chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Afrikaans en negatiewe taalbeplanning ná 1994

Dan Roodt

Referaat gelewer deur dr. Dan Roodt by 'n konferensie van die Kommissie vir die Beskerming van Taal- Kultuur en Godsdiensregte op 24 Mei 2006 te Kaapstad.

Deur die eeue was taal een van die belangrikste politieke geskilpunte. Die Europese Renaissance het gevolg toe skrywers soos Dante, Cervantes, Rabelais en Milton in die volkstale begin skryf het, en nie meer in Latyn nie. Die geboorte van die moderne staat ná die Vrede van Munster in 1648 en die erkenning van staatlike soewereiniteit, het tot die opbloei van nasionale tale gelei wat weer op sy beurt aanleiding tot die Romantiese beweging gegee het. Die plaaslike en inheemse taal Afrikaans wat van 1875 gestandaardiseer en ontwikkel is, is 'n regstreekse uitvloeisel van die magtige Romantiese beweging van die negentiende eeu wat 'n internasionale invloed uitgeoefen het.

In lande soos België en Kanada is taalkwessies of taalgeskille een van die belangrikste politieke strydpunte wat die staat by wyse van federale wetgewing moet probeer oplos. In Sri Lanka het 'n taalstryd sedert 1983 tot 'n langdurige burgeroorlog tussen Sinhalese en Tamoele gelei wat tot vandag toe nie behoorlik besweer is nie. Dit word allerweë aanvaar dat die keerpunt in die Srilankese politiek gekom het met die sogenaamde "Sinhala Only Act" van 1956 wat van Sinhalees die enigste amptelike taal gemaak het en ook Tamoel-sprekers van staatsdiensposte en toegang tot universiteite uitgesluit het. Die afdwing van die meerderheidstaal in Sri Lanka (Sinhalese verteenwoordig 80% van die bevolking) het dus direk tot burgeroorlog en etniese konflik aanleiding gegee.

Maar soos Samuel Huntington gesê het: Kultuur volg mag, nie andersom nie. As 'n reël oorheers die taal van die politieke maghebber in 'n land, hoewel ekonomiese faktore ook 'n rol speel.

Oor die afgelope vyf tot tien jaar is daar 'n intense taaldebat in Suid-Afrika gevoer. Hierdie gesprek gaan egter byna uitsluitlik oor Afrikaans, of die verhouding tussen Afrikaans en Engels, en geskied ook merendeels ín Afrikaans. Onlangs het die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch 'n storm ontketen en vir wekelange, hewige briefwisseling in die blaaie van Die Burger hier in die Kaap gesorg. Onder andere het die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach die rektor van Stellenbosch 'n "selftevrete fark" genoem omdat laasgenoemde die sogenaamde "T-opsie" wou invoer en van Stellenbosch 'n tweetalige universiteit wou maak.

  

Prof. Chris Brink   Breytenbach

Die Universiteite van Venda of Kwazulu is lankal reeds Engels. Desnieteenstaande kan mens jou kwalik voorstel dat enigeen die rektore van daardie universiteite weens hul gekose taalbeleid "selftevrete farke" sou noem.

Oor die afgelope aantal jare word daar 'n hoogverraadsaak in die Paleis van Justisie in Pretoria gevoer teen 'n aantal aangeklaagdes wat as die "Boeremag" bekend staan. In getuienis het dit geblyk dat die agteruitgang van Afrikaans een van die kwessies is wat die Boeremag na bewering oorreed het om die SA regering te probeer omverwerp. Ek wil my nie oor die Boeremag uitlaat nie en ons moet gewelddadige politieke optrede veroordeel, maar dis moontlik dat Suid-Afrika uiteindelik in 'n soortgelyke etniese konflik as dié in Sri Lanka mag verval omdat politici en grondwetlike liggame soos PANSAT of die Kommissie vir die Beskerming van Taal-, Kultuur- en Godsdiensregte nie daarin kon slaag om soos in België of Kanada 'n regverdige taalbedeling te bewerkstellig nie.

Enkele jare gelede het 'n meninsopname getoon dat 85% van alle Afrikaners voel dat daar teen hul taal gediskrimeer word. Voorbeelde van sulke diskriminasie is legio en daar bestaan reeds dertig of meer Afrikaanse organisasies wat hulle op een of ander manier vir die behoud van Afrikaans beywer.

Verlies aan politieke mag deur Afrikaners en die invoer van 'n de facto "English only"-beleid deur die SA staat het tot 'n dramatiese agteruitgang van Afrikaans gelei.

