wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

Boontoe 

Limeriek vir stemdag 14 April 2004

Daar is net een party

Al is hy nie vir my
Sy naam is Aa-en-see
Hy vang al die stemvee
 
Elke bees het sy ras
So die uitslag gaan niemand verras
Dit maak ons almal verlig
Want is politiek nie vervelig
Of só sê ons koerante
Een en almal ANC-sikofante
 
Die arme Boertjies trek ammelee
Aan die korste end en nou weer
Hulle het die plaas weggegee
Aan die manne van die Aa-en-see
 
Nou wonder almal wat gaan gebeur
In die toekoms waaroor almal seur
En al voel jy ook moedeloos en verleë
Onthou daar is nog altyd Australië
 
Dan Roodt

 

Boontoe

Die Adel in Iran

Ons heers vanuit paleise klip en heilig ons met vuur,
maar winde uit die nagwoestyn laat wispel ook die vuur.
In sag turkoois vloei die tapyt, ‘n jongvrou is in sy gestuur,
my oorvol glas drup rooi Shiraz en langsaam gloei die vuur.
Jasmyn en nagtegale in my tuin en jagters teen gesnede muur,
maar groenoog kinders lag en spring bo-oor ‘n klein en kleiner vuur.
Die wind se ruiters klief deur klip en smyt ‘n siervaas teen die muur;
twee purper skerwe spat verby die ligkring van die vuur.
Die sneeuberg raak ‘n goue glans, ‘n oggend is ‘n ryk se duur;
dan val die son in Ctesiphon, en groen baniere doof die vuur.

Ek stap deur tempels klip en droom dat Darius vir Zopyros stuur,
en strek my en skiet pyl na pyl met pluime uit ‘n stompie vuur.
En aand na skemeraand sal ek oor vuurverlate vlaktes tuur,
en skiet en wag dat vlerkeleeus weer opstyg uit ‘n reusevuur.

Heinrich Matthee
11 Desember 2003


Aantekening: Die eeueoue "ghazal" of Persiese sonnet het ook die vorm hier bepaal. Daarom die koepletvorm, die eerste koeplet met die rymwoord dubbel gebruik, en die herhalende rymwoord in die tweede reël van elke koeplet daarna. Die idee van die Persiese digters was dat elke koeplet soos krale in ‘n snoer apart en saam kan skitter.

Waterballing

fluisterloos, taalloos

beknip binne die singel van engels

vlaktes reis soos dinosorusse oor my verbeeldings grond

brandende motors, treurende honde

my land my land waarom het jy my verlaat.

Uitgelewer aan die bleek barbare leef

ek nou van broeksakkies hoop

Groen blare wapper soos fantome om die oogklappe

van my ballingskap. Geel gras streel my binneste gewonde in

die diepste ysternag..Die stadige watermarteling

van vreemde woorde borsel teen my verhemelte. Ek skaaf

in my harsingspaadjies waar ek kaalvoet as kind stowwrig oor

gedagtes gedraf het. Nou loop slymerige stroompies

helder waansin oor

die skedels van my ek.

 

Ná drie weke -

 

Jy lê nou al drie weke laag

(ondergronds, ses voet onder)

 

ek kan jou nie meer bel

om te sê wat gebeur nie

 

nevermind

wat die temperatuur is

of die weer

 

en jy worry ook nie meer nie

nie oor seehuise

of inkomstebelasting nie

 

nee jy het jou afgesluit

van aardse, bo-aardse dinge

 

"cashing out" klink after all

nie te "bad" nie

 

                                Sondag, 30 April 2000

                                Eshowe

 

Wessel Pretorius (uit:  Jy kan skoenlappers sien aankom, Bent-uitgewers, 2001)

Boontoe

 

KONGRES OOR POST-MODERNISME

7-9 April 1988

In die hotel op Umhlanga Rocks pak
ek en my vrou na die lang kombi-rit
uit in 'n kamer met enkelbeddens.

