|
|
|||||||
| chronologie
|
Die toekomsmusiek van Helmut Schmidt Helmut Schmidt is 'n liefhebber van Bach en het op sy dag as pianis selfs in die openbaar opgetree. Die Wes-Duitse bondskanselier van 1974 tot 1982 se nuutste boek is Die Magte van die Toekoms: Wenners en Verloorders in die Wêreld van Môre. Hy is as sosiaal-demokraat saam met Thabo Mbeki teoreties deel van die Socialist International. Maar op Schmidt se toekomsmusiek sal Mbeki moeilik dans. Die historikus Joachim Fest beskou Helmut Schmidt en Konrad Adenauer as die twee grootste Duitse leiers die afgelope 60 jaar. Schmidt het as ekonoom en strateeg stewige bydraes gelewer in die Bundeswehr, NAVO, die Europese Unie en die G8-kringe. Enkele jare gelede is die Bundeswehr-universiteit in Hamburg na hom vernoem, en rondom die Duitse hereniging en die Irak-oorlog het sy advies tot in regeringskringe deurgedring. Schmidt verskyn periodiek op TV, die oë wakker, die uitstraling een van soewereiniteit. Hy skets 'n wêreldsituasie met enkele helder sinne, gemaklik, asof hy nog besig is om tuis te skilder. As die vrae lank aanhou, of handel oor sy vermoorde vriend Sadat, raak die mondhoeke soms 'n oomblik pap. Die mond van 'n 86-jarige man wat baie meegemaak het. Dan raak die gesig weer fier. Hy trek aan 'n menthol-sigaret en glimlag effens as sy kwinkslag tref. Schmidt is deesdae mede-uitgewer van die gehalteblad Die Zeit (Die Tyd). Hy skryf in sy nuutste boek oor die volgende 20 jaar, vanuit 'n eikeryke deel in Hamburg wat uit 1312 dateer. Oor byna 700 jaar moes mense daar oorlog en hongerwinters, vloed en oorvloed leer oorkom. Johann Rupert en G.A. Watermeyer het in die 18de eeu uit Hamburg na die Kaap getrek, soos ander Duitsers, Nederlanders en Franse voor hulle. Ook ander stamvaders van latere Afrikaners kom uit Hamburg; mense met vanne soos Erasmus en Scholtz, Beetge en Pelzer, Wessels en Brand. Die meeste Duitsers wat na SA getrek het, was uit die Duitse noorde, en hul Plattdeutsch het maklik aangesluit by die Kaapse Nederlands. Helmut Schmidt dink in Hoogduits oor vandag en die komende 20 jaar. Wat sê hy vir Afrikaners wat die volgende 20 jaar in Afrika gaan beleef? Die Midde-Ooste en die Moslemwêreld Die Midde-Ooste sal in die volgende dekades 'n bron van gevaarlike onsekerheid bly. Die idee dat dit moontlik is om gou-gou in die Midde-Ooste die hele Westerse ontwikkeling sedert die Verligting te herhaal en demokrasie in te voer, is "'n gevaarlike illusie." Nog die demokrasie nog basiese menseregte is ook waarborge vir welvaart. Die teenwoordigheid van Duitse magte gaan niks hieraan verander nie. "Ons het in Asië en Afrika niks verloor en niks te soek nie." Die wêreld sal nog 'n geruime tyd verskillende vorme van Moslem-terrorisme moet verdra. 'n Wyer botsing tussen die Islamitiese wêreld en die Weste wat die wêreld sal skud het heeltemal denkbaar geword. Westerse politieke leiers ken egter Moslemterrorisme te goed en Islam en die wyer Moslemwêreld te sleg. 'n Dieper begrip vir die godsdienstige en filosofiese grondslae van ander kulture moet ontwikkel. Wat die VSA doen, sal die Weste se verhouding met die Moslemwêreld meer beïnvloed as enigiets wat die EU sou kon doen. Die Europeërs, tussen wie miljoene Moslemimmigrante woon, het egter vrede met die Moslemwêreld nodiger as die Amerikaners. Die VSA as supermag Die VSA sal 'n supermag bly wat oorloë kan wen, maar ander magte benodig om sake te stabiliseer. Sy bevolking het 'n oorgeërfde vitaliteit en 'n sterker prestasiekultuur en werksetiek as Europa. Ander kragpunte is die groot interne mark, beter samewerking tussen universiteite en privaatondernemings, die Amerikaanse vermaaklikheidsektor se invloed en Engels se voorrangposisie internasionaal. Die VSA se presidente het 'n mate van buitelandse aksievryheid wat mens andersins net in diktature aantref. Die huidige politieke leierslaag in die VSA het minder wêreldkennis as voorheen. Dit lei tot onsekerhede en minder