chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

'n Volkstaat of die Republiek?

Sydney Gregan

Lees ook Anton Barnard se repliek op dié opstel.

Dan Roodt se artikel in Die Afrikaner van 9-15 Desember 2005 het 'n belangrike kwessie weer op die voorgrond geplaas, naamlik die vraag oor die Afrikaner se grondgebied. Moet die Afrikanervolk, as die speerpunt van die Blankedom, hom op hierdie stadium beywer vir 'n volkstaat ("kerngebied") êrens binne die grense van die Republiek van Suid-Afrika, of moet hy hom beywer om die politieke mag in die geheel van Suid-Afrika te bekom? Laasgemelde is die standpunt van die HNP.

Eersgemelde standpunt het oor baie jare baie woordvoerders gehad. In hierdie verband word gedink aan die Oranjewerkers, die Afrikaner Volkswag, die Afrikaner Volksfront en ook die Vryheidsfront.

Mnr Robert van Tonder, prof Carel Boshoff, dr Chris Jooste en andere het boeke oor die volkstaat geskryf. Uit die pen van mnr Jaap Marais, voormalige leier van die HNP, het talle artikels oor hierdie saak verskyn. Die HNP se standpunt is steeds dat die volkstaat, soos voorheen en ook nou deur Dan Roodt gepropageer, om talle redes nie haalbaar is nie en verwerp moet word.

Volkstate as beginsel

Wat eerstens gesê moet word, is dat die HNP glo dat die verskillende volkere in Suid-Afrika hulle eie (volk)state moet hê. Dit is in ooreenstemming met die reg op selfbeskikking wat wêreldwyd erken word as 'n reg wat elke volk kan opeis. (In hierdie verband kan die proefskrif van skrywer ook nageslaan word). Die beleid van dr Verwoerd was dan ook daarop gerig dat daar vir elke volk in Suid-Afrika 'n onafhanklike staat tot stand moet kom waarin daardie volk homself kan regeer. Die tuislandbeleid het uitvoering aan daardie beleid gegee. So is "Zoeloeland en Transkei" dan ook as tuislande geïdentifiseer wat buite (Blank) Suid- Afrika sou bestaan. Die Transkei het onafhanklikheid verkry en was enige tyd meer "onafhanklik" as meeste Afrikastate.

Na dr Verwoerd se dood is die beleid van afsonderlike ontwikkeling ("selfbeskikking") stelselmatig afgetakel as sou dit onprakties gewees het. Die produk van laasgemelde beleid is die sogenaamde verenigde Suid-Afrika wat ons vandag het, met sy toenemende wrywing tussen die volkere en anargie wat dreig om die hele staatsorde ten gronde te rig. Integrasie het oral misluk en sal ook in Suid-Afrika misluk. Die HNP en die "volkstaters" is dit gevolglik eens oor die "volkstaatgedagte".

Historiese aansprake

Die verskille tussen die HNP en die "volkstaters" laat egter nie ruimte vir "middelgrond" nie. Die verdeling van Suid-Afrika in verskillende volkstate kan net op 'n basis geskied wat histories geregverdig kan word. 'n Volk kan slegs op grondgebied (staat) aanspraak maak uit hoofde van sy historiese aanspraak daarop. Dit lewer dikwels sy eie probleme op. In hierdie verband is daar "suiwer" en "omstrede" aansprake. Eritrea is 'n goeie voorbeeld van 'n suiwer aanspraak. Die Eritrieërs het 'n suiwer historiese reg gehad op Eritrea (ter uitsluiting van Ethiopië). Daarbenewens het die inwoners in 'n referendum hulle oorweldigend ten gunste van die onafhanklike staat Eritrea uitgespreek en is Eritrea internasionaal erken. Die Jode se aanspraak op Palestina is, om die minste te sê, omstrede. Juis omdat die aanspraak van die Jode op Israel (ten spyte van hulle besetting in 1948 en daarna) omstrede is, en van meet af deur die Palestyne betwis is as histories onsuiwer en volkeregtelik ongeregverdig, sal die stryd in Palestina onbepaald voortduur.

Indien dit so eenvoudig was om 'n kaart van Suid-Afrika te neem en 'n deel ("kerngebied") te identifiseer, en daardie deel eenvoudig "te vat", sou die debat oor volkstate oorbodig gewees het. Historiese oorwegings en teenstrydige aansprake bemoeilik dikwels die saak. Dat mense dikwels uit radeloosheid met ons huidige toestand gryp na die gedagte van 'n volkstaat (sodat die Afrikaner "tog net iets kan hê wat sy eie is"), word begryp. Die saak is egter veel groter as dit. Sekere historiese regte is in Suid-Afrika gevestig en het die Blankes in 1961 soewereiniteit in die ganse Suid-Afrika (die RSA) gevestig met die daarstelling van 'n republiek. Daarmee het die Blankes ook te kenne gegee dat hulle die hele republiek (wat Natal en Kaapland ingesluit het) sal regeer as Blanke gebied, en nie meer net die Transvaalse en Vrystaatse republieke soos tot en met 1902 nie. Die RSA is deur die ganse wêreld erken. Daar is volkeregtelik kennis geneem en erkenning gegee aan die RSA.

