Skikking van ’94 rafel uit

______________________________________________________

   Dan Roodt

Die spanning wat in Suid-Afrika heers ná die huidige reeks bomontploffings is die sterkste aanduiding nóg dat die skikking van ’94 besig is om uit te rafel.  

Ek het al voorheen gesê dat Kemptonpark die Afrikaner se Versailles was.  Vanweë die amper onvoorwaardelike oorgawe van F.W. de Klerk en Roelf Meyer is die Afrikaner in ‘n toestand van volslae magteloosheid en oorheersing geplaas wat vroeër of later tot geweld moes lei, net soos wat die Vrede van Versailles regstreeks aanleiding gegee het tot die opkoms van nazisme en die Tweede Wêreldoorlog.

Dink net aan al die faktore wat aanleiding gee tot Afrikaner-vervreemding vandag: 

Frustrasies is besig om oor te kook in uitdagende optrede soos die stel van bomme en uitreiking van dreigende verklarings.  Ook omdat die Afrikanerdom nie die owerheid kan vertrou nie, is daar vrae rondom amptelike inligting oor die Boeremag, en verduidelikings oor die veronderstelde rassisme en Ku-Klux-Klan-ideologie van die bomplanters word deur die breë publiek met skeptisisme bejeën.

Die jongste vlaag van klopjagte en aanhoudings deur die polisie lyk ondeurdag, asof daar eenvoudig met ‘n breë hark gehark word in die hoop dat daar iewers lede van die Boeremag vasgetrek kan word.  Menige gewone Afrikaner is besig om te wonder wanneer die polisie ook aan sy deur gaan begin klop, want die owerheidsreaksie is besig om die vorm van anti-Afrikaneroptrede aan te neem, eerder as wat dit gemik is op die opsporing van spesifieke kwaaddoeners.

Maar uiteindelik moet verantwoordelikheid vir die huidige situasie regstreeks voor die deur van die destydse NP-onderhandelaars, en dan veral De Klerk en Meyer, gelê word.  Hul “onderhandelings”, indien daardie woord hoegenaamd van toepassing is op ‘n situasie wat sedertdien bekend staan as die “onoorwone oorgawe”, het geeneen van die politieke kwessies wat tot dusver die gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis bepaal het, opgelos nie.  Die verhouding tussen Afrikaans en Engels, tussen swart en wit, is vandag ewe problematies as ooit in die verlede.  Dit mag wees dat ons op die vooraand staan van ‘n ongekende polarisasie wat tot grootskaalse geweldpleging mag lei.

Dit is duidelik dat dele van die Engelse pers, beide plaaslik en internasionaal, weer bloed geruik het en besig is met hul ou spel van stereotipering en verguising van die Afrikaner.  Oënskynlik is hul van mening dat die Afrikanerdom tans so verswak is deur hul gebrek aan leierskap, hul identiteitskrisis, en volslae politieke oorheersing, dat hulle nou reg is vir die doodskoot.

Ook die ANC-regering koester duidelike minagting vir die vermoë van Afrikaners om hoegenaamd weer hul invloed te laat geld, en sien hulle as ‘n gebroke volk wat geredelik ten kwade gemanipuleer kan word.

Die bomme van die Boeremag, wat op een uitsondering na nog nie tot bloedvergieting gelei het nie, het een ding baie goed reggekry, en dit is om die ou verdelings in Suid-Afrika, dié van taal en van ras, weer sterk op die voorgrond te stoot.  Soos wat die oeroue Boerehaat vanuit Engelse en swart geledere toeneem, word die saad van ‘n nuwe Afrikanernasionalisme eintlik gesaai.  Net soos wat apartheid swart rassenasionalisme geskep het deur alle swartmense saam te groepeer, so gaan die uitbarstings van anti-Afrikaanse sentiment weer solidariteit tussen Afrikaners skep.

‘n Ander groot fout wat die ANC-regering begaan, is om te dink dat mag in getalle alleen gesetel is.  Indien dit internasionaal die geval was, sou China en Indië die wêreld regeer het, en sou Afrika twee keer magtiger gewees het as die Europese Unie.  Duidelik is dit nie die geval nie.

Gesus in sy demografiese obsessies, droom die ANC daarvan om driemiljoen Afrikaners te hiet en gebied, en na willekeur na van 'n nuwe identiteit te voorsien soos dit hom behaag.  Uiteindelik behels mag egter om jou vyand te dwing om jou wense en beleid uit te voer, met wapengeweld indien dit moet.  As die huidige polarisasie en Afrikaneropstandigheid voortduur, gaan die ANC naderhand pantservoertuie op straathoeke in Afrikaanse buurte moet stasioneer om homself te laat geld.  Nie net is dit in vandag se wêreld met sy intense media-aandag nie meer ‘n opsie nie, maar waarskynlik beskik die huidige weermag en polisie nie oor die organisatoriese vermoë om die totale Afrikanerbevolking militêr te onderdruk nie.

Omdat die NP’s nie by Kemptonpark gedink het nie, sit ons vandag met ‘n potensiële nuwe konflik wat dalk erger mag wees as enigiets wat tydens die Koue Oorlog plaasgevind het toe ‘n ANC, gerugsteun deur die Oosbloklande en Swede, tevergeefs gepoog het om die ou regering met geweld omver te werp.  Ná hy die mag op ‘n skinkbord ontvang het, is die ANC insgelyks nie besig om te dink hoe hy sy Afrikanerprobleem behoort te hanteer nie, en hom te verlaat op die verleidelike uitweg van brute mag, tesame met ‘n propagandaveldtog.

Miskien het die ANC se propaganda in die verlede baie goed gewerk teen die NP’s.  Om te dink dat dit ewe maklik vir ‘n tweede keer gaan slaag teen ‘n amorfe teenstander soos die Boeremag, om van die totale Afrikanervolk nie te praat nie, getuig van ‘n absurde graad van selfversekerdheid.