daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Padkaart na vryheid

___________________________________________________________

Dan Roodt

Ek is onlangs op die Praaggeselsforum gevra wat ons te doen staan om by vryheid vir Afrikaners uit te kom. Dis natuurlik die vraag wat Lenin op die vooraand van die Russiese revolusie gevra het: wat moet gedoen word? Toevallig het ek gister my boeke reggepak en toe spring Lenin se boek nogal in die Franse weergawe hier uit met die titel Que faire?

Ek het dit al voorheen gesê, maar toe ek vyf of ses jaar gelede betrokke geraak het by die stryd vir Afrikaans en alles wat daarop gevolg het, het ek die proses in verskillende fases sien gebeur:

1. Intellektuele fase (waar 'n stel idees ontwikkel word of herontdek word). 2. Ideologiese fase (waar idees in slagspreuke vertaal word en aan die volk gekommunikeer word). 3. Organisatoriese fase (waar die volk georganiseer en gemobiliseer word. 4. Politieke fase (waar politieke doelwitte nagestreef word). 5. 'n Oorwinning en bereiking van politieke mag (hopelik). 6. Konsolidasie en vernietiging van die vyand.

As mens nou kyk hoe die ANC/SAKP se stryd verloop het, dan het dit deur al hierdie fases gegaan en is hulle nou by fase 6. Dieselfde geld egter vir die Franse of Russiese revolusies of die Afrikaner-nasionalistiese beweging van die twintigste eeu.

Ons is nog iewers tussen fase een en twee, en begin met fase 3. Maar natuurlik moet ons 'n doelwit hê. Ek glo nie dat dit vir ons wenslik is om weer die hele Suid-Afrika te regeer nie, om verskeie redes. Ek noem egter net twee: 1) Die bevolking is nou 20 miljoen meer as toe PW Botha die land regeer het en om 50 miljoen mense te administreer, op te voed, ens., sal so 'n las op ons plaas dat ons nêrens sal kom nie. 2) Dit gaan internasionaal moeilik wees om te verdedig en sal aangeval word as "blanke suprematisme", "nuwe apartheid" en dergelike meer.

Daarom moet ons mik om slegs 'n gedeelte van die land te beheer, dog sonder om ons aansprake op die totale gebied af te sweer. Ek meen dat die gebied rondom Pretoria/ou Verwoerdburg die mees logiese sentrum vir so 'n Afrikanerstaat sal vorm aangesien daar reeds bykans 'n miljoen Afrikaners in en rondom daardie deel gekonsentreer is.

Natuurlik sal die ANC enige so 'n territoriale aanspraak met minagting verwerp. Trouens, anders as mnre. Ton Vosloo en Mof Terreblanche, sal ons nie eens 'n afspraak met 'n minister kry nie, wat nog te sê Mbeki. Dit is egter nie so belangrik nie, solank die gedagte van 'n eie staat en gebied samehangend beredeneer word, verkieslik in boekvorm, maar dit moet agterna op die internet beskikbaar wees, in Afrikaans, maar ook Engels en ander tale.

Hoe baken ons die gebied af, aangesien die ANC ons nie gaan toelaat om grensposte op te rig nie? Daar is twee maniere: deur middel van ons taal (Afrikaans) en deur simbole. Ons moet sorg dat soveel as moontlik van die openbare tekens in die gebied in Afrikaans opgerig word; ten minste moet daar geen tekens wees wat slegs in Engels verskyn nie en verkieslik eentalig-Afrikaanse tekens. Enigiemand wat die gebied binnegaan, sal dus onmiddellik ervaar dat hy die grens oorgesteek het. In Wes-Europa is daar lank nie meer grense tussen lande nie, maar as jy van Frankryk na Duitsland of na Italië beweeg, verander die openbare tekens en naamborde onmiddellik sodat jy besef dat jy nou in 'n ander land is.

