chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Globalisering en kultuur

Deur Dan Roodt (Referaat gelewer op 27 Maart 2000 by die KKNK, Oudtshoorn)

In Januarie vanjaar was ek oudergewoonte op besoek aan Parys, die stad waar ek afgesien van Johannesburg nog die langste in my lewe gewoon het. In 'n pizzeria in die Latynse buurt het die restauranteienaar, 'n Italianer, aangehou om my in Engels aan te spreek hoewel dit vir hom duidelik was dat ek Frans magtig was. Tien jaar gelede sou dit nooit gebeur het nie. Amerikaanse toeriste was tevrede om hulself met gebaretaal verstaanbaar te maak, en die kassiere by die moltreinkaartjieskantoor het ongestoord aanhou Frans praat al skree enige Engelse besoeker so hard as hy kan op haar in 'n poging om die kommunikasiegaping te oorbrug. Deesdae praat dieselfde kassiere waarskynlik gebroke Engels.

Die term wat die Franse gebruik vir die ervaring van te reis is "dépaysement", letterlik 'n "ontheemding"; dit omskryf daardie gevoel van vreemdheid wat 'n mens ervaar indien jy 'n ander kontrei, 'n ander land betree, want nie net praat die mense daar 'n ander taal nie, maar hulle eet ander kos, het 'n ander karakter, 'n ander lewensritme, ander gewoontes. Die Engelse Romantiese digters soos Byron, Keats en Shelley moes een en almal Italië toe gaan om daardie ontheemding te ervaar, daardie skud van die eie perspektief, om agterna hul passievolle verse te kan skryf. Ook in die Afrikaanse letterkunde was daar by tye 'n ontdekking van ander kulture, soos byvoorbeeld dié van die San by Eugène Marais of die Mediterreense kulture by Uys Krige en die Sestigers, wat agterna vrugbaar verwerk is in hul eie taal. Hierdie kulturele wisselwerking en kruisbestuiwing wat in die literêre teorie as intertekstualiteit bekend staan, lyk egter asof dit binnekort nie meer moontlik gaan wees nie, want almal gaan een globale kultuur hê wat deur die ikone van globalisering soos MacDonald's en Coca-Cola oorheers gaan word. Om te reis word meer en meer 'n ervaring van eenselwigheid, want alle wêreldstede begin meer en meer dieselfde lyk met dieselfde winkels vol ware van oraloor wat onder dieselfde globale handelsmerke verkoop word.

Om dus dieselfde ervaring van dépaysement te verkry sal 'n mens dan moet wag vir bekostigbare ruimtereise, hoewel daar natuurlik geen mensekultuur in die ruimte is nie. Die klippe op die maan is net klippe, hoewel eksoties, onaards, maar hulle sou beswaarlik 'n Byron of 'n Shelley kon inspireer met die sensualiteit, die lyflikheid en andersheid van 'n Italië.

Globalisering kan tegelyk as gemeenplaas en as siekte van ons tyd beskryf word. Ek het onlangs 'n bietjie meer filosofies na die verskynsel gekyk, en omdat ek, anders as dosente en politici, 'n broertjie daaraan dood het om myself te herhaal, wil ek vandag net hier en daar, asook kortliks, na my vorige argument verwys eer ek poog om spesifiek die kulturele moment van globalisering te omskryf.

