|
|
|||||||
| chronologie
|
Vlooi-afvangery vanuit Wits Tot dusver: Philip John: Marlene van Niekerk se vernietingskampanje Ena Jansen: Drogredenasies noop tot weerspreking (n.a.v. Philip John oor Marlene van Niekerk) Gerrit Olivier: Nog oor Van Niekerk se sg "vernietingskampanje" Hier op die vooraand van my vertrek na die Woordfees op Stellenbosch, was ek net besig om rustig agteroor te sit en te dink dat dit haas tyd is om 'n nuwe roman te begin skryf, sommer iets wat ek binne 'n maand of twee kan voltooi om teen begin Junie vir Exclusive Books se Publishers' Choice-komitee voor te lê, toe 'n nuwe polemiek kop uitsteek. En nog is't einde niet! Dít nou na aanleiding van Philip John se brief van 4 deser met die titel "Marlene van Niekerk se vernietigingskampanje". Waarom Philip John dit sedertdien goed gedink het om daarvoor om verskoning te vra, weet nugter. Is hy, soos Dorothea van Zyl voorheen, afgedreig? Het 'n stem wat geradbraakte en vulgêre Afrikaans praat soos in 'n sekere skryfster se skryfsels, hom aangesê om om verskoning te vra en sy bewerings terug te trek, of anders… Wel wil ek vir Philip John gelukwens met sy stuk van 4 Maart. Dit ly geen twyfel dat Marlene van Niekerk en haar trawante besig is met 'n vernietigingskampanje teen my, teen die Woordfees en selfs teen Afrikaans nie. Die verwronge en ekstremistiese aanklagte wat daar teen my gemaak word, het my in 'n onlangse rubriek laat vra, "Is die revolusie op hande?" Het ons hier te make met die soort links-regsstryd wat in die Weimar-republiek gevoer is, wat oorverhit, irrasioneel en dikwels gewelddadig was? In dié periode het Hitler min of meer as wenner na vore getree, juis omdat die Nazi's se metodes vuiger, hardhandiger en meer ekstremisties as enigiemand anders s'n was - waarby die ewe kranksinnige Duitse kommuniste ingereken moet word. Willem Punt het 'n jaar of drie gelede gesê dat ons besig is om ons Weimar te beleef, en toenemend raak hierdie tipering wáár. Die histeriese ideologiese swymelary waaraan enkele individue op Stellenbosch hulle skuldig maak, asook Max, die "rebel without a clue" soos hy nou herdoop is, wat my nou al in sy rubriek in The Star, Cape Times en Pretoria News aanval, dui op beslis op 'n revolusionêre of pre-revolusionêre klimaat in die land. Want sonder dat hulle die idee gehad het dat "die owerhede" iewers dit goedkeur waarmee hulle besig is, sou hulle nooit so ver gegaan het nie. Voordat ek by die ongelukkige problematiek van Wits se Afrikaanse departement uitkom, wat nou vervolgens deur Philip John, Ena Jansen en Gerrit Olivier aangeroer is, wil ek bloot die ooglopende sê rondom hierdie saak wat besig is om die Afrikaner se "affaire Dreyfus" te word. Of ten minste voer dit ons terug na die dertiger- en veertigerjare tydens die Smeltertydperk toe dr. A.L. Geyer redakteur van Die Burger was en J.G. Strijdom, die LV vir Waterberg, die Nasionale Party se enigste verteenwoordiger in die parlement. Daar was toe dieselfde verdeeldheid onder Afrikaners, met dieselfde giftigheid en letterlike vuisslanery by politieke vergaderings en ander openbare byeenkomste as wat ons nou rondom die Woordfees waarneem. Ooglopend is egter dat:
Dit bring my nou by die "driemensskap" wat skielik ná Philip John se uitgesproke en kloekmoedige brief uit die skadu getree het. Of liewer twee van hulle wat tot dusver afwesig was in hierdie debat, het skielik hul ietwat beleërde geesgenoot (Marlene van Niekerk) of moet ek sê "kameraad" te hulp gesnel: Ena Jansen en Gerrit Olivier. In weerwil van die feit dat dié hele debakel my daarvan weerhou om die eerste bladsy van die roman te begin skryf wat ek teen Junie aan Exclusive Books vir die Publisher's Choice wil voorlê, moet ek Philip John vir sy verdere toeligting bedank. Oral begin die krake nou wys en soos die gehate Van Wyk Louw, hy wat Gerrit Olivier met sy onbeholpe, tweedehandse, dom Engelse Marxisme waarbinne hy binne enkele jare by Wits gesosialiseer is, probeer verguis het, eens oor die beiteltjie gedig het: Ek kry 'n klein klein beiteltjie, ek tik hom en hy klink; toe slyp ek en ek slyp hom totdat hy klink en blink. ens. Laat my nou begin hamer aan die Wits-probleem, wat helaas in sy terminale fase geen rots was nie, maar eerder 'n soort vullishoop vir saprofiete vanuit Stellenbosch (of sou Yvonne Malan verkies dat ons deesdae, ter ere van Oom Joe, eerder van Stalinbos begin praat?) wat nie self goed genoeg geag is om in Stalinbos aangestel te word nie, maar wat vanuit alle windrigtings skielik onder Ernst Lindenberg na Johannesburg en na Wits begin wentel het. Ek onthou nog op 'n dag hoe 'n naïeweling vanuit Amsterdam by Wits aangekom het as een of ander assistant-lektor in die Afrikaanse departement, by name Gerrit Olivier. Ena Jansen het my laat gil van die lag met die volgende sin in haar apologie vir Marlene van Niekerk wat saam met Gerrit Olivier en sy self vir seker daarvoor verantwoordelik was dat Afrikaans summier by Wits afgeskaf is. Ek wil nou ingaan op haar lamlendige verskonings, maar kom ons haal net hierdie belaglike sin aan wat my so geamuseer het: "Maar ironies genoeg, soos wat ek nie genoeg kan beklemtoon nie, het die (Afrikaanse) departement haar krag en sterkte op veral twee maniere aan apartheid te danke gehad." Ons het nou almal al spotprente gesien van mense wat voor die landdros op 'n verkeersoortreding pleit, "Edelagbare, ek kan net apartheid daarvoor blameer", maar hier gly Ena Jansen nou ook in alle erns op die piesangskil van 'n apartheidsgrap. Enkele jare gelede was daar 'n polemiek in Beeld rondom hierdie einste kwessie, die feit dat Gerrit Olivier, nogal as dekaan, sy eie departement van Afrikaans en Nederlands gesluit het. Uit Ena Jansen se hele melodramatiese relaas - asof sy, Van Niekerk of Olivier al ooit 'n sekonde getreur het oor die heengaan van Wits se Afrikaanse departement of oor naamsveranderings of die hele RAU wat verengels het en nou bekend staan as die Johannesburg University - is ons veronderstel om af te lei dat: 'n Sterk span kollegas, Marlene inkluis en dikwels voorop, het tot op die bitter einde met man en mag noodplanne beraam, hard gewerk en hulle bes gedoen om die departement aan die gang te hou. Bel vir Leon Schuster, want hier word die pap nou regtig dik aangemaak. Wie was "die sterk span kollegas" met die drie narre Van Niekerk, Jansen en Olivier aan die stuur van sake? Die onthulling dat Jansen "die laaste hoof van die departement" was wat as't ware "die ligte afgeskakel het" maak die hele prentjie nou baie volledig. Nie te lank daarna nie, het Jansen Nederland toe verkas, Olivier het dekaan geword en Van Niekerk het - sonder 'n doktorsgraad, let wel - mede-professor aan Stellenbosch geword. Indien Wits Attila die Hun as hoof van Afrikaans aangestel het, sou hy seker nie meer verwoestingswerk as die kliek van drie Stellenbossers/Stalinbossers verrig het nie. Maar kom ons staan vir enkele sekondes by Van Niekerk se meteoriese opgang in die akademie stil, die professor sonder 'n Ph.D. Beskik sy oor enige publikasies? Nee, nie waarvan ons weet nie. Behalwe