Om die swembad word vurig oor vanjaar
se Hertzogprys bespiegel. 'n Glas breek.
Op dubbelbeddens lê nuwe paartjies.

Ons hoor drie dae lank referate.
Kyk Blue Velvet. Taal is nie neutraal nie.
Van Wyk Louw selfs feministies, sê Britz.

Daar word herskryf en gedekonstrueer.
"Nothing is anywhere ever simply
present or absent," volgens Derrida.

Joan lag. Degenaar luister tot nanag
na antwoorde op sy talle vrae.
Vrydagaand se seekosbraai reën grys uit.

Koos: "Die dominee verklaar God 'n teks!"
Ek sê vir Wilhelm ek hoop ons twee
gesels Hierna weer by 'n tafeltjie.

Saterdag laat stap ek vir oulaas op
die strand. Ons pak in, betaal en vertrek.
Hoogwater spoel oor die teks in die sand.



Johann Lodewyk Marais

Boontoe

Die "Grand Colours"

Boesmans1 agter
"Grand By’scope2"
oorkant Presidentstraat.
Een ou boerehuis, verdeel.
Vanuit die venster
swart Somalies3
met wit kofias4.
"Salaam maleykom5"
laat hom veby kom.
Jou "non-white6"
jou tussen-in.
Vuil water grys
toornael.
Een tep7 vir almal
water wat lek.
Voor die deur bloed,
dooie mans jonk nog
en half kaal
op groen en geel gras.
Rooi polishstoep
wit duiwe wat roep.
Swart kole vuur
vaal rook
beige8 oë.
Masala madressa9
boerka10,water slams11
vetkoek en jam.
Stryk kam12 en vaseline
sondagskool ribbons
pienk, geel of blou
soos die hemel
pas by die bloemer13.
Volle Evangelie
biduur en doopseël.
Koeksisters en coconut
jou ma se gat
jou pa se pa
gedood met ‘n butterfly14
deur kinders wat hom ken
want hulle’s nou 'Panga men'15.
Siesie Kouma16
vloek agter.
Siesie suster
bly by die boere17.
Ons sien haar nooit maar
altyd blou-lig polisie
rooilig ambulanse
ie-a ie-a
een van die twee of
blou oog en coke
diklip en chocolates
voedvrou en haarlemensies18
babas wat huil.
Jou susters
kry broers en
die tep7 lek aanhoudend
wit water
op swart grond
agter Grand Byscope2.
Onderkant Sen-Suzie2 en Tamatievlei
net voor Paravlei
annerkant Varkejaart
in Kliptown
gedurende charter19 dae
ons was ook daar.
Ever ready batteries
en pêrefien
kersvet tokkelosies
met die helm gebôre,
waar Rabia20 met ‘n modderkop
‘n bok dooddans en
wit hoeners keel afsny
om bloed innie sand te bêre.
Speel ons blikkie-blikkie
en denne.
Terwyl An Lala
Baberton21 wegsteek
as sy die sirens hoor.
Ou timas22 stuur ons vir spirits by Pam-pam
Dan kry hulle liquor flames,
die China verkoop ook
half white en twê gwise
vir vyftien sents.
Ons ruik die mawowo23
as ons die swart roet weggooi
Maandagoggend.
Kiwi jou skoene
trek aan jou groen rok,
klim oor die water
spring oor die modder
pasop die bloed.
Vinnig af in die paadjie
deur bruin geroeste hekke
wit kryt op swartbord
rooi jam op bruin brood
ken jy jou naam?
Dus hoe jy hier uitkom
of hoe jy hier omkom
swart kind met tiekie se hare,
pond se goudgeel ribbons
en groot beige-bruin oë
ken jy jou naam?

Debra Meyer

Dr. Debra Meyer is 'n dosent in Chemie by RAU.