Miskien is dit 'n goeie plek om met 'n analise van die verskynsel te begin, want daar is verskillende maniere van kyk, of perspektiewe daarop. Soos by Leibniz se idee van die monades wat mekaar wedersyds uitsluit, sal almal saamstem dat die kulturele, talige, ekonomiese, kommunikatiewe, tegnologiese en finansiële momente van globalisering nie dieselfde is nie. Dit is soos om te sê dat 'n mens nie 'n gedig met behulp van 'n ekonomiehandboek kan ontleed nie, of andersom nie die werkinge van die finansiële markte met 'n kennis van Latyn kan verstaan nie. Latyn was eens op 'n tyd 'n wêreldtaal, en leef steeds voort in vele Westerse tale. Die woord globaal, tewens, is afgelei van globus, wat in Latyn 'n ronde voorwerp of sfeer beteken, of dan in 'n meer subtiele onderbetekenis, 'n ronderige bal of samevoeging van dinge. Laasgenoemde meer poëtiese betekenis word in die sogenaamde post-Augustiniaanse prosa en poësie aangetref, en nie in Caesar of Cicero se geskrifte nie. Maar natuurlik is globalisering soos ons dit gebruik 'n ietwat anglisistiese vertaling van die Amerikaanse Engels, "globalization". Ek wil nou die verskillende momente van globalisering bespreek, en uiteindelik terugkeer na die kulturele, wat my onderwerp vandag is.

1) Ekonomiese globalisering

Soos ek dit al voorheen gestel het, is globalisering die vryhandel in dienste en goedere, asook die vryvloei van kapitaal, wat veral tydens die negentigerjare en die sogenaamde Uruguay-rondte van samesprekings tussen die lidlande van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) bewerkstellig is. Ekonomiese globalisering is egter die gevolg van veral twee prosesse: die oorwinning van die liberaal-demokratiese staatsvorm oor die sosialistiese aan die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van nuwe tegnologieë soos byvoorbeeld die Internet wat 'n globale kommunikasienetwerk van alle gekoppelde verbruikers teweeggebring het. Globalisering lei tot skaalekonomieë en omdat ondernemings kan arbitreer tussen lande en jurisdiksies wat betref arbeids- en finansieringskostes, werk dit optimale benutting van hulpbronne in die hand.

2) Finansiële globalisering

Finansiële globalisering is, ironies genoeg, aanvanklik 'n hupstoot gegee deur die goudstandaard wat ná die Tweede Wêreldoorlog by Bretton Woods ingestel is. Toe die goudstandaard aan die einde van die Sestigerjare wegval, het valutahandel in swewende geldeenhede die plek daarvan ingeneem. Tot onlangs is lande in Oos-Europa uitgesluit van globalisering aangesien hul geldeenhede sogenaamd onverwisselbaar was. Die geweldige groei van valutahandel tot en met 'n vlak waar die ekwivalent van die Amerikaanse jaarlikse Bruto Nasionale Produk van ongeveer 8000 miljard dollar elke dag op die valutamarkte verhandel word, gee 'n idee van die omvang van hierdie aktiwiteit. Trouens, die valutamark is die grootste mark op aarde, groter as enige mark in aandele, effekte of enigiets anders. Daar word bereken dat 90% van alle valutahandel spekulatief van aard is, en dat slegs 10% gekoppel is aan reële invoer- en uitvoertransakies.

Voeg hierby die ontwikkeling van markte in allerlei finansiële afgeleides soos opsies en rentekoersruiltransaksies wat eweneens fenomenaal gegroei het tot 'n web van verbintenisse en verpligtinge tussen banke wat die hele wêreld se finansiële stelsel as't ware interafhanklik maak - die sogenaamde "sistemiese risiko" waarvan daar dikwels gepraat word - en dit is duidelik dat globalisering op hierdie terrein nog veel verder gevorder is as op enige ander. Ook die onstaan van die sogenaamde Euro-markte wat in 'n groot mate aan nasionale regulering ontkom, het gelei tot so 'n groot mate van oor-en-weer befondsing in verskillende geldeenhede dat die mees eksotiese kombinasies van kruisvalutabefondsing gedoen kan word. Vanaf 1995 toe Merrill Lynch die eerste Euroranduitgif gedoen het, het instansies soos sekere Duitse banke, die Sweedse regering en die Wêreldbank hulself by geleentheid in Suid-Afrikaanse rande befonds en het globale beleggers dus geld in rand geleen aan hierdie instansies. Onderliggend aan transaksies van hierdie aard is komplekse ruilooreenkomste en verskansings van risiko wat met behulp van sogenaamde afgeleides gedoen word. Een so 'n lening kan dus 'n kettingreaksie van vier of vyf ander transaksies veroorsaak wat die hele proses verder internasionaliseer of "globaliseer".