Onregmatige regerings

Dat die gesag oor die RSA in 1994 (onregmatig) oorhandig is aan 'n terroristebende het niks aan die historiese aanspraak van die Blankes verander nie. Die huidige "demografiese werklikheid" is tydelik. Om op grond daarvan na die strooihalm van 'n volkstaatjie ("kerngebied") êrens te gryp, is om die historiese regte wat die Afrikaner in die res van Suid-Afrika gevestig het, eenvoudig te verwerp. Historiese regte kan deur niemand geïgnoreer word nie en kan na verloop van baie jare "herleef".

Toe Litoue, Letland en Estland in 1939 deur die geheime Von Ribbentrop-Molotov-akkoord by die USSR ingelyf is, was die inwoners van hierdie state magteloos om hulleself te verset. Dit het 'n situasie laat ontstaan wat vir vyftig jaar voortgeduur en hierdie drie state onder kommunistiese bewind geplaas het. So is ook gepoog om 'n nuwe "demografiese werklikheid" te skep wat, indien die historiese aansprake geïgnoreer sou word, aan daardie state nooit weer hulle selfbeskikkingsreg in hulle eie vaderlande sou kon teruggee nie. In 1990 egter, na verloop van vyftig jaar, het hierdie drie state, toe die geleentheid daarvoor reg was, besluit om hulle historiese regte op te eis en hulle onafhanklikheid terug te neem.

Waaroor dit gaan, is dat 'n demografiese werklikheid wat deur 'n onregmatigheid geskep is, nie historiese regte kan uitwis nie. Die RSA is deur Blankes regeer en die Blankes het nie vrywilliglik van hulle reg om die RSA te regeer, afstand gedoen nie, maar is daartoe beweeg deur 'n stuk bedrog van 'n regering wat nie die instemming van die Blanke kiesers gehad het om dit te doen nie. Of dit nou twaalf of vyftig jaar neem om daardie posisie reg te stel, maak nie saak nie. Die geleentheid sal hom weer voordoen en met die groeiende anargie in hierdie land, waarskynlik eerder vroeër as later.

Watter gebied?

Benewens voormelde gaan die volkstaatgedagte mank aan eenstemmigheid oor welke gebied gekies moet word. Terwyl daar aan die een kant geredeneer word dat 'n stuk grond beset moet word wat "niemand anders wil hê nie" (soos Orania), word daar uit 'n ander oogpunt geredeneer dat daar gekyk moet word waar in Suid-Afrika die meerderheid (of 'n baie groot groep) Afrikaners byeengetrek is ("kerngebied") en dat 'n volkstaat dan daar "uitgeroep" (of "gevat") moet word.

Daar kan kwalik erns wees met sekere volkstaters se voorneme om met 'n Afrika-regering te onderhandel om 'n stuk van "sy staat" af te staan soos wat sommige volkstaters beoog. As die Swartes nie eers 'n deel van die Karoo wil afstaan aan die Blankes nie (al kan hulleself niks daarmee doen nie), wat nog van 'n sleutelgebied soos Pretoria!

Wat besef moet word met hierdie laaste (die "kerngebied")-opsie, is dat wanneer 'n volkstaat uitgeroep word (d.w.s. nie deur onderhandeling nie), dit met die nodige erns sal moet geskied. Word dit nie gedoen nie, sal dit die grap van die eeu wees en sal Afrikaners veral, kwalik weer ernstig opgeneem word oor 'n volkstaat. Word dit wel met die nodige erns gedoen en 'n staat (republiek) word formeel geproklameer (d.w.s. die staat skei af), sal die regering van die "moederland" dit as 'n vyandige daad sien en 'n skending van sy "territoriale integriteit". So 'n stap is 'n vyandige sesessie (afskeiding) en sal met geweld onderdruk word. Die gebied sal homself dus fisies moet kan beskerm, anders sal dit, soos Katanga en Biafra elders in Afrika, met geweld binne 'n dag of twee onderdruk word. Sesessie sal met geweld afgedwing moet word, iets wat kwalik op hierdie stadium met erns bedink kan word. Daarbenewens sal daar ook geen erkenning verleen word aan hierdie staat, hetsy deur die regering van die dag, hetsy deur die res van die wêreld nie.

Dit sal dus veel meer verg as die blote "prokla- mering" ("vat") van 'n staat en die "verf van die oranje-blanje-blou". Daar is geen historiese basis daarvoor om net 'n deel van Suid-Afrika as volkstaat ("kerngebied") te verklaar nie, juis omdat die Blankes se territoriale magsbasis oor die totaliteit van Suid-Afrika gevestig was.