berekenbaarhede in die Amerikaanse wêreldpolitiek. Eisenhower se opmerking oor 'n militêr-industriële kompleks is weer van pas in die VSA. Mens sien ook die uitwasse van "roofdierkapitalisme". Die VSA se buitelandse denke word oorheers deur 'n sendingidealisme, besorgdheid oor eie energie, die veiligheid van Israel, en sedert 11 September 2001, ook eie veiligheid. Imperialistiese motiewe het ontstaan. Binne daardie denkraamwerk is Europa amper net 'n provinsiale Athene waar die nuwe Rome se kinders retorika studeer. "Hierdie magspolitiek gaan gepaard met egoïsme en genadeloosheid". Die Amerikaanse samelewing is vatbaar vir media-gedrewe massapsigoses, al sedert McCarthyïsme. Daarby gaan die Latyns- en Afro-Amerikaanse groepe se eise vir meer bronne en geleenhede toeneem soos hulle getalle groei. Dit kan op die langer termyn die fokus na interne sosiopolitiek laat verskuif.= Europa as onafhanklike vennoot van die VSA Die VSA se doel in NAVO is om die VSA se geopolitieke en militêre magsdomein teenoor Rusland, China en die Midde-Ooste te stabiliseer. Verder probeer dit Europese state se militêre vermoëns beheer, veral Duitsland s'n. Die toesprake oor 'n gemeenskaplike Europese buitelandse en veiligheidsbeleid sal nog lank weerklink. Europa het egter nie die wil of die vermoë om 'n teenmag vir die VSA te vorm nie. Ekonomies sal daar oor 30 jaar wel 'n magsdriehoek bestaan tussen China, die VSA en Europa. Die VSA sal binnekort moet besluit of dit groter politieke invloed in Europese state wil verkry deur NAVO, selektiewe finansiële voordele en 'n benadering van verdeel en heers. Die belangrikste Europese state het egter geen strategiese rede om hulself polities te onderwerp aan die VSA nie. Hulle sal 'n politieke magsgreep deur die VSA weerstaan, Engeland uitgesluit. Duitsland moet nie 'n setel in die VN-Veiligheidsraad nastreef nie, want dit het nie die vermoëns om die volle verantwoordelikheid daar te kan dra nie. Duitsland moet eerder fokus op 'n vreedsame orde in Europa en op die verbetering van die EU se disfunksionele instellings. Europa moet goeie samewerking met die VSA soek, ook weens die gemeenskaplike beskawing en kulture. Die uitdagings is te groot om alleen te bemeester. Dit beteken egter nie dat Europa elke Amerikaanse fout moet navolg of goedkeur nie. Die VSA kort juis sowel begrip en kritiek deur die Europeërs. En Duitsland mag nie ter wille van die VSA toelaat dat Frankryk, bv. rondom die Irak-kwessie, in die EU geïsoleer word nie. Turkye buite Europa "Buiten Amerika se geostrategiese belang, is daar hoegenaamd niks wat dit regverdig om Turkye in die EU op te neem nie." 'n Toetrede van Turkye tot die EU sou die finansiële prestasievermoë en sosiopolitieke binding van die EU ernstig bedreig. Reeds as Bondskanselier het Schmidt ervaar dat Turkse regerings deur EU-lidmaatskap en Turkse migrasie na Europa ontslae wil raak van die eise van 'n snelgroeiende bevolking. Turkye sou in die EU die enigste lidland wees met 'n groeiende bevolking, en teen die einde van die 21ste eeu met 'n geskatte 100 miljoen inwoners die lidland met die meeste mense. Engeland het geen probleme met 'n EU wat verval tot 'n blote vryhandelsone nie en sal Turkye toelaat. Ander lede van die EU hoop weer heimlik dat as Turkye toegelaat word as lidstaat, dit sal wees met 'n beperking van Turke se bewegingsvryheid in ander state. Mens moet nie slegs die aansienlike kulturele verskille met Europa inagneem nie, maar ook die Turke se kulturele verwantskap met Moslems in Asië en Noord-Afrika. As Turkye toegelaat word, is daar geen beginselgrond waarom Marokko, Algerië en ander lande suid van die Middelandse See se aansoeke om EU-lidmaatskap geweier sou kon word nie. Dit stem ooreen met die siening van Schmidt se vroeëre bondgenoot en vriend, die Franse oud-president Giscard D'Estaing: Die dag as Turkye toegelaat word tot Europa, is dit die einde van Europa. Duits, solidêr en met 'n eie oordeel "Tale", volgens