|
|
|||||||
| chronologie
|
Die sekssultan en sy 1001 anglisismes Voor ek vergeet deur André P. Brink. Human & Rousseau, 2004. Ongeveer R150.
Toe iemand vir Gray vra, "Dink u die roman is outobiografies?" was sy antwoord: "Hoeveel spastiese Jode ken jy?" Die vraag of Brink se roman outobiografies is, kan seker op dieselfde manier beantwoord word, in die trant van: "Hoeveel Afrikaanse skrywers in hul sewentigs ken jy met 'n kompleks oor hul tanende viriliteit?" Eufemisties gestel, verteenwoordig André P. Brink se jongste roman 'n transponering van sy geliefdes binne fiktiewe verband. Volgens onderhoude met die skrywer is dit nie outobiografies nie, maar vermoedelik is alles daarin ook nie fiksie nie. Die hoofkarakter van Voor ek vergeet is 'n agt-en-sewentigjarige skrywer wat sy problematiek so verwoord: "Ek weet dat Goethe nog op vyf-en-sewentig 'n verhouding met 'n meisiekind van sewentien gehad het, vir wie hy een van sy mooiste gedigte geskryf het. En daar is die luisterryke voorbeelde van Chaplin en Picasso en Bertrand Russell en Chagall en Karajan en Mandela, en verder terug ou Vader Abraham, om nie te praat van Metusalem nie, wat kinders bly verwek het tot die Here weet wanneer. Maar die een of ander tyd, vroeër vir sommige, later vir ander, begin dinge hangkop raak; en nie net vroue nie, maar ook mans swig voor die donker geweld van swaartekrag. Van daardie eerste dag af, vyftien maande gelede, het iets in my, iets anderkant rede of praktiese oorweging, al aangevoel dat daar ná jou nie nog 'n vrou sou wees nie." (bl. 9) Die "jou" waarna daar oor en oor in die teks verwys word, is Rachelle, 'n veel jonger vrou van sewe-en-dertig waaraan die hele vertelling gerig word. Rachelle is egter getroud en daarom nie noodwendig beskikbaar nie. Ek sê "nie noodwendig nie", want die held van die boek, Chris Minnaar (sic) is 'n onvermoeibare Casanova wat onder normale omstandighede geen vrou, hetsy getroud of ongetroud, hetsy blank, bruin of swart, sou ontsien nie. By die lees van die boek het ek probeer telling hou van Brink se anglisismes, maar nie van Chris Minnaar se catalogue amoureux waarin een vrou na die ander omgeklits word nie. Stel dit so: in beide gevalle verteenwoordig dit eerder 'n kriekettelling eerder as 'n rugbytelling en baie ver van 'n sokkertelling af. Voordat ek verder oor Voor ek vergeet uitwei, wil ek die leser daarop attent maak dat hierdie eintlik meer as 'n resensie verteenwoordig. Benewens 'n uiteensetting en beoordeling van Brink se erotiese relaas, wil ek die boek ook situeer binne sy œuvre. Omdat Brink by uitstek 'n politieke of betrokke (engagé) skrywer is, stel dit vanself ook die outeur se politiek aan die orde. Politiek en seks loop hand aan hand in die boek, of eerder: politiek en seks kopuleer gereeld in die boek en die aard van die literêre telg wat dit oplewer verdien nadere ontleding. In die laaste instansie vel ek nie net 'n oordeel oor die roman nie, maar ook oor Brink se œuvre in die geheel en sy rol oor meer as vyf dekades in dit wat bekend staan as die Afrikaanse letterkunde, 'n begrip wat Brink waarskynlik vandag nie meer erken nie. Maar laat ek nie my betoog vooruit loop nie. Die sultan van kitsch Die Hongaars-Joodse skrywer Arthur Koestler het 'n besonder stormagtige liefdeslewe gelei wat gekenmerk is deur sy vinnige verwisseling van liefdesmaats. Hy het na sy versameling vroue en meisies as sy "harem" verwys. Ook Chris Minnaar beskik oor iets van 'n harem, weliswaar nie heeltemal soveel soos die voormalige Sultan van Turkye nie, maar steeds genoeg om hom as 'n soort literêre sultan te klassifiseer. Sy lang lys van minnaresse punktueer 'n opeenvolging van historiese gebeurtenisse wat soms komies aandoen. So byvoorbeeld ontmoet hy gereeld vroue tydens politieke betogings of verkiesings. Hy beland tydens 'n betoging aan die einde van 1989 kort ná sy terugkeer na Suid-Afrika vanuit Frankryk langs 'n bruin vrou genaamd Andrea Malgas met wie hy uiteindelik 'n verhouding sou hê, amper asof hy die nuwe Suid-Afrika oor die kleurgrens heen defloreer. Soos dit gestel word, "Op een of ander tydstip het ons agter gekom dat ons hande vashou. En later, andat die druisende strate tot rus gekom het onder die goedkeurende, onwrikbare massa van die berg, is ons uitgespoel deur die dag se golwe in die klein kothuisie in Observatory waar sy gewoon het." Hierna woon sy vir agtien maande by hom. Sedert Kennis van die aand beklee "seks oor die kleugrens" 'n besondere plek in Brink se werk: dit verteenwoordig 'n politiek-morele teken wat die betrokke karakter tipeer as behorende tot die deugdelike helfte van die mensdom, diegene wat moontlik hemel toe gaan. Ook tydens die 1994-verkiesing knoop Minnaar 'n geselsie aan met ene Jenny langs hom in die tou, waarna hulle soos "twee opdrifsels wat deur 'n woedende gety uitgespoel is" by sy huis aankom en met die trappe opstorm "en op elke treetjie 'n kledingstuk laat val." (bl. 219-220) Hoewel Chris Minnaar dus vanuit 'n feministiese oogpunt dalk as 'n chauvinistiese rokjagter getipeer sou kon word - self dink hy aan homself as 'n Don Juan, n.a.v. Don Giovanni deur Mozart - verlos sy bereidheid om ewe maklik met swart of bruin vroue seksueel slaags te raak hom van sy sondes. Terwyl blanke vroue in die boek soms geset, soms potsierlik, onnosel of wat ook al mag voorkom, is alle bruin of swart vroue binne die Brink-utopie beeldskoon, intelligent en trek hulle aan uit Gucci en Louis Vuitton se nuwe winkels in Sandton City. Die pornografie van apartheid Op 'n keer het die voormalige redakteur van Rapport, Izak de Villiers aan my gesê dat "Brink en Gordimer geteer het op die pornografie van apartheid". Hieronder wil ek ingaan op Brink se rol as (pseudo-)intellektuele figuur, maar binne die verband van Voor ek vergeet kan ons Brink sien as miskien die enigste konsekwente apartheidskrywer wat daar is, want hy doen 'n literêre potloodtoets op elkeen van sy karakters en die leser is voortdurend bewus dat dié of daardie 'n swartman, 'n swartvrou, 'n Kleurling, 'n Indiër, 'n Afrikaner, 'n Engelsman, ens. is. Terwyl die teks self 'n soort métissage bepleit waar almal vrylik met almal kopuleer en vermoedelik ook voortplant, is dit asof die erotiese verteller in die boek nie die politieke verteller van sy saak kan oortuig nie. Overgezet synde, terwyl almal in Chris Minnaar se bed "saam" is, word hulle steeds daarbuite "apart" gevorm, met die deugdelike, beeldskone bruines en swartes aan die een kant, en die meesal oorgewig en lelike blankes aan die oorkant. 