natuurlik 'n boek genaamd Triomf wat nie eens in Standaard-afrikaans geskryf is nie. Hulle sê gekke en dwase skryf hul name op deure en glase. As die vermoë om 'n ding soos Triomf te skryf jou skielik as literator laat kwalifiseer, dan kan die gemiddelde besoeker aan openbare toilette waarvan Kleinboer die spelfoute korrigeer, maar gerus ook aansoek doen vir 'n professoraat in "skryfkuns" soos Van Niekerk dit noem. Nou wil gerugte dit ook hê dat Marlene van Niekerk nie danig hard werk daar op Stalinbos nie. Ons sien ook nie dat sy die Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol skryf met keurige literêre analises nie. Nee, sy kook en maak tuin. Haar rolmodel is iets tussen Keith Kirsten en Jamie Oliver, die sogenaamde "naakte sjef". Dan kry sy ook bietjie tyd af "om te skryf", sommer sulke lááááng vakansies. Dis net ongelooflik hoe hierdie vrou deur die lewe wals, met Afrikaanse departemente wat agter haar inmekaar tuimel, 'n string neerhalende opmerkings oor Afrikaans en Afrikaners wat by haar uithang soos 'n advertensiebanier uit 'n vliegtuig op rugbydae, maar desnieteenstaande veroorloof sy haar om die hele volk te hiet en gebied oor wie waar en wanneer mag praat. Eienaardig, om die minste te sê. Anders as wat Jansen beweer, is dit myns insiens glad nie "absurd om 'n lyn deur te trek van Marlene se posisie op Wits na Stellenbosch" nie. 'n Anti-Afrikaanse houding, selfs Afrikaner- of Boerehaat, loop soos 'n goue draad deur Marlene van Niekerk se hele treurige bestaan op hierdie aardbodem. Uit haar huidige manewales, tesame met haar bondgenote Gagiano/Van Huyssteen en Yvonne Malan, blyk dit dat sy nie net planne vir die Afrikaanse departement van Stalinbos het nie, maar sommer die hele universiteit. Wladimir Nabokof het mos 'n soort allegorie oor Stalinisme geskryf, met die titel Bend Sinister. Die figuur wat uiteindelik deur die stelsel bevoordeel word, is Paduk, die ongewilde seun wat op skool die bynaam "Brulpadda" ("Toad" in die Engels) gehad het. Onderliggend aan elke revolusie is moontlik idealisme, maar veel eerder haat. Daarom soek die revolusie die "toads", 'n woord wat die Tweetalige Woordeboek ook met "haatlike mense" vertaal, uit. Kinders wat op skool deur hul maats gespot is, wat miskien bietjie lelik of vet is, die middelmatiges wat nooit andersins sukses sou behaal nie, maar wie se haat vir hul medemens skielik tydens die revolusie baie bruikbaar raak. Sekerlik is daar tans direkte ANC-druk, vanuit die kabinet en vanuit die sogenaamde Presidensie, op Stellenbosch om te transformeer tot Stalinbos. Dit spreek vanself dat Afrikaners wat ander Afrikaners haat, om watter rede ook al, hetsy ideologies, hetsy vanweë hul eie persoonlikheidsprobleme, op Stellenbosch-in-transformasie uiters gesog gaan raak. Hulle gaan die Trojaanse perde wees wat uiteindelik die plek van binne af gaan rysmier en so die uiteindelike oorname, verengelsing en transformasie, sonder slag of stoot gaan laat gebeur. Moontlik verklaar dit Marlene van Niekerk, die professor sonder 'n doktorsgraad, se oormaat selfvertroue. Sy het ook al uitgewerk dat die rol van "dogter van die revolusie" haar soos 'n handskoen gaan pas. Miskien het Jakes Gerwel of Thabo Mbeki self al aan haar oorgedra dat sy in die kroon van "goeie Afrikaners" soos Braam Fischer, Beyers Naudé, Carl Niehaus en ander, mag figureer. Daar sal na haar gekyk word, solank as wat sy aangaan om die hele Afrikaanse tradisie te verguis en verdag te maak en solank as wat sy onverdraagsaamheid en selfs haat teenoor my