|
|
|||||||||||||
| chronologie
|
Die toekoms van die Afrikaner in Suid-Afrika Dan
Roodt Toespraak
gelewer op 25 November 2005 by die jaarafsluiting van Praag, asook
die ondertekening van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die
Pro-Afrikaanse Aksiegroep en Afrikaner-alliansie. Soos Hermann Giliomee iewers
aangedui het, was die selfversekerde Afrikaner van die perionde ná
1948 eintlik ‘n historiese anomalie. As ‘n relatief klein en
dikwels bedreigde volk, was die Afrikaner nog nooit baie seker van
homself nie. Soos my gewese Latynprofessor in sy boek South
Africa after Vorster laat blyk het, het die Afrikaner op daardie
stadium in die laat sewentigerjare oor politieke mag beskik, maar
kultureel was hy steeds ondergeskik aan die Angel-Sakser. Dikwels ook was die
Afrikaner verdeel tussen bittereinders en hensoppers. En as ek hier
verwys na bittereinders en hensoppers, dan verwys ek nie noodwendig
na die Tweede Vryheidsoorlog nie, maar na ‘n verskynsel wat nie
tydgebonde is nie. Soos die Tsjegge, moderne Grieke, Pole en ander
Oos-Europeërs, maar ook die kleiner Baltiese volke, is die
Afrikaner gedurende die grootste gedeelte van sy geskiedenis
oorheers. ‘n Paar jaar gelede het ek na die huidige periode as
“die Derde Britse besetting” verwys. In die huidige stelsel,
maar veral aan die totale magteloosheid en ondergeskiktheid van ons
mense, kan ons wel die hand van Engeland sien. Trouens, in vele opsigte is
die model van die multikulturele samelewing en die smeltkroes –
dit wat sedert 1994 op Suid-Afrika en veral op ons as volk afgedwing
word – ‘n Britse en Amerikaanse uitvinding. Maar hierdie is nie
noodwendig ‘n anti-Engelse praatjie nie. Vir my gaan dit bloot om
die situasie waarin ons ons bevind te erken en te herken as ‘n
“derde besetting”. Die meeste Afrikaners kla
vandag dat “ons nie kan saamstaan nie”. Vanaand het ons wel ‘n
blyk gehad dat twee organisasies met wydlopende verskille in
filosofie en benadering, Praag en Afrial, ‘n
samewerkingsooreenkoms kon onderteken. Dit gee my hoop vir die
toekoms. Daar is ook ander gesprekke aan die gang en ek merk dat
prof. Danie Goosen van die FAK volgens vandag se Volksblad so pas in
Bloemfontein aangekondig het dat “die idee van 'n legitieme,
demokratiese Afrikanerraad wat statutêr erken word, wakker gehou
word”. Ek is nie seker of die ANC-bewind ooit statutêre erkenning
aan ‘n Afrikanerraad sal verleen nie, maar laat ons prof. Goosen
loof dat hy die behoefte aan groter eendragtigheid en koördinering
onder ons mense erken. Besetting as sodanig skep
egter verdeeldheid. Ons het dit deur die eeue waargeneem, ook tydens
die Tweede Wêreldoorlog in lande wat deur Duitsland beset is.
Tydens elke besetting is daar meelopers terwyl die meerderheid van
die inheemse bevolking daaronder ly. Tans ly die meerderheid
Afrikaners onder die huidige stelsel. Nogtans is daar ‘n
elite-minderheid wat daarby baat vind. Hier dink ek aan sommige
sakemanne en akademici, veral die rektore van Afrikaanse
universiteite wat weet aan watter kant hul brood gebotter is. Terwyl
ons taal en ons mense, maar ook al die instellings en ondernemings
wat ons ná die verwoesting van 1899-1902 opgerig het, stelselmatig
afgetakel word, sing hierdie meeloper-Afrikaners wat ons gerus maar
hensoppers kan noem, ‘n vrolike deuntjie van nasiebou, versoening
en nie-rassigheid. Die oorblywende Afrikaanse koerante, maar ook
RSG, wy hulself byna geheel en al aan die besetter se ideaal van
nasiebou en versoening, twee slagspreuke wat presies net so uit die
woordeskat van Lord Milner ná 1902 afkomstig is. Nasiebou is niks minder as
‘n eufemisme vir Afrikaner-assimilasie nie. Ons moet ons taal en
kultuur prysgee, maar ook ons diepste waardes, ons identiteit, ons
Westerse afkoms en daarmee saam natuurlik ons ras. Dit is wat die
onskuldige woordjie “nie-rassig” beteken. “Nie-rassig” wil
nie sê dat daar voortaan nie meer na ras of afkoms in Suid-Afrika
verwys gaan word nie. Nee, “nie-rassig” beteken dat daar ‘n
permanente vyandigheid teenoor blankes sal heers. Ironies genoeg het
een van die angsvallige apologete vir nie-rassigheid, mnr. Tim du
Plessis van Rapport, verlede Sondag in sy rubriek geskryf: “ Enigiets
solank dit net nie wit is nie is deesdae 'n toepasliker leuse
vir die ANC as 'n beter lewe vir almal.” Hy het dit gesê, nie ek
nie. Maar terwyl die hensopper-Afrikaner hom grotendeels verlaat op
die Angel-Saksiese clichés van twintig, dertig en selfs veertig