'n Mens sou dus Brink se wêreldbeskouing as dié van "neo-apartheid" kon tipeer. In terme van dié siening was apartheid nie noodwendig verkeerd nie; dit het bloot die minderwaardige ras - die blanke - in 'n magsposisie gestel. Dus het ons nou gevorder van onnatuurlike of onregverdige apartheid na die natuurlike geregtigheid en neo-apartheid van swart oorheersing. Filosofies is Brink se wêreld byna net so interessant soos dié van Lewis Carroll. Dit verteenwoordig 'n absurde, fantasmagoriese universum waar allerlei eienaardige dinge gebeur en waar slegte Afrikaners soos monsters uit gate peul en goeie swartmense soos feë of kabouters oor die veld met sy madeliefies sweef om alles te kom regtower. Brink se gebrekkige taalgebruik "André in wonderland" sou 'n goeie titel wees vir Brink se hele œuvre vanaf Kennis van die aand en dis nodig om dié wonderwêreld van naderby te bekyk. Maar voordat ek daarby kom, moet ek die leser waarsku dat Voor ek vergeet dieselfde irritasie opwek as die gemiddelde TV-program in Kreools wat deesdae op die es-ei-bie-sie of op KykNet aan ons opgedis word. Die vernaamste stilistiese invloed op die bejaarde Brink is Jackie Nagtegaal. Verteenwoordig sy identifikasie met Kreools as "dialek van die jeug" 'n aanduiding van 'n verborge strewe om ook taalkundige viriliteit in die "loslit- oopgulp- en losmaag-Afrikaans" (Kas Landman) wat 'n sekere groepie Naspers-protégés deesdae so onbeholpe besig, terug te vind? Het Jackie Nagtegaal oor wie se taal en styl Brink nog laas in sy N.P. van Wyk Louw-gedenklesing so liries geraak het, vir Brink so betower dat hy nou dialoog skryf soos "Hy hét nogal 'n klompie stunning foto's van my geneem" (bl. 281) In 'n blye viering van Kreools word die woord "stunning", soos baie ander Engelse woorde, nie gekursiveer nie. Daar is trouens min Engelse woorde wat mens so 'n onmiddellike sooibrand-aanval gee soos "stunning". Dit is by uitstek die adjektief van mense met 'n sub-normale intelligensievlak. Wat is verkeerd met "uitstekend", "treffend", "fantasties" of wat ook al? Die tweetalige woordeboek van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra gee die volgende ekwivalente vir stunning aan: "bedwelmend, geweldig, reusagtig, puik, verbasend, verbasingwekkend"; 'n stunning blonde is 'n "blonde skoonheid", ens. Brink beskik tog oor hierdie en ander woordeboeke? Of moet ons die uitgewer en sy proeflesers daarvoor blameer dat soveel afskuwelike anglisismes die teks van Voor ek vergeet ontsier en die leser - veral die meer intelligente leser wat minder blootgestel is aan die kunsmatige Kreools van die es-ei-bie-sie en KykNet - nameloos irriteer? Omdat ek toevallig 'n pen byderhand gehad het om mnemonieke sleutelwoorde aan te stip, het ek na 'n ruk gevind dat ek byna elkeen van Brink se anglisismes óók begin neerskryf het. Hier is die lys wat ek gevind het en wat mens miskien aan Human & Rousseau moet voorlê tesame met die klag dat die taalversorging van hul boeke veel te wense oorlaat. Die betrokke bladsynommer verskyn voor elke woord: 15 Oorbruikte (overused) 22 belt (i.p.v. "gordel") 33 one-night stand sonder kursief 36 tease sonder kursief 38 fluïede 38 pirouette in die meervoudsin (i.p.v. "pirouettes) 44 doen ek maar my stukkie (do my little piece) 47 in die volheid van die tyd (in the fullness of time) 48 en i.p.v. "in" (setfout) 52 computer (wie in Afrikaans sê nog "computer"? almal gebruik rekenaar) 53 serieus (vir my gevoel geld dit in Afrikaans net in die Franse sin, m.a.w. "pligsgetrou, eerlik" en nie as sinoniem vir "ernstig" nie) 58 cognac i.p.v. die erkende Afrikaanse spelling "konjak" 63 top geblaas (blown his top) 65 dough-nut (oliebol, oliering, oliekoek) 85 depressed (terneergedruk, swartgallig, depressief) 88 bored (verveeld) 91 gemesmerise (vrot spelling en vrot woord) 91 welding (sweiswerk) 94 sperm (in die Engelse sin van "saad") 100 butler 102 full treatment, bondage 107 vir die dood die vinger wys (show death the finger) 108 tea girl 114 boyfriend 114 hotnos (pleks van "hotnots"?) 122 quickie 133 'n Bush in die hand 134 magic 142 understatement 170 big deal 176 tantrum (in plaas van "vloermoer" of dergelike) 177 champ 181 dignity 181 fat cats 203 kan nie 'n hond nuwe tricks leer nie 210 Kama Sutra (pleks van Kama Soetra) 218 arkane (Eng. woord arcane pleks van "geheimsinnig", "duister", ens.) 220 periode (period, in die sin van maandstonde) 227 memorabele (deftig, anglisisties) 233 agonieë (agonies) 240 Inspector 241 Carlton Centre (eerder Carlton-sentrum) 242 gatecrash 242 nice 246 affaires (soms spel Brink dit op Engels, soms op Frans) 251 affair (sien onmiddellik hierbo) 265 dirty little secret 272 junkie 273 fringe benefits 279 Cape Flats (i.p.v. Kaapse Vlakte) 281 stunning 299 decent 340 insekuriteit (insecurity) 361 plot (i.p.v. intrige, verhaalloop) 367 opgeshack 367 immorality 367 exit permit Toe ek 'n jaar of twee gelede 'n stuk in Beeld oor Brink se Anderkant die stilte geskryf het, het die politieke rubriekskrywer Lood vir hom in die bes getree en gemeen dat ek "nog niks geskryf het nie" en Brink die doyen van die Afrikaanse letterkunde met 'n twintigtal romans agter sy naam verteenwoordig. Ek is seker Ena Murray het al meer romans as Brink geskryf; wat saak maak is die gehalte of belang van Brink se produksie. Bogaande versameling anglisismes, om nie van die hinderlike clichés wat die res van die boek kenmerk te praat nie, sou miskien nog kon deurgaan as die taalfoute van 'n amateurskrywer, maar die feit dat Brink homself ook so dikwels aanmatig om as kritikus taalkundige standaarde te stel, maak dié vrotsige taal en styl onverskoonbaar. Die sekssultan en sy 1001 