chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Volksmoord en sensuur

Dan Roodt

Toespraak gelewer op 16 Junie 2005 by die Balmoral-konsentrasiekamp ter herinnering aan die afkondiging van Britse konsentrasiekampwetgewing op 16 Junie 1900

Suid-Afrika lê besaai met die konsentrasiekampkerkhowe van honderd jaar gelede. Tydens die Britse inval in ons land is ongeveer dertig duisend vroue en kinders op die afgryslikste denkbare wyse deur die Britte vermoor, iets wat 'n voorspel sou word vir die veel groter wandade van die twintigste eeu toe oorlog op burgerlikes en volksmoord as't ware deel van die internasionale kultuur geword het.

Maar ook in Afrika het volksmoord oor die afgelope dekade of meer aktueel geword. Die jaar 1994 is om verskeie redes in die onlangse Afrikageskiedenis belangrik. In die eerste instansie was dit die jaar waartydens die Rwandese volksmoord plaasgevind het toe een miljoen Tutsi's deur hul Hutu-vyande met panga's gedood is. Meer as enige ander gebeurtenis definieer hierdie menseslagting die jaar 1994. Ons kan ons nou nog nie die enormiteit van daardie gebeurtenis voorstel nie, hoe dit moes gewees het vir 'n hele bevolking om deur hul etniese vyande afgemaai te word nie. Terselfdertyd het 1994 ook vir die Afrikaner 'n tydvak ingelui wat historici vorentoe, soortgelyk aan die Franse Revolusie, as "Die Terreur" mag tipeer.

Nog nooit sedert 1899-1902 het soveel van ons mense so sinneloos gesterf nie. So pas gisteraand was daar op die televisie 'n berig van 'n baba wat met 'n mes in Kaapstad tydens 'n rooftog doodgesteek is. Volgens die verslaggewer het die vier rowers "byna as 'n nagedagte die baba doodgemaak". Sulke insidente het tydens Die Terreur volop geraak. Daar is moord, roof, verkragtings, selfs verkragtings van kinders en babas. Dit alles geskied onder die dekmantel van sogenaamde "demokrasie". Ek sê sogenaamd, want wat maak dit saak indien mense oor formele vryhede en regte beskik, as hul mees basiese mensereg, die reg op lewe, nie eerbiedig word nie? Ons weet dat 1600 boere sedert 1994 vermoor is, dikwels op die wreedste moontlike maniere. Die Terreur ontsien ook nie stedelinge nie; ons daaglikse lewe het 'n litanie van geweld en verskrikking geword.

Wat vir my persoonlik die ergste is van Die Terreur, is dat ons kinders in vrees moet grootword. So dikwels het ek al kinders gesien wat skrik as hulle 'n onverwagse geluid hoor, wat wonder of dit inbrekers of rowers kan vrees. Die skielike versombering op hul gesigte, hul onskuld waarvan hulle op jong ouderdom beroof word as hulle besef dat hulle in die mees gewelddadige land op aarde woon waar 'n lewe niks werd is nie, dit alles gryp mens aan die hart.

Miskien - wie weet? - bevind ons ons in 'n staat van oorlog. Soos in soveel ander Afrikalande, het niemand egter die oorlog verklaar nie. Dit het bloot uitgebreek. Net soos elders in Afrika, word dit nie tussen gewapende magte in uniform gevoer nie, maar grotendeels deur gewapende mans wat ongewapende burgerlikes, veral vroue en kinders, aanval. Oor die afgelope vyftien jaar het dit die nuwe betekenis van oorlog in Afrika geword, 'n offensief teen die weerloses.

Maar die vreemdste van hierdie soort oorlog, of hierdie terreur, is dat min mense daarvan praat en nog minder daaroor skryf of berig. Geen koerant sal wat ek vandag hier te sê het, publiseer nie. Behalwe miskien Die Afrikaner waarvoor ek 'n weeklikse rubriek skryf, maar dit is geen hoofstroomkoerant nie. Geen radiostasie behalwe moontlik Radio Pretoria sal sulke kommentaar uitsaai nie, want dit versteur die vredige illusie van demokrasie wat elke dag aan ons voorgehou word.

