| boekwinkel |
|
|
|
Skepping en herkoms (deel 2)
___________________________________________________________
In Deel I van dié rubriek (wat hier gelees kan word) het ek kortliks verduidelik waarom idees rondom skepping en herkoms so 'n belangrike rol in die vorming van selfbegrip en bewussyn in mense speel. Wanneer 'n individu sy geheue korreleer met sy herkoms uit 'n betrokke familie, 'n etniese groep, en 'n godsdienstradisie is die selfpersepsies wat daaruit ontstaan skynbaar krities in die stabilisering van 'n individu se identiteit. Geheue en geskiedenis is egter baie onseker. 'n Mens kan geheue vergelyk met 'n teleskoop wat die Hede glashelder vergroot, maar wat meer en meer uit fokus raak hoe verder dit in die Verlede kyk. Terwyl ons die Toekoms nie in berekening kan bring nie en dus nie kan "onthou" nie, het dit tog in 'n sekere sin dieselfde kwaliteit as die Verlede, net in 'n erger graad. Waar die onmiddelike toekoms met redelike sekerheid voorspel kan word (byvoorbeeld, "ek sal vannag in 'n bed slaap"), word dit baie vinnig onseker hoe verder in die toekoms gekyk word. Die glashelder persepsies van die Hede is ook verbind met bewussyn, maar selfs die persoonlike ervaringe van 'n mens vervaag soos wat die gang van Tyd dit in die verlede terugdruk. Omdat skepping en herkoms, en die interaksie hiervan met geheue en idenditeit, so 'n kritiese rol in die selfbegrip van mense speel, vorm mense sekere skeppingsmites om hulle identiteit en herkoms te stabiliseer. Dié mites kan somtyd baie akkuraat op historiese feite gebasseer word, maar is ook soms herinterpretasies van historiese feite. Skeppingsmites kan ook onverifieerbaar wees in die sin dat dit nie meer moontlik is dit met feite te korrelleer nie. Skeppingsmites speel ook 'n rol oor verskeie tydskale. Ten eerste werk dit oor 'n tydperk gemeet in generasies, en mense orïenteer hulle identiteit in dié opsig teenoor hulle onmiddelike voor- en nasate. Die sentrale punt is dat geheue en herinnering van voorsate vinnig degenereer. Na twee of drie geslagte is daar net vae bewys en geheue dat iemand wel 'n leeftyd geleef het, en na vier of vyf geslagte vervaag selfs dit. Individue ken ook net hulle nasate vir meestal twee, of miskien drie, geslagte in die toekoms. En tog posisioneer en stabiliseer mense hulle identiteit baie sterk teenoor hulle onmiddelike familie in die sin dat daar 'n illusie is van 'n kontinue aanpassing van 'n familie van een geslag na die volgende. Wyer as generasies, en oor tydskale gemeet in eeue, orïenteer mense hulle ten opsigte van hulle taal en kultuur, en ook ten opsigte van die geskiedenis en herkoms van hulle etniese groep. Op die tydskale kom en vergaan tale, word etniese groepe gevorm, en ontbind hulle. Individuele lede van etniese groepe vind sielkundige stabiliteit en self-affirmasie in die kultuur en geskiedenis van hulle groep. Selfbeeld in mense is dikwels sterk verbonde aan 'n positiewe siening oor die geskiedenis en kultuur van sy groep. Die effek van die mites van 'n etniese groep of 'n nasie op 'n individu moet nie onderskat word nie. Volksmites kan mense aanspoor om gewillig hulle lewens te waag in diens van hulle etniese groep, of om poësie en kuns van uitstaande gehalte te skep. Dit bou ook die sosiale kapitaal waarop ekomiese vooruitgang van die etniese groep rus. Die affirmasie en die verwysingsraamwerk wat internalisasie van volksmites op volkslede het kan 'n positiewe en skeppende selfbeeld in mense vorm, en ook lojaliteit in groepslede bou. Die onderdanigheid van 'n individu aan die groter belange van sy etniese groep kan dramaties wees, en is soms die dryfkrag agter geskiedkundige gebeure en ontwikkelinge. En selfs in sodanige geval gaan etniese groepe onvermydelik onder. Dié feit was reeds bekend aan Machiavelli, wat opgemerk het dat Spartane die rekord hou vir oorlewing. Spartane het, min of meer onveranderd, sewe honderd jaar bestaan as 'n etniese of bevolkingsgroep. Hulle etniese mites en gemene doelwitte het hulle identiteit gestabiliseer en het kohesie verskaf wat hulle karakter en ekonomie