Die aantal Afrikaanse universiteite het van ongeveer ses tot twee (Stellenbosch en Potchefstroom) gedaal, met die huidige rektor van Stellenbosch vas van plan om sy universiteit tweetalig te maak, waarna 'n onvermydelike verengelsingsproses behoort te volg. Ook die nuwe raad van die saamgesmelte Noordwes-universiteit te Potchefstroom pas geweldige druk toe om Engels aldaar ingevoer te kry en Potchefstroom op die duur van sy Afrikaanse karakter te beroof.

Afrikaanse skole het van ongeveer 2000 tot slegs 300 gedaal.

Nagenoeg een miljoen Afrikaners het Suid-Afrika verlaat met regstellende aksie, geweldsmisdaad en taaldiskriminasie wat as die hoofoorsake van dié emigrasie genoem word.

Vóór 1994 het Afrikaans 50% van die lugtyd op die Afrikaans-Engelse TV-kanaal ontvang met advertensies wat in Afrikaans uitgesaai is. Tans ontvang Afrikaans slegs 8% van die lugtyd op SABC2 en is feitlik alle advertensies in Engels.

Hoofsaaklik om hul kinders op 'n toekoms in die buiteland voor te berei, stuur 20% van Afrikaners hul kinders na Engelse skole. Indien hierdie neiging voortduur, kan Afrikaans binne drie geslagte uitsterf.

Wat ons deesdae in Suid-Afrika ervaar, is negatiewe taalbeplanning (NTB). Taalbeplanning behels gewoonlik die standaardisering en ontwikkeling van tale om kommunikasie, opleiding en die kulturele prestige van gemeenskappe of volkere te verhoog. Taalkundiges is dit eens dat Suid-Afrika in die verlede so 'n beleid van positiewe taalbeplanning gehad het. Om individuele tale en kulture te bevorder, was immers 'n onderdeel van die sogenaamde apartheidsbeleid.

Die amptelike posisie is dat Suid-Afrika tans elf amptelike tale het, maar dit verteenwoordig bloot 'n de jure-reël wat in die grondwet ingeskryf is. De facto is Engels die enigste amptelike taal en is die erkenning wat Afrikaans sedert 1925 as amptelike taal geniet het, van hom weggeneem en word die taal onderwerp aan NTB.

Dit mag na 'n omstrede stelling klink. Dog internasionale waarnemers, van die Keniaanse akademikus Ali Mazrui tot die Franse joernalis en Afrikakenner, Stephen Smith, het dit lankal raakgesien.

In sy boek, The Power of Babel - language and governance in the African experience, sê Mazrui in 'n afdeling getitel: Language and the apartheid aftermath:

"With the end of apartheid in South Africa, the English language has made the clearest gains. Although South Africa has declared eleven official languages (theoretically reducing English to one-eleventh of the official status), in reality the newe policy demotes Afrikaans - the historic rival to English in South Africa." (Mazrui, p. 205)

 

Prof. Ali Mazrui

Stephen Smith lewer in sy belangwekkende bestekopname van eietydse Afrika, Negrologie, die volgende kommentaar oor taal in Suid-Afrika:

"In 'n land wat 'n stryd teen ongeletterdheid voer, bestaan veeltaligheid in werklikheid nóg in die onderwys, nóg in die administrasie. Dit is dus 'n illusie en 'n mens neig om te wil bespiegel of dit nie eintlik gebruik word om Engels as amptelike spreektaal tot nadeel van Afrikaans af te dwing nie, met laasgenoemde wat tot die vlak van die menige marionet-tale verlaag word. Agter die liberale fasade woed 'n hewige stryd vir oppergesag…" (Smith: 264)

Stephen Smith

Die vraag is nou: waarom word daar NTB (negatiewe taalbeplanning) op Afrikaans toegepas en deur wie?

Die fasiele antwoord sou seker wees: Afrikaans was die taal van apartheid, sogenaamd. Maar dit is eenvoudig nie waar nie, aangesien elke ander taal in die land insgelyks op een of ander manier met apartheid gemoeid was. Opeenvolgende NP-regerings het ook Engels gebruik, naas Afrikaans. Xhosa, Zoeloe, Tswana, Venda, Suid-Sotho en ander tale is deur die verskillende tuisland-administrasies aangewend. Volgens dr. Frederik van Zyl Slabbert was 60% van die totale Suid-Afrikaanse bevolking op 'n stadium by die toepassing van apartheid betrokke. In daardie sin is elke Suid-Afrikaanse taal dus 'n "apartheidstaal", ook gegewe die groot mate van positiewe taalbeplanning wat van 1948-1994 plaasgevind het.

