boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Nuwe ekonomiese politiek

ANC se versagting van regstellende aksie pas in die Bolsjewistiese patroon

___________________________________________________________

Joseph Secreve

Die hoofberig in die Rapport van 6 November lui: "Regstel-aksie vasgevat". Hierin word genoem dat vooraanstaande Suid-Afrikaners, selfs swaargewigte in die regering, pleit vir 'n versoepeling van regstellende aksie. Name wat hier genoem word is onder andere die eintste dr. Essop Pahad, Thabo se steun en toeverlaat, en die minister van onderwys me. Naledi Pandor.

Kort daarna word die motiewe vermeld, naamlik dat die regering onbillike rassediskriminasie in die werkplekke wil "uitroei" om te keer dat nie te veel gekwalifiseerde Suid-Afrikaners (lees: blankes) die land moet verlaat nie. Die feit dat die berig vermeld dat daar onbillike rassediskriminasie plaasvind - wat nou ewe skielik afgeskiet moet word - is 'n toegewing dat die regering onbillik was in sy oplegging van drakoniese rassewette. Nou eers, elf jaar na oorname is daar sprake van 'n soort praktykkode wat moontlik opgestel gaan word om regstellende aksie in goeie bane te lei. 'n Mens sou naïef kon argumenteer dat die regering in stryd met die grondwet gehandel het, maar dit is al so algemeen dat dit meer nuuswaardig sou wees indien die regering wel die gees van die grondwet sou uitleef.

Hierdie stap het tot positiewe reaksies gelei by 'n groot aantal Afrikaanse sakelui en akademici, en dit is uiteraard 'n verligting vir Suid-Afrika se ekonomie dat bekwame mense se kans op aanstellings moontlik verbeter gaan word. Daarmee verhoog die ANC eweneens sy geloofwaardigheid dat dit 'n "demokratiese" beweging is, asook natuurlik sy inkomstebasis weens produktiewer werkers, moet ons net gou byvoeg.

Dit laat 'n mens egter wel dink aan die rubriek wat prof. Hermann Giliomee in die Beeld van 30 Mei geskryf het, na aanleiding van Mbulelo Goniwe se uitlating aan Tony Leon, dat dit aan die ANC se ruimhartigheid te danke is dat sy party, die DA, nie onderworpe was aan 'n Nuremberg-verhoor en nou in die tronk sit en wegkwyn nie.

'n Mens raak sommer lus en sê: Baie dankie Oom Thabo dat u die blankes nie hééltemaal van die kaart wil afvee nie. U gulheid en gevoel vir demokrasie stel my baie gerus!

As ons die bestaan van die ANC wil begryp is 'n oorsig van Suid-Afrika se geskiedenis natuurlik essensieel. Maar as ons werklik die motor agter die ANC se ideologie wil verstaan, mag dit 'n beter idee wees om die geskiedenis van die Russiese Rewolusie te ontleed. Daar is te veel ooreenkomste om alles aan die toeval toe te skryf. Die Russe was moeg vir die voortslepende oorlog en armoede. Die Suid-Afrikaanse blankes kan van dieselfde spreek oor die oorlog in Angola. Die ekonomie was uitgehol en inflasie was hoog vanweë die konflikte wat die land moes afweer, en daar was voortdurende onsekerheid.

Om hierdie probleme op te los, het 'n groepie radikale moeilikheidmakers terreur onder die publiek gesaai en met mag en geweld mense oorgehaal om hul vryheidsideaal te omarm. In Rusland het dit ontaard in 'n burgeroorlog wat toe meer slagoffers geëis het as die Eerste Wêreldoorlog, en in Suid-Afrika het die "vryheid" heelwat meer barbarisme, dood en verderf gesaai as wat plaasgevind het tydens apartheid. In 'n poging om hul geloofwaardigheid te behou het die Bolsjewieke verdere maatreels geneem om aan die mag te bly, deur eerstens sagter op te tree sodat die ekonomie kon herstel, en daarna heelwat harder om die land te suiwer van regime-onvriendelike figure, wat weer miljoene lewens gekos het.

Een van die sagter maatreëls wat Lenin ingevoer het in 1921 was die Nuwe Ekonomiese Politiek (NEP). Hy het 'n groot mate van vryhandel en privaatbesit toegelaat in daardie stadium, juis om die ekonomie 'n kans te gee om te herstel. Voordat hierdie NEP van stapel gestuur was, het Rusland 'n radikale ekonomiese beleid nagestreef wat as Oorlogskommunisme bekend staan. Hierdie beleid het behels dat groter fabrieke, met name fabrieke wat vir oorlogsmateriaal kon sorg, genasionaliseer word en streng deur die staat gereguleer moes word. Die staat het soos 'n tipiese Kommunistiese staat alle vorme van produksie ingepalm en afwykendes en stakers swaar gestraf.

Die gevolg hiervan was 'n sterk afname in produksie. Mense het uit die stede na die platteland toe gevlug op soek na voedsel, en natuurlik om weg te kom vanuit Lenin se ystergreep. Orals het sporadiese stakings opgeduik waarvan die Kronstadt-opstand in 1921 Lenin laat wakker skrik het. Hoewel die Bolsjewieke uiteindelik die Kronstadt-opstand oorwin het, was dit 'n duidelike teken dat hy van sy radikale aksies moes afsien.

Met die daaropvolgende NEP kon die boere genoeg voedsel oorhou om 'n goeie oes te waarborg die volgende jaar, en produksie in die fabrieke het toegeneem tot op dieselfde vlak as net voor die Eerste Wêreldoorlog. Om die NEP te regverdig het Lenin gestel dat Rusland nog te "onbeskaafd" was vir sosialisme, maar hierdie stelling het vir verdeeldheid gesorg onder sy partygenote. Baie het die indruk gekry dat hul Kommunistiese ideaal deur die NEP verraai is, en het vir meer Kommunisme gepleit. In 1928 het Stalin finaal die NEP afgeskaf vanweë die graankrisis, aangesien boere hul graan verkoop het teen dubbel die prys wat die staat gevra het, wat die kommuniste se industrialiseringsplanne aan bande gelê het. Stalin het in 1928 begin om die landbou te kolletiviseer as deel van sy eerste Vyfjaarplan.

Historici is verdeeld oor die sukses van Stalin se kollektivisering van die landbou wat die NEP opgevolg het. Sommige beweer dat deur bloot meer belasting in te voer sou Stalin se industrialisasie ook voortgegaan het sonder die hongersnood wat kollektivisering veroorsaak het, terwyl ander beweer dat kollektivisering die industrialisasieproses juis versnel het, waarsonder hy nie die oorlog op Nazi Duitsland sou gewen het nie. Nieteenstaande het die kollektivisering vir 'n groot industriële oplewing in die stede gesorg soos onderskraag deur die "Pjatletka", oftewel die eerste Vyfjaar Plan, die uiterste hongersnood op die platteland ten spyt. Die Russiese landbousektor het origens selfs vandag nog nie herstel tot sy ou vlak van voor 1928 nie.

Hierdie maatreël van die ANC om regstellende aksie te versag lyk nogal baie soos die NEP, en met die huidige opgelaaide spanninge, veral op die platteland waar grondeise algemeen is, mag ons dieselfde uitkoms in die toekoms verwag. Die ANC is besig om die bevolking steeds meer te radikaliseer en in armoede te stort waardeur die weg vir 'n volgende rewolusie gebaan word. 'n Vriend van my het dit goed gestel deur na Suid-Afrika te verwys as 'n kapitalisties-gedrewe anargie.

As hierdie versoepeling van regstellende aksie 'n werklikheid word en Suid-Afrika se ekonomie begin die mas op te kom, sal dit ook ongetwyfeld tot verdeeldheid lei onder Thabo se Bolsjewistiese partygenote, om nie te praat van die teleurstelling van hul naïef-optimistiese kieserskorps nie. Te veel produksie sal op so 'n manier in die hande van blanke sakeliede val, waardeur die ANC mag voel dat hy sy doel verraai het. Met die sterker wordende ekonomie sal die ANC, ten einde sy geloofwaardigheid te behou, moet teruggryp na 'n soortgelyke radikale kollektivisering, oftewel regstellende aksie opskerp deur swartes aan te stel. Ekonomiese herstel is dus tydelik nodig om te sorg dat die staat die oppermagtige orgaan kan bly en geen kompetisie van blankes met hul vooruitstrewende nywerhede hoef te vrees nie.

Hoewel baie invloedryke Afrikaners optimisties is oor hierdie nuwe rigting wat die ANC beloof, is dit myns insiens belangrik om die NEP in gedagte te hou. Uiteindelik is die versagting van regstellende aksie bloot 'n enkele legkaart in die ANC se geduldige neo-Bolsjewistiese patroon wat hy bou. Deur die blankes te gebruik wil die ANC die ekonomie versterk sodat hy later meer skade kan aanrig aan diegene wat hom gevoed het. Onthou dat baie arm swartes se geduld nou begin opraak, en die Zimbabwe-opsie begin al hoe aantrekliker te lyk.

Boontoe