| boekwinkel |
|
|
|
Skepping en herkoms (deel 1)
___________________________________________________________
Toe anatomiese moderne mense êrens in Afrika die eerste gesproke woorde geuiter het, was een van die eerste intellektuele onderwerpe waaroor hulle gepraat het waarskynlik hulle eie skepping, en hulle oorsprong en herkoms. Tienduisende jare later is die debat steeds lewendig, en soms die oorsaak van intense meningsverskille. Sosioloë en antropoloë het oor die laaste eeue ‘n intellektuele tradisie oor die herkoms van die mens en oor sy oorsprong ontwikkel. Opgrawings, die analise van historiese tekste in vreemde skrif, en afleidings oor herkoms deur die studie van tale en nog ander tegnieke, wat genetiese studies insluit, is al gebruik om ‘n feitlike weergawe te konstrueer oor die oorsprong en verwantskappe tussen mense en tussen etniese groepe en hulle tale en kulture. Wat baie duidelik in die debat is, is dat daar skynbaar ‘n ingebore sug in die mens is om sy eie skepping en herkoms te verstaan. Diè sug smag na ‘n rede, of ‘n verduideliking, vir bestaan en bewussyn, en daar is ook ‘n soeke na instruksies of motiewe wat elke mens kan lei om “goed” te doen, of om ‘n etiese bestaan te voer en morele besluite te neem. Daar is verskeie tydskale in die debat. Oorsprong en herkoms kan benader word op ‘n tydskaal gemeet in generasies. In dié opsig is individue bewus van hulle onmiddelike voorouers en nasate. Omtrent elke mens ken hulle ouers, en meeste ken hulle grootouers. Baie minder mense het hulle oorgrootouers (skramsweg) geken, en omtrent niemand weet iets oor hulle oor-oorgrootouers nie. In die nageslag ken omtrent almal hulle eie kinders, en meeste ken hulle kleinkinders, as daar kinders of kleinkinders is. ‘n Mens moet gelukkig wees om jou agterkleinkinders te ken, en dit sou uitsonderlik wees om jou nasate in the vierde geslag te sien. Mense is dus eerstehands bewus van miskien die laaste twee geslagte, en het ‘n vae idee oor drie geslagte terug, en sal normaalweg twee geslagte vorentoe kan kyk. Vier geslagte later is daar bitter min bewys oor dat ‘n persoon bestaan het (miskien is net ‘n grafsteen oor op ‘n graf wat ‘n bedorwe liggaam bevat, en ander kere is daar niks oor nie, nie ‘n brief nie, en nie eers ‘n naam nie) - Tyd vee mense uit oor ‘n tydperk van 100 jaar, en mense word vinnig vergeet wanneer almal wat hulle geken het ook dood is. Daar is wel persone wat in geskiedenisboeke onthou word. In die geval is inligting oor so ‘n persoon verwerk en geïnterpreteer deur geskiedkundiges. So ‘n persoon word dan ook onthou weens besondere redes. Hoe langer terug ‘n geskiedkundige figuur geleef het, hoe meer onakkuraat is die idee wat ons oor hom of haar het. Met ander woorde, inligting neem af met tyd (die tweede wet van termodinamika vereis dit). Ons weet byvoorbeeld baie meer oor Jan Smuts as wat ons oor Jan van Riebeeck weet, en ons weet nog minder oor Jesus as ‘n historiese figuur. Ons weet vandag bitter min oor die persoon wat as Piltdown Man onthou word en duisende jare terug geleef het. En selfs as ons meer oor die persoon wou uitvind, sou dit nie moontlik wees nie, omdat die nodige inligting nie meer bestaan nie. Dit is egter steeds die geval dat herkoms en oorsprong in terme van voorsate en nasate ‘n beduidende rol speel in mense se lewens. Ouers speel ‘n direkte rol in hulle kinders se lewens, en kinders kan later weer ‘n rol in ‘n ouer se lewe speel. Die skadu wat ‘n ouer in die toekoms gooi val dikwels lewenslank op ‘n kind, en kan nasate selfs in die tweede en derde geslag beïnvloed. So byvoorbeeld is dit algemeen dat ‘n individu lewenslank sal wonder of hy goedkeuring sou kry van ‘n pa of ‘n ma, of self van afgestorwe oumas of oupas, in sy besluite en dade. Miskien wonder selfs 'n