bestendig het, en wat hulle help oorleef het in 'n baie onveilige omgewing. Die derde, en langste tydskaal, waaraan mense hulleself verbind, is die tydskaal waaroor godsdiens werk. Dié skaal word in duisende tot tien-duisende jare (of honderde tot duisende generasies) gemeet. Dit is al dikwels opgemerk dat etniese groepe en tale kom en gaan, maar dat 'n suksesvolle religieuse dogma min of meer onverandered oor duisende jare suksesvol van geslag na geslag oorgedra word. Selfidentiteit en bewussyn is dan ook afhanklik van godsdiens, en in die opsig is godsdiens die langsdurige en mees bestendigende faktor waarmee mense se selfbegrip, identiteit en bewussyn gevorm word. Daar is menslik gesproke geen langer tydskaal nie, en dit is intellektueel onmoontlik om identeit te koppel aan gebeure tienduisende of honderd-duisend jaar gelede. Die tydskale is eenvouding so lank dat mense, selfs in die godsdienstige tradisie, se selfbeeld en identiteit nie afhang van gebeure of idees oor die tydskaal nie. Daar is wel sekere kritiese idees en gewoontes wat oor tienduisende jare oorgedra is. Kookkuns, klere, die vervaardiging van gereedskap, miskien die begrip van 'n Skepper om skepping (geboorte) en ondergang (sterfte) te verstaan, en so voorts. Dit is egter so dat dié idees en gewoontes universeel onder mense is: Alle mense dra klere, kan vuur beheer en kook hulle kos op een of ander manier. Alle etniese groepe glo skynbaar in 'n Opperwese(ns). Vuur word vir ten minste 200,000 jaar reeds deur mense beheer. Argeologiese bewyse hiervoor is in Frankryk gevind. Daar is ook 'n vermoede, gebaseer op die resultate van opgrawings by Swartkrans in Suid-Afrika en by Chesowanja in Kenya, dat vuur miskien so lank gelede as 1.4 miljoen jaar terug reeds deur voorsate van mense kon beheer gewees het. Geleerdes voer aan dat vuur eerstens vir verhitting gebruik is. Rondom 'n vuur het die mense se voorsate miskien die eerste taal, musiek en kultuur (en dus etnisiteit) ontwikkel oor tydperke wat honderde duisende jare geduur het. 'n Byproduk van die beheer van vuur is kookkuns, en dit is maklik om die belangrikheid hiervan te onderskat. Om kos gaar te maak ontsmet besoedelde bestandele, wat tot minder siektes en infeksies as gevolg van slegte kos lei. Argeoloë vermoed dat 'n basiese kookkuns een van die eerste gevolge van die beheer van vuur was, en teen 125,000 jaar gelede is kookkuns reeds universeel onder mense. Dit is belangrik om te besef dat mense in hulle anatomiese moderne vorm eers ongeveer 50,000 jaar gelede ontstaan het, en dus het die baie meer primitiewe voorsate van moderne mense vuur en kookkuns reeds vir tien duisende jare gehad voor die aankoms van mense met 'n moderne liggaamsbou. Dié tydperke, waaroor die beheer van vuur, kookkuns, taal en musiek ontstaan het, het tienduisende tot honderd-duisende jare geduur, waartydens die mens se liggaam steeds anatomiese veranderinge ondergaan het. Dié veranderinge oor baie lang tydperke moet vergelyk word met mense se moderne geskiedenis sedert die oudste beskawings, wat maar eers ongeveer 6,000 jaar gelede ontstaan het. Die hele tydvak waaroor moderne geskiedenis plaasgevind het, is maar 'n klein persentasie (minder as 10%) van die tydperke waaroor moderne mense geneties en kultureel ontwikkel het vanuit hulle voorsate, wat reeds perperkte vermoeëns gehad het om te kook, te praat, klere te maak, en wat ook skynbaar reeds 'n basiese kultuur ontwikkel het. Gedurende die tydperk het mense geneties verander, en evolusie van mense het interaktief met die beheer van vuur en met kookkuns en die ander gepaardgaande ontwikkelings plaasgevind. Daar is byvoorbeeld genetiese effekte in sekere gemeenskappe as gevolg van gewoontes onder ons voorsate. 'n Voorbeeld hiervan dat melksuiker (laktose) net deur volwassene lede in sekere verwante groepe verteer kan word (mens sê dat die groepe 'n tolleransie vir laktose het). Die vermoeë om laktose te verteer is oneweredig onder etniese groep versprei. 