Rwanda was 'n land waar die meerderheid, die Hutu's, oor die Tutsi-minderheid regeer het en hulle ook dikwels uit die land verdryf het. Radikale Hutu's het hul eie President Juvénal Habyarimana, asook die Burundiese president Cyprien Ntaryamira om die lewe gebring deur hul vliegtuig af te skiet. Hoewel die volksmoord op die Tutsi's ongeveer twee jaar vooruit beplan is, is die afskiet van die vliegtuig op die Tutsi's geblameer. 'n Radiostasie bekend as Radio-Télévision Libre des Milles Collines het begin om anti-Tutsi propaganda uit te saai. "Maak dood die kakkerlakke!" is daar oor die eter gesê en binne 'n honderd dae is ten minste halfmiljoen mense op die afskuwelikste manier denkbaar vermoor, dit wil sê, ongeveer vyfduisend per dag. Agterna het mense kerke vol lyke ontdek van mense wat tevergeefs probeer het om by die priesters skuiling te soek. Vele Hutu-priesters in die Katolieke Kerk het egter lustig aan die volksmoord meegedoen.

Agterna het dit geblyk dat die wapens en kapmesse wat deur die volksmoordenaars of sogenaamde "génocidaires" gebruik is, deur die Wêreldbank en die IMF gefinansier is en as sogenaamde "landboutoerusting" ingevoer is. Elke volksmoord in die geskiedenis is beplan. Dit was so vir die volksmoord op die Boere van honderd jaar gelede en dieselfde het in 1994 gegeld toe een miljoen mense in Rwanda omgekom het.

Maar die aspek van volksmoorde wat vir ons miskien die vreemdste van almal is, is die feit dat mense nie daaroor praat nie, nie daaroor skryf of berig nie. Twee Fransmanne, die filosoof André Glücksmann en die joernalis Thierry Wolton, het iewers in die vroeë tagtigerjare 'n boek oor die Ethiopiese volksmoord onder Mengistu geskryf met die titel, "Silence, on tue", "Sjuut, ons maak dood." Groot volksmoorde geskied altyd in stilte, dikwels ook in die geheim en selfs jare daarna word daar sensuur oor die aard en omvang van die gebeure toegepas.

Trouens, mens sou kon sê dat sensuur en volksmoord hand aan hand gaan. Ons het almal grootgeword met die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog en die verhaal van die konsentrasiekampe, maar hoeveel van ons het ooit verneem dat die Britse soldate en hul gewapende swartes tot 35% van die Boerevroue en -meisies verkrag het? Hoeveel van ons het op skool geleer dat die Irene-konsentrasiekamp gereeld jong seksslawe vir die Britse offisiere moes lewer, waarvan sommige so oud soos tien of elf jaar was?

Jare lank is die volle verhaal oor die verontmensliking van ons vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog van ons weerhou, in die naam van versoening tussen Boer en Brit. 'n Mens kan dieselfde parallel na ons huidige situasie trek, waar die gruweldade wat daagliks oral in die land gepleeg word, grootliks verswyg word, weereens om "versoening" tussen wit en swart te bewerk.

Ongeveer tagtig jaar lank is daar sensuur toegepas op die Engelse gruweldade van 1900, net soos daar vandag sensuur gepleeg word sover dit die vergrype van ons swart landgenote betref. Sjuut, ons maak dood, het Glücksmann en Wolton gesê, 'n frase wat ewe seer op vandag se Suid-Afrika toegepas kan word.