Schmidt, "is by verre die belangrikste draer van kulturele ontplooiing en tegelykertyd die belangrikste element van nasionale, eintlik ook persoonlike identiteit." Hy lees Rilke en Goethe, en Grass en Hölderlin. Volgens Schmidt berus die Duitse aansien wêreldwyd ook op hul letterkunde en die beelde wat daarin uitgedra word. Na sy ampstermyn het hy met pasaangeër en al die pas aangegee en die Deutsche Nationalstiftung opgerig. Die stigting bevorder die kultuurbelange van meer as 80 miljoen Duitsers in die Engels-oorheerste globale orde. Toe baie Duitsers gemeen het dat hulle ter wille van "realisme" moet berus in 'n Wes-Duitse identiteit, het Schmidt Henry Moore se beeld van "Twee figure" voor die Kanselary laat plaas. Dit moes die verbondenheid van die twee Duitslande simboliseer. Hy het beleidsadvies gegee in 1989 oor die hereniging en soos talle Duitsers met trane in die oë gekyk na die beelde van die Muur wat val. Schmidt, 'n oudste seun, was 15 toe Adolf Hitler aan bewind gekom het in Duitsland. Die Nasionaal-Sosialiste het elke samelewingsverband probeer transformeer. Schmidt, kwart-Joods en anti-Nazi, kon by tye wel die impak ontsnap in 'n kunstenaarskring, en later in die weermag se eie sfeer. Schmidt het reeds in 1941 die stryd teen Rusland beskou as 'n herhaling van die Napoleon-fiasko, beweer hy. Hy het nietemin, soos hy dit gesien het, sy plig gedoen en Duitsland verdedig. Soos sy pa voor hom in die Eerste Wêreldoorlog. Hy het aan die Oosfront oorlog teen die partisane van die Rooi Leër ervaar. Die krete van sterwende makkers, die brandende opstalle en die lewe in modder en sneeu het hy nie vergeet nie. Sy huis met alle boeke, briewe en fotos is vernietig in die Britse lugaanval op Hamburg in 1943. Na 1945 was hy deel van die miljoene wat hulle lewens weer moes opbou in 'n verwoeste en verguisde land. Schmidt se een kompas in hierdie tye was die Romeinse keiser Marcus Aurelius se Meditasies, met hulle antieke waardes van wysheid en moed, matigheid en geregtigheid, gelatenheid en volharding. Schmidt se belewing van solidariteit in die oorlog en daarna het 'n stempel geplaas op sy denke. Hy beklemtoon 'n solidêre gemeenskap, verdraagsaamheid tussen groepe en 'n realistiese najaag van belange. Al beklemtoon hy solidariteit, bly Schmidt sterk gekant teen massa-psigoses. Hy het daaroor in Le Bon en Ortega Y Gasset gelees en dit in die Hitler-tydperk beleef. Hy dink ook dat die massamedia dikwels 'n rol speel in die opwek van massapsigoses. Toe die Duitse president Horst Köhler onlangs noem dat hy trots is om 'n Duitser te wees, het die koerant Bild (Beeld) stemming teen hom begin maak. Schmidt het die doelbewuste veldtog uitgewys, maar ook die beperkte krag van die media. Hoe meer hulle Köhler verdag probeer maak, hoe meer sal gewone Duitsers wat ook so voel by hom bly staan, het Schmidt gesê. "U moenie die Duitse volk verwar met die elektroniese media en die Bild-koerant nie." Schmidt is ten gunste van 'n solidêre gemeenskap waarbinne mense vir hulself verantwoordelikheid aanvaar. Mense moet hulle eie persoonlikheid opbou en hulle gewete en eie oordeel behou te midde van die stemmingmakers en die vloei van die geskiedenis. Net so kan elkeen die konkrete werklikheid voor oë hou en sinvol handel. 'n Europa van die vaderlande In Europa, skryf Schmidt, het 25 nasies met meer as 25 geskiedenisbeelde en 20 tale, na honderde jare van onderlinge stryd in die Europese Unie begin saamwerk. Dit is 'n reuse-prestasie. Die belangrikste vraag vir die toekoms van Europa is of Europa sy eie huis in orde kan kry. Kompromieë sal nodig wees om prestasie te verhoog, die gees van Europese solidariteit te versterk en eie nasionale identiteit nie aan te tas nie. Die imperialisme van die EU-magsorgane moet hier ook hokgeslaan word. De Gaulle se "Europa van die vaderlande" spreek Schmidt steeds aan. Dit sal egter minstens nog 50 jaar duur voordat Europeërs heeltemal en innerlik sal begryp dat om