anglisismes 'n Alternatiewe titel wat Brink vir sy boek sou kon oorweeg het, is: Die sekssultan en sy 1001 anglisismes. Iewers is daar immers 'n verwysing na Sjeherezade, dus sou dit goed kon gepas het. Chris Minnaar - of sy alter ego Brink, wie weet? - mag tussen die lakens 'n onverbeterlike seksatleet wees; ongelukkig slaag dit nie op papier nie. Brink skryf oor seks soos die vele konserwatiewe plattelandse Afrikanertantes waarvan hy karikature in die boek aanbied. Is daar al enigiemand in Suid-Afrika wat haar man gedwing het om sy wynstokke uit te haal omdat dit kwansuis sonde is om te drink? Nietemin is dit wat Brink met sy gewone sin vir stereotipering aan die leser opdis. Dis geen wonder Brink het amper die Britse prys vir die slegste sekspassasie in 'n roman gewen nie. Die Europese erotiese literatuur wat reeds sedert antieke Athene bestaan en deur die eeue ontwikkel en verfyn is - vanaf die Milesiese verhale soos later deur Petronius gebruik is in die fragment oor die Efesiese weduwee uit die Satirikon, verby die Franse revolusionêre soos Mirabeau wat die hele genre verder gemoderniseer het, om nie van die vele negentiende-eeuse skrywers te praat nie - verteenwoordig 'n literêre soort met sy eie konvensies en norme. Hiervan verstaan Brink net mooi niks nie. Vir hom hou erotiek verband met apartheid; dit gaan daaroor om mense se begeertes oor die kleurskeidslyn in geykte vorm aan te bied, asof elke blanke man veral net daarvan droom om 'n swarte of 'n bruine in die bed te kry. Maar dit is weer terug te herlei na die "pornografie van apartheid". Indien Brink net oor seks probeer skryf het, om sy Casanova se verowerings en orgasmes aan die leser uit te stal, sou mens dit nog kon verdra. Die feit dat dit alles met 'n politieke geurtjie tussen die bekende politiek korrekte klokslae van "die nuwe geskiedenis van Suid-Afrika" soos dit deesdae op skool gedoseer word, plaasvind, laat dit juis ontaard in "pornografie", 'n sensasiebeluste en handelsgedrewe geskrif ontdaan van enige estetiese element en grootliks vir oorsese konsumpsie bedoel. Eintlik is dit lagwekkend dat Chris Minnaar telkens ná Sharpeville of Verwoerd se dood of Soweto 1976 of tydens die 1994-verkiesing weer 'n nuwe vrou of meisie raakloop. Indien dit as satire bedoel was, sou dit nog kon gewerk het, maar hier word dit - om een van Brink se hinderlike en pretensieuse adjektiewe te gebruik - "serieus" aangebied. Die gepoogde "filosofiese" gesprekke tussen die karakters oor Don Giovanni gaan mank aan enige werklike insig of idees. Mozart se opera, asook Don Juanisme in die algemeen, is 'n onderwerp waaroor daar al 'n magdom geskryf is, onder andere deur Kierkegaard. Chris Minnaar en Rachelle vergas ons egter op die soort pynlike gemeenplase wat mens gewoonlik in die Huisgenoot se "liefdeswenke" aantref. 'n Ander groot figuur uit die literatuur oor die onderwerp is natuurlik Giacomo Casanova self wat sy eie lewensverhaal in sy mémoires opgeteken het. Anders as by Brink, skryf Casanova egter met panache oor sy vele geliefdes. By hom gaan dit oor "inwyding" in die kuns van die liefde, maar ook oor 'n byna sosiologiese studie van die dekadente agtiende eeu waarin hy leef. Hy is naamlik besig om die waardes van sy tyd te skilder net soos wat Fragonard, de Launey, Le Brun en ander dit op die doek gedoen het. Anders as Brink, is Casanova nooit vulgêr of banaal nie. Die Venisiese verleier se mémoires beslaan agt bande in die uitgawe deur Garnier in hul klassieke reeks of 2000 bladsye in die allamintige slapband op dun papier met redelike fyn druk wat in 1993 by Arléa verskyn het; toevallig besit ek albei uitgawes. Onderliggend aan Casanova se herinneringe, is humor en deernis met sy vele amoureuse slagoffers. By hom vind 'n mens 'n bepaalde vrygewigheid, 'n joie de vivre wat sterk by Chris Minnaar, die venynige moralis wat aktivisskrywer geword het, makeer. Op 'n manier kan mens die man uit die Potchefstroomse Universiteit vir CHO haal, maar jy kan nie die Potchefstroomse Universiteit uit die man haal nie. Eens op 'n tyd, as ek reg onthou, was dans by Brink se alma mater verbode waar hy al sy vormende jare deurgebring het. Sy soveelste prul van 'n roman ly aan 'n substraat van moralisme wat so dik soos die sweet op 'n Amerikaanse lekeprediker se voorkop uitslaan. In sy vele karikature van die kleinlik moralistiese Afrikaner wat net wil Bybelstudie doen en glo dat seks en drank sonde is, projekteer hy eintlik net sy eie moralisme. Chris Minnaar - en Brink, neem ons aan - is "seksueel bevry" en beoefen dieselfde lewenstyl as die gemiddelde Zambiese vigslyer waarteen Paul Theroux in sy Dark Star Safari fulmineer ("seks met enigiemand van enige ouderdom op enige plek"), maar is 'n politieke puritein vir wie die wêreld 'n bose plek is waar lande oorlog maak en nasies of groepe met mekaar meeding. Brink se politieke moralisme Brink se politieke moralisme kom op ten minste twee maniere in die boek na vore: in die bekende en nou al so holruggeryde beelde van segregasie en apartheid en in die lukraak kommentaar op die Irakese oorlog wat geheel en al ongemotiveer die teks deurspek. Kastig volg Chris Minnaar die oorlog op televisie, maar eintlik gaan dit om een of ander outoriële selfbewussyn en Brink wat sy roman enersyds met aktualiteit probeer opkikker en andersyds die leser met sy eie linkse en politiek korrekte pasifisme wil beïndruk. Miskien het Brink marknavorsing gedoen en is die gemiddelde Britse of Sweedse sekretaresse wat sy boek op die trein gaan lees gekant teen George Bush en sy oorlog, maar die Afrikaanse leser wat daagliks aan groter geweld blootgestel is as die oorlog in Irak, herken dit as politieke moralisme wat met al die bulderende subtiliteit van daardie swetende Amerikaanse lekeprediker gelewer word. Chris Minnaar (en Brink?) is vir inligting en ontledings van die Irak-oorlog afhanklik van die TV, seker die es-ei-bie-sie, want in een van vele sulke passasies word daar op bladsy 372 die volgende kwytgeraak: "…Ek het uit voeling begin raak met die oorlog in Irak. Toe ek laas nag die TV aanskakel, was dit