3) Kommunikatiewe globalisering

Hoewel die internet, rekenaarnetwerke, telekommunikasie en informatika vandag die mees ooglopende manifestasie van kommunikatiewe globalisering verteenwoordig, moet 'n mens nie vergeet dat die koste van vervoer beide per lug en per see oor die afgelope vyftig jaar ook drasties afgeneem het nie, danksy behouering, verbetering in skeepvaart, ens.

Maar natuurlik hoef 'n mens net daaraan te dink dat die koste van 'n eenminuut-transatlantiese telefoonoproep tydens die veertigerjare ongeveer 'n paar honderd dollar was, om te besef dat die ontwikkeling van telekommunikasietegnologie tot waar honderde e-posboodskappe vir 'n paar sent oor die hele aardbol versprei kan word, die grootste enkele dryfveer agter globalisering is. Inligting bestaan reeds in die kuberruimte wat aan geen spesifieke land gekoppel is nie, en is in wese al globaal.

4) Tegnologiese globalisering

Samehangend met kommunikasie, is daar natuurlik die elektroniese tegnologie waarsonder dit nie sou kon bestaan nie. As 'n mens daaraan dink dat die eerste persoonlike rekenaar maar eers in die jare sewentig gebou is, is dit verstommend hoe 'n produk waarvoor die grote IBM van mening was dat daar geen mark daarvoor bestaan nie, die wêreld binne net twee dekades kon omvorm soos geen oorlog of maatskaplike revolusie nog voorheen kon regkry nie. (In ons eie land het Telkom, soortgelyk aan IBM, gemeen dat die mark vir selfone uiters beperk was en dat daar hoogstens 18000 mense in Suid-Afrika sou wees wat 'n selfoon sou wou aanskaf.)

5) Talige globalisering

Die enigste universele tale is waarskynlik masjientale of rekenaartale. Sodra 'n mens egter van natuurlike taal praat, kom 'n hele aantal kwessies ter sprake wat in 'n groot mate ontkom aan globalisering. In die meer onlangse filosofie was daar sprake van "eindigheid". In die eerste plaas is die menslike lyf, asook ons lewens, eindig. In weerwil van ons elektroniese proteses, ontkom ons nie aan ons biologiese aard nie. Ook die aardbol, die globus of sfeer, is eindig. Natuurlike taal, selfs 'n sogenaamde wêreldtaal soos Engels, is dus beperk in die sin dat dit steeds deur biologiese wesens, primate, gepraat word. In daardie sin is daar geen verskil tussen die spreker van 'n sterwende San-dialek soos dié van die Komani, en 'n spreker van Engels wat 'n oënskynlik dominante taal praat nie. In 'n sekere sin is beide beperk deur hul aard as soogdiere wat deur 'n langsame proses hul moedertaal moet verwerf. Vanuit 'n sekere gesigspunt kan mense ook as masjiene gesien word, en daar is mense wat beweer dat ons binne die volgende enkele jare masjiene gaan skep wat ons uiteindelik mag oorheers, maar dié masjiene gaan nie Engels praat nie, net so min as wat atome of molekules met mekaar in Engels kommunikeer.