Sesessie

Vir sesessie (afskeiding) in die internasionale reg om te slaag, moet die volgende (minstens) gebeur: · die mense van die gebied wat afskei, moet 'n onderskeidende groep wees met 'n eie taal, kultuur en geskiedenis; · daardie groep moet 'n duidelike historiese reg op daardie gebied hê; · die gebied moet onder die beheer van die huidige staat gekom het as gevolg van die een of ander onregmatige gebeurtenis; · die wil van die mense van daardie gebied moes in 'n referendum ten gunste van sesessie uitgespreek word; · die menseregte van daardie mense moes gruwelik misken gewees het; · die nuwe staat moet voldoen aan die vereistes van staatskap soos uiteengesit in die Montevideo Konvensie, naamlik 'n spesifieke gebied, permanente bevolking, die vermoë om buitelandse betrekkinge aan te gaan en effektiewe regering.

Die kar sal voor die perde ingespan word as die wil van die mense van die gebied nie eers getoets word voor die staat geproklameer word nie. Indien hierdie nuwe staat boonop geen erkenning ontvang nie, sal dit 'n futiele poging wees. Ek is ook nie seker of die mense in die ooste van Pretoria (as synde 'n "kerngebied") "ryp" is vir die idee (en konsekwensies) van 'n volkstaat nie!

Verdere vrae wat ontstaan is onder andere: · Wat gebeur met die res van Suid-Afrika waar die spoor van die Afrikanerdom oor meer as 350 jaar lê? · Word daardie gebied (die res van die land) "afgeskryf"? · Word daardie gebied of dele daarvan (as verdere "kerngebiede") later by die volkstaat ingelyf? · Gaan inlywing van verdere gebied(e) openbaar gemaak word aan Blankes in daardie gebiede en aan die wêreld?

Die volkstaatgedagte is duidelik nog nie behoorlik deurdink nie. Mense word op hol gejaag met 'n volkstaat terwyl die volkeregtelike aspekte daarvan hoegenaamd nie verreken is nie.

As dit so maklik was as om 'n gebied te "vat" en borde te verf en daarmee 'n staat te hê, het ons waarskynlik lankal 'n volkstaat gehad. Dat ons nog nie 'n volkstaat het nie, is miskien voldoende bewys dat dit heelwat moeiliker is as wat die voorstanders daarvan probeer voorgee.

Net na die 1994-verkiesing het volkstaters op padtekens geverf: "Hierdie is ons volkstaat". Iemand het dit goedgedink om onderaan toe te voeg: "Hierdie is nie eers jou padteken nie!"

Waaroor gaan dit?

In Suid-Afrika, soos in elke ander staat, gaan dit oor politieke mag. Politieke mag beheers elke faset van die staatsorde. Die Blankes en meer spesifiek die Afrikaners se regte op die RSA is internasionaal erken. Ons het 'n historiese aanspraak en reg op Blank Suid-Afrika. Die demografiese werklikheid van vandag kan veel anders lyk oor tien jaar gegewe die etniese spanning en siektes waarvoor Afrika so bekend is!

Wat nou nodig is, is nie om volkstate uit te roep nie, maar om eendrag binne Blanke geledere te bewerkstellig oor die feit dat hierdie bestel verwerp moet word, juis omdat dit onwettig is! Suid-Afrika moet opgeëis word deur 'n proses van opbouende verset (soos na 1877) wat, indien die tyd daarvoor ryp is, die Afrikaner weer in staat sal stel om sy mag oor Suid-Afrika te vestig. Dit sal begeesterend inwerk op alle Blankes wat weer in 'n vrye onafhanklike staat wil bly.

Meeste burgers van die drie Baltiese state het in die 1980's, toe almal gedink het die Kommunisme is onaantasbaar, moedeloos gevra hoe dit moontlik gaan wees om die politieke mag aldaar te bekom. In 1989 en daarna was die val van Kommunisme in die USSR nie net skouspelagtig nie, maar vir meer as net hierdie drie state bevrydend. Politieke mag word deur stryd bekom. En strydlustigheid ontkiem in 'n gees van verset. Enkele veldslae in 'n paar maande staan vandag as die Eerste Vryheidsoorlog bekend. Nie eers Paul Kruger het in Desember 1880 kon dink dat die Boere op 27 Februarie 1881 weer vry sou wees nie.

Ons gaan nie met 'n onwettige regering onderhandel oor ons land nie. Ons gaan ook nie enige gebiede van ons land afstaan waarvoor ons voorouers bloed, sweet en trane geoffer het in ruil vir die utopia van 'n volkstaatjie nie. As Pretoria ons begeester, dan as hoofstad van hierdie land, ons land, die Republiek van Suid-Afrika.

Hierdie opstel het oorspronklik in Die Afrikaner verskyn op 27 Januarie 2006 en word met erkenning oorgeneem.

 

Boontoe