As ons meer filofies daarna kyk, besef ons dat die projek "Suid-Afrika" 'n oefening is wat gedoem is om te faal. Want die ou-Suid-Afrikaanse identiteit wat deur Uniewording in 1910 geskep is, het op die sensuur aangaande die konsentrasiekampie en sistemiese ontering van die Boerevroue berus. Ons weet dat stilswye aangaande 'n misdaad gelyk gestel kan word aan aandadigheid. Almal wat gedurende die twintigste eeu die illusie van 'n blanke Suid-Afrikaanse nasie onderhou het en die ware feite aangaande Britse gruweldade verswyg het, het aandadig geraak aan daardie oorlogsmisdade. In daardie opsig was Suid-Afrika van meet af aan 'n kriminele staat, 'n volksmoordstaat wat slegs danksy sensuur en die onderdrukking van die geskiedenis tot stand kon kom.

In 1994 het die mediasirkus in Suid-Afrika toe ons pseudo-demokrasie met groot fanfare aangekondig is, die Rwandese volksmoord verdoesel. Terwyl die televisiekameras besig was om vir Nelson Mandela af te neem, was Radio Télévision Libre des Mille Collines besig om sy giftige boodskappe uit te saai wat tot die bloedbad in Rwanda sou lei. Soos die spreekwoord lui: "en geen haan sou daarna kraai nie". Eers jare later sou die wêreld stadigaan begin kennis neem van die werklike simboliese betekenis van 1994, daardie jaar van die dood en van volksmoord in Afrika.

Maar ook in 'n ander opsig is die nuwe Suid-Afrika en die identiteit wat dit benoem, op onreg gebou. Terwyl die vergrype of vermeende vergrype van die ou Nasionale Party ad nauseam aan die groot klok gehang word, word die totalitêre en bloedige geskiedenis van die ANC en SAKP ewe seer onderdruk en heers daar 'n groot stilswye daaroor. Die grondslag van die huidige bestel, wat tevergeefs probeer om sy valse identiteit op ons almal af te dwing, was dus weereens 'n groteske moment van sensuur, 'n leuen wat met sensasie en vlak emosies opgevysel is. Sedertdien het die gruweldade van die huidige bestel verdiep, tot waar dit vandag sinoniem is met 'n bloeddorstige nihilisme, 'n onverskillige wreedheid, 'n materialistiese moordlus wat heel goed met Rwanda, Ethiopië, die Kongo of ander voorbeelde van wat die "nuwe barbarisme" in Afrika genoem word, vergelyk.

Terwyl die graad van geweld wat tans in ons land woed, vrywel 'n volksmoord genoem kan word, is daar ook besig om 'n volksmoord in 'n ander sin plaas te vind: dit is naamlik kultuurmoord of etnoside soos dit in die Latynse tale bekend staan. Sedert 1994, die fatale datum toe die pangas van Rwanda die huidige tydvak in die Afrikageskiedenis ingelui het, het die ANC in Suid-Afrika hom ten doel gestel om die Afrikaner as volk en as entiteit uit te wis, hetsy deur ons uit die land te verdryf, hetsy deur ons van ons taal, kultuur, geheue en identiteit te ontneem.

Vele Afrikaners in die staatsdiens het al doodsdreigemente ontvang indien hulle dit durf waag om hul taal te gebruik. Sover dit Afrikaans betref, het Suid-Afrika weereens soos onder Kitchener en Milner, een groot konsentrasiekamp geword. Die kulturele logika van die ANC wat in die roes van 'n Afro-imperialisme handel wat op sy beurt op die Britse imperialisme gemodelleer is, kan 'n konsentrasiekamplogika genoem word. Dit is denke wat tussen die doringdrade van Springfontein, Brandfort, Bloemfontein, Irene en Balmoral se kampe ontspring het en nou anachronisties aangevuur deur Afro-totalitarisme besig is om oor die hele land wortel te skiet en te ontplooi.

Die vraag ontstaan nou: hoe bevry ons onsself van die konsentrasiekamp, van die heelal van dwang, hongersnood en geweld wat dit op ons afgedwing het, toe en nou? Afgesien van die fisieke weerstand teen jou moordenaar, jou verkragter, jou rower telkens as hy sy gesig wys, moet daar ook intellektuele weerstand teen konsentrasiekampdenke gebied word. Ons moet die gedagte dat ons tyd uitgedien is, dat ons verdien om as volk en as groep uit te sterf, hartstogtelik verwerp. Ook in eie geledere heers daar 'n verwoestende nihilisme, veral aan die kant van die Afrikaner-establishment en sy horde meelopers met die huidige regime.

