boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

Biografie

Dan (3) op die foto bo, saam met Daniël senior.

26 Mei 1957, gebore op Springs, Transvaal as Daniël François Roodt. Hy is vernoem na die skrywer D.F. Malherbe en die politikus D.F. Malan, die oudste kind van Daniël en Hermine Roodt. Hy het een suster.

Hy is leerling aan die Laerskool Christiaan Beyers op Springs waar hy ook hoofseun is. Van 'n vroeë ouderom af verslind hy boeke, al die klassieke Afrikaanse kinderverhale, die jeugtydskrif Patrys, maar ook boeke van F.A. Venter, Mikro, C.M. van den Heever en ander. As kind lees sy pa dikwels vir hom Afrikaanse en Nederlandse poësie voor, veral die werke van A. Roland Holst waarvan hy 'n groot bewonderaar is.

Hy is in die koshuis op die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg, die skool waar sy pa insgelyks gematrikuleer het in die veertigerjare. Aanvanklik blink hy akademies uit, maar begin toenemend krities raak oor sy onderwysers, begin vrae vrae oor die politiek, die godsdiens en die filosofie. As vyftienjarige lewer hy 'n spontane diskoers oor die eksistensialisme van Jean-Paul Sartre in die Afrikaanse klas. Hy lees die Sestigers, James Joyce, sowel as klassieke Europese romans in vertaling.

Hy ontvang gereeld byna volpunte vir Engelse opstelle by mnr. Peter Lynsky, sy Engelse onderwyser. Hy word ook afgerig vir hoogspring deur die Afrikaanse onderwyser, mnr. Louis Malan wat 'n Meestersverhandeling geskryf het oor Van Wyk Louw. Gedurende sy hele skoolloopbaan verbeter hy elke jaar die Randse interhoër-rekord vir hoogspring. As onder-16-deelnemer spring hy veel hoër as die onder-17-kampioen by die Suid-Transvaalse kampioenskappe en word hy gekies om vir Suid-Transvaal deel te neem in die onder-17-afdeling van die SA Junior Atletiekkampioenskappe in Bloemfontein.

Hy kom matriek in die eersteklas deur byna sonder om 'n boek oop te maak. Hierna skryf hy in by die universiteit net oorkant Helpmekaar, kortweg bekend as Wits. Hy is een van slegs enkele Afrikaners op kampus. Aanvanklik studeer hy regte en Latyn maar besluit om hom op letterkunde, filosofie en staatsleer toe te lê. Hy lees onophoudelik allerlei Europese en Afrikaanse romans, asook die klassieke filosowe. Hy ontwikkel 'n spesiale belangstelling in die wetenskapsleer en die denke van Kuhn en Feyerabend.

Hy neem aktief deel aan die linkse politiek op kampus, betoog op 15 en 16 Junie teen polisiegeweld in Soweto en is ook lid van NUSAS, die Students' African Movement, asook die hulporganisasie SAVS.

Uiteindelik skryf hy resensies vir die studentekoerant, Wits Student, onder die redaksie van Irwin Manoim wat later een van die stigters van die Weekly Mail (nou M&G) sou word. In sy derde jaar jaag hy die Marxistiese studente op kampus die harnas in deur 'n lesing namens die Filosofievereniging te reël waarin Karl Marx afgewys word ten gunste van die Amerikaanse anargis, Robert Nozick. Aan die einde van die jaar stel hy homself verkiesbaar vir die studenteraad en behaal 'n beduidende aantal stemme op kampus met 'n groot kontingent argitektuurstudente wat hom ondersteun. Hy dien saam met Tony Leon op die studenteraad.

In sy Honneursjaar ontmoet hy 'n talentvolle kunsstudent, Karin Bredenkamp, insgelyks 'n Afrikaner-in-ballingskap by Wits en hulle is sedertdien nog altyd saam.

Ná eindelose nuttelose jare op die Wits-kampus waartydens hy weinig leer wat hy nie reeds weet nie, maar tog 'n paar diplomas versamel, beland hy uiteindelik as dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Durban-Westville saam met die digter Johan van Wyk onder professor Heiberg. Hy word dikwels in die Durbanse strate opgemerk op 'n geel resiesfiets. Hy korrespondeer kortliks met die Franse filosoof Gilles Deleuze.

Jare lank al ontwyk hy die Suid-Afrikaanse Weermag aangesien hy in daardie dae danksy sensuur naïef genoeg was om te dink dat daar geen kommunistiese bedreiging in Angola was nie. Aan die einde van 1985, ná hy sy oproeppapiere ontvang het, vertrek hy en Karin na Parys, Frankryk, as diensweieraar.

Hy bring agt jaar in Parys deur, woon in Montparnasse, die Marais en die Bastille-buurt, verfrans gedeeltelik en ontwikkel 'n belangstelling in die finansiële markte. Elke dag van sy lewe besoek hy ten minste een keer 'n Paryse boekwinkel soos die Fnac, Librairie Vrin op die place de la Sorbonne wat net filosofieboeke verkoop, die PUF oorkant, La Hune en l'Ecume des pages op die boulevard St. Germain. Hy hou van Frankryk, maar hy haat Franse joernaliste wat aanmekaar sy land beswadder met die absurdste stories oor apartheid. Hoewel kritikus van apartheid, vind hy dat hy meer en meer in gesprekke die ander kant van die argument begin neem, téén die gedrogtelike stereotipes oor Suid-Afrika.

In Parys waar hy ook studeer, woon hy lesings deur beroemde filosowe by, onder andere dié van Gilles Deleuze en Jean-François Lyotard, maar ervaar 'n leegheid, 'n verlies aan iets wat moeilik definieerbaar is en wat uiteindelik te make het met die wêreld wat hy in Suid-Afrika agtergelaat het, 'n Afrikaanse wêreld waarin hy grootgeword het en waarteen hy op 'n stadium selfs gerebelleer het. Hy behaal nietemin sy Diplôme des Etudes Approfondies in Franse filosofie.

Op 'n dag in 1990 bevind hy en Karin hulle in Biffures, 'n boekwinkel in die rue des Archives toe daar oor 'n radio aangekondig word dat Nelson Mandela vrygelaat gaan word. In 1992 keer hy terug na Suid-Afrika, werk in die finansiële markte in Johannesburg, verhandel alles onder die son, maar bedank in 1999 as hoof van afgeleide markte by Citibank om hom voltyds aan die taalstryd te wy.

Afgesien van sy vele aktiwiteite om die Afrikaner-identiteit te verdedig, herskryf hy 'n roman wat hy aanvanklik in Parys geproduseer het, maar ook vele artikels, briewe, rubrieke en poslysbydraes wat nou op hierdie webwerf byeengebring is.

Hy sien homself as beoefenaar van 'n nuwe genre wat aansluit by die epistolêre tradisie van die Verligting toe Voltaire en ander hul tydvak beïnvloed het deur die skryf van briewe. Terwyl die massa se denke vandag bepaal word deur die media en veral die TV, bied die internet op paradoksale wyse die geleentheid om die filosofiese en politieke brief aan die vergetelheid te ontruk.

Hy en Karin het drie kinders: 'n tweelingseun en -dogter, Tristan en Octavia, asook 'n jonger seuntjie, Alexander Daniël.

terug na Dan Roodt-bladsy