te behoort tot 'n nasie enersyds en die Europese integrasie andersyds nie mekaar wedersyds uitsluit nie, maar veel meer noodwendig saamhoort in die huidige omstandighede. "Daar is 'n paar mense wat glo dat hulle sonder verankering in 'n nasie kan leef. Meestal is diegene intellektuele, maar nie net hulle nie. Die meerderheid mense benodig egter die geborgenheid om te behoort aan hulle nasie." Die afskeid van multikulturalisme Die wêreldbevolking gaan van 'n geskatte 6000 miljoen aanhou styg tot byna 9000 miljoen teen 2050. Klimaatverandering gaan die lewensomgewings in Asië en Afrika plek-plek laat versleg en konflikte laat ontbrand in oorbevolkte streke. Hierdie faktore kan die migrasiedruk op Europa vanuit Asië, Afrika en die Midde-Ooste laat styg. Europa, met sy skatkis van wetenskap en filosofie, sy literatuur en kuns, musiek en argitektuur, waar die inheemse inwoners 'n klein en krimpende 7% van die wêreldbevolking sal vorm. Vreemdelinghaat moet bekamp word, meen Schmidt, nes enige godsdienstige regverdiging van geweld en terreur."Die feit dat vyandskap en haat in 'n godsdienstig heterogene mengbevolking besonder maklik ontwikkel, moet die maatstaf wees by die vraag oor uiteindelike opname van oorwegend Moslemstate in die EU." Schmidt definieer multikulturalisme as die idee dat die Moslem-migrante van ander kulture in Europa sou meng met die inheemse inwoners en een gemeenskap sou vorm. Hierdie idee het feitlik oral misluk, meen Schmidt. Die enkele gevalle waar dit skynbaar geslaag het, soos in Singapoer, was 'n outoritêre staat nodig. Die mislukkings het te doen met wedersydse afkeer en onwilligheid by die groepe. Die vrees van volgroeide kulture om deur vreemde kulture verdring te word, is in byvoorbeeld die Balkanlande, Nigerië en Burundi net so sterk as in Duitsland met sy hoë persentasie vreemdelinggroepe. Dit is nie spesifiek 'n Duitse of Europese verskynsel nie. Reeds in 1992 sê hy: "Die idee dat 'n moderne samelewing ook bereid moet wees om homself as 'n multikulturele samelewing te vestig, met soveel kulturele groepe moontlik, beskou ek as as foutief. Mens kan nie nou Duitsland met sy duisend-jaar-oue geskiedenis sedert Otto I in 'n smeltkroes omvorm nie...Om Duitsland in 'n immigrasieland te verander is absurd. Dit kan daartoe lei dat ons oorstroom word." Die teenwoordigheid van agt miljoen vreemdelinge in Duitsland is 'n "foutiewe ontwikkeling" waarvoor die politiek verantwoordelik is, meld Schmidt. "Die migrasie van mense uit die ooste van Anatolië of uit swart Afrika skep daarby slegs 'n groot probleem." 'n Verdere instroming van mense uit vreemde kulture moet gestop word. "Multikulturalisme is 'n illusie van intellektuele." Afrika op die rand Schmidt se hoofstuk oor Afrika is getiteld Magteloos aan die rand van die wêreld. Afrika is die enigste kontinent waar 'n styging in ekstreme armoede die afgelope dekades aangeteken is, veral in die swart state van Afrika. Migrasiedruk en allerhande siektes vanuit Afrika sal sluipende gevare vir die wêreld raak. Te midde van gereelde krisisse, konflikte en gebrekkige politieke tradisies is korrupsie en ontoereikende regerings wyd versprei. Afrika ly onder 'n slegte infrastruktuur, opvoedingstelsel en gesondheidsorg. "Ten spyte van alle ontwikkelingshulp deur die nywerheidslande, die Wêreldbank en talryke privaatorganisasies is 'n tendensverandering nie in sig nie." Daar is diegene wat visies het dat die vervalle dele in Afrika in die volgende 20 jaar gaan herrys. Schmidt se gevolgtrekking is min of meer dieselfde as sy oordeel oor sommige denkers van die 1968-generasie: "Wie visioene het, moet 'n dokter gaan sien." Herwin Europese lewenskrag Globale tegnologieverspreiding maak dit moontlik vir mense in Asië om ook mee te ding met Europa. As Europeërs hulle relatief hoë lewensstandaard wil behou, sal hulle nuwe produkte en prestasies moet lewer. Baie mense in die wêreld is net so slim as die mense in Europa, en is ook flukser