Nie net is die begrip Suid-Afrika die resultaat van die konsentrasiekamp en veral die sensuur daar rondom nie, maar ons land het vandag, ten minste wat die Afrikaner betref, een groot konsentrasiekamp geword. Die soort gedrag wat 'n honderd jaar gelede die Britse soldaat en sy gewapende swart meeloper gekenmerk het, word op elke straathoek en op elke plaas aangetref. Maar weereens, soos 'n eeu gelede, heers daar stilte en sensuur hieroor.

Daarom is die eerste stap in hierdie stryd, as't ware 'n Derde Vryheidsoorlog, om die stilte te verbreek. Die stilte moet uitgedaag word. Ons mag nie langer stilbly oor die geweld en onreg wat ons mense teister nie. Elkeen wat kan, behoort voortdurend hieroor standpunt in te neem, in die plaaslike en internasionale media, in pamflette en geskrifte, in romans en gedigte, in films en dokumentêre TV-programme, by elke braaivleis of familiebyeenkoms.

Die Britse skrywer, George Orwell, wat in sy jong dae 'n kommunis was maar ná hy die vergrype van Stalin aanskou het, hom téén die twintigste-eeuse totalitarisme en konsentrasiekampe gewend het, het eenkeer gesê: "In 'n tyd waar die leuen oorheers, verteenwoordig dit 'n revolusionêre daad om die waarheid te praat." Daarom, in hierdie stryd, is die waarheid ons belangrikste wapen.

Dit ly geen twyfel dat daar vandag 'n tweespalt in Suid-Afrika heers tussen die baie ou Afrikanervisie wat na die negentiende eeu terug te voer is, waar elkeen die reg moet hê om homself te wees, om na eie wense sy kultuur en sy bestaan in te rig en die imperiale, totalitêre visie wat deur die konsentrasiekamp beliggaam word nie. Die ANC se denke, asook dié van die SAKP, verteenwoordig by uitstek konsentrasiekampdenke, dié van sosiogeniëring, van gedwonge verandering, van die uitwissing van tale, kulture en tradisies, die opsmelt van identiteite in die sogenaamde smeltkroes waar die kultuur van die laagste gemene deler sal oorheers.

Teenoor die identiteit van geweld en van volksmoord wat Suid-Afrikanerskap verteenwoordig, stel die idee van die Afrikaner soos dit deur Van Wyk Louw en ons ander groot denkers beredeneer is, iets edels en voortrefliks voor. Die Suid-Afrikaner is die sluwe en gewelddadige Raka, terwyl die Afrikaner meermale soos Koki lyk, draer van die lig en ligtheid, verfyndheid, vryheid en beskawing. Anders as die Britte en die Belge, en selfs die Franse, is ons die enigste volk van Westerse oorsprong wat nog nooit op 'n groot skaal mense in Afrika onderdruk of uitgewis het nie. Hierdie morele onkreukbaarheid, asook ons geskiedenis van mensliewendheid, van sending en diens aan baie ander mense en groepe in dié land, skep afguns en nyd. Die Afrikaner word nie vandag, soos honderd jaar gelede, gehaat omdat hy sleg of boos is nie, maar omdat hy goed is.

Juis omdat dit op geweld, intimidasie en dreigement gegrond is en omdat dit sonder inspraak op ons afgedwing is, kan ons die huidige bestel as fundamenteel boos sien. In elk geval kan so 'n bestel wat op volksmoord, ook in die sin van kultuurmoord of etnoside, afgestem is, nie anders as om boos te wees nie.