Die tweede metode wat samehangend hiermee gebruik moet word, is simbole (asook die keersy: die aftakeling van simbole). Ek is ten gunste van die gebruik van die oranje-blanje-blou as 'n Afrikaner-simbool omdat dit uit 'n tyd kom toe Afrikaners min of meer binne een grondgebied verenig was (1928-1994). Maar as mense die vierkleur daarnaas wil gebruik, is dit ook goed. In die Noord-Transvaal is daar deesdae persone wat op strategiese plekke drie breë strepe verf met oranje, wit en blou om die vlag voor te stel. Hierdie praktyk behoort oral in ons voorgestelde gebied nageboots te word en natuurlik kan mense ook vlagpale by hul huise oprig ens. 'n Vlagpaal kos iets soos R700 en op jou erf kan jy die vlag van jou keuse hys.

Die ANC hou niks van die kleur oranje nie en nog minder in kombinasie met wit en blou. Die toenemende voorkoms van dié drie kleure binne ons gebied sal as provokasie dien en ly tot 'n vyandige houding van die staat teenoor die inwoners. Hierdeur word 'n onderskeid tussen die inwoners (Afrikaners) en die staat (Xhosas en hul meelopers) getref.

Sover as moontlik moet die huidige "Suid-Afrikaanse" vlag (onderbroekvlag wat byna op 'n haar soos dié van Vanuatu lyk) ook in ons gebied verbied word. Enige hotelle of ander besighede wat dit gebruik, se vlagpale moet gereeld van dié vlag gestroop word. Daar moet ook briewe by instansies afgelewer word om aan hulle duidelik te maak dat die ANC slegs tydelik oor ons gebied regeer en dat die gebruik van hul vlag aan die inwoners aanstoot gee.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het selfs kinders in besette lande die Duitsers se vlae, padtekens en ander simbole gesaboteer. Dit is letterlik kinderspeletjies en geen swaar strawwe kan aan enigiemand opgelê word omdat hy 'n vlag afhaal of 'n padteken verf, ens. nie.

Op die ideologiese vlak het ons natuurlik reeds, met die hulp van Nasionale Pers se koerante nogal, die taalstryd gewen en al wat oorbly is om Afrikaans te implementeer. Omdat die ANC reeds die openbare ruimte in die hele land verengels het, sal dit geensins beswaar kan maak teen 30 000 vk. km of so waar Afrikaans nou die amptelike taal word nie.

Selfs net die verafrikaansing van die gebied (trek van 'n taalgrens) en die aanbring van vlae en simbole gaan natuurlik 'n taamlike mate van organisasie, straat- en wykskomitees, ens. verg, maar dit berei ons voor op die volgende fase waar dinge 'n meer politieke kleur sal aanneem.

Die politieke doelwit sal 'n volkstaat en 'n outonome gebied soortgelyk aan Québec of Vlaandere wees, maar verkieslik 'n Tsjeggië wat vreedsaam afstig van 'n Slowakye en heeltemal onafhanklik word.

Internasionaal is daar letterlik tientalle voorbeelde van hierdie soort ding (die Suid-Tirool in Italië of die Hongaarssprekende dele van Roemenië byvoorbeeld) waar 'n minderheidsvolk hom deur taal en simbole van die groter gebied afgrens en uiteindelik vir alle praktiese doeleindes vryheid verkry.

Natuurlik gaan dit 'n dinamiese proses wees en stap vir stap gaan die regime reageer op wat ons doen, maar dit sal die eerste keer sedert 1994 wees dat ons proaktief optree en die ANC reaktief. Tot dusver het die Afrikaners net aanmekaar (en telkens te laat) gereageer op ANC-beleid wat oor hulle stoomroller, soos regstellende aksie, SEB, grondhervorming en - onteienings, taaldiskriminasie, verengelsing van universiteite en kolleges, ens. Die heel ergste scenario sou wees dat die ANC in so 'n groot mate geaffronteer word deur 'n taalgrens en die Prinsevlag dat burgeroorlog uitbreek. Selfs in die bloedige burgeroorloë toe die ou Joego-Slawië uitmekaar gespat het, het daar egter nie soveel mense omgekom soos in ons huidige misdaad nie, dus is selfs burgeroorlog beter as wat ons nou beleef. Net Saterdag is die eienaar van ons plaaslike SPAR koelbloedig doodgeskiet met 'n R4-geweer wat hoogs waarskynlik uit 'n Weermagkaserne gesteel is of selfs verkoop is.

