|
|
||||
| chronologie
|
Afrikaans 80 "Afrikaans se toekoms as spreektaal en informele omgangstaal is verseker. Sy toekoms as publieke taal met hoë kultuurfunksies is ernstig in gedrang."
Hermann Giliomee Iets merkwaardigs het met Afrikaans gebeur in die 70 jaar nadat dit in 1925 tot amptelike taal verhef is. Dit het een van net vier tale geword wat in die loop van die twintigste eeu gestandaardiseer is en in alle vlakke van die lewe as openbare taal gebruik is, insluitende in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en vir onderrig in tersiêre inrigtings. Saam met Afrikaans het drie ander drie tale in dieselfde reusetaak geslaag: Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi. Sowel Hindi as Maleis-Indonesies word deur honderde miljoene gepraat en dit het dus die voordeel van getalle gehad. Hebreeus en Afrikaans word albei net deur enkele miljoene gepraat, maar is deur die drif en daad van `n doelgerigte taalbeweging voortgestu. Anders as Hebreeus moes Afrikaans daagliks kompeteer met Engels, eers die taal van die Britse Ryk en van die 1980's die taal van globalisering. In die 1980's en vroeë 1990s het Afrikaans sy plek merkwaardig volgestaan. Jean Laponce, `n Frans-Kanadese taalkenner, het in 1983 die getalle nagevors van artikels in alle tale in die wêreld waarvan opsommings in die Index Medicus en Chemical Abstracts verskyn het. Afrikaans was in albei gevalle onder die eerste dertig tale in die lysie, hoër as Hindi en Arabies. Volgens Lawrence Schlemmer was Afrikaans teen 1994 "wat betref algemene formele en nie-formele gebruik" landswyd die sterkste taal. Teen 1999 was Afrikaans nog die belangrikste literêre taal in Suid-Afrika gemeet net aan die getal boeke wat plaaslik uitgegee is. Daar is amper drie keer meer fiksie (digbundels, dramas en romans) in Afrikaans uitgegee as in Engels en twee keer meer as in die inheemse swart tale. Daar word algemeen aanvaar dat die vlak van digkuns in Afrikaans heelwat hoër is as in Engels en dat die romanskrywer Karel Schoeman in dieselfde asem as grotes genoem kan word. In die geval van nie-fiksie loop Engels voor omdat die politieke krisis in Suid- Afrika geïnternasionaliseer geraak het en daar `n groot mark vir Engelse boeke was. Maar in die geskiedskrywing het Afrikaans sterk gestaan. Tussen 1938 en 1989 is 160 historiese werke, hoofsaaklik tesisse, in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis gepubliseer, die oorweldigende meerderheid in Afrikaans. In die regte is al die hoofrigtings deur Afrikaanse boeke geskryf deur vakkundiges gedek. Die ander merkwaardige aspek van die opkoms van moderne Afrikaans is dat sprekers vandag so min van die taal se ontwikkeling weet. `n Mens hoor byvoorbeeld dikwels die onsin dat Afrikaans spesiaal bevoorreg is in die era van wit heerskappy in Suid-Afrika. Die werklike toedrag van sake is dat funksionele en daadwerklike gelykheid tussen Engels en Hollands die hoeksteen was van die grondwet van die Unie van Suid-Afrika wat in 1909 aangeneem is. In 1925 het Afrikaans hierdie posisie van Hollands geërf. Die staat het dus Afrikaanse skole en universiteite opgerig, amptelike dokumente in twee tale laat verskyn, amptenare verplig om tweetalig te wees, in Afrikaans geadverteer, en vir Afrikaanse radio-en televisiestasies voorsiening gemaak. Dit was nie "bevoorregting", maar die nakoming van sy konstitusionele plig. (Prof Jan Sadie het altyd opgemerk dat as daar een taal was wat bevoordeel is, was dit Engels). As die staat versuim het om Afrikaans te help ontwikkel, sou daar oneindige struwelinge tussen die twee blanke gemeenskappe gewees het, wat sekerlik die ekonomiese ontwikkeling van die land sou gestrem het. Die Afrikanernasionaliste het hulle nie altyd gelief gemaak in hul stryd om vir Afrikaans en vir Afrikanerskole en -universiteite `n vastrapplek te kry nie. In 1960 het die digter Dirk Opperman geskryf: "Die Afrikaner het gebou aan sy eie wêreld, het hom sterk gemaak en in die proses die Engelsman, Kleurling en Bantoe van hom vervreem." Afrikaners saam met hul taal het "`n sterk wegstotende mag"ontwikkel. Waar die voorstanders van Afrikaans wel heeltemal te ver gegaan het, was in die afdwing van Afrikaans op die bruin en swart stedelike gemeenskappe. Druk van die staat het meegebring dat meer bruin skole Afrikaans-enkelmedium geword het as wat andersins die geval sou wees. 'n Meningsopname van die 1960's van swart beheerrade van skole het daarop gedui dat meer as 66 persent van die lede twee tale (Afrikaans en Engels) as voertale verkies het, terwyl een-derde op net Engels aangedring het. Soweto was egter die sentrum van verset teen Bantoe-onderwys. In 1972 het feitlike alle jeugdiges hier onderrig deur die medium van Afrikaans verwerp. Die reusagtige flater was die nasionaliste se afdwing van Afrikaans as een van die voertale in die skole van Soweto en ander woongebiede in die Suid-Transvaal. Die regering het hierdie waarskuwingsligte geïgnoreer en die res is , soos hulle sê, geskiedenis. Die posisie na 1994 Nie een van die vier tale wat in die twintigste eeu so vinnig opgang gemaak het, het so dramaties as Afrikaans agteruit gegaan nie, alhoewel sowel Maleis-Indonesies as Hindi kwaai die wind van voor van Engels en in `n mindere mate Chinees kry. Vir Afrikaans is die grootste probleem dat dit nie meer die status en aansien het van voor 1994 nie toe dit een van twee landstale was nie. Op die ou end word die oorlewing van `n taal meer bepaal deur politieke aansien as deur militêre mag of ekonomiese mag.. Nicolas Osler vertel in sy Empires of the World: A Language History of the World, wat pas verskyn het hoe die Manchus China in 1644 verower en tot 1911 geregeer het. Vandag, binne twee of drie generasies na hul magsverlies het hul taal, Manchu, feitlik uitgesterf. Dit was van die staanspoor na 1994 duidelik dat die regering in Suid-Afrika Engels as die lingua franca, die groot verbindingstaal, wou vesting. Dit het toegelaat dat staatsdepartemente en openbare korporasies slegs Engels gebruik, en dit het al die uitsprake van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad dat dié optrede ongrondwetlik is, geïgnoreer. Selfs in die Wes-Kaap word die polisie verplig om Engels as interne kommunikasietaal te gebruik. Die regering laat ook verskeie ander dinge toe wat Afrikaans ondermyn. Vat byvoorbeeld die uitsaaiwese. Die proporsie Afrikaans wat op televisie uitgesaai word, is slegs die helfte van die proporsie lisensiebetalers wat Afrikaans is. Daar is geen persoon wat Afrikaans as eerste taal praat op die Beheerraad van die SAUK nie; Die staat oefen groot druk uit op Afrikaanse skole en universiteite om van enkelmedium na dubbelmedium of parallelmedium oor te skakel. Die uitwerking hiervan was dramaties
Hy wys veral op die gevare van parallelmedium- en dubbelmediumonderrig in skole en universiteite. Volgens hom verteenwoordig dit slegs 'n halfwegstasie tot die volkome oorheersing van die dominante taal. Hy stel dit so: "Bilingualism in education is thus generally a bilingualism of transition, which in the long run facilitates linguistic assimilation…" Soms beweer ministers of amptenare dat die invoer van `n Engelse stroom in `n Afrikaans-enkelmedium skool geen verskil gaan maak aan die skoolonderrig wat Afrikaanse leerders ontvang nie aangesien hulle nog steeds hul onderrig in Afrikaans sal ontvang. Dit is van pas om in die verband uitvoerig die uitspraak van Regter W. Thring in die saak oor Mikro Laerskool aan te haal: "It is contended by the first and second respondents [the Department] that the applicants will suffer no prejudice because pupils at the school who have chosen to be taught in Afrikaans may continue to receive their tuition in that language. I disagree. Where the governing body of a school has elected to have a single language as its medium of instruction, the introduction of a second language of tuition must inevitably have a profound influence on the modus vivendi, the customs, traditions and almost every aspect of the atmosphere which pervades the school. It is not difficult to think of examples to illustrate this. To name just a few: at school assemblies at a parallel-medium school, staff and pupils must presumably be addressed in both languages, and proceedings must be conducted in both; the same applies to meetings at the school which are attended by parents; notices on the school notice board or boards will likewise have to be in both languages; correspondence between the school and parents will have to be conducted either in both languages or selectively, depending on the particular parent's language of choice; the same applies to school reports; in the present case the school motto, which presently reads "Werk en Skep", may have to be scrapped and replaced with one which caters for both languages, or, perhaps, even with one in a third language, such as Latin; the first applicant's constitution will have to be in both languages, and the same will presumably apply to such things as the school song, if it has one. The list is almost endless. I am not suggesting that any of these things are undesirable in themselves; I have no doubt that many parallel and dual-medium schools function perfectly satisfactorily in such a bilingual milieu: however, I do say that these aspects will, of necessity, be very different in a dual or parallel-medium school from what they are in a single-medium school." Agteruitgang Hoekom het Afrikaanssprekendes toegelaat dat Afrikaans as publieke taal so met rasse skrede agteruitgaan? Ten eerste is Afrikaanssprekendes oor die algemeen baie lief vir hul taal, maar baie min het `n taallojaliteit of voel `n taalverpligting. Hulle het daaraan gewoond geraak dat die staat Afrikaans beskerm. Bekommernis oor Afrikaans se oorlewing tel veel minder as kommer oor misdaad en werksgeleenthede. As `n universiteit moet kies tussen meer studente (en dus meer subsidies) of meer Afrikaans kies dit omtrent altyd teen Afrikaans. Afrikaans het `n weeskind geword. Ten tweede is Afrikaanssprekendes, insluitende die akademiese en sake-elite, onkundig of onverskillig oor die prosesse van taalverplasing. Hulle wys na die konsumpsie van Afrikaans (kunstefeeste, boeke, koerante, tydskrifte) maar vergeet dat dit die produk van vorige investering is, toe Afrikaans een van twee amptelike tale was en feitlik alle Afrikaanse opvoedkundige inrigtings enkelmedium was. In enige taal se oorlewing is die deurslaggewende vraag nie die huidige konsumpsie nie maar of die voorwaardes bestaan vir die oordrag van die taal as publieke taal na `n volgende geslag. Hier is van kritieke belang die stand van die taal in skole en universiteite en saam daarmee die regeringsbeleid.. Die "ooroptimiste" oor die toekoms van Afrikaans as publieke taal weier om te erken dat die regering se aandrang op toegang in Engels en regstellende aksie die dood in die pot vir Afrikaans as publieke taal is behalwe as daar doelgerigte teenstand kom. Afrikaans kan nie aan `n universiteit of `n skool oorleef as die regering aandring dat alle toekomstige aanstellings die doel van demografiese verteenwoordiging en regstellende aksie moet dien nie. En as die universiteite eens "getransformeer" is, watter kans is daar dat Afrikaans as die taal van hoërskole sal oorbly? Ten derde is daar die ou Afrikaanse swakheid, naamlik verdeling en twis. Toenemend kies die ANC die Afrikaners met wie hy oor Afrikaans wil onderhandel en daar is meer as genoeg gewilliges wat daarvoor reg staan. En ANC-woordvoerders sal altyd gewilliges kan aanhaal wat verklaar dat kommer oor die marginalisering van Afrikaans die reaksie van mense is wat nie die Afrikaners se magsverlies kan verwerk nie Afrikaans se toekoms as spreektaal en informele omgangstaal is verseker. Sy toekoms as publieke taal met hoë kultuurfunksies is ernstig in gedrang. Slegs ernstige besinning deur meningsvormers en besluitnemers wat op `n duidelike oorlewingsplan uitloop, sal `n wesenlike verskil maak. Sonder so `n plan sal nie veel vordering gemaak kan word in gesprekke met `n regering wat tot dusver heeltemal te veel botsende seine van die Afrikaanssprekende gemeenskap ontvang het. 21 November 2005 08:05:23 AM |