boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Eensydige verklarings vir Franse onluste

___________________________________________________________

Karin Roodt

Die afgelope paar weke het brandende motors in verskeie groot stede in Europa, soos Parys, Berlyn, Brussel en Amsterdam, waar immigrantebevolkings woon nie net op die voorblaaie van die bekendste koerante gepryk nie, maar ook CNN, BBC en die alfabetnetwerke in die VSA se hoofnuus gehaal. Die boodskap was heel duidelik: Die Moslemjeug is ontevrede!

Godsdiensspanninge elders is, voordat skermutselinge tussen die Franse polisie en "jeudiges" (die eufemisme vir swart en Arabiese immigrante-kinders) in Clichy-sous-Bois noord van Parys uitgebreek het, aan die VSA se deelname aan die oorlog in Irak toegeskryf. Die ironie is egter dat die Franse juis haaks was met hul Amerikaanse eweknieë en nie net die inval skerp veroordeel het nie, maar ook geen troepe gestuur het om die Koalisiemagte te ondersteun nie. Redes vir die ontevredenheid lê dus kennelik elders.

Danksy die Franse minister van Binnelandse Sake se opmerking nadat hy die betrokke onlusgebiede besoek het, dat die onrusmakers "racaille", dws "gespuis", is, kon die Moslemjeugdiges uiteindelik 'n verklaring vir hul optrede verstrek. Dit was hierdie keer nie die Irak-oorlog nie, maar 'n snobistiese uitlating deur 'n minister van Joodse afkoms wat die spreekwoordelike vlam in die kruitvat was. Dat die onluste eers uitgebreek het en die minister daarna kommentaar gelewer het, kon die beswaardes min skeel.

Terwyl elke sosioloog, maatskaplike werker en kommentator dus in die openbaar bespiegel oor die Franse staat se rol in die ontevredenheid onder hul jong burgers en immigrante, raak 'n mens bewus van die feit dat die jeudiges se buitensporige gedrag nie aan dieselfde noukeurige nabetragting onderwerp word nie. Trouens, die ontevrede jeudiges se credo soos dit deur die media vertolk word, naamlik 'n vraag na beter skole, beter dienste, groter staatswoonstelle en meer vryetydsgeriewe word byna uitsluitlik deur Franse amptenare en politici verwoord.

Dog Clichy-sous-Bois, waar die onluste begin het, het vir minstens 25 jaar 'n linkse stadsraad gehad, soos die meeste stadsrade waar immigrante woon. En gedurende daardie tyd is reeds reuse somme geld op immigrante verkwis. Claude Dilain, die sosialistiese burgemeester asook vise-president van die Franse Vereniging vir Munisipale Owerhede, het in sy ampstyd in Clichy-sous-Bois gratis sokkerafrigting vir die "jeug" beskikbaar gestel, 'n skare "jeugonderhandelaars" op staatsonkoste aangestel en die woonbuurt het die beste afvalherwinningsprogram in Frankryk gehad. Die munisipale biblioteek het selfs onlangs 'n skryfkompetisie aangekondig met die opdrag: "Ek kom van ver, ek is lief vir my land"...

Die mees onlangse uitsprake van mnr. Jean-Claude Dassier van die grooste TV-kanaal in Frankryk, TF1, by 'n NewsXchange-konferensie in Amsterdam, lig die sluier so effens oor die styl van nuusdekking wat die onluste tot dusver geniet het. Dassier meen dat nuus van brandende motors en eerlike griewe 'n regse politieke agenda dien en daarom nie "te veel" aandag van joernaliste op die toneel moet geniet nie. Die tweede en derde openbare TV-kanale in Frankryk volg tans in TF1 se voetspore en berig oor geen getalle van brandstigting nie.

Die idee is dat die oproerige bendes deur 'n gebrek aan publisiteit ontmoedig sal raak en hul vandalisme sal staak. Die probleem is egter dat die skade, behalwe die etlike miljoene euro's aan verbrande openbare vervoermiddels en instellings, lankal nie meer mense ontsien nie. Aanvalle op blanke Franse burgers het egter skaars die nuus gehaal en indien wel is dit so versigtig moontlik gedoen om nie ras by die voorvalle te betrek nie.

Die geval waar 'n wit baba van 13 maande deur 'n busvenster met 'n projektiel teen die koppie getref is, is net skrams genoem. Die kind moes na 'n hospitaal gebring word. In 'n ander voorval het 'n wit vrou in 'n rolstoel ernstige brandwonde opgedoen toe 'n munisipale bus aan die brand gesteek is deur jong swartes en Arabiere. Die sosialistiese burgemeester van Noisy-le-Grand het melding gemaak van motoriste wat vir hul lewens gevrees het toe klipgooiers op hul toegesak en hulle aan die hare uit hul motors gepluk het.

In 'n onderhoud met jong swart en Arabiese meisies in die koerant Libération van 11 November 2005 het hulle openlik verklaar dat hulle nie sal omgee om die wit welvarende woonbuurtes in vlamme te sien opgaan nie en was hulle dit heeltemal eens dat die brandskade aan kleuterskole - van hulle is self jong moeders - tog net nuwe toerusting en mooi meubels vir die skool kan beteken.