 

 

 

 


Verduidelikings
  1. bynaam vir kleurlinge of mense van gemengde agtergrond
  2. rolprentteater
  3. swart Moslems (aanname, omdat hulle swart en Moslem is, dus van Somalië afkomstig)
  4. hoofbedekking vir Moslemmans
  5. Moslembegroeting
  6. term vir alle nie-blankes
  7. kraan
  8. effek van rook van koolstowe op die oë van township inwoners
  9. opleiding vir moslem kinders
  10. moslem hoofbedekking vir vroue
  11. bynaam vir Moslems met verwysing na die belangrikheid van H2O in hul godsdiens.
  12. ysterkam gebruik deur swart/kleurling-vroue om hul hare (glad) reguit te maak
  13. vroueonderklere
  14. soort byl met twee lemme
  15. naam van ‘n bende
  16. buurvrou
  17. bediende wat inwoon by blanke werkgewers
  18. medisyne wat gebruik word vir pasgebôre babas
  19. Freedom Charter
  20. tradisionele Sjangaanritueel
  21. tuisgemaakte drank
  22. ou mans
  23. oorblyfsels van tuisgemaakte drank

Boontoe

Indringer 

Uit die nagmerries wat my besoek
teel drie in 'n vertroude stal:
'n stil, maar dreigende teenwoordigheid
langs die spieëlkas in die hoek;
die naderende eindeksamen; bodemlose val.

In die strak tradisie van die rillerdroom
word die vrees net vaag omlyn,
gesinspeel wat jy reeds vermoed
sodat uit 'n oermoeras van mos en stoom
die diepste monsters kan verskyn.

Maar vannag het 'n brutaler skool
'n neo-realistiese tendens begin:
'n indringer, in felharde detail uitgebeeld
met tekkies, klapmusoë en pistool
om die misdaadvrese te ontgin.

Peter Louw

Boontoe

 
  
Droom

Die endo-skelet van my droom
klou spiraal-stert aan die
splinterende takke
van my sinapse.
Deursigtige seeperdjie
wat heen-en-weer wieg
in die stadige molasses
van slaap.
Hulpeloos staan ek,
'n blote bystaander tot
my eie dade van terreur.
'n Seinende duikboot
in die holtes van
pre-historiese geheue,
waar die irrasionele plan van
die lewe in entomologiese kode
ontsyfer word.
'n Mikroskopiese patroon wat deur
elke organisme vibreer;
geduldig genoteer deur die
epogale groei van koraal.

So word ek elke oggend verlos
uit die slymerige wrak
van slaap,
struikelend oor skatte wat
te swaar is om op te diep.
My bed in puin, geteister
op die roetes van herkenning.
'n Oorlewene op 'n kussing,
die afdruk van 'n selakant
op my gesig.
 
I H Strydom
Inet Strydom werk as 'n vryskut grafiese en web ontwerper in Johannesburg

Boontoe

 
Olga Kirsch (1924-1997)

In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verspeel.
Desondanks moes jy in 'n vreemde taal
'n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
'n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
"By die riviere van Babel, daar het ons gesit,
ook geween en aan Sion gedink..."
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer...
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

Joan Hambidge

Boontoe

 

Brief aan Johann de Lange

Onthou jy, vriend hoe besete
die proses eens met ons was?
Hoe ons verse kon afsteel:
die maan hang suurlemoenskyf
oor 'n cocktail (jy); 'n metafoor
roer soos 'n swart slang (ek).
In daardie landskap eers geskryf
en toe beleef: verliese, pyn
deurgemaak (Oh the poetry is in the pity)
tot die nuwe dood: die dood
van woorde. Hoe lyk die lykwaak
van die digkuns? Begin dit by die voete
(soos 'n digter beweer?) Of verlaat
dit jou soos 'n slegte belegging?
Of is dit 'n ongeneeslike diagnose?
Die uitspraak dat jy jou demone ken?
Miskien leef ons ons eie oordeel af,
die geheul met die dryfsand van die dood.
Vanoggend - in 'n ander landskap -
wag ek geduldig vir 'n ander afspraak:
Iewers wag 'n vers in die klopslag
van my keel.

