnekkige, koppige en selfgesentreerde optredes, as wat ander van buite ons geledere ons skade aanrig. ('n Familie kan onder mekaar baklei, maar wanneer iemand van buite af hulle bedreig, veg hulle soos een man saam – want boed is dan skielik dikker as water; dit kruip waar dit nie kan loop nie). Ons hoef nie alewig agterdogtig te wees dat ons klein wêreldtjie deur ander binne gedring en oorgeneem sal word nie. Die organisasie waaraan ons behoort om 'n bepaalde aspek van Afrikanerskap te bevorder, hoef nie altyd bedreig te voel deur 'n ander organisasie wat op 'n ander manier opereer en die klem dalk net op ander aspekte plaas nie – almal is nie daarop uit om ander kringe binne te dring, te verswelg en uiteindelik oor te neem nie. SuidAfrika is groot: daar is baie plek vir ons almal; selfs al staan ons langs mekaar, kan ons steeds elkeen 'n stukkie sonskyn kry. Dit is juis wanneer ons hande vat en langs mekaar staan, dat ons 'n indruk kan maak en 'n groot skaduwee kan gooi. Dan kan ons in die Winter die swakkeres onder ons warm hou en in die Somer mekaar teen die Afrikason help beskerm. Om bloot te soek na romantiek sal die verskillende insigte weereens verwar: dit kan dalk selfs gesien word as oorbeklentoning van Afrikanerskap en verheffing van die begrip tot kwasiafgod. Aan die ander kant kan dit heel waarskynlik deur sommiges so verhewe geakademiseer word, dat niemand dit amper meer kan verstaan nie en dit dan beperk word tot die uitgelese groepie wat daarmee kan vereenselwig. As 'n kind glo dat Afrikanerskap “cool” is, dan is dit goed. Nee, dan is dit wonderlik!! Soos die 1972uitgawe van “Regte Afrikaans” van die woord poliesman verduidelik: “(Sulke woorde)is in Afrikaans algemeen gebruiklik en sal nie geweer kan word nie. Ons moet dit maar toelaat of ons nou wil of nie. Dit doen die Afrikaanse taal in alle geval geen kwaad aan nie... dit help tog nie om vol te hou met een ding terwyl almal met wie jy in aanraking kom iets anders gebruik nie”. Afrikanerskap is wonderlik, maar ons mag nie daarvan 'n mitiese afgod maak met 'n mistiek wat slegs die edelstes onder ons mee kan assosieer nie. Om die disseksiemes uit te haal en te wil insny tussen dun vlieslagie wat verskillende vorme van die begrip Afrikanerskap skei, net om sekeres uit te hou uit ons koninkrykie van verhewenheid, suiwerheid en geletterdheid, sal beteken dat ons die roeping verydel. Die volksvaders het juis vir dekades gesoek na samebinding, eenheid en vryheid binne die diversiteit van die SuidAfrikaanse samelewing. Ons gaan hulle verraai deur nou verdere verdeling te veroorsaak en in alle geval ons roeping en taak mis. Kom ons maak liewer plek vir versoening, vir handevat, vir saamstaan om ons kragte saam te snoer vir 'n verenigde Afrikaner eenheid; om saam die aanslae teen te staan en bloot trots te wees om Afrikaner te wees. As dit beteken dat Afrikanerwees dan vandag moet “cool” wees om jonk en oud saam te voeg in eenheid, dan is ek bereid om “cool” te wees. Met die regte ingesteldheid en grondliggende waardesisteem kan ons mos “cool” wees en steeds saam bid, saam stry en saam veg. Henry du Plessis is opleidingsbestuurder aan die Pretoriase Akademie vir Christelikvolkseie Hoër Onderwys, Pretoria |