boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Jane Fonda, Viëtnam & Irak

___________________________________________________________

Karin Roodt

Jane Fonda verkies blykbaar deesdae om eerder vir haar "heroïese" stryd teen die oorlog in Viëtnam as vir haar tuisgimnastiekvideo's onthou te word. Onlangs het sy in haar geradbraakte Frans op TV deelgeneem aan 'n illustere besprekingsprogram in Frankryk om juis haar politieke loopbaan as aktivis vir "reg en geregtigheid" te onderhou en uit te bou. En net soos aan die begin van die sestigerjare van die vorige eeu is die openbare mening binnelands en daarbuite op 'n keerpunt wat deelname en doelwitte in 'n oorlog ver buite die grense van die VSA betref.

Die ooreenkomste tussen Amerika se betrokkenheid in Viëtnam en Irak is ook die onderwerp vir meer ernstige oorweging, selfs al staan die trefslae op die internet oor dié kwessie op 52 000 000! Een so 'n kommentaar is van Professor Martin van Creveld, militêre historikus en bekende skrywer. In 'n stuk getiteld Why Iraq will end as Vietnam did, gee Van Creveld Moshe Dayan se indrukke oor die toentertydse Viëtnam, weer.

Die 52-jarige Dayan, wat as uitnemende Israeli-generaal roem verwerf het, het besluit om homself as groentjie van die stand van die VSA se betrokkenheid in die stryd teen kruipende kommunisme uit die noorde van Vietnam te gaan vergewis. Sy politieke kaperjolle tuis het dit tewens volgens sy hoofde wenslik gemaak dat hy sy aandag by iets belangrikers bepaal.

Dié oorlog wat Amerika na afloop van die Tweede Wêreldoorlog by die Franse geërf het in 'n land wat in terme van die Geneefse ooreenkoms op die 17de parallel in twee verdeel is, is danksy die lot van veterane, 'n treffende gedenkmuur, ekologiese aktiviste, die aantal sterftes, diensplig en veral Hollywood nog daagliks deel van die Amerikaanse landskap – geestelik en andersins.

Uit 'n anektodiese vertelling blyk dit dat Dayan egter nie in sy uitgebreide reis vind waarna hy op soek is nie. Van die Franse se Indochina-generaals Loisson en Niceault tot by die hoogste range in die Angelsaksiese sfeer, naamlik Montgommery en Westmoreland, raak dit duidelik dat die fokus, die vernaamste motiveerder om sodate in die veld te kan hou, vir die oorlog ontbreek.

Daarna ontmoet Dayan die politieke rolspelers bestaande uit Walt Rostow van die National Security Council asook President Lyndon Johnson se spesiale adviseur Maxwell Taylor en Robert McNamara, Verdedigingssekretaris, voordat hy self die front besoek. Hy kom hier 'n popelende optimisme en gebrek aan enige teenspraak, al sou dit neerkom op gesonde kritiek, teë.

Tot sy spyt moet Dayan voorts by sy aankoms in Viëtnam opmerk dat daar nie juis werklik 'n front bestaan nie omdat die Amerikaners verkies om groot plate oerwoud te bombardeer in die hoop om 'n "las" vir die Viëtkong te wees. Andersyds moes positiewe ekonomiese vooruitsigte blykbaar daarvoor sorg dat die noordelike Viëtnamese van die VSA se edele bedoelinge oortuig raak. Nieteenstaande die feit dat die Amerikaanse weermag 'n formidabele, goed geoliede masjien onder die omstandighede verteenwoordig, sien hy te velde ook geen werklike doelwit wat helder uitstaan nie.

Die parallelle met Irak in Van Creveld se betoog raak duideliker: 'n Lukraak ideologie, oorweldigende beheer oor die lugruim en 'n oorlog wat deur die aantal stemme tuis bepaal word. Plaaslike politieke oorwegings in die VSA het destyds die volle militêre ingryping om die regime van Ngo Duhn Diem te bestendig genoodsaak en gaan vorentoe waarskynlik 'n nie onaansienlike invloed in die uitkoms van Irak uitoefen nie. Die onverskrokkenheid van destyds en van die huidige Bush teenoor die internasionale gemeenskap staan verder in skrille kontras met die oorgevoeligheid vir kritiek tuis.

Van Creveld delf in sy artikel nie dieper as die indrukke van 'n eertydse groot veldheer nie en sy gekose medium laat hom waarskynlik ook nie toe om ander kommerwekkende ooreenkomste op te haal nie. Duidelik is egter dat onderliggende kultuurverskille, die veelbesproke "human intell" en 'n dieper begrip vir plaaslike toestande nie toe deur die Amerikaanse invalsmag verreken is nie, tans weer in Irak die geval is.

Van Creveld glo dat die suksesvolle inval om Koeweit te ontset in die negentigerjare voor die eeuwending die Amerikaners laat vergeet het dat hulle in Viëtnam sleg verloor het. Hy beskou die gebrek aan belangstelling in militêre geskiedenis as die bewys daarvan dat wenners van mening is dat hulle geen ag op die verlede hoef te slaan nie.

Daar word uit ander bronne beweer dat die oorlog in Viëtnam Standard Oil destyds in staat gestel het om genoeg seismiese data net af van die Viëtnamese kus te versamel om die beste oliekleims ná afloop van die oorlog op te eis. Die Noorweegse Statoil, British Petroleum, Royal Dutch Shell, Rusland, Duitsland en Australië het eweneens almal olieregte ontvang maar hul prospektering was uiteraard nie van dieselfde gehalte nie. Kennelik was die oefening vir die VSA nie net 'n verloortransaksie gewees nie, indien die aansienlike koste aan menselewens - 57 000 net aan een kant! – uitgelaat word.