net betyds vir die aankondiging dat die oorlog verby is. Hulle was versigtig om nog nie van 'oorwinning' te praat nie. Maar al die tekens van keiserlike triomf was daar. Die klein meneer Bush met sy bitsige ogies het oor die skerm geskry soos een van daardie neerdrukkende laat-Romeinse keisers wat met groot gebaar die destydse wêreld regeer het terwyl hulle stilletjies in hul togas skyt uit vrees vir al die barbaarse gevare wat in die donker skuil. Die vergelyking met Rome is ter sake. As Caligula sy perd as konsul kon aanstel, is dit seker nie onvanpas dat die Amerikaanse Ryk in sy dekadensie 'n esel as president kan aanwys nie." Deur sy buikspreker Chris Minnaar is dit Brink die politieke kommentator wat hier praat. Wat mens ook al van George Bush mag dink, val dit op dat Brink verskriklik attent is op die Amerikaanse "dekadensie". Oor politieke sake nader tuis, soos Zimbabwe byvoorbeeld waar mense nie kos kry as hulle nie aan ZANU-PF behoort nie, of Mbeki wat gereeld 'n toeval oor die gehate wittes kry, heers daar 'n doodse stilte. Hy verkies sy politiek met afstandbeheer, dalk op CNN, en wil nie sy hande vuil maak met die veel moeiliker politieke kwessies in Suid-Afrika en Zimbabwe nie. As hy George Bush met Caligula vergelyk, waarmee sou hy Robert Mugabe of Thabo Mbeki wou vergelyk of een van die Kongo se rebelleleiers wat hulself aan kannibalisme skuldig maak? Sover ek weet, het George Bush nog nie Irakiërs gebraai en geëet nie; nietemin vind sulke dinge net enkele duisende kilometer ten noorde van die Limpopo plaas. Dit bring my nou by die wêreldbeskouing wat in hierdie en in Brink se vorige romans tot stand kom. Die paradoks van waansin Benewens tref-en-trap-seks, is Voor ek vergeet ook by uitstek 'n politieke roman. Vir Chris Minnaar (en Brink?) is daar nie so iets soos mededingende ideologieë of volke met verskillende belange nie. Nog minder is hy 'n Marxis wat die wêreld deur die bril van die klassestryd sien. As moralis is daar vir Chris Minnaar ander Manicheaanse kategorieë beskikbaar, dié van die goeie en die bose. Al Brink se politieke vyande is boos, onmenslik en wreedaardig. Soos in sy vorige meesterstuk oor die Duitse kolonialisme in Suidwes-Afrika, Anderkant die stilte, verteenwoordig omtrent alle blanke mans in Voor ek vergeet inkarnasies van Lucifer of Mefistofeles. Hulle verkrag of mishandel vroue voor die voet. Brink is besig om 'n baie interessante rasseteorie te ontwikkel. Is alle blanke mans boos en wreedaardig, of slegs dié van Germaanse afkoms? In Anderkant die stilte was alle Duitse mans boos; in Voor ek vergeet is dit Afrikanermans. Benewens Chris Minnaar wat 'n soort frats van die spesie verteenwoordig, is hulle almal ongenaakbare rassiste wat tierend agter vroue van alle rasse aanloop; iewers word hulle vergelyk met "honde". Blanke mans bekik oor een of ander aangebore fout en is geteel om moordenaars en verkragters te wees. 'n Hoogtepunt (of laagtepunt, afhangend van hoe mens dit sien) in die roman is waar 'n twintigtal Stellenbosse mansstudente 'n dronk vrouestudent probeer verkrag bloot omdat haar ouers nie die Nasionale Party ondersteun nie. Brink skryf hier van die mees manjifieke prosa wat daar nog in Afrikaans gekomponeer is en ek sou die leser van dié artikel 'n onguns bewys indien ek nie dié glorieryke gedeelte breedvoerig aanhaal nie: "Die man wat haar binnegestoot het, het haar onderklere oor sy kop gedrapeer gehad. Hy het haar van agter vasgehou, sy hande onder haar arms deur, en een knie onder haar boude opgestoot, sodat haar borste en heupe vorentoe gedu was. Ek sal nooit die skokkende kontras vergeet tussen haar yswit liggaam en die donker skaamhaar tussen haar bene wat niemand in daardie kamer nog gesien het nie. Die man het haar met 'n laaste geweldige stamp by die kamer ingedwing, sodat sy half op sy knie gesit het, wydsbeen, haar voete in desperate skopbewegings aan die trappel om te probeer grond raak. In die totale stilte wat hulle begroet het - net die musiek het nog in die kamer en dwarsdeur die koshuis bly dawer - het die man haar op die vloer laat val en hygend gesê: 'Hier's sy boys. Nou's dit julle kans om die fokken Sap te naai.' Dit was een van daardie tonele waar mens jou oë wil toemaak, en tog kan jy nie, want dit is asof hulle van binne af oopgesper word. Isolde het snaakse klein giggelgeluidjies geuiter, asof dit alles vir haar ontsettend snaaks was. Maar dit kon ook kermgeluide gewees het. Party van die manne het uit hul verbystering begin bykom en hul klere begin uittrek. 'n Gejuig het deur die kamer getrek. En toe het hulle begin skandeer, soos by 'n rugbywedstryd: 'Poes! Poes! Poes!'" Blanke en veral Afrikanermans word deurgaans, soos in dié passasie, as dierlik en wreed voorgestel; Einsaztgruppen wat vroue of swartes verkrag en vermoor. Hierteenoor is die swart mans in die roman gewoonlik kunssinnige denkers wat hulle met die bevrydingstryd besig hou. Die vraag is nie soseer hoe Brink se wêreldbeskouing met die werklikheid strook nie, want ek dink nie hy hou hom besig met die werklikheid nie. Dit gaan om 'n soort moreel-politieke fantasmagorie, 'n Middeleeuse moraliteitspel waarin God of engele kan verskyn en waarin enige ooreenkoms met die werklikheid ondergeskik is aan die didaktiese boodskap wat die skrywer wil oordra. Daarom beskik die roman oor sy eie logika wat baie ver van die Suid-Afrikaanse gegewe verwyder is. Dit kon net sowel tussen Laplanders of Japannese afgespeel het, so min ooreenkoms is daar met enigiets wat ons in ons daaglikse lewe ervaar. En tog, en tog… ek sou sê dat die roman in sy ontknoping sy eie feë-agtige fantasiewêreld ondermyn, want aan die einde kom Rachelle om ná 'n motorkaping. Die skuldiges is vermoedelik nie Afrikanermans nie, want die motor word in Khayelitsja gevind en nie in Belleville nie. Die enigste logiese afleiding is dat dit swartes - raar, maar waar - moet gewees het wat Rachelle se Golf gekaap het. Hoe op aarde is dit moontlik? wil die leser vra. Hoe op aarde het die kunssinnige denkers nou skielik in hul omgekeerde getransformeer en begin om vroue te kaap? Miskien