| boekwinkel |
|
|
|
Die Afrikanerbond
"onderhandel" oor skole
___________________________________________________________
Vanuit 'n Afrikaanse oogpunt is die onvoorspelde en skynbaar onvermydelike afskaling en vernietiging van die Afrikaanse karakter van eens Afrikaanse skole die mees merkwaardige kenmerk van Suid Afrika ná 1994. Die ondergang van Afrikaanse skole is nou reeds ver gevorderd en alle aanduidings is dat die proses in die volgende jare gaan versnel - indien daar nie 'n drastiese verandering in die ANC se houding jeens Afrikaans in skole is nie (en dit lyk nie moontlik nie). Baie Afrikaanse skole op die Hoëveld is gedurende die Boererepublieke gestig, en is ouer as Suid Afrika. Afrikaners het altyd gepraat van "ons" skole as daar na Afrikaanse skole verwys is, en terwyl 'n beduidende persentasie Afrikaanse kinders Engelse skole bygewoon het, het Afrikaners nooit die idee gekry dat hulle Engelstalige skole in Suid Afrika "besit" het nie. Afrikaans-Engelse dubbelmediumskole was beperk tot skole met baie geld en ander bates, soos bv. Grey Kollege in Bloemfontein. Daar was egter 'n duidelike, maar tog onuitgesproke, ooreenkoms tussen Engelse en Boere in 1910 dat Afrikaners hulle skole sal behou, en dat die twee taalgroepe nie op mekaar se skole sou beslag lê nie. In die destydse tweetalige milieu is skole dus onderling as "Afrikaans" of as "Engels" getipeer. Engelse kinders wat by Afrikaanse skole ingeskryf is, het aanvaar dat hulle onderrig in Afrikaans sou wees, en Afrikaanse kinders by Engelse skole het onderrig in Engels gekry. Op dié manier het tweetaligheid in Suid Afrika gewerk - dit was 'n uitstekende prestasie, as mens in ag neem dat nêrens anders op aarde 'n soortgelyke situasie op dié manier opgelos is nie. As voorbeelde kan mens maar oplet dat in Groot Britttanje die Walliese en Galliese tale deur die Engelse uit skole gedruk is (in Wallis was dit op 'n stadium verbode om in Wallies opgevoed te word), en in België het die twee tale in streke gevestig, met 'n voelbare en sterk onderskeid tussen die twee taalgroepe. In die dekades vanaf 1910 to 1994 in Suid Afrika het Afrikaans en Engels egter 'n skynbaar vreedsame naasbestaan gevoer. Die ewewig is egter in 1994 versteur - en dit is nou reeds duidelik dat dié jaar 'n besondere rol in die geskiedenis van Afrikaans speel. Voor 1994 was Afrikaans bestendig en verskans in skole en in universiteite. Ná 1994 het die ANC-regering op Afrikaanse skole en universiteite beslag gelê en is hulle besig om die instellings te omvorm tot Engelsmedium om hulle eie doelwitte te dien. Die hoofdoel sluit "nasiebou" in - dit is die konstruksie van 'n "nuwe Suid-Afrikaner", en is 'n proses wat die ondergang van Afrikaners as 'n etniese groep verg. Die nuwe paradigma is nie die gevolg van die onderwerping van Afrikaners nie, maar het ontstaan in onderhandeling tussen die ANC en Afrikaners (dit is wat De Klerk se regering was). Ek vind dit moeilik om vas te stel wat die onderhandelaars se presiese persepsies met betrekking tot Afrikaanse skole was. Het hulle gedink dat Afrikaanse skole deur die onderhandeling en ooreenkoms 'n sekere mate van beskerming sou geniet? Of het hulle besef dat dit net 'n kwessie van tyd sou wees voor die ANC op die skole gaan beslag lê met die doel om hulle te herontwerp tot Engelsmediumskole? Wat die 1994 onderhandelaars gedink het, en wat hulle nou dink, is 'n geheim, want hulle het óf heeltemal van die toneel verdwyn, óf hulle maak nie enige persoonlike insigte wat hulle mag hê, bekend nie. Mens merk egter op dat FW de Klerk onlangs verklaar het dat Afrikaanse skole skynbaar (onregverdig) uitgesonder word deur die ANC, en dat dit nie stryk met die gees van die 1994 se onderhandelings nie. Mens weet nie wat die "gees" was nie, maar ek kan nêrens in die konstitusie klousules vind wat Afrikaanse skole definieer of beskerm nie. Die meertalige klousules