chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Die toekoms van die Afrikaner in Suid-Afrika

Dan Roodt

Toespraak gelewer op 25 November 2005 by die jaarafsluiting van Praag, asook die ondertekening van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die Pro-Afrikaanse Aksiegroep en Afrikaner-alliansie.

Soos Hermann Giliomee iewers aangedui het, was die selfversekerde Afrikaner van die perionde ná 1948 eintlik ‘n historiese anomalie. As ‘n relatief klein en dikwels bedreigde volk, was die Afrikaner nog nooit baie seker van homself nie. Soos my gewese Latynprofessor in sy boek South Africa after Vorster laat blyk het, het die Afrikaner op daardie stadium in die laat sewentigerjare oor politieke mag beskik, maar kultureel was hy steeds ondergeskik aan die Angel-Sakser.

Dikwels ook was die Afrikaner verdeel tussen bittereinders en hensoppers. En as ek hier verwys na bittereinders en hensoppers, dan verwys ek nie noodwendig na die Tweede Vryheidsoorlog nie, maar na ‘n verskynsel wat nie tydgebonde is nie. Soos die Tsjegge, moderne Grieke, Pole en ander Oos-Europeërs, maar ook die kleiner Baltiese volke, is die Afrikaner gedurende die grootste gedeelte van sy geskiedenis oorheers. ‘n Paar jaar gelede het ek na die huidige periode as “die Derde Britse besetting” verwys. In die huidige stelsel, maar veral aan die totale magteloosheid en ondergeskiktheid van ons mense, kan ons wel die hand van Engeland sien.

Trouens, in vele opsigte is die model van die multikulturele samelewing en die smeltkroes – dit wat sedert 1994 op Suid-Afrika en veral op ons as volk afgedwing word – ‘n Britse en Amerikaanse uitvinding. Maar hierdie is nie noodwendig ‘n anti-Engelse praatjie nie. Vir my gaan dit bloot om die situasie waarin ons ons bevind te erken en te herken as ‘n “derde besetting”.

Die meeste Afrikaners kla vandag dat “ons nie kan saamstaan nie”. Vanaand het ons wel ‘n blyk gehad dat twee organisasies met wydlopende verskille in filosofie en benadering, Praag en Afrial, ‘n samewerkingsooreenkoms kon onderteken. Dit gee my hoop vir die toekoms. Daar is ook ander gesprekke aan die gang en ek merk dat prof. Danie Goosen van die FAK volgens vandag se Volksblad so pas in Bloemfontein aangekondig het dat “die idee van 'n legitieme, demokratiese Afrikanerraad wat statutêr erken word, wakker gehou word”. Ek is nie seker of die ANC-bewind ooit statutêre erkenning aan ‘n Afrikanerraad sal verleen nie, maar laat ons prof. Goosen loof dat hy die behoefte aan groter eendragtigheid en koördinering onder ons mense erken.

Besetting as sodanig skep egter verdeeldheid. Ons het dit deur die eeue waargeneem, ook tydens die Tweede Wêreldoorlog in lande wat deur Duitsland beset is. Tydens elke besetting is daar meelopers terwyl die meerderheid van die inheemse bevolking daaronder ly. Tans ly die meerderheid Afrikaners onder die huidige stelsel. Nogtans is daar ‘n elite-minderheid wat daarby baat vind. Hier dink ek aan sommige sakemanne en akademici, veral die rektore van Afrikaanse universiteite wat weet aan watter kant hul brood gebotter is. Terwyl ons taal en ons mense, maar ook al die instellings en ondernemings wat ons ná die verwoesting van 1899-1902 opgerig het, stelselmatig afgetakel word, sing hierdie meeloper-Afrikaners wat ons gerus maar hensoppers kan noem, ‘n vrolike deuntjie van nasiebou, versoening en nie-rassigheid. Die oorblywende Afrikaanse koerante, maar ook RSG, wy hulself byna geheel en al aan die besetter se ideaal van nasiebou en versoening, twee slagspreuke wat presies net so uit die woordeskat van Lord Milner ná 1902 afkomstig is.

Nasiebou is niks minder as ‘n eufemisme vir Afrikaner-assimilasie nie. Ons moet ons taal en kultuur prysgee, maar ook ons diepste waardes, ons identiteit, ons Westerse afkoms en daarmee saam natuurlik ons ras. Dit is wat die onskuldige woordjie “nie-rassig” beteken. “Nie-rassig” wil nie sê dat daar voortaan nie meer na ras of afkoms in Suid-Afrika verwys gaan word nie. Nee, “nie-rassig” beteken dat daar ‘n permanente vyandigheid teenoor blankes sal heers. Ironies genoeg het een van die angsvallige apologete vir nie-rassigheid, mnr. Tim du Plessis van Rapport, verlede Sondag in sy rubriek geskryf: “ Enigiets solank dit net nie wit is nie is deesdae 'n toepasliker leuse vir die ANC as 'n beter lewe vir almal.”