is my ma 'n kameel Vir diegene soos ek wat poog om die "boodskap" - indien daar 'n boodskap is en dit nie een of ander slim intellektuele gekskeerdery is nie - agter die roman te ontsyfer, mag die volgende sin op bladsy 221 dalk die sleutel tot die hele roman verteenwoordig. Verwysende na die Irakoorlog, sê die verteller: "Miskien is die hele oorlog 'n illusie en gebeur dit nie regtig nie, behalwe op TV. Miskien het ek jou nooit liefgehad nie. Miskien is my ma 'n kameel." Wat beteken hierdie enigmatiese sin, "Miskien is my ma 'n kameel"? Is Brink besig om te sê dat die hele roman 'n oefening in solipsisme behels, met ander woorde dat dit gaan om die uitbeelding van die werklikheid as illusie? Die Irak-oorlog vind nie werklik plaas nie; Suid-Afrika bestaan nie werklik nie; niks kan werklik gekommunikeer word nie; en my ma is 'n kameel. Hier is nou 'n ander sy van Brink: Brink die solipsis en amateur-filosoof of -psigiater. Dit is nou benewens sy moralisme, wat aansluit by 'n baie ou tradisie in Suid-Afrika, dié van die negentiende-eeuse sendelinge wat hulle iewers in Engeland of Nederland tot 'n lewe vir Christus en evangelisasie bekeer het en terstond op die eerste beste skip geklim het om 'n naturellestam in Afrika te gaan bekeer. Hul legendariese fanatisme, ook betreffende die gebruik van tabak en sterk drank, is reeds in 1832 deur Charles Etienne Boniface gesatiriseer in sy stuk De Nieuwe Ridderorde of De Temperatisten. 'n Sleutelbegrip in die roman is dié van waansin. Op 'n manier is George W. Bush kranksinnig. Trouens, almal wat nie politiek links is of goedsmoeds met swart en bruin vroue seksueel verkeer nie, is gewoon "mal". Só ook P.W. Botha waarna op bl. 320 verwys word as "'n ongelukkige stuk vleis" en iemand wat "…oënskynlik besig was om al dieper in die welsand van dementia weg te sink". Brink of dan sy verteller Chris Minnaar, staan so radikaal afwysend teenoor die Afrikaner dat hy sou wou beweer dat die begrip self 'n vorm van versteurdheid of "dementia" verteenwoordig. Daar bestaan drie miljoen gevaarlike maniakke in Suid-Afrika wat hulself Afrikaners noem. Ons het reeds gesien hoe Stellenbosse mansstudente hulself in troppe van politieke verkragters organiseer wat die rebellegroepe van die Kongo, Liberië of Sierra Leone in die skadu stel. Op bl. 206 word daar gepraat van die "kollektiewe waansin" wat rondom die 1948-verkiesing "losgebars" het. Ironies genoeg word daar elders op dieselfde bladsy gesê dat "misdaad destyds … maar skaars was". Hoe is dit moontlik? Onder omstandighede van kollektiewe waansin onder Afrikaners, met troppe Afrikanerverkragters wat die strate soos Liberiese krygshere deurkruis, sou misdaad in 1948 nie veel hoër gewees het as vandag onder die redelike, besadigde regering van 'n kunssinnige denker soos Thabo Mbeki nie? Maar deel van die aantrekkingskrag van fiksie en ook die fantasiegenre van fiksie soos wat Brink dit beoefen, is seker die onoplosbare paradoks, die intrigerende anomalie. Brink voer dit nog veel verder, want net as die leser sterk onder die indruk verkeer dat kranksinnigheid soos dié waaraan die meeste Afrikaners ly, 'n negatiewe eienskap is, lees ons op bl. 366 in dieselfde paragraaf waaruit reeds hierbo aangehaal is: "Ons is saamgesleur deur die sang, ons het ons arms opgesteek en ons vuiste gebal - Amandla! Amandla! ngawethu! Viva! Viva! Viva! - in 'n vlaag van jeugdige waansin wat my vyftig jaar jonger laat voel het." Met ander woorde, daar is verskillende vorme van kollektiewe waansin. Te oordeel aan hoe Brink dit uitbeeld, behoort Eurosentriese kollektiewe waansin, nasionalisme, kulturele romantiek, Beethoven se Negende Simfonie, en dergelike, tot die "negatiewe" of "bose" vorm daarvan. Afrikanistiese of Afrosentriese kollektiewe waansin, soos dit so dikwels in onlangse tye op die kontinent gesien is, is goed en positief. Die kreet "Mag!" "Mag!" soos hierbo vermeld, hou selfs die moontlikheid van verjonging in. Miskien is eurosentriese volksromantiek inherent fascisties, terwyl die Afrika-orgie in sy vele vorme, hetsy as toitoi, hetsy as halssnoermoord of die anti-koloniale vernieting soos in die huidige Zimbabwe of Ivoorkus neerkom op "bevryding" en die noodsaaklike vrystelling van skeppende energie. As mens al hierdie filosofiese invloede op Brink na een denker toe moet herlei, sal dit seker Frantz Fanon wees wat in geweld en die terugkeer na oer-rituele 'n anti-koloniale reinigingsproses gesien het. Anders as J.M. Coetzee wat in die huidige maatskaplike geweld iets negatiefs gesien het, soos dit laas in Disgrace uitgebeeld is, verwelkom Brink as't ware die bevrydende orgie en sy skeppende vernietiging. Dit los ook vir ons die paradoksale slot van die roman op. Die meer onbedagsame leser sou Rachalle se dood ná 'n besering tydens 'n motorkaping kon lees as een of ander vorm van kritiek jeens maatskaplike geweld in Suid-Afrika. Veel eerder verteenwoordig Rachelle se dood "moetie vir die demokrasie", 'n offerande aan die huidige orde wat ons met blydskap behoort te betaal. Samehangend hiermee is dan die skuldgevoel oor Rachelle se dood wat by Chris Minnaar intree op bl. 380. Aanvanklik het Minnaar beplan om sy geliefde, wat in 'n koma verkeer, 'n genadedood toe te dien deur haar met 'n kussing te vermoor. Voordat hy dit egter kan doen, sterf sy vanself. Soos hy dit egter stel: "Maar die besluit was klaar geneem. Ek is so skuldig as wat ek sou gewees het ás ek dit gedoen het. Dis nie my skuld dat ek te laat was nie. Soos Rogozhin, het ek die vrou doodgemaak wat ek liefgehad het." Hier verwys Brink na Rogozin in Dostojefski se Idioot, wat uiteindelik die vrou doodmaak op wie hy verlief was. Met ander woorde, dit is nie die kapers wat vir Rachelle se dood verantwoordelik is nie, maar Chris Minnaar self wat 'n besluit geneem het om haar uit die koma te verlos, maar toe sterf sy voordat hy dit kon uitvoer. Van Sestiger tot Afrosentris Soos ons uit bogaande ontleding van Brink se jongste roman kan sien, het hy lank reeds enige vorm van oudmodiese logiese denke agtergelaat en bevind hy hom in 'n grillige Afrosentriese