wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

Taalpetisie

Ons, die ondergetekende Suid-Afrikaners, maak hiermee beswaar teen die onbillike behandeling van Afrikaans deur die huidige regering, en veral deur die ongelyke status wat Afrikaans beklee teenoor Engels. Nie net is hierdie bevoordeling en bevoorregting van Engels teenoor Afrikaans (en ander tale) strydig met die Suid-Afrikaanse grondwet nie, maar dit spreek ook van ’n chauvinisme en koloniale aangewesenheid op die eertydse Britse metropool wat onvanpas is in ’n onafhanklike Republiek soos Suid-Afrika. Ons eis onmiddellike gelykberegtiging van Afrikaans teenoor Engels deur alle owerhede, hetsy sentraal, provinsiaal of plaaslik, asook deur alle maatskappye of instansies wat in staatsbesit is of onder staatsbeheer verkeer soos byvoorbeeld die uitsaaikorporasie wat tans onder ’n uitsluitlik Engelse naam bekend staan as die SABC. Die gebruik om slegs Engels as voertaal van genoemde owerhede aan te wend, moet dadelik gestaak word en Afrikaans moet te alle tye in ten minste ’n gelyke posisie teenoor Engels verkeer.

Ons verwerp die propagandistiese en rassistiese stereotipering van Afrikaners deur veral die SABC in sy programme en vra dat ’n meer gebalanseerde raad wat verteenwoordigend is van alle Suid-Afrikaners aangestel word.

Afrikaans moet onmiddellik in ere herstel word op die Suid-Afrikaanse paspoort vanwaar dit in ’n daad van taalfascisme verwyder is ten einde die indruk te skep dat Afrikaanssprekendes nie volle burgers van Suid-Afrika is nie.

Ons spreek ons uiterste teenkanting uit teen die voorstel van Minister Penuell Maduna om Afrikaans as verslagtaal naas Engels in die howe te verwyder en waarsku die betrokke minister dat dit die aansien van die Suid-Afrikaanse regstelsel nog verder kan aftakel te midde van die korrupsie en ondoeltreffendheid wat dit reeds teister en waaroor wyd berig word.

Ons versoek insgelyks die owerhede om dadelik die druk van watter aard ookal wat toegepas word om opvoedkundige en ander instellings te laat verengels, stop te sit. Geen instelling met Afrikaans as voertaal behoort verengels te word nie. Waar verengelsing reeds plaasgevind het, moet hierdie proses omgekeer word.

Die gebruik van ministers en ander ampsbekleërs om slegs toesprake in Engels te hou, of aankondigings slegs in Engels te doen, moet gestaak word en ’n beduidende aantal toesprake, aankondigings, amptelike communiqués, ens. behoort in Afrikaans gehou te word. Indien sommige lede van die owerheid nie Afrikaans na behore magtig is nie, behoort Afrikaanse taalonderrig aan hulle beskikbaar gestel te word op soortgelyke wyse as wat Suid-Afrikaanse diplomate onderrig ontvang in die tale van oorsese lande waarheen hulle uitgeplaas word.

Ons nooi alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag, kleur, geloof, huistaal of seksuele voorkeur, en wat Afrikaans en die Afrikaanse kultuur liefhet om hulle saam met ons te beywer vir die gelykberegtiging van Afrikaans. Ons bevestig dat Afrikaans aan die hele Suid-Afrika behoort, dat dit eie is aan die land en oor ’n spesifiek Suid-Afrikaanse karakter beskik, en daarom volle amptelike erkenning behoort te geniet.

Ons sal nie gekoloniseer word nie!

Boodskap aan die leser: Om hierdie petisie elektronies te onderteken, stuur ’n boodskap soos “Ek, Eugène Nielen Marais, vereenselwig my met die Taalpetisie”, d.w.s. ’n boodskap waarop jou volle naam verskyn, aan die volgende adres:

taalpetisie@mweb.co.za

Werf jou vriende en familie, en stuur ook hulle name saam! Druk die petisie uit en werf fisieke name en handtekeninge in jou plaaslike skool, kerk, klub, supermark of werkplek wat jy aan die volgende posadres kan stuur:

Taalpetisie
Posbus 87250
Houghton
2041

Hierdie petisie gaan uiteindelik aan Pesident Thabo Mbeki oorhandig word by geleentheid van ’n optog na die Uniegebou. Die mikpunt is ’n miljoen handtekeninge!

Jy kan die verskil maak!

Dan Roodt

boontoe