Selfs al word Engels dus vandag deur 400 miljoen moedertaalsprekers gepraat wat gesamentlik 40% van die wêreld-BNP produseer, en verstaan 'n geskatte 1,7 miljard mense dié taal, kan dit nie pretendeer tot universaliteit nie. In die filosofie, veral in die wetenskapsleer is dit min of meer aanvaar dat daar nie iets soos 'n metataal bestaan nie. By gebrek daaraan, is almal gevange in 'n sekere kulturele paradigma of wêreldbeskouing wat dié van die Engelssprekende nie noodwendig meer geldig maak as dié van die Komani-Sanspreker nie. Betekenis of sin is iets anders as goedere of ekonomiese uitset of selfs kapitaal, wat ons kan kwantifiseer. Taal en betekenis is in 'n sekere sin onkwantifiseerbaar. Die Franse filosoof, Jean Baudrillard, het ietwat ironies beweer dat Amerika, die wêreld se grootste en rykste land, primitief is. Een van die aanduidings van Amerikaners se primitiwiteit is die feit dat hul televisiestelle altyd aan is, selfs al kyk hulle nie daarna nie, as 'n soort gerusstelling, net soos wat die primitiewe mens rondom sy kampvuurtjie gehurk is. Na my mening is natuurlike taal verwant aan ons biologiese primitiwisme. Geen mate van tegnologiese ontwikkeling kan ons eie langsame evolusie verhaas nie, en om te dink dat een taal meer "modern" of meer "globaal" as 'n ander is, is om hierdie belangrike punt uit die oog te verloor. Alle produksie en alle konsumpsie op aarde geskied om mense se biologiese behoeftes te bevredig. Selfs ons simboliese behoeftes, die modes, handelsmerke, ens., wat skynbaar tot ‘n ander orde as honger, dors en seksuele drange behoort, is nog steeds verwant daaraan. Binne die Freudiaanse psiogoanalise byvoorbeeld, is mense se verlangens en begeertes na mag en aansien, hul fiksasie met voorwerpe wat fetisjisme genoem word, alles terug te herlei na oerbegeertes, waaronder veral die seksuele. Dit bring my nou by die eintlike deel van vandag se bespreking, naamlik kulturele globalisering.

6) Kulturele globalisering

Op kulturele gebied is globalisering eintlik ‘n paradoks. In ‘n sekere sin word die globaliseringsproses aangevuur deur die mens se behoeftes, en dan in die besonder sy behoefte aan meer en meer diverse goedere en dienste. Miskien het die wêreld reeds begin globaliseer toe Marco Polo oorland met China kontak gemaak het, en sy na die Weste gebring is, of toe die Hollanders en ander speserye vanuit die Ooste na die Weste per see vervoer het. Interkontinentale handel het die eerste impuls verskaf vir die proses wat in ons tyd gekulmineer het op die internet vanwaar ‘n mens enigiets van watter plek ookal op aarde met ‘n kredietkaartnommer kan bestel.

Die paradoks van globalisering is daarin geleë dat, pleks daarvan dat die aanbod, of dan die verskeidenheid daarvan, vergroot soos in die dae van Marco Polo en die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie, verklein dit tans. Neem as voorbeeld die verskaffing van nuus oor die res van die wêreld. ‘n Mens sou dink dat die toename in goedkoop kommunikasie ook ‘n gelykstaande toename in diverse nuus- en inligtingsbronne sou veroorsaak, maar nee. Finansiële globalisering vereis groter en groter ekonomiese eenhede, en die afgelope tyd is gekenmerk deur reuse-samesmeltings, in die bankwese, in die motorvervaardiging, en in die media. Kort na die uitvinding van die motorkar was daar ongeveer 1000 motorvervaardigers. Sedertdien het die aantal konstant afgeneem, en ‘n mens kan voorspel dat daar onder druk van globalisering oor die volgende paar jaar net drie of vier globale motorvervaadigers gaan oorbly. Wat die media betref, het ‘n waarnemer in die New York Times die volgende opgermerk, in reaksie op die oorname van Time-Warner deur AOL:

"But there is another, subtler risk in the potential synergy this kind of merger represents. The residual gravity of such an enormous corporation - its ethos, its habits - will take a toll on creativity, in content or business operations, all the way down the line. Call it an efficiency tax, the edge that vanishes when everything is tailored for the pipeline, so to speak. No matter how you spin it, this merger, like other, similar mergers in the past few years, represents a move toward uniformity and away from diversity, toward the globalization of a consumerist, mass culture that is best purveyed by globalized mass corporations." (Verlyn Klinkenborg, soos aangehaal in die New York Times, 15 Januarie 2000)