Die olieverhaal is reeds 'n bekende faktor in die VSA se oorsese avonture, maar 'n ander skrywer, Avro Manhattan, werp in 'n ouerige boek,Vietnam, why did we go (1987), 'n ongewone lig op die Amerikaanse betrokkenheid in die land wat moontlik ook tot vandag se leser sal spreek. Manhattan, 'n Brit, is veronderstel om 'n kenner van Katolieke aangeleenthede en die Vatikaan te wees.

Manhattan beweer dat die oorlog in Viëtnam grootliks deur die Vatikaan gewil is en deur die eerste Katolieke President, John F. Kennedy, nog vóór sy ampstermyn met alle ywer ondersteun is. Hy suggereer ook dat Kennedy dalk uiteindelik die hoogste tol vir sy godsdienstige bemoeienis moes betaal. Bo en behalwe die komplotteoriemateriaal waartoe die inhoud van die boek hom leen, kon die skrywer tot sy eer nie toe geweet het dat al die elemente van 'n godsdiensstryd ook sterk in 2005 aanwesig sou wees nie.

Hoeveel kommentators onthou nog, om die waarheid te sê, hoegenaamd die godsdienstige verdeling tussen die noorde en suide van Viëtnam, die kruisvaarder-dimensie in die konflik dus? Diem, eerste minister, en oortuigde Katoliek van die suide, was nie net die Vatikaan, en veral Pius XII, se gunsteling nie, maar ook, soos reeds genoem, die opkomende en veelbelowende Kennedy se beskermling. Met die volle steun van sy meesters was Diem onstuitbaar en sy fanatiese oproepe het veroorsaak dat byna 'n driekwart miljoen gelowiges uit die noorde binne die bestek van enkele maande suid migreer het om aan die kommunistiese duiwels te ontsnap.

Alhoewel dié verwikkeling aanvanklik die Katolieke projek om 'n Christelike staat in Asië te vestig grootliks ondersteun het, het dit op die lange duur heelwat probleme veroorsaak. Mededinging onder Katolieke in die suide het verskerp en 'n sondebok moes geskep word om die oplaaiende druk te verlig en die tweespalt tussen kommuniste en Katolieke in stand te hou. Wette, reëls en diktate teen Boeddhiste is uitgevaardig wat daartoe aanleiding gegee het dat Boeddhistiese monikke hulself teen dié maatreëls begin verset het.

Diem, wat geen kompromis kon aanvaar nie, het ten spyte van Kennedy se waarskuwings volgehou om druk op Boeddhiste te plaas. Die nuwe Amerikaanse president het toenemend besef dat sy openbare beeld skade kan ly deur Diem se ongenaakbaarheid teenoor sy Boeddhistiese landgenote en het die VSA se gesant onttrek. Dit het weer op sy beurt tot die sluipmoord op Diem en etlike volgelinge aanleiding gegee.

Die interessante en pertinente ooreenkoms met Irak is beslis dat radikale Moslemselfmoordbomme nie 'n nuwigheid is om die openbare mening te probeer beïnvloed nie. Die bloudruk is reeds deur Boeddhiste verskaf: op 2 Junie 1963 steek Tich Quang Duc, 'n ouerige monnik, homself uit protes in 'n hoofstraat van Saigon aan die brand, nadat hy 'n boodskap aan President Diem gestuur het waarin hy gelyke behandeling vir alle godsienste versoek.

Natuurlik is dié skouspelagtige selfmoorde nie ewe mensveragtend as die radikale Moslemopsie nie, maar as wêreldwye advertensie vir griewe en mobiliserende dryfveer vir optrede deur sekere groepe ten minste ewe doeltreffend.

Spoedig volg nog openbare selfimmolasies waartydens ontstelde toeskouers in ongeloof na die grusame tonele staar. Pius XII se opvolger, Pous Johannes XXIII begin dadelik om in die geheim met die noorde te onderhandel en kry dit selfs reg om Ho Chi Minh te oorreed om 'n Katoliek in sy midde aan te stel.

Die openbare mening in die VSA kantel en op 27 junie 1963 verskyn daar in die New York Times 'n volbladadvertensie van 'n groep Amerikaanse geestelike leiers onder die opskrif: "We Too, Protest" met 'n foto van die brandende monnik daarby. Die stryd teen Amerikaanse troepe in Viëtnam is gewonne en Jane Fonda kan haarself oplaas as ikoon van 'n glorieryke protesbeweging aanbied.

Dit het nietemin 'n nuwe Pous in die Vatikaan gekos om die ommekeer teweeg te bring, asook die dood van 'n Amerikaanse president. Die mense van Viëtnam het ook nie Tich Quang Duc se opoffering vergeet nie. 'n Yslike monument is opgerig by die kruising waar hy tot sy ongelukkige einde gekom het en in die Tempel van Thien Mu in Hue pryk daar vandag... sy motor.

Jane Fonda is tydens die Viëtnam-oorlog agter die linies afgeneem waar sy glimlaggend tussen Viëtkongsoldate hulle aanmoedig om sterk te staan teen haar eie landgenote. Blykbaar is dié foto die enigste aspek van haar destydse aktivisme waaroor me. Fonda deesdae spyt is, want selfs in haar links-liberale kringe word dit tot vandag toe as ‘n onpatriotiese daad beskou.

Tot dusver is Jane nog nie met ‘n hoofbedekking tussen Moslem-guerillastryders in Irak afgeneem nie. Maar die grafieke betreffende plaaslike steun vir die Irak-oorlog in die VSA toon dieselfde afwaartse neiging as dié oor Viëtnam in die sestigerjare.

Boontoe