tagtigjarige oorgrootjie of ‘n afgestorwe pa of ma goedkeurend sou oordeel oor haar lewensbesluite en moraliteit. In sommige gemeenskappe word voorvaders selfs aanbid. Voorours en die afstammeling van individue speel dus ‘n belangrike, indien nie ‘n toonaangewende rol nie, in mense se lewens. Dit is eweneens die geval waar etniese groepe, as ook nasies, in stede van individue beskou word. Dit bring ons by die tweede tydskaal, wat in eeue gemeet kan word. Voorouers in die vorm van “volksvaders” en “volksmoeders”, en gestorwe politieke figure en oorlogshelde wat somtyds ‘n mitiese vernis het, speel ‘n sentrale rol in die definisie van etniese groepe, nasies, en selfs in die families wat van hulle afstam. Omtrent alle mensegemeenskappe openbaar ‘n drang om die verlede te ontleed in ‘n poging om die hede te verstaan. Op ‘n sielkundige vlak wil elke individu, as deel van ‘n etniese groep, of as lid van ‘n nasie, weet waar hulle vandaan kom (en waarheen hulle op pad is). Op die mees basiese vlak smag mense, as lede van ‘n etniese groep, na ‘n verduidelik vir herkoms, skepping, en vir bestaan. Sulke verduidelikings is “skeppingsmites” wat die bestaan van ‘n gegewe etniese groep of nasie verklaar, rasionaliseer en regverdig. Individue wat lede van die etniese groep of nasie is, internaliseer die skeppingsmites, en maak dit deel van hulle identiteit, en gebruik dit as ‘n moraliteitsraam en ook as ‘n interpretasieraam om hulle omgewing te ontleed. Baie politici verstaan die belangrikheid van skeppingsmites oor die tweede tydskaal instinktief, en sinspeel dikwels op (mitiese) gebeurtenisse en figure om aanspraak te maak op ondersteuning in ‘n etniese groep. Opvoeding word ook dikwels aangewend om skeppingsmites in kinders te skep. Dit is die geval in elke land, demokraties of nie. In ‘n land soos Suid-Afrika met ‘n bevolking wat nie gemene mites deel nie, is daar ‘n projek aan die gang om gemeenskaplike skeppingsmites te vestig. Politici verwys skaamteloos hierna as “nation-building”, en dit is ‘n projek om byvoorbeeld die Afrikaner se skeppingsmites in Afrikaanse kinders te vervang met “aanvaarbare” skeppingsmities waarop ‘n gemene Suid-Afrikaanse etnisiteit gebou kan word. Afrikaners het soos alle ander gemeenskappe met ‘n gedeelde herkoms en kultuur, ‘n skeppingsmite wat oor ‘n tydskaal van honderde jare strek. So ‘n skeppingmite is nie uniek nie, en elke ander etniese groep of nasie het ‘n mite wat ‘n soorgelyke doel dien. Amerikaners vertel byvoorbeeld dat Christopher Columbus “Amerika” toe geseil het en dat Amerika dus deur hom “gestig” is. Terwyl die eerste aksie van die laaste sin histories waar is (Columbus het oor die Atlantiese Oseaan geseil), is die tweede deel van die sin (Amerika is gestig) net ‘n mitologiese weergawe van historiese realiteite. Christophoro Colombo (sy regte naam) was ‘n Italianer wat wes oor die Atlantiese oseaan in 1492 geseil het om ‘n kort pad Asië toe te vind. Terwyl hy wel die Wes-Indiese eilande “ontdek” het, het hy nooit ophou glo dat hy Asië bereik het nie. Afrikaners beskik oor ‘n baie goedontwikkelde skeppingsmite gebaseer op beide historiese feite (Jan van Riebeeck, Slagtersnek, Groot Trek, Bloedrivier, Boere oorlog, ...) en mitologiese interpretasies van hierdie feite. Jan van Riebeeck het natuurlik meer “gestig” as Columbus, ten minste ‘n fort. Maar die implisiete afleiding dat dit hy is wat Afrikaners en Boere (doelbewus) hier “geplant” het, is ‘n mite (as ons aanvaar dat hy soos die res van ons, nie in die toekoms kon sien nie). Ek beskou die skeppingsmite oor Afrikaners egter as ons legitieme mite. Afrikaners se etniese definisie, en hulle kultuur, word gevorm deur beide die Afrikaanse Taal en ook deur die interaksie van die Afrikaanse skeppingsmite met die huidige realiteit