Die massakultuur waarvan daar hier gepraat word, is dus ewe seer ‘n bedreiging vir almal op aarde, ongeag ons eie taal- en kultuurverband. Mense se identiteit hang af van dit wat Freud die "narcisme van klein verskille" genoem het; ons hunker na diversiteit en differensiasie. Die ergste vorm van totalitarisme sou wees om iewers in ‘n enorme polisiestaat bloot die spreekwoordelike "nommer" te word, dit wil sê, om so eenvormig behandel te word dat ‘n mens geheel en al deïndividueer. In die vroeë romans van Etienne Leroux soos Die Mugu, is daar die problematiek van die individu wat homself moet vind te midde van ‘n moderne wêreld wat ‘n uniformiteit op hom afdwing; as die mugu deur ‘n sogenaamde individuasieproses gaan, word hy volledig mens en verwerf hy sy vryheid teenor die maatskaplike sisteem. In die mate waartoe globalisering ons deïndividueer en onderworpe maak aan ‘n globale maatskappy en sogenaamde megaondernemings, maak dit ons juis onvry.

Die kulturele uitwerking van globalisering is in menige opsig soortgelyk aan die uitwerking daarvan op die ekologie: dit lei tot ‘n monokultuur en ‘n afname in diversiteit. Binnekort sal die toeris na enige plek op aarde kan gaan, en hy sal dieselfde kos te ete kry, almal sal hom in dieselfde taal aanspreek, en hy sal geensins meer dépaysé voel nie. Trouens, hy sou net sowel by die huis kon gebly het, want daar sal geen ander kultuur meer wees om te ontdek nie.

Globalisering en modernisme

Indien daar reeds iets bestaan soos ‘n globale kultuur, moet ons dit analiseer in terme van die modernisme. Vooruitgang, veral ekonomiese en wetenskaplike vooruitgang, is ‘n opvatting wat eie aan die modernisme is. Globalisering kan dan gesien word as ‘n gevolg van die historiese progressie wat ons met vooruitgang assosieer. Meer onlangs is daar gepraat van post-modernisme (Jean-François Lyotard) of van die einde van die geskiedenis (Francis Fukuyama) om die verskuiwing te benoem wat, onderskeidelik, deur inligtingstegnologie en deur die val van die Berlynse muur en die wêreldwye swaai na liberale demokrasie, ook in Suid-Afrika, teweeggebring is.

Die probleem met albei hierdie sienings is dat kultuur bedink word, hetsy vanuit die ekonomie of dan die wetenskap, alles wat te make het met die inligtingsrevolusie, hetsy vanuit die geskiedenis. Fukuyama gebruik ‘n Hegeliaanse model van die einde van geskiedenis, na aanleiding van die lesing van Hegel deur ‘n Russies-Franse skrywer, Alexandre Kojève. Volgens Kojève kom ons teoreties aan die einde van geskiedenis as daar nie meer konflik en stryd plaasvind nie. In ‘n sekere sin behels globalisering dus ‘n einde aan die geskiedenis, omdat stryd laat vaar word ter wille van ‘n apolitieke ekonomiese vryehandel wat grotendeels ook buite die nasiestaat of volkstaat om, plaasvind.

Hierdie soort ontleding, beide die Hegeliaanse en dié van Lyotard in terme van postmodernisme, veronderstel egter die verhewenheid van tegniek, wetenskap en ekonomie bo kultuur. In ‘n sekere sin is al hierdie aktiwiteite egter deel van kultuur in die breë sin van die woord. Uiteindelik gaan dit oor kennisvorme wat nie apart van kultuur bedink kan word nie.

Binne die filosofieë van beide Nietzsche en Heidegger word die rangorde van kennis of tegniek wat bó die kulturele, die talige of die estetiese bedink word, egter ter syde gestel. In die geval van Heidegger gaan dit om die primordialiteit van die syn, die feit dat die synsvraag alles oorspoel. Taal en menslike syndes is bloot openinge in die syn en die geskiedenis is ‘n proses van onthulling wat vanuit die toekoms na ons toe aankom.