'n Meerderheid van volwassenes met voorouers uit Europa, die Midde-Ooste en Noord-Afrika kan laktose verteer, maar net 'n klein minderheid van volwassenes elders het die vermoeë (ongeveer 90% van volwasse Asiërs kan laktose nie verteer nie). Die toleransie vir laktose onder Europeërs, Noord-Afrikane en mense vanuit die Midde-Ooste is 'n genetiese eienskap. Die gene wat die eienskap dra is deur die drink van koei-melk onder Europeërs en andere versprei. Die proses duur al 10,000 jaar aan die gang, en dit word aangehelp deur 'n proses van natuurlike seleksie. Toleransie vir laktose het in die verlede waarskynlik 'n klein voorsprong aan sy draers gegee (miskien het hulle beter oorleef in tye van hongersnood), en dus het die voorkoms van die geen oor duisende jare in die populasie toegeneem. Mense het ook skynbaar 'n ingebore drang om klere te dra. Argeologiese studies dui aan dat klere saam met mense oor tydperke van tienduisende jare ontwikkel het. Omdat mense se lyfhare so yl is, kan luise (behalwe kopluise) nie op naakte menseliggame lewe nie. Mensluise leef net op mense wat klere dra, en kruip in die voue en some van die klere weg. Die stryk van klere met warm ysters is nie net vir netheid nie - die warm ysters maak luise en luis-eiers in die some en nate van klere dood. Dat daar wel 'n luis is wat spesifiek op mense wat klere dra leef is 'n aanduiding dat die luis saam met mense ge-evoleer het. Genetiese studies op die luis toon aan dat die luis tussen 110,000 en 30,000 jaar gelede ontwikkel het. Dit gee 'n aanduiding van die periode waaroor mense klere gereeld begin dra het. Verdere studies op 30,000 jaar oue ivoor- en beennaalde, en ander voorwerpe wat met klere geassosieer word, dui aan dat die gereedskap en tegniese vaardighede om klere te maak reeds 30,000 jaar gelede gevestig was in meeste gemeenskappe. Die afwesigheid van sulke voorwerpe, en die genetiese resultate van die studies op mensluise, gee aanduidings dat mense klere begin dra het ongeveer 70,000 jaar voor die huidige tydvak, en dat 'n naakte mens, met skynbaar meer liggaamshare, 100,000 jaar gelede die dominante menseras was. Hy was 'n mens met spraak, met 'n sekere simboliese en geestelike wêreld, wat vuur gehad het, en wie se selfpersepsie en verhouding met sy omgewing ons nie kan ontleed nie. Hy was ook iemand wat uiters vreemd en dierlik vir moderne mense sou voorkom. Ten laaste is daar taal. Taal is die een universele kenmerk wat mense van diere skei. Net mense praat (en alle mense praat) komplekse tale met grammatika, idiome en beeldspraak. Sommige navorsers glo dat die eienskappe waarna ons as "bewussyn", en waarna ons as intellektuele en logiese vermoeëns verwys, 'n direkte gevolg is van die feit dat die mens se brein georganiseerd is om 'n taal aan te leer. Studies van argaiëse (en uitgestorwe) vorms van mense (soos byvoorbeeld Neandertallers) suggereer dat hulle anatomies nie die vermoeë gehad het om 'n moderne taal te praat nie - Neandertallers kon byvoorbeeld nie die volle spektrum vokale wat moderne mense het, vorm nie. Omdat Neandertallers ongeveer 60,000 jaar terug gelewe het (en klere gedra het en gekook het) glo baie navorsers dat moderne Taal taamlik skielik (ongeveer 40,000 jaar gelede) ontwikkel het. Dat dit skynbaar in korrelasie met 'n skielike verskyning van meer komplekse kuns gebeur het, ondersteun die moontlikheid dat daar 'n taamlike dramatiese intellektuele, anatomiese en kulturele verandering onder mense sowat 40,000 jaar gelede tot die verskyning van anatomiese moderne mense met kuns en wetenskap gelei het. Let wel dat die "skielike verskyning" van anatomiese moderne mense eintlik oor 'n periode van duisende jare plaasgevind het, en dat dit nog ten minste 35,000 jaar sou neem voor mense die huidige historiese periode sou bereik. Vermoedelik is die vermoeë om te praat geneties in mense geteel op dieselfde wyse as wat toleransie vir laktose was. Proto-tale met beperkte moontlikhede het ontwikkel in tale in 'n omgewing waar Darwinniaanse seleksie skynbaar 'n voorkeur gegee het aan individue wat beter kon praat (is dit steeds die geval?). Terwyl godsdiens, kookkuns, klere, en dies meer deur