in Suid-Afrika. Die derde tydskaal waaroor herkoms en oorsprong gemeet word is in duisende tot tien duisende jare. Daar is vordering gemaak om herkoms oor die tydperke ontleed, maar die tydvakke is so lank, en informasie is so ver gedegradeer dat daar nie baie uitgevind kan word nie. Ek sal meer hieroor in deel II van die rubriek skryf, maar daar is een aspek waaroor ek tog hier kommentaar wil lewer. Oor die baie lang periodes in die derde tydskaal (duisende tot tien duisende jare, of honderde to duisende geslagte) vervaag historiese skeppingsmites in die tradisies van godsdiens, en word religieuse skeppingsmites gevorm. Dit is verkeerd om te dink dat religieuse skeppingsmites oor die lang tydskaal nie belangrik is nie. Die mites het en speel steeds ‘n definitiewe rol oor geskiedkundige tydperke. Die skeppingsmites in religieuse tradisies sluit baie meer in as net die Skepping van die Heelal en Mense soos byvoorbeeld verwoord in Genesis (en wat teenstrydig met moderne wetenskaplike bevindings is). Dit sluit ook die hele verhouding tussen Mens en Skepping en Skepper in. Dié skeppingsmite verduidelik aan die individu dat die oënskynlike ondergang van elke mens, wie se bestaan op korter tydskale uitgevee word, miskien tog êrens behoue bly of ‘n doel dien. As etniese mites en familiegeskiedenis oor korter tydskale ook hulle effekte op korter tydskale toon, dan werk die religieuse skeppingsmites oor tydskale wat duisende jare duur. Daarom is religie miskien die mees belangrike aspek in geskiedenis en in mense gemeenskappe. Na twee duisend jaar is Christene steeds met ons, en Moslems is al ‘n bepalende religie vir meer as ‘n duisend jaar. Boediste en Jode bestaan al vir duisende jare. Dit alles ten spyte van diverse geskiedkundige omstandighede waarin hierdie tradisies oor geslagte uitgeleef is. Religieuse skeppingsmites word dus baie effektief van geslag na geslag oorgedra. Meer effektief as tale, meer effektief as etnisiteit of kultuur, of as nasionaliteit, of as enige ander eienskap wat van geslag na geslag oorgedra word, en selfs meer effektief as genetiese faktore. Daar is ‘n (moderne) geneigheid in “gevorderde” gemeenskappe om die rol van skeppingsmites te ontken, of om dit as onbelangrik af te skryf. Die wil om te oorleef as ‘n individu, as ‘n etniese groep, as ‘n kultuur en as ‘n religie, is egter diep ineengeweef met die verskillende skeppingsmites soos hierbo uiteengesit. Die destruksie van ‘n skeppingsmite lei tot ontbinding en ondergang, soos individue na nuwe en ander mites soek om inhoud te gee aan hulle lewens. Die heelal is groot en sal vir nog triljoene jare bestaan. Dit is so groot dat kosmoloë ‘n taamlike eenvoudige wiskundige argument ontwikkel het wat “bewys” dat alles wat nou bestaan, weer sal bestaan, en weer sal gebeur in ‘n sinnelose herhaling en nabootsing van ons huidige omstandighede. Die emosionele gevolg van die insig is dat daar (wetenskaplik) geen sin in eksistensie is nie. Mense bestaan, of hulle het bestaan, of hulle gaan bestaan, en daar is geen manier om uit te vind of dit alles iets beteken nie. Miskien is dit hierdie leë realiteit wat in ons die drang vir skeppingsmites skep. Om mee af te sluit – ‘n skeppingsmite blyk sentraal tot die sielkundige konstruksie van mense te wees. Elke etniese groep, elke nasie, selfs families, het hulle mites, en die mites gee mening aan lewens, beïnvloed mense se besluite en drange, en maak sin van ‘n bestaan in ‘n baie groot en baie leë en skynbaar sinnelose heelal. Ek het ook nog nooit iemand ontmoet wat nie in ‘n skeppingsmite het nie. Elkeen behoort tot ‘n groep, elkeen het iets wat verhef word en mooi is, elkeen het ‘n storie om te vertel, en glo aan sy mite soos ‘n klip in ‘n rivier waaraan geklou kan word op die wilde tog deur die lewe. |