wêreld waar emosie en die "paradys van wreedheid", soos die Afrikakenner Stephen Smith daarna verwys, reeds lankal die oorhand oor enige vorm van Westerse logika verkry het. As mens nou terugkyk na Brink se mees onlangse romans, dan het Donkermaan gewik en weeg tussen tussen twee onversoenbare wêrelde, waarna Anderkant die stilte met fanfare die "bevrydingstryd" teen die Westerse beskawing aangeknoop het. Die alliansie van onderdrukte vroue en inboorlinge wat in Anderkant die stilte teen die blanke Duitse mans opruk, was simbolies van Brink se nuutgevonde bekering tot die militante Afrosentrisme van 'n Jean Bertrand Aristide, 'n Robert Mugabe, 'n Sam Nujoma of 'n Thabo Mbeki. Trouens, hoewel hy nog nie amptelik daardie status geniet nie, bied Brink hom as't ware aan as "hofskrywer" van die ANC. Die hoofmomente van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat saamval met Chris Minnaar se liefdesavonture, stem presies ooreen met die leerplan wat deur Kader Asmal vir die skole opgestel is. Ook in sy hiperboliese voorstelling van daardie geskiedenis, lê Brink hom neer by die Afrosentriese stylfiguur par excellence. Per definisie kan die boosheid van blankes, Afrikaners of verteenwoordigers van die Westerse beskawing nooit oordryf word nie. Brink se posisie binne die Afrikaanse letterkunde Waarskynlik bestaan daar lede van ZANU-PF of Kongolese rebellegroepe wat groot waarde aan Brink se skryfsels heg. Binne die Afrikaanse letterkunde het hy egter so te sê die einde van die pad bereik. Ek weet van baie mense wat Brink nie meer lees nie, omdat sy kwaadwillige karikature van Afrikaners aanstoot gee, enersyds, en weens die toenemend onbegryplike "inheemse" of inboorling-logika waarin hy hom begewe het, andersyds. Waansin en ander vorme van onrede mag op sy leeftyd "verjongend" wees, maar vir die res van ons is dit al moeilik genoeg om die absurditeite van die huidige orde te verduur sonder om dit nog willens en wetens in romans gepropageer te sien. By die lees van 'n boek soos Voor ek vergeet met sy powere taalgebruik, geykte styl, politieke clichés, Afrosentriese rasse-ressentiment jeens blankes, verguising van enigiets wat na Afrikaans en Afrikaners ruik, kan mens wel vra waarom Brink nog hoegenaamd in Afrikaans publiseer. Duidelik is die boek vanuit die staanspoor in Engels gekonsipieer en is dit vir 'n internasionale mark bestem wat moontlik uit onkunde die groteske voorstellings daarin sal opslurp. Ná alles is mev. Winnie Mandela steeds 'n heldin in vele oorsese lande; ook in dié roman word sy opgehemel omdat haar naam genoeg is om Rachelle se man, die fotograaf George Lombard, se lewe te red. Indien dit vir Brink bloot om geld gaan, en soos N.P. van Wyk Louw dit destyds n.a.v. Alan Paton en Nadine Gordimer gestel het, "om 'n nuttige dollar te verdien", kan ons hom dit seker gun. Gerugte wil hê dat sy vele egskeidings allerlei finansiële verpligtinge vir hom geskep het wat nagekom moet word. Maar kennelik bestaan daar nog mense in Suid-Afrika - en in Afrikaans - wat Brink as skrywer ernstig opneem. Ek dink daardie versameling mense word veral gedefinieer deur diegene wat nie een van sy onlangse romans te lese gehad het nie. Veral nie in Afrikaans met hul neiging na Jackie Nagtegaal-agtige Kreools nie. Brink se Engels, daarenteen, is nog suiwer Brits. Op die keper beskou, mag Brink 'n internasionale blitsverkoperskrywer wees. Ek is nie so bekend met die verkoopsyfers van sy boeke nie. Maar as literêre figuur in Afrikaans het hy sekerlik misluk, want niks van wat hy veertig jaar gelede as "Sestiger" voorgestaan het, het gerealiseer nie. In die laat sestigerjare is daar in die literêre tydskrif Kol gepraat van die "verbrinking van Sestig", met ander woorde dat Brink met sy self-adverterende vermetelheid die ander Sestigerskrywers in die skadu sou stel en die hele beweging sou verongeluk. Dit is min of meer wat Bartho Smit in die Kol van Augustus 1968 geargumenteer het, dat Brink "die hele Sestigerbeweging [wil] reduseer tot wat hyself daarin probeer projekteer het. En so 'n solipsistiese siening van 'n hele literêre dekade, so 'n ver-Brinking van Sestig, is nie alleen verspot nie maar ook misleidend." (Kol, jg. 1, nr. 1, bl. 6). Indien Bartho Smit vandag sou geleef het, sou hy waarskynlik die argument veel verder kon gevoer het. Want Brink het in sy peregrinasies van een Engels-Suid-Afrikaanse universiteit na 'n ander in 'n al hoe groter identiteitskrisis versink, totdat hy nou iets van 'n professionele hensopper en joiner geword het, 'n soort literêre huursoldaat wat sy dienste aan die hoogste bieër sal verhuur ten einde sy mede-Afrikaners te verguis en te stereotipeer. Voordat ek Voor ek vergeet gelees het, het ek gedink Nadine Gordimer is erg. Brink is egter 'n super-Gordimer, 'n soort literêre Goebbels van die eertydse Britse Ryk en huidige Afrika-empaaier van Mugabeki et al. Waarskynlik - en miskien kan een of ander joernalis hom daardie vraag vra - erken Brink nie meer die bestaan van die Afrikaanse letterkunde nie. Daar is mos nou net een "Suid-Afrikaanse letterkunde" wat soms die Engelse vertalings van Afrikaanse werke insluit en soms ook nie. As "tweetalige" skrywer maak Brink deel uit van hierdie nuwe letterkunde wat in 1994 by wyse van 'n staatsdekreet tot stand gekom het, dog die meeste van die Afrikaanse skrywers nie. Kan Brink dus nog as 'n "Sestiger" gesien word? Ek twyfel. Dit het beslis tyd geword dat ons meer krities na die periodisering in die Afrikaanse letterkunde sal moet begin kyk. Is daar nog iets soos "Sestig"? Een van die oogmerke van die Sestigerbeweging was immers vormlike vernuwing, waarvoor Van Wyk Louw die weg berei het met sy opstelle in "Vernuwing in die prosa". Nadat Brink rondgeval het met een of twee "eksperimentele" romans soos Lobóla vir die lewe en Orgie, het hy hom egter toenemend gewend tot 'n soort Angel-Saksiese realisme, selfs sosiaal-realisme in sy meer politieke romans soos Die kreef raak gewoond daaraan, wat 'n ellelange regverdiging vir stedelike terreur verteenwoordig. Daar is iets wat my nog altyd gekwel het aangaande die