Hoewel die jeugdiges se godsdiensverband dikwels genoem word, is dit minder bekend dat die meeste oproeriges in die noordelike voorstede van Parys nie Arabiere is nie, maar swartes. Noisy-le-Grand, Aulnay, La Courneuve is almal woongebiede waar swartes in die meerderheid is. In hierdie heel armste dele is die gemiddelde aantal kinders per vrou tussen 5 en 6 en bestaan die gemiddelde poligame gesin, waarvan daar 12 000 in Frankryk is, uit ongeveer 12 lede. Dit sluit natuurlik nie onwettige immigrante in nie.

Wat die swartes betref het 6% tussen die ouderdom van 18 en 24 jaar verlede jaar in 'n ondersoek wat deur Cevipof gedoen is, aangedui dat hulle bereid sou wees om tot geweld oor te gaan om doelwitte te bereik teenoor 'n nasionale deursnee van net 2% wat hulself daartoe wou verbind. Ouersorg is feitlik afwesig in alle gevalle en swart kinders word aan hul eie lot oorgelaat. Die polisiekommissaris van Saint-Denis het bevestig dat die doen en late van swart bendes reeds welbekend aan die gereg is en dat sulke kinders op die ouderdom van tussen 12 en 13 begin steel om hul plek in 'n bende te bekom.

Soos 'n jong meisie, vermoedelik swart, uit die berugste woongebied Bosquet, dit in Libération stel: "Ek het die skool op 14 verlaat. Almal verlaat skool hier vroeg. Ons ouers het nie geld nie en ons wil geld verdien. Veral as ons ouens sien wat klere koop en uitgaan." Sy gesels in 'n slengtaal, eie aan immigrantewoonbuurte, wat sy beskryf as "racaille". Dit is natuurlik dieselfde woord wat Sarkozy gebruik het om die opstokers mee te beskryf. Sy is onbewus van die ironie, maar weet dat die sosiolek wat sy besig 'n versperring  na 'n lewe sonder staatstoelae en -behuising verteenwoordig. Haar houding is egter een van: laat die res maar plek maak vir "racaille".

Nog 'n jong meisie, by name Sahra, 24 jaar oud, val die ander tydens die onderhoud in die rede. "Ek het my klein niggie belowe ek sal betaal om haar na 'n privaatskool te stuur. Hulle is 26 in die klas." Op die oog af nie besonder baie kinders nie, maar dan moet 'n mens in gedagte hou dat net 3 in die hele klas Frans magtig is. Die krimpende aantal dokters en tandartse in die woonbuurt kla dat hulle dikwels ipv mediese sorg, vir ander dienste soos vertalings en munisipale rekeninge of enige burokratiese probleem van hul pasiënte moet instaan. Vir al die jong immigrante in die hoë-digtheid- en lae-koste behuising hou Engels 'n spesiale bekoring in. "Op ander plekke leer hulle Engels" voeg Sahra verlangend in haar sleng by.

Sahra dink  waarskynlik nie aan Shakespeare of Saul Bellow se Engels nie. In 2004 het Sarkozy tevergeefs probeer om ene Sniper, rap-sanger wat die swart Amerikaanse styl van rampokker rappers ten seerste nastreef, te dagvaar vir aanhitsing. Sniper praat-sing as volg: "Ons is almal warm op 'n missie om die regering en fasciste uit te wis...Ons f*k Frankryk...Arabiere en swartes in die Elysée Paleis. Dinge moet ontplof." Vir sy moeite is Sniper deur die grootste Franse musiekkettingwinkel FNAC, as 'n "openbaring" beskryf. Die Washington Post verwys heel gepas daarna as die boodskap van die "ghetto jihad".

Nader tuis het Naspers ook probeer om so min as moontlik, en grootliks geen, nuus oor die onluste in Europa en veral Frankryk te plaas nie. Nietemin het daar wel 'n in-diepte berig in Beeld verskyn waarin al die kommentare eintlik die geweld deur "jeudiges" in Frankryk regverdig. Opvallend in die besondere berig was die verkeerde vertaling vir les banlieues, wat doodgewoon "voorstad" beteken. In die Beeld-berig is dit opsetlik as "krotwoonbuurt" vertaal in 'n poging om die rasse-ressentiment wat reeds so oorvloedig in Suid-Afrika gedy op die Franse situasie van toepassing te maak.

Die koerant het daarmee, ten spyte van die skrale nuusdekking, hulself eensydig aan die kant van die oproermakers geskaar. Indien 'n mens in gedagte hou dat dit nie nodig is vir 'n nuusgroep in SA om die maatskaplike spanninge en politieke onderstrominge in 'n ander land te dien nie, is dit verbasend. In Suid-Afrika self is daar op die oomblik brandstigters wat, as hulle nie treine in ligte laaie laat nie, munisipale geboue teiken.

Boontoe