boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Taalbillikheid in tersiêre onderrig

___________________________________________________________

Anton Barnard

Daar was onlangs heelwat berigte oor die beplande "transformasie" van verskeie universiteite, met die Universiteit van Stellenbosch die mees onlangse voorbeeld van 'n instelling wat met sogenaamde dubbelmedium-onderrig bedreig word. Transformasie kom in die praktyk bloot neer op 'n vinnige verengelsing, soos 'n hele aantal mense, onder andere Professor Herman Gilliomee, alreeds uitgewys het.

Dit ly min twyfel dat die sogenaamde transformasieproses en verengelsing van tersiêre instellings ongrondwetlik is, en 'n blatante politieke agenda het. Die bestaansreg van die elf amptelike landstale word in die Suid-Afrikaanse grondwet verskans, maar die Afro-Saksiese ANC steur hom min hieraan. Daar is 'n openlike verengelsingsbeleid, in die aangesig van onomstootlike feitelike getuienis dat Engels allermins die moedertaal van die meerderheid Suid-Afrikaners is. Dit is in der waarheid slegs in die sesde plek as moedertaal!

Die onderstaande tabel bevat die aantal moedertaalsprekers per taalgroep (bron: Statistiek Suid-Afrika, 2001 Sensus): 

Taal

Aantal moedertaalsprekers

Zoeloe

10677308

Xhosa

7907156

Afrikaans

5983423

Sepedi

4208986

Setswana

3677010

Engels

3673202

Sesotho

3555182

Xitsonga

1992206

Siswati

1194428

Venda

1021758

Ndebele

711824

Dit is 'n feit dat onderrig in 'n persoon se moedertaal tot groter akademiese sukses en prestasie lei. Een van die redes waarom swart skoliere so swak doen in Suid-Afrika, is byvoorbeeld omdat hulle in Engels en nie hul moedertale op skool onderrig word nie. Die bra flou en polities-geïnspireerde argumente wat deur diegene met 'n Afro-Saksiese agenda téén moedertaalonderrig geopper word, is dat Engels nodig is vir sukses in 'n globaliserende wêreld, of dat die meeste handboeke in Engels verskyn.

Soos 'n legio uiters suksesvolle Afrikaanse sakelui, medici, kunstenaars, ingenieurs en regsgeleerdes kan getuig, wat almal in Afrikaans klas geloop het, en ten spyte van die Engelse handboeke wat hulle moes bestudeer, is bostaande argument van alle waarheid ontbloot.

Die enigste argument wat moontlik 'n klein greintjie van waarheid mag bevat, is dat daar nie tegniese terme of akademiese handboeke in tale soos Xhosa bestaan nie, en dat dit moedertaalonderrig op hoë vlak in tale soos Xhosa sal bemoeilik. Selfs dít oortuig egter nie: 'n honderd en vyftig jaar gelede was daar ook nie terme soos "megagreep" in Afrikaans nie of selfs enige Afrikaanse universiteite nie. Wat minder as 'n miljoen Afrikaners in die laat negentiende- en vroeë twintigste eeue kon regkry - om tersiêre instansies van internasionale gehalte te stig - moet sekerlik binne bereik wees van tien miljoen Zoeloes of agt miljoen Xhosas vandag, veral gegewe dat laasgenoemde oor 'n monopolie van politieke mag beskik.

Dit is die ANC-regering se beleid om uiteindelik 11 universiteite te hê, 6 technikons, en 6 instansies wat beide technikon- en universiteitskursusse aanbied. Daar gaan dus uiteindelik 23 tersiêre instellings wees. Om billikheid in terme van moedertaalonderrig te verseker, sou dit sin maak om die volgende aantal instansies per taalgroep te hê, suiwer gebaseer op die demografie van die land:

Taal

Aantal instansies

Zoeloe

4

Xhosa

4

Afrikaans

3

Sepedi

2

Setswana

2

Engels

2

Sesotho

2

Xitsonga

1

Siswati

1

Venda

1

Ndebele

1

Om vier Zoeloe- en Xhosa-universiteite te hê, of 'n Ndebele-universiteit, is moontlik nie realisties nie. Daar kan kennelik meer Engelse instansies wees, omdat baie Zoeloes en Xhosas persoonlik sou verkies om eerder in Engels onderrig te word. Dit kan ook wees dat daar nie 'n kritieke massa van studente van minderheidstale is nie.

Vir sulke studente is die onderrigtaal hul eie keuse, maar die keuse moet aan hulle gegun word. Dat taalgroepe soos Afrikaanssprekers, wie se lede wel in hul moedertaal onderrig wil word, geregtig is uit hoofde van blote demografie op drie instansies van hul eie, ly geen twyfel nie. Afrikaans is immers die derde-grootste moedertaal in die land. Hier praat ons nie eens van die aantoonbare feit dat Afrikaners 'n aansienlike deel, en moontlik die meerderheid, van persoonlike belasting en gevolglik die koste van tersiêre onderrig in Suid-Afrika betaal nie.

Doen mens die berekeninge gegrond op die meerderheid moedertaalsprekers per provinsie, en kyk jy na die boonste 23 moedertale per provinsie (23 is gelyk aan die aantal tersiêre instansies), is die prentjie baie interessant. As die ANC se beleid konsekwent was, en as die ANC enigsins respek vir die land se grondwet gehad het, asook die internasionaal- en VN-erkende regte van verskillende kulture, sou die prentjie per provinsie as volg daar uitgesien het:

Taal van instansie

Provinsie

Aantal moedertaalsprekers

Afrikaans

Noordkaap

559189

Afrikaans

Ooskaap

600056

Afrikaans

Weskaap

2500748

Afrikaans

Gauteng

1269177

Engels

Gauteng

1105192

Engels

KwaZulu-Natal

1285011

Engels

Weskaap

874660

IsiXhosa

Ooskaap

5369671

IsiXhosa

Weskaap

1073951

IsiXhosa

Gauteng

671046

IsiZulu

KwaZulu-Natal

7624284

IsiZulu

Mpumalanga

822934

IsiZulu

Gauteng

1902026

Sepedi

Gauteng

945657

Sepedi

Limpopo

2750176

Sesotho

Vrystaat

1742939

Sesotho

Gauteng

1159587

Setswana

Noordwes

2398367

Setswana

Gauteng

741218

SiSwati

Mpumalanga

963187

Tshivenda

Limpopo

839705

Xitsonga

Gauteng

505379

Xitsonga

Limpopo

1180611

Om konsekwent te wees in terme van die grondwetlike reg tot moedertaalonderrig, sou dit nodig wees om die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Port Elizabeth as Afrikaansmedium te laat, en om 'n addisionele Afrikaanse universiteit in die Noordkaap te vestig, of moontlik om die Universiteit van Potchefstroom vir Noordkaapse Afrikaanse studente aan te wend. Engelssprekendes behoort volgens hierdie benadering slegs geregtig te wees op drie universiteite: Witwatersrand, Natal en Kaapstad.

Die universiteite van Potchefstroom, Pretoria, Stellenbosch, die Vrystaat en die RAU is deur Afrikaners gestig, befonds en uitgebou tot van die heel bestes in Afrika. Uit 'n demografiese- en belastingsoogpunt het ons as Afrikaners elke reg om hard en duidelik aan te dring op ten minste drie Afrikaanse universiteite, indien nie die behoud van ál die bostaande instansies nie.

Gaan ons toelaat dat linkse professore op Stellenbosch ons erfgoed, waarop ons sonder meer geregtig is, vir 'n pot lensiesop aan die Afro-Saksers verkwansel?

Boontoe