jaar gelede – dié van die smeltkroes, regstellende aksie, die
verdwyning van etnisiteit, ras en kulturele onderskeid tussen mense
– bevind ons ons vandag in ‘n heel nuwe omgewing, sowel
nasionaal as internasionaal en waar identiteitspolitiek al hoe meer
geld, pleks van die ideologiese politiek tydens ‘n groot deel van
die twintigste eeu. Elkeen van die groot internasionale denkers en
ontleders, hetsy in die VSA, hetsy in Europa, het dit al gesê. Een van die frappantste
opsommings van die huidige internasionale krisis rondom ras en
rassisme het ek nou die dag gelees van die Joods-Franse filosoof en
politieke meningsvormer Alain Finkielkraut: “Maar ek dink dat die
lofwaardige ideaal van ‘’n oorlog teen rassisme’ geleidelik
besig is om in ‘n afskuwelik valse ideologie te verander. En
hierdie anti-rassisme sal vir die 21ste eeu beteken wat kommunisme
vir die twintigste eeu beteken het. Vandag word Jode in die naam van
‘n anti-rassististiese diskoers aangeval: die skeidsmuur,
‘Sionisme is rassisme’.” Aldus Finkielkraut. Onmiddellik as die Afrikaner
vandag in Suid-Afrika hom beroep op ‘n eie taal, kultuur,
geskiedenis en instellings om daardie erfenis te bewaar, word hy
blitssnel met die teerkwas van rassisme bygekom. Waarskynlik is daar
net een rassisme in die huidige Suid-Afrika, en dit is die rassisme
van anti-rassisme. Meer as ooit tevore gaan dit
‘n reuse poging van die Afrikaner verg om sy huidige
ondergeskiktheid en geleidelike uitmergeling deur die stelsel te
oorkom. Maar een van die eerste vereistes is dat ons ons met oorgawe
in die intellektuele en ideologiese stryd moet werp ten einde die
kommunisme van die een-en-twintigste eeu soos Finkielkraut dit noem,
teen te gaan. Om as volk te oorleef, is
daar op die lang duur slegs twee vereistes: 1) Ons moet aanhou
Afrikaans praat; en (2) ons moet onsself fisiek voortplant. Dit klink eenvoudig, amper
‘n oorvereenvoudiging, maar as na die huidige opset kyk, slaag ons
vir seker nie daarin nie. Daar bestaan reeds twintig persent van
Afrikaners wat hul kinders na Engelse skole stuur. Honderde duisende
Afrikaners het reeds geëmigreer en hierdie proses duur steeds
voort. Die staat samel ons belastings in en gebruik daardie
belastings om sy verengelsingsveldtog te finansier. In ‘n groot
mate finansier Afrikaners dus vandag die ondergang van hul eie taal.
In die onlangse verlede het ons gesien watter druk daar op
Afrikaanse universiteite toegepas word om te verengels, hoe Radio
Pretoria, die enigste oorblywende radiostasie met meer as 100 000
luisteraars wat nog uitsluitlik in Standaardafrikaans oor die lug
uitsaai, een hofsaak na die ander verloor sover dit die behoud van
sy uitsaailisensie betref. Binnekort mag daar geen
Standaardafrikaans meer oor die radio gehoor word nie. Wat die TV
betref, het Afrikaans natuurlik al lankal die knie gebuig en word
ons op sowel die SAUK as KykNet op derderangse programme wat in ‘n
geradbraakte taal uitgesaai word, vergas. Afrikaans is vandag in die
swakste toestand wat dit was sedert 1925, toe dit as amptelike taal
naas Engels erken is. As ons nou kyk na die tweede
element wat ek genoem het, ons natuurlike aanwas, lyk dinge ewe
mistroostig as op taalgebied. Soortgelyk aan ander Westerlinge,
beskik ons oor ‘n uiters lae geboortesyfer. Volgens die Sentrale
Statistiekdiens se mees onlangse syfers wat op 31 Mei 2005
gepubliseer is, is die gemiddelde jaarlikse bevolkingsaanwas vir
blankes in die land oor die afgelope vier jaar gelykstaande aan
-0,85%. Met ander woorde, en ek vertel u waarskynlik niks nuuts nie,
ons beskik oor ‘n negatiewe geboortesyfer. Net soos die
Italianers, Russe, Duitsers, noem maar op. Die pas aangewese Duitse
kanselier, Angela Merkel, gaan poog om oor die volgende vier jaar
die Duitse geboortesyfer deur allerlei aansporingsmaatreëls te laat
styg, want veertig persent van Duitse vrouens baar geen kinders meer
nie. Duitsland word allerweë as
die land met die mees negatiewe demografie ter wêreld gesien. Daar
is selfs projeksies wat meen dat die Duitse bevolking van 80 miljoen
na 25 miljoen mag daal. Maar op ‘n manier is die Duitsers nog in
‘n baie beter posisies as ons: hulle het twee wêreldoorloë
verloor, heelwat grondgebied afgestaan. Maar sedert 1989 word hulle
nie meer beset nie en is hulle steeds in beheer van hul eie land. Ek het so ‘n klein
sommetjie gaan maak, gegrond op die statistiekdiens se syfers.
