| daboekwinkel |
|
|
|
'n Afrikaanse utopie 2
___________________________________________________________ Stel u 'n land voor waar die oorgrootte meerderheid inwoners Afrikaners is. Afrikaans is die enigste amptelike taal: in die howe, in die staatsdiens, op skool en universiteit word die nuanses van die reg, van regering, van letterkunde en wetenskap in daardie taal bespreek en aan die volgende geslag oorgedra. Misdaad is laag en ekonomiese groei hoog. Duisende Afrikaanse dokters, waarvan vele van Kanada of Australië teruggekeer het, behandel jonk en oud. Ons siviele ingenieurs werk aan 'n openbare vervoerstelsel wat met die beste in Europa kan vergelyk. Die openbare televisie is opbouend, opvoedkundig en vir seker Afrikaans. Via satelliet en kabel word Afrikaanse TV na ander dele van Suid-Afrika, asook die hele wêreld, uitgesaai. Afrikaanse teater, musiek, boeke, koerante en tydskrifte, selfs films, bloei. Soos in Europese lande is alle openbare tekens en advertensies in die plaaslike taal, in dié geval Afrikaans. Nie dat die omgewing deur reuse reklameborde soos in die huidige Suid-Afrika ontsier word nie, inteendeel. 'n Regering wat ekonomiese behoefte en 'n estetiese omgewing met mekaar versoen, reguleer sulke kwessies met omsigtigheid. So pas het 'n Afrikaanse rugbyspan, aangevuur deur die patriotisme van drie miljoen Afrikanerondersteuners, die wêreldbeker gewen. 'n Mens sou kon sê: ons beker loop oor. Maar waar is hierdie land, hierdie utopiese Afrikaanse Republiek, kortweg die AR genoem? Dit kan enige plek wees. In die Transvaal, in die Vrystaat, in die Kaap, selfs in Noord-Natal. Moontlik kan ons selfs grondgebied in Europa of Noord-Amerika beding, indien Afrika geheel en al vyandiggesind raak. Hoeveel grondgebied het ons nodig? Sowel tien miljoen Belge as sestien miljoen Nederlanders oorleef op iets meer as 30 000 vierkante kilometer, 'n skamele 4% van Suid-Afrika se huidige landoppervlak, omtrent so groot soos die Krugerwildtuin. Die Amerikaanse staat New Jersey is maar die helfte hiervan en tog bevat dit 8,4 miljoen mense met 'n Bruto Nasionale Produk van $315 miljard, anderhalf die grootte van die Suid-Afrikaanse ekonomie met sy 46 miljoen mense. In 1994 het die destydse Afrikanerleierskap politieke selfmoord gepleeg deur vrywillig afstand te doen van alle grondgebied wat ons ooit gehad het. Indien die Xhosa-oorheersde ANC môre sou wou, kan dit 'n wet maak wat al ons besittings onteien en die staatshoof kan moontlik die gevleuelde woorde van die Kaapse hoofregter, John Hlophe, herhaal deur ons vloekend terug Nederland toe te stuur. 'n Nederland wat ons uiteraard nie terug wil hê nie. Ek glo ook in die HNP se slagspreuk, "dié land is ons land". Maar onder die huidige omstandighede, met grondonteiening, taaldiskriminasie en geweldsmisdaad aan die orde, bly dié slagspreuk ewe utopies as die Afrikaanse Republiek wat ek hierbo geskets het. In feite moet ons eerder sê: dié land wás ons land. Eendag in die toekoms sal dit weer ons land wees, mits ons oor die nodige strategiese leiding beskik om dit te herower in 'n Afrikaanse reconquista ná die Spaanse model van die vyftiende eeu. So 'n reconquista oftewel herowering sal nooit plaasvind indien ons nie êrens 'n vastrapplek, 'n eie en soewereine gebied, verkry nie. Daarsonder sal enige toekomstige territoriale ambisies wat Afrikaners mag koester, net drome bly. Daarsonder gaan ons as volk met 'n eie taal, kultuur, geskiedenis en tradisies nie kan voortbestaan nie. Die druk om te "meng", om te integreer en op die duur op te los in 'n groter Suid-Afrikaanse konglomeraat wat homself deur die benaming "nasie" vlei, gaan in die toekoms nóg groter word as wat dit tans is. Van die Afrikanergemeenskappe wat nie so lank gelede nie nog in