Benewens sy boosheid, is 'n ander aspek daarvan die vervreemding wat dit elke dag by ons wakker maak. Trouens, intense vervreemding is eie aan die konsentrasiekamp en 'n konsentrasiekampbestel soos dié waarin ons woon. Ons sien die tekens en borde rondom ons wat die propaganda of die bevele van die vyand bevat, en elke dag herinner dit ons aan ons gevangenskap, aan ons ondergeskiktheid. Die vervreemding van die konsentrasiekamp word in byna alle geskrifte wat in sulke kampe onstaan, aangetref. Ons vind dit in Tant Miem Fischer se Kampdagboek waar sy skryf op 29 Oktober 1901:

"Hier loop 'n kamppotjie [BCP = Burgher Camp Police] om die vroue aan te sê om te vee en die vuilgoed op te raap. Hy sê daar word 'n generaal verwag. Dié kom seker om sy verhewe siel met sy werk geluk te wens. Dit sou tog alte barbaars wees om vroue wat met klein of siek kinders in vuil sandtente lê, 'n rukkie met rus te laat nadat hulle van drie tot vyf dae in kaal trokke gesit het. Ag ja, van so iets sou sy beskaafde hart en verfynde senustelsel hoendervel kry. Die humane Britte, by wie se grootheid alles in die niet versink, kan wel na twee jaar - hul mag, gesteun deur Kaffers en verraaiers, aan twee klein republiekies verswak - 'n hoë bors aan 'n hoop vroue vertoon. Waarlik groot en edel! Dit is wel die moeite werd om beskaaf en Gode welaangenaam te wees! Nero sou 'n kind in Engeland se heldery gewees het; hy sou ten minste nie daaraan gedink het om so Christelik-mensliewend te wees nie." (bl. 57)

Uit die snydende ironie van Tant Miem Fischer wat Engeland se helde prys, spreek haar intense vervreemding van die Britse konsentrasiekamp. Op dieselfde trant skryf die Nederlandse Jodin, Etty Hillesum, oor haar ervarings in die Nederlandse konsentrasiekamp Westerbork tydens die Tweede Wêreldoorlog dat die "hele Europa langsamerhand één groot kamp word. Die hele Europa sal oor dieselfde bitter ervarings beskik. Dit sal eentonig word as ons mekaar die naakte feite meedeel oor uiteengerukte families, geroofde besittings en verlore vryhede. En oor doringdraad en stamppot kan mens ook nie veel pittoreske meedelings aan buitestaanders doen nie - ek vra my af, of daar nog buitestaanders sal oorbly, as die geskiedenis op haar ingeslane weg volhard."

Etty Hillesum sien die hele Europa as een groot konsentrasiekamp en vrees dat daar naderhand geen buitestaanders gaan oorbly wat sal verstaan hoe dit is om nié in 'n konsentrasiekamp te bly nie. In die jaar 2005 ken ons almal hierdie gevoel. Ons voel almal soos aangehoudenes en wonder of daar nog buitestaanders is wat sal verstaan hoe dit is om in 'n normale land te woon, 'n land waarin 'n mens veilig is, waar jy jou taal ongehinderd mag praat, waar jy jou kultuur, tradisies, geheue en identiteit sonder owerheidsinmenging mag onderhou. Die meeste Suid-Afrikaners het lankal vergeet dat so iets moontlik is; hulle is geïntegreer in die groot konsentrasiekamp wat Suid-Afrika genoem word; hulle leef agter doringdraad en in vrees; hulle ken geen ander lewe nie.

Maar as ons sulke konsentrasiekampgeskrifte lees, besef ons ook dat die woord en die waarheid vanself - nieteenstaande die feit dat die skryfsters binne sulke kampe aangehou word - 'n buitekant skep van waar daar ironies en skerp na die binnekant gekyk word. Daarom, selfs in ons donkerste dae van aanhouding in 'n konsentrasiekamp, wat ook die geestelike konsentrasiekamp van 'n Suid-Afrika mag wees, bly ons denke potensieel vry omdat ons ons buite daardie situasie kan verplaas en as buitestaanders daarna kan kyk.