Volgens die statistiekdiens is daar 4 379 800 blankes in die land,
waarvan 60% Afrikaans as huistaal praat. Met ander woorde daar is 2
627 880 Afrikaners in die land oor. Selfs sonder emigrasie, gaan
hulle getalle deur gebrek aan natuurlike aanwas soos volg daal:
Dit klink nou nog nie so
sleg nie. Maar voeg hierby emigrasie waardeur ons beste mense die
land verlaat, asook die sterk druk wat daar sowel die regering as
deur die hoofstroommedia toegepas word om ons juis te laat
assimileer, en dit word ‘n heel ander prentjie. Indien ons van
bogaande syfers aftrek die duisende wat die land verlaat, asook
diegene wat toenemend met ander bevolkingsgroepe ondetrou, kan ons
tereg van ‘n bevolkingskrisis praat wat selfs erger as dié van
Duitsland mag wees. En, anders as die Duitsers, beskik ons nie oor
‘n eie staat waarvan die kanselier of president gaan poog om die
krisis aan te spreek nie. Inteendeel, indien mnr. Mbeki vanaand hier
teenwoordig was, sou hy verheug gewees het om van ons demografiese
ondergang te verneem. Een van my gunsteling
aanhalings uit die filosoof Soren Kierkegaard is die een waar hy
praat van niks doen as eweneens ‘n keuse. Hy vergelyk dit met ‘n
boot wat deur die stroom meegesleur word en uiteindelik oor ‘n
afgrond gaan stort. Die stuurman kan draai en ‘n ander rigting
inslaan, of hy kan eenvoudig toelaat dat die stroom hom na sy dood
meesleur. Keuses word onverbiddelik aan individue én aan volke
opgedring. Niks doen is dus ook ‘n keuse. Sedert ons stigting meer as
vyf jaar gelede, het Praag, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, gekies
vir optrede, vir aksie. Een van die speelse slagspreuke wat dóér
in April 2000 op die vooraand van ons eerste betoging voorgestel is,
was: na aksie, satisfaksie. Om te handel, om te doen, om ‘n slegte
toestand te probeer stuit en om te keer, het ons leuse geword. Vanaand vier ons nog ‘n
jaar van debat en van allerlei aksies wat ons gevoer het, teen die
vernietiging van ons taal en ons erfenis, maar veral téén die
maklike en verleidelike keuse van niks doen, om jou deur die stroom
te laat meesleur, om Gods water oor Gods akker te laat loop asof ons
geen invloed op ons eie lot kan uitoefen nie. God het die heelal gemaak,
maar politieke stelsels en wette, selfs grondwette, is mensgemaak.
Hulle is nie heilig nie. Hulle kan gewysig en aangepas word. Dit is
helder en eenvoudig: nóg die Afrikaner, nóg Afrikaans, gaan sonder
‘n eie staat of provinsie kan oorleef. Wat vir my soms so
verbasend is, is hoe die hooftemas van die geskiedenis so min
verander. Ons is steeds besig met dieselfde stryd as wat in die
1820s tydens die Tweede Britse Besetting gevoer is en wat op die
Groot Trek uitgeloop het, naamlik die stryd om selfregering binne
‘n eie staat! Terwyl die stand van die
Afrikaanse debat, of gebrek daaraan, my dikwels pessimisties stem,
raak ek baie opgewonde oor die radikale ommekeer wat besig is om in
Westerse lande in te tree. Nederland, die land van die hippies,
gewettigde dwelms, eenslagtige huwelike en bowenal pasifisme,
oorweeg dit om Tomahawk-missiele aan te koop. Regoor Europa kan ons
‘n swaai na regs bespeur, met soveel soos 25% van alle Franse wat
vir die nasionalistiese Front National stem en ongeveer ‘n derde
van alle Vlaminge wat die Vlaams Belang ondersteun. Die Suid-Afrikaanse
politiek, ook die sogenaamde “skikking” van 1994 wat uiteindelik
geen skikking was nie, maar ‘n eerlose oorgawe deur die Nasionale
Party en die Broederbond wat intellektueel en polities totaal deur
die ANC en veral die SAKP verneder is, word histories in ‘n groot
mate van buite die land self bepaal. Die groot veranderinge wat daar
besig is om in die wêreld plaas te vind, die oorloë wat reeds
plaasvind, asook die beskawingsbotsing waarvan daar gepraat word,
hoewel ongunstig vir wêreldvrede, skep nuwe moontlikhede vir
Afrikanervryheid. Daarom, rede tot
swartgalligheid is daar nie. Soos Paul Kruger in 1881 gesê het: “Hetsy ons oorwin of
sterf, die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke
en dan sal dit wees van die Zambesi tot aan Simonsbaai. Afrika vir
die Afrikaner!” |