Zimbabwe, Angola, Kenia en ander lande in Afrika bestaan het, het vandag net hier en daar 'n bouval oorgebly waar daar eens 'n plaashuis, 'n dorpie of 'n NG Kerk gestaan het. Die Franse skrywer Jean Raspail wat verlede jaar in sy geboorteland van "haatspraak" aangekla is weens 'n artikel wat hy op 17 Junie in die koerant Le Figaro gepubliseer het, praat van "'n ander spesie as die Franse spesie" wat iewers teen die jaar 2050 "soos 'n hermietkrap… die agtergelate dop" van sy vaderland gaan bewoon. In Suid-Afrika is ons Frankryk en die res van Europa ver vooruit. Die hermietkrappe is reeds hier. Die Ou Raadzaal van waar Paul Kruger eens regeer het, word vandag deur swartes beset en ons, die afstammelinge van die ZAR se regeerders, is vandag grotendeels onwelkom daar. Dieselfde geld in 'n nog groter mate vir die Uniegebou, stadsale en die meeste setels van politieke mag in die land. Selfs die Universiteit van Stellenbosch gaan nie ontsien word nie. Soos prof. Carel Boshoff senior al gesê het, "die grondvraag is die grondvraag". Dit wil nie sê dat alle Afrikaners na Orania behoort te verhuis nie, maar ek dink die punt dat ons oor 'n gebied of gebiede behoort te beskik wat ons self beheer, is geldig. Tans verteenwoordig Pretoria en omliggende dele wat die Oos- en die Wesrand insluit, die swaartepunt van Afrikanervestiging. Tesame met die yl bevolkte Oos-Transvaal kan dit 'n toekomstige volkstaat vorm. Dit mag wees dat Afrikaners voortaan, soos Jode, vir altyd oor die aardbol versprei gaan woon. Maar sonder 'n Israel, sonder 'n hinterland waar die Afrikaanse taal en kultuur onbelemmerd kan ontwikkel, gaan ons nie die mas opkom nie. Soveel te meer nog gaan ons nie ons getalle in stand kan hou sonder die nodige organisasie en verbeeldingryke oplossings vir werkende vroue soos onlangs in Swede en ander lande ingestel is nie. Terwyl swartes sonder inspanning een bevolkingsontploffing na die ander kan ontketen, sy dit dan in armoede en met swak gesondheid, ly Afrikaners aan die "blanke siekte" van min kinders en baie oumense waaroor Raspail juis begaan is. In sy Figaro-artikel skryf hy met spesifieke verwysing na die demografie: "Die hele Europa marsjeer na sy dood… Die byna gewyde stilte van die media, die regerings en die instellings van die Europese gemeenskap oor die demografiese ineenstorting van Europa met sy vyftien lande is een van die skrikwekkendste verskynsels van ons tyd. Wanneer daar 'n geboorte in my familie plaasvind of onder my vriende, kan ek nie anders as om na hierdie baba te kyk en te wonder watter toekoms die onnadenkendheid van ons sogenaamde 'regeerders' aan hom gaan nalaat en wat hy as grootmens sal moet trotseer nie." Hoeveel te meer nog is die Afrikaanse baba wat vandag in 'n vyandige Suid-Afrika gebore word waar hy nie van moedertaalonderrig verseker is nie en waar daar lewenslank teen hom op grond van sy ras en sy taal gediskrimineer gaan word, nie oorgelewer aan 'n verskriklike toekoms nie? De Klerk en sy mede-verraaiers is sekerlik verantwoordelik vir die doodloopstraat waarin ons beland het. Maar die meedoënlose demografiese druk van die "hermietkrappe" waaronder ons tans verkeer, het nie in 1994 begin nie. Dis ook deel van 'n globale proses wat alle blankes en ontwikkelde Oosterlinge soos die Japannese tref. Net om teen die immer groeiende demografiese oormag te oorleef, gaan 'n geweldige poging van ons verg. Eers moet ons ten alle koste 'n hinterland vir Afrikaners verkry, al is dit hoe klein, waar ons Afrikaans mag praat en kinders vry van geweld en vrees kan grootmaak. Ons sal skeppend moet dink en droom. Vandaar die gedagte van 'n Afrikaanse utopie. Dit moet ons wil om te oorleef aan die gang hou. Met die nodige ywer en visie mag ons dit selfs binne enkele jare verwesenlik sien. |