daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Die Franse beleef hul Soweto

Jongste nuus oor Franse onluste

___________________________________________________________

Dan Roodt

 

In my vorige rubriek het ek verwys na die uitsprake van die Franse skrywer, Jean Raspail, wat ingesien het dat die demografiese ineenstorting van Europa tot geweld sal lei soos wat die groeiende bevolkings vanuit Noord- en Wes-Afrika sy land gaan verower.

 

Die huidige nuus uit Frankryk is dat dié verowering reeds aan die gang is. Terloops, terwyl duisende motors, asook skole, klinieke en gimnasiums rondom Parys en op die platteland deur Arabiese en swart jeugdiges afgebrand word, handhaaf die Nasperskoerante en veral Beeld 'n vreemde stilte daaroor. Moet Afrikaners nie weet dat onluste van die Soweto-tipe hul tans in Frankryk afspeel nie?

 

Die bekende rubriekskrywer van die Britse Spectator en die Chicago Sun-Times, Mark Steyn, tref egter 'n parallel, nie met Soweto nie, maar met Poitiers in 732 n.C. In Oktober van daardie jaar het die Moslems reeds 1600 kilometer noord van Gibraltar ingedring, tot aan die oewer van die Loire en slegs 300 km van die poorte van Parys af. Iewers tussen Poitiers en Tours het die Moorse invalsmag onder leiding van generaal Abd al-Raman die Frankiese magte onder Karel ontmoet.

 

Anders as die ander Christelike weermagte in Europa wat een na die ander meegegee het, was die Franke onwrikbaar in hul weerstand. Abd al-Rama is gedood en die suidelike grens van Frankryk het ook die godsdiensgrens geword. Karel is "Martel", oftewel "die hamer" gedoop. Die slag van Poitiers soos dit later bekend geword het, was tesame met Thermopylae in 480 v.C. toe Leonidas se Gideonsbende die Perse gestuit het, een van die sleutelgebeurtenisse in die oorlewing van die Westers-Christelike beskawing.

 

Indien Karel Martel nie die Moslems by Poitiers verjaag het nie, sou ons Afrikaners waarskynlik almal elke Vrydag in die rigting van Mekka gekniel en Allah aangeroep het. Vandaar die belang van die huidige onluste in Frankryk, wat niks minder as 'n Moslemopstand teen 'n Westerse regering verteenwoordig nie.

 

Parys, die Stad van Lig, beklee 'n spesiale plek in ons Westerse kultuur. Saam met Rome en enkele ander Italiaanse stede, bevat dit van die mooiste argitektuur wat ons beskawing nog opgelewer het. Die Paryse Louvre met die Mona Lisa is sekerlik die beroemdste van alle kunsmuseums op aarde.

 

Juis daarom stuur tonele van brandstigting deur Arabiese jeugdiges in en rondom Parys 'n spesiale boodskap uit. Het die nuwe godsdiensoorlog tussen Moor en Christen begin?

 

Jare lank reeds waarsku behoudende intellektuele en kommentators teen die gevaar wat die groot Moslembevolking van vyf miljoen in Frankryk vir Europa inhou. Een rede waarom die Franse buitelandse beleid toenemend gekniehalter word - veral in verhouding tot Irak, maar ook teenoor Afrika - is omdat die Franse regering 'n opstand van sy eie immigrantebevolking vrees.

 

Oor die afgelope week is daar 4300 motors in Frankryk uitgebrand. Blanke Franse is goedsmoeds aangerand en ten minste een persoon het op die plek gesterf. Maar die "Franse intifada" soos dit ook al genoem is, het 'n seismiese trilling deur Europa gestuur wat oor die hele aardbol voelbaar gaan wees, ook in Suid-Afrika; en al ignoreer die Nasperskoerante die Franse krisis.

 

Want, soos Theodore Dalrymple in die City Journal onlangs oor die Londense bomme gesê het, "is die mooi droom van universele kulturele naasbestaan met die nagmerrie van permanente konflik vervang". Soos ek ook al op hierdie bladsy geargumenteer het, het die Afrikaner-establishment en by name F.W. de Klerk die Amerikaanse smeltkroesgedagte aangegryp op dieselfde tydstip as wat dit elders ter wêreld as 'n onhaalbare droom onder skoot begin kom het.

 

In die uitgebrande wrakke van Renaults en Citroëns wat daar dié week in die boulevards van Franse stede te siene was, moet ons ook die puin van die multikulturele samelewing bespeur. Dat Suid-Afrika in dieselfde week soortgelyke onluste, sy dit dan op 'n kleiner skaal, in Carletonville beleef het, toon aan ons watter universele verskynsel die verval van "universele kulturele naasbestaan" geword het.

 

Uiteraard is die Franse regering doodbang vir wat voorlê. Die Noord- en Wes-Afrikaanse jeugdiges is besig om die veiligheidsmagte te toets met stedelike guerilla-aanvalle. Hoe gaan president Chirac veertig jaar van lakse immigrasiebeleid wat deur sowel linkse as regse regerings gevoer is, omkeer? Selfs al word immigrasie geheel en al stopgesit, sal die immigrante se hoë geboortesyfer sorg dat hulle binne twee of drie dekades tien miljoen, oftewel een vyfde, van die Franse bevolking uitmaak.

 

Reeds bestaan daar 1400 munisipale gebiede in Frankryk wat effektiewelik onder Moslembeheer staan en waar die Franse polisie dit nie meer durf waag nie. Dele van die Franse grondgebied word dus reeds deur Islamitiese magte beset, met beheer deur Imams en jeugbendes wat dikwels blanke vroue en meisies verkrag om hulle te wys wie's baas. Daar bestaan selfs 'n spesiale sleng-term in Frankryk vir kollektiewe verkragtings deur jong Arabiere of swartes, tournantes, wat mens met "rondomtalies" sou kon vertaal. Gewoonlik ontvang sulke "rondomtalies" ligte, opgeskorte strawwe van die Franse howe.

 

'n Mens sou 'n parallel kon trek tussen Afrikaneroorgawe in Suid-Afrika en die situasie wat hom tans in Frankryk afspeel. Tipies van arrogante Westerlinge wat oorbewus is van die mag van hul goed georganiseerde staat teenoor grootliks ongewapende klipgooiers en brandstigters, is die Franse politici besig om mekaar in die rug te steek. Dis links teen regs, en selfs regs teen regs, want binne die regerende regs-liberale koalisie van Jacques Chirac woed 'n opvolgstryd.

 

Tot dusver lyk die minister van binnelandse sake, Nicolas Sarkozy, die beste geplaas om Chirac op te volg, maar omdat hy ook vir binnelandse veiligheid verantwoordelik is, ontvang hy tans die meeste kritiek oor die onluste. Die sosialistiese politici, asook die media, blameer Sarkozy vir die uitbreiding van die onluste omdat hy die brandstigters met die woord racaille, oftewel "gespuis", sou beledig het. Binne die regerende RPR self wag 'n hele horde aanspraakmakers op Chirac se troon wat graag die krisis sou wou gebruik om Sarkozy uit te knikker.

 

Terwyl Rome of liewer Parys brand, word daar viool gespeel en kleinlike politiekery bedryf. In die aanloop tot verlede week se onluste het die Franse pers begin om 'n buite-egtelike verhouding wat Sarkozy met 'n getroude vrou, Anne Fulda, sou hê, oop te krap.

 

Vir Afrikaners lyk die huidige gebeure in die heksagoon na déjà vu - om 'n gepaste Franse uitdrukking te gebruik. Getalsgewys staan die inheemse Franse nog redelik sterk, maar die proses waardeur hul land tans ondermyn word, herinner baie aan dié wat hom in Suid-Afrika oor die afgelope dekades afgespeel het.

 

Net soos wat die Afrikaners hulself vir die Soweto-onluste geblameer het, gaan daar reeds stemme - veral van linkse akademici - in Frankryk op wat die gedrag van die onlusmakers aan "uitsluiting" en "rassisme" toedig. Ná onluste deur swartes of Arabiere volg daar altyd blanke skuld. En natuurlik verstaan die swartes en Arabiere dit baie goed; vandaar die argeloosheid waarmee hulle motors, skole en winkelsentrums afbrand.

  

Boontoe