Sestigers. Toe ek in die sewentigerjare op universiteit gekom het, het ek die Amerikaanse letterkunde van die sestigerjare gelees wat toe toenemend postmodern begin raak het. In Frankryk het die hele Tel quel-beweging in die filosofie en literêre teorie gewoed met figure soos Barthes, Kristeva, Derrida, ens. Dit het nie gelyk asof die Sestigers hoegenaamd eens daarvan bewus was nie. Brink en ander was nog besig om hulself as eksistensialiste te probeer voordoen soos die Paryse intellektuele van die veertigerjare. Was Sestig dus een of ander koloniale agterna-beweging? Ons het so baie gehoor van die "menslike kondisie" en "die absurde", terwyl daar elders ter wêreld 'n hele ander problematiek aan die gang was (postmodernisme, dekonstruksie, kritiek op die Marxisme deur die nouveaux philosophes en dergelike meer). As daar nou een denkrigting was wat nog agterliker as eksistensialisme van die Sestigertipe was, was dit die salon-Marxisme van die Engels-Suid-Afrikaanse kampusse ná Terry Eagleton van Oxford se Engelse departement sy traktaatjie Marxism and literary criticism omstreeks 1976 gepubliseer het. Blykbaar is Brink, immer beïnvloedbaar, ook hierdeur ingesluk en vandaar die sjiek-radikalisme, Boerehaat, Afrosentrisme en pseudo-feminisme van sy mees onlangse werke. Die oorspronklike doelwit van die Sestiger-beweging, naamlik om 'n modernistiese vernuwing in die Afrikaanse letterkunde tot stand te bring, het vanweë Brink se bemoeienis en bekering tot die plaaslike variant van Oxford-Marxisme skibreuk gely. Terwyl sommige Sestigers, soos hulle sê, "verdienstelike werk" gelewer het (veral Etienne Leroux en Hennie Aucamp), het die beweging literêr-teoreties begin ontspoor juis op die stadium toe Brink al hoe meer die handelswaarde van apartheidspornografie begin besef het. Is daar enige Sestiger wat al iets samehangends oor die literatuurteorie te sê gehad het? Die gehalte van Sestiger-denke oor letterkunde moet vergelyk word met dié van 'n F.E.J. Malherbe wat in die dertigerjare reeds onderhoudend oor die literatuurteorie geskryf het in sy boek Lewensvorme. Tydens 1937 besoek hy Nazi-Duitsland en skryf 'n fassinerende opstel oor die literatuur- en kunsbelewenis van die Nasionaal-Sosialiste, net soos hy insgelyks oor "die Bolsjewistiese revolusie in kuns en literatuur" elders in die boek berig. Op bl. 82 praat hy van "die orals in Europa geldende dinamiese literatuurmetode, in teenstelling tot die ou psigologies-positivistiese literatuur-historiese metode". Totdat Terry Eagleton se traktaatjie die plaaslike Engelse kampusse in die laat-sewentigerjare getref het, was die "Europese literatuurmetode" in Suid-Afrika so te sê onbekend, behalwe natuurlik vir lesers van Malherbe en enkele ander. My punt is eenvoudig dat figure soos F.E.J. Malherbe in hul denke en begrip van letterkunde vir die Sestigers en veral vir Brink met sy afhanklikheid van die gemeenplase wat in die teekamers van Engels-Suid-Afrikaanse universiteite rondsweef, ver vooruit! Terwyl ons tans geneig is om die agteruitgang van die Afrikaanse literêre kultuur grotendeels aan De Klerk en Roelf Meyer se onbekookte politiek toe te skryf, wat gelei het tot die oorname van byna alle Afrikaanse instellings deur ANC-apparatsjieks, vergeet ons watter ongelooflike geleentheid die Sestigers gehad het om die Afrikaanse letterkunde op 'n nuwe, vooruitstrewende voet te plaas. Pleks daarvan, was die uiteinde 'n vevelige sikofansie, 'n na-apery van Gordimer en ander se apartheidspornografie, 'n terugkeer na 'n lokale sosiaal-realisme wat nie eens by die beste werk van C.M. van den Heever en Jochem van Bruggen kan kers vashou nie. Ten minste kon Van den Heever en Van Bruggen nog behoorlik Afrikaans skryf, terwyl dieselfde nie van Sultan Brink en sy 1001 anglisismes gesê kan word nie. As mens dink aan wat Afrikaans in die sestigerjare verteenwoordig het, dan maak dit mens eintlik woedend om te dink dat 'n onbekwame, dom, anglofiele, selfsugtige, publiteitsoekerige na-aper soos Brink hom met die Afrikaanse letterkunde moes bemoei en daardeur die wonderlike geleentheid wat daar destyds bestaan het, moes verbrou. Die sestigerjare, tydens en net na Verwoerd se dood was sekerlik by verre die hoogtepunt in die bestaan van ons taal en kultuur. Daar was 'n geweldige opbloei op alle terreine, op dié van die populêre kultuur van radio, tydskrifte, koerante, speur- en liefdesverhale, om van literêre vertalings nie te praat nie. Die geleentheid was daar vir iets geweldigs om in die die letterkunde te gebeur. Van Wyk Louw en ander het dit as't ware van jong skrywers geëis om "ons eie -isme" soos hy dit genoem het, die wêreld in te stuur. Toe verskyn André Brink op die toneel, met sy "appelborsies", soetsappige seks volgens die Potch-model en politieke opportunisme. Brink verteenwoordig die literêre ekwivalent van 'n Marthinus van Schalkwyk, 'n skaamtelose manteldraaier wat hom eenvoudig aan die kant van die sterkste skaar en die mees onbesonne of gemeenplasige idees klakkeloos sal herhaal asof hy hulle self uitgedink het. Gestel daar was in die Sestigerjare, pleks van 'n charlatan soos Brink en die ewe problematiese figuur Breytenbach wat sedertdien prima donna-agtig sy rug op "Afrikaans en die Afrikaner" gekeer het, werklike intellektuele in Afrikaans? Gestel daar was persone wat benewens 'n geesdrif vir letterkunde en kuns, ook politieke, filosofiese en ander insigte gehad het, wat kon bydra tot die openbare debat en die land moontlik in 'n nuwe rigting kon stuur, weg van rigiede en dikwels benepe apartheid, maar veral weg van die uiteindelike eerlose oorgawe aan die ANC en SAKP? Gedane sake het geen keer, sê hulle, maar aangesien dit deesdae mode is om die blaam vir "die verlede" rond te slinger, kan mens ewe maklik vir Brink en sy trawante verantwoordelik hou vir die gemors waarin ons op die oomblik verkeer. 