Dit is egter Nietzsche wat potensieel ‘n interessante en vrugbare perspektief op globalisering bied, aangesien hy die verband tussen ‘n sekere sekulêre modernisme en ‘n klassieke godsdienstige ywer of geesdrif raakgesien het. Vanuit hierdie gesigspunt kan globalisering self as ‘n vorm van kwasi-godsdienstige toewyding gesien word, want binne Nietzsche se denke aangaande die sogenaamde "dood van God" neem sekulêre Kennis en ‘n sekulêre Gewete die plek in van die kerklike leer en die gesag van God. Heidegger het ‘n opstel geskryf oor Nietzsche se opvatting van die dood van God, waarin hy dan verder vermeld,

Die Wetlflucht ins Übersinnliche wird ersetzt durch den historischen Fortschritt. Das jenseitige Ziel einer ewigen Seligkeit wandelt sich um in das irdische Glück der Meisten. Die Pflege des Kultus der Religion wird abgelöst durch die Begeisterung für das Schaffen einer Kultur oder für die Ausbreitung der Zivilisation. Das Schöpferische, vormals das Eigene des biblischen Gottes, wird zur Auszeichnung des menslichen Tuns. Dessen Schaffen geht zuletzt in das Geschäft über."

[Die vlug weg vanuit die wêreld na die bosintuiglike word vervang deur historiese vooruitgang. Die hiernamaalse siel van ‘n ewige saligheid vorm sigself om tot die aardse geluk van die meeste. Die pleeg van die kultus van die religie word afgelos deur die begeestering vir die skep van ‘n eie kultuur of vir die uitbreiding van die beskawing. Die skeppende, wat voorheen eie aan die bybelse God was, word die onderskeiding van die menslike doen.. Hierdie skepping gaan onlangs in die sakeonderneming oor.]

Nietzsche was by uitstek die kritikus van die Christelike wêreldbeskouing, hoewel sommige mense tog meen dat daar ‘n groot stuk van Johannes Calvyn in sommige van sy ander begrippe oorgebly het. Hoewel hy hier in Heidegger se opsomming ietwat skepties staan teenoor die "skep van ‘n eie kultuur" moet ons juis daaronder verstaan - nie ‘n afsydigheid teenoor gekultiveerdheid nie, want Nietzsche was beide veeltalig en uiters gekultiveerd - maar ‘n kritiek op die sendingywer waarmee kultuur as’t ware kunsmatiglik geskep word. Skepping gaan ook, weer eens in Heidegger se herformulering, "onlangs in die sakeonderneming oor". Met ander woorde, indien ons dit op die problematiek van ‘n globale of globaliserende kultuur sou toepas, behels dit die kunsmatige en begeesterde skep van ‘n kultuur onder die vaandel van vooruitgang of die uitbreiding van beskawing. Daar is dus ‘n koloniale of imperiale aspek aan hierdie vorm van kultuur wat ons met ‘n soort sendingaksie kan vergelyk.

In my vorige stuk oor hierdie kwessie het ek gepraat van die "glo van globaal", ‘n religieuse geloof binne die sekulêre globale ekonomie wat ek ook betrek het by die byna kloosteragtige toewyding van werknemers by sekere Amerikaanse hoë-tegnologiemaatskappye wat lang ure werk, geen identiteit buite die onderneming het nie, ens. Ons kan selfs in die proliferasie van handelsmerke en die byna heilige eienskap daarvan iets van ‘n gesekulariseerde panteïsme sien. Die botteljie Chanel of die Mont Blanc-pen verkry iets van dieselfde waarde as antieke huisgode.