en werk langer. Oorregulering en oorveroudering moet dus bekamp word om Europa se kragte te herwin. Op 27 Februarie 2005 hou Schmidt 'n toespraak by die sestigste herdenking van Dresden se bombardering: "As mens die ongewoon lae geboortekoerse bekyk, dan moet mens reken met 'n verlies aan vitaliteit by die groot meerderheid van Europese nasies. Persoonlik wil ek graag aanneem dat dit op die langtermyn gesien om 'n verbygaande verskynsel gaan. As gevolg van twee wêreldoorloë, van diverse fascistiese, nazi-, kommunistiese diktature op ons kontinent. Maar ook as 'n gevolg van die toenemende emansipasie van die vrou plus die verslapping in gesinsbande plus die voorbehoedspil. Dit kan nie uitgesluit word dat daar hier 'n kulturele breuk plaasvind nie. Ek wil persoonlik aanneem dat dit op die langtermyn gesien gaan om 'n verbygaande verskynsel. Maar ek weet dit nie seker nie. 'n Mens kan nie seker wees nie." "Nietemin werk daar in die mense wat vandag leef en hulle kinders en in hulle kleinkinders dieselfde gene wat reeds in hulle ouers en grootouers gewerk het en wat die Europeërs toegerus het vir ongelooflike prestasies, vir werklik groot offers. Dit is dieselfde erflike vermoëns wat verder oorgedra word. Mens kan net hoop dat hulle weer sterker na vore sal tree. Ek beskou myself nie as 'n optimis of as 'n man van illusies nie as ek glo dat Europa en so ook Duitsland sy vitaliteit, sy uitvindingstalent, sy prestasievermoë in die medium termyn weer kan herwin. Daarvoor sal mens beslis die leiding en die bewustheid van eie verantwoordelikheid benodig." Toekomsmusiek Schmidt se werke is deurspek met nugter insig. Dit bevat ook 'n blindekol of drie. Wat egter van belang is vir doeleindes van hierdie stuk, is dat Europeërs toenemend Schmidt se uitgangspunte oor byvoorbeeld Moslems en migrasie steun. Die grondverskuiwings registreer regoor Europa: in verkiesings, meningspeilings en debatte; in Denemarke en Switserland, in Vlaandere en Oostenryk, in Frankryk en in Duitsland. En, hoewel meer verskuil, ook in die Nee-uitslae van die referendums oor die Europese grondwet. Massapsigose ontbreek ook nie altyd nie. Terroriste-aanslae en politieke moorde het die kontinent losgeskud. Europa is weer eens aan die verander. Politieke teenstanders van hierdie ontwikkelinge, dikwels die laaste van die 1968-generasie, beklee steeds heelwat magsposisies. Hulle slaan in Nederland byvoorbeeld ook terug, in die media en in straatdemonstrasies. Wat hieruit sal voortspruit, is nog nie duidelik nie. Clausewitz se trits van toeval, onverwagse teenwerking en die halwe kennis oor bedoelings en reaksies sal wel opdaag en hulself laat geld. Helmut Schmidt sinspeel op nuwe politiek in ou Europa. Hy doen dit in 'n helder Duits, Sartre se orrel van die tale. Maar ook elders in die Weste betuig mense hulself vandag in nuwe variasies. In Nederlands, in Frans, in Engels en in Afrikaans. Na lange stiltes hoor mens nou 'n eerste ligte noot, 'n verre bruising en wie weet, 'n nuwe Brandenburg-konsert. Hoofbronne Helmut Schmidt. "Europa braucht keinen Vormund", Die Zeit, 32/2002. Helmut Schmidt. "Einbinden, nicht aufnehmen", Die Zeit, 50/2002. Helmut Schmidt. Dresdner Reden, 27 Februarie 2005. http://www.sz-online.de/special/reden/schmidt.rtf. "Wieviel Anatolien verträgt Europa", Hamburger Abendblatt, 24 November 2004. "Im Augenblick sind die Deutschen im derselben Stimmung wie ich. Leicht angekränkelt und infolgedessen schlecht gelaunt", Die Zeit, 18/2004. "Alt-Kanzler gegen Zuwanderung", 11 Junie 2005. http://www.n-tv.de/542801.html?id=576605. Helmut Schmidt. Die Mächte der Zukunft: Gewinner und Verlierer in der Welt von morgen (Siedler: München, 2004). Hartmut Soell. Helmut Schmidt: 1918-1969 Vernunft und Leidenschaft (Deutsche Verlags-Anstalt: München, 2003). Hans Wansink. De Erfenis van Fortuyn: De Nederlandse democratie na de opstand van de kiezers (J.M. Meulenhoff: Amsterdam, 2004). 29 September 2005 03:09 |
|||
|
|