boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Die Franse kruitvat ontplof

___________________________________________________________

Lydia van Eeden

Die afgelope week is die Franse koerante vol foto's van uitgebrande motorwrakke, asblikke wat snags soos fakkels brand, afgebrande kleuterskole, restaurante, winkels en gemeenskapsentrums en selfs 'n vernietigde polisiestasie. Swaar gewapende polisiemanne is in daaglikse skermutselings met jong vandale betrokke.

Meeste van hierdie insidente het aan die buitewyke van Parys plaasgevind, in wat die Franse eufemisties des quartiers difficiles oftewel "moeilike buurte" noem. Hierdie area het 'n groot hoeveelheid Afrika-inwoners, waarvan duisende werkloos is en op staatstoelae oorleef.

Op 25 Oktober het die minister van binnelandse sake en die polisie, Nicolas Sarkozy, besoek afgelê in Argenteuil, net buite Parys. Tydens sy toespraak is hy deur jong leeglêers uitgejou en met voorwerpe gegooi. Later die dag het hy na hulle as racaille (gespuis) verwys. Twee dae daarna is die plaaslike burgemeester se motor aan die brand gesteek.

Op 27 Oktober het twee Afrika-jeugdiges genaamd Ziad en Bouna in Clichy-sous-Bois, nie ver van Argenteuil nie, aan 'n polisieklopjag probeer ontsnap en in 'n plaaslike kragstasie skuiling gesoek. Hulle is albei doodgeskok. Dieselfde dag nog het geweld in die woonbuurt uitgebreek. Jong immigrante het die polisie en Franse establishment vir die twee jeugdiges se dood verantwoordelik gehou. Gou het die geweld ook na omliggende buurte versprei. Daar is van 2 November af ook insidente in ander dele van Frankryk aangeteken. Kort voor dagbreek op 5 November is daar volgens die polisie reeds 'n totaal van 754 motors in Frankryk vernietig, waarvan 191 buite die Parys-omgewing verbrand is.

Die polisie sukkel om hierdie geweld doeltreffend te beheer. Hulle is verplig om koeëlvaste baadjies te dra, want in sekere buurte aangrensend aan Parys word hulle aankoms met geweervuur begroet. Hulle moet die woonbuurte versigtig betree, want meeste inwoners bly in hoë toringblokke. Jeugdiges bestook hulle met allerlei voorwerpe van bo. Hulle stadige optrede bring mee dat baie van die jong misdadigers ontvlug en relatief min arrestasies word gevolglik uitgevoer. Tot dusver is sowat 200 persone aangekeer, waarvan die helfte oor kriminele rekords beskik. Die vandale beweeg in klein groepies rond, wat die polisie verplig om dieselfde taktiek aan te wend. Polisielede is nie goed bekend met hierdie buurte nie, wat die taak verder bemoeilik. Dit is 'n algemeen bekende feit dat Franse polisie nie graag in hierdie areas kom nie, aangesien dit gevaarlik is en hulle blote teenwoordigheid as provokasie beskou word. Op Sondag 30 Oktober het hulle boonop 'n flater begaan deur per ongeluk traangas in die rigting van die moskee in Clichy-sous-Bois te gooi, wat die geweld verder laat opvlam het.

"Ons bevind onsself hier binne die domein van die irrasionele," het Xavier Lemoine, burgemeester van Montfermeil, Sondagaand opgemerk. Hy was besig om te kyk na die skade wat in sy buurt aangerig is. Montfermeil se splinternuwe polisiekantoor en al die amptelike voertuie is in 'n petrolbomaanval vernietig.

Daar word gereken dat Frankryk oor 751 sogenaamde "moeilike buurte" beskik. Sowat vyf miljoen mense bly hier, wat ongeveer 'n agste van die bevolking uitmaak. Mense bly in grys toringblokke, die werkloosheidsyfer word op 20% beraam in vergelyking met die nasionale gemiddeld van 10% en per capita inkomste is ongeveer 40% laer as die gemiddeld. Dit is heel moontlik dat daar meer as vyf miljoen immigrante (meesal Moslems) op Franse grondgebied is: vanweë die sensitiwiteit van die kwessie is niemand seker oor die presiese getalle nie. Sommige kenners meen dat daar tot soveel as tien miljoen immigrante kan wees. Hierdie groep se geboortesyfer is drie maal hoër as dié van die plaaslike bevolking, wat meebring dat die Moslembevolking teen 2050 waarskynlik die plaaslike inwoners in getalle kan oortref.

Volgens Francis Bailleau, 'n sosioloog, is dit interessant dat die patroon van geweld in die "moeilike buurte" sedert die tagtigerjare verander het. Toe wou jeugdiges bloot steel, maar nou word simbole van die establishment vernietig en verteenwoordigers van die bestaande orde aangeval.

Gedurende die nag van 2 November is die burgemeester van Rosny-sous-Bois en sy vrou deur vandale in hulle woonbuurt vasgekeer. Die jeugdiges het begin om hulle voertuig met staalpype te slaan en het 'n petrolbom in hulle rigting geslinger. Die egpaar was verplig om deur die brandende straatbarrikade te jaag om te ontsnap.

Die hantering van die krisis dui op die Franse regering se ongemaklikheid en afwesigheid van oplossings. Nicolas Sarkozy en die eerste minister Dominique de Villepin is albei presidensiële kandidate vir die 2007-verkiesing. Hulle persoonlike renons in mekaar bemoeilik die situasie verder. Sarkozy wil die klem laat val op ferm optrede teen die jong vandale, terwyl De Villepin glo dat meer gedoen moet word om die sosiale probleme van hierdie bevolkingsgroep aan te spreek. Albei politici het die afgelope week buitelandse reise gekanselleer om aan die onrus op die plaaslike front aandag te gee. President Jacques Chirac het verder op 2 November 'n beroep op mense gedoen om "kalm" te bly en het sy regering opdrag gegee om 'n plan van aksie vir die "moeilike buurte" voor te berei wat binne 'n maand aan hom voorgelê moet word.

Dit lyk tans na 'n saak van onmoontlikheid om die jong immigrante behoorlik in die Franse gemeenskap te integreer. Hulle kan in sekere opsigte as 'n verlore generasie beskou word, sonder behoorlike skoolopleiding, ambisie of vooruitsigte, vasgevang in ghetto's wat hulle tans besig is om in 'n oomblik van irrasionele woede te vernietig.

Boontoe