Moontlik is die agteruitgang van Afrikaans onvermydelik, in terme van die Huntington-beginsel van kultuur wat mag volg. Huntington praat ook van "sagte mag", die mag om mense dinge te laat doen sonder om geweld of dreigemente te gebruik. Baie mense mag die VSA en George Bush haat, maar hulle eet almal McDonalds, kyk Hollywoodfilms, wil Levi's dra en graag Engels praat. Dit is "sagte mag".

'n Derde rede vir die afgang van Afrikaans kan mens by die sosiolinguïstiek gaan soek. Engels staan bekend as 'n dodertaal (Eng: "killer language") waarteen ander tale nie kan meeding nie. As analogie hiervoor kan mens jou voorstel dat 'n piranha en 'n goudvis gedwing word om dieselfde bak te deel. Dis onvermydelik dat die piranha die goudvis gaan verorber. Sedert 1994 het die ANC-regering telkens die Engelse piranha en die Afrikaanse goudvis in dieselfde bak geplaas en elke keer nog het die piranha koning gekraai. Dit is ook wat prof. Chris Brink van Stellenbosch beoog.

Piranha (links) en goudvis (regs)

As ons meer pessimisties is, kan ons anti-Afrikaanse NTB sien as deel van 'n algemene Afrika-entropie. Vele kommentators het oor die afgelope tien jaar begin sê dat Afrika 'n kontinent is wat homself vernietig en daarom ook geen waarde aan sy hulpbronne heg nie, hetsy natuurlik, menslik of kultureel.

Stephen Smith, die Franse Afrikakenner wat ek reeds genoem het, beskryf Afrika as "''n teater van die absurde, 'n 'Ubuland' sonder grense, plek van massamoorde en hongersnode, plek waar alle hoop skipbreuk ly. Waarom vergaan Afrika? In 'n groot mate omdat die kontinent selfmoord pleeg."

NTB in Suid-Afrika mag dus deel wees van 'n algemene drang tot selfvernietiging wat oral op ons kontinent suid van die Sahara werksaam is.

Oor die afgelope 150 jaar het duisende mense, meesal vrywillig, aan die opbou en vestiging van Afrikaans gewerk. Afgesien van die oprigting van die Egiptiese piramides, kan ek aan geen ander projek in Afrika dink wat met soveel moeite en ywer aangepak is nie. Dog anders as monumente van klip, verteenwoordig tale lewende organismes wat voeding en suurstof nodig het om te kan oorleef.

Om iets dood te maak net vir die plesier daarvan, staan as sadisme bekend, 'n woord wat ontleen is aan die Markies de Sade, 'n Franse skrywer van die agtiende eeu.

Die vraag kom by mens op: Waarom sou enigeen 'n taal wou vermoor? Vele mense beskou 1994 as die triomf van demokrasie in Suid-Afrika. Maar dit verteenwoordig ook die derde en moontlik finale triomf van Engels in die land, soortgelyk aan 1806 en 1902.

Daar is ook die volgende paradoks: die huidige heersers van SA is nie Brits of Engels nie. (Vra Eng. of Britte in gehoor om hande op te steek, dan Afrikaners)

Daar is elemente van waarheid in elkeen van die antwoorde op die vraag waarom NTB teenoor Afrikaans bestaan wat ek tot dusver gegee het. My eie antwoord is egter meer kompleks. Myns insiens het die hoofrede vir NTB het te make met SA se gebrek aan enige nasionale identiteit. Trouens, die geskiedenis van Suid-Afrika bestaan uit herhaalde pogings deur verskillende heersers om hul eie identiteit dié van Suid-Afrika te maak.

As ons eerlik is, moet ons erken dat die idee van die "Suid-Afrikaner" 'n Boer-Britbegrip is wat in 1910 ontstaan het en veral deur Jan Smuts en J.B.M. Hertzog bevorder is. Streng gesproke, moes die naam van Suid-Afrika in 1994 verander gewees het, net soos wat Suid-Rhodesië Zimbabwe geword het of Noord-Rhodesië Zambië. Pleks daarvan het die ANC-regering in onlangse tye daarop gekonsentreer om Afrikaanse plekname te verander, wat maar net nog 'n manifestasie van NTB is en bedoel is om die status van Afrikaans te verlaag.

Om NTB te verstaan, moet ons ook vra: Wie pas dit toe? Wie oorheers tans in SA?

Die antwoord hierop is reeds deur Mazrui in The Power of Babel verskaf, en dit is naamlik dat daar 'n nuwe nasie of groepsidentiteit in die wêreld bestaan wat hy die "Afro-Saksers" noem. Onder hierdie groep tel die Afro-Amerikaners, die inwoners van die Karibbiese eilande, die sosiale élite van Liberië, maar ook "die groeiende aantal opgevoede families in Afrika wat Engels as huistaal gebruik". (Mazrui: 23)

Die rol van élites in regering word allerweë deur politieke wetenskaplikes erken. Daarom kan ons met vrymoedigheid sê dat Suid-Afrika vandag, net soos in die verlede, deur 'n etniese minderheid regeer word, maar wat anders as in die periode 1948-1994 nie meer Afrikaans nie, maar Engels as huistaal praat en hul verkieslik in dié taal in die openbaar uitdruk.