aanstook. Oor die figuur Yvonne Malan sal ek liewer nie te veel sê nie, maar indien Van Niekerk nie die skerpste vetkryt in die pakkie is nie, is Yvonne Malan regtig nie eens ín die pakkie nie. Ek dink ek het meer op die ouderdom van sestien geweet as Yvonne Malan. Sy het werklik niks vir haarself te sê nie, behalwe 'n paar AWB-klinkende slagspreuke. Brandewyn en Coke, maar met baie min Coke, soos daar onlangs na haar in 'n satire op die Praagwebwerf verwys is. Feit is dat nóg Gerrit Olivier, nóg Marlene van Niekerk, nóg Ena Jansen Johannesburgers was. Waarskynlik weet hulle nou nog niks van die geskiedenis van Afrikaners in dié stad nie. Anders as wat Ena Jansen dink, het die Afrikaanse departement nie begin toe Van Wyk Louw iewers in 1958 daar aangeland het nie. Reeds in die dertiger- en veertigerjare het C.M. van den Heever, een van Afrikaans se mees prolifieke skrywers, 'n hele geslag jong Afrikaners aan die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde bekend gestel. Benewens vele romans, het Van den Heever 'n uitmuntende biografie oor J.B.M. Hertzog geskryf. Daar is steeds veel te put uit sy opstelle in Die stryd om ewewig, wat ook 'n bepaalde invloed op die jong Van Wyk Louw moes uitgeoefen het. Onder sy studente in die veertigerjare was iemand soos my pa, byvoorbeeld, wat vandag op die ouderdom van sewe-en-sewentig nog aktief gedigte lees en skryf. My pa en Koos Human, wat later Human & Rousseau sou stig, was op skool goed bevriend en het saam aan Wits onder C.M. Afrikaans gestudeer. In daardie dae het Wits 'n ATKV-tak gehad, met 'n jong Jodin as sekretaresse. In 'n Afrikaansvyandige omgewing, het mense soos my pa, Koos Human en ander hul taal gehandhaaf, bestudeer en geskryf. Ek onthou nou nog my pa se universiteitsfoto's wat in ons huis gehang het, onder andere dié van die ATKV-bestuur by Wits. Toe ek nog op laerskool was, het my pa dikwels vir my A. Roland Holst voorgedra, een van die Nederlandse digters wat in sy jongdae gewild was. Voor Wits het my pa matriek aan die Hoër Seunskool Helpmekaar geslaag. Daarom sou ek ook eendag Helpmekaar toe gaan. In die dertiger- en veertigerjare het Oubaas Brink die leerlinge aangemoedig om in Engelse winkels Afrikaans te praat. Toe die burgemeester van Johannesburg Engelstalige medaljes tydens die halfeeufees van Johannesburg aan die leerlinge kom oorhandig, het Oubaas Brink een kyk na die medaljes gegee en voor hom in die skoolsaal gesê, "Meneer, ek dink nie hierdie medaljes is vir ons skool bedoel nie, want hier is geen Afrikaans op nie." Die burgemeester was woedend, maar hy moes onverrigter sake daar weg. Die feit dat Afrikaans hoegenaamd in Johannesburg hond haaraf gemaak het, was te wyte aan mense soos Brink, Van den Heever en ander wat benewens 'n patriotiese liefde vir alles wat Afrikaans was, ook ruggraat gehad het. In die Klassieke Taledepartement by Wits was daar nog Theo Haarhof wat vele Latynse geskrifte in Afrikaans vertaal het. Dít aan 'n Engelse universiteit. Die meeste Afrikaanse akademici aan sogenaamde Afrikaanse universiteite publiseer vandag nie eens meer in hul moedertaal nie. Lank voor RAU die Johannesburg University geword het, het sy dosente reeds Afrikaans versaak. Maar die skande wat by Wits gebeur het, waar die Stalinbosse kliek, Olivier, Jansen en Van Niekerk, bykans 'n eeu van Johannesburgse Afrikaanse tradisie met 'n pennehaal vernietig het, is seker ongeëwenaard in die annale van dié stad. Waarom het Afrikaans by Wits ondergegaan? Miskien was dit weens apartheid, omdat apartheid