'n Gebrek aan denke en veral 'n lafhartige onwil om 'n mening uit te spreek wat nie eers in Londen of New York "uitgeklaar" is en daarom nie die verkope van jou volgende boek sou benadeel nie, het gelei tot die politieke en literêre inploffing wat ons vandag ervaar en waarvan Voor ek vergeet of Anderkant die stilte die sieklike simptome verteenwoordig. Dertig of veertig jaar later moet die oordrewe aansprake van die Sestigers om dié moderniste in Afrikaans te verteenwoordig, verwerp word. Eintlik was die hele Afrikaanse beweging van meet af aan modernisties en in die dertigerjare was daar reeds meer "moderne" denkers - soos F.E.J. Malherbe of Van Wyk Louw - as Brink of Breytenbach. Hulle het veral meer van letterkunde en van denke verstaan. Toevallig was Malherbe een van Brink se vroeë kritici, wat deur Kannemeyer oor Lobóla vir die lewe soos volg aangehaal word: "…naas 'mooi dinge, goed geskrewe stukke' in die suiwer verhalende gedeeltes besware het teen die 'stortvloed van woorde, woorde, woorde wat weinig uitdruk, duisterheid of oorbodigheid, opsetlikheid en geforseerdheid, pastiche', terwyl die hoofpersoon 'in die geheel nog te veel teorie gebly (het)… soos trouens ook sy vermeende lobola aan die lewe in teorie bly steek het, want nie waaragtig genoeg met eie lewe betáál nie.'" (Kannemeyer, Gesk. van die Afr. Lit., bl. 390). Malherbe se besware van veertig jaar gelede kan net sowel op Brink se jongste publikasie toegepas word: pastiche som dit alles op. Ook die vele passasies pro domo waarin die skrywer Chris Minnaar kastig deur die Veiligheidspolisie lastig geval word en sy boeke kamtig gekonfiskeer word, is veronderstel om vir die buitelandse leser onder die indruk te bring van André Brink se heldhaftige rol in die mitiese "bevrydingstryd". Almal van ons weet dat Brink - soos Marthinus van Schalkwyk - in sy lewe nog nooit 'n risiko van enige aard geloop het nie, nóg op politieke gebied, nóg op literêre of filosofiese gebied, en dus as sewentigjarige nog nooit sy lobóla betaal het nie, 'n duiselingwekkende aantal vrouens en minnaresse in die letterlike én figuurlike sin ten spyt. Om André Brink te vergeet Marguerite Duras het op 'n stadium gesê dat Jean-Paul Sartre niks blywends geproduseer het nie en dat sy Marxistiese politiek geheel en al skipbreuk gely het. Maar ten minste het hy 'n boek Die syn en die niet geskryf, asook studies oor die Marxisme en Flaubert waarvoor mense hom sal onthou; dus is haar oordeel effe kras. Het Brink, daarenteen, enigiets van waarde aan Afrikaans toegevoeg? Dit wil sê: as mens nou die jongste Groot Verseboek buite rekening laat waarvan hy nie die skrywer is nie maar bloot die redakteur. En afgesien nou van sy strokiesprentagtige karikature van Afrikaners, swartes, apartheid en kolonialisme wat met groot omhaal van woorde in boek na boek opgestapel is? Myns insiens, en ek dink ek praat namens baie Afrikaanse lesers as ek dit sê, is André Brink se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde vergeetlik. Hy sal eerder in Engels onthou word as 'n soort manlike teenhanger vir Gordimer of 'n tweede Stuart Cloete wat met sy ewe stereotipe voorstelling van die Voortrekkers in Turning Wheels in die dertigjare laas aandag getrek het. Gaan enigiemand ooit weer Turning Wheels lees? Gaan enigiemand ooit weer Voor ek vergeet lees? Ek meen van nie. Brink was 'n verbygaande verskynsel. Die grootdoenerige pretensies waarmee hy hom in die sestigerjare voorgedoen het as 'n groot intellektuele leier, is sedertdien ontmasker vir wat dit is: blote bemarkingsfoefies vir iemand wat meer in die geld as in die beginsel belangstel. Uiteindelik weet Brink aan watter kant sy brood gebotter is en hy sal môre apartheid ondersteun as hy weet dit sal verkoop. As mens dit sê, kom jy ook onder die indruk van die volgende waarheid: Suid-Afrika beskik nie eintlik meer oor enige skrywers van formaat nie. Daar is enkele Engelstalige swart skrywers wat om politiek korrekte redes opgehemel word, maar twee van hulle is onlangs op 'n jong leeftyd dood: Mphe en Sello Duiker. Gordimer is bejaard, J.M. Coetzee het padgegee Australië toe, Karel Schoeman het sy Laaste Afrikaanse boek geskryf en Brink, wel, wie onthou nog vir André Brink, die ou wat so hatig teen sy eie mense was en toe sy harem vir die nageslag op skrif verewig het? Suid-Afrika beskik oor 'n vlag, oor 'n geldeenheid, 'n dubbeldoorvolkslied waarvan kinders die woorde in 'n spottery verander, maar geen letterkunde nie. Behalwe nou die Afrikaanse letterkunde, wat egter nie deur die nuwe base erken word nie. Myns insiens staan Afrikaans, hoe moeilik dit ook al deesdae met ons taal gaan waar een universiteit of skool na die ander "val" en verengels word, op die vooraand van 'n groot skeppende uitbarsting. Iets soos die "waansin" waarna Brink so neerhalend verwys en wat laas in die dertigerjare onder ewe moeilike omstandighede van armoede, armblankes en ondergeskiktheid teenoor die Engelse élite plaasgevind het. Opstand en rebellie was nog altyd bevrugtend vir die Afrikaanse letterkunde; lees maar Bart Nel. Deesdae is daar, danksy rassevoorkeure, weer armblankes. Daar bestaan geweld, beskawingsbotsing, Kulturkampf, tegnologiese revolusie, die internet en die diaspora in Australië, Nieu-Seeland en Kanada. Indien daar net drie skrywers in Afrikaans na vore kom wat gewapen is met 'n filosofie, 'n bereidheid om die meer onderdrukte kwessies "oop te skryf" en moontlik ook hul werk oorsee uitgegee te kry, kan dit potensieel 'n revolusie veroorsaak. In elk geval sal dit drie skrywers meer wees as waaroor die res van Suid-Afrika beskik. Brink is reeds 'n mindere aanhangsel van die Statebond-letterkunde wat iewers aan Amerikaanse universiteite bestaan. Iewers in Kaapstad kruip hy vir sy mede-Afrikaners weg waarteen hy al die jare in sy boeke soos 'n wafferse klein Goebbels 'n etniese propaganda-oorlog gevoer het. Ek dink nie ons gaan veel meer van hom hoor nie. Voor ons lê die grond braak om te kom met 'n radikale herwaardering van ons letterkunde en tradisie. Een van die eerste ongevalle gaan die opgesmukte Sestigerbeweging met sy mosterd-na-die-maal-eksistensialisme-wat-toe-uitgeloop-het-op-politieke-korrektheid wees. Die een-en-twintigste eeu moet in Afrikaans met werklike vernuwing binnegegaan word, nie die koloniale napratery van Brink nie. |
|||
|
|