boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

Wie sal Hollywood beëindig?

Dan Roodt resenseer Terminator 3

'n Tyd gelede al het dit duidelik geraak dat nuwe idees in Hollywood skaarser as hoendertande is. Vandaar die onvermydelike vervolgprente op vorige loketsuksesse. Terminator 3 is egter by verre die swakste van Arnold Schwarzenegger se inkarnasies as 'n robot vanuit die toekoms waar 'n oorlog tussen die mense en die masjiene woed.

Trouens, van 'n storie of spanningslyn is daar weinig sprake. Veel eerder word die kyker blootgestel aan opeenvolgende episodes van verwoesting wat herinner aan die werk wat slopers doen. Om langs 'n ou gebou te staan wat afgebreek word, of by 'n skrootwerf te aanskou hoe ou motors uitmekaar gebreek word, is omtrent ewe interessant as Terminator 3 want keer op keer moet die twee vegtende robotte, gespeel deur Schwarzenegger en Kristann Loken motors, vertrekke of hele geboue afbreek. Die agtervolgingstoneel waar Loken met 'n mobiele hyskraan alles in haar pad verpulp, hou so lank aan dat ek naderhand op my horlosie begin kyk het in die hoop dat dit een of ander tyd mag endkry.

Die Amerikaanse fassinasie met oorbodige geweld in rolprente het so 'n hoogtepunt bereik dat selfs die voorprente vir ander rolprente wat mens moet deursit bydra tot die gevoel dat films deesdae net bestaan uit 'n sameflansing van bokspringende akteurs wat blindelings rondom hulle skop, skiet en donder. Eintlik is daar net een groot rolprent wat uit verskillende episodes bestaan, en telkens onder ander name met ander akteurs bemark word. Dit is alles dieselfde.

Een van die voordele om 'n robot te speel, is dat mens nie eintlik hóéf toneel te speel nie. Veral Kristanna Loken wat die vrouerobot T-K speel, maak geen indruk nie, maar dan kon die menslike rolle waarvoor Nick Stahl  en Claire Danes onderskeidelik akteur en aktrise is, ewe seer deur robotte of marionette gevul gewees het, want sowat van lawwe frases oor die sin van die lewe wat met melodramatiese erns afgelewer word, het mens lanklaas gesien. Of miskien gaan ek net nie genoeg fliek nie.

Weliswaar draai die rolprent eerder om die spesiale effekte, met robotte wat kort-kort smelt of dinge wat opgeblaas word, maar is dit genoeg om 'n film van te maak? In die tyd van rekenaars waar beelde gemanipuleer kan word, is ons nou al omtrent aan enigiets en enige metamorfose gewoond.

Die blywende indruk uit Terminator 3 is dat Hollywood deesdae laag mik, sommer baie laag. 'n Mens hoor altyd van mense in die Derde Wêreld wat iewers onder 'n afdak in 'n vreemde taal wat hulle nie verstaan nie, hulle vergaap aan onsamehangende geweldtonele wat afgewissel word met kameë van 'n Amerikaanse leefwyse wat eintlik bedoel is om hul afguns wakker te maak.

Vir normale mense wat kan lees en skryf, en boonop R30 per kaartjie betaal, is dit egter 'n yslike teleurstelling. Ek het probeer kyk of die film op enige punteskaal van ander resensente verskyn, maar kon nêrens so iets sien nie. Hierdie is die soort rolprent wat nogal kopkrap kos as jy 'n punt daaraan wil toeken, want is 'n mens beperk tot positiewe getalle? 'n Nul lyk gans en al te vriendelik. Iets soos -7 sou veel beter wees.

Maar miskien het Terminator 3 my 'n guns gedoen. Maak nie saak hoeveel geld voortaan aan die bemarking van enige Hollywoodprent bestee word nie, ek sou dit nie eens gaan sien as ek betaal word nie.

'n Mens sou dit heeltemal kon ignoreer as dit jou nie so bekommerd gemaak het oor waarheen die Westerse beskawing op pad is nie. Indien soveel geld daaraan bestee word om rolprentstelle in skrootwerwe te verander terwyl sterre eensillabige dialoë opsê, is daar beslis iets fout êrens. 'n Laerskoolkonsert is interessanter. Of 'n regte skrootwerf. Wie sal Hollywood vir ons beëindig?

Fliekskaal: -7.

29/09/05 03:09