gebore kruipers soos Olivier, Jansen en Van Niekerk geproduseer het, 'n soort akademiese ekwivalent van Marthinus van Schalkwyk. Maar alle apartheidsgrappies op 'n stokkie. As 'n dosent - of dosente - geen studente meer trek nie, is dit omdat hy niks vir homself te sê het nie. In Europa is daar universiteite wat nie eens oor die begroting van die gemiddelde Suid-Afrikaanse hoërskool beskik nie, maar waar honderde studente sekere departemente oorval omdat hulle oor gerekende denkers en skrywers beskik. Die stoele is stukkend, die mure is vol graffiti, die dosente het geen kantore nie en daar is een deeltydse sekretaresse, maar wat hulle vandag doseer sal die Amerikaners oor vyf jaar vertaal en oor tien jaar soos 'n godsdiens in hul materialistiese tempels wat aan hoër opvoeding gewy is, herhaal. Johannesburg is by verre die grootste stad in die land. Daar is duisende der duisende skoliere wat steeds Afrikaans as 'n skoolvak neem, ook as tweede taal. Dit is absolute twak dat hulle nie ook sou belangstel om Afrikaans op universiteit te neem nie. Maar wat vermoedelik by Wits gebeur het, is dat die Stalinbos-kliek met hul halfgebakte politiek korrekte idees nie meer Afrikaans of Afrikaanse letterkunde gedoseer het nie, maar een of ander weergawe van Mal Marxisme of mosterd-na-die-maal anti-apartheid. Ek kan nog onthou hoe oorbluf hulle destyds daar rondgestap het, met hul swak Engels, hul boerse ongemak en hul volslae intellektuele naïwiteit. Wits was nooit veel van 'n intellektuele sentrum nie, maar ten minste het hulle min of meer probeer volg wat in die Angel-Saksiese wêreld aan die gebeur was. Omdat ek deur die hele Wits-stelsel gekom het, was ek heeltemal vertroud met die heersende model van chic-radikalisme, neo-Marxisme en het ek dit toenemend krities begin aftakel met behulp van Derrida, Lyotard en ander. Olivier en sy trawante was egter 'n nul op 'n kontrak. Ek kan onthou hoe die res van die doserende personeel by Wits vir hulle gelag het, omdat hulle as heeltemal agterlik beskou is. In die terminale fase soos wat Ena Jansen dit beskryf, het Wits se Afrikaanse departement dus "anti-apartheidsletterkunde" - omtrent dertig jaar te laat - in Afrikaans probeer doseer. Dis om in jou hande van te huil. Dis geen wonder hulle kon geen studente trek nie. Waarom sou mens dertig jaar gelede se Engelse mode vandag in Afrikaans wou hoor? Iets wat ook nogal deurgeskemer het, is hoe bedreig die Stalinbos-kliek deur ons studente gevoel het, en hoe ons stelselmatig uitgesluit is. Die finale strooi vir my persoonlik was toe ek by my terugkeer uit Frankryk my doktorale proefskrif moes voltooi. Aanvanklik sou Ampie Coetzee my promotor gewees het, maar omdat hy toe reeds na UWK uitgewyk het, beland ek toe by niemand anders as Gerrit Olivier nie. 'n Meer rampspoedige situasie kan mense jou seker nie voorstel nie. Hier is ek nou pas terug van Parys waar ek Proust op die moltrein gelees en lesings van al die groot name in die Westerse wêreld bygewoon het, persoonlik onder Gilles Deleuze filosofie gestudeer het, en ek moet onder Gerrit Olivier wat nog hard probeer om die koloniale Engelse kode by Wits te probeer verstaan, promoveer. Op daardie stadium het ek nog in Standardbank se Tesourie gewerk waar ek opsies en termyne, meesal op die buitelandse markte, verhandel het. Soms moes ek Olivier aan huis gaan besoek en ek onthou hoe vies ek was om met een van my duur Franse pakke wat met groot sorg op my herbesoeke aan Parys uitgesoek is, op sy nie alte skone rusbank te moet gaan sit. Die ergste