Hy het dit gesê, nie ek nie. Maar terwyl die hensopper-Afrikaner hom grotendeels verlaat op die Angel-Saksiese clichés van twintig, dertig en selfs veertig jaar gelede – dié van die smeltkroes, regstellende aksie, die verdwyning van etnisiteit, ras en kulturele onderskeid tussen mense – bevind ons ons vandag in ‘n heel nuwe omgewing, sowel nasionaal as internasionaal en waar identiteitspolitiek al hoe meer geld, pleks van die ideologiese politiek tydens ‘n groot deel van die twintigste eeu. Elkeen van die groot internasionale denkers en ontleders, hetsy in die VSA, hetsy in Europa, het dit al gesê.

Een van die frappantste opsommings van die huidige internasionale krisis rondom ras en rassisme het ek nou die dag gelees van die Joods-Franse filosoof en politieke meningsvormer Alain Finkielkraut:

“Maar ek dink dat die lofwaardige ideaal van ‘’n oorlog teen rassisme’ geleidelik besig is om in ‘n afskuwelik valse ideologie te verander. En hierdie anti-rassisme sal vir die 21ste eeu beteken wat kommunisme vir die twintigste eeu beteken het. Vandag word Jode in die naam van ‘n anti-rassististiese diskoers aangeval: die skeidsmuur, ‘Sionisme is rassisme’.” Aldus Finkielkraut.

Onmiddellik as die Afrikaner vandag in Suid-Afrika hom beroep op ‘n eie taal, kultuur, geskiedenis en instellings om daardie erfenis te bewaar, word hy blitssnel met die teerkwas van rassisme bygekom. Waarskynlik is daar net een rassisme in die huidige Suid-Afrika, en dit is die rassisme van anti-rassisme.

Meer as ooit tevore gaan dit ‘n reuse poging van die Afrikaner verg om sy huidige ondergeskiktheid en geleidelike uitmergeling deur die stelsel te oorkom. Maar een van die eerste vereistes is dat ons ons met oorgawe in die intellektuele en ideologiese stryd moet werp ten einde die kommunisme van die een-en-twintigste eeu soos Finkielkraut dit noem, teen te gaan.

Om as volk te oorleef, is daar op die lang duur slegs twee vereistes: 1) Ons moet aanhou Afrikaans praat; en (2) ons moet onsself fisiek voortplant.

Dit klink eenvoudig, amper ‘n oorvereenvoudiging, maar as na die huidige opset kyk, slaag ons vir seker nie daarin nie. Daar bestaan reeds twintig persent van Afrikaners wat hul kinders na Engelse skole stuur. Honderde duisende Afrikaners het reeds geëmigreer en hierdie proses duur steeds voort. Die staat samel ons belastings in en gebruik daardie belastings om sy verengelsingsveldtog te finansier. In ‘n groot mate finansier Afrikaners dus vandag die ondergang van hul eie taal. In die onlangse verlede het ons gesien watter druk daar op Afrikaanse universiteite toegepas word om te verengels, hoe Radio Pretoria, die enigste oorblywende radiostasie met meer as 100 000 luisteraars wat nog uitsluitlik in Standaardafrikaans oor die lug uitsaai, een hofsaak na die ander verloor sover dit die behoud van sy uitsaailisensie betref.

Binnekort mag daar geen Standaardafrikaans meer oor die radio gehoor word nie. Wat die TV betref, het Afrikaans natuurlik al lankal die knie gebuig en word ons op sowel die SAUK as KykNet op derderangse programme wat in ‘n geradbraakte taal uitgesaai word, vergas.

Afrikaans is vandag in die swakste toestand wat dit was sedert 1925, toe dit as amptelike taal naas Engels erken is.

As ons nou kyk na die tweede element wat ek genoem het, ons natuurlike aanwas, lyk dinge ewe mistroostig as op taalgebied. Soortgelyk aan ander Westerlinge, beskik ons oor ‘n uiters lae geboortesyfer. Volgens die Sentrale Statistiekdiens se mees onlangse syfers wat op 31 Mei 2005 gepubliseer is, is die gemiddelde jaarlikse bevolkingsaanwas vir blankes in die land oor die afgelope vier jaar gelykstaande aan -0,85%. Met ander woorde, en ek vertel u waarskynlik niks nuuts nie, ons beskik oor ‘n negatiewe geboortesyfer. Net soos die Italianers, Russe, Duitsers, noem maar op. Die pas aangewese Duitse kanselier, Angela Merkel, gaan poog om oor die volgende vier jaar die Duitse geboortesyfer deur allerlei aansporingsmaatreëls te laat styg, want veertig persent van Duitse vrouens baar geen kinders meer nie.

Duitsland word allerweë as die land met die mees negatiewe demografie ter wêreld gesien. Daar is selfs projeksies wat meen dat die Duitse bevolking van 80 miljoen na 25 miljoen mag daal. Maar op ‘n manier is die Duitsers nog in ‘n baie beter posisies as ons: hulle het twee wêreldoorloë verloor, heelwat grondgebied afgestaan. Maar sedert 1989 word hulle nie meer beset nie en is hulle steeds in beheer van hul eie land.

