"Ek het gedink die vyand is die Nasionale Party. Maar die vyand was ook ekself. Wanneer 'n mens kuns skep omdat jy iets of iemand haat, word jy 'n bietjie soos Dan Roodt. Jy word 'n bietjie soos Dan Roodt selfs as jou cause 'n goeie cause is. Kuns kan oorleef, en selfs groot kuns kan geskep word uit gevoelens van walging en dissatisfaksie - kyk maar na "Guernica" van Picasso, luister maar na "It Ain't Me, Babe" van Bob Dylan - maar geen kreatiewe loopbaan kan permanent steun op die pilare van haat en aversie nie. Te veel haat maak jou eendimensioneel, net soos te veel en te goedkoop liefde jou eendimensioneel maak."
Dit klink asof Koos Kombuis hier Kant se Derde Kritiek, die Kritiek van Oordeel, afgestof het, waarin hy die aard van die skone en die sublieme behandel. Ek dink nie Kant het enigiets oor haat geskryf nie, maar ek mag verkeerd wees. Hoe dit ook al sy, verstaan KK nie veel van haat as hy my daarby betrek nie. In 'n ander
skrywe in antwoord op Russel, sê ek juis aan die einde: konfronteer die haat!
Ongelukkig woon ons in 'n land en 'n wêreld waarin daar op 'n groot skaal gehaat word. 'n Onlangse Europese koerantopskrif lui: "klopjag op verspreiders van haat", bedoelende radikale Moslems. In ons land egter het dit so gewerk: Die Engelse het die Afrikaners gehaat (sogenaamde Boerehaat). Toe versprei hulle hul haat aan die verengelsde Afrikane.Toe begin hulle ons ook haat. Intussen is al díé haat uitgevoer. Toe begin die hele wêreld ons haat. Waarna baie Afrikaners hulself begin haat het. Sedert 1994 heers daar 'n soort wapenstilstand, maar elkeen vertroetel nog sy vertroude haat.
So pas lees ek 'n rubriek wat in die Times verskyn het onder die titel, "Hands up - who want British society to be as white as Narvik in January?". Die skrywer, David Aronovich besoek die stadjie Narvik in Noorweë en ontdek 'n hawe van gemoedelikheid en liefde, want daar is geen vreemdelinge of buitelanders nie. Almal is blanke, Christelike Noorweërs. Almal kom volmaak met mekaar klaar in 'n idille van naasteliefde. Daar is geen misdaad of armoede nie. Volgens hom "leef die meeste Noorweërs gemaklik en is hulle byna absurd wetsgehoorsaam". Vyftig jaar lank al voer hulle dieselfde vervelige toneelstuk oor hul eerste Christelike koning Olav Haraldsson wat in die jaar 1030 dood is, op. Aronovich wonder eensklaps of Brittanje nie ook maar blank, Brits en homogeen moes gebly het soos in 1950 nie. Dan was daar nie haat nie. Dan was daar nie bomme nie. Net Engelse wat met mekaar Engels gepraat het en af en toe oor die ekonomie of die inflasiekoers gestry het.
Maar nee, aan die einde kom hy tot die gevolgtrekking:
"But even suppose you could turn the date back to 1950 and a British society as white as Narvik in January, and as Christian as St Olav's tomb, is that really what we would want? The play in Stiklestad has been performed since the year that I was born. In the programme there were photographs of performances going back to 1954. In all that time the only thing that has really changed has been the position of the orchestra. Otherwise the characters look the same, the set is the same, even the tree-trunk where the blind man sits is in the same position. A country like Britain can't be like that.
I'd rather we continued to be dynamic and ever-changing..."
Met ander woorde, haat - veral die haat van ander en van die terroriste - is die prys wat Brittanje moet betaal om interessant, "dinamies en immer veranderend" te wees. Net so dink ek dat Koos Kombuis eerder in 'n multikulturele samelewing waar mense mekaar haat, mekaar terroriseer en martel, sal wil bly as in 'n homogene volkstaat waar daar net Afrikaners is en almal met 'n warm gevoel in hul binneste rondloop soos by die plaaslike kerkbasaar of die laerskoolatletiekbyeenkoms toe daar nog blanke Afrikaanse skole was.