was toe ek een aand nog ontdek dat daar boonop vlooie op die rusbank was. Vandaar dus die titel van dié stuk: Gerrit Olivier se niksseggende toetrede tot hierdie debat verteenwoordig nie vlieë-afvangery nie, maar vlooi-afvangery. Uiteindelik is my proefskrif, "John Miles en die postmodernisme", na allerlei geredekawel aanvaar, maar sonder Olivier se goedkeuring! Ek het ontdek dat Olivier, benewens die feit dat hy 'n filistyn met vlooie op sy rusbank is, boonop in 'n benepe burokraat ontpop het wat 'n sadistiese behae daarin geskep het om sy junior kollegas of studente af te kraak of te benadeel. Op 'n keer het hy teenoor my oor iemand anders afgehaak, met sy oë wat so knip-knip soos hy sy kontaklense in posisie probeer hou: "So en so moenie magspeletjies met my probeer speel nie!" Agterna het dit tot my deurgedring dat Olivier gedink het omdat hy per ongeluk, by verstek as't ware, as my promotor opgeëindig het, hy in een of ander magsposisie oor my geplaas is en daarom gepoog het om my proefskrif te kelder. Miskien moet ek dit een of ander tyd op die internet publiseer, net om mense te wys hoe lyk 'n proefskrif wat Gerrit Olivier nie aanvaar het nie, maar die eksterne eksaminatore wel. Hierdie verteenwoordig agtergrondsinligting aangaande die wonderlike en vrysinnige Afrikaanse departement by Wits, net voor hy finaal sy deure sonder studente moes sluit. Indien elke nagraadse student soos ek behandel is, moes jy 'n masochis wees om hoegenaamd daar te wou studeer. Het Jansen, Van Niekerk of Olivier al ooit 'n enkele oorspronklike idee iewers kwytgeraak? Weet hulle iets van letterkunde of van literêre teorie? Selfs in 'n middelmatige Engelse omgewing soos dié van Wits, kon hulle nie die mas opkom nie. Ek het as ondergraadse student meer invloed op die Wits-kampus uitgeoefen via ons filosofievereniging en allerlei avant-garde publikasies waarvan daar by die Woordfees sprake gaan wees as waartoe Olivier en kie. oor jare as professore in staat was. Dit ly by my geen twyfel dat, indien die sogenaamde Afrikaanse dosente van Wits hoegenaamd iets interessants vir hulself te sê gehad het, hulle nou nog studente sou gehad het. Maar hulle kon eenvoudig nie aanpas by die veranderende omstandighede nie en sê nou nog dieselfde rympie op as dertig jaar gelede, apartheidsgrappe en al. Die tragedie is dat 'n hele stuk geskiedenis en tradisie hier in Johannesburg verlore gegaan het omdat ons Johannesburgers toegelaat het dat renegaat-Stellenbossers ons instellings kom vernietig het, net soos wat hulle binnekort ook met die Woordfees en Afrikaans op Stellenbosch self gaan doen. Stel dit so: afgesien van burgemeester Smangaliso Mkhatshwa en sy naamsverandering vir Pretoria, weet ek nie van drie mense wat Afrikaans al meer benadeel het as Marlene van Niekerk, Ena Jansen en Gerrit Olivier nie. Naskrif: Gegewe die feit dat die toekenning van eredoktorsgrade deesdae 'n belangrike onderdeel van ons land se universitêre kultuur geword het, wil ek prof. Gerrit Olivier hiermee in my hoedanigheid as lid van Wits se konvokasie vra om 'n eredoktorsgraad in Afrikaans aan mnr. Robert McBride toe te ken. Soortgelyk aan Braam Fischer, het McBride 'n belangrike bydrae tot die bevrydingstryd gelewer en, gegewe die onlangse waardes en strewes van die Afrikaanse departement van die Universiteit wat helaas nie meer bestaan nie, sal dit 'n gepaste gebaar wees om die graad D.Litt. honoris causa aan Robert McBride toe te ken. Ek onderneem ook om 'n aparte skrywe in dié verband aan prof. Olivier te rig. |
|||
|
|