Benewens hul voorliefde vir Engels, is die Afro-Saksers ook rasbewus. Onlangs is mnr. Thabo Mbeki, die leidende verteenwoordiger van die Afro-Saksiese identiteit in die land, gekritiseer weens die stigting van 'n sogenaamde "Native Club" vir intellektuele wat slegs tot swartmense beperk sou wees.

Die Afro-Sakser voel homself bedreig deur Afrikaans wat 'n alternatiewe en veel ouer identiteit in die land verteenwoordig; vandaar dus negatiewe taalbeplanning (NTB).

Ongelukkig vir Afrikaans, bestaan daar benewens die Afro-Saksers nog 'n tweede groep in die land wat die taal nie goedgesind is nie. By gebrek aan 'n beter term kan ons hulle die "Uitlanders" noem, ná die woord wat in die 1890s gebruik is vir Britsgesinde immigrante in die Transvaal.

In weerwil van verbete pogings deur vorige Afrikanerregerings om daaroor beheer te verkry, het die finansiële hartland van Suid-Afrika, Johannesburg, 'n Uitlanderstad gebly wat eerder in pas met die Londense City of New York leef as met groot dele van Suid-Afrika. Die hele korporatiewe wêreld, hetsy die banke, hetsy die myne of groot nywerheidsmaatskappye, word deur Uitlanders bedryf vir wie enige begrip van plaaslike kultuur of patriotisme 'n absurditeit verteenwoordig.

Oor die afgelope tien jaar het sowel Afro-Sakser as Uitlander in mekaar 'n natuurlike bondgenoot gevind in die vestiging van 'n nuwe globale kultuur in Suid-Afrika wat met 'n Afrikanistiese sous bo-oor aangebied word. Afrikaans word deur beide groepe as op sy minste oorbodig en op sy slegste as ongewens beskou.

In die nuwe Suid-Afrika behoort politieke mag aan die Afro-Saksers en ekonomiese mag aan die Uitlanders. Die twee groepe ondersteun en versterk mekaar as dit by die verengelsing van Suid-Afrika kom. Nou onlangs was ek in gesprek met die winkelgroep Woolworths wat slegs Engels in sy winkels gebruik hoewel 'n groot aantal Afrikaners ook daar koop. Klagtes oor Woolworths se eentaligheid word met 'n toutologiese verwysing na die Engelstalige aard van die SA staat en die Johannesburgse sakewêreld beantwoord.

Afrikaners, asook die bruin Afrikaanssprekendes wat grotendeels in die ou Kaapprovinsie, hetsy in die Weste, hetsy in die Noorde, woonagtig is, is baie pessimisties as dit by sogenaamde grondwetlike waarborge vir veeltaligheid kom. Ons het oor die afgelope tien jaar gesien hoe die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT) misluk het om hoegenaamd enige indruk op die NTB-beleid van die Afro-Saksers en die Uitlanders te maak. Gegewe die presedent van PANSAT, heers daar skeptisisme of die pas gestigte Kommissie vir die Beskerming van Taal- Kultuur- en Godsdiensregte oor die vermoë of die wil gaan beskik om NTB te stuit.

Daar is maar een uitweg vir Afrikaners in die huidige bedeling, en dit is om die onwettige NTB-proses internasionaal bekend te maak en om die SA regering tot orde te roep sover dit sy verpligtinge onder VN-konvensies en internasionale verdrae oor menseregte betref. Geen regering mag vandag willens en wetens die taal en kultuur van 'n nasionale minderheid binne sy grense deur NTB en ander metodes vernietig nie.

Die taak van 'n Afrikanerkultuurraad gaan dus wees om via die Kommissie die internasionale gemeenskap van NTB bewus te maak en sodoende druk op die Afro-Saksers toe te pas om daarvan af te sien.

Tot dusver was Suid-Afrika 'n unieke suksesverhaal in Afrika met aspirasies om 'n liberale demokrasie ná die Westerse model te word. Indien Suid-Afrika nie daarin slaag om sy geskille rondom taal en kultuur op te los nie, gaan die land vir seker op die ashoop beland waar dit sal versink in die soort etniese konflikte wat soveel ander lande ter wêreld, maar veral in Afrika suid van die Sahara, teister.

Summiere teregstelling in Liberië

27 May 2006 09:59:37 AM

Boontoe