Joan Hambidge

 

Boontoe

Uterus

Bloedrooi kinder-ballon,
wat volgens die ou Grieke,
ronddryf op die strome van my lyf.
Jy is die knus wolmussie
wat warm langs my blaas-oppie lê
in die stomende spelonk
van my bedermde onderlyf.
'n Vuisgroot krimpvarkie
wat die wereld ingesluk het.
Hier in my onderstewe dra ek
'n mobiele 24-uur laboratorium
waar die lewe ontkiem kan word.

Jy is die onbewuste teiken
in falliese speletjies wat 'n eggo is
van 'n ammonia-gepantserde
weermag blinde spermpies besig om
hul enigste doel in die lewe te vervul:
om hul kosbare pakkie DNA af te lewer.
Miniskule ruimte-vaarder op my maan-eier.
Sy 10 sekondes roem het gekom.
Kortstondige vergoeding vir die
Kamikazi-vlieeniers wat 'n wrede
dood in 'n see van suur sterf.
Die man hygend op die krik van
sy Y-kromosoom.

Die ritmiese getye van vroue-lywe,
berei maan-liks die bed voor
vir die wonder-werking van
fetale sel-vermenigvuldiging.
In die weelderige, tong-pienk sel
word die gesponne wand
weer en weer uitgerafel;
en met pyn, (onrein), uitgestond.
Die ontruiming moet gebeur,
sodat die soogdier se nat kokon
van voor gespin kan word.

Barbaarse baarmoeder
van vliesige vaandels,
jy is die kosbare vloek van die vrou.
Sy dra haar voortplantings-plig
teenoor haar spesie soos
'n stywe korset om die kurwes
van haar x-kromosoom.

I H Strydom

Boontoe

Niemandsland melankolie

Die goue gode van genade
het ons soos Absalom verlaat
hangend aan 'n boskasie vrese
verstrengel in die takke van wanhoop.
Die kristallisering van lewe
sonder die bloedsomloop van liefde.
Die onafwendbare ontknoping
van bitterheid en chemikalieë.

Die lang skaduwees van ellende
val soos vlermuise oor die
benoude landskap.  Woestyn-rose
stort 'n laste druppel dou.
Voor die finale aandklok van die son.

Die patetiese gekletter van kraaie
verduister in die rammelende
skemer van die aankomende ramp.
Die glorie van die koggelmander
kom tot 'n einde - sy rots verkluim
en sy hart krimp.

Hier in die niemandsland van
oorrompelde tyd gaan die skobbejakke
vanaand makietie hou.  My
hondsdol hart, hul lekkerny.

I H Strydom

Boontoe

Argeologie

In die grotte van my liefde
lê die geknaagde beendere van my voorsate,
onder die gedrup van glansende stalagtiete.
Die pynsende vlermuis van my hart
sidder in die donker hoeke van vrees,
vlerke omhelsend soos 'n kombers
teen die genadelose koue van ons intimiteit.
Die ewigdurende marteling
van sypelende onsekerheid verweer
die wande van vertroue
en groei die kwesbare kristalle
van bitterheid.

I H Strydom

Boontoe

N1 Suid

Die klam hand van heimweë
osmsluit my hart soos ek
dieper beweeg in die
vloeiende metaal van die
Vrystaatse landskap.
Grys-groen koppies lê uitgestrek
op die horison soos slapende
pre-historiese monsters.
Die lug is nog 'n gebleikte
winter-lap.
Wag-'n-bietjie bosse leun,
fluweel-groen moesies teen
die rante; in die pers
frons van 'n skaduwee.
Kubistiese rotse bieg hul
antieke geometrie.
Die teer-pad rol sy grys tapyt
van die ewigheid voor my uit.
'n Windpomp staan stoer en
lang-nek wag oor die horison.
Beeste, roesbruin sproete
op die veld.

Later word die son verteer deur
'n oorspoeling kokende lawa.
Die dag blaas haar laaste
asem uit.
Dan trek Venus haar aandrok aan,
en hunker na die afgetrokke
pêrel van die maan.

I H Strydom

Boontoe