Multikulturele samelewings is per definisie ongelukkig en verteenwoordig broeiplekke van haat, swart teen wit, Moslem teen Christen, Bosniër teen Serwiër, ens. Freud het dit die "narcisme van klein verskille genoem". Ook in Suid-Afrika word mense dikwels op grond van hul ras of afkoms aangeval, selfs deur polisie-beamptes wat veronderstel is om hulle te beskerm, soos Beeld 'n week of twee gelede oor 'n mnr. Hennie Olivier berig het wat deur 'n polisiekonstabel doodgeskiet is omdat hy met haar kollega oor sy kar se agterlig gestry het. Ons weet met hoeveel haat en geweld plaasmoorde uitgevoer word, hoe dikwels bejaarde boere ure lank gemartel word alvorens hulle tereggestel word.
Niemand wil meer in 'n homogene samelewing met 'n lae misdaadsyfer bly nie; dit sou nie pikant wees nie. 'n Bom hier en daar, 'n etniese moord of twee, skares wat mekaar gillend van rassisme of taaldiskriminasie beskuldig, dit alles het ons nodig terwille van opwinding en "diversiteit". Ironies genoeg staan die multikulturele samelewing verdraagsaam teenoor almal wat haat; daar rus slegs 'n taboe op mense of sienings wat wil terugkeer na 'n vervelige tradisionalisme toe ons nie soveel gehaat het nie.
Ek vermoed dus dat Koos Kombuis nie van my hou nie (my dalk haat?) omdat ek teen hierdie samelewing met sy geïnstitusionaliseerde haat argumenteer. Ek haat nie myself of my mede-Afrikaners nie. Ek haat nie eens swartes of Afrika nie; soos Bob Geldof, die groot filantroop, vind ek hulle konstante armoede en probleme net bietjie "vervelig". Andersins waardeer ek dit ook nie om self so intens deur ons regerende Afro-Saksers gehaat te word nie, met hul konstante antipatie teenoor alles wat "wit en Afrikaans" mag wees. Dit maak van my 'n anomalie in hierdie land waar haat die definiërende gevoel is wat aan elkeen sy identiteit gee. Maar ook: op hierdie vasteland waar daar gemiddeld elke twee jaar 'n volksmoord gepleeg word (Rwanda, Burundi, die Kongo, Darfoer).
Miskien moet Koos Kombuis as 'n goeie Afrikaan dus nie so wegskram van haat nie. Te oordeel aan die getuienis, is niks so eie of so inheems aan Afrika as juis haat nie.
Ek het natuurlik 'n ander teorie, naamlik dat die Suid-Afrikaanse identiteit juis op sadisme gegrond is, ná die ervaring van die Tweede Vryheidsoorlog met die Britte se verskroeide aardebeleid, asook die stelselmatige verkragtings van Boerevroue. Sedert 1994, maar ook reeds sedert die tagtigerjare met hul halssnoermoorde en dergelike meer, gaan die opbloei van Suid-Afrikanisme gepaard met die heropkoms van sadistiese praktyke: moord, foltering, verkragting, selfs kinder- en babaverkragting.
Mens sou 'n boek kon skryf oor "Sadistiese Suid-Afrika". Die alliterasie klink asof die voorvaders dit so bestem het. As "nuwe patriot" behoort Koos Kombuis dus ook te leer om te haat en om soos sy mede-Suid-Afrikaners sy donker drifte te koester. Die soort drifte waaroor die Markies de Sade in Die 120 dae van Sodom skryf ; alles is immers geoorloof.
As iemand wat reeds die groot aanpassing van rock-sanger na gesinsman in die voorstede gemaak het, is hy sekerlik ook in staat tot die volgende aanpassing na vrysinnige libertyn?