is net dít, meertalige klousules, en ek dink nie dat dit as sodanig die bestaan van Afrikaansmediumskole beskerm nie. Dit is alles nogal merkwaardig. In ander meertalige lande is daar definitief skole in die amptelike tale. Kanada het Franstalige skole en universiteite, en behoed die politikus wat hiermee peuter. Dieselfde is ook waar in België, ensovoorts. Etniese groepe wat minderheidstale praat in die (demokratiese) Westerse wêreld waak jaloers oor veral hulle, en ek merk op dat die stabiliteit van meertalige state deur ondeurdagte optrede teen die onderrigmedium in skole versteur kan word. Dit bring my terug na die hede sover dit Afrikaanse skole betref. Die ANC se volgehoue afpersing het die gevolg dat ouers en beheerrade in sommige gevalle hulle tot die hof gewend het in 'n poging om hulle Afrikaanse skole op 'n manier Afrikaans te hou. Die ouers verdien alle steun, al is die poging dalk verniet. Hulle opponente is in almagtige beheer van die staatsbates (wat diep sakke insluit) en is ook meer en meer in beheer van die howe. Maar as Afrikaanse skole moet ondergaan, dan sal die howe moet verduidelik waarom dit nodig is, en waarom Afrikaners, wat 'n unieke minderheid in die wêreld van minderhede in 'n demokrasie verteenwoordig, nie op 'n eie skolestelsel geregtig is nie. As Suid Afrika regtig 'n demokrasie is, en as dit besig is om te ontwikkel tot 'n stabiele demokratiese land in die Westerse sin van die woord, behoort daar nie net Afrikaanse skole te wees nie, maar ook 'n Afrikanerskolebeheerliggaam en geïdentifiseerde Afrikaanse universiteite. Die Afrikanerbond het besluit om hulle steun aan Afrikaanse skole eensydig te onttrek sover dit die hofgeding in Kuruman betref. Dit is natuurlik 'n groot terugslag vir die skole, wat nou die geldelike steun waarop hulle sou kon staatmaak, verloor. Die onttrekking is ook 'n morele terugslag; die Hof sal die ontrekking van steun in aanmerking neem synde dit 'n morele klimaat skep vir 'n uitspraak teen die ouers. Die gevolge van 'n negatiewe uitspraak sal dan ook verreikend wees. Die Afrikanerbond, verneem ek, het besluit dat "onderhandeling" met die ANC die kwessie kan oplos. Nou ja. Wat moet onderhandel word? Soos ek dit verstaan, is daar slegs twee moontlike uitkomste: Óf Afrikaanse skole mag bestaan. Óf Afrikaanse skole mag nie bestaan nie. Om te onderhandel in dié opsig beteken dus dat 'n middeweg gevind moet word tussen dit twee standpunte. Dit vat omtrent net twee breinselle om te besef dat die middeweg die slotsom is dat Afrikaanse skole nie mag bestaan nie. Ek is seker dat die ANC reeds besef dat hulle die Boere weer met onderhandeling die onderspit gaan laat delf (geen wonder hulle het net minagting vir Afrikaners nie - so 'n opponent is onwaardig). Dit behoort nou reeds duidelik te wees dat die ANC baie graag met Afrikaners onderhandel. 'n Nugtere blik op die onlangse geskiedenis sal enigiemand oortuig dat "onderhandeling" tussen die ANC aan die een kant, en Afrikaners aan die anderkant, eintlik net 'n sessie is waar die ANC Afrikaners oortuig om die ANC se standpunt aan te neem. Met ander woorde, onderhandeling is 'n proses waardeur Afrikaners deur die ANC gekoöpteer word om die ANC se beleid uit te voer. Hetsy dit nou oor skole, oor regstellende aksie, oor sport, oor die herverdeling van grond, of wat anders ook al gaan. Die resultaat van die onderhandeling tussen die Afrikanerbond en die ANC oor taal in Afrikaanse skole kan ons nou reeds voorspel: Die Afrikanerbond gaan voorstel dat Engelse klasse in Afrikaanse skole ingestel word. Myns insiens behoort die Afrikanerbond nou reeds te verkondig dat Engelse klasse in Afrikaanse skole ingestel word, nog voor daar met die ANC onderhandel word. Hulle sal dan later kan aanvoer dat die onderhandeling tot 'n ooreenkom gelei het, en dat die ANC toegegee het tot die Afrikanerbond se eise. Dit sal tog soveel beter lyk. |