boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Afrikaanse universiteite... is daar nog so iets?

___________________________________________________________

Buks van Rensburg

Die Burger het onlangs kommentaar, wat ek as opbouend beskou, oor die taalsituasie aan die Universiteit van Stellenbosch gelewer (DB, 14 November 2005). Die artikel maak twee positiewe voorstelle:

1) Reik uit na Afrikaansprekende swart en bruin skoliere as 'n mark vir die universiteit. Met ander woorde, bemark die universiteit as 'n normale bestemming in die nie-wit Afrikaanssprekende gemeenskap in die Wes-Kaap.

Die voorstel kan seker verwelkom word. Die belangrike onderliggende punt wat ondersoek moet word, is of daar wel 'n mark vir Stellenbosch in dié gemeenskap bestaan. Dekade-lange indoktrinasie van anderskleurige Afrikaanssprekers oor Afrikaners (Afrikaners is Nazi's, Afrikaners se taal is provinsiaal, en dies meer) het baie nie-wit Afrikaanssprekendes van hulle eie taal vervreem. Ek sou nie verbaas wees as die gemeenskap Engels bo Afrikaans as onderrigtaal sou verkies nie. Dit is waarom die voormalige Afrikaans-medium Universiteit van die Wes-Kaap, wat die gemeenskap bedien het, sonder slag Engels as voertaal aangeneem het.

'n Tweede faktor wat die voorstel bemoeilik is dat werksgeleenthede in Afrikaans, veral in die staatsektor, maar ook wyd in die sakewêreld, brutaal deur die ANC ondermyn is deur die toepassing van beide propaganda (ons wil nie "Afrikak" hê nie), en deur die toepassing van SEB en regstellende aksie. Dus, Afrikaanstalige studente in die nie-wit gemeenskappe word deur ekonomiese faktore oortuig dat dit beter is om in Engels opgelei te word.

2) Die tweede voorstel deur Die Burger is om anderstalige studente wat aan die US wil studeer voor te berei deur kursusse in Afrikaans aan hulle te bied om taalvaardigheid in Afrikaans te ontwikkel.

Die tweede voorstel is die gebruik in res van die wêreld. As iemand in Duitsland of Italië wil studeer, maar dié tale nie magtig is nie, dan word daar van die voornemende student verwag om taalvaardigheid aan te leer. Kursusse is beskikbaar, en sulke studente word aangeraai om gou taalvaardighede in Duits of Italiaans, of wat ook al, te verkry. Engelse universiteite, in teenstelling, stel baie hoër eise aan voornemende studente. Dikwels word taalvaardigheid in Engels net aanvaar (en die student swem of verdrink), en is die student self daarop aangewese om in Engels taalvaardig te raak.

Dit is tekenend van Afrikaners se dekadensie dat hulle reeds hele instellings, soos byvoorbeeld The University of Pretoria (and it may soon be called Tswane University), The North-West University, Johannesburg University, en dies meer, opgeoffer het om anderstaliges te akkommodeer. Dus, eerder as om anderstalige studente vir 'n Afrikaanse universiteit voor te berei, het The University of Pretoria byvoorbeeld onder die leiding van Calie Pistorius die Universiteit voorberei deur Afrikaans in voorgraadse kursusse af te skaal. Dié taal het bykans in professionele fakulteite verdwyn, en is vinnig besig om in basiese voorgraadse kursusse uitgefasseer te word. Op dié stadium lyk dit asof The University of Pretoria Afrikaanse studente nog net-net verdra (hulle is te bly om die studente se geld te ontvang, maar is nie geneë om studente wat op Afrikaans aandring op kampus te sien nie).

Terwyl Die Burger nou voorgee dat hulle te bly is met die meer positiewe ontwikkelinge in Stellenbosch jeens Afrikaans, is die optimisme miskien te vroeg: Professore wat Engels op dié kampus bevorder (Anton van Niekerk, Amanda Gouws, Fanie Cloete, ....) sal hulle propagandastryd voortsit, en die huidige debat is nog nie afgehandel nie. Koerante soos Die Burger bemagtig diesulkes ook deur baie sentimeter kolomspasie aan hulle drogredenasies af te staan, en kyk maar, dit sal voortduur. Die hele debat sal oor 'n jaar of twee herhaal word, en miskien sal die resultaat dan anders lyk.

Tweedens is daar die ANC. Die ANC sal die Universiteit van Stellenbosch waarskynlik finansieel straf as die universiteit nie gou genoeg na hulle sin verengels nie (meertaligheid is 'n eufemisme vir die proses). Die Universiteit is dus steeds aan die genade van die ANC uitgelewer. Derdens is daar globalisering, en 'n Afrikaanse jeug wat skynbaar deur die ANC se skole 'n anti-Afrikaner en anti-Afrikaanse houding as normaal aanvaar en ervaar, en dus soms op Engels as onderrigmedium aandring.

Derhalwe is die proses van verengelsing op Stellenbosch net tydelik van die spoor af. Dit sal weldra weer voortgesit word. Miskien is die protes teen Stellenbosch en Chris Brink ietwat onregverdig. Sy kollega, Calie Pistorius, is toegelaat om die ander groot Afrikaanse universiteit (Pretoria) te verengels, sonder slag of stoot, en sonder om soos Chris Brink in vuur gedoop te word. Theuns Eloff van The North-West University (voorheen die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys) is ook besig om agteroor te buig om anderstaliges deur 'n tolkdiens in klasse te akkomodeer. 'n Tolkdiens by die universiteit se eie raadsvergaderings het egter ondoeltreffend geblyk, in dié sin dat sulke raadsvergaderings reeds op aandrang van anderstaliges in Engels plaasvind. Sodra 'n kritieke massa anderstaliges op die kampus bereik is, is dit waarskynlik dat hulle die tolkdiens die rug sal keer en insgelyks op Engels sal aandring.

Terwyl daar steeds 'n sekere mate van Afrikaanse tersiêre onderwys beskikbaar is aan sommige van die voormalige Afrikaanse universiteite, is alle tekens daar dat die volgende dekade die laaste dekade van staatsondersteunde onderwys in Afrikaans mag wees. Daarna sal 'n universiteit of kollege privaat moet wees om enigsins in Afrikaans onderrig te gee, en dit sal baie miljoene rande kos om so 'n instelling op te rig en aan die gang te hou. Die beste begin vir so 'n instelling kon wees deur heel eerste 'n private Afrikaanse landboukollege te stig.

Boontoe