mense "uitgevind" is, is daar egter ook ander fisiese eienskappe wat skynbaar inherent aan mense is. Feitlik alle mense 'n simboliese verhouding met hulle omgewing, en hulle kan van abstrakte idees deur ekstrapolasie konkrete afleidings oor hulle omgewing te maak. Feitlik alle mense, hoe primitief ookal, het kuns in die vorm van musiek, of beeldende en uitvoerende kunste, en kuns het 'n geestelike wêreld gevorm wat omtrent altyd tot die ontwikkeling van skrif gelei het om idees en gebeure permanent te onthou. Dit gevolg is dat idees en geskiedenis met meer akkuraatheid in geslagte oorgedra word. Dit lei tot die vorming van kultuur en oor die langer termyn bind dit mense in etniese groepe. Die ontwikkeling van taal, kultuur, en individuele en etniese bewussyn, het egter oor 'n tydskaal van tienduisende jare ontwikkel. Dit voer 'n vierde en baie langer tydskaal in by die betragting van skepping en herkoms. As akkurate geskiedenis op 'n tydskaal van honderde jare gemeet kan word, en godsdiens oor 'n tydskaal van duisende jare, dan word die ontwikkeling van moderne mense met taal en kultuur en met tegnologie in die vorm van klere en kookkuns oor tien duisende jare gemeet. Dié tydskaal is honderd keer langer as die huidige geskiedkundige tydskaal. Dit is waarom ek die horlosie wat gewaarborg is om akkuraat vir tienduisend jaar te werk as ietwat arrogant beskou (daar is 'n artikel hieroor in die November uitgawe van Discover magazine). Om alles nou in konteks te plaas: Al die (taamlik akkurate) geskiedenis vanaf die hervorming van die Christelike Kerk tot vandag toe, is maar een of twee persent van die tydperk waaroor mense met taal en kultuur ontwikkel het, en waaruit anatomiese moderne mense hulle herkoms en skepping gehad het. Hierdie vierde tydskaal van tien duisende jare is ontkoppel van (korter) tydskale. Terwyl die tydskale waaroor familie, etnisiteit en godsdiens werk skynbaar 'n kritieke rol in die vorming van identiteit en selfpersepsie van mense speel, is die vierde tydskaal net 'n idee in die agtergrond wat skynbaar nie in interaksie met die korter tydskale is nie. Met ander woorde, dit is interessant, maar ook skynbaar irrelevant. 'n Afrikaanse identiteit en tradisionele kultuur bestaan nou al vir ongeveer 300 jaar. Terwyl die Afrikaanse Taal oor die tydperk verandering ondergaan het, is dit definitief sentraal in die skepping van 'n Afrikaanse bewussyn en identiteit in individuele Afrikaners. As die Taal ondergaan, dan word die Afrikaanse identiteit ook vernietig. Dit is waarom diegene wat Taal as die mees belangrike kwaliteit en eienskap van Afrikaners beskou, korrek is in hulle argument dat dit eerstens oor Taal gaan. Maar Taal is ook nie die enigste aspek van 'n identiteit nie. Tweedens is daar 'n gemene geskiedenis, genetiese verwantskap en herkoms, godsdiensbeskouing en geografiese realiteite, wat ook verskeie tydskale veronderstel om 'n Afrikaner identiteit te bestendig. Tale, kulture en kulturele identeit is in 'n sekere sin deel van die godgegewe fisiese wêreld. In die opsig is dit immoreel om 'n kulturele identiteit te vernietig, of om 'n taal te vernietig. 'n Beskaafde en gevorderde ontleding van menseregte gaan in die moderne tyd verby die klassieke kodes wat deur godsdiens aan ons verskaf is. Tans is daar wye erkenning dat kulturele regte 'n mensereg is. In dié opsig het Afrikaners 'n mensereg op Afrikaanse instellings met primêre doel om Afrikaners se Taal en Kultuur te bevorder. Die ANC regering het, as die regering oor Afrikaners, 'n morele plig om Afrikaans te bevorder, uit te bou, en te ondersteun deur die aanwending van staatsbates. Daar is ongetwyfeld 'n mensereg vir selfbeskikking vir Afrikaners. Die ANC mog 'n wetlike reg besit om Afrikaners te regeer, maar hulle kan dit net uitoefen so lank as wat Afrikaners dit toelaat. Om 'n aandrang op selfbeskikking van Afrikaners te ignoreer sal nie net ondemokraties wees nie, maar ook immoreel. In die volgende deel van die rubriek skryf ek meer oor die evolusie van mense uit primate wat honderduisende jare terug geleef het. |