Ek dink nie dit kom as enige verrassing as ek vir u sê dat ek geruime tyd nie meer met die benaming en die identiteit van "Suid-Afrikaner" - daardie uitvinding van die konsentrasiekamp - saamgaan nie. Met die grootste vrymoedigheid sou ek kon sê dat ek geen Suid-Afrikaner is nie. Dit maak van my 'n buitestaander in dié bestel, byna 'n staatlose burger want voorlopig behoort ek tot die geledere van die verowerdes, die verguisdes, diegene wat nie in tel is by die kamppotjies wat ons oppas en kyk dat ons kampe mooi netjies is vir die generaals wat besoek gaan aflê nie.

Net so is elke Afrikaner vandag 'n buitestaander. Daar word aan ons gesê dat ons nie hier hoort nie, dat dit nie ons land is nie, al lê die beendere van ons voorouers reeds eeue lank hier begrawe, en al het soveel van ons vroue en kinders in die verlede al die hoogste prys vir hul vryheid in Engeland se kampe betaal. Nou onlangs het 'n onderhoudvoerder van die BBC op die program "Hard Talk" aan mnr. Tony Leon gesê dat Suid-Afrika "aan die swartes behoort". Dit verteenwoordig waarskynlik hedendaagse Britse denke. Enige Zimbabwiër of Zambiër of Nigeriër wat oor die grens loop kan Suid-Afrika syne noem, maar ons word deur die room van die Britse joernalistiek as "buitestaanders" beskou, as mense wat maar elders 'n heenkome moet gaan vind want ons tyd is uitgespeel.

Ons kan sien dat hoe meer dinge verander hoe meer bly hulle dieselfde. Ek dink egter dat ons geweldig inspirasie kan put uit die moed en deursettingsvermoë van die Boerevroue van destyds wat die beproewing van die kampe deurstaan het met 'n edelheid en wilskrag waarvoor ons vandag verstom staan. En dit is ook reg dat Tant Miem Fischer die beskawing van die Britse generaal in twyfel trek, want die kamp en die volksmoord is by uitstek die wapens van die barbaar. Die volksmoordenaars van Rwanda of Ethiopië of van die huidige Suid-Afrika is barbare. Ons sien dit aan hul dade, aan hul woorde, aan hul vermetelheid en domastrante hoogmoed. Diegene wat suigelinge vermoor of kinders verkrag, is geen beskaafde wesens nie; hulle was dit nie 'n eeu gelede nie, en hulle is dit nie nou nie.

Hierdie opdrag om die beskawing, asook dit wat edel en kosbaar is, veilig na 'n volgende geslag oor te dra, word baie mooi deur Van Wyk Louw in sy gedig "Ons moet die bitter taak" verwoord:

Ons moet die bitter taak en teken dra

en uitverkoornes wees tot leed en stryd,

om tussen duisende – wat glad verward

in mindere vreugde is, en wild en willoos

deur die strate van hul leë kermis skreeu –

swygsaam en streng soldate op wag te wees.

Ons vra geen einde vir ons diens, of rus

vir ons, want ons weet dat erns en tug en trots

en ál wat hoog is, alles wat ‘n lewe

mooi laat voer, soos glans is vir die blinde

aan dié wat óm ons spoel, die veles. (Nog

is ál die beste op aarde klein van kragte,

nog is net enkeles sterk en hard gevorm

tot vastigheid, waar alles vloeibaar is.)

Skaamteloos skreeu hul en noem hul luste waarheid,

hul onmag mooi, hul smadelike deug

iets edels, en prys dit vir die mark.

Maar tussendeur  loop ons ‘n vreemde pad

wat nie begryp word, en sonder hoon of wrok,

want deernis is die wese van ons taak,

en die hoë wete dat ons, afgeskei,

nog diep verwant is aan hul blinde pyn.

Ons het alleen ons werk, en nêrens deel

aan wat húl waarde noem. Ons ken die swye,

ons hou net enkele woorde tot ‘n wet

wat onverbiddellik is, deursigtig, klaar;

en trou alleen aan die hoogste wat ons ken,

meer as aan vriend of broer, dat ons die Edele

en Kosbare veilig deur die skare dra.

 

 

Boontoe