| boekwinkel |
|
|
|
Die vaderland deur die republiek
verraai
"Die hele Europa marsjeer na sy dood" Hierdie teks het op 17 Junie 2004 in die Franse koerant Le Figaro verskyn as deel van 'n debat oor die vraag, "Wat beteken dit vandag om Frans te wees?" As gevolg van sy standpunt dat Frankryk vir Franse behoue moet bly, is Monsieur Jean Raspail deur die LICRA (Internasionale Liga teen Rassisme en Anti-semitisme) van "haatspraak" aangekla. Die Paryse hof het op 28 Oktober 2005 die saak uitgegooi en die skrywer vrygespreek. ___________________________________________________________ Dié onderwerp het my soos 'n polisiehond wat rondom 'n versteekte bom snuffel, laat voel. Dis moeilik om dit direk aan te spreek sonder dat dit in jou gesig ontplof. Ek het geaarsel. Soveel te meer omdat ek in 1973 met die publikasie van Omsingel die laer van die heiliges* omtrent alles daaroor gesê het wat ek kon. Ek het nie veel om by te voeg nie, behalwe dat die koeël deur die kerk is. Want ek is daarvan oortuig dat ons lot as Franse verseël is, omdat "hulle tuis is hier by ons" (oud-president Mitterand), in die hart van "Europa waarvan die wortels ewe Moslem as Christen is" (huidige president Chirac), omdat die situasie onomkeerbaar is van nou af tot die wending tydens die jare 2050 waartydens die "inheemse Franse" bloot die meer bejaarde helfte van die land se bevolking sal uitmaak, met die res wat saamgestel gaan wees uit Afrikane, hetsy Arabiere, hetsy swartes, en Oosterlinge van allerlei soorte afkomstig vanuit die onuitputlike bevolkingspoel van die derde wêreld. Met 'n sterk Islamitiese element, waarby voorstanders van 'n djihad oftewel heilige oorlog en fundamentaliste ingesluit kan word, begin ons nou maar eers om daardie dans te dans. Frankryk is nie die enigste land wat hierby betrokke is nie. Die hele Europa marsjeer na sy dood. Daar is geen tekort aan waarskuwings nie: die VN se verslag (wat daaroor verheug is), asook die belangrike navorsing van veral Jean-Claude Chesnais en Jacques Dupâquier, maar wat stelselmatig verdoesel word. Aan die ander kant is die Franse Nasionale Instituut vir Demografiese Studies (INED) besig om disinformasie te versprei. Die byna gewyde stilte van die media, die regerings en die instellings van die Europese gemeenskap oor die demografiese ineenstorting van Europa met sy vyftien lande is een van die skrikwekkendste verskynsels van ons tyd. Wanneer daar 'n geboorte in my familie plaasvind of onder my vriende, kan ek nie anders as om na hierdie baba te kyk en te wonder watter toekoms die onnadenkendheid van ons sogenaamde "regeerders" aan hom gaan nalaat en wat hy as grootmens sal moet trotseer nie. By die immigrante moet die "inheemse Franse" wat so gebreinspoel is deur die gehamer van die menseregtetromme, deur "die verwelkoming van ander", deur "mededeelsaamheid" waarvoor ons Katolieke biskoppe so lief is, gevoeg word. Van hul geboorte af word hulle gekondisioneer met kulturele en gedrags-"verbastering", met die behoeftes van 'n "diverse Frankryk" en met 'n mengelmoes van liefdadigheidsgevoelens wat van die vroeë Christendom afgelei is sodat hulle geen ander hulpbron meer sal hê as om die onkoste te verlaag en sonder teenspraak hulself in die nuwe vorm van die Franse "burger" van 2050 te giet nie. Maar laat ons nie heeltemal negatief wees nie. Vir seker sal daar nog diegene oorbly wat ons in die volkekunde "isolate" noem, magtige minderhede, miskien so 'n vyftien miljoen Franse - moontlik nie almal meer van die blanke ras nie - wat steeds ons taal min of meer in sy geheel behoue sal praat en wat daarin sal volhard om met ons kultuur en ons geskiedenis bevrug te bly soos wat dit van geslag tot geslag aan ons oorgedra is. Vir hulle gaan dit nie maklik wees nie. Teenoor hulle sal daar verskillende "groepe" wees wat ons reeds vandag tot stand sien kom bo-op die ruïnes van die integrasiepolitiek (of eerder en toenemend die teenoorgestelde: dis tans ons wat by "die ander" moet integreer, en nie meer die omgekeerde nie) en wat teen 2050 permanent en institusioneel gevestig sal wees. Dié Franse van die toekoms sal iets van - ek soek na die juiste term - 'n soort duursame Franse gemeenskap verteenwoordig. Hulle sal terugval op hulle families, op hul geboortesyfer, hul inteling ter wille van oorlewing, hul skole, hul parallelle welsynsnetwerke, hul woonbuurte, wat selfs plekke van veiligheid mag beteken en - waarom nie? - hul Christelike geloof, wat met 'n bietjie geluk Katoliek mag wees as daardie binding nog hou. Die res gaan nie daarvan hou nie. Die botsing sal een of ander tyd plaasvind. Iets soos die eliminering van die Koelakke deur toepaslike wetlike maatreëls soos in die ou Sowjet-Unie. En daarna? Daarna sal Frankryk bloot bevolk word deur hermietkrappe van allerlei soorte wat in die agtergelate skulpe van 'n uitgestorwe spesie sal woon. Geen mens sou kon voorspel dat die uitgestorwe spesie wat eens as die Franse spesie bekendgestaan het, weens een of ander onpeilbare genetiese mutasie deur 'n ander vervang sou word, 'n ander wat tydens die tweede helfte van dié eeu hom in dié benaming sou uitdos nie. Hierdie proses is reeds aan die gang.
