daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Nuwe Suid-Afrika mag dinosourus wees

Soos die Volksrepubliek van Mosambiek wat op die vooraand van die kommunisme se afgang gestig is, mag die nuwe Suid-Afrika die laaste van 'n sterwende tipe staat wees en nie die eerste van 'n nuwe multikulturele spesie nie.

______________________________________________________________________

Dan Roodt

 

Ten minste is die Suid-Afrikaanse media stadig besig om kennis te neem van die Franse Soweto waaroor ek verlede week berig het. Ivor Chipkin in die Mail & Guardian van 11 November bespeur tereg 'n bedreiging vir die nuwe Suid-Afrika en as "nuwe patriot" klou hy vas aan "die Suid-Afrikaanse revolusie as 'n wêreld-historiese gebeurtenis". Die vraag is nou of dié revolusie die eerste of die laaste van 'n reeks was.

 

Suid-Afrika het, afgesien miskien van baie diep mynbou, ons uraanverrykingsproses, Sasol en Chris Barnard, nie eintlik enige intellektuele bydrae tot die wêreld gelewer nie. (Ek laat vir die oomblik Smuts se begrip van "holisme" wat 'n oorspronklike filosofiese en wetenskaplike idee was, buite rekening.) In wese was die nuwe Suid-Afrika 'n sestigerjare-eksperiment in die VSA wat tydens die negentigerjare by ons ingevoer is, 'n bietjie soos 'n Chevrolet of Studebaker met groot stertvinne wat met vaartbelynde aërodinamiese modelle op die pad kom meeding.

 

Terwyl Joegoslawië en die Sowjetunie besig was om te disintegreer, met Vlaandere en Québec wat selfregering van onderskeidelik België en Kanada ontvang het, het Suid-Afrika teen die internasionale neiging ingegaan deur 'n sentralistiese eenheidstaat te verkies met die smeltkroes en regstellende aksie as vernaamste ideale. Trouens, die teksboek vir ons samelewing is eintlik Gunnar Myrdal se werk uit 1944, An American Dilemma: The Negro Problem and Modern Democracy.

 

Vir Myrdal, 'n Sweed wat self in 'n homogene samelewing grootgeword het, kon Amerika se rasseprobleme soos volg opgesom word: "Blanke vooroordeel en diskriminasie hou die Neger onder sover dit sy lewenstandaard, asook sy opvoeding, maniere en morele beginsels betref. Dit ondersteun op sy beurt blanke vooroordeel. Blanke vooroordeel en Neger-standaarde staan dus in dié verhouding: die een veroorsaak die ander."

 

Soos Karl Marx het Myrdal heelwat geloof in die sosiale wetenskappe en hul vermoë om die maatskappy te omvorm, gehad: "Baie dinge wat vir 'n lang tyd 'n saak van individuele aanpassing was, gaan meer en meer deur politieke besluitneming en openbare regulering bepaal word... Die sosiogeniëring van die toekoms sal niks anders behels as die afleiding van praktiese gevolgtrekkings uit die leer van die sosiale wetenskap nie, naamlik dat die 'menslike natuur' veranderbaar is en dat menslike tekortkominge en ongelukkigheid in 'n hoë mate voorkombaar is."

 

Dus kon etniese, rasse- en kultuurkonflik deur opvoeding (of heropvoeding) voorkom word. Die Franse model van "integrasie" wat letterlik oor die afgelope paar weke in die spervuur beland het ná die wydverspreide brandstigting in immigrantevoorstede wat as banlieues bekend staan, was net effens verskillend in dié opsig dat dit aangeneem het dat die Franse staat magtig genoeg was om Moslemimmigrante te kon herprogrammeer om Franse waardes te aanvaar. Die Franse skoolstelsel moes die grootliks sekulêre waardes van die Franse staat wat deur die revolusionêre spreuk, "vryheid, gelykheid, broederskap" opgesom word, by immigrantekinders inskerp.

 

Kennelik het dit nie gebeur nie. Trouens, sommige jeugdiges het dit prontuit gestel dat hulle skole afbrand aangesien sulke instellings met hul oordrewe klem op punte, eksamens, asook die praat en skryf van goeie Frans, vir hulle plekke van vernedering verteenwoordig. Die jong immigrante het daarom universele Franse burgerskap verwerp ten gunste van hul eie partikuliere identiteit wat grootliks buite dié van Frankryk val en selfs in konflik  met die Franse identiteit verkeer.

 

Die eerste reaksie van die Franse owerheid was tot dusver om na le modèle anglo-saxon te begin kyk, met sy kunsmatige rasse- en etniese verteenwoordiging deur regstellende aksie en kwotas in films en TV-programme as 'n moontlike manier om die sogenaamde "gebrek aan integrasie" in Frankryk die hoof te bied. Hul oogmerk is nie meer integrasie nie, maar eenvoudig om verdere onluste te verhoed. Nicolas Sarkozy, die minister van binnelandse sake wat onder kwaai druk verkeer en Frankryk se volgende president mag word, is ten gunste van die uitsetting van onlusmakers, maar ook van een of ander vorm van regstellende aksie om opstandige jong immigrante te paai.

 

'n Mens hoef nie 'n postmodernis te wees om te besef dat die "universele burger" van die Franse revolusie 'n fiksie is nie. In ons toenemend globale omgewing praat mense verskillende tale, het hulle verskillende godsdienste en hang hulle dikwels botsende waardes en ideale aan.

 

Dit is soveel te meer die geval in Suid-Afrika, 'n radikaal heteorogene maatskappy met elf amptelike tale en ten minste net soveel etniese groepe wat ongemaklik dieselfde grondgebied moet deel wat deur 'n politieke ooreenkoms na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog aan hulle nagelaat is. Toenemend gebruik ons nie meer dieselfde name om na stede of dorpe te verwys nie en heers daar 'n soort kulturele koue oorlog tussen die owerheid en vele van sy burgers, soos gesien kan word in die kloof tussen die Tshwane-metropolitaanse raad en die inwoners van Pretoria. Verlede naweek het 10 000 Pretorianers die 150ste verjaardag van hul stad gevier sonder 'n sent van die stadsraad of die teenwoordigheid van 'n enkele munisipale amptenaar by die vieringe.

 

Met 'n Galliese sin vir wiskundige noukeurigheid is daaglikse syfers oor uitgebrande motors oor die afgelope paar weke in Frankryk gepubliseer. Met die aantal uitgebrande treinwaens in ons land gedurende dieselfe tyd, asook die stygende mate van ontevredenheid onder Afrikaners (in 'n onlangse TV-opname het 92% van 11 000 kykers "ja" gestem op die vraag of Afrikaners uit hul land vedryf word), is die Suid-Afrikaanse eksperiment in universele burgerskap kwalik 'n dawerende sukses.

 

Soos die Volksrepubliek van Mosambiek wat op die vooraand van die kommunisme se afgang gestig is, mag die nuwe Suid-Afrika die laaste van 'n sterwende tipe staat wees en nie die eerste van 'n nuwe multikulturele spesie soos wat Chipkin hoop nie. 'n Gemeenplaas soos die "reënboognasie" gaan ons nie van die stuwinge van die wêreldgeskiedenis red nie, stuwinge wat ons op ons eienaardige koloniale manier desnoods sal moet herhaal nie.

Boontoe