‘n Verdere probleem van die huidige globaliseringsproses as ons dit in terme van Nietzsche bekyk, is die insgelyke geloof in ‘n hiernamaals wat sou neerkom op die toekomstige verdienste van tegnologiemaatskappye wat op die aandelebeurs, veral die NASDAQ, verdiskonteer word. Hierdie toekomstige verdienste is egter mities van aard, omdat dit wiskundig onhaalbaar is. Die huidige ongekende inflasie van finansiële bates en veral die waardes van tegnologie-aandele - dit wat die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwe, mnr. Alan Greenspan "irrational exuberance" genoem het - dui op ‘n entoesiasmos of geesdrif wat ons tradisioneel met godsdiensbeoefening assosieer.

Die ander van die globale

Dit sou nie onvanpas wees om te meld dat diegene wat tot ‘n nie-globale kultuur behoort, vandag op ‘n manier in ‘n bevoorregte posisie verkeer nie. As ander van die globale, kan ons dit byna opponeer soos die filosoof van die Verligting wat die Dogmatiese Rede soos Kant dit genoem het, teengegaan het. In sy pretensies tot universaliteit of tot die enigste ware kultuur is die globale kultuur inderdaad geslote, dogmaties en omgewe van ‘n irrasionale geesdrif. Hierteenoor kan ons ons kultuur as radikaal plaaslik sonder dogmatiese pretensies tot die universele beskryf.

In die onlangse tyd het ons owerheid hom veral, en spesifiek dan by monde van Minister Kader Asmal, beroep op globalisering en die dogma van ‘n universele globale kultuur, om onder andere sy verengelsingsbeleid te regverdig of te legitimiseer. Binne hierdie siening behoort Suid-Afrika sy eie, of outentieke - dit wat Heidegger eigentlichkeit noem - op te gee ter wille van die globale, dit wat ek onlangs as die glo van globaal of die geloof in Baäl beskryf het; die term Baäl synde hier ‘n noemer vir ‘n sekere vorm van afgodediens wat ons ook by die irrasionele geesdrif van die NASDAQ kan betrek. Die onlangse verlede in Suid-Afrika, wat gekenmerk is deur die begrip "transformasie" wat vir my allerlei bedenklike betekenisse en veronderstellings bevat, asook die klakkelose verwelkoming van kulturele globalisering, kan ons miskien vanuit ‘n plaaslike gesigspunt as "die voltooiing van die imperiale projek" definieer. Ironies genoeg sluit hierdie tydvak sterk aan by dié eenhonderd jaar gelede toe Lord Alfred Milner insgelyks gepoog het om die inheemse of lokale kultuur van Suid-Afrika te ontken en ons in te lyf by die imperiale projek van die toentertydse Britse Ryk. In sekere opsigte ervaar ons vandag kulturele globalisering as die gepoogde voltooiing van hierdie imperiale projek.

Die punt is verder dat die globale, soos die internet, atopies is. Die plaaslike, daarenteen is gewortel in ‘n topos wat dit ervaarbaar maak, en vatbaar vir ons biologiese werklikheid, dit wat ek ook reeds as die lyflike beskryf het. Kultuur word uiteindelik gedra deur taal, en taal is ‘n vorm of aspek van die menslike lyf. Teenoor die atopiese globale, vind ons dus ‘n sterk topiese plaaslike.

Dit is my eerste besoek aan Oudtshoorn gedurende die feestyd, en as hierdie sydelingse kommentaar my vergun mag word, herken ek hier iets van die utopiese, dit wil sê dit wat die ontkom aan die beperkinge van ‘n topos. Vele skrywers, onder wie die Duitse filosoof, Ernst Bloch, het al gewys op die verwantskap tussen die kuns en die utopie. In ‘n sekere sin kan die KKNK gesien word as ‘n Afrikaanse utopie in ‘n globaliserende wêreld. Die blote feit dat hierdie utopie bestaan, of dan soms gebeur om sodoende die omliggende globale monokultuur te verbreek, is opsigself ‘n bewys van die krag van ongeloof in die bosintuiglike of ideale. Meer nog, dit bevestig die lyflike aard van ons talige en kulturele relasie met die wêreld.

Boontoe