Wat ek nie begryp nie en wat my in 'n ongelukkige toestand van verwarring laat, is waarom en hoe soveel ingeligte Franse en soveel politici met voorbedagte rade en metodies - laat ek nie die woord "sinies" gebruik nie - aan die opoffering van 'n sekere Frankryk (ek vermy die gebruiklike "ewige Frankryk" omdat dit die politiek korrektes aanstoot gee) op die altaar van oordrewe utopiese humanisme meewerk. Ek vra myself dieselfde vraag af as dit kom by die alomteenwoordige verenigings vir ditse of datse regte, en al hierdie ligas, hierdie denkskole, hierdie gesubsidieerde broeineste, hierdie netwerke van manipuleerders wat die hele staatsmasjinerie geïnfiltreer het (opvoeding, die regbank, die politieke partye, vakbonde, ens.), hierdie ontelbare opstellers van petisies, hierdie korrekte media wat altyd saamstem en al hierdie "intelligentes" wat dag vir dag en straffeloos hul narkotiese middel in die steeds gesonde organisme van die Franse volk inspuit. Selfs al moet ek uiteindelik ten dele hul opregtheid erken, doen dit my pyn aan om te erken dat hulle my volksgenote is. Ek voel die woord "verloopte" opwel, maar daar is 'n ander verklaring: hulle verwar Frankryk met die republiek. Die "republikeinse waardes" word eindeloos herhaal, tot op die versadigingspunt, maar sonder om ooit na Frankryk te verwys. Frankryk verteenwoordig egter bowenal 'n vleeslike vaderland. Hierteenoor is die republiek, wat bloot 'n regeringsvorm verteenwoordig, vir hulle sinoniem met ideologie, ideologie met 'n hoofletter-I, opperideologie. Dit lyk vir my asof hulle op 'n manier eersgenoemde met laasgenoemde verwar. Tussen die stortvloed verwysings wat ek in dik lêers versamel om my oordeel te staaf, kan ek die volgende aanhaal wat onder 'n dik laag onskuld die omvang van die skade aandui. Dit kom uit 'n toespraak van Laurent Fabius (vorige sosialistiese eerste minister van Frankryk) tydens die sosialistiese kongres te Dijon op 17 Mei 2003: "Die dag as die Marianne-standbeeld in ons stadsale die mooi gesig van 'n jong Franse immigrantevrou verkry, op daardie dag sal Frankryk 'n stap vooruit geneem het om die waardes van die republiek voluit te laat leef…" Aangesien ons nou met aanhalings besig is, hier is nog twee, ten slotte: "Geen aantal atoombomme sal die getygolf kan stuit van die miljoene mensewesens wat op 'n dag van die suidelike en arm gedeelte van die wêreld sal vertrek om die betreklik oop ruimtes van die ryk noordelike halfrond binne te val, in hul oorlewingsdrang nie." (President Boumediene van Algerië, Maart 1974.) En dan dié een uit Openbaring 20, vers 7-9: "En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis onbind word: en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog. Om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel." Vertaling: Dan Roodt *Le camp des saints is oorspronklik in 1973 gepublisieer. Die boek het in 1990 as Omsingel die laer van die heiliges in Afrikaanse vertaling deur Naomi Morgan by Oranjewerkers-promosies, Morgenzon, verskyn. Uitgewery Praag beplan 'n hersiene heruitgawe vroeg in 2006. |