Ek het so ‘n klein sommetjie gaan maak, gegrond op die statistiekdiens se syfers. Volgens die statistiekdiens is daar 4 379 800 blankes in die land, waarvan 60% Afrikaans as huistaal praat. Met ander woorde daar is 2 627 880 Afrikaners in die land oor. Selfs sonder emigrasie, gaan hulle getalle deur gebrek aan natuurlike aanwas soos volg daal:

10 jaar

 

2,412,863

20 jaar

 

2,215,440

40 jaar

 

1,867,731

Dit klink nou nog nie so sleg nie. Maar voeg hierby emigrasie waardeur ons beste mense die land verlaat, asook die sterk druk wat daar sowel die regering as deur die hoofstroommedia toegepas word om ons juis te laat assimileer, en dit word ‘n heel ander prentjie. Indien ons van bogaande syfers aftrek die duisende wat die land verlaat, asook diegene wat toenemend met ander bevolkingsgroepe ondetrou, kan ons tereg van ‘n bevolkingskrisis praat wat selfs erger as dié van Duitsland mag wees. En, anders as die Duitsers, beskik ons nie oor ‘n eie staat waarvan die kanselier of president gaan poog om die krisis aan te spreek nie. Inteendeel, indien mnr. Mbeki vanaand hier teenwoordig was, sou hy verheug gewees het om van ons demografiese ondergang te verneem.

Een van my gunsteling aanhalings uit die filosoof Soren Kierkegaard is die een waar hy praat van niks doen as eweneens ‘n keuse. Hy vergelyk dit met ‘n boot wat deur die stroom meegesleur word en uiteindelik oor ‘n afgrond gaan stort. Die stuurman kan draai en ‘n ander rigting inslaan, of hy kan eenvoudig toelaat dat die stroom hom na sy dood meesleur. Keuses word onverbiddelik aan individue én aan volke opgedring. Niks doen is dus ook ‘n keuse.

Sedert ons stigting meer as vyf jaar gelede, het Praag, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, gekies vir optrede, vir aksie. Een van die speelse slagspreuke wat dóér in April 2000 op die vooraand van ons eerste betoging voorgestel is, was: na aksie, satisfaksie. Om te handel, om te doen, om ‘n slegte toestand te probeer stuit en om te keer, het ons leuse geword.

Vanaand vier ons nog ‘n jaar van debat en van allerlei aksies wat ons gevoer het, teen die vernietiging van ons taal en ons erfenis, maar veral téén die maklike en verleidelike keuse van niks doen, om jou deur die stroom te laat meesleur, om Gods water oor Gods akker te laat loop asof ons geen invloed op ons eie lot kan uitoefen nie.

God het die heelal gemaak, maar politieke stelsels en wette, selfs grondwette, is mensgemaak. Hulle is nie heilig nie. Hulle kan gewysig en aangepas word. Dit is helder en eenvoudig: nóg die Afrikaner, nóg Afrikaans, gaan sonder ‘n eie staat of provinsie kan oorleef. Wat vir my soms so verbasend is, is hoe die hooftemas van die geskiedenis so min verander. Ons is steeds besig met dieselfde stryd as wat in die 1820s tydens die Tweede Britse Besetting gevoer is en wat op die Groot Trek uitgeloop het, naamlik die stryd om selfregering binne ‘n eie staat!

Terwyl die stand van die Afrikaanse debat, of gebrek daaraan, my dikwels pessimisties stem, raak ek baie opgewonde oor die radikale ommekeer wat besig is om in Westerse lande in te tree. Nederland, die land van die hippies, gewettigde dwelms, eenslagtige huwelike en bowenal pasifisme, oorweeg dit om Tomahawk-missiele aan te koop. Regoor Europa kan ons ‘n swaai na regs bespeur, met soveel soos 25% van alle Franse wat vir die nasionalistiese Front National stem en ongeveer ‘n derde van alle Vlaminge wat die Vlaams Belang ondersteun.

Die Suid-Afrikaanse politiek, ook die sogenaamde “skikking” van 1994 wat uiteindelik geen skikking was nie, maar ‘n eerlose oorgawe deur die Nasionale Party en die Broederbond wat intellektueel en polities totaal deur die ANC en veral die SAKP verneder is, word histories in ‘n groot mate van buite die land self bepaal. Die groot veranderinge wat daar besig is om in die wêreld plaas te vind, die oorloë wat reeds plaasvind, asook die beskawingsbotsing waarvan daar gepraat word, hoewel ongunstig vir wêreldvrede, skep nuwe moontlikhede vir Afrikanervryheid.

Daarom, rede tot swartgalligheid is daar nie. Soos Paul Kruger in 1881 gesê het:

“Hetsy ons oorwin of sterf, die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke en dan sal dit wees van die Zambesi tot aan Simonsbaai. Afrika vir die Afrikaner!”

 

Boontoe