Maar ek dink nie dat die ANC noodwendig met militêre geweld sal reageer nie. Nommer een het hy nie veel militêre vermoë nie en nommer twee sal dit die situasie net verder polariseer.

Sonder 'n eie grondgebied/volkstaat kan ek egter nie sien hoe ons oor selfs die medium termyn gaan oorleef nie en behoort ons liewer en masse te emigreer.

Dit gaan veel meer pret wees Afrikaans op 'n groot skaal te laat herleef en om die lamppale oranje, wit en blou te verf as om Australiese Engels in jou ore te hoor.

Tans lees ek 'n boek oor die Ossewabrandwag, "Vuurtjie in droë gras", wat ten regte of ten onregte as een van die mees radikale ondergrondse organisasies beskou word wat daar nog ooit onder Afrikaners was. Min mense besef waarskynlik dat die Ossebrandwag in 1938 as 'n kultuurorganisasie gestig is om oor die Afrikaanse taal en kultuur te waak. Op sy hoogtepunt was die OB 'n reuse organisasie met iets soos 500 000 lede waarvan die meeste in semi-ondergrondse selle georganiseer was. Volgens Hermann Giliomee was daar in 1936 meer een miljoen Afrikaners, wat beteken dat die helfte van die hele volk aan die OB behoort het!

Om onafhanklikheid in 'n eie gebied te verkry, gaan myns insiens nie eens 'n Ossebrandwag verg nie. Selfs 'n duisend mense wat konstant daarvoor agiteer sou dit kon regkry. Soos soveel kere in die geskiedenis, sal die breë massa Afrikaners die stroom volg, waarheen hy ook al heen lei. Terwyl Naspers vandag ANC-propaganda skryf, sal hulle waarskynlik oor vyf jaar volkstaatpropaganda skryf om hul koerante in die nuwe staat verkoop te kry.

Die grootste enkele probleem is om die traagheid en moedeloosheid van die intellektuele voorhoede te oorkom. Die res sal agterna byna vanself gebeur. Ons moet onthou dat ons, anders as die Baske, Iere van Noord-Ierland, ens., nie stry teen 'n georganiseerde Westerse staat met 'n eie ryk en aantreklike simboliek nie, maar teen 'n Afrikastaat wat self identiteitsonseker daar uitsien en slegs met moeite sy eie eenheid in 'n tyd van vrede, ekonomiese voorspoed en sonder enige opposisie handhaaf. Daar heers geweldige etniese spanning in die ANC en die geringste druk van buite af sal skeuring in die party veroorsaak, soos nou reeds met die Zuma-sage aan't gebeur is.

Of Suid-Afrika die wegbreek van 'n Afrikanerstaat sal oorleef, is 'n ope vraag. Maar laat ons nie te veel daaroor bekommer nie, maar eerder op die onmiddellike probleem fokus, en dit is die identifisering van 'n geskikte Afrikanergebied, iets wat eintlik al grotendeels gedoen is. Daarna sit ons die taalstryd in sy meer territoriale vorm voort. En natuurlik moet ons die strate oranje begin verf, soos wat reeds hier en daar in die Noord-Transvaal gebeur.

Deur sy uitdagende optrede met naamsveranderings en taaldiskriminasie skep die ANC die ideale omstandighede vir die soort aksies wat ons in